Die groot prentjie

(Hierdie toespraak is op 3 Maart 2023 gelewer)

Beste Kollegas

Ek wil vandag graag met julle praat oor die groot prentjie van dit wat in die land gebeur; wat ons Beweging daaraan doen; en waar die instelling waar jy werk, inpas.

Die ware naarheid is dat dit lyk of Suid-Afrika stuk-stuk van bo af verval. Die goeie nuus is gelukkig dat die privaat sektor en gemeenskappe soos ons Beweging, dinge weer stuk-stuk van onder af opbou. Ons kan nie die regering keer om af te breek nie, maar hulle kan nie keer dat ons opbou nie. Dit is natuurlik baie moeiliker om op te bou as om af te breek. Onthou egter dat Rome nie in een dag gebou is nie, maar gelukkig ook nie in een dag geval het nie. Ons moet net die tyd gebruik. Die opbouers se groot uitdaging is om vinniger op te bou as wat dinge verval en daarom sal ek kortliks verwys na ons planne om die opbouproses te versnel.

Normaliteit

Dit is belangrik om vír iets te staan, anders val ʼn mens vir alles. Ons staan nie vir een of ander snaakse ideologie nie. Ons staan vir normaliteit. Normaliteit is ʼn samelewing waar jy snags veilig is; waar dinge werk; waar jy waarde kry vir jou belastinggeld; waar daar nie straffelose korrupsie is nie; waar die regstelsel optree teen misdaad; waar onreg nie as reg voorgehou word nie; waar rassewette nie jou toekoms bepaal nie; waar die regering die dienaars in plaas van die heersers is; waar daar gesonde rassebetrekkinge is; en waar ʼn normale toekoms vanselfsprekend is. Normaliteit is waar die vryheid bestaan om self besluite te neem en dit uit te voer in plaas daarvan dat ʼn onbekwame regering teen jou regeer.

Die strewe na normaliteit beteken dat ons nie na die verlede onder die NP verlang nie, maar dat ons nie uitsien na ʼn toekoms onder die ANC nie. Die mislukking van ANC-bestuur beteken terselfdertyd dat groter selfbestuur die enigste uitweg is. Ons strategie is groeiende selfbestuur deur groeiende organisasies. Selfbestuur is ʼn proses; nie ʼn gebeurtenis nie. Die spoed van die opbou van selfbestuur word bepaal deur ons vermoë om ons gemeenskap deur ons droom te begeester om saam te bou. Daarom moet ons mekaar eerder besiel met dít wat ons opbou as wat ons mekaar moedeloos praat oor alles wat verval. Ons vra nie vooraf-toestemming van die ANC nie. Ons doen dinge reg en wettig, en kry dan ná die tyd erkenning vir wat opgebou is.
Nuwe bedeling

Die regering is ongelukkig nie die land en sy mense se enigste probleem nie. Ons regeringsprobleem word vererger deurdat ons terselfdertyd ʼn bedelingsprobleem het. Suid-Afrika is groter as agt Europese lande saam, naamlik Brittanje, Ierland, Nederland, Denemarke, België, Duitsland, Italië en Griekeland. Dit sou totaal onsinnig wees om hierdie agt lande as ʼn eenheidstaat sentraal te probeer regeer, met net een regering, een beleid, een Eskom, een lugdiens en een staatsdiens. Hierdie lande is geografies en demografies mos net té uiteenlopend. Dieselfde geld vir Suid-Afrika wat duidelik meer ʼn subkontinent is soos Oos-Afrika of Wes-Europa as wat dit een land soos Swede of Botswana is. Dit spreek vanself dat ʼn land met 11 amptelike tale té kompleks is om as ʼn eenheidstaat sentraal regeer te word.

Die fout wat die ANC ná 1994 gemaak het, was om ʼn nasie vir die staat te probeer bou in plaas van ʼn staat vir die nasie. Demokrasie beteken dat die staat by die nasie moet aanpas in plaas daarvan om, soos die ANC, die nasie by die staat te probeer indwing. Daarom het die ANC eenvormigheid in die naam van verskeidenheid probeer afdwing deur een nasie vir die eenheidstaat te probeer skep deur almal deur transformasie-rassekwotas by die meerderheid te probeer inlyf. Dit is waar die dryfveer van een land, een nasie, een taal, een party, een verlede, een Eskom en een skoolstelsel vandaan kom. Dit is ook hoekom die ANC ʼn land met vele kulture in een land met twee rasse probeer omskep wat hulle dan deur hul rassebeleid ten gunste van die meerderheid vir “altyd” kan regeer.

Vir hulle gaan dit oor “gelykheid,” eenvormigheid en staatsmag. Ons staan vir vryheid, verskeidenheid en gemeenskapskrag. Ons glo aan eenheid in verskeidenheid; hulle aan “eenheid’ deur die ontkenning van verskeidenheid. Ons sien die land as ʼn gemeenskap van gemeenskappe; hulle sien dit as een ANC-oorheerste staatsnasie. Ons glo aan vriendskap en hartlike samewerking tussen gemeenskappe; hulle aan onderhorige onderdane wat gehoorsaam doen wat die ANC besluit.

ʼn Vrye en demokratiese staatsbestel moet gegrond wees op die erkenning van geografiese en bevolkingswerklikhede in plaas van die ontkenning daarvan.

Die groot prentjie wat hom tans afspeel, is dat die verval en heropbou wat ons in die land sien, een is van ʼn onwerkbare bedeling wat verval en ʼn beter bedeling wat in sy plek opgebou word.

