Daar is ‘n nuwe regering op die dorp

Maroela Media

16 Januarie 2024

Kallie Kriel

 

Suid-Afrika het nie net ‘n regeringsprobleem nie. Dit het ook ‘n diepliggende bedelingsprobleem. Die lofsange wat die land se Grondwet en nuwe bedeling in die verlede toegesing is ten spyt, bly die werklikheid dat die huidige sentralistiese bedeling nie aan die bedoelings aan sommige destyds gemeet moet word nie, maar eerder aan die uitkomste daarvan.

Lees die volledige artikel in Maroela Media hier.

Solidariteit Beweging verwelkom kritiek in Amerikaanse kongres oor rigting van ANC-regering

Die Solidariteit Beweging het ’n reeks skerp uitsprake gister deur die voorsitter van die Afrika-subkomitee in die Amerikaanse kongres in Washington DC, verwelkom. John James, ’n swart Republikein van Michigan, het tydens ’n openbare verhoor oor die verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA gesê dat Suid-Afrika onder die ANC-regering in ’n slegte spiraal van korrupsie, staatskaping en toenemende regeringsafhanklikheid verval het en dat daar van die waardes wat in die 1990’s deur die ANC-regering voorgehou is, wegbeweeg is.

Die Solidariteit Beweging het verlede week tydens ’n besoek aan Washington verskeie dokumente aan James se beleidshoof oorhandig. Dit sluit in dokumente oor staatskaping, die voorgenome onteiening sonder vergoeding, sentralisering van mag, asook misdaadsyfers, insluitende dié van plaasmoorde. Volgens Werner Human, operasionele hoof van die Beweging, is verskeie van die Beweging se argumente tydens gister se verhore deur James en sy mede-kongreslede gebruik. “Dit is vir ons duidelik dat ’n baie sterk stem teen die ANC se misbruik van mag in die Amerikaanse kongres na vore tree. Ons verwelkom dit.”

Die Solidariteit Beweging is tans op ’n uitgebreide besoek aan die VSA waartydens inligting oor gebeure in Suid-Afrika aan beleidsmakers beskikbaar gestel word, asook konkrete voorstelle oor wat die VSA kan doen om die oppergesag van die reg in Suid-Afrika te help beskerm, en wat gedoen kan word om Suid-Afrika se toenemende sentralistiese en anti-Westerse beleidsrigtings te help stuit. Volgens Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, is daar die afgelope maande voortdurend met lede van die Amerikaanse kongres, sowel as politici in verskeie Amerikaanse deelstate, hieroor geskakel.

“Ons verwag dat die druk op die ANC-regering oor die volgende maande wesenlik gaan toeneem. Terwyl gister se verhoor in Washington ʼn voorsmakie daarvan gebied het, verwag ons ook dat politici in verskeie deelstate binnekort sterk standpunt gaan inneem teen die sentralisasie van mag deur die ANC, nuwe diskriminasie teen minderhede in Suid-Afrika, die voortdurende staatskaping en korrupsie deur die ANC, die EFF en sommige ANC-politici se rassistiese retoriek asook teen die regering se beleid wat pro-China en pro-Rusland is en wat toenemend ook ʼn anti-Westerse kleurtjie kry.”

James was veral krities oor die ANC se beplande wetgewing oor onteiening sonder vergoeding en die agteruitgang van demokrasie in Suid-Afrika. “Geen land ter wêreld het demokraties gebly nadat weggedoen is met die bevolking se regte op privaat eiendom nie en ek bly bekommerd oor die ANC se wegdrywing van demokrasie en konstitusionele heerskappy, veral in die lig van die Verkiesingswysigingswet wat in April bekragtig is – wetgewing wat die fundamentele demokratiese beginsel van proporsionele verteenwoordiging ondermyn.”

Volgens Human het die Solidariteit Beweging verlede week sowel die voorgestelde wysiging van artikel 25 van die Grondwet, die sogenaamde eiendomsklousule, as die Onteieningswetsontwerp aan James se beleidshoof oorhandig. “Suid-Afrika, as ʼn veronderstelde grondwetlike demokrasie, het privaat eiendomsreg in 1996 in die Grondwet verskans, met ʼn noodsaaklike klousule wat bepaal dat geen eiendom sonder vergoeding onteien mag word nie. Die ANC is nou vasbeslote om dit te verander, en die roete van Venezuela en andere te volg om die demokratiese imperatief van eiendomsreg omver te werp. Die wetsontwerp oor die grondwetwysiging is hierby aangeheg. Ná ʼn eerste ronde van openbare verhore en insette het die proses tot ʼn stilstand gekom. Die kwessie kan egter op enige tydstip weer opvlam,” aldus Human.

Volgens Kleynhans beplan die Solidariteit Beweging om Suid-Afrika se beleidsrigting oor die volgende paar maande deur omvattende druk uit die VSA in die regte rigting te help stuur. “Ons het vandag weer ʼn beroep op politici gedoen om nie gewone mense in Suid-Afrika deur strenger handelsbeperkings en soortgelyke maatreëls te straf nie, maar om die ANC se korrupsie, wanbestuur, diskriminasie en ideologies-gedrewe buitelandse beleid feller te kritiseer en die ANC-regering verder te isoleer. Ons werk ook aan ʼn omvattende plan om steun in die VSA vir die burgerlike samelewing in Suid-Afrika te werf. Gister se verhoor in Washington help om momentum hiervoor te skep.”

