Discovery: Wit mense is as vredeoffers vir die regerende elite aangebied en hulle is woedend

Discovery se aankondiging dat 10% aandele van die Discovery Bank eksklusief aan swart kliënte beskikbaar gestel gaan word, het groot reaksie op sosiale media tot gevolg gehad. Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het ʼn ope brief aan Adrian Gore, die uitvoerende hoof van Discovery geskryf waarop Gore gereageer het. Dr. Hermann antwoord in ʼn tweede ope brief op Gore se reaksie.

Geagte mnr. Gore

Ek sien u het gereageer op my ope brief. Opsommenderwys sê u dat Discovery, in u eie woorde, moet optree op ʼn manier wat ooreenstem met die maatskaplike en wetsvereistes wat op die groep van toepassing is.

U sê dat wetgewing swart eienaarskap in die nuwe Discovery Bank vereis en dat dit spesifiek as deel van u lisensiëringsproses vereis word. U het ook ʼn onderneming aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank gegee dat daar swart eienaarskap in die nuwe Discovery Bank gaan wees.

Ek sou graag wou weet na watter maatskaplike vereiste (imperative) u verwys. As ek na u skrywe kyk, wil dit lyk of die heersende politieke ideologie ook u maatskaplike raamwerk geword het. As een van Suid-Afrika se sakereuse, het u klakkeloos ingeval by die transformasie-ideologie van die regerende elite en dit sommer onkrities u eie gemaak.

Wat as dit moreel verkeerd is? Dit is jammer dat groot besigheid nie ʼn kultuur het om die moraliteit van ʼn magsorde uit te daag nie. Om ʼn groep suiwer op grond van ras uit te sluit, was, is en bly moreel verkeerd.

U moes intree vir u kliënte, maar u het nie. Inteendeel, u het ʼn groot deel van hulle as vredeoffer vir die regerende elite aangebied. U wit kliënte is tereg ontstoke daaroor. Hulle wil nie soos offerdiere voel nie. ʼn Mediese fonds of versekeraar word in jou persoonlike ruimte toegelaat. Daar bestaan ʼn band van vertroue en daardie band is gebreek.

U het u wit kliënte geminag omdat u aan die regering se maatskaplike vereistes wou voldoen. Hulle het dit nie aanvaar nie en daag u uit. U het die maatskaplike vereiste wat u kliënte stel, onderskat.

Die tweede vraag is: Wat is die wetsraamwerk waarna u verwys? U het die sogenaamde maatskaplike vereiste al so deel van uself gemaak dat u dit in regsterme aanbied.

U voer aan wetgewing vereis van u om swart mense in te sluit en wit mense uit te sluit. Dit is wat u transaksie doen. Daar is egter geen wetgewing wat dit vereis nie.

Die Bankwet het nêrens ʼn bepaling wat rassetransformasie as voorvereiste vir lisensiëring stel nie.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se lisensiëringsdokument noem nie een keer enige vereistes met betrekking tot rassetransformasie nie.

Die finansiële sektor het wel ʼn handves waarin teikens vervat is. Dit is egter nie wetgewing nie. Dit is ʼn vrywillige dokument met riglyne en geen harde teikens nie. Geen lisensie is daaraan onderworpe nie.

Daar moet vrywillig aan die handves voldoen word, maar dit is geen wet nie.

Hierdie handves maak voorsiening vir verskeie ander opsies wat nie absolute uitsluiting op grond van ras vereis nie. Daar kan dus aan die handves voldoen word sonder om uit te sluit. Daar kan aan alle ander wetgewings voldoen word sonder om uit te sluit.

Die enigste ander wetgewing is die swart bemagtigingswetgewing wat bepaal dat staatsliggame en openbare instellings kodes vir goeie praktyk in ag moet neem wanneer lisensies uitgereik word.

Die Reserwebank gee geen aanduiding dat hulle dit doen nie en is in elk geval privaat en nie ʼn staatsliggaam of openbare onderneming nie. Selfs al sou daar ʼn kode vir goeie praktyk wees, sal geen kode ʼn plig plaas om wit mense uit te sluit om ʼn lisensie te bekom nie.

Ons het begrip daarvoor dat besigheid binne die werklikhede van Suid-Afrika gedoen moet word, maar ʼn koue benadering van uitsluiting is verkeerd en is nie nodig nie.

U het geen moeite gedoen om ʼn kreatiewe skema, wat nie uitsluitend is nie, te ontwikkel. Inteendeel – u het met trots op ʼn verhoog gestaan en rasse-uitsluiting as vindingryk aangebied.

U het die mees radikale opsie gekies. Dit was volgens wetsvereistes nie nodig nie, maar u het dié weg ingeslaan omdat dit, volgens u, die beste aan die magselite se maatskaplike vereistes voldoen.

Wat u egter totaal onderskat het, is die maatskaplike vereiste van ʼn reusegroep van u huidige en toekomstige kliënte. Hulle vereis lojaliteit van Discovery, want hulle is lojaal. Hulle verwag om as volle belanghebbers erken te word, want hulle het Discovery gebou. Hulle wil bloot net so deel wees van u transaksies as u ander kliënte. Hulle is nie lus om deel te wees van ʼn maatskappy se sosiale manipulasie nie. Hulle is al genoeg as slaansak deur die regering gebruik en nou kom Discovery en slaan hulle ook – toe slaan hulle terug.

Die maatskaplike vereistes van ʼn groot deel van u kliënte gaan dit vir u baie moeilik maak om u nuwe bank van stapel te stuur. U het dit reeds gestel dat die bank swaar steun op bestaande Discovery- kliënte wat daarby inkoop. U het egter nagelaat om u kliënte toe te laat om in te koop.

Die stem van u werkers kla u moreel aan

Hierdie is die dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, se ope brief aan die hoofde van Sasol:

Geagte mnre. Nqwababa en Cornell

Die afgelope week het ʼn historiese gebeurtenis hom by u aanlegte en myne afgespeel. Duisende wit werknemers het gestaak en gestap teen rasse-uitsluiting.

Internasionale uitsaaiers en nuusagentskappe soos die BBC (British Broadcasting Corporation), AFP (Agence France Presse), Russia Today, Fox News, Reuters, Bloomberg en talle ander het die stem van die werkers die wêreld ingedra. Dit was ʼn stem wat vir ʼn lang ruk nie gehoor was nie.

Die wêreld het die frustrasie van u werkers raakgesien – niemand kan dit meer ignoreer nie. Dit is ʼn werklikheid. Die vraag is of u dit raaksien.

Geen demokrasie of werkgewer mag toelaat dat ʼn deel van sy samelewing of werksmag so vervreemd raak nie. Die ware toets van ʼn demokrasie is of hy sy minderhede ook beskerm.

Wat ons op u aanlegte sien afspeel het, is ʼn demokrasie in werking en wording. Dit was ʼn historiese oomblik, maar ook ʼn historiese geleentheid. Indien dit geïgnoreer word, het ons ons demokrasie ʼn geleentheid van vorming ontsê.

Die stem van die wit werkers is ʼn stem vir balans. Dit is nie ʼn stem teen die herstel van wanbalans nie, maar vir die herstel van balans.

Indien Sasol se antwoord op uitsluiting van die verlede ʼn simplistiese uitsluiting in die toekoms is, plaas dit Suid-Afrika op ʼn wankelrige morele basis vir die toekoms.

Om in ʼn skema wat wanbalanse van die verlede moet regstel ʼn eenvoudige rassebenadering te volg wat wit werkers uitsluit, is ʼn lui benadering.

Selfs ʼn tydelike ingryp moet moreel regverdigbaar wees. Tydelike steierwerk wat die pad na gelykheid moet staande hou, maar self moreel wankelrig is, kan maklik die norm en later normaal word, maar dit sal nie volhoubaar wees nie. Suid-Afrika se toekoms kan dan ʼn immorele normaal word.

Om wit werkers in blou oorpakke se waarde te bereken op grond van hul ras en dit aan te bied as ʼn normale ingryp om wanbalanse te herstel, is immoreel.

Selfs regstellende aksie en transformasieprojekte het ʼn morele rivierbedding waarbinne dit moet plaasvind. Dit is nie onbeperk nie. Transformasie moet binne die raamwerk van die Grondwet plaasvind en die Grondwet moenie binne die raamwerk van transformasie plaasvind nie.

Wit werkers se reg op waardigheid en gelykheid moet ook beskerm word, anders bou ons presies dit wat herstel moet word in ʼn nuwe stelsel in.

Ek verwys u na die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se verslag oor gelykheid wat vroeër vanjaar gepubliseer is. Die verslag is binne die konteks van die Verenigde Nasies se Komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie (CERD) se riglyne vir regstellendeaksieprogramme geskryf.

Dié riglyne sluit die volgende in: Regstellende aksie mag nie net ras as maatstaf gebruik nie; behoefte moet in ag geneem word; dit moet konteks-sensitief wees; dit moenie rigied wees nie; en dit mag nie tot rassekwotas lei nie. Sasol se lui oplossing om wit werkers net eenvoudig uit te sluit, oortree elkeen van die SAMRK se riglyne.

In die onderhandelinge tussen die regering, vakbonde en die sakewêreld oor die mynbouhandves is die kwessie van uitsluiting van rasse uit personeelaandeleskemas suksesvol opgelos. Die uitkoms van die gesprek was dat werkers álle werkers insluit. Werknemers wat in die werkersklas val, mag nie op grond van ras verdeel word nie.

Die ongelykheid in Suid-Afrika is nie tussen werkers in blou oorpakke nie. Om hulle op grond van ras te verdeel, gaan net ʼn nuwe vlak van ongelykheid in Suid-Afrika skep. Werkers op werksvloervlak tussen wie daar, anders as in die politiek, goeie verhoudinge heers, word skielik weer volgens ras geklassifiseer.

Growwe rasseklassifikasie lei tot absurde resultate. Een van ons lede wat sy been verloor het en dus as gestremde deel van die aangewese groep is, wou by Sasol weet of hy deel van Khanyisa kan wees. Sasol antwoord klinies en hard daarop dat hy nie daaraan kan deelneem nie, want hy is wit.

ʼn Indiër-lid van Solidariteit, wat met ʼn wit vrou getroud is, is woedend want, hoewel hý deel is van Khanyisa, bepaal die skema dat ʼn wit persoon (dus sy vrou) nie Khanyisa-aandele mag erf nie.