Hoe vinniger die regering van bo af verval, hoe vinniger word ʼn nuwe bedeling van onder af opgebou. Die verval van sentrale infrastruktuur waarin ons geen inspraak het nie, word teengewerk deur die opbou van gedesentraliseerde / plaaslike oplossings waarby mense self betrokke is. Neem nou maar Eskom as voorbeeld: Die verval van hierdie sentrale monopolie maak ons met reg woedend en dit is ʼn nasionale tragedie en die grootste enkele krisis in die land. Maar wat my opgewonde maak, is dat duisende maatskappye en miljoene mense besig is om hulself teen hierdie verval te verskans deur planne vir kragopwekking in werking te stel. Dit is natuurlik baie duur, baie moeilik en gaan baie lank neem, maar met die hulp van nuwe planne, nuwe tegnologie en nuwe rolspelers gaan die kragopwekkingsituasie binne ʼn paar jaar lyk soos hoe die diens van die Poskantoor deesdae daaruitsien. Dit gaan mettertyd al makliker, goedkoper en meer doeltreffend word om energie op kleiner skaal op te wek. Eskom gaan seker nog bestaan, maar baie min mense gaan dit baie min gebruik.

Die ironie is dat hoe vinniger die regering van bo af verval, hoe meer dwing die werklikheid die burgery om al vinniger weer op te bou. Ons kan dit met ʼn wipplank in ʼn speelpark vergelyk:
Hoe vinniger die een kant afgedruk word, hoe vinniger kom die ander kant op.

Ons mag nie dat die klank van die dawerende verval in die land ons verdoof vir die sagte klank van die heropbou wat bykans onsigbaar maar onkeerbaar gebeur nie. Net soos ʼn harde donderbui baie meer aandag trek as sagte reën, klink die verval van die staat baie harder as die sagte heropbou deur duisende mense reg oor die land.

Eilande

Daar is wel groot risiko’s in ʼn bedeling wat verval, en dit bly ʼn verskriklike tragedie dat soveel dorpe verval en dat so baie van die infrastruktuur wat opgebou is ten gronde gaan. Dink maar aan die spoorweë wat net soos soveel ander staatsinstellings agteruitgaan tot so ʼn mate dat vragmotors ons paaie voos ry! Dekolonisering word inderdaad demodernisering. Daarom moet ons eilande van orde bou in wat soms ʼn see van wanorde word.

Daarom kan ons nie bekostig om op die kantlyn te sit en te wag dat dieselfde mense wat die bedeling laat verval ʼn ander een probeer oprig nie. Dit is hoekom ons Beweging op soveel gebiede so diep betrokke is by beskerming aan die een kant en heropbou aan die ander kant. Daarom behels die een been van ons strategie om te probeer keer dat dinge agteruitgaan, terwyl ons terselfdertyd kliphard bou aan vooruitgang.

ʼn Ander Suid-Afrika

Die heropbou van die bedeling wat verval beteken beslis nie dat die “ou” Suid-Afrika of die “nuwe” Suid-Afrika gaan terugkom nie. Die verlede is verby en heimwee daarna gaan niks help nie. Dit sal nie help om te wens die ou of die nuwe Suid-Afrika kom terug nie; ons werk eerder aan ʼn ander Suid-Afrika. Die harde werklikheid is dat die verval in die land so groot is dat nie alles en orals gered sal kan word nie. Daarom konsentreer ons ons pogings op en fokus daar waar ons ʼn verskil en impak kan maak, want hoe breër ons fokus, hoe kleiner gaan ons invloed wees.

Ons kan nie verantwoordelikheid neem vir alles en almal in die land nie. Ons kan nie staatsdienste lewer sonder staatsinkomste nie. Die ANC word immers verkies, betaal en met ons belasting befonds om dienste aan die land te lewer.

Daarom is ons strategie eerstens om sekere projekte aan te pak wat almal in die land bevoordeel, maar tweedens projekte in belang van Afrikaners as kultuurgemeenskap en die breër Afrikaanse taalgemeenskap aan te pak. Ons doen wat ons kan vir beter regering, maar ons bou ook aan ʼn nuwe bedeling. Politieke verandering is baie nodig, maar staatkundige hervorming is net so belangrik. Die ANC sal albei probeer keer, maar hulle kan nie teen die werklikheid veg nie. ʼn Bedeling neem die vorm van die werklikheid aan en die werklikheid laat hom nie in ʼn ideologiese dwangbuis indwing nie.

Ons wil die omstandighede skep waarin Afrikaners blywend vry, veilig en voorspoedig hier kan bly sodat hulle dan ʼn volhoubare bydrae tot die welstand van die land en al sy mense sal kan maak.

Ons raak nie by die partypolitiek betrokke nie omdat ons meer weeg as wat ons tel. Ons skakel wel met politici wanneer dit in ons gemeenskap se belang is, maar dit is soms meer ʼn kwessie van “saam in die kryt” as “saam in die bed” wees!

Huis en tuis

ʼn Bedeling is die somtotaal van al sy instellings waarin en waardeur mense leef. As hierdie instellings verval of oorgevat word, moet ʼn gemeenskap in belang van sy eie voortbestaan nuwe instellings opbou. Dit is soos ʼn huis wat net ʼn tuiste is as daar kamers vir elke gebruik is. Daarom bou ons “kamers”, oftewel instellings, vir veiligheid, werk, dorpsdienste, onderwys, opleiding, maatskaplike sorg, die media en ons taal en kultuur. Hoe hoër ons die mure bou, hoe groter is ons selfbestuur. Hoe vinniger ons dit kan doen, hoe gouer is ons vry van die staatsverval. Ons bou ook nie hierdie kulturele huishouding om ander uit te sluit nie, maar juis om dit vir ons moontlik te maak om veilig saam met hulle in hierdie Suider-Afrikaanse buurt te bly.

Versnelling

Ons plan is wel groter as die probleem, maar dit is nie moontlik om dit alleen uit te voer nie. Dit gaan dan té lank neem, en ons sal ons planne moet versnel. Daarom werk ons aan vennootskappe tussen kultuur en kapitaal waar beleggers ʼn geldelike opbrengs en ʼn kulturele dividend kan kry as hulle saam opbou.