Lees kongreslid John James se volledige toespraak hier:
https://cms.solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2023/09/Congressman-John-JAMES_Opening-Statement_Subcommittee-on-Africa-27.09.2023.pdf

Jaco Kleynhans
Hoof: Internasionale Skakeling
Solidariteit Beweging

Werner Human
Operasionale Hoof
Solidariteit Beweging

Solidariteit Beweging vra VSA Kongres: behou SA in AGOA; neem standpunt in teen regering

’n Afvaardiging van die Solidariteit Beweging het gister en vandag in die Amerikaanse hoofstad, Washington DC, samesprekings gevoer met verteenwoordigers van die Buitelandse Sake-komitees van die Amerikaanse Senaat en Huis van Verteenwoordigers. Die Beweging het ’n versoek aan Amerikaanse politici gerig om Suid-Afrika se voortgesette deelname aan AGOA te steun, terwyl die komitee ook versoek is om sterker standpunt in te neem teen die ANC-regering se toenemende vriendskappe met outoritêre lande soos Rusland, China en Iran, asook teen staatskaping, korrupsie, misdaad, die verval van infrastruktuur en diskrimininasie teen minderhede in Suid-Afrika.

Volgens Jaco Kleynhans, hoof van Internasionale Skakeling by die Solidariteit Beweging, is daar tans in die Amerikaanse Kongres ’n nuwe belangstelling in die internasionale rol wat Suid-Afrika speel. “Dit is duidelik dat gebeure sedert die uitbreek van die oorlog in Oekraïne ernstige vrae in Washington DC laat ontstaan het oor Suid-Afrika se erns met sy onverbonde internasionale posisie. Die onlangse Brics-beraad is ook in Washington dopgehou omdat dit duidelik is dat China die septer binne Brics swaai en dat Suid-Afrika gemaklik daarmee saamgaan dat Brics vanaf volgende jaar deur outoritêre state gedomineer sal word. Ons boodskap aan Amerikaanse politici is egter om nie hoop op te gee met Suid-Afrika nie. Daar is tans ’n groot verval van demokrasie in verskeie Afrika-streke. Suid-Afrika bly steeds ’n demokratiese land en die VSA kan deur sy invloed ’n belangrike rol speel om dit in stand te hou.”

Die Solidariteit Beweging besoek oor die volgende drie weke meer as tien Amerikaanse deelstate en sal met politici op federale vlak en in verskeie deelstate vergader. “Ons wil verseker dat ons lede se belange beskerm word. Daarvoor is dit noodsaaklik dat Suid-Afrika die volgehoue voordeel van die AGOA-ooreenkoms moet geniet. In onder andere die landbou-, mynbou- en motorvervaardigingsbedryf en al die sekondêre bedrywe wat voordeel uit groei in hierdie bedrywe geniet, het ons ’n sterk mandaat van ons lede om alles moontlik te doen om Suid-Afrika se posisie binne AGOA te beskerm. Ons vra die Amerikaners egter nie net om Suid-Afrika binne AGOA te hou nie; ons vra ook dat dit gepaard moet gaan met skerper kritiek en druk op die SA regering. Dit is belangrik dat Amerikaanse politici standpunt inneem oor Suid-Afrika se buitelandse beleid en ook oor gebeure in Suid-Afrika.”

Die Solidariteit Beweging se huidige besoek aan die VSA het ten doel om Amerikaanse beleid jeens Suid-Afrika direk te beïnvloed. Volgens Kleynhans sal hulle ook gesprekke met politici van die Huis van Verteenwoordigers en beamptes in die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake voer. “Ons ontmoet ook met verskeie drukgroepe en Amerikaanse media om gebeure in Suid-Afrika te bespreek. Ons boodskap is nie net negatief nie. Ons boodskap is juis dat in ’n tyd waar die Afrika-kontinent tans groot onstabiliteit ervaar met militêre staatsgrepe, outokratiese regerings wat alles doen om hulle mag te behou, en groeiende interne konflik in tientalle Afrika-lande, Suid-Afrika steeds ’n bakermat van demokrasie en ’n vryemarkekonomie in Afrika kan wees. Om dit te verseker is politieke verandering in Suid-Afrika egter nodig en daarom moet die buiteland, insluitende die VSA, die burgerlike samelewing, die privaat sektor en instellings wat politieke verandering in Suid-Afrika bevorder, ondersteun.”

