Hoe hou jy op om “𝗷𝗮𝗺𝗺𝗲𝗿 𝘁𝗲 𝘄𝗲𝗲𝘀” oor dinge buite jou beheer, wil Christel Cornelissen, nuusredakteur by Maroela Media, by Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, weet.
Luister die volledige episode hier:
Kyk die volledige episode hier:
Hoe hou jy op om “𝗷𝗮𝗺𝗺𝗲𝗿 𝘁𝗲 𝘄𝗲𝗲𝘀” oor dinge buite jou beheer, wil Christel Cornelissen, nuusredakteur by Maroela Media, by Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, weet.
Luister die volledige episode hier:
Kyk die volledige episode hier:
Die Solidariteit Beweging het ’n uitgebreide besoek aan die Verenigde State van Amerika (VSA) afgeskop. Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die tyd vir gemeenskapsdiplomasie aangebreek.
Volgens Buys is die regering en die ANC aandadig aan die swak diplomatieke verhoudings tussen Suid-Afrika en die VSA, en kan hulle nie meer vertrou word om dit alleen te hanteer nie. Die land is te belangrik om dit net in hulle hande te los.
Die doel van die besoek is om in te tree vir die land, die ekonomie en die werkende mense. Die Solidariteit Beweging gaan in die komende weke verskeie rolspelers in die Amerikaanse regering op federale- en deelstaatsvlak besoek.
Die Solidariteit Beweging het voor die besoek verskeie skrywes aan die Suid-Afrikaanse regering gestuur, insluitend president Ramaphosa, in ’n poging om ʼn gesprek te voer oor die diplomatieke krisis, die gevolge daarvan en moontlike oplossings. Dit was egter onsuksesvol.
Hierdie besoek volg ná ’n jaar waarin die ANC-regering die verhouding met die VSA – die wêreld se grootste moondheid en Suid-Afrika se belangrikste handelsvennoot – ernstig beskadig het.
Die gevolge van dié vervreemding word tans gevoel deur gewone mense in Suid-Afrika, wat reeds gebuk gaan onder ’n verswakkende ekonomie.
Volgens Buys heers daar groot kommer oor Suid-Afrika se diplomatieke infrastruktuur.
“Soos talle ander infrastruktuur in die land het die regering se diplomatieke infrastruktuur ingeplof. Voorheen het Suid-Afrika diplomatieke infrastruktuur tot op deelstaatvlak gehad, maar nou is daar nie eers ’n ambassadeur nie en die spesiale gesant het nie eens ’n visum nie. Die vraag is nie wat maak die Solidariteit Beweging in die VSA nie, maar waar is die regering?” het Buys gesê.
Teenoor hierdie vervalle staatsdiplomasie het die Solidariteit Beweging oor die jare heen gemeenskapsdiplomasie beoefen, betroubare verhoudings in die VSA opgebou en geloofwaardigheid gevestig deur die opbouende rol wat ons instellings in Suid-Afrika speel. Dit skep ’n unieke geleentheid om ’n positiewe alternatief te bied in die lig van die vervalle staatsverhoudinge wat tans bestaan.
Vroeër vanjaar het kongreslid Ronnie Jackson van Texas ’n wetsontwerp ingedien om die VSA se verhouding met Suid-Afrika te hersien. Die redes hiervoor het ingesluit die regering se toenemende bande met vyandige state, sy regstreekse skakeling met terreurorganisasies soos Hamas, sy openlike vyandigheid teenoor Israel, die diepgewortelde korrupsie onder senior ANC-leiers, en die ernstige menseregteskendings wat in Suid-Afrika voortduur.
Die ANC is verantwoordelik vir die swak diplomatieke verhoudings. Hulle kan nie meer vertrou word om dit alleen te herstel nie. Die privaat sektor en burgerlike samelewing moet ’n baie groter rol speel. “Waar die regering verhoudings versuur en die land se ekonomiese toekoms in gevaar stel, bou die Solidariteit Beweging brûe, skep ons oplossings en herstel ons hoop,” het Buys gesê.
Solidariteit en AfriForum gaan elk ’n spesifieke fokus tydens die toer hê en sal afsonderlik daaroor kommunikeer.
