Hierdie jaar is ʼn groot jaar vir Afrikaans. Dis nie net die honderdste herdenking van Afrikaans as amptelike taal nie, maar ook die 150ste herdenking van die stigting van die GRA, oftewel die Genootskap van Regte Afrikaners. Die amptelike erkenning van Afrikaans is voorafgegaan en moontlik gemaak deur die GRA en skrywers en digters soos CJ Langenhoven, Totius en Eugene Marais.
Die groot vraag is nou wat is die toekoms van Afrikaans? Doemprofete meen die einde van Afrikaans as hoëfunksietaal het aangebreek, gegewe die regering se strewe om ons taal uit die openbare lewe te druk. Teenoor die doemprofete staan die “doenprofete”, wat ook die gevare sien, maar wat besluit het om iets daaraan te dóén.
Niemand is bang dat Afrikaans as informele taal uit ons huise en kombuise sal verdwyn nie, maar die groot vraag is wat gedoen kan word om te verseker dat Afrikaans ʼn volle funksionele taal bly. ʼn Taal wat nie in al sy funksies gebruik kan word nie, is geneig om deur ʼn proses van taalverskuiwing na ʼn wêreldtaal uiteindelik bedreig te word en selfs kan verdwyn. Daarom is dit nodig om ʼn oorsig te skets van die faktore wat inspeel op enige taal se oorlewing, en in die proses seker te maak dat Afrikaans se toekoms veilig is.
- Kultuur
Die eerste en belangrikste bepaler van ʼn taal se toekoms, is die welstand van die kultuur of kulture wat die taal gebruik. Indien die bestaansvoorwaardes vir Afrikaners en ʼn kritiese massa ander Afrikaanssprekendes verval om in Suid-Afrika te bly, kan die taal nie oorleef as sy sprekers wegtrek of wegkwyn nie. Daarom behoort die begin van ʼn taalstrategie te wees om die voorwaardes te skep wat nodig is vir die kultuur om voort te bestaan. Die Romeine se taal, Latyn, kon uiteindelik nie die val van die Romeinse Ryk oorleef nie, behalwe in akademiese kringe waar Latynse terme nog gebruik word, soos in die regswese.
- Taalwil
Die tweede bestaansvoorwaarde vir Afrikaans is die wíl van haar sprekers om hulle taal nie net te laat oorleef nie, maar te laat floreer. Die wil om Afrikaans te laat voortbestaan deur mense wat die bedreigings raaksien, ʼn plan vir die oorlewing en florering van Afrikaans kan maak, en wat genoeg mense kan begeester om die plan uit te voer is bepalend vir ʼn taal se toekoms. Daar word gesê ʼn Boer maak ʼn plan. Gelukkig bestaan daar oortuigende tekens dat die wil onder ʼn groot deel van die sprekers wel daar is om Afrikaans se voortbestaan te verseker.
- Taalinstellings
ʼn Taal- of kultuurgemeenskap leef ín en deur instellings op elke belangrike gebied. ʼn Taal het onder meer skole, kolleges, universiteite, media, kultuurorganisasies, jeugbewegings, partye, vakbonde, maatskappye, ouetehuise en beroepsverenigings nodig om te kan voortbestaan.
- Taalgebied
Die Frans-Kanadese taalkundige, Jean Laponce, meen dat ʼn taal ʼn eie gebied of gebiede nodig het waar sy die meerderheid is en nie daar met ʼn wêreldtaal hoef mee te ding nie. Frans sal nie in Kanada as ʼn betekenisvolle taal voortbestaan sonder Quebec nie, en Vlaams sal heel waarskynlik verdwyn as Vlaandere sou ophou bestaan.
- Taalstad
ʼn Mens kan moeilik jouself ʼn betekenisvolle taal indink sonder ʼn stad of stede wat die taal anker en wat vol taalinstellings is wat die taal in al sy funksies gebruik. Was dit nie vir Londen, Parys of Berlyn nie, sou Engels, Frans of Duits groot uitdagings gehad het om in alle taalfunksies voort te bestaan. Talle kleiner streekstale word geanker deur groter streeksdorpe waarin daardie taal gebruik en beveilig word.
- Demografie
ʼn Kritiese massa gekonsentreerde sprekers is nodig vir ʼn taal se voortbestaan. Afrikaans se uitdaging is dat sy sprekers yl verspreid bly, en daar min plekke is waar Afrikaans die meerderheidstaal uitmaak. Omdat Afrikaans nie ʼn natuurlike taalgebied of taalstad het nie, is dit nodig dat daar taalinstellings en taalruimtes is waar die minderheid ʼn meerderheid kan wees. Die rede is dat die meerderheid die taal van ʼn gebied of instelling bepaal, en dat byvoorbeeld ʼn skool of universiteit waar die meerderheid mense Afrikaans is, die taal se toekoms kan beveilig.
- Tegnologie
Tegnologie is aan die een kant ʼn bedreiging vir kleiner tale, maar kan terselfdertyd ʼn belangrike hulpmiddel wees om ʼn taal te bevorder. Die Afrikaanse gemeenskap sal dus moet bybly in die tegnologiese wedloop, en daarom is dit verblydend dat kunsmatige intelligensie reeds in Afrikaans gebruik kan word.
- Hoër funksies
ʼn Taal se hoër funksies soos onderwys en opleiding is baie belangrik vir voortbestaan. Daarom is die vinnige groei van ʼn universiteit soos Akademia ʼn riem onder die hart van mense wat lief is vir Afrikaans. Hier is Afrikaanse studente veilig, tuis en welkom.