ʼn Wit lid van Solidariteit, wat al 30 jaar by Sasol werk, kry geen aandele nie maar ʼn swart werknemer van Sasol wat maar nog net drie weke lank daar werk, ontvang aandeelwaarde van R500 000. Wit werknemers se waarde vir aandeelhouding word nie volgens hul bydrae, lojaliteit of werksetiek bepaal nie, maar bloot volgens ras.

Dit is die absurde resultate van ʼn skema wat op ʼn wankelrige morele grondslag rus.

Op Donderdag 6 September, dieselfde dag as wat werkers gestaak het, het dit aan die lig gekom dat Sasol R106 miljoen se aandele-opsies aan sy topbestuurspan toegeken het. U albei is bevoordeeldes daarvan en u ontvang meer as R20 miljoen se aandele-opsies elk. Mnr. Cornell, u en die ander wit uitvoerende direkteure is daarby ingesluit, al is u wit.

Die grondwetlike plig van transformasie en historiese regverdiging van rasse-uitsluiting geld nie op top- uitvoerende vlak nie. U argument is waarskynlik dat u dit verdien. Die morele vraag is wel hoekom u nie aan uself doen wat u aan u werkers doen nie.

Sasol het dus ʼn aandeleskema vir sy top- uitvoerende vlakke en nou ook een vir swart werkers en die enigste vlak wat uitgesluit word, is wit werkers. Om uitgesluit te word van eienaarskap, terwyl ander ingesluit word, stuur ʼn boodskap aan hulle dat hulle nie deel van Sasol is nie.

Dit is wat gelei het tot die woede en ʼn wekroep om erken en gehoor te word.

Ek stel dit aan u dat Sasol se besluit om wit werkers uit te sluit, nie moreel was nie, maar bloot kommersieel. Dit het bloot gegaan oor die verwerwing van punte op ʼn transformasiehandves. Wat die werkers se stem vra, is dat ʼn morele grondslag by die kommersiële besluit ingesluit word. Talle ander personeelaandeleskemas by ander maatskappye sluit nie werkers op grond van ras uit nie.

Sasol kan nou besluit om nie te luister nie en om met die skema voort te gaan. Die werkers se staking het egter die morele foutlyn in u argument uitgewys. Die morele foutlyn is nie dat u swart werkers wil bemagtig nie, maar die lui manier van rasse-uitsluiting waarop u dit wil doen. Die morele antwoord vra vir meer genuanseerde antwoorde, soos wat die SAMRK ook voorstel.

Sasol is ʼn Suid-Afrikaanse en globale leier en sy morele leierskap kan leierskap vir Suid-Afrika gee oor hoe om met ʼn komplekse saak soos hierdie een om te gaan.

Die beginpunt vir die antwoord gaan u in die konsepmynbouhandves vind, waarin wysheid oor personeelaandeelskemas gevind is ná vele ure se gesprekvoering.

Wat ons van u vra, is om nie hierdie geleentheid (om nuwe inhoud en vorm aan die demokrasie te gee) te bederf met simplistiese rasse-oplossings nie. Kom ons takel ʼn wanbalans sonder om ʼn wanbalans in ʼn nuwe vorm te skep. Dit gaan ekstra dink en praat verg.

Indien u die stem van die werkers ignoreer, gaan die historiese staking van wit werkers u in die toekoms aankla.

MiWay-baas klap Afrikaners en toe klap hulle terug

Die uitvoerende hoof van MiWay, René Otto, het ’n twiet – nadat hy die boek The Lost Boys of Bird Island gelees het, uitgestuur wat Afrikaners en sosiale media gebruikers behoorlik ontstel het. Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, reageer in ’n opebrief op Otto se twiet.

Beste René

Ek sien jy het om verskoning gevra vir jou twiet wat jy uitgestuur het nadat jy The Lost Boys of Bird Island gelees het. Ek wil graag deur die brief ʼn perspektief bied oor hoekom Afrikaners so woedend op jou twiet gereageer het.

Dit is mos deesdae hoogmode om Afrikaners te kriminaliseer. As jy dit self doen, dink jy mos jy het jouself van die smet van die bose gemeenskap gereinig.

So het jy met jou twiet ook by die koor van stemme ingeval. Jy gebruik ʼn boek, wat oor ʼn pedofielnetwerk handel en op wankelrige bene staan, om sommer in die proses ʼn klap uit te deel in die rigting van die Afrikaners van vandag wat glo hulle is die uitverkore volk van God en steeds in ontkenning leef oor die vernietiging van die apartheidsera.

Dit ten spyte daarvan dat twee sentrale karakters in die verhaal, naamlik die besigheidsman van Port Elizabeth, Dave Allen, en die voormalige NP-minister van omgewingsake, John Wiley, Engelsprekend was.

Of die feite in die boek glad nie, gedeeltelik of die volle waarheid is, is nie hier relevant nie. Jou klap na die hedendaagse Afrikaner was onvanpas en eenvoudig nie aanvaarbaar nie.

Die reaksie op jou twiet was oorweldigend en jy het om verskoning gevra vir die manier hoe jou twiet geïnterpreteer is. Volgens die verklaring wat later uitgereik is, was dit nie jou bedoeling om enige persoon of kultuur seer te maak nie.

Jy sê ook jy het die boodskap in jou persoonlike hoedanigheid getwiet, maar jy kan jouself en jou posisie by MiWay nie van mekaar skei nie. Jy het jou magsposisie misbruik. Jy is die uitvoerende hoof van MiWay en ek is bekommerd dat jou “opregte” berou dalk te make het met die skade wat MiWay gely het. Die probleem is nie die interpretasie van jou twiet nie; dit is jou twiet.

Afrikaners is moeg daarvan om geboelie en gekriminaliseer te word en jy het dit onderskat. Wat jy selfs meer onderskat het, is Afrikaners se reusekoopkrag. Wat jy onderskat het, is dat Afrikaners steeds meer as 30% van die finansiëledienste-koopkrag in Suid-Afrika het. Ek weet nie hoeveel Afrikanerkliënte MiWay het nie, maar ek vermoed dit is heelwat.

Hoewel hulle ʼn klein groep is, maak dit van hulle ʼn formidabele faktor om mee rekening te hou in die sektor waarin jy werk. Ek sou ook jammer gewees het as ek dié groep woedend gemaak het.

Om een of ander rede het jy egter steeds gedink dit is in orde om ʼn klap in hul rigting te mik. Dit is mos polities korrek om dit te doen. Op sosiale media het die Afrikaners teruggeklap.

Daar is drie instellings wat ʼn groot invloed op jou lewe gehad het. Die eerste is jou alma mater, die Universiteit van Pretoria (Tukkies). Deur Tukkies het jy jou kennis verwerf en is jy aan sekere waardes blootgestel wat jou gevorm het. Dit het jou in staat gestel om vandag die hoof van MiWay te wees.

Die ander twee instellings is Santam en Sanlam, wat geboorte aan MiWay gegee het.

Die drie instellings is instellings wat uit die Afrikaner se swaarkry gebore is. Dié instellings het hul destydse omstandighede te bowe gekom en het dit uitpresteer. Hul stories is merkwaardige stories. Dit is asof jy met jou twiet hierdie geskiedenis net eenvoudig wil ontken, al is dit Afrikanerinstellings en -waardes wat jou help vorm het.

Die drie instellings se stories is in breë trekke in der waarheid ook maar die storie van die Afrikaners. Dit is ook die stories wat my gevorm het en ek is ongelooflik trots daarop. Die volle Afrikanerstorie is my storie – die swaarkry, die opstaan, die kampe, die helpmekaar, die hartseer, die vreugde, die armoede en die reddingsdaad. Insgelyks was daar ook vergrype en verryking; ʼn honger na mag en magsmisbruik; vernedering en uitsluiting van ander. Dít alles het my gevorm. Die goeie maak egter nie ons volle storie heilig nie en die slegte kriminaliseer ons nie.

Net so is daar goed en ook heelwat kwaad te vind onder alle volke in die wêreld – dink maar aan die Engelse, Duitsers, Russe, Japannese en, hier op eie bodem, aan die Zoeloes en die Afrikaners.

Dit is hoekom die wyse president Kruger gesê het: “Neem uit die verlede wat goed en edel is en bou daarop die toekoms.”

Jy het dit nie gedoen. Jy het verval in die goed-kwaad-beoordeling van die geskiedenis en Afrikaners is aan die kant van die kwaad. Die geskiedenis is nie so simplisties nie en Afrikaners is moeg vir die soort beoordeling van hul geskiedenis. Ek is moeg daarvan om net as boos uitgebeeld te word, veral deur mense wat wil wys: “Ek is nie so nie”.

Jy het Afrikaners onnodig geklap. Hulle het teruggeklap, want Afrikaners is nie te klap nie.

 

U koninklike hoogheid, prins William

U koninklike hoogheid, prins William

 

U sal wonder hoekom ek, ’n gewone Suid-Afrikaner, aan u, die toekomstige koning van Engeland, skryf. Die inhoud van my skrywe sal dit verklaar. U is die pa van ’n seun, prins George, en ’n dogter, prinses Charlotte, onderskeidelik vier en twee jaar oud. Net soos u is ek ook ’n pa. Soos u en u eggenote, Catherine, is ek en my vrou, Elsha, lief vir ons kinders, Marisha (15), Minè (13), Elzaan (10) en Hanri (7); ons wil hulle toevou en beskerm en wil nie hê hulle moet seerkry nie.

Ons voorsate was destyds kerkmense net soos wat u mense kerkmense was. My mense is steeds kerkmense, u s’n ook. Daarom is die inhoud van die skrywe belangrik, vir u en vir my.

In die jaar 1900 was u grootouma, Victoria, ’n koningin en my grootouma, Hester, ’n doodgewone boervrou. U grootjie was getroud met prins Albert wat op 14 Desember 1861 tot sterwe gekom het. Sy dood was vir haar ’n skok sy het in rou die res van haar lewe swart gedra. Victoria en Albert het sterk klem gelê op morele en gesinswaardes wat daartoe aanleiding gegee het dat daar selfs gepraat is van hul huishouding as die eerste gesinsmonargie. Dit is ʼn tradisie wat u en u eggenote beslis voortsit.