Ons versoek die Amerikaanse regering onder andere om die volgende te doen:

1. Verhoog die druk op die ANC-regering, veral in die lig van die gevaarlike belyning  met lande soos China en Rusland en die risiko’s wat dit vir alle Suid-Afrikaners inhou.
2. Dit is ook nodig om openbare uitsprake te maak teen staatskaping, korrupsie, misdaad, die miskenning van minderheidsregte, die sentralisering van mag binne die ANC en nuwe rassisme soos vervat in uitsprake dat boere vermoor moet word. Dit is dus belangrik dat Amerikaanse leiers en instellings hulle sterk moet uitspreek oor wat in Suid-Afrika gebeur.
3. Handhaaf sterk ekonomiese bande met Suid-Afrika omdat sulke bande die private sektor en die burgerlike samelewing wat krities teenoor die ANC is, versterk. Dit sluit die behoud en uitbreiding van AGOA en voortgesette belegging in die private ekonomie in Suid-Afrika in.
4. Ondersteun burgerlike organisasies en die politieke opposisie deur morele, finansiële en ander ondersteuning. Skep ’n platform in die VSA om hierdie organisasies en leiers toegang te gee tot hulpbronne en ruimtes om die gesprek oor Suid-Afrika te bevorder – ook in die VSA.
5. Gebruik internasionale multilaterale organisasies om druk op die ANC-regering uit te oefen. Dit sluit reeds bestaande prosesse by die Verenigde Nasies in.

Die Solidariteit Beweging sal ook oor die volgende paar dae met politici in deelstate soos Texas, Michigan, Virginia en Suid-Carolina ontmoet om handel en ander vorms van samewerking te bespreek.

Jaco Kleynhans
Hoof: Internasionale Skakeling
Solidariteit Beweging

Werner Human
Operasionale Hoof
Solidariteit Beweging

Kallie Kriel oor Buthelezi: Maklik om klippe te gooi na een wat dood is

Die redakteur van City Press, Mondli Makhanya, se striemende aanval op prins Mangosuthu Buthelezi verlede week op hierdie blaaie is misleidend en onbillik.

Dit is jammer dat hy dit skryf oor ’n man wat nie meer hier is om homself te verdedig nie.

Makhanya se wanvoorstelling van Buthelezi se rol tydens die politieke oorgang is bloot ’n voortsetting van die ANC se destydse propagandastrategie om Inkatha te diskrediteer.

Dr. Anthea Jeffery se gesaghebbende navorsing, soos vervat in haar boek People’s War, asook die dokumentêr Tainted Heroes, wat gratis gestroom kan op word afriforumtv.co.za, sit hierdie strategie van die ANC duidelik uiteen. ’n ANC-afvaardiging het Viëtnam in 1978 besoek met die uitsluitlike doel om hulself te vergewis van die strategie wat tydens die kommunistiese “volksoorlog”daar gebruik is deur die revolusionêre groepering om hul opponente te vernietig. Die ANC het hierdie strategie met Sowjet-wapens en -finansiering gebruik om op plaaslike bodem Inkatha, Azapo en die PAC met geweld te probeer verswak sodat die ANC uiteindelik die toneel kon oorheers tydens die onderhandelings vir ’n politieke oorgang.

In die ANC se strewe om ook mag oor gemeenskappe te verkry, het hierdie strategie om geweld te gebruik selfs gelei tot wreedaardige halssnoermoorde op gewone swart mense.

Buthelezi verdien krediet dat hy hom om gewetensredes nie wou skaar by die Sowjet-gesteunde gewapende stryd nie en dat hy gekies het om apartheid op ’n niegewelddadige wyse teen te staan. Makhanya en ander sal Buthelezi waarskynlik nooit vergewe dat hy geweier het dat Inkatha aan die ANC se terreuraanvalle op burgerlikes meedoen nie. Om gegewe hierdie werklikheid nou vir prins Buthelezi as die leidende oorsaak van die geweld tydens die politieke oorgang te probeer voorhou, is dus misleidend.

Ek glo nie daarin dat ’n persoon ná hul afsterwe tot “heilige” verhef moet word nie, maar dit is eenvoudig ’n miskenning van Buthelezi se menswaardigheid en sy familie en volgelinge se hartseer deur hom kort ná sy afsterwe te verguis deur leuens oor sy rol tydens die politieke oorgang te verkondig.

Lees die volledige artikel op Netwerk24.

Kallie Kriel oor Buthelezi: Maklik om klippe te gooi na een wat dood is

Prins Mangosuthu Buthelezi was ’n indrukwekkende leier wat lief was vir sy kultuur en mense, skryf Kallie Kriel.

Bron: Netwerk24, 24 September 2023

Die redakteur van City Press, Mondli Makhanya, se striemende aanval op prins Mangosuthu Buthelezi verlede week op hierdie blaaie is misleidend en onbillik.

Dit is jammer dat hy dit skryf oor ’n man wat nie meer hier is om homself te verdedig nie.

Prince Mangosuthu Buthelezi
Prince Mangosuthu Buthelezi

Makhanya se wanvoorstelling van Buthelezi se rol tydens die politieke oorgang is bloot ’n voortsetting van die ANC se destydse propagandastrategie om Inkatha te diskrediteer.

Dr. Anthea Jeffery se gesaghebbende navorsing, soos vervat in haar boek People’s War, asook die dokumentêr Tainted Heroes, wat gratis gestroom kan op word afriforumtv.co.za, sit hierdie strategie van die ANC duidelik uiteen. ’n ANC-afvaardiging het Viëtnam in 1978 besoek met die uitsluitlike doel om hulself te vergewis van die strategie wat tydens die kommunistiese “volksoorlog”daar gebruik is deur die revolusionêre groepering om hul opponente te vernietig. Die ANC het hierdie strategie met Sowjet-wapens en -finansiering gebruik om op plaaslike bodem Inkatha, Azapo en die PAC met geweld te probeer verswak sodat die ANC uiteindelik die toneel kon oorheers tydens die onderhandelings vir ’n politieke oorgang.