Saamgestel deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging
Dit is maklik om kritiek en vals beskuldigings met feite te weerlê, en dít is presies wat Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, in Maroela Media se nuwe podsending Feit of versinsel doen.
Luister die volledige episode hier:
Kyk die volledige episode hier:
Die Solidariteit Beweging spreek sy innige meegevoel uit ná die tragiese sluipmoord op die konserwatiewe Amerikaanse politieke aktivis, Charlie Kirk (31).
Charlie, die stigter en uitvoerende hoof van Turning Point USA, ʼn invloedryke konserwatiewe jeugorganisasie, is op die verhoog by ʼn byeenkoms by die Utah Valley-universiteit doodgeskiet.
Ons spreek ons opregte en innige medelye uit aan sy familie, vriende en almal wat hom liefgehad het. Miljoene mense regoor die wêreld rou saam oor hierdie onverwagse en tragiese verlies.
Charlie was ʼn vriend van die Afrikaner – ʼn voorstander van samewerking, dialoog en politieke betrokkenheid. In hierdie donker tyd word ons herinner aan hoe kosbaar politieke verdraagsaamheid is; dat verskille met respek hanteer moet word en dat ʼn vreedsame samelewing nie as vanselfsprekend beskou moet word nie.
Mag sy familie troos en krag vind, en mag ons almal op die voorbeeld van verdraagsaamheid en menslikheid wat Charlie beklemtoon het, voortbou.
Die Solidariteit Beweging staan in hierdie moeilike tyd saam met diegene wat treur.
Hierdie jaar is ʼn groot jaar vir Afrikaans. Dis nie net die honderdste herdenking van Afrikaans as amptelike taal nie, maar ook die 150ste herdenking van die stigting van die GRA, oftewel die Genootskap van Regte Afrikaners. Die amptelike erkenning van Afrikaans is voorafgegaan en moontlik gemaak deur die GRA en skrywers en digters soos CJ Langenhoven, Totius en Eugene Marais.
Die groot vraag is nou wat is die toekoms van Afrikaans? Doemprofete meen die einde van Afrikaans as hoëfunksietaal het aangebreek, gegewe die regering se strewe om ons taal uit die openbare lewe te druk. Teenoor die doemprofete staan die “doenprofete”, wat ook die gevare sien, maar wat besluit het om iets daaraan te dóén.
Niemand is bang dat Afrikaans as informele taal uit ons huise en kombuise sal verdwyn nie, maar die groot vraag is wat gedoen kan word om te verseker dat Afrikaans ʼn volle funksionele taal bly. ʼn Taal wat nie in al sy funksies gebruik kan word nie, is geneig om deur ʼn proses van taalverskuiwing na ʼn wêreldtaal uiteindelik bedreig te word en selfs kan verdwyn. Daarom is dit nodig om ʼn oorsig te skets van die faktore wat inspeel op enige taal se oorlewing, en in die proses seker te maak dat Afrikaans se toekoms veilig is.
Die eerste en belangrikste bepaler van ʼn taal se toekoms, is die welstand van die kultuur of kulture wat die taal gebruik. Indien die bestaansvoorwaardes vir Afrikaners en ʼn kritiese massa ander Afrikaanssprekendes verval om in Suid-Afrika te bly, kan die taal nie oorleef as sy sprekers wegtrek of wegkwyn nie. Daarom behoort die begin van ʼn taalstrategie te wees om die voorwaardes te skep wat nodig is vir die kultuur om voort te bestaan. Die Romeine se taal, Latyn, kon uiteindelik nie die val van die Romeinse Ryk oorleef nie, behalwe in akademiese kringe waar Latynse terme nog gebruik word, soos in die regswese.
Die tweede bestaansvoorwaarde vir Afrikaans is die wíl van haar sprekers om hulle taal nie net te laat oorleef nie, maar te laat floreer. Die wil om Afrikaans te laat voortbestaan deur mense wat die bedreigings raaksien, ʼn plan vir die oorlewing en florering van Afrikaans kan maak, en wat genoeg mense kan begeester om die plan uit te voer is bepalend vir ʼn taal se toekoms. Daar word gesê ʼn Boer maak ʼn plan. Gelukkig bestaan daar oortuigende tekens dat die wil onder ʼn groot deel van die sprekers wel daar is om Afrikaans se voortbestaan te verseker.
