Die Solidariteit Beweging het Dinsdag ’n omvattende plan vir volhoubare Afrikaanse onderwys bekend gestel, met die doel om ’n geïntegreerde ondersteuningsnetwerk vir die hele Afrikaanse skoolgemeenskap te skep.
Die plan word saam met verskeie vennote in die onderwyssektor uitgerol en fokus daarop om skole, onderwysers, skoolbestuur, beheerliggame, ouers, leerders en gemeenskappe toe te rus om die toenemende uitdagings in die onderwysomgewing die hoof te bied.
Die Solidariteit Beweging het dié plan tydens die toekomsberaad bekend gestel, waar sowat 800 onderwysers en leiers uit die skoolgemeenskap byeengekom het. Die driedaagse kongres fokus op die uitdagings waarmee Afrikaanse onderrig tans te kampe het, asook op praktiese strategieë om ’n volhoubare toekoms vir Afrikaanse onderwys te verseker.
Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, sê Afrikaanse skole verkeer toenemend onder druk en die sentralisering van skole vind al hoe meer plaas.
“Die staat wil 100% sê wat ons moet doen,” sê Hermann. Hy sê egter die plan wat Dinsdag bekend gestel is en die wil van ʼn gemeenskap, vorm die hart van goeie onderrig.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, rus die toekoms van Afrikaanse onderwys op gemeenskappe wat bereid is om self verantwoordelikheid daarvoor te neem.
“Die toekoms van Afrikaanse onderwys behoort aan ’n gemeenskap wat bereid is om daarvoor verantwoordelikheid te neem. By die Solidariteit Beweging glo ons dat ons nie net die reg het om daardie toekoms te help bou nie, maar ook die plig,” sê Buys.
Hy sê dat die beweging saam met sy vennote en Afrikaanse skoolgemeenskappe wil werk om ’n volhoubare toekoms vir Afrikaanse onderwys te verseker.
“Die staat bedreig ʼn goeie Afrikaanse ekostelsel en ons moet begin anders dink oor die volgende jare wat kom,” sê Hermann.
Die nuwe aanbod bring die Solidariteit Beweging se instellings, kundigheid en bestaande ondersteuningsnetwerke in een geïntegreerde model saam, sê Buys.
Die plan behels dat die Solidariteit Beweging sy onderwysaanbod só verpak dat die ideaal van volhoubare gehalte-onderwys in Afrikaans, saam met die breë skoolgemeenskap, bereik kan word.
Werner Human, bedryfshoof van die beweging, sê die model onderskei hom van tradisionele dienslewering omdat dit ’n deelnemende benadering volg waarin die hele skoolgemeenskap betrek word.
“Skole staan vandag voor veel groter uitdagings as net akademiese prestasie. Hierdie aanbod skep ’n ondersteuningsnetwerk wat skole versterk sodat hulle op hul belangrikste taak kan fokus: om kinders vir die toekoms toe te rus,” sê Human.
Volgens Human is die doel nie om skole se rol oor te neem nie, maar om hul kapasiteit te versterk en uit te bou.
Hy sê die beweging wil meer doen as om bloot as ’n diensverskaffer op te tree en fokus eerder daarop om ’n breër onderwys-ekostelsel te help vestig wat skole in staat stel om volhoubaar en uitnemend te funksioneer.
Die Solidariteit Beweging beskou die plan as ’n langtermynbelegging in Afrikaanse onderwys en as deel van sy groter visie om selfstandige gemeenskappe te help bou wat gehalteonderwys vir toekomstige geslagte kan verseker.
Geskryf deur die Maroela Media redaksiespan.