Die mislukking van die sentralistiese bedeling noop ons terselfdertyd om ons federale of selfbestuurplanne in meer besonderhede uit te werk. Ons gaan binnekort ons konsep-federale plan met julle deel vir insette, waarna dit wyd gekommunikeer en dan geïmplementeer gaan word.

Dit is meer gegrond op “volksveelheid” as op volkseenheid omdat ons nie verwag dat almal met alles hoef saam te stem nie. Dit is ook nie nodig om dit waarmee jy nie saamstem nie teen te staan nie. Demokratiese volwasseheid beteken om ruimte vir mekaar se sienings te hê en te bou waaraan jy wil sonder om in ander se pad te staan wat verder of groter wil bou. Ons planne word gevorm deur die bevolkingswerklikhede in die land, wat bepalend is vir die uitvoerbaarheid daarvan.

Die bevolkingsverspreiding en konsentrasies het daartoe gelei dat ons plan ruimte maak vir:
• Landswye ankergemeenskappe waarbinne ons gemeenskap gekonsentreerd bly;
• ʼn Pretoria- kulturele kanton;
• Selfstandige instellings op elke gebied soos wat ons reeds gevestig het;
• Groeiende federalisme in die Wes-Kaap;
• ʼn Internasionale kanton om ons mense in die buiteland te betrek;
• ʼn Orania Kanton-gebied in die weste van die land; en
• ʼn Interkulturele netwerk van kultuurgemeenskappe wat met mekaar saamwerk.

Ons Beweging staan wel voor groot uitdagings, maar dit is terselfdertyd ʼn voorreg om aan oplossings te werk en nie net oor die probleme te kla nie.
Baie dankie vir julle almal se saamwerk, saambou, moedhou en volhou. Ons grootste uitdaging gaan wees om te volhard as dit moeilik gaan. Onthou net – as jy met ʼn groot beer stoei, hou jy nie aan tot jy moeg is nie, maar tot hy moeg is!

Baie sterkte met die bouwerk aan dít wat groter as onsself is.

Flip Buys

Skep moed, dit gaan goed!

(Gelewer op 2 September 2022)

Dames en here
Skep moed, dit gaan goed! Dít is vandag se tema omdat dit in hierdie tye belangrik is om mekaar te bemoedig. Dit is nodig omdat ʼn aansteeklike siekte skynbaar in die land uitgebreek het wat ons kultuur besmet en ons hoop vernietig. Hierdie nuwe virus laat mense valslik glo dat wat mét ons gebeur meer gewig dra as wat óns laat gebeur – anders gestel, dat wat die regering aan ons land doen, belangliker is as wat ons vir onsself doen. Wat hierdie siening ten grondslag lê, is dat die probleem én die oplossing buite ons beheer is. Met alles wat in die land én die wêreld aangaan, is dit seker te verstane. Maar as almal moedeloos raak en begin glo alles is verlore, dan ís dit verlore. En dit is nie so nie.
Die mensdom se ervaring het oor die eeue gewys dat mense nie die willose slagoffers is van die tye waarin hulle leef nie. Ons is nie die gevangenes van ons omstandighede nie. Ons kan nie altyd ons omstandighede kies nie, maar ons kan kies hoe ons daarop reageer en wat ons daaraan doen. Daarom moet ons die swartgallige meesterverhaal dat daar geen hoop vir die toekoms is nie, verander.

Gemeenskapskrag

Dit beteken nie dat dit goed gaan en dat daar niks is om oor bekommerd te wees nie. Dit beteken net dat ons toekoms meer van onsself as van die ANC afhang. Ons sien immers hoe die regering met al hoe meer mag al hoe minder regkry. Daarom moet ons dit in ons beplanning verreken dat die regering nie ʼn moderne land kan regeer nie. Waar staatsbestuur misluk, is groeiende selfbestuur die enigste uitweg. Ons Beweging is tog reeds die bewys daarvan dat ʼn mens nie magteloos is as jy polities magloos is nie. Dis al bewys dat gemeenskapskrag meer kan bereik as staatsmag.
Politieke verandering en staatkundige hervorming is noodsaaklik, maar ons kan nie daarvoor wag nie. As die regering die land in ʼn nagmerrie verander, gaan ons tog nie ons drome laat vaar nie. Daarom sê ons: “Ons sal self” want ons mag, ons kan, ons moet en ons gaan self die verantwoordelikheid vir ons toekoms aanvaar. Maar terselfdertyd sê ons: “Ons sal saam” want ons wil brûe bou en saamwerk waar ons kan.
Die toekoms is vol onvoorspelbare veranderings maar ook vol oorweldigende geleenthede. Daarom het ons Beweging reeds die keuse gemaak om ʼn tweebeenstrategie te volg: om ons gemeenskap teen bedreigings te beskerm en tweedens om geleenthede te skep om ʼn toekoms te bou. Dit is ʼn beskerm-en-bou-benadering, oftewel ʼn skild-en-troffel-strategie.

Optimisme

Die meesterverhaal oor ʼn donker toekoms spruit voort uit regeringsgedrewe staatsverval. Daarom moet ons begrip hê daarvoor dat mense soms moedeloos raak. As ek sê ons moet hierdie meesterverhaal verander, bedoel ek nie dat ons ʼn feëverhaal moet verkondig wat die werklikhede in die land ontken nie. Nee, ek bepleit ʼn weldeurdagte, realistiese optimisme wat die werklikhede deeglik verreken maar wat terselfdertyd ons gemeenskap se historiese vermoë om krisisse te oorkom ten grondslag het. Dit is roepingsgedrewe opbou teenoor staatsgedrewe verval. Die voorwaarde hiervoor is die herstel van Afrikaners se gesonde kulturele selfvertroue. Dit is wat ons in staat gaan stel om die kulturele kapitaal en energie op te wek wat noodsaaklik is vir ons groot projek om suksesvol te wees.