U grootjie was ’n koningin, maar tog ook ’n gewone mens wat moeilike kinderdae, vreugde, hartseer en pyn geken het.

 

Ons grootjies is al twee in 1901 gedurende die laaste jaar van die Anglo-Boereoorlog, wat van 1899 tot 1902 geduur het, oorlede. Myne is dood weens die haglike toestande in ’n konsentrasiekamp en u grootjie as gevolg van haar rype ouderdom. Die Anglo-Boereoorlog was vir ons al twee se grootjies ’n traumatiese gebeurtenis.

U grootjie skryf in haar joernaal dat die jaar 1900 vir haar ’n verskriklike jaar was. Haar lieflingkleinseun, prins Christian Victor, het tydens die Anglo-Boereoorlog aan maagkoors gesterf. Sy was gebroke oor sy dood. Die Britse militêre owerhede wou sy liggaam na Engeland toe terugstuur, maar u grootouma het per telegram laat weet dat hy in Suid-Afrika begrawe moes word. Dit was sy wens dat as hy tot sterwe sou kom, hy tussen sy gevegskamerade begrawe moes word.

U grootouma het ’n besondere betrokkenheid by die Anglo-Boereoorlog gehad. Sy wou in besonderhede ingelig wees oor veldslae en het telegramme van gelukwensing en simpatie aan die generaals gestuur. Sy het die ongevallelyste bestudeer en het ’n spesiale fotoalbum van die gesneuweldes gehou. Vir Kersfees 1900 het sy 100 000 blikkies met sjokolade aan haar soldate gestuur. Sy het self agt serpe gehekel wat aan die veelsydigste soldate wat aan die Suid-Afrikaanse veldtog deelgeneem het, gegee is.

Die Britte het die Anglo-Boereoorlog as ’n teetyd-oorlog beskou, want dit sou voor teetyd iets van die verlede wees. Die Boere het egter net bly veg. Die verleentheid vir Engeland het tot so ’n mate toegeneem dat u grootjie uiteindelik as gevolg van die weerstand teen die oorlog nie vrylik in Europa kon rondtoer nie.

Die aand voor haar dood op 21 Januarie 1901, was sy nouliks by haar bewussyn toe sy vir haar dogter, prinses Beatrice, gevra het: “Wat gaan deesdae in Suid-Afrika aan?”

My oumagrootjie Hester se storie is ’n storie oor wat toe werklik in Suid-Afrika aan die gang was – stories wat waarskynlik nie aan u grootouma vertel is nie.

My grootjie was getroud met Marthinus en sy het ook kinders gehad, waarvan Petrus en Christina die jongstes was. In die jaar 1900 was hierdie tweetjies, soos u kinders vandag, onderskeidelik vier en twee jaar oud. Soos u grootjie wou my oumagrootjie ook maar net haar kinders toevou en beskerm en wou sy hulle seerkry en swaarkry spaar.

Om my grootjie se seer te verstaan, moet ek meer sê oor die uitwerking wat die Anglo-Boereoorlog op haar en haar mense gehad het.

In 1815 het die Engelse as oorwinnaars uit die Napoleontiese oorloë getree en hulself toe beskryf as “the greatest and the most highly civilised people that ever the world saw”.

Hul goddelike missie was globale perfeksie deur ander nasies te onderwerp. Cecil John Rhodes het dit soos volg opgesom: “I contend that we are the finest race in the world and that the more of the world we inhabit, the better it is for the human race.”

Blootstelling van ander aan die “superior civilisation” kon net tot hul voordeel strek, so is aanvaar. As ander in die proses uitgewis moes word, was dit in diens van “the greater good’’ en globale ontwikkeling en uiteindelik selfs vir hulle.

Britse uitbreiding het in u grootjie se tyd ’n bloeitydperk beleef. My oumagrootjie was aan die ontvangkant daarvan.

Die Britse denkraamwerk van daardie tyd het ’n ongelooflike invloed op my oumagrootjie se mense gehad. Vir die Engelse was die Boere ʼn vreemde verskynsel – hulle was wit, het die Bybel gelees, maar was volgens die Engelse agterlik. Die Boere moes opgehef en ingelyf word ter wille van “the greater good,” maar hulle het weerstand daarteen gebied.

In 1877 annekseer 33 man van u grootjie se magte, onder leiding van lord Shepstone, die ZAR, my oumagrootjie se mense se republiek. Aanvanklik wou die Boere dit gewoon nie glo nie, maar hul teenkanting teen die anneksasie het uiteindelik in 1880 op ’n oorlog, later bekend as die Eerste Vryheidsoorlog, uitgeloop.

Vier prominente veldslae het gevolg voordat die Boere ’n finale oorwinning op 27 Februarie 1881 by die Slag van Majuba behaal het. Hester se man, Marthinus, het self ook aan dié slag deelgeneem – hy het geveg vir vryheid; u grootjie se magte het geveg vir grond met skitterende diamante. Dié oorlog was die eerste sedert die Amerikaanse Revolusie waarin Brittanje oortuigend oorwin is.

Vir Brittanje was die vernedering groot. Dit is beskou as ’n “terugslag” vir die “beskawing”. U grootjie, Victoria, was geskok en het om wraak gevra.

Die wraak het in 1899 in die vorm van die Anglo-Boereoorlog gekom. Hierdie keer het u grootjie se mense vir grond en glansende goud geveg en my oumagrootjie se mense het geveg vir hul grond en vryheid.

Die Anglo-Boereoorlog word ook as die eerste propaganda-oorlog geag. In dié oorlog is my oumagrootjie se mense verneder en as absoluut agterlik uitgebeeld. Die magtige Britse pers het met mening op hulle neergedaal.

Die Amerikaans gebore Britse politikus, sir Ellis Ashmead-Bartlett, was tydens dié oorlog ʼn lid van die Britse Laerhuis. Hy het my oumagrootjie se mense “the scum of South Africa” en “the most unscrupulous and corrupt that have ever disgraced any country” genoem.

My oumagrootjie en haar mense is name genoem wat hulle ontmens het; hulle was selfs beskou as ongediertes wat uitgewis moes word. Ontmensing en vernederende name het die weg gebaan vir die latere regverdiging van die verskroeideaardebeleid en die massas mense wat in konsentrasiekampe dood is.

Die oorlog het op 11 Oktober 1899 uitgebreek en gedurende die daaropvolgende bykans drie jaar is sowat 500 000 Britse soldate vir die stryd gemobiliseer.

Dit was in daardie stadium die grootste oorsese mobilisasie nóg in Engeland se geskiedenis – en is gevoer teen een van die kleinste volkies ter wêreld.

Teen Junie 1900 het Engeland gemeen die oorlog was uiteindelik verby toe die Vrystaatse hoofstad, Bloemfontein, en die hoofstad van die ZAR, Pretoria, ingeneem is. Die Boere het egter nie in stadsterme gedink nie – die stede mag dalk ingeneem gewees het, maar nie die land nie.

In Europese oorlogsdenke was dit ʼn totaal onverklaarbare verskynsel, maar die Boere het guerrillavegters geword. ’n Desperate Joseph Chamberlain, die destydse minister van kolonies, het verklaar: “The war office declared that the international law for European or civilised nations could not be applied to the Boers, as they were worse than inferior Africans.” Dit het op die volgende opdrag uitgeloop:

 

Gather all food, wagons, Cape carts, sheep, oxen, goats, cows, calves, horses, mares, foals, forage and poultry. Destroy what you cannot eat or remove. Burn all houses and explain that the reason for this is that they have harboured the enemy. Give no receipts. The question of how to treat women and children and what amount of food and transport to leave them will arise. They have forfeited all right to consideration and must now suffer for persistently ignoring warnings.

 

Ten uitvoering van hierdie opdrag is nagenoeg 30 000 huise afgebrand en kerke en dorpe is afgebrand. Ongeveer 160 000 Boerevroue en -kinders van ons twee klein republieke is in 59 konsentrasiekampe gestop. Die toestande in die konsentrasiekampe was haglik. Onlangse navorsing toon dat nagenoeg 34 000 Boerevroue en -kinders in en op pad na die konsentrasiekampe dood is – sowat 65% hiervan was kinders van 16 jaar en jonger. Mense is nie in die kampe gestop oor wat hulle gedoen het nie, maar oor wie hulle was. Tot twintig persent van die bevolking van die twee Boererepublieke het in die oorlog omgekom.

Die Havenga-verslag het die ergste vorme van verkragting en seksuele geweld teen vroue en dogters in die kampe aan die lig gebring. Hierdie verslag is eers in 1982 bekendgemaak. Die verklarings van die vroue dui op die grofste gevalle van verkragting, molestering en aanranding deur Britse soldate en hul swart handlangers.

My oumagrootjie  en haar twee klein kindertjies, Petrus en Christina, is soos vee op oop treintrokke sonder toiletgeriewe vanaf Rustenburg na die Irene-kamp vervoer. Daar was sowat 5 600 mense in die kamp. Uiteindelik het 1 163 mense in dié kamp omgekom (Hierdie syfer mag stellig selfs hoër wees.) Twintig mense moes saam in ’n tent bly wat ontwerp is vir 16 soldate om in te slaap. My grootouma se seuntjie Petrus is dood in die kamp. Sy laaste woorde was: “Mamma, ek is honger.” So het hy, net voordat hy gesterf het grootjie se vraag op haar doodsbed oor wat in Suid-Afrika aan die gang is, beantwoord.

Daar was nie ’n kissie vir klein Petrus nie en hy is in ’n kombersie begrawe.

Soos vir u grootjie was die jaar 1900-’01 ook vir my oumagrootjie ’n jaar van smart. Haar smart was ook weens die oorlog, maar my oumagrootjie was in die Irene-konsentrasiekamp. Haar man is as banneling na Ceylon weggestuur. My oumagrootjie kon nie vir hom ’n blikkie met sjokolade vir die Kersfees van 1900 stuur nie. Sy was ’n gevangene – swak en gebroke.

Die oorlog het ook rasseverhoudinge in Suid-Afrika vir altyd verander. Ongeveer 120 000 swart soldate, waarvan tussen 30 000 en 50 000 gewapen was, het aan Britse kant aan die oorlog deelgeneem. Daar is aan hulle belowe dat hulle ná die oorlog die grond en huise van die Boere kon kry en met die Boerevroue sou kon trou.

