Die plaaslikeregeringsverkiesing van 2026 vind eerskomende Woensdag plaas, en die Solidariteit Beweging doen ʼn beroep op sy lede om landswyd hul demokratiese reg as Suid-Afrikaanse kiesers uit te oefen.
“Alhoewel die Solidariteit Beweging nie by partypolitiek betrokke is nie, moedig ons ons lede ten sterkste aan om die demokratiese kanale wat tot hul beskikking, is te gebruik. Afrikaners as ʼn gemeenskap weeg meer as wat ons by die stembus tel en daarom sal ons – ongeag die verkiesingsuitslae – op grondvlak ons gewig bly ingooi om aan ʼn volhoubare toekoms in ons land te werk,” sê Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.
Buys verduidelik dat om te stem ʼn belangrike demokratiese plig is, maar dat die individu se verantwoordelikheid nie met die trek van ʼn kruisie op ʼn stembrief eindig nie. “Gaan stem. Máár stem ook met jou tyd wanneer jy vrywilligerswerk vir Helpende Hand doen. Stem ook met jou geld wanneer jy tot die Toekomsbouerfonds vir die nuwe Akademia-kampus bydra. Stem met jou talente wanneer jy as mentor jou kennis in jou betrokke Solidariteit-beroepsnetwerk terugploeg.”
Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, beklemtoon ook: “Alhoewel die stem wat jy in ʼn verkiesing uitbring nie die alleenoplossing vir die land bied nie, vorm dit ʼn belangrike deel van die oplossing. Die gemeenskappe wat dit regkry om kiesers by die stembus te kry, is in ʼn sterk posisie. Die gemiddelde stempersentasie in munisipale verkiesings is minder as 50%. As ons daarin kan slaag dat 90% van die Afrikaanse gemeenskap gaan stem, beteken dit dat hul stemme in praktyk dubbel soveel tel. Ongelukkig bepaal die politiek ʼn groot deel van elkeen se lewe, en op munisipale vlak manifesteer dit in die slaggat in jou pad en die straatlig voor jou huis. Dit gaan dus in hierdie verkiesing nie oor abstrakte beleid nie, maar praktiese politiek, soos krag, water en vullisverwydering. ʼn Munisipale verkiesing is die verkiesing die naaste aan jou en daarom moet jy jou stem laat hoor.”
AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, beaam dit en sê: “AfriForum skryf nie aan sy lede voor vir wie om te stem nie, maar beklemtoon die noodsaaklikheid daarvan om te gaan stem. Ons moet immers elke moontlike meganisme benut om ʼn beter hede en toekoms te verseker.
Hoewel ons slegs een keer elke paar jaar stem, moet ons ook elke dag ons hande, verstand en roeping inspan om self ʼn beter toekoms te bou.
Om self ʼn beter toekoms te bou en om aan verkiesings deel te neem, is nie teenstrydige benaderings nie, want hulle vul mekaar aan.”
Volgens Buys is die oproep duidelik: “Gebruik al jou stemvoorregte om jou stem dik te maak vir die toekoms wat jy wil hê.”