Die vereiste vir sukses is dat ons planne groter as die probleem moet wees en dat ons dit vinniger moet uitvoer as wat dinge verval. Dit is ʼn reuse-uitdaging wat ons net te bowe sal kan kom as ons die Afrikaners op groot skaal kan besiel om nie net bydraers te wees nie maar begeesterde saam-bouers. Ons sal self maar ons kan dit nie alleen doen nie. Ons het mekaar nodig.

Daarom sal ons die meesterverhaal moet verander. As ons mekaar net moedeloos praat oor alles wat verkeerd loop, is ons deel van die probleem en nie van die oplossing nie. Dan help ons die EFF om Afrikaners landuit te verdryf. Ons uitdaging is om mense te begeester met wat ons besig is om op te bou, eerder as om net saam te praat oor alles wat verval. Daarmee ontken ons nie die werklikhede nie maar erken ons dat die geskiedenis bewys dat oplossings moontlik is.

ʼn Klein volk moet groot dink en groot doen om sy voortbestaan te verseker, het dr. Anton Rupert gesê. Daarom moet ons meer van onsself dink en meer van onsself verwag – wat nie ʼn luide meerderwaardigheid beteken nie maar ʼn stille selfvertroue wat weet waartoe ʼn mens in staat is. Ons weet nie altyd wat en hoe en waarmee nie maar ons weet dat dr. Rupert gesê en bewys het dat waar daar ʼn wil is, die wil die weg word.

Beskawing

ʼn Beskawing of ʼn kultuur kan net voortbestaan as elke geslag vir die volgende een leef en nie net op sy eie korttermynbelange en -uitdagings ingestel is nie. Daarom werk ons as Beweging nie vir die volgende verkiesing nie, maar beplan en bou ons vir die volgende geslag. Ons bou aan die kulturele infrastruktuur om volhoubaar vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika te kan voortbestaan. Dit sal ons in staat stel om ʼn blywende bydrae tot die land en al sy mense te kan lewer. Ons bou nie hierdie kulturele ruimtes om onsself apart af te sonder of om ander uit te sluit nie maar juis sodat ons ʼn tuiste het om saam met ander hier te kan bly. Hierdie kulturele tuiste is nodig omdat ons net ʼn normale toekoms wil skep en nie omdat ons na die verlede wil terugkeer nie. Ons verlang immers nie na die verlede onder die Nasionale Party nie, maar sien nie uit na ʼn toekoms onder die ANC nie.

Afrikaners mag aan ons eie kant wees – dit maak ons nie “onkant” nie. As die woord “Afrikaners” vroeër soms met hoofletters gespel is, regverdig dit nie dat ons as gemeenskap nou moet ontbind of kulturele selfmoord hoef te pleeg nie. Dit is nog van geen volk of gemeenskap verwag nie, selfs die Duitsers het net vier jaar ná die Tweede Wêreldoorlog weer hul vryheid teruggekry. Daarom mag ons nie ʼn streep deur ons geskiedenis trek nie maar moet ons dit juis “terugvat” van diegene wat dit kriminaliseer, nie omdat ons dit wil verheerlik nie maar net omdat ons dit wil normaliseer.
Afrikaners het nie oor die oseane gevaar, supermoondhede aangevat, ʼn land opgebou, ʼn taal en kultuur ontwikkel, skole en universiteite gestig, sakeryke opgebou en wêreldklas-prestasies behaal net om nou ondergekry te word deur ʼn korrupte, onbevoegde en rassistiese regering nie. Ons is burgers, nie onderdane nie. Daarom moet ons regtig beter doen want ons kinders verdien beter!

Besembos
Ek wil afsluit met die laaste strofe van Totius se gedig oor die taaie “Besembos”:

Maar al slaan om my stam die woedende vlam
wat knett’rende vonke saai;
al kom al die winde, die kwalik gesinde,
om my as uit die wêreld te waai;
al kom ook die dier om sy eetlus te vier; al word ek gekap en gekloof;
al word ek gestowe deur die son daarbowe
wat my laaste sappe wil roof;
nogtans sien ek my hoogte in die vreeslikste droogte
met my altyd groenende top;
en word my wortels verduur én droogte én vuur,
ja ek staan uit my as weer op.
Laat dan mense en diere, droogte en viere,
met al wat hul kwaad wil versin,
maar kom om te kap, te brand en te trap –
ek leef en sal lewe; my dood kry is min!

Ons gaan die toekoms hê wat onsself skep. Kom ons skep moed want dit gaan goed. Kom ons oortuig ons mense om nie langer op die regering te wag nie maar om hierdie opbouprojek te waag. Ons toekoms word nie bepaal deur wat ander aan ons doen nie maar wat ons vir onsself gaan doen.

Flip Buys

Toekomsbeeld: Kongrestoespraak 1999

(Flip Buys het hierdie toespraak op 27 Januarie 1999 aan die Nasionale Raad van die Mynwerkersunie gelewer)

“Dit is 27 Januarie in die jaar 2013.

Die MWU President staan op, en verwelkom die skare teenwoordiges by die Unie se honderdste Kongres.

Hy gee ‘n oorsig oor die geskiedenis van die Mynwerkersunie die afgelope 100 jaar, en lê klem op die rol wat die Unie telkens gespeel het wanneer die volk in nood was.

‘n Mens kon ‘n speld hoor val toe hy kom by die swaar jare na die 1999 verkiesing, toe die nuwe ANC President met koorsagtige spoed die revolusie tot op grondvlak déúr gestoomroller het.