Later is die swart soldate ingespan om die verskroeideaardebeleid uit te voer en het hulle deelgeneem aan aanrandings, teistering en die verkragting van Boerevroue en -dogters. Dit het ’n weersin laat ontstaan.

Aan die ander kant was daar lojale swart werkers wie se huise ook afgebrand is en wat ook na konsentrasiekampe gestuur is waar swart vroue tot beskikking van Britse offisiere was.

Sowat 14 000 tot 21 000 swart mense uit ’n totaal van 115 000 is in konsentrasiekampe dood; die meeste daarvan ook kinders.

Die grootste aantal sterftes onder swart mense in konsentrasiekampe het gedurende Desember 1901 plaasgevind. So was die jaar 1901 ook ’n traumajaar vir die groter Seko-familie. Ses lede van die familie, waaronder vier kinders – Andries (3), Anna (4), Groeta (3) en Raiu (2) – asook Maria (70) en Sannie (70) het in die Bloemfonteinse konsentrasiekamp omgekom.

In 2002 is die grafte van sowat 100 swart persone wat waarskynlik in die Greylingstad-konsentrasiekamp omkom het, gevind. Dit is die vergete smart van grootoumas waarvan ons nie eens bewus was nie.

Die Britte het ook die swart mense vir arbeid en voedselverbouing gebruik. Die verwydering van swart arbeid vanaf die plase was die laaste meesterskuif van die Britte om die Boere se kosvoorrade af te sny.

Brittanje se obsessie om die oorlog te wen, het almal in Suid-Afrika getref.

Uiteindelik het die Boere die oorlog verloor.

Dit was die langste en duurste koloniale oorlog in die Britse geskiedenis en dit was die laaste van die groot imperiale oorloë.

Die morele integriteit van die Boere het nie tydens die oorlog verlore gegaan nie; dié van die Britte het wel.

Ná die oorlog het die Boere stadigaan begin terugkeer na hul land en grond. Vroue is alleen terug plaas toe. Alles was afgebrand en karkasse het oor die plase verstrooi gelê.

Die sowat 32 000 mans en seuns wat in ballingskap was, het vanaf die uithoeke van die aarde – Ceylon, Indië, St. Helena, Portugal en Bermuda – teruggekeer na ’n land wat verwoes was.

Die rou was diep. Daar was bykans nie ’n gesin wat nie iemand in die oorlog aan die dood afgestaan het nie. Daar was nie ondersteuningstrukture in die kampe om die dood te hanteer en te verwerk nie. Gesinne was uitmekaar geskeur en elkeen was besig met sy of haar eie rou smart.

Die Boere het egter op indrukwekkende wyse ná die oorlog begin opstaan. Hulle het instellings soos die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie in die lewe geroep om die oorlogwesies te help. Skole is gebou en finansiële en kultuurinstellings het tot stand gekom. Ten spyte van die pyn van die oorlog het die mense opgestaan. Die oorlog kon nie die trots van my oumagrootjie se mense blus nie en iets van daardie trots leef vandag nog steeds in ons voort.

Vanaf 1902 tot 1930 het ’n vreemde stilte oor die oorlog geheers. Daar was nie werklik ’n openbare diskoers daaroor nie. Die seer het net té vlak gelê.

Die ekstreme trauma van die oorlog het by Afrikaners die diepgewortelde vrees vir oorlewing verskerp, wat Suid-Afrika se geskiedenis vir altyd verander het. Die Afrikaner-psige ná die oorlog het ook ’n direkte invloed op die ontwikkeling van apartheid gehad. Afrikaners wou net nooit weer die mag verloor en blootgestel word aan dít waaraan die vorige geslag tydens die oorlog blootgestel was nie. Dit het gelei tot die aanvaarding van ’n stelsel wat in geen opsig volhoubaar was nie. Die paradoks is dat die smart van die oorlog daartoe aanleiding gegee het dat Afrikaners later die muishond van die wêreld geword het.

Die verhaal van u grootjie se lewe vertel ook iets van haar hart – ’n gesinsmens wat bekommerd was oor haar kinders, diep getreur het oor die dood van haar man en intense smart beleef het oor die dood van haar lieflingkleinseun in Suid-Afrika. U grootjie was egter ook die produk van die denke van haar tyd, soos die geloof dat Brittanje ter wille van die wêreld soveel as moontlik van die wêreld moes beset. Dit was daardie imperiale ideaal wat my oumagrootjie letterlik doodgemaak en my land vir altyd verander het.

Ek wonder hoe u grootjie, met die wysheid wat nawete bring, sou gereageer het op die tragiese gebeure van die Anglo-Boereoorlog. Hoe sou sy reageer as sy buite die konteks van haar tyd kon sien wat haar tyd aan my oumagrootjie en haar mense gedoen het?

U staan egter buite die konteks van u grootjie se tye. U kan sien wat met my oumagrootjie gebeur het. Al is dit net vir ’n oomblik kan u uself indink hoe dit moes voel om as ’n banneling na Ceylon toe gestuur word terwyl u eggenote en u kinders in ’n konsentrasiekamp moes wees waar u seuntjie, George, met die woorde: “Ek is honger” op sy lippies sterf en die vrees bestaan dat klein Charlotte ook in die kamp kan sterf.

Die vraag is hoekom die hele debat oor die Anglo-Boereoorlog steeds relevant is vir Brittanje en Suid-Afrika. Waarom ’n brief in hierdie tyd?

Die effek van die oorlog en die tydperk van kolonialisasie is steeds duidelik sigbaar in Suid-Afrika. In daardie sin kan Brittanje, en spesifiek die koningshuis, nie koud staan teenoor gebeure wat Suid-Afrika vandag steeds, selfs meer as 100 jaar later, vorm nie. Selfs ná die Anglo-Boereoorlog was en is daar steeds ’n ietwat ambivalente verhouding tussen Suid-Afrika en Brittanje, aan die een kant gekenmerk deur vriendskap en besoeke aan die land deur die koningshuis en lede van die koningsfamilie en Suid-Afrika wat aan Britse kant aan die twee Wêreldoorloë deelgeneem het, maar aan die ander kant het ʼn mate van wantroue en ʼn sekere mate van vyandigheid bly vassteek.

 

In Suid-Afrika stoei ons steeds met die vraag oor hoe ’n postkoloniale land lyk. Hierdie debat kan egter nie gevoer word sonder ’n behoorlike begrip van die tydperk van Britse kolonialisasie en die invloed daarvan op die Afrikaner-psige en apartheid nie.

Ironies genoeg was Afrikaners die stam in Afrika wat ’n antikoloniale oorlog gewen en ’n baie duur prys daarvoor in ’n tweede oorlog betaal het. As ’n direkte gevolg daarvan het ’n “nooit-weer-gevoel-sindroom” onder Afrikaners posgevat wat weer ’n invloed gehad het op die regverdiging van apartheid.

U en ek is albei deel van postkoloniale geslagte. Ons kan terugkyk op die geskiedenis en begrip vir mekaar se pyn hê. Alhoewel ek steeds verskil met die meesternarratief van u grootjie se tyd en veral oor die wrede manier waarop dit uitgeleef is, kan ek begrip hê vir die pyn van ’n ouma wie se kleinseun in ’n oorlog sterf en vir die pyn van duisende vroue, ma’s en kinders in Brittanje omdat hul mans en pa’s in Suid-Afrika dood is.

Ek wil nie ’n verskoning hê nie. My oumagrootjie se mense het deur innerlike krag uit die smart van die oorlog opgestaan. Ek wil wel begrip hê vir die pyn as gevolg van die oorlog. Wat aanvanklik gesien was as ’n sogenaamde witmansoorlog, het uiteindelik ook groot pyn vir gewone swart Suid-Afrikaners, pa’s, ma’s, kinders en hul eie oumas, ingehou.

Teen hierdie agtergrond wil ek u nooi om Suid-Afrika saam met u gesin te besoek. Kom ons toon onderlinge begrip vir mekaar se geskiedenis binne ’n postkoloniale konteks en debat oor dekolonisasie.

Kom besoek die graf van u grootoom, Christian Victor, en gaan lê ’n krans daar. Ek sal ook ’n krans daar lê. Kom besoek ook die graffie van my grootoom, Petrus, in die Irene-konsentrasiekamp en lê ’n krans daar. Ek sal dit ook doen. Kom ons besoek saam met die Seko-familie die grafte van hul familielede in Bloemfontein en lê ook daar kranse.

ʼn Herbesoek van die oorlog is nodig vir die postkoloniale debat in Suid-Afrika en ter wille van die gewete van Brittanje en die koningshuis.

Geslagte met die voordeel van nakennis kan kragtige simboliese dade doen sodat ons nie vergeet nie; sodat ons nie herhaal nie; sodat ons kan bou aan ’n nuwe toekoms.

U kan ’n groot rol daarin speel, want u is nie net ’n toekomstige koning nie; u is ook ’n pa.

 

Hoogagtend die uwe

 

Dr. Dirk Hermann

Ek sien u wil die Potch-kampus Engels maak…

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, wat self ʼn oud-SR-voorsitter, raadslid en uittredende visepresident van die konvokasie van die Noordwes-Universiteit (NWU) is, het hierdie ope brief aan prof. Robert Balfour, die NWU se adjunk-visiekansellier vir onderrig en leer geskryf oor sy voorstelle oor die universiteit se taalbeleid:

Geagte prof. Balfour

Ek sien u wil die Potch-kampus Engels maak. Dit is die ou PU vir CHO met die mooi universiteitslied met sy treffende aanhef: “Gebore uit die nag van smaad”. Die nag van smaad was swaarkryjare en die opstaan ná die Anglo-Boereoorlog se puin. Mense het in hul armoede hul sente gegee om die universiteit te bou. Die ontstaan van die Potchefstroomse Universiteitskollege (PUK) was voorwaar ’n wonderdaad.

Waar die PUK uit smart gebou is, word hy toe eenvoudig gevat. Samesmeltings, transformasie en ’n nuwe Suid-Afrika was die redes daarvoor. Nou wil julle selfs die taal vat. Dit gaan nie net die taal wees nie, maar alles rondom die taal.