ʼn Taal- of kultuurgemeenskap leef ín en deur instellings op elke belangrike gebied. ʼn Taal het onder meer skole, kolleges, universiteite, media, kultuurorganisasies, jeugbewegings, partye, vakbonde, maatskappye, ouetehuise en beroepsverenigings nodig om te kan voortbestaan.
Die Frans-Kanadese taalkundige, Jean Laponce, meen dat ʼn taal ʼn eie gebied of gebiede nodig het waar sy die meerderheid is en nie daar met ʼn wêreldtaal hoef mee te ding nie. Frans sal nie in Kanada as ʼn betekenisvolle taal voortbestaan sonder Quebec nie, en Vlaams sal heel waarskynlik verdwyn as Vlaandere sou ophou bestaan.
ʼn Mens kan moeilik jouself ʼn betekenisvolle taal indink sonder ʼn stad of stede wat die taal anker en wat vol taalinstellings is wat die taal in al sy funksies gebruik. Was dit nie vir Londen, Parys of Berlyn nie, sou Engels, Frans of Duits groot uitdagings gehad het om in alle taalfunksies voort te bestaan. Talle kleiner streekstale word geanker deur groter streeksdorpe waarin daardie taal gebruik en beveilig word.
ʼn Kritiese massa gekonsentreerde sprekers is nodig vir ʼn taal se voortbestaan. Afrikaans se uitdaging is dat sy sprekers yl verspreid bly, en daar min plekke is waar Afrikaans die meerderheidstaal uitmaak. Omdat Afrikaans nie ʼn natuurlike taalgebied of taalstad het nie, is dit nodig dat daar taalinstellings en taalruimtes is waar die minderheid ʼn meerderheid kan wees. Die rede is dat die meerderheid die taal van ʼn gebied of instelling bepaal, en dat byvoorbeeld ʼn skool of universiteit waar die meerderheid mense Afrikaans is, die taal se toekoms kan beveilig.
Tegnologie is aan die een kant ʼn bedreiging vir kleiner tale, maar kan terselfdertyd ʼn belangrike hulpmiddel wees om ʼn taal te bevorder. Die Afrikaanse gemeenskap sal dus moet bybly in die tegnologiese wedloop, en daarom is dit verblydend dat kunsmatige intelligensie reeds in Afrikaans gebruik kan word.
ʼn Taal se hoër funksies soos onderwys en opleiding is baie belangrik vir voortbestaan. Daarom is die vinnige groei van ʼn universiteit soos Akademia ʼn riem onder die hart van mense wat lief is vir Afrikaans. Hier is Afrikaanse studente veilig, tuis en welkom.
Dit is verblydend dat dit nog so goed gaan met die Afrikaanse letterkunde, soos gesien kan word in die hoeveelheid Afrikaanse boeke wat gepubliseer word. Daarom moet die Afrikaanse publiek aangemoedig word om hierdie boeke te koop. Dit is ook noodsaaklik dat skole seker maak dat die top Afrikaanse letterkunde soos Van Wyk Louw se Raka aan kinders oorgedra word.
Dit is nodig dat daar gewerk word aan die hele Afrikaanse pyplyn, vanaf kleuterskole tot universiteite. Die goeie nuus is dat daar verskeie organisasies is wat hulself daarvoor beywer, te meer so omdat die ANC teen Afrikaanse skole regeer.
Hoewel die belangrikheid van ʼn universiteit reeds as deel van Afrikaans se hoër funksies genoem is, is dit nodig om dit weer te noem. Die goeie nuus is dat daar reeds ʼn hele paar instellings ontstaan het wat opleiding op universiteitsvlak aanbied.
Dit is ook nodig dat Afrikaans se informele funksies aandag kry, of dit nou by braaivleis of troues is. Die belangrikheid om ons taal aan die jonger geslag oor te dra kan nie oorbeklemtoon word nie.