Dan begin hy vertel van die waterskeidings kongres van 1999, toe die afgevaardigdes besluit het om daadkragtig ‘n eie toekoms te begin skep …

Die MWU het vandag meer as 250 000 lede, waarvan byna die helfte werksaam is in die vakbond se eie fabrieke, banke, hospitale en klinieke, skole en ander besighede. Duisende jongmense voer ‘n florerende bestaan op die Unie se korporatiewe “kibbutz” plase, waar hulle franchises gekoop het en nou vars landbouprodukte aan die Unie se voedsel fabrieke lewer. Pensioenarisse woon veilig en sorgvry in aftree oorde wat deur die Unie se konstruksiefirma opgerig is, bewaak deur jongmense van die Unie se Werda Sekuriteit onderneming.

Ten spyte van baie ander probleme in die land, was die MWU ‘n merkwaardige suksesverhaal wat daarin geslaag het om ‘n veilige toekoms vir sy lede en hulle volk te skep.

Hoe het dit alles gekom? Dit kon so anders gewees het. Die mense raak opnuut stil toe hy vertel hoe dit alles gebeur het … Die jaar 1999 het vir die meeste Afrikaners uitsigloos begin. Die mense was polities vuisvoos – hulle taal, skole, en woongebiede het deurgeloop onder die ANC regering se nuwe beleidsrigtings. Misdaad het hoogty gevier, en duisende blankes is uit die arbeidsmark gedruk deur nuwe wette en maatskappy beleidsrigtings oor “regstellende aksie.” Die media het die Afrikaner óf verguis óf ignoreer, en benewens die ekonomiese melkkoei van die land het hulle geen rol meer gespeel nie. Blankes en Afrikaners het tweedeklas burgers in hul eie land geword, ontmagtig en hulle belange op elke terrein oorweldig deur die “demokratiese” meerderheidstem.

Groot verwarring en verdeeldheid het onder die mense geheers, die meeste onbetrokke en sonder belangstelling hul eie toekoms, en emigrasie praatjies was algemeen. Die volk het koud teenoor politieke partye gestaan, die meeste kultuurbewegings se fut was uit, die sakereuse het saam met die regering gedraf – daar was ‘n totale gebrek aan ‘n nasionale toekomsvisie.

Niemand sou kon droom dat ‘n vakbond hierdie keer die enjin van die Afrikaner se nuwe Renaissance of herlewing sou wees nie. Die meeste Afrikaners en blankes het afsydig teenoor vakbonde gestaan, omdat blankes nog altyd deur goedgesinde regerings beskerm was, en omdat baie mense negatief teenoor vakbonde was as gevolg van die stakings geweld en ander optredes van sommige vakbonde.

Maar die tye het verander. Die staat en groot maatskappye se beleid het nou op groot skaal teen blankes begin diskrimineer. Omdat die Afrikaner nie meer die land regeer het nie, het sy tradisionele organisasies wat van staatsmag en regeringshulp afhanklik is nou magteloos en irrelevant geword. Die ou leiers se idees het opgeraak, en hulle organisasies het lam en lusteloos geword. Die mense het na nuwe oplossings begin soek.

“‘n Vakbond is die mees effektiefste vorm van organisasie”

Die MWU se 1998 Kongrestema “Bou die vakbond, bou die toekoms,” en die besluit oor ‘n arbeidsbeweging, het aanvanklik nie groot aandag getrek nie. Dit het die volk lank gevat om Dr Albert Hertzog se 1948 uitspraak e verstaan- dat ‘n vakbond die mees effektiewe vorm van organisasie is. Hierdie uitspraak het ‘n nuwe inhoud aan die MWU se Kongrestema van daardie jaar gegee: Die vakbond moet uitgebou word, om dan die toekoms daarmee te bou.

Die krag van die Unie se sterk organisasie netwerk het uit verskeie faktore gespruit. Die basis van die MWU se landswye infrastruktuur was gesetel in die groot bedrywe: mynbou-, elektries- staal en ingenieurs-, chemies- en telekommunikasie. Die werksplek gebaseerde strukture van ‘n vakbond het die voordeel dat lede vir minstens 8 ure daagliks bymekaar getrek is.

Hierdie groot konsentrasie van mense maak dit makliker om te organiseer en met hulle te kommunikeer.

Arbeidsbeweging

Die omskepping van die MWU vanaf ‘n gewone vakbond na ‘n Arbeidsbeweging het beteken dat die Unie steeds 100% vakbond moes bly, maar sy tradisionele rol en funksies moet uitbrei na sake soos werkskepping, onderwys en maatskaplike hulp.

Die uitbreiding van die MWU se tradisionele rol en funksies was genoodsaak deur die veranderde omstandighede in die land. Die blanke en Afrikaners was sonder politieke en ander mag nou as’t ware geprivatiseerde burgers wat alles vir hulself moes doen. Die staat het afsydig en selfs vyandig teenoor hulle gestaan, en die enigste pad oop was nou dat die Afrikaner sy toekoms moes skep- niemand ander sou dit vir hom doen nie.

Die insinking of selfs verbrokkeling van Staats funksies veral vanaf 1999 soos onderwys, gesondheid en mediese dienste, veiligheid en werksverskaffing het dit noodsaaklik gemaak dat die Westerling vir homself alternatiewe op elke terrein moes skep as hy sy standaarde wou handhaaf of verbeter.

Histadrut

Gebaseer op die model van die Israelse super vakbondbeweging, die Histadrut, het die MWU leierskap aan die dink en doen gegaan in ‘n reeks “doenskrums” oor sake soos werkskepping, onderwys en ekonomiese bemagtiging.

Met die wekroep van: “Ons plan is ons magsbasis,” is daar saam met ander kenners ‘n plan op elke gebied opgestel: arbeidsterrein, werkskepping, onderwys en ekonomiese bemagtiging.