In die ANC se strewe om ook mag oor gemeenskappe te verkry, het hierdie strategie om geweld te gebruik selfs gelei tot wreedaardige halssnoermoorde op gewone swart mense.

Buthelezi verdien krediet dat hy hom om gewetensredes nie wou skaar by die Sowjet-gesteunde gewapende stryd nie en dat hy gekies het om apartheid op ’n niegewelddadige wyse teen te staan. Makhanya en ander sal Buthelezi waarskynlik nooit vergewe dat hy geweier het dat Inkatha aan die ANC se terreuraanvalle op burgerlikes meedoen nie. Om gegewe hierdie werklikheid nou vir prins Buthelezi as die leidende oorsaak van die geweld tydens die politieke oorgang te probeer voorhou, is dus misleidend.

Ek glo nie daarin dat ’n persoon ná hul afsterwe tot “heilige” verhef moet word nie, maar dit is eenvoudig ’n miskenning van Buthelezi se menswaardigheid en sy familie en volgelinge se hartseer deur hom kort ná sy afsterwe te verguis deur leuens oor sy rol tydens die politieke oorgang te verkondig.

In sy aanval op Buthelezi versuim Makhanya om te noem dat hyself saam met ander ANC-kaders ’n rol gespeel het in die swart-teen-swart-geweld wat destyds plaasgevind het. Die ANC, en nie Inkatha nie, was die hoofoorsaak van die tragiese verlies van meer as 20 000 menselewens in die aanloop tot die politieke oorgang. Eerder as om die ANC se rol daarin te erken, probeer Makhanya nou om al die blaam te plaas op ’n man wat nie meer met ons is om die ander kant van die saak te stel nie.

’n Beseerde Inkatha-man se oë is uitgesteek en sy geslagsdele afgesny, terwyl Makhanya as meedoener toegekyk het.

Makhanya voer in sy meningstuk aan hy was destyds ’n jong verslaggewer wat verslag gedoen het oor “Inkatha-massamoorde”. Die waarheid is dat Makhanya veel meer as ’n verslaggewer was.

Jeffery wys met stawende bronne in haar boek daarop dat Makhanya aan die ANC se oorlog teen “swart” groeperings meegedoen het wat deur die ANC as mededingers beskou is. Makhanya het byvoorbeeld, volgens Jeffery, in 1991 onder ’n skuilnaam geskryf dat hy op 11 Februarie 1990 huise afgebrand het, terwyl sy kamerade gewonde Inkatha-vegters doodgemaak het. ’n Beseerde Inkatha-man se oë is uitgesteek en sy geslagsdele afgesny, terwyl Makhanya as meedoener toegekyk het.

’n Ander Inkatha-ondersteuner is in die pad af gesleep en aan die brand gesteek, terwyl rommel op hom gepak is sodat hy nie kon ontsnap nie. Jeffery wys daarop dat Makhanya geskryf het dat dié man nie vir hom ’n mens was nie, maar ’n vyand wat gekry het wat hy verdien.

Makhanya het ook gemeld dat hy trots is op sy rol, dat hy die gevegte opwindend gevind het, asook om onder meer te sien hoe desperate mans hardloop vir hul lewe.

Dit is dus jammer dat Makhanya prins Buthelezi die “prins van strydlus” noem, terwyl Makhanya en die ANC self meegedoen het aan die tragiese moorddadige konflik van destyds.

Niemand van ons is perfek nie. Maar tydens die geleenthede waar ek die voorreg gehad het om persoonlik met Buthelezi te skakel, het ek onder die diep indruk gekom van ’n indrukwekkende leier wat lief was vir sy kultuur en mense, en sy lewe daaraan gewy het om hulle onbaatsugtig te dien. Hy was ook sonder huiwering bereid om ’n hand van vriendskap uit te reik om verhoudings gegrond op wedersydse erkenning en respek met ander groepe te vestig.

Buthelezi het ook onbeskaamd ’n hand van vriendskap na Afrikaners uitgereik en dit onlangs weer gedoen met ’n videoboodskap aan die Voortrekkermonument. Hy het dit ook gedoen deur by verskeie geleenthede verskoning te vra vir koning Dingane se moord op Piet Retief – ten spyte daarvan dat niemand van hom verwag het om dit te doen nie. Ook tydens Buthelezi se deelname aan die regering van nasionale eenheid ná die oorgang het hy gewerk om te verseker dat die Voortrekkermonument ’n staatsubsidie kry.

Dié subsidie het opgedroog ná sy vertrek as minister.

Dié ingesteldheid om wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te bevorder, is navolgenswaardig vir almal van ons wat ’n toekoms vir ons kinders hier aan die suidpunt van Afrika wil bou. Juis daarom sal AfriForum voortgaan om samewerkingsooreenkomste aan te gaan met die onderskeie kultuurgemeenskappe, wat ook Zoeloe-gemeenskappe insluit.