Daar is ook ʼn rol vir taalaktivisme, omdat dit soms nodig is dat ʼn sterk organisasie met spierkrag en getalle standpunt teen die benadeling van Afrikaans inneem. Dink maar hoeveel hofsake oor Afrikaans AfriForum al suksesvol gemaak het.
Afrikaans geniet tans nog die momentum van die werk en beleggings van die verlede. Taalverbruik verwys onder meer na ligte musiek of populêre vermaak, en is belangrik vir Afrikaans. Terselfdertyd is dit nodig dat meer aandag aan taalproduksie gegee word, wat onder meer verwys na navorsing en die hoër funksies van Afrikaans.
Afrikaners se kulturele selfvertroue is vir dekades aangeval en ondermyn, wat die lojaliteit aan Afrikaans nadelig geraak het. Dit hang saam met die kriminalisering van Afrikaners se geskiedenis, in ʼn poging om ons “op ons plek” en onderdanig aan die ANC-regering te hou. Daarom is dit noodsaaklik dat Afrikaners se geskiedenis “genormaliseer” word, en dat ons ons verlede “terugvat” en ewewigtig aan die volgende geslagte oordra.
ʼn Taal wat net in sy informele funksies gebruik word se sprekers gaan mettertyd oorskuif na ʼn wêreldtaal met meer funksies en ʼn hoër status. Daarom is dit nodig dat platforms geskep word vir die hoogste vorme van kulturele selfverwesenliking, of dit nou die Afrikaanse filosofie, kuns en letterkunde, drama en teater, of wetenskap en die akademie is. Dit is ook nodig dat daar genoeg kulturele energie oftewel kulturele “kapitaal” moet wees om steeds groot prestasies in Afrikaans moontlik te maak. Spesiale aandag moet aan geleenthede vir Afrikaanse denkers en skrywers gegee word, omdat hulle ʼn bepalende rol in ʼn taal se toekoms speel.
Taalmedia speel ʼn onmisbare rol in die voortbestaan en florering van ʼn taal, veral omdat dit as taalvermenigvuldiger dien. Dis noodsaaklik dat daar gratis gehalte Afrikaanse inligting op die internet beskikbaar is, soos Maroela Media, anders begin mense net die Engelse media lees. Afrikaanse radio en ander Afrikaanse media is net so belangrik. WEET, die nuwe Afrikaanse kinderensiklopedie, en die Afrikaanse Wikipedia is ook kernbelangrik vir Afrikaans.
Dis belangrik dat daar ondernemers is wat nie net vir hulleself besighede begin nie, maar hulle ondernemingsgees gebruik om Afrikaanse gemeenskapsinstellings op te rig. Dit geld vir die hele spektrum van instellings soos skole, kunstefeeste, Afrikaanse media en ander kulturele instellings, groot en klein.
ʼn Taal moet ʼn ekonomiese waarde hê. Daarom moet Afrikaans in die ekonomie bevorder word, en nuwe tegnologie kan hier goed gebruik word. Dit is merkwaardig hoeveel Afrikaanse ondernemings die afgelope jare ontstaan het, vanaf LekkeSlaap, Virseker tot Boerboel en De Afrikander Handelshuis.
Die kunste, soos drama en teater, blyspele, musiek en ander kunsvorme moet deur die Afrikaanse publiek ondersteun word. Kinders en jongmense moet ook daaraan blootgestel word, omdat ʼn liefde van kleins as gekweek moet word.
Die wêreld ontwikkel geweldig vinnig, en Afrikaans moet bybly met woordeskat en vakterme. Daarom is dit belangrik dat instellings soos die SA Akademie, Akademia, en VivA ondersteun moet word sodat Afrikaans voortdurend verder kan ontwikkel.
ʼn Kleiner taal kan nie net sy toekoms aan die toeval of ʼn regering oorlaat nie. Daar moet doelbewus taalbeplanning gedoen word deur alle instellings wat ʼn belang by die voortbestaan van Afrikaans het.
Ten slotte
Die toekoms behoort nie aan die doemprofete nie, maar aan die “doenprofete” wat planne maak en dan skouer aan die wiel sit om dit uit te voer. Afrikaans het ʼn blink toekoms voor as daar genoeg mense met ʼn taalwil is wat die hand aan die ploeg slaan om ʼn toekoms vir ons taal en sy sprekers te verseker.