Die eerste stap was die uitbreiding en uitbouing van die vakbond op elke terrein. Groot lede werwingsveldtogte is van stapel gestuur, ‘n opleidings offensief is geloods, ‘n gelyke geleentheid veldtog is afgeskop, en talle nuwe inisiatiewe is op arbeidsterrein begin. Daarbenewens is die vakbond se infrastruktuur uitgebrei, ekstra personeel aangestel, toerusting en tegnologie opgradeer, en die diens aan lede verder opgeknap.

‘n Belangrike mylpaal was die loodsing van Uniklub, ‘n spesiale afdeling vir individuele lede binne die MWU. Nou kon mense uit enige bedryf by die Unie aansluit, en duisende het dit dan ook gedoen tydens Uniklub se groot bemarkingsveldtog van 1999. Individuele lede wat nie by groot maatskappye gewerk het nie, is op groot skaal gewerf, omdat die verbreding van die vakbond se funksies beteken het dat die vakbond nou ook aan hulle ‘n diens kon lewer.

Mobilisasie van kapitaal

‘n Nuwe fase het aan die einde van 1998 begin met die stigting van ‘n Finansiële Dienstegroep dmv ‘n vennootskap met finansiële- en ekonomiese kundiges. Die doel van Unifonds as tweede been van die Unie was om uitgebreide finansiële dienste aan lede te bied, en terselfdertyd kapitaal te mobiliseer wat in werkskepping projekte ingeploeg kon word.

Unifonds het begin met die hele spektrum van versekeringsdienste, en vroeg in 1999 is ‘n nasionale MWU Pensioenfonds geloods. Hierdie fonds het nodig geword toe AA aanstellings op die beheerliggame van Pensioenfondse en die vigs gevaar die risiko van werkgewer gebaseerde pensioenfondse te groot gemaak het. Die MWU het vooraanstaande ekonome as trustees van die nasionale Pensioenfonds aangestel, en die administrasie van die fonds toegeken aan ‘n bekende Versekeringsmaatskappy. Die Fonds het jaarliks puik presteer, omdat die risiko poel (lede) van die fonds gesond was, die beleggings aan die beste Finansiële maatskappye toegeken was, en die beleggings maatstawwe net veiligheid en opbrengs was.

Die sowat 5% van die fondse wat in werkskepping projekte belê is, is op ‘n streng sakegrondslag gedoen, en het bogemiddelde opbrengste gelewer. Die beleggings wat in media groepe en ‘n privaatonderwysfirma gedoen is, het benewens ‘n puik opbrengs ook strategies baie vir die Unie se lede en hulle kinders beteken. Nog ‘n gewilde aspek van die nasionale fonds was dat lede lewenslank aan die Pensioenfonds kon behoort. Lede het dus niks verloor as hulle van werkgewer verander nie.

Bankdienste

Die MWU het ‘n bankdiens na die lede se werksplek gebring, dmv ‘n vennootskap met ‘n volkseie bank waarin die MWU ‘n stewige aandeel besit het. Huis- en motorfinansiering kon teen uiters gunstige rentekoerse gedoen word, omdat dit op ‘n groep basis gereël was, en omdat die moontlikheid van slegte skuld feitlik totaal uitgeskakel was vanweë die afbetalings metode deur die betaalstate.

Mediese sorg

Vanaf die jaar 2001 het die Unie ‘n nuwe era in mediese sorg betree, toe hospitale en klinieke deur die Nasionale Pensioenfonds en die MWU se mediese filiaal, Unimed, aangekoop is waar daar genoeg MWU lede in die dorp of omgewing was. Hierdie beleggings is op ‘n sakegrondslag gedoen, maar het aan lede en hul gesinne ‘n gehalte diens teen afslagpryse verskaf. Talle werksgeleenthede vir lede se kinders is hiermee geskep, en siek lede en pensioenarisse is nou deur hul eie mense versorg.

Verskeie ander afdelings van die Finansiële Dienstegroep het mettertyd die lig gesien. Die doel van ‘n Eenstop finansiële diens aan lede en volksgenote is reeds teen die einde van die jaar 2000 verwesenlik.

Werkskepping sentrum

‘n Nuwe era is in 1991 begin toe die MWU ‘n werkskepping sentrum begin het. Die Nasionale Werkskepping fonds was die kern van die sentrum, wat fondse beskikbaar gestel het vir talle werkskepping- en besigheid projekte. ‘n Netwerk van goedgesinde sakemanne en ekonome het die Unie op hierdie gebied adviseer.

Die Unie se personeel agentskap, Werknet, en ‘n eie Arbeids makelary het met die hulp van die Unie se sterk organisatoriese en kommunikasie infrastruktuur werk vir duisende mense bekom. Duisende jongmense het ook vinnig in hul loopbane gevorder nadat hulle met die Unie se hulp in die intree posvlakke werk gekry en so die regstellende teikens deurmekaar gekrap het.

Die werkskepping sentrum se groot Opleidings afdeling het vanaf die jaar 2002 ‘n stroom gekwalifiseerdes aan die ekonomie gelewer.

Die beleggings arm van die MWU het waarlik gehelp om die geskiedenis te skryf. Unibel is in 1999 gestig, en het aan lede en volksgenote op vrywillige basis die kans gebied om maandelikse beleggings in winsgewende projekte te doen. Dit was ‘n tipe effektetrust, en is verder befonds deur die opbrengste vanaf die Finansiële Dienstegroep, Unifonds.

Unibel se beleggings filosofie het op drie pilare gerus, naamlik opbrengspotensiaal, ledevoordeel en werksverskaffing.

Met hierdie maatstawwe as riglyn is begin om te belê in Kubbutzplase, Nywerheidskorwe en Aftree oorde vir Voortsettingslede. Unibel se suksesresep was te danke aan die strategie van vennootskappe wat gesluit is met kundiges op elke gebied waar Unibel betrokke wou raak.