Dit het begin met die verandering van die naam PU vir CHO. Toe is vir ons gesê net die naam op die hek gaan verander. Die CHO sou van die hek na die hart skuif. Dit was ’n opoffering vir die behoud van Afrikaans. Dit was toe nie waar nie.

Daarna is gesê Afrikaans sal beskerming geniet deur ’n gedesentraliseerde model bestaande uit verskillende kampusse, waarvan elk op sy eie uniek is. Nou is dit ook nie meer waar nie.

Moenie bekommer nie, is toe vir ons gesê. Die PUK sal PUK bly. Nou is die woorde van die akroniem, PUK, verbode woorde.

Elke kampus in hierdie gedesentraliseerde model sou sy eie karakter hê. ’n Gesonde studentelewe, uniek aan elke kampus, sou beskerm word. Ook dit is nie meer so nie.

Tolkdienste van wêreldgehalte sou vir diegene wat in Engels wou studeer, toegang bied. Nou is dit vernederend.

Elke kampus het sy eie korporatiewe kleur gehad, so ontwerp dat dit saam ’n eenheid vorm. Daar word toe, soos telkens vantevore, gekonsulteer. Die meerderheid verwerp toe pers maar pers word die kleur. Niks van wat belowe is, het toe waar geword nie. Alles was prosesse op pad na iets anders.

En nou, nou moet Potch Engels word. Alles wat belowe is, is tot niet. Moenie bekommerd wees nie, sê hulle nou. Daar sal nog ’n plekkie vir Afrikaans wees. Dalk kan daar steeds ’n tolkdiens in Afrikaans beskikbaar gemaak word as dit prakties moontlik is. Studente mag dalk nog met mekaar Afrikaans praat, solank hulle net nie daardeur uitsluit nie.

Beste Professor, die geskiedenis toon dat ook dít nie waar is nie.

Ongelukkig is Engels die voorwaarde vir transformasie. Dit is nie die einde nie, dit is die begin.

Nou volg die eis dat die kurrikulum gedekoloniseer word – en niemand weet nog wat dit behels nie. Ander kampusse wys dat anargisme die instrument is wat gebruik word om dit te eis. Studentelewe gaan verdwyn; koshuise se name gaan verander; en tradisies gaan sneuwel. Meer sentralisering kom. Dié resep is al by ander universiteite getoets.

Radikale transformasie gaan die kodewoord word.

Die slegte nuus vir u is dat die Balfours, al praat hulle Engels, sal moet gaan. Die krokodil wat u voer, gaan u eet. Dit geld ook vir die Van Rensburgs, die Verhoefs, die Venters, die Van der Walts en vir andere. Jy kan meedoen of paai, maar die krokodil se lus is onversadigbaar.

U mag dalk opreg glo dat die NWU ’n gladde oorgang van Afrikaans na Engels gaan maak. Dit is net die taal wat verander. Studente gaan toegerus word vir die wêreld daarbuite en dit deur Engels, die wêreldtaal.

Dit is egter nie net die taal op die hek wat verander nie. Wat gaan verander, is waardes, etiek en kultuur. Die waardes wat by so ’n gedekoloniseerde universiteit oorgedra word waar laboratoriums en biblioteke brand as studente nie hul sin kry nie, is nie die waardes wat studente eendag in die wêreld daarbuite suksesvol sal maak nie.

Professor, u blaas ’n vuur aan sonder om te besef wat deur daardie vuur verteer gaan word.

Ek gaan egter nee sê. Ek gaan in geen onduidelike taal nie, nee sê. Afrikaanse sprekers is moeg vir leuens. Eers het die Grondwet ons beskerm. Toe kom die Kovsie-uitspraak. Kovsies, Tukkies, Maties. Talle beloftes en daar het niks van gekom nie.

Potchefstroom – die laaste plek waar Afrikaans as tersiêre taal in ’n openbare ruimte primêr gebruik word – is al wat oor was.

Nou wil julle dit ook wegneem. Dit plaas Afrikaans op die kampus in die laaste loopgraaf. Iets wat ’n geveg verdien. Dit het nou groter geword as die NWU. Dit gaan nou oor ’n taal wat veg vir die oorlewing van haar hoërorde- akademiese funksie wat oor ’n tydperk van 100 jaar ontwikkel is. Dit is te duur om net te laat gaan en julle het nie die reg om dit te doen nie.

 

Ek gaan nee sê: My kind is my verantwoordelikheid

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het hierdie ope brief aan Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, geskryf as deel van sy kommentaar op die wysigingswetsontwerp op die Skolewet, wat op 13 Oktober deur die onderwysdepartement aangekondig is.

Geagte minister Motshekga

Ek gaan nee sê: My kind is my verantwoordelikheid en daarom wil ek besluit

Ek is net ʼn gewone ouer met vier dogters, almal nog op skool. Soos ʼn gewone ouer is ek, ʼn gewone burger, gefrustreerd oor baie dinge in die land. Soos die meeste gewone mense het ek geduld met baie dinge, maar oor iets wat my kinders raak, is ek, soos ander gewone ouers, buitengewoon ongeduldig. Kom ek stel dit anders: dit maak my woedend as iemand my kinders benadeel.

Die voorgestelde wysigings aan die Wet op Basiese Onderwys wil van my kinders staatsobjekte maak, onderdanig aan ʼn staatsideologie. Die idee krap waar nie gekrap moet word nie; dit krap in my hart. Die nuwe wysigings verander openbare skole in staatskole. Die staat sprei sy tentakels in my huis in en ontneem net eenvoudig ouers die reg om deur hul beheerliggame besluite te neem.

Ek is ʼn demokratiese burger, nie ʼn staatsonderdaan nie. Ek wil ʼn sê hê oor my lewe tot op die laagste vlak. Dit geld nog soveel meer vir my kinders.

Skole is mikro-demokrasieë. Dit is plekke waarheen ouers hul kinders neem om onderrig te ontvang en opgevoed te word. Hulle neem saam verantwoordelikheid vir hul kinders en verkies beheerliggame wat oor die skole moet “regeer”.

Die staat wil die demokrasie van skole wegneem en vervang met staatsdiktatorskap. Om ʼn meer bekende begrip te gebruik: die staat wil die skole kaap.

Deur die nuwe wysigings wil die staat besluit oor toelatings, oor taal, oor skoolkapasiteit en oor aanstelling van onderwysers. Die departement kan besluit oor klasgroottes en taalsamestelling. Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, het vandeesweek oor die radio gesê daar is nie plek vir Afrikaanse skole nie. Sy doel is om klasse te vergroot tot 60 of 70 kinders, in teenstelling met konsensus wêreldwyd dat kleiner klasse tot beter onderrig lei, veral op skoolvlak. ʼn Klaskamer met 70 kinders gaan net lei tot ʼn oorwerkte onderwyser wat swak onderrig aan 70 kinders gee. Uitnemendheid word ingeboet vir inklusiwiteit.

Met alle respek, die probleem is nie skole wat uitsluit nie, maar te min skole. Die oplossings wat voorgestel word, is ʼn klag teen die staat se onvermoë om nuwe skole te bou.

Ander voorgestelde wysigings is dat die onderwysdepartement skole kan dwing om fasiliteite met ander skole te deel. Die hoof van die departement kry die mag om beheerliggame eensydig te ontbind. Skoolfasiliteite wat deur ouers onderhou en verbeter word, moet gratis aan die departement beskikbaar gestel word.

Aanstellings van onderwysers moet streng volgens regstellende aksie en rasverteenwoordiging geskied. Onderwysers moet selfs verslag doen oor hul eie en hul huweliksmaat se finansies. Alle skryfbehoeftes en studiemateriaal moet sentraal verkry en versprei word.

Minister, u wil dus die seggenskap van ouers om te besluit oor die huishoudelike sake van die skool wegneem. Skoolgemeenskappe gaan van hul skole vervreem word, want hulle het nie meer inspraak nie.

Die staat word al swakker, maar die regering wil meer regeer. Die wetgewing gaan goeie skole in slegte skole, en slegte skole in nagmerries verander.

Deur die wysigings word die staat nie méér demokraties nie, maar minder demokraties. Suid-Afrika word só ʼn staatsdiktatuur. Dit is ʼn verloor-verloor-verloor-scenario.

Voor 10 November moet Suid-Afrikaners kommentaar op die wysigings lewer. Ek, soos tienduisende ander ouers, gaan nee sê. Ek gaan nee sê vir skoolkaping deur die staat. Ek gaan nee sê vir die staat se planne om openbare skole in staatskole te omskep.

My kind is mý verantwoordelikheid en daarom wil ék besluit. Los my kinders uit!

 

Ek is moeg vir rasboelies

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, skryf vir Tumi Morake van Jacaranda FM:

Beste Tumi

Ek is wit en moeg daarvoor om op grond van my ras geboelie te word. Ras is nie my primêre identiteit nie, maar ek word kort-kort in ʼn posisie geplaas waar ek dit moet verdedig. Ek, en waarskynlik jy ook, smag daarna dat ons verby ras moet kom.

Ongelukkig is dit deesdae mode om wit mense te boelie. Al die probleme het begin toe Jan van Riebeeck (hoor wit mense) hier aangekom het. Wit “boytjies” moet hulle gedra. Wit mense moenie geslag word nie, in elk geval nie nou nie. Wit mense is vreemdelinge in die land, kolonialiste van ʼn spesiale aard. Met wittes moet gedoen word wat Hitler met die Jode gedoen het. Ons moet selfs met bazookas geskiet word. Al hierdie dinge is deur politici en mense in leiersposisies gesê. Boelies met gesag.

Hierdie rasseboeliegedrag is in die openbare diskoers aanvaarbaar. Dis só aanvaarbaar dit haal nie eens die nuus nie.

Wit mense moet tog so versigtig wees wat hulle sê. Hulle moet op oordrewe wyse wys hulle is nie rassisties nie, maar die rasboelies gaan net voort.

Laat ʼn wit mens nou waag om te verbrou, dan is dit op al wat ʼn voorblad is. Dit kan net kleinskaalse brouwerk wees soos in die gerekende ekonoom Chris Hart se geval, dan is jy weg.

Wit mense word in die werkplek geboelie. Valse klagtes van rassisme vernietig loopbane. Ons is steeds besig met die saak van ʼn wit vrou wat daarvan beskuldig is dat sy die k-woord gebruik het nadat sy swart kollegas dissiplinêr aangekla het. Daar is later erken dat die klagte teen haar vals was en versin is om uit die moeilikheid te kom. Sy is nogtans verplaas.