As AfriForum dra ons ons meegevoel oor aan die Zoeloe-volk met die heengaan van ’n groot leier soos Buthelezi.

’n AfriForum-afvaardiging het die prins se familie besoek om ons meegevoel persoonlik oor te dra en het ook sy begrafnis bygewoon.

Kom ons respekteer Buthelezi se geliefdes en gun aan hulle die geleentheid om te rou. Ons kan dit doen deur ons uit te spreek teen die ongevoelige aanvalle op prins Buthelezi deur mense wat probeer om sy dood nou te misbruik om die propagandastryd oor die verlede voort te sit.

  • Kallie Kriel is uitvoerende hoof van AfriForum.

Onderwyswetsontwerp = kulturele etniese suiwering

Kallie Kriel skryf op Maroela Media (23 Augustus 2023):

Indien die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) ʼn wet word, sal dit aan die staat die mag gee om openbare skole se taalbeleid te bepaal. Dit is kommerwekkend omdat die ANC-regering se geskiedenis wys dat hulle daarop uit is om Afrikaans as onderrigtaal in openbare onderwys te vernietig.

Lees die volledige artikel hier.

Kallie Kriel
Kallie Kriel

Ernst Roets aangestel as beleidshoof van die Solidariteit Beweging Trust

AfriForum se bestuurshoof vir strategie en internasionale skakeling, dr. Ernst Roets is pas as beleidshoof van die Solidariteit Beweging aangestel. In sy nuwe hoedanigheid sal Roets voortaan verantwoordelik wees om die beleid en strategie onder die instellings van die Solidariteit Beweging te koördineer, en om openbare inkoop vir hierdie strategie te bevorder. Dit behels ook dat hy voortaan ʼn werknemer van die Solidariteit Beweging sal wees.

Roets het gesê dat hy met groot waardering terugkyk op die afgelope dertien jaar wat hy as werknemer by AfriForum deurgebring het, maar dat hy terselfdertyd met groot opwinding vorentoe kyk op die nuwe taak wat vir hom voorlê. Meer inligting in hierdie verband sal in die komende maande bekendgemaak word.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging het gesê Roets se aanstelling volg op die noodsaak om die Beweging se beskermings- en bouprojekte te versnel weens die ewigdurende verswakkende toestand in die land. Roets het onlangs sy doktorsgraad in Regsgeleerdheid voltooi, wat hom toerus en bekwaam om diepte te gee aan die federale planne van die Beweging wat vroeg in Oktober bekendgemaak sal word.

Die Solidariteit Beweging Trust bind die meer as 20 instellings van die Solidariteit Beweging saam en koördineer hulle werk. Flip Buys is voorsitter, Werner Human die operasionele hoof, en Jaco Kleynhans die hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging. Die 12 trustees wat deel uitmaak van hierdie trust verteenwoordig die grootste instellings van die federale beweging. Hulle sluit onder meer in dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, Henk Schalekamp van die Solidariteit Beleggingsmaatskappy, prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, en Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

Kallie: Aanvalle op AfriForum misluk

Bron: Netwerk24, 24 Mei 2023

Kritici van AfriForum staan aan die linker- en verregse kante van die Afrikaanse gemeenskap en hou daarom nie ’n bedreiging vir dié organisasie in nie, skryf Kallie Kriel.

Die aanvalle op AfriForum deur ’n paar kommentators wie se siening gereeld op Netwerk24 en in Media24 se dagblaaie gepubliseer word, begin nou aan ’n histeriese reaksie grens.

Ongelukkig is daar ook ’n paar joernaliste wat lustig hieraan meedoen. Terwyl die aanvalle daarop gemik is om AfriForum valslik uit te beeld as ’n onverdraagsame organisasie wat wanvoorstellings maak, hoef ’n mens nie ’n vuurpylwetenskaplike te wees om te kan sien dit is eerder diegene wat AfriForum aanval, wat hulle aan venynige onverdraagsaamheid en wanvoorstellings skuldig maak nie.

Die jongste aanval op AfriForum deur Amanda Gouws in haar artikel getuig juis van die soort onverdraagsaamheid en wanvoorstellings waarvan sy en ’n paar ander AfriForum beskuldig.

Gouws se onverdraagsaamheid blyk duidelik uit haar gebruik van woorde soos “walglik” en “minagting wat dit verdien” in haar verwysings na AfriForum. Dat Gouws in haar artikel ’n lang aanhaling waarna Ernst Roets verwys het, aanhaal asof dit sy eie woorde is, is verstommend. Dit is ook ’n verdraaiing van die waarheid deurdat Gouws versuim om te noem dat Roets duidelik gesê het dat hy niemand leed wil aandoen nie en die aanhaling genoem het om te wys dat daar in die geskiedenis verskeie voorbeelde is van sommige akademici wat voeling met die lot van gewone mense verloor het. Dit is soortgelyk aan sommige hedendaagse akademici wat wil voorgee dat die ernstige bedreiging wat plaasmoorde en die skending van eiendomsreg inhou, kwansuis nie so erg is as wat AfriForum sou voorgee nie.