Dit het die voordeel gehad dat Unibel nie in die bestuur en bedryf van elke firma of projek wat hy geïnisieer het betrokke hoef te raak nie. Goeie beleggingsopbrengste kon op hierdie manier verkry word, terwyl Unibel uit ‘n projek kon onttrek wat nie aan die verwagtings voldoen het nie.

Werk is op hierdie manier aan duisende jongmense verskaf, terwyl lede se kinders die voorkeur by indiensneming gekry het solank hulle aan die minimum posvereistes voldoen het.

Nywerheidskorwe is aanvanklik in en om die groot stede begin, maar is later ook op die platteland gevestig. In hierdie korwe is die basiese infrastruktuur aan ondernemers verskaf, wat dan verskillende ondernemings hier begin het. Unibel het aandele in verdienstelike ondernemings opgeneem, en talle lede se kinders is van werk voorsien.

Kibbutzplase

Die MWU het op advies van Landbou ekonome die Histadrut se Kibbutzidee omskep in ‘n Koöperatiewe plaas model om aan te pas by Suid-Afrikaanse omstandighede. Talle mense het boerdery “franchises” gekoop, waar vir eie rekening op mikroplasies geboer is, maar waar koöperatief saamgewerk is wat aankope, produk bemarking en uitvoere, behuising en finansiering betref. Die nuutste besproeiings-, tonnel- en landboutegnologie is gebruik, en landbou voorligters het die boere van waardevolle advies bedien.

Tot 15 jongmense is op ‘n een hektaar tonnel van werk voorsien. Meganisering, outomatisering en rekenarisering is op groot skaal ingespan, wat die minimum hande arbeid nodig gemaak het. Jongmense wat daar gewerk het was eerder landbou tegnici as plaasarbeiders. Die plase is aanvanklik gefinansier deur beleggings van die MWU se Nasionale werkskepping fonds, terwyl mense wat pakkette gevat het franchises gekoop het vir hulle of hul kinders.

Die tweede en ‘n baie opwindende fase van die Kibbutzplase het in 2002 begin. Agri-nywerhede wat die produkte wat op die plase verbou is, verwerk het, is begin. Die MWU se Unibel het nou ‘n Nywerheidsarm begin wat werk aan nog meer jongmense verskaf het. Baie lede wat pakkette gevat het, het aandele in hierdie verwerkings fabrieke gekoop, en was sodoende geregtig op ‘n pos vir hulself of ‘n familielid wat aan die posvereistes voldoen het.

Unibel se Konstruksiefirma het die fabrieke opgerig, en in dieselfde jaar ook begin met die bou van skole vir die kinders van die werkers, ‘n hospitaal en ‘n aftree oord. ‘n Sekuriteit firma om die besighede op te pas is begin en het werk aan werklose mense verskaf. ‘n Baie gewilde vakansieoord is ook ontwikkel vir lede en hul gesinne.

Jongmense is deurlopend aangemoedig om self ondernemers te word en Unibel het ‘n spesiale fonds gestig om verdienstelike projekte te finansier. Groot visboerderye, hoender plase en ‘n vleis inmaakfabriek het uit hierdie inisiatiewe ontstaan.

Die MWU se plase en fabrieke het mettertyd ‘n alternatief vir immigrasie van jongmense geword, omdat dit ‘n tuiste gebied het aan mense wat andersins ‘n toekoms in die buiteland moes gaan soek. Die Unie se streng beleid van volkseie arbeid het verhoed dat laag geskoolde arbeid weer die areas oorstroom, en het die werksgeleenthede vir ons eie mense verseker.

Onderwys

Die MWU het in die jaar 2000 ‘n onderwysarm in samewerking met volkseie onderwys liggame gestig om bekostigbare en gehalte privaat onderwys te verskaf in gebiede waar dit nodig geword het. Moderne onderwys tegnieke en -tegnologie is ingespan om die koste van onderwys te verminder en gehalte en standaarde te verseker. Die Unie het ook sy bedingingsmag ingespan om goedkoop klas geriewe by groot maatskappye te beding en skool subsidies vir lede se kinders te verkry. Die MWU Onderwys netwerk het vanaf die jaar 2001 vinnig oor die land versprei nadat die gevolge van die nuwe onderwysbeleid begin deurwerk het. Die skole word bedryf op ‘n netwerk basis, deur onderwys agentskappe aan goedgekeurde ondernemers en onderwys kundiges te verkoop.

Histadrut

Die MWU het homself herontwerp, sy tradisionele rol versterk, maar ook sy rol en funksies suksesvol verbreed volgens die model van die Histadrut. Die Unie se visie van ekonomiese bemagtiging buite die party-politieke terrein het die volk se verbeelding aangegryp in ‘n tydperk van uitsiglose toekomsloosheid.

In die gees van die 1999 Kongrestema, “Skep jou eie toekoms,” het unieverteenwoordigers, lede en unie personeel eendragtig skouer aan die wiel gesit om hierdie toekomsdroom ‘n werklikheid te maak …

Die President gaan sit na sy toespraak en kyk op sy horlosie. Dit is tyd vir die volgende item op die sakelys. Daar moet nou beplan word vir die volgende honderd jaar. Die toekoms staan nie stil nie …

Daar is niks so magtig as ‘n idee waarvoor die tyd ryp is nie. Met die hulp van Bo, lê ons toekoms in ons eie hande, soos Vader Kestell gesê het, ‘n volk red homself!

Die vraag is: Gaan ons die uitdaging aanvaar?”

