“Daar is drie soorte honde,” het korporaal Strauss vir ons gesê gedurende my dienspligtyd by die hondeskool: “Waghonde, bloedhonde en skoothonde.” Die News24-redakteur se jarelange vete teen die Solidariteit Beweging het my die afgelope tyd weer aan my ou korporaal se woorde herinner. Die media speel ʼn belangrike waghondrol in die samelewing. Hulle doel is nie om enigiemand se bloedhonde of skoothonde te wees nie, maar om as waghonde oor die belange van die publiek te dien.
Ons ervaring oor baie jare is ongelukkig dat Adriaan Basson, sedert sy dae toe hy as Beeld se redakteur die Puk op Potchefstroom as ʼn Nazi-nes probeer swartsmeer het, meer soos ʼn bloedhond as ʼn waghond teen Afrikaans optree. Daarteenoor gedra hy homself soos ʼn skoothondjie van die ANC. Ons waarskuwing dat sy sogenaamde “Nazi”-beriggewing ʼn stok in die hande van radikale politici sou plaas wat uiteindelik die PUK en Beeld sou benadeel, is ongelukkig bewaarheid. Basson se stories het gerespekteerde akademici se loopbane groot skade berokken, talle onskuldige studente beswadder en die reputasie van ʼn top-universiteit deur die modder gesleep.
ANC-skoothondjie
Basson kon dit nie verdra dat ons die PUK-studente en leiers se kant gekies het teen sy boeliegedrag nie, en dat hy daarna by Beeld uitgeskuif is nie. Hy het toe gereeld sy platform by News24 begin gebruik om meer soos ʼn aktivis as ʼn joernalis op te tree, oftewel meer soos ʼn bloedhond as ʼn waghond. Sy (soms) vurige kritiek op korrupsie deur sekere ANC-leiers is afgewissel met sonskyn-berigte oor ander ANC-leiers. Sy selfopgelegde rol is egter dié van ʼn skoothondjie as dit by onderliggende ANC-beleid kom. Die grondslae van die ANC se revolusionêre radikale transformasiebeleid wat die land en sy mense al soveel skade berokken het, kom nooit uit sy pen onder skoot nie. Inteendeel, hy doen sy bes om hierdie beleid te verdedig en aan sy lesers te verduidelik en te vertolk. Die staatsideologie wat die ANC se wanbestuur en staatsverval help veroorsaak, word nie gekritiseer nie. In plaas daarvan word diegene wat, soos ons Beweging, die ANC se totalitêre sosiale ingenieurswese teenstaan in belang van vryheid en demokrasie, in talle artikels gedemoniseer, beledig en belaster.
VSA-verhoudinge
News24 se histerie teen ons het ʼn hoogtepunt (of laagtepunt?) bereik toe ons ons toegang tot die Trump-administrasie gebruik het om met die Amerikaners te onderhandel oor knelpunte soos Agoa en tariewe. Ons het dit nodig geag weens die ANC se bepalende rol in die verswakking van die verhoudinge tussen die twee lande. Dit is so dat ons ook die ANC se verbreking van die 1994-ooreenkoms op die tafel geplaas het met die versoek dat die Amerikaners, soos vóór 1994, intree om menseregte te beskerm. Ons het nie met die VSA gepraat omdat ons met alles wat hulle sê en doen saamstem nie, maar omdat hulle die regering van ʼn supermoondheid is wat baie vir (en teen) die land kan doen as gevolg van die ANC. Ons moes vir die Amerikaners sê: “Ons is nie almal so (ANC) nie” – anders sou daar dalk veel sterker optrede gewees het wat nóg duisende se lewensbrood kon bedreig.
“Disinformasie”
Basson en kie het toe losgetrek met beskuldigings van “disinformasie” oor “genocide” en groot ruimte afgestaan aan onbekwame en korrupte politici wat ons van “hoogverraad” en onpatriotiese gedrag beskuldig het. Die Persombudsman het by talle geleenthede teen hulle beslis, waarna hulle verskonings moes publiseer, wat Basson waarskynlik net meer haatlik gemaak het.
Visvangekspedisie
Dit het hom sekerlik aangespoor om AfriForum se finansiële state by die Registrateur te bekom, waarna ons met honderde vrae gepeper is in ʼn soort “visvangekspedisie” wat bedoel was om êrens fout te vind. Verskeie berigte het hieruit voortgespruit, deurspek met halwe waarhede, blatante leuns en verdraaide inligting. Meer bloedhond as waghond. Wat hulle waarskynlik die kwaadste maak, is dat hulle geen korrupsie of wanbestuur kon opspoor nie. Terselfdertyd wou hulle nie Kallie Kriel se teenvrae oor hul beheermaatskappy se skenkings aan die ANC beantwoord nie, of verduidelik waarom News24 al vir jare nie hul eie finansiële state publiseer nie.
Fopnuus
Sekere joernaliste kla die afgelope paar jaar breedvoerig oor “fopnuus” op sosiale media, terwyl hulle hul politieke teenstanders daarvan beskuldig dat hulle sogenaamde “post-waarheid” leuens versprei. Ek weet dat daar baie nonsens en vals nuus op sosiale media verskyn. Tog is die gevaarlikste vals nuus nie die ongeloofwaardige liegstories wat op ooglopend amateuragtige sosialemediablaaie verskyn nie. Die ergste fopnuus is die leuens, halwe waarhede en eensydige beriggewing wat in sommige hoofstroommedia met histories geloofwaardige titels verskyn. Dít is onderliggend aan die groeiende wantroue in die tradisionele media. In die VSA het hierdie vertroue volgens Gallup teen 2025 tot slegs 28% gedaal, terwyl in Suid-Afrika minder as die helfte van die bevolking nog die media vertrou.
Die media speel ʼn uiters belangrike waghondrol in die land en het die afgelope jare ʼn reusebydrae gelewer tot die blootlegging van korrupsie en wanbestuur. Daarom is dit belangrik dat joernaliste hul waghondrol verstaan en besef dat hul geloofwaardigheid hul belangrikste bate is wat ten alle tye beskerm moet word. Die media het dus ʼn kritieke verantwoordelikheid om altyd professioneel op te tree en nie toe te laat dat hulle aktivisme onder die dekmantel van joernalisme nastreef nie. Anders gestel, joernaliste moet waghonde bly en nie bytende bloedhonde of lekkende skoothondjies word nie.
Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.