Die ironie is dat onophoudelike aanvalle op AfriForum nie net daarin misluk om AfriForum te diskrediteer nie, maar dat dit AfriForum sterker maak.

Ook Gouws se aanspraak dat ek kwansuis sou gesê het Max du Preez is ’n “rassis” wat AfriForum aanval om homself “links” te posisioneer, is vals. As sy my uitspraak gelees het, sou sy gesien het dat ek gesê het dat daar verskeie swart mense is wat Du Preez van rassisme beskuldig en dat hy nou AfriForum as strooipop opstel en aanval om die aanval uit swart geledere verkeerd te bewys. Ook Gouws se bewering dat AfriForum nie apartheid as ’n “onreg” sien nie, is vals. Ons erken die onregte, die debat handel of dit gelykgestel kan word met Hitler se optrede as misdaad teen die mensdom. Anders as wat Gouws beweer, voer AfriForum geen “vete” teen mense uit haar dampkring nie.

‘Ons reageer slegs op aanvalle’

Om die waarheid te sê, ons het elke keer slegs gereageer op hul aanvalle. Gewoonlik sou ons hulle ignoreer, maar omdat sy en haar geesgenote ondanks hul beperkte steun in die Afrikaanse wêreld, byna onbeperkte toegang tot mediablootstelling in sommige media kry, is dit nodig om AfriForum se kant te stel sodat Afrikaanse luisteraars en lesers ten minste die ander kant van die saak kan hoor.

Die ironie is dat onophoudelike aanvalle op AfriForum nie net daarin misluk om AfriForum te diskrediteer nie, maar dat dit AfriForum sterker maak. Die kommentaar van lesers onderaan die aanvalle op AfriForum wat op Netwerk24 gepubliseer word, getuig daarvan dat die gewone Afrikaanse lesers hulle oorweldigend aan AfriForum se kant skaar. Natuurlik is die kommentaar nie ’n wetenskaplike peiling nie, daarom gebruik ek ook AfriForum se ledetal as akkurate barometer.

Met die aanslag op AfriForum op sy felste die afgelope twee weke het slegs 0,0002% van AfriForum se meer as 208 000 lede bedank as gevolg van die wanvoorstellings wat oor ons gemaak word.

Dit is natuurlik jammer, maar moet gesien word in die lig daarvan dat AfriForum in dieselfde tydperk sowat 17 nuwe lede bygekry het vir elke lid wat bedank het.

Die positiefste gevolg van die opkoms van sosiale en elektroniese media is dat die gewone Afrikaanse mense nou toegang tot alle sienings kan kry en dan vir hulself kan dink.

Die rede waarom die fel aanslag teen AfriForum deur ’n groep kommentators en enkele joernaliste misluk, is omdat die tyd vir ewig verby is dat ’n klein groepie mense wat ’n monopolie oor die tradisionele media het, aan mense kan voorskryf hoe hulle moet dink.

In die ou dae kon ’n paar meningsvormers in die “hoofstroommedia” na hartelus etikette soos “verlig”, “verkramp”, “regs”, “links” en “liberalis” skep en mense wat anders as hulle dink, diskrediteer deur hulle in eng kampe te plaas.

Die koms van die sosiale en ander elektroniese media het die mag van ’n paar mense oor die openbare mening finaal gebreek. Skynbaar sukkel sommige kommentators om dit te aanvaar en probeer hulle om hul invloed te behou deur al hoe onbilliker en onverdraagsamer te raak teenoor enige persoon wat dit durf waag om van hulle te verskil. Hoe harder hulle aanval, hoe meer vervreem hulle die gewone Afrikaanse lesers en luisteraars.

Die positiefste gevolg van die opkoms van sosiale en elektroniese media is dat die gewone Afrikaanse mense nou toegang tot alle sienings kan kry en dan vir hulself kan dink.

‘Selfrespek ’n voorvereiste vir wedersydse respek’

’n Groot groep Afrikaanse lesers en luisteraars weet dat die mening van ’n paar kommentators lankal nie meer aan die openbare mening gelyk gestel kan word nie. Dit is soos Winston Churchill gesê het: “Published opinion should not be confused with public opinion.”

Baie Afrikaanse lesers en luisteraars weet dus ook dat plaasmoorde en die marteling wat soms daarmee gepaardgaan, krisisafmetings aanneem. Hulle weet ook dat die bedreiging wat onteiening sonder vergoeding inhou, ’n werklikheid is. Dit is immers die regerende party se beleid. Hulle weet ook dat probleme soos hierdie en die vele ander nie vanself sal verdwyn nie en dat dit noodsaaklik is dat ’n organisasie soos AfriForum alles moontlik moet doen om hierdie probleme te pak.

Die grootste pluspunt is dat ’n groot groep Afrikaanse lesers en luisteraars hulle nie laat mislei om te glo dat AfriForum en die Solidariteit Beweging, wat saam sowat 450 000 gesinne verteenwoordig, ’n randverskynsel is nie. Hulle weet dat hulle saam met AfriForum en die Solidariteit Beweging binne die 80%-middelgroep- Afrikaanssprekendes en -Afrikaners staan en dat ons hard werk vir ’n beter toekoms gebou op ’n basis van wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe. Hulle besef egter ook dat selfrespek ’n voorvereiste vir wedersydse respek is en daarom mag ’n mens maar met selfvertroue standpunt teen plaasmoorde, die skending van eiendomsreg en ander brandpunte inneem.