Spanningsvlakke loop hoog. Sielkundiges spesialiseer in depressie onder wit mense as gevolg van vervreemding in die werkplek. In my eie doktorale studie was ek geskok om te sien hoe hoog wit mense se vervreemdingsvlakke is.

Vervreemding lei daartoe dat wit mense magteloos voel. Hulle is ín ʼn situasie, maar nie déél daarvan nie. Hulle begin betekenisloos voel. Maatskappye word selfs gestraf omdat wit mense daar is. Veral in die werkplek voel hulle geïsoleer en uiteindelik begin hulle van hulself vervreemd raak, wat tot vlakke van depressie lei. Wat die spanning opjaag, is dat die moraliteit van die dag hulle nie toelaat om te sê hoe hulle voel nie.

Ten spyte van dié gevoelens bly wit mense lojaal aan die land, hulle presteer goed, wil hier bly en, volgens die Instituut van Rasseverhoudinge, is gevoelens van rassisme oor die algemeen, ook onder swart Suid-Afrikaners, baie laag. Tussenras-verhoudinge is oor die algemeen in die daaglikse omgang van mense nie sleg nie.

Natuurlik is daar swart mense wat ook op verskeie vlakke en as gevolg van verskeie redes vervreemd voel. Dit is ʼn werklikheid, maar dit maak nie die gevoel wat wit mense beleef, ongedaan nie. Albei groepe moet daaroor kan praat en dit deel.

Die vervreemding van wit mense is deel van my werk. Ek word elke dag daarmee gekonfronteer. Ek is nie deel van die media-elite of die liberale wit elite nie, maar ek is gereeld op fabrieksvloere, by mynskagte en tussen personeel by universiteite.

Gewone wit werknemers beleef boeliegedrag elke dag, maar dit is nie deel van die openbare diskoers nie – dis hoogstens deel van die braaivleisdiskoers.

Dit is ’n diskoers waarvan jy nie weet nie want die politiek korrekte hoofstroom het die morele stilswye van die verlede daarop gelê.

Soms borrel dit uit en dan vra die korrektes: “Waar kom dit vandaan?” Tumi, dit is wat op die oomblik met jou gebeur. Jy het ’n naald in ’n sweer gedruk. Jy verstaan dit nie want dit word weggesteek.

ʼn Deel van die sweer se negatiewe kant borrel op sosiale media uit. Daar is ongelukkig mense wat ras met ras wil beveg, maar die oorgrote meerderheid is gewone, goeie mense wat gefrustreerd is, maar hier wil bly, wil werk, ʼn bydrae wil lewer en goed met ander rassegroepe oor die weg wil kom.

Wit mense probeer om op verskeie plekke te ontsnap. Een so ʼn veilige plek is hul motors. Dit is hul plek. Van hulle luister na musiek oor radiostasies soos Jacaranda FM. Ten spyte van die verkeer is dit tog ’n plek waar hulle rustig kan wees, na musiek kan luister met omroepers wat die atmosfeer fasiliteer.

Wat het jy toe gedoen? Jy dring hul veilige plek binne en wys hulle tereg. Jy gebruik die analoog van die boelie (hoor wit mense) wat die fiets met geweld by die maatjie (hoor swart mense) afgevat het. Die maatjies hoor dan hulle moet nou die fiets deel. Die maatjie by wie die fiets weggevat is, voel daar was nie vergelding nie, want die boelie is nie gestraf nie. Boonop is die boelie nog beloon ook, want hy mag steeds met die fiets speel.

Is jy verbaas dat ʼn deel van jou lojale luisteraars woedend is? Hulle is ontnugter oor hul radiostasie wat hulle in hul veilige plek toegelaat het. Hulle word orals gebombardeer; hulle wil nie in hul motors ook op die vingers getik word nie.

Kortom, jy sê wit mense het wat hulle het omdat hulle dit met geweld gevat het; daar moes eintlik vergelding gewees het; hulle moes eintlik gestraf gewees het; en wat hulle het, moes eintlik van hulle weggeneem gewees het. Wit mense moet dus eintlik dankbaar wees.

Jy gaan selfs verder en sê jy haat dit dat jy om verskoning moet vra en moet verduidelik omdat jy pro-swart is. Jy praat van jou mense is “the people of the soil”. Wit mense is nie jou mense nie en daarmee impliseer jy hulle is nie deel van “the soil” nie. Jy sê eintlik dat wit mense kolonialiste is.

Jou hele gevoel was: “Bly tog net stil, julle was ʼn klomp onderdrukkers. Julle het eintlik jul regte verloor en is vreemdelinge wat dankbaar moet wees dat julle dit gegun word om hier te wees.”

Daar is wel ʼn probleem, want dit is nie net “jou” mense wat na jou luister nie. Dis Jacaranda FM-mense wat na Jacaranda FM luister. Volgens jou is wit mense nie jou mense nie, maar hulle is jou luisteraars.

Ironies genoeg gebruik jy die analogie van ’n boelie om van ’n platform wat jou ’n sekere mate van mag gee, te boelie. Jy het jou platform misbruik. Dit gaan nie daaroor dat jy jou gevoelens uitgespreek het nie; inteendeel, ek wil hê ons moet meer en openliker praat. Dit gaan egter wel daaroor waarvandaan en vanaf watter platform jy hierdie uitsprake maak.

Tumi, jy sê jy het kinders wat nog in dié land moet grootword. Ek het ook kinders. Hulle moet ook nog in hierdie land grootword. My kinders is die elfde geslag in Suid-Afrika. Ons sien onsself as van Afrika-grond. My taal en identiteit het in Afrika ontwikkel. Ons het nie as Afrikaners in Suid-Afrika aangeland nie; ons het dit hier geword. Ons het nêrens om heen te gaan nie en ons wil nêrens heen gaan nie.

Ons gaan net hier bou en bly, maar ons gaan nie stilbly nie.

In die afgelope week het die Instituut van Rasseaangeleenthede ʼn verslag uitgebring wat wys dat die absolute oorweldigende meerderheid Suid-Afrikaners voel hulle het mekaar nodig. Ek is een van daardie mense. Dalk moet ons die debat in Suid-Afrika skuif na wedersydse erkenning en respek sodat ons kinders vry en veilig op hulle fietsies kan ry. Daardie debat begin by jou en my.

Groete

Dirk Hermann

‘Ek het my aptyt om by Spur te eet verloor’

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, het hierdie ope brief aan Mark Farrelly, hoofbedryfsbeampte van Spur, geskryf na Farrelly verlede week oop kaarte gespeel het oor die impak van die boikot teen dié restaurantgroep.

Beste Mark

Ek het my aptyt om by Spur te eet verloor. Ek boikot Spur nie. ʼn Boikot maak dit te klein, so asof dit net ʼn geïsoleerde Spur-insident is wat ʼn tik op die vingers van die publiek verdien.

Dit is nie die geval nie, Mark. Dit gaan hier oor wit mense wat keelvol is om geboelie te word. Hul woede het Spur-woede geword – nie oor wat daar gebeur het nie, maar oor hoe julle dit hanteer het.

Daar heers algemene eenstemmigheid dat die twee volwassenes soos kinders opgetree het. Ek het geen behoefte om vir hulle in te staan nie. Inteendeel, ek het my vir al twee geskaam.

Spur besluit egter wie die aggressor is; verbied hom toegang tot alle Spurs en vra die vrou om verskoning asof haar gedrag geregverdig was.

Ek het my aptyt vir julle verloor toe ek sien hoe politiek korrek julle die aangeleentheid hanteer. Ek is moeg daarvoor. Ek het kwaad geword vir julle toe ek sien hoe julle die aankondiging dat ʼn boikot julle seermaak, hanteer. Julle het geensins mense se woede teenoor julle erken nie. Julle verstaan nie die kwaad in die harte van wit Suid-Afrikaners in die algemeen nie.

Toe etiketteer julle hulle: dit is die ou klomp KP’s; dit is mense wat nog in die gewese Konserwatiewe Party se kiesafdelings bly; dit is die regses, sê julle. Die klomp wat kwaad is, is agter die tyd en kom uit ʼn vorige era. Hulle woon in plekke soos die Moot en in Phalaborwa, sê julle.

Dit is twak, Mark. Die mense wat kwaad is, is kwaad oor wat in die huidige tydsgewrig gebeur. Dit is nie net ʼn klein radikale groepie nie; dit is ʼn algemene gevoel. Daardie gevoel is groter as Spur. Spur het bloot ʼn simbool geword.

Ek woon in die Moot. Die mense wat daar woon, is gesinsmense en jul tipiese kliënte. Hulle is hardwerkende middelklasmense wat ʼn groot verskil in die land maak.

Deur mense te etiketteer maak jy hulle stil. As jy iets sê, dan is jy regs. Dit is wat die bedeling nou doen. Hulle maak ons stil, maar dan weet hulle nie wat ons dink nie. Ons is egter nie stil nie; ons praat, al is dit om die braaivleisvure. Dit is daardie praat wat jy nie hoor nie.

Ná my twiet oor die Spur-debakel sien ek in die media jy nooi my uit om na die opnames van die gebeure te kom kyk. Jy mis die punt. Die dieper kwessie lê anderkant die opnames van die voorval. Dit gaan hier oor iets groters. Die voorval het na ʼn ander vlak beweeg en dit moet op daardie vlak hanteer word. Dit gaan naamlik oor ʼn gemeenskap wat vervreemd voel in die land en nou voel hulle nog vreemd by hul gunsteling-eetplek ook. Afrikaners is Spur-mense, familiemense. Hulle het Spur as ʼn eetplek gesien waar hulle tuis voel. Mark, julle het na hulle gehap. Dit was ʼn fout.

Jy sê in die media ek reageer oorhaastig. Nee Mark, ek het aanvanklik nie aptyt vir die debakel gehad nie, maar jul hantering daarvan het my aptyt mettertyd opgewek. Ek was nie oorhaastig nie.

Julle het die nasionale diskoers reg gelees. Dit boelie wit mense. Ek het gehoor hoe baljaar die hoofstroom-radiostasies oor die Spur-boikot. Hulle het lekker oor die “regses” gal gebraak. Eintlik was dit op Afrikaners gemik en dit het my naar gemaak. Julle het ook aan die onderhoude deelgeneem.