Hoewel die Solidariteit Beweging, AfriForum en Solidariteit in die beginsel van gesprekvoering en dialoog glo, is dit duidelik dat die sogenaamde Nasionale Dialoog deur die ANC gekaap is. Daarom sal dié organisasies nie Vrydag aan die eerste konferensie van die Nasionale Dialoog deelneem nie. Die instellings ondersteun ook organisasies soos die Thabo Mbeki-stigting, wat dieselfde besluit geneem het.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is nasionale gesprekke om oplossings vir die land se knellende krisisse te vind noodsaaklik, maar alles dui daarop dat die Nasionale Dialoog op hierdie stadium net op nóg nuttelose gesprekke, in plaas van aksie, gaan uitloop.
“Die rede hiervoor is dat dit blyk dat die ANC die beoogde Nasionale Dialoog wil kaap om verlore steun te probeer terugwen, eerder as om antwoorde vir die krisisse te vind,” sê Buys.
“Daarom steun die Solidariteit Beweging die onderskeie stigtings wat besluit het om nie Vrydag die Dialoog by te woon nie, en sal ons ook nie daar wees nie. Daar is nie sin daarin om die party wat vir die verval in die land verantwoordelik is, in beheer van ʼn Nasionale Dialoog te plaas nie.”
Buys sê die ANC hamer nou op die noodsaaklikheid van deelname aan die Nasionale Dialoog, terwyl die party oor die afgelope dekades nie bereid was om in goeie trou met ander belanghebbendes te praat en na hul voorstelle te luister nie.
“Die ervaring is dat die ANC eerder ʼn ANC-monoloog voer as om aan nasionale dialoë deel te neem. Die ANC het alle vorige gesprekke oorheers en dit bloot as forums gebruik om hul beleid te probeer verkoop, eerder as forums waar hulle kon luister na voorstelle oor hoe om hul onwerkbare beleid aan te pas. Daarby is die ondervinding dat ooreenkomste wat wel bereik is, kort daarna deur die ANC verbreek is, om maar net weer alleen in hul sosialistiese doodloopstraat voort te strompel en die land saam te sleep.”
Buys sê die Solidariteit Beweging sal daarom ʼn wag-en-kyk-benadering, ten opsigte van die Nasionale Dialoog, inneem.
“Ons is te besig met werk om die gevolge van mislukte ANC-beleide te probeer aanpak en het nie tyd om vir weke en maande lank na hul uitgediende blaampolitiek en ʼn herhaling van verbeeldinglose idees te luister nie.
“Ons ondervinding is dat ‘gemeenskapsdialoë’ meer vrugte kan oplewer as ʼn staatsdialoog, en dat gesprekke tussen gemeenskappe meer praktiese resultate voortbring. Daarom beplan ons om, in samewerking met ander kultuurgemeenskappe, ʼn standpunt oor die land se knellende vraagstukke by die Nasionale Dialoog in te dien, maar ons gaan nie Vrydag deelneem nie.”
Die ANC het intussen nog geen aanduidings gegee dat hulle oor mislukte beleidsrigtings gaan herbesin nie. Die beste aanduidings is dat hulle sedert die totstandkoming van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) nog steeds voortgaan asof hulle alleen regeer, en dat hulle eerder die land die teiken van Amerikaanse sanksies sal maak as om beleidsaanspassings in belang van die land te maak.
“Die land het nuwe en vars idees nodig omdat die ou ANC-idees misluk het, en dit sal geensins van enige nut wees om hierdie idees net weer te laat hersirkuleer nie. Miljoene mense het nou al lank genoeg onder die ANC se leierskap gely,” sê Buys.
Mense wil oor ʼn ander soort bedeling praat
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die Nasionale Dialoog het ʼn staatsdialoog geword omdat die regering nie werklik aan ʼn oop dialoog wil deelneem nie, maar hul eie agenda najaag.
“Mense praat in werkplekke, om die braaivleisvuur, by sportbyeenkomste en kerke oor ʼn versugting na ʼn ander bedeling. Die staat hoor dit en wil daardie spontane gemeenskapsdialoog kaap.