’n Beduidende groep Afrikaanse luisteraars en lesers staan ook verstom dat ’n paar kommentators vra dat die middelgroep in die Afrikaanse en Afrikanergemeenskap ’n stem moet kry.

Hulle weet dat die Solidariteit Beweging en AfriForum reeds oorweldigende steun in die middelgroep het en as stem vir hulle kan optree. Hulle weet ook dat AfriForum se kritici aan die linker- en verregse rande van die Afrikaanse wêreld staan en juis daarom hou hulle aan om AfriForum in groterwordende getalle te steun.

Straf die regering, nie die land nie, vra Solidariteit Beweging

Die Solidariteit Beweging het vandag gevra dat die Amerikaanse regering nie die land en sy mense moet straf vir wat die regering aanvang nie, maar regeringsleiers self teiken met hul verwagte strafmaatreēls.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging gaan die nuutste ramp wat die regering oor Suid-Afrika gebring het deur wapens aan Rusland te lewer, die land en sy mense duur te staan kom. Die VSA het reeds streng sanksies teen talle lande wat teen hulle kant gekies het in die oorlog in Oekraine.

Die Amerikaanse Ambassadeur het waarskynlik opdrag van President Biden gekry om in die openbaar standpunt in te neem. Dis hoogs waarskynlik dat die onlangse Suid-Afrikaanse afvaardiging na die VSA onder leiding van mnr Sidney Mufamadi misluk het om gemoedere in Washington te kalmeer.

Die regering se optrede is onverskoonbaar, omdat dit kom in ‘n tyd wat die land reeds diep in die moeilikheid is. Hierdie nuutste fout verseker bykans die kans op ‘n resessie, en die val in die rand verhoog allle landsburgers se reeds hoë lewenskostes.

Daarom is daar net een boodskap wat die Solidariteit Beweging aan die Amerikaners kan rig, en dit is dat hulle nie die land moet straf vir wat die regering aanvang nie. Hulle moet eerder die verantwoordelike regeringsleiers self teiken vir hul beoogde strafmaatreëls.

Hierdie optrede van die ANC is ‘n diplomatieke ramp. Suid-Afrika kan nie bekostig om in konflikte betrokke te raak waarby ons geen belang het en wat duisende kilometers van ons is nie. Die regering behoort in landsbelang op te tree, en nie vas te steek in die vergete Koue Oorlog era nie.

Die kanse vir ‘n 2023 resessie is nou deur die regering vergroot en die ANC se optrede verswak die rand so dat almal se lewenskostes verhoog. Die grootskaalse verkoop van SA baseerde aandele benadeel alle pensioenfondslede, en die ANC moet daarvoor verantwoording doen. Die regering se optrede kan ook duisende mense se werk kos omdat dit neerkom op ‘n verbreking van die gunstige (Afrika groei en geleenthede wet AGOA) handelsooreenkoms met die die VSA.

Dit is duidelik dat die regering lynreg teen die nasionale belang optree, en die betrokke regeringsleiers het volgens regslui ook wette oortree deur wapens te lewer aan ‘n land wat in ‘n oorlog betrokke is.

Dis algemene kennis dat die SANW in ‘n hopelose toestand is, en nie in staat is om sy basiese pligte uit te voer nie. Dit blyk uit die powere stand van die lugmag, leër én vloot.

Die regering het terselfdertyd die land se Verdedigingsbedryf tot op die grond afgebreek deur die skandelike vernietiging van Denel.

Die land wag nog ook in spanning vir vervolgings in die wapenskandaal wat dekades gelede al plaasgevind het. Daarby kom die vraag of daar enige korrupsie by die wapenverskaffing betrokke was.

Die regering het nou al genoeg skade aangerig, wat gesien kan word aan verval van die land op elke denkbare gebied. Die jongste krisis kan daartoe lei dat die land weer die Muishond van die wêreld word, en ‘n teiken van diplomatieke, ekonomiese en politieke strafmaatreëls.

Daarom behoort hierdie korrupte en onbevoegde ANC-regering te bedank. Die land kan hulle net nie meer bekostig nie.

Kallie Kriel: Dís hoekom ek Lesufi se plan steun

Bron: Netwerk24, 8 Mei 2023

Die Gautengse premier se “bewaarders” van misdaad is verdag, maar desentralisering van polisiëring is wel nodig, skryf Kallie Kriel.

Die Gautengse regering se nuwe “misdaadvoorkomingsbewaarders” is met goeie rede deur baie mense met skeptisisme begroet. Die beeldmateriaal van dié groep se bekendstellingsparade het nou nie juis die indruk geskep van ’n goed opgeleide en gedissiplineerde eenheid wat deur misdadigers gevrees sal word nie.