- Letterkunde
Dit is verblydend dat dit nog so goed gaan met die Afrikaanse letterkunde, soos gesien kan word in die hoeveelheid Afrikaanse boeke wat gepubliseer word. Daarom moet die Afrikaanse publiek aangemoedig word om hierdie boeke te koop. Dit is ook noodsaaklik dat skole seker maak dat die top Afrikaanse letterkunde soos Van Wyk Louw se Raka aan kinders oorgedra word.
- Onderwys-pyplyn
Dit is nodig dat daar gewerk word aan die hele Afrikaanse pyplyn, vanaf kleuterskole tot universiteite. Die goeie nuus is dat daar verskeie organisasies is wat hulself daarvoor beywer, te meer so omdat die ANC teen Afrikaanse skole regeer.
- Universiteit
Hoewel die belangrikheid van ʼn universiteit reeds as deel van Afrikaans se hoër funksies genoem is, is dit nodig om dit weer te noem. Die goeie nuus is dat daar reeds ʼn hele paar instellings ontstaan het wat opleiding op universiteitsvlak aanbied.
- Laer informele funksies
Dit is ook nodig dat Afrikaans se informele funksies aandag kry, of dit nou by braaivleis of troues is. Die belangrikheid om ons taal aan die jonger geslag oor te dra kan nie oorbeklemtoon word nie.
- Taalaktivisme
Daar is ook ʼn rol vir taalaktivisme, omdat dit soms nodig is dat ʼn sterk organisasie met spierkrag en getalle standpunt teen die benadeling van Afrikaans inneem. Dink maar hoeveel hofsake oor Afrikaans AfriForum al suksesvol gemaak het.
- Taalproduksie en -verbruik
Afrikaans geniet tans nog die momentum van die werk en beleggings van die verlede. Taalverbruik verwys onder meer na ligte musiek of populêre vermaak, en is belangrik vir Afrikaans. Terselfdertyd is dit nodig dat meer aandag aan taalproduksie gegee word, wat onder meer verwys na navorsing en die hoër funksies van Afrikaans.
- Kulturele selfvertroue
Afrikaners se kulturele selfvertroue is vir dekades aangeval en ondermyn, wat die lojaliteit aan Afrikaans nadelig geraak het. Dit hang saam met die kriminalisering van Afrikaners se geskiedenis, in ʼn poging om ons “op ons plek” en onderdanig aan die ANC-regering te hou. Daarom is dit noodsaaklik dat Afrikaners se geskiedenis “genormaliseer” word, en dat ons ons verlede “terugvat” en ewewigtig aan die volgende geslagte oordra.
- Kulturele selfverwesenliking
ʼn Taal wat net in sy informele funksies gebruik word se sprekers gaan mettertyd oorskuif na ʼn wêreldtaal met meer funksies en ʼn hoër status. Daarom is dit nodig dat platforms geskep word vir die hoogste vorme van kulturele selfverwesenliking, of dit nou die Afrikaanse filosofie, kuns en letterkunde, drama en teater, of wetenskap en die akademie is. Dit is ook nodig dat daar genoeg kulturele energie oftewel kulturele “kapitaal” moet wees om steeds groot prestasies in Afrikaans moontlik te maak. Spesiale aandag moet aan geleenthede vir Afrikaanse denkers en skrywers gegee word, omdat hulle ʼn bepalende rol in ʼn taal se toekoms speel.
- Taalmedia
Taalmedia speel ʼn onmisbare rol in die voortbestaan en florering van ʼn taal, veral omdat dit as taalvermenigvuldiger dien. Dis noodsaaklik dat daar gratis gehalte Afrikaanse inligting op die internet beskikbaar is, soos Maroela Media, anders begin mense net die Engelse media lees. Afrikaanse radio en ander Afrikaanse media is net so belangrik. WEET, die nuwe Afrikaanse kinderensiklopedie, en die Afrikaanse Wikipedia is ook kernbelangrik vir Afrikaans.
- Kulturele ondernemingsgees
Dis belangrik dat daar ondernemers is wat nie net vir hulleself besighede begin nie, maar hulle ondernemingsgees gebruik om Afrikaanse gemeenskapsinstellings op te rig. Dit geld vir die hele spektrum van instellings soos skole, kunstefeeste, Afrikaanse media en ander kulturele instellings, groot en klein.
- Taalekonomie
ʼn Taal moet ʼn ekonomiese waarde hê. Daarom moet Afrikaans in die ekonomie bevorder word, en nuwe tegnologie kan hier goed gebruik word. Dit is merkwaardig hoeveel Afrikaanse ondernemings die afgelope jare ontstaan het, vanaf LekkeSlaap, Virseker tot Boerboel en De Afrikander Handelshuis.
- Kuns en kultuur
Die kunste, soos drama en teater, blyspele, musiek en ander kunsvorme moet deur die Afrikaanse publiek ondersteun word. Kinders en jongmense moet ook daaraan blootgestel word, omdat ʼn liefde van kleins as gekweek moet word.
- Taalontwikkeling
Die wêreld ontwikkel geweldig vinnig, en Afrikaans moet bybly met woordeskat en vakterme. Daarom is dit belangrik dat instellings soos die SA Akademie, Akademia, en VivA ondersteun moet word sodat Afrikaans voortdurend verder kan ontwikkel.
- Taalbeplanning
ʼn Kleiner taal kan nie net sy toekoms aan die toeval of ʼn regering oorlaat nie. Daar moet doelbewus taalbeplanning gedoen word deur alle instellings wat ʼn belang by die voortbestaan van Afrikaans het.
Ten slotte
Die toekoms behoort nie aan die doemprofete nie, maar aan die “doenprofete” wat planne maak en dan skouer aan die wiel sit om dit uit te voer. Afrikaans het ʼn blink toekoms voor as daar genoeg mense met ʼn taalwil is wat die hand aan die ploeg slaan om ʼn toekoms vir ons taal en sy sprekers te verseker.