“Daar is in die Uniegebou deur die president daaraan geboorte gegee. Die oomblik toe dit gebeur het, is die Nasionale Dialoog doodgebore.”
Volgens Hermann het die behoefte aan dialoog juis uit die gemeenskap gekom.
“Van die stigtings was sentraal daartoe. Dit is juis as gevolg van ʼn diep breuk met die regering dat mense oor ʼn ander soort bedeling wil praat. Die regering voel bedreig deur dié soort dialoog en het besluit om die dialoog te kaap,” sê Hermann.
Hy benadruk dat die instellings se nie-deelname aan die Nasionale Dialoog nie teen dialoog is nie, maar vir dialoog.
“Die stem van mense kan nie stilgemaak word deur dit te probeer reguleer nie. Solidariteit en die groter Solidariteit Beweging praat graag. Ons gaan met vakbonde, stigtings, kultuurgemeenskappe en ander burgerlike organisasies praat.
“Ons gaan oor die frustrasie van die groter gemeenskap met die ANC-geleide regering praat, en ons praat gaan nie gekaap word nie. Ons sal deelneem aan gemeenskapdialoog, maar nie staatsdialoog nie,” sê Hermann.
ANC kan nie met proses vertrou word nie
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die krisis waarin die land nou is, is weens die ANC se mislukte beleidsrigtings, wanbestuur en korrupsie.
“Hulle is die oorsaak van die probleme en daarom kan hulle nie vertrou word om die proses te lei om oplossings te vind nie.”
Kriel benadruk dat president Cyril Ramaphosa en sy ANC-geleide regering se kaping van die voorbereidings van die Nasionale Dialoog tot gevolg het dat dié dialoog nou in ʼn regeringsgedrewe nasionale monoloog ontaard het.
Kriel sê voorts dat die presidensie se ignorering van die onderskeie stigtings van voormalige leiers se geregverdigde kommer oor die staat se kaping van die gesprek,ʼn aanduiding is dat daar geen belangstelling in werklike dialoog is nie, maar dat die voorgenome gesprek bloot as ʼn platform moet dien om die president en die ANC se politieke agenda te dien.
“Indien die presidensie nie ernstig oor die noodsaak van werklike dialoog met gemeenskappe is nie, beteken dit nie dat AfriForum en die Solidariteit Beweging ook nie ernstig daaroor is nie.
“Ons is juis ernstig oor dialoog en daarom het AfriForum sy bestaande program om ooreenkomste met talle kultuurgemeenskappe te sluit, versnel. Hierdie poging het reeds tot sinvolle dialoog tussen gemeenskappe gelei, wat praktiese landbou- en ander projekte op grondvlak tot stand gebring het.”
Volgens Kriel is dit noodsaaklik om te praat om oplossings te vind. AfriForum beklemtoon dus dat die Nasionale Dialoog van ʼn staatsgedrewe proses na ’n burgergedrewe proses moet skuif.
“Ons gaan intussen volstoom voort met gesprekke met ander kultuurgemeenskappe vir werklike dialoog, maar ook vir gesamentlike projekte.”
Buys sê voorts dat dit dringend noodsaaklik is dat opregte gesprekke oor nasionale vraagstukke plaasvind, en dat dit uitloop op ooreenkomste en die noodsaaklike hervormings wat nodig is om ʼn glybaan na ʼn Zimbawe-scenario te verhoed.
“Die ANC is vir die meeste krisisse verantwoordelik en kan dit nie alleen oplos nie. Daarom is ons bereid om in landsbelang saam te praat oor oplossings, maar dan moet dit nie ʼn ANC-geleide proses wees wat maar net weer in ʼn doodloopstraat sal beland nie. Ons kinders verdien beter,” sluit Buys af.
Politieke oorwegings weeg swaarder as ekonomiese faktore wanneer dit by die VSA-tariewe kom. Senior ANC-leiers soos Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, en Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumbronne, hou aan om die VSA te beledig in plaas daarvan om diplomatieke verhoudinge te bou.
Dít ten spyte van VSA-leiers wat gewaarsku het “you’re not going to insult America for free”.