Julle het egter die diskoers in die wit gemeenskap in die algemeen en in die Afrikaanse gemeenskap spesifiek totaal verkeerd gelees. Inteendeel, julle het dit misken.

Daar is ʼn ander moontlikheid en ek is bevrees dit is inderdaad die ware rede vir jul optrede –en dit is ʼn ekonomiese rede. Wit mense se som tel nie meer vir julle nie. Julle kyk na demografiese verandering en kom tot die slotsom dat jul mark gaan verander. Julle moet die “boikot” net deursien want dit word gevoer deur ʼn mark wat uit die vorige era kom. ʼn Nuwe middelklas-mark lê en wag. Julle glo julle moet net nie die nuwe mark vervreem nie. Bemarking 101 leer egter dat jy na ʼn nuwe mark skuif deur eers jou bestaande mark te konsolideer. Julle het die koopkrag van jul tradisionele mark onderskat.

Julle het drooggemaak, Mark. Sê julle is jammer daaroor. Julle het ʼn gemeenskap wat vir jare jul lojale kliënte was, misken. ʼn Verskoning is die aangewese ding. Mense het hul aptyt verloor om by julle te gaan eet.

ʼn Brief aan Julius: Oor grond en plek

Beste Julius

Ek hoor Afrikaners moet hul plek ken. Ons is glo besoekers en volgens jou moet besoekers hulle gedra. Ek hoor ons het jul grond gesteel. Dankie, Julius, ek sien darem jy sê jy gaan ons nie die see injaag nie. Ek hoor ook jy sê dat indien wit mense nie al die grond vredeliewend oorhandig nie, jy nie sal kan waarborg wat met hulle gaan gebeur nie. Dankie ook vir die vriendelikheid dat jy ons nie gaan doodmaak nie, ten minste nie nou nie.

Maar Julius, jy’s verkeerd, jy’s so verkeerd.

Ek sal met jou oor grond praat as jy met my oor geslagte praat, geslagte op die grond. My dogters is die elfde geslag op Afrikagrond. Hans, Nicolaas, Hendrik, Marthinus David, Marthinus Nicolaas, Willem Adriaan, Marthinus Nicolaas, Jacobus Johannes, Marthinus Nicolaas, Dirk Johannes en dan my vier dogters. Ek kan hulle opnoem, naam vir naam, geslag vir geslag, op hierdie grond. Kan jy, Julius?

Ek ken my plek; dis hier.

Ons het nie as Afrikaners hier aangekom nie. Ons het hier Afrikaners geword. Ons naam en taal is vernoem na Afrikagrond – Afrikaner en Afrikaans. Afrika is in ons bloed en ons bloed is in Afrika.

Kort nadat ons hier aangekom het, het die Kompanjie die eerste vryburgers toegelaat om te boer. Hulle het hul rûe op Europa gekeer en hul gesigte na Afrika gedraai.

Afrikaners het nie teruggedraai Europa toe nie; hulle het vorentoe getrek, Afrika in.

Rakende grond is daar drie lyne. Die eerste is die imperiale lyn waar grond gebruik is om minerale en rykdom te onttrek en uit te voer. Die tweede is waar grond as simbool van mag verower is. Ander Afrikastamme en hul grond is ingelyf om mag te toon. Die derde lyn van grond is waar grond gebruik is om te bewoon, te bewerk en te bewaar. Ons Boere glo aan die derde lyn.

Om ons te verstaan, moet jy grond verstaan. Ons het maar almal ʼn stuk grond in ons al bly ons in die stad. Filosoof en teoloog dr. Wikus Buys sê Afrikaners sien die stad as ʼn noodsaaklike euwel. Ons het nooit regtig stadsmense geword nie; ons hunker terug na die landelike. Daar is ʼn rede waarom Engelse mense ʼn “yard” het en Afrikaners ʼn agterplaas. Afrikagrond en oopheid is deel van ons identiteit.

Van 1835 af het etlike honderde ontevrede Boere, wat spoedig etlike duisende geword het, uit die Oos-Kaap getrek met die oog daarop om ʼn nuwe toekoms in die Suid-Afrikaanse binneland, vry van Britse beheer, te bou. Dit word genoem die Groot Trek. Dit is histories net gedeeltelik korrek, want in daardie tyd was daar veel groter trekke aan die gang.

Die Afrikaner se Groot Trek was maar bloot ʼn klein deeltjie van geweldige groot bevolkingsmigrasies van daardie tyd. Julius, hoekom swyg jy oor die ander trekke, die groter uitbuiting, gronddiefstal, moorde en geweld van swart mense teenoor ander swart stamme? Miljoene moes vlug en honderde duisende, sommige bronne praat van tussen een en twee miljoen, is doodgemaak.

Die suidpunt van Afrika is gedestabiliseer. Sotho’s, Matabeles, Tswanas moes vlug. Vandag nog sien ons die strukturele gevolge van daardie tyd: Swaziland, Lesotho, Zimbabwe.

Julius, gaan lees die brief wat Rian Malan, die navorsingsgenoot van die Suid-Afrikaanse Instituut van Rasseaangeleenthede, aan jou geskryf het. Daarin skryf hy dat die grondbesit en migrasie glad nie so ʼn eenvoudige swart/wit-verskynsel is soos wat jy dit wil maak nie.

Die Voortrekkers se trek is bykans tot stilstand geruk deur die moord op Piet Retief en sy manskappe. Julius, die dispuut het oor grond gegaan, maar daar is ʼn goue woord om die gronddispuut te verstaan en dit is “traktaat”, met Retief se handtekening op en Dingaan se merk. Of daar begrip was vir eiendomsreg kan tereg gevra word, maar dit is duidelik dat die bedoeling nie verowering was nie, maar onderhandeling; nie diefstal nie, maar ʼn transaksie.

Daarna volg die wrede moorde by die Bloukrans- en Boesmansrivier.

Meer as 500 mense, onder wie 185 kinders en 250 huiswerkers, is koelbloedig vermoor met ’n barbaarsheid waarvan ’n kuns gemaak is – ’n toneel van dood en verwoesting.

Julius, dis tonele waarvoor nog nie verskoning gevra is nie. As jy wil praat van growwe menseregteskendings, gaan kyk na die kindermoorde van Bloukrans, Wenen en Moordspruit, die grootste kindermoord in Suid-Afrika se geskiedenis.

Die naaste wat nog aan ʼn verskoning gekom is, is prins Mangosuthu Buthelezi wat verskoning gevra het vir die moord op Piet Retief.

Hoekom is hierdie historiese vergrype teenoor die Afrikaner nie ’n misdaad nie? Is dit omdat Afrikaners anders lyk? Afrikaners het ook geveg, oorwin en verloor vir ’n plek in Afrika.

Julius, waarom word beelde gebou om die moordenaars van die Mfecane te herdenk, maar Afrikaners word as uitbuiters gesien? Hoekom is Shaka ’n vryheidsheld, maar Piet Retief, die vermoorde, en ander Voortrekkerleiers gee aanstoot?

Hoekom is die swart-teenoor-swart volksmoorde nie misdaad teen die mensdom nie? Waarom swyg jy oor vroue en kinders wat ingelyf is, mans wat doodgemaak is en grond wat gebuit is? Hoekom is jy so geduldig met historiese swart-teenoor-swart geweld?

Ek kan vir jou sê, Julius. Die rede daarvoor is dat dit vir jou nie gaan oor onreg nie; dit gaan oor ras.

Kom ons neem die verhaal verder as die Groot Trek.

Twee republieke, die Zuid-Afrikaanse Republiek en die Republiek van die Oranje-Vrystaat, is gestig. Die Engelse kolonialiste het ons nie uitgelos nie. As Afrikastam veg Afrikaners in die Eerste Vryheidsoorlog en word die eerste Afrikastam wat ’n koloniale mag in ʼn oorlog, nie net ʼn veldslag nie, verslaan.

Die kolonialiste wil Afrikaners se minerale rykdom weer kolonialiseer en die Tweede Vryheidsoorlog begin. Dit was ’n duur, wrede oorlog – die duurste prys nóg vir Afrikaners se plek in Afrika. Vroue en kinders is in konsentrasiekampe geplaas. Sowat 34 000 van hulle is dood. Ongeveer 30 000 van die mans is as bannelinge weggestuur, plase is afgebrand en 20 000 oorlogswesies het agtergebly.

Julius, moet my nooit weer ’n kolonialis, al is dit van ’n spesiale aard, noem nie – dis vir my en die grafte van my voorouers ’n belediging.

Soos tipiese kolonialiste wou die Engelse ná die oorlog die Afrikaners by hulle inlyf. Hulle wou ons van Afrika ontneem en Engels maak. Afrikaners moes ’n bordjie “I am a donkey” dra as hulle hul taal wou praat.

Ten spyte van die regering het Afrikaners opgestaan. Onderliggend aan die opstaan was ʼn kernwoord, naamlik roeping. Roeping beteken jy doen waartoe God jou geroep het op ʼn spesifieke tyd en spesifieke plek en dan glo jy in sy toekomsbelofte.

Ons het gemeenskapsinstellings begin vestig: die Vrouefederasie om die mense se armoede aan te pak, asook onderwysinstellings en selfs ekonomiese instellings. Ons het ons maatskappye na Suid-Afrika vernoem, soos Sanlam, Santam, en inheemse name soos Volkskas, Federale Volksbeleggings. Ons het nie koloniale name gebruik soos Anglo-American wat met die een voet in Engeland en die ander in Amerika staan terwyl hulle hier ontgin en uitvoer nie.

Droogte, depressie en armoede het ons swaar getref, veral in die 1930’s met die armblankevraagstuk.

Om uit armoede te kon opstaan, het ons geglo ons moet kultureel ryk wees en in dié swaarkrytyd is die Bybel in Afrikaans vertaal, Afrikaans het ʼn amptelike taal geword, en die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging, die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings, die Afrikanerbond, Voortrekkers, ensovoorts is gestig. So het Afrikaans deel van die Afrikaners se opstaan-identiteit geword. Ons praat nie net Afrikaans nie; ons is Afrikaans. Afrikaans het ons taal van aspirasie geword en deur Afrikaans het ons gemoderniseer.

