Laat ons die goeie stryd waardig stry

Die afgelope paar weke het daar ’n geweldige geraas rondom Akademia en Kanton ontstaan. Dit is ook verstaanbaar dat Kanton deel van die gesprek geword het: Ons ontwikkel die nuwe Akademia-kampus, en die omvang en sigbaarheid van wat daar in Pretoria-Oos verrys, maak dit al moeilikker om te ignoreer.

Eers het prof. Jonathan Jansen sterk kritiek uitgespreek op Afrikaanse private hoër onderwys en Akademia in die besonder. Daarna het dr. Naledi Pandor die bou van die nuwe kampus binne ’n veel groter ideologiese raamwerk geplaas en dit as deel van ’n bedreiging vir die soort Suid-Afrika waarvoor sy en haar “comrades” geveg het, beskryf.

Die felheid van die reaksie sê iets oor die betekenis wat Akademia en die kampusontwikkeling begin aanneem. Mense mors selde veel energie op iets wat hulle as onbeduidend beskou. Wanneer ’n gemeenskap daarin slaag om op eie inisiatief kapitaal, kundigheid en organisasievermoë saam te snoer om ’n universiteitskampus van hierdie omvang te bou, daag dit noodwendig gevestigde idees uit oor hoe ons samelewing behoort te funksioneer.

My eie reaksie op die gewoel was om sover moontlik te konsentreer op dit wat ek kon beheer. Terwyl die lawaai rondom ons aangehou het, het ons voortgegaan om kapitaal te werf, probleme op te los en stene te pak. Dit is immers wat bouers doen.

Daar is intussen wyd en syd op Jansen en Pandor gereageer. Leiers uit ons gemeenskap, kommentators en gewone Suid-Afrikaners uit verskillende oorde het hulle standpunte bevraagteken en gekritiseer. Wat my in die verbygaan opgeval het, is hoe wyd die steun vir Akademia en vir die reg van gemeenskappe om hulle eie instellings te bou strek.

Dit is bemoedigend.

Maar tussen al die goeie, deurdagte en soms baie skerp kritiek is daar ook iets wat my ontstel. Dit is die platvloerse, beledigende en soms eenvoudig gemene reaksies uit ons eie geledere.

Ek probeer nie skryf uit ‘n posisie van hoogheiligheid nie. Ek weet hoe dit voel wanneer jou taal, jou kultuur, jou geskiedenis en die instellings waaraan jy bou, telkens onder verdenking geplaas word. Ek verstaan die frustrasie van Afrikaners wat voel dat daar oor baie jare van hulle verwag is om skuld te dra, plek af te staan en soms selfs verskoning te maak vir die eenvoudige en regmatige begeerte om as ‘n taal- en kultuurgemeenskap voort te bestaan.

Ek verstaan ook die gevoel van genoeg is genoeg. Ek beleef dit self en word self kwaad.

Maar juis daarom moet ons versigtig wees met hoe ons reageer.

Om te bou is moeilik

Ek skryf hieroor as iemand wat al 28 jaar aan instellings bou en wat weet hoe moeilik dit is.

‘n Kampus verrys nie omdat iemand ‘n mooi toespraak gelewer of ‘n sterk mening op sosiale media geplaas het nie. Dit vra jare se werk. Jy moet mense van ‘n saak oortuig. Jy moet vertroue wen. Jy moet kapitaal mobiliseer. Jy moet deur ‘n komplekse regulatoriese omgewing werk. Jy moet met staatsinstellings, finansiers, professionele spanne, gemeenskappe en talle ander rolspelers verhoudings bou.

En niemand kry dit alleen reg nie. Instellings van hierdie omvang verg die volgehoue inspanning van ‘n hele gemeenskap.

Jy moet soms geduldig wees wanneer jy eintlik kwaad is.

Jy moet soms weer verduidelik wanneer jy voel jy het reeds tien keer verduidelik.

Jy moet soms aanhou bou terwyl mense jou motiewe bevraagteken.

Dit is die aard van die uitdaging om instellings te bou.

Ons leiers wat oor die vermoë beskik om op aanvalle soos dié van Jansen en Pandor te antwoord, doen dit telkens uitstekend en met waardigheid. Hulle skram nie weg van fel kritiek nie. Hulle verdedig beginsels, wys swak argumente uit en staan hulle man in die openbare debat. Maar hulle probeer dit doen sonder om die persoon aan die kant te verontmenslik of die gesprek tot ’n moddergeveg te laat ontaard.

Daarom pla dit my wanneer mense wat meen hulle verdedig dieselfde saak, met platvloerse en persoonlike uitlatings die hoë grond afbreek waarop ander met groot moeite probeer staan.

Ons kan nie met beton ’n kampus bou en met ons woorde aan die gemeenskap afbreek nie.

Beskaafd beteken nie mak nie

Ek pleit nie vir ’n slap of verskonende reaksie op kritiek nie.

Inteendeel.