Hul openlike politieke weersin in die VSA-regering ondermyn die Suid-Afrikaanse ekonomie en veroorsaak nóg groter werkloosheid. Hul pogings om die ANC se politieke probleme op te los, gaan tot ekonomiese krisisse lei wat meestal hul kiesers gaan raak.
Terselfdertyd weier die ANC om die VSA se aandrang op noodsaaklike politieke hervormings ernstig op te neem en hanteer dit bloot as ʼn ekonomiese kwessie.
Die ANC is klaarblyklik vasgevang in die Koue Oorlog-era. Hulle bly klou aan die destydse anti-Westerse politieke beleide en alliansies, ten spyte van die ekonomiese krisis wat hulle veroorsaak.
Hul benepe rassebeleid gaan veel meer oor hul historiese anti-Westerse houding as oor regstelling. Hul vyandigheid strek tot die geboelie van wit burgers van Suid-Afrika as deel van hul diepgewortelde weersin in die Weste.
Die ANC probeer vergeefs om die winde van verandering te weerstaan en dink hulle is steeds die liefling van die wêreld. Daarom soek hulle aanhoudend en onnodig skoor met ʼn supermoondheid. Hierdie benadering gaan nog ernstige gevolge hê, en hulle gaan skoppend en skreeuend die toekoms ingesleep word.
Die ANC sal nog leer: Die verlede gaan nie terugkom nie, die hede gaan nie weggaan nie, en die toekoms gaan nie vanself regkom nie.
Die Solidariteit Beweging glo dat nasionale gesprekke om oplossings vir die land se knellende krisisse te kry, noodsaaklik is, maar dit lyk asof die Nasionale Dialoog net op nóg nuttelose gesprekke in plaas van aksie gaan uitloop. Die rede hiervoor is dat dit blyk dat die ANC die beoogde Nasionale Dialoog wil kaap om verlore steun te probeer terugwen, eerder as om antwoorde vir die krisisse te vind.
Die ANC gee nou hoog op oor die noodsaak van deelname aan die Nasionale Dialoog, maar was oor die afgelope dekades nie bereid om in goeie trou met ander belanghebbendes te praat en na hulle voorstelle te luister nie. Die ervaring is dat die ANC eerder ’n ANC-monoloog voer as om aan nasionale dialoë deel te neem.
Die ANC het alle vorige gesprekke oorheers en dit bloot as forums gebruik om hul beleid te probeer verkoop, eerder as forums waar hulle kon luister na voorstelle oor hoe om hul onwerkbare beleid aan te pas.
Daarby is die ondervinding dat ooreenkomste wat wel bereik is, kort daarna deur die ANC verbreek is, om maar net weer alleen in hul sosialistiese doodloopstraat voort te strompel en die land saam te sleep.
Daarom sal die Solidariteit Beweging ’n wag-en-kyk-benadering ten opsigte van die Nasionale Dialoog inneem. Ons is te besig met werk om die gevolge van mislukte ANC-beleid te probeer aanpak, en het nie tyd om vir weke en maande lank na hul uitgediende blaampolitiek en ’n herhaling van verbeeldinglose idees te luister nie.
Ons ondervinding is dat “gemeenskapsdialoë” meer vrugte oplewer as ’n staatsdialoog, en dat gesprekke tussen gemeenskappe meer praktiese resultate voortbring.
Daarom beplan ons om in samewerking met ander kultuurgemeenskappe ’n standpunt oor die land se knellende vraagstukke by die Nasionale Dialoog in te dien, en aanvanklik slegs ’n waarnemer na die Dialoog te stuur voordat ons oor deelname sal besluit.
Die ANC het nog geen aanduiding gegee dat hulle oor mislukte beleidsrigtings gaan herbesin nie. Die beste aanduidings is dat hulle sedert die totstandkoming van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) nog steeds voortgaan asof hulle alleen regeer, en dat hulle eerder die land die teiken van Amerikaanse sanksies sal maak as om in landsbelang beleidsaanspassings te maak. Die land het nuwe en vars idees nodig omdat die ou ANC-idees misluk het en dit geensins van enige nut sal wees om hierdie idees net weer te laat hersirkuleer nie. Miljoene mense het nou al lank genoeg onder die ANC se leierskap gely.