Afrikaners het egter aan die “nooit weer nie-sindroom” gely. Hulle wou finaal vry wees en nooit, ooit weer deur iemand onderdruk word nie. ʼn Republiek was die droom. Die kinders van apartheid het die doodskampe van die oorlog nog in hul huise beleef. Apartheid is nie so simplisties nie, maar die “nooit weer nie-sindroom” het ’n groot invloed gehad.

Dit was ook die tydperk van die groot Afrika-bevryding, dekolonisasie, die tyd van Uhuru, die Afrika-bevrydingskreet en die Mau-Mau-moorde in Kenia. Dit was die tydperk van Europeërs wat na hulle moederland vlug, ʼn sterk Rusland en ʼn lewendige kommunistiese ideologie. Dit was ʼn tydperk van angs omdat Afrikaners Afrika gekies het en geen moederland gehad het om na terug te keer nie. Dit was ook ʼn tydperk toe wit demografie, veral in die stede, totaal anders gelyk het as nou, ʼn tydperk toe segregasie nog wêreldmode was. Dit het ʼn bepaalde konteks vir apartheid geskep.

Foute is gemaak. Met die wysheid van terugskouing moes dinge anders aangepak gewees het. Daar was te veel hartseer en vernedering. Dit het in ʼn stelsel van kleurskeiding ontaard.

Ons almal se stories, goed en sleg, maak ons deel van ʼn groter Afrika-storie.

Julius, jou idees van nasionalisering en meer staat, ʼn groot sentrale idee, stelsel en staat (of “empire”) waar almal moet inskakel, gaan niks herstel nie en gaan nie jou mense bevry nie. Dit gaan juis nié regkry wat moet gebeur en wat dit poog om te doen nie. Dit gaan jou mense afhanklik maak van ʼn stelsel.

Wat my die meeste verstom, is dat jy iemand anders se taal jou taal van aspirasie gemaak het. Jy het jou eie taal prysgegee en hang die kolonialiste se taal aan. Hoe kan iemand sê: “My taal kan nie”? In my wêreld beteken dit ek kan nie. Solank jy jouself afhanklik maak van ʼn stelsel en iemand anders se taal, is jy nie vry nie.

Afrikaners se antwoord is anders. Ons glo die krag van die gemeenskap is sterker as die mag van die staat. Ons glo in die krag van “help mekaar” waar baie bietjies baie maak. Ons glo aan die krag van roeping waar elkeen bloot doen wat hy/sy moet doen, en dan glo in God se toekomsbelofte.

Ons bou ʼn nuwe wêreldklas Afrikaanse universiteit, Akademia; ons bou Sol-Tech, nou reeds geag as een van die top drie tegniese kolleges in Suid-Afrika, wat Afrikaanse ambagslui oplei. Ons help mekaar deur die Solidariteit Helpende Hand wat die afgelope jaar R31 miljoen in die vorm van studiehulp uitbetaal het. Solidariteit Helpende Hand het 160 takke landwyd en het die afgelope jaar meer as 1 000 gemeenskapsprojekte aangepak. Solidariteit stel mense in staat om te kan werk, nie om te kan staak nie.

Ons ontwikkel ʼn nuwe media-instelling, Maroela Media, wat nou die grootste Afrikaanse nuusblad in die land is. Ons vestig 70 gemeenskapsbeveiligingstrukture deur AfriForum met meer as 3 000 mense wat deur dié strukture elke aand patrollie ry, ons maak deur AfriForum-takke 15 900 slaggate reg en verf 12 000 meter se verkeerslyne op paaie. Nie net Afrikaner-slaggate of -lyne nie Julius, almal sʼn.

Terwyl die land gebuk gaan onder ʼn krisis weens jou en die regerende partye se stiksienige ideologie, bou ons.

Ons breek nie, ons bou, want ons glo dit is wat ʼn mens doen.

Groete

Dirk Hermann

 

Ope brief aan almal wat Afrikaans is

Beste Wieookal,

Ek weet dat jy Afrikaans praat, ek weet ook Afrikaans is nie ʼn witmanstaal nie, ek weet ook van die wonderlike invloed van almal op ons taal. Ek weet van ʼn verskeidenheid taaldialekte, aksente, idiome en sêgoed. Ek weet jy’s bruin, jy weet ek’s wit. Ek weet jy was tóé te swart en nóú te wit, en ek moet glo nou skaam wees oor my ‘witgeit’. Ek weet alle wittes wat Afrikaans praat is ook nie dieselfde. Party is van die Noorde en ander van die Suide en ander sommer net anders. Party het getrek en ander het gebly. Ek skryf sommer vir julle almal.

Ek weet al die goed, maar wie is jy? Ek weet nie waar jy vandaan kom nie, ek weet nie wat jou gebruike is nie.

Kortweg, ek ken nie jou storie nie.

Ons stories het verdrink in taal en rasdebatte. Die debatte is bruin, wit en Afrikaans, maar ons stories is baie dieper as dit. Ek het ʼn noordelike-Afrikanerstorie; Tannie Nora is bruin, maar is ʼn nooi van Graaff Reinet; Hans du Plessis skryf Griekwapsalms; Hendrik-Thys het ʼn Khoi-Sanstorie; Oom Waterboer moet sy Griekwastorie vertel; die Nels het ʼn Richterveldstorie; ander is suidelike-Afrikaners of sendeling-Afrikaners; ander het slawestories; stories met Maleisiese wortels en so kan ek aangaan… Waarskynlik ken ek nie eers jou storie se naam nie.

In hierdie skrywe wil ek jou vra om jou storie vir my te vertel. Vertel vir my, wie is jy?

Ek wil nie hê jy moet ek word of ek moet jy word nie, maar ek wil hê ons moet mekaar verstaan. Daar lê ʼn ‘ons’ in bloot verstaan.

Kom ek vertel vir jou my storie.

Ek is van Afrika.

Ek is deel van, soos president Zuma ons noem, die wit stam van Afrika. Ek het nie twee paspoorte nie.

My taal is Afrikaans en ek is ʼn Afrikaner; my mense het hulle taal en hulleself na Afrika vernoem. My eerste voorvader, Hans, het in 1657 in Suid-Afrika aangekom.

Hans was ʼn jaar later ʼn vryburger en het sy rug op Europa gedraai en sy gesig na Afrika. Hy is deur ʼn leeu doodgebyt, wat wys ons storie is ʼn harde Afrika-storie.

My mense was deel van die Groot Trek – eers na Natal en vandaar oor die Drakensberge na die Transvaal. Ons mense is gedryf deur vryheid.

My voorouers was deel van die eerste volk in Afrika wat ʼn koloniale moondheid in ʼn oorlog verslaan het. My oupagrootjie, Marthinus Nicolaas Ras, het saam met sy mede-Boere die Engelse op Majuba verslaan.

Talle grafte van my mense, die gevolg van gevegte vir ʼn plek in Afrika, lê regdeur Suid-Afrika versprei.

My oupagrootjie was ʼn banneling in Bermuda en my oumagrootjie is as gevolg van die ontberings in ʼn konsentrasiekamp dood. My ouma het as kind die konsentrasiekamp oorleef, maar haar boetie is dood.

My ouma se pa is dood tydens die Groot Griep van 1918 en haar ma was ʼn bediende wat wasgoed gewas het. My ouers is produkte van die Depressie en het ʼn obsessie gehad om uit hulle omstandighede te ontsnap.

 

My pa is nou nog baie bewus van wat die Engelse aan sy ma, oupa en ouma gedoen het. Republiekwording was die finale oorwinning oor die Engelse. Die swart vraagstuk was baie laer op sy agenda as die stryd teen die Engelse.

My pa was ook ʼn kind van apartheid, maar hy’s geen krimineel nie. Ek is trots op my pa en trots op wat hy bereik het. Ek dink sy en my familie se storie van opstaan is merkwaardig en moenie verswyg word nie.

Ek het begrip vir die apartheidskonteks waarbinne my pa-hulle geleef het en ek is trots op my geskiedenis en erken die goed en die kwaad.

Ek is opreg jammer oor dit wat fout geloop het in my verlede, maar dit trek nie ʼn lyn deur my geskiedenis nie, en veral nie deur my toekoms nie. Ek glo aan berou en vergifnis en vorentoe gaan.

Ek hou van Suid-Afrika. Ek hou van die natuur, die klimaat, die oop omgewing en die vriendelike mense. Ek hou van tipiese Afrikaanse humor en lag vir Suid-Afrikaanse grappe.

Ek hou daarvan om hier te kampeer, te braai, te kuier en vakansie te hou. Ek skreeu graag vir ʼn Suid-Afrikaanse rugbyspan en is deel van ʼn unieke rugby- en sportkultuur. Ek hou van blatjang, biltong, braaivleis en potjiekos.

Ek hou daarvan om hier kerk toe te gaan en God in my taal te aanbid en te besing. Tussen die mense waar ek leef, is dit nie vreemd om ʼn Christen te wees nie. Ek glo my roeping is hier in Suid-Afrika.

Ek is ʼn Christen en in Christus is ek vry. Ek glo aan hoop in Christus en die sekerheid van sy toekomsbelofte.

Ek kan my taal, Afrikaans – ʼn inheemse Afrika-taal – hier gebruik en uitleef. Ek is mal oor Afrikaanse musiek en is trots op die Afrikaanse letterkundeskatkis. Ek wil hê my kinders en kleinkinders moet in hulle moedertaal onderrig word.

Ek wil nie emigreer nie; ek wil ter wille van my, my familie en my gemeenskap hier in Afrika en, in besonder, in Suid-Afrika bly. My agterdeur is toe; ek gaan nêrens heen nie. Die grootste daad van politieke protes is waarskynlik om te sê: “Weggaan is nie ’n opsie nie. Ek is van Afrika.”

Omdat ek nêrens heen gaan nie, het ek geen alternatief as om vir my ʼn demokratiese ruimte in Suid-Afrika oop te kap nie. Ek steek my hand uit na ander Suid-Afrikaners om ʼn toekoms hier te skep.

Ek is ʼn pa en baie lief vir my dogters en vrou. Dit is vir hulle wat ek my arms sal stomp baklei vir ʼn veilige ruimte in Suid-Afrika.

Dit is ek. Wie is jy?

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.