Waar argumente verkeerd is, moet hulle weerlê word. Waar mense ons grondwetlike regte bevraagteken, moet ons dit ferm verdedig. Waar ons verkeerd voorgestel word, moet ons die waarheid vertel. Waar ideologiese onverdraagsaamheid sigbaar word, moet ons dit by die naam noem.

Ons mag skerp wees.

Ons mag fel wees.

Ons hoef nie toestemming te vra om wettige instellings vir ons gemeenskap te bou nie.

Maar daar is ’n wêreld se verskil tussen om ’n argument af te breek en ’n mens te verneder; tussen satire en gemeenheid; tussen moed en ’n gebrek aan selfbeheer.

Die sterkste reaksies op die afgelope week se uitsprake was juis sterk omdat dit nie nodig was om vuil te speel nie. Die beginsel is eenvoudig, ons gaan voort. Ons bou binne die Grondwet. Ons mobiliseer ons eie vermoë. Ons sluit niemand op grond van ras uit nie. Ons glo dat ’n pluralistiese Suid-Afrika ruimte behoort te hê vir ’n verskeidenheid gemeenskappe en instellings.

Dit is ’n sterk posisie.

Waarom sou ons dit met ons eie taalgebruik verswak?

Die goeie, die ware en die skone

Akademia is ’n Christelike private hoëronderwysinstelling wat hom onder meer oriënteer aan die goeie, die ware en die skone.

Daardie woorde kan nie bloot op ’n webblad of in ’n waardestelling staan nie. Dit moet uiteindelik sigbaar word in die soort mense wat ons vorm en in die manier waarop ons optree wanneer ons onder druk kom.

Die ware vra van ons om leuens, verdraaiings en swak argumente teen te staan.

Die goeie vra dat ons dit doen sonder om die menswaardigheid van ander prys te gee.

En die skone herinner ons dat daar ook iets soos waardigheid, orde en goeie maniere in die openbare lewe behoort te wees.

As ons instellings wil bou wat vir die goeie, die ware en die skone staan, kan ons nie bekostig dat ons openbare gedrag die teenoorgestelde daarvan beliggaam nie.

Ons Christelike etos maak die opdrag eerder moeiliker as makliker. Ons word nie geroep om die stryd te vermy nie. Ons word geroep om die goeie stryd te stry.

Maar dan moet ons dit ook waardig stry.

Vryheid vra selfbeheersing

Ons praat met reg oor groter onafhanklikheid vir ons gemeenskapsinstellings.

Maar onafhanklikheid vra meer as geld, grond, geboue en regulatoriese ruimte.

Dit vra mense wat die verantwoordelikheid van vryheid kan dra.

Ons kan nie na groter selfstandigheid streef en terselfdertyd slawe van ons eie woede bly nie.

Ons het dus nog baie vormingswerk om te doen. Nie net in ons skole en universiteite nie, maar ook in onsself en in ons gemeenskap. Ons moet weer leer dat impulsbeheer nie swakheid is nie. Dat goeie maniere nie oorgawe is nie. Dat respek vir ’n teenstander nie beteken dat jy met hom saamstem nie.

Dit is juis wanneer ons kwaad is dat ons karakter getoets word.

CJ Langenhoven het lank voor sosiale media reeds die gevaar van die haastige reaksie verstaan. Sy bekende raad oor die “parmantige brief” was eenvoudig: Bêre hom tot môre voordat jy hom pos.

In sy tyd moes ‘n mens nog ‘n koevert lek, ‘n seël plak en ‘n brief in ‘n posbus gooi. Vandag kan ons binne sekondes, op die hoogtepunt van ons woede, iets publiseer wat duisende mense kan bereik en wat ons later nooit behoorlik kan terugtrek nie.

Ons het Langenhoven se raad waarskynlik nou nodiger as ooit.

Die volgende keer wanneer ons woedend is oor wat iemand oor ons, Afrikaans of ons instellings sê, is dit dalk die moeite werd om eers ‘n bietjie te wag.

Ek vra dit met begrip vir die frustrasie en die gevoel van verlies wat baie mense swaar dra. Maar ons kan nie toelaat dat daardie verlies ons vorm tot iets wat ons self nie wil wees nie.

Ons het te veel werk om te doen om ons energie aan die laagtepunte van die openbare gesprek te verspil.

Daar is skole om te bou en te beskerm. Daar is universiteite om te bou. Daar is ondernemings en gemeenskapsinstellings om sterker te maak. Daar is ‘n volgende geslag om te vorm. En daar is ‘n groter onafhanklikheid vir ons gemeenskap om verantwoordelik uit te bou.

Laat ander skree as hulle wil.

Ons werk is om aan te hou bou.

En selfs wanneer ons die felste kritiek lewer, laat ons dit doen soos mense wat weet waarvoor hulle staan, waarheen hulle op pad is en watter soort gemeenskap hulle vir die volgende geslag wil nalaat.

Laat ons die goeie stryd stry – maar laat ons hom waardig stry.

Geskryf deur Henk Schalekamp, Besturende Direkteur van Kanton.

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.