Verder wys ANC-beheerde regerings op verskillende regeringsvlakke se baanrekord dat hulle eenvoudig nie in staat is om ’n sukses te maak van die meeste projekte wat hulle aanpak nie. Grootskaalse korrupsie, kaderontplooiing, nepotisme, wanbestuur, rasbeheptheid en ondoeltreffendheid het onlosmaaklik deel van ANC-regerings geword. Dit geld ook die Gautengse regering.

Die man wat homself as die groot kampvegter teen misdaad voorhou met sy nuwe “bewaarders”, premier Panyaza Lesufi, word natuurlik ook onthou vir die feit dat die Gautengse onderwysdepartement R431 miljoen op die ontsmetting van skole wanbestee het terwyl hy as LUR in beheer was en dat hy Afrikaanse skole geteiken het om sy eie onvermoë om genoeg skole te laat bou te verdoesel. Ook sy huidige pogings om fondse vir noodsaaklike maatskaplike dienste te sny laat ’n bitter smaak in die mond.

Ten spyte hiervan is dit wel belangrik om raak te sien dat Lesufi met sy jongste poging om homself op die voorgrond te plaas, onbedoeld en onwetend die deur begin oopmaak het vir die afwenteling van mag vanaf ’n ewe onbeholpe nasionale ANC-regering, na provinsies, dorpe en gemeenskappe.

Lesufi sal dit nie graag wil hoor nie, want hy en die ander ideoloë in die ANC is verknog aan die sentralisering van mag en verafsku enige sprake van federalisme en desentralisering.

Die huidige sentralistiese bedeling het homself reeds as ’n mislukking bewys. Die klaaglike agteruitgang van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Eskom, die SAL, Denel, regeringsdepartemente en munisipaliteite is maar ’n paar van die wrang vrugte van sentralisme wat ons nou pluk. Om hierdie probleme te pak is die afwenteling van mag nodig. Dán kan probleme in kleiner dele opgedeel word en gemeenskappe se energie ontsluit word om ’n groter rol te speel en inspraak te kry oor hoe probleme opgelos moet word. Gemeenskappe verstaan hul eie behoeftes baie beter as byvoorbeeld Bheki Cele, die minister van polisie, wat iewers ver in ’n kantoor sit en toekyk hoe misdaadsyfers jaar ná jaar styg.

Met dié stap het Lesufi onwetend erken dat die huidige sentralistiese model van polisiëring misluk.

‘Gedesentraliseerde werklikheid’

Terwyl Cele verbete aan sy sentrale beheer vasklou, is ons as gemeenskappe se hande gelukkig nie afgekap nie. Dit is moontlik dat gemeenskappe nou reeds sonder om enigiemand se toestemming te vra, kan toetree om binne die raamwerk van die wet buurt- en plaaswagte te skep om self misdaad te beveg. AfriForum het reeds met hierdie ons-sal-self-ingesteldheid 165 buurtwagte landswyd gevestig, wat sowat 10 000 vrywilligers, duisende radio’s, honderde koeëlvaste baadjies en tientalle hommeltuie en opgeleide hommeltuigvlieëniers het. Die waarde wat hierdie buurtwagte met byvoorbeeld hul hommeltuie toevoeg tot die stryd teen misdaad, het daartoe gelei dat plaaslike polisielede op die meeste plekke graag met AfriForum se buurtwagte saamwerk. Die werk van buurtwagte het in praktyk daartoe gelei dat ’n nuwe gedesentraliseerde werklikheid geskep is wat die sentraliste nie meer kan misken nie.

Gemeenskapsfederalisme en gedesentraliseerde dienslewering en polisiëring moet nou verder uitgebou word as ’n normale verskynsel wat oplossings bied. Dit is in hierdie verband dat Lesufi se vestiging van sy “bewaarders” onbedoeld in desentraliseerders se hande speel.

Met dié stap het Lesufi onwetend erken dat die huidige sentralistiese model van polisiëring misluk. As die model gewerk het, sou daar immers nie nut vir sy “bewaarders” gewees het nie. Lesufi se optrede sal dit ook vir die DA-beheerde Wes-Kaap makliker maak om nog meer afwenteling van mag te vra. As ’n ANC-beheerde provinsie dit begin doen, waarom kan die Wes-Kaap nie? En sou die ANC dalk net in 2024 die mag in Gauteng verloor, het Lesufi reeds die grondslag gelê vir ’n nuwe koalisie om die desentralisering van magte verder te dryf.

Intussen hoef ons as burgerlike samelewing nie net te hoop op bepaalde verkiesingsuitslae nie, ons kan onverpoosd voortgaan om ons gemeenskappe sterk en selfstandig te maak.

Ons doen dit deur misdaad binne die raamwerk van die wet te bekamp deur ons buurtwagte en in samewerking met sekuriteitsmaatskappye, GPF’s en plaaslike polisielede. Lesufi se optrede het nou immers bevestig dat polisiëring in die praktyk nie meer onder die uitsluitlike beheer van die nasionale regering is nie. Dit is ’n welkome wending.

Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, op ’n nuuskonferensie waar hy die provinsie se nuwe misdaadvoorkomingsbewaarders bekend gestel het
Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, op ’n nuuskonferensie waar hy die provinsie se nuwe misdaadvoorkomingsbewaarders bekend gestel het
Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.