Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, het hierdie ope brief aan Mark Farrelly, hoofbedryfsbeampte van Spur, geskryf na Farrelly verlede week oop kaarte gespeel het oor die impak van die boikot teen dié restaurantgroep.
Beste Mark
Ek het my aptyt om by Spur te eet verloor. Ek boikot Spur nie. ʼn Boikot maak dit te klein, so asof dit net ʼn geïsoleerde Spur-insident is wat ʼn tik op die vingers van die publiek verdien.
Dit is nie die geval nie, Mark. Dit gaan hier oor wit mense wat keelvol is om geboelie te word. Hul woede het Spur-woede geword – nie oor wat daar gebeur het nie, maar oor hoe julle dit hanteer het.
Daar heers algemene eenstemmigheid dat die twee volwassenes soos kinders opgetree het. Ek het geen behoefte om vir hulle in te staan nie. Inteendeel, ek het my vir al twee geskaam.
Spur besluit egter wie die aggressor is; verbied hom toegang tot alle Spurs en vra die vrou om verskoning asof haar gedrag geregverdig was.
Ek het my aptyt vir julle verloor toe ek sien hoe politiek korrek julle die aangeleentheid hanteer. Ek is moeg daarvoor. Ek het kwaad geword vir julle toe ek sien hoe julle die aankondiging dat ʼn boikot julle seermaak, hanteer. Julle het geensins mense se woede teenoor julle erken nie. Julle verstaan nie die kwaad in die harte van wit Suid-Afrikaners in die algemeen nie.
Toe etiketteer julle hulle: dit is die ou klomp KP’s; dit is mense wat nog in die gewese Konserwatiewe Party se kiesafdelings bly; dit is die regses, sê julle. Die klomp wat kwaad is, is agter die tyd en kom uit ʼn vorige era. Hulle woon in plekke soos die Moot en in Phalaborwa, sê julle.
Dit is twak, Mark. Die mense wat kwaad is, is kwaad oor wat in die huidige tydsgewrig gebeur. Dit is nie net ʼn klein radikale groepie nie; dit is ʼn algemene gevoel. Daardie gevoel is groter as Spur. Spur het bloot ʼn simbool geword.
Ek woon in die Moot. Die mense wat daar woon, is gesinsmense en jul tipiese kliënte. Hulle is hardwerkende middelklasmense wat ʼn groot verskil in die land maak.
Deur mense te etiketteer maak jy hulle stil. As jy iets sê, dan is jy regs. Dit is wat die bedeling nou doen. Hulle maak ons stil, maar dan weet hulle nie wat ons dink nie. Ons is egter nie stil nie; ons praat, al is dit om die braaivleisvure. Dit is daardie praat wat jy nie hoor nie.
Ná my twiet oor die Spur-debakel sien ek in die media jy nooi my uit om na die opnames van die gebeure te kom kyk. Jy mis die punt. Die dieper kwessie lê anderkant die opnames van die voorval. Dit gaan hier oor iets groters. Die voorval het na ʼn ander vlak beweeg en dit moet op daardie vlak hanteer word. Dit gaan naamlik oor ʼn gemeenskap wat vervreemd voel in die land en nou voel hulle nog vreemd by hul gunsteling-eetplek ook. Afrikaners is Spur-mense, familiemense. Hulle het Spur as ʼn eetplek gesien waar hulle tuis voel. Mark, julle het na hulle gehap. Dit was ʼn fout.
Jy sê in die media ek reageer oorhaastig. Nee Mark, ek het aanvanklik nie aptyt vir die debakel gehad nie, maar jul hantering daarvan het my aptyt mettertyd opgewek. Ek was nie oorhaastig nie.
Julle het die nasionale diskoers reg gelees. Dit boelie wit mense. Ek het gehoor hoe baljaar die hoofstroom-radiostasies oor die Spur-boikot. Hulle het lekker oor die “regses” gal gebraak. Eintlik was dit op Afrikaners gemik en dit het my naar gemaak. Julle het ook aan die onderhoude deelgeneem.
Julle het egter die diskoers in die wit gemeenskap in die algemeen en in die Afrikaanse gemeenskap spesifiek totaal verkeerd gelees. Inteendeel, julle het dit misken.
Daar is ʼn ander moontlikheid en ek is bevrees dit is inderdaad die ware rede vir jul optrede –en dit is ʼn ekonomiese rede. Wit mense se som tel nie meer vir julle nie. Julle kyk na demografiese verandering en kom tot die slotsom dat jul mark gaan verander. Julle moet die “boikot” net deursien want dit word gevoer deur ʼn mark wat uit die vorige era kom. ʼn Nuwe middelklas-mark lê en wag. Julle glo julle moet net nie die nuwe mark vervreem nie. Bemarking 101 leer egter dat jy na ʼn nuwe mark skuif deur eers jou bestaande mark te konsolideer. Julle het die koopkrag van jul tradisionele mark onderskat.
Julle het drooggemaak, Mark. Sê julle is jammer daaroor. Julle het ʼn gemeenskap wat vir jare jul lojale kliënte was, misken. ʼn Verskoning is die aangewese ding. Mense het hul aptyt verloor om by julle te gaan eet.