Dis tyd om nuut te dink en te doen

Albert Einstein het gesê dat dit die toppunt van dwaasheid is om dieselfde ding herhaaldelik te doen, en dan ‘n ander uitkoms te verwag. Hierdie wysheid is nou baie toepaslik in Suid-Afrika. Miljoene kiesers het so pas vir die sesde verkiesing sedert 1994 vir dieselfde regering gestem onder wie se bewind werkloosheid volgens Statssa so pas weer rekordhoogtes bereik het. Daar’s nou ‘n skrikwekkende 20 miljoen mense van werkende ouderdom in die land wat werkloos is of nie besig met studies is nie! Dis ongelukkig nie al nie. Volgens die gesaghebbende ekonomiese kanaal Bloomberg, het Suid-Afrika die afgelope 12 jaar meer agteruitgegaan as enige ander land wat nie in ‘n oorlog was nie. Die jongste verslag van Eunomix Business & Economics wat Bloomberg aanhaal, is dat Suid-Afrika volgens ‘n wye reeks aanwysers vanaf 31ste in 2006 na die 88ste posisie uit 178 lande teruggesak het. Bloomberg verwag ook dat die agteruitgang sal voortduur vanweë die gevolge van die Zuma-era en die versuim om noodsaaklike beleidsveranderings te maak.

Ten spyte daarvan het die meeste kiesers weer vir die ANC gestem. Dis waarskynlik omdat hulle glo dat president Ramaphosa die enigste persoon is wat die rampskade van die Zuma era kan herstel en hulle lewens kan verbeter. Die probleem is dat die ANC nou wel ‘n nuwe leier gekry het, maar dat dit nog dieselfde ANC met dieselfde beleid is. Daarom sê die politieke wetenskaplike, Dr James Myburgh, dat dit nie moontlik is om uit die huidige krisis te kom met dieselfde ideologie en beleid wat die land tot op die rand van die afgrond gesleep het nie.

Plan A, B en C

Daarom is dit nou tyd vir nuut dink en nuut doen. Die uitdaging is dat die ANC landsbeleid bepaal, en dat die verkiesing weereens bewys het dat die meerderheid vir “hulle” party se identiteit eerder as sy beleid stem. Natuurlik hoop almal dat mnr Ramaphosa wel beter sal regeer, grootskaalse korrupsie gaan beveg, en weer sakevertroue sal laat verbeter. Dit kan as “Plan A” beskryf word. Daar is gelukkig tekens dat die president wel begin optree teen korrupsie, soos gesien kan word in die werk van verskeie Kommissies van Ondersoek, waaronder die Zondo kommissie na staatskaping. Die groot leemte in Plan A is egter dat daar nie genoeg tekens is dat ingrypende beleidsveranderings aangebring gaan word wat noodsaaklik is om die land weer reg te ruk nie. Eskom bly die beste voorbeeld. Ten spyte van hierdie grootskaalse krisis wat die land bedreig, word vanselfsprekende beleidsveranderings soos privatisering, onafhanklike kragopwekking of die aanpassing van drakoniese rassebeleidsrigtings nie aanbebring nie. Dit voorspel niks goeds vir die sukses van Plan A nie, en dit lyk of “meer van dieselfde” die beste is wat hiervan verwag kan word.

Plan C is oorsee

Indien dinge nie gou merkbaar verbeter nie, gaan die stroom kundiges wat landuit vloei al groter groei totdat dit ‘n stortvloed kan word. Dit lei natuurlik tot ‘n bose sirkel, want hoe meer kundiges landuit trek, hoe moeiliker gaan dit wees om ‘n moderne land aan die gang te hou. Dis hoekom die skrywer RW Johnson gesê het dat Suid-Afrika ‘n ANC-regering of ‘n moderne ekonomie kan hê, maar nie albei saam nie. Sy stelling spruit uit die groeiende demodernisering van talle vervalde dorpe, staatshospitale, skole, polisiestasies, openbare ondernemings soos Eskom en staatsdepartemente.

Die wêreldbekende Amerikaanse Politieke Wetenskaplike, Professor Fukuyama, het reeds in 1993 die volgende belangrike standpunt hieroor gestel: ”The main obstacle to black social modernization in the future may well be the belief in socialism on the part of the ANC and its communist allies.

Socialism has always presented itself as a higher and more progressive form of social organization than capitalism.  But in the contemporary world, socialism has been revealed to be an obstacle to social and economic modernization – the hallmark of a certain kind of backwardness that needs to be overcome, just like illiteracy and superstition.  The countries of Eastern Europe are now moving rapidly backward into the future, undoing the legacy of forty years of dictatorship and socialist planning.  Let us hope that South Africa, as it makes the necessary transition to democracy, does not move forward into the past.”

Gegewe die geweldige risiko’s van Plan A en die ewe groot bedreiging van Plan C, is dit gebiedend noodsaaklik dat die Solidariteit Beweging se Plan B in snelrat uitgevoer moet word. Dit sal verseker dat ons top mense en ons kinders nie landuit stroom nie, omdat daar vir hulle ‘n vry, veilige en voorspoedige toekoms hier sal wees. Dit sal ook Plan A se kanse op sukses verbeter, deurdat dit die ekonomie en die regsorde sal help werk. Ons moet dus help om te sorg dat Plan A nie die land inmekaar laat stort nie, deur die polisie te help met misdaadbekamping deur buurtwagte, deur korrupsie te ontbloot en deur paaie en munisipale dienste in stand te probeer hou.

Plan B

Die risiko om net op die staat se Plan A staat te maak is net te groot. In Zimbabwe het die mislukking van die staat tot ‘n werkloosheidskoers van sowat 90% gelei, en is duisende mense se pensioene uitgewis deur die hiperinflasie van miljoene persent. Genadig is Suid-Afrika nog ver van daardie nagmerrie, maar ons sit self reeds met ‘n krimpende werksmag waar poste net volgens ras herverdeel word sonder dat daar naastenby genoeg nuwe poste geskep word.

Die werklikheid is dat die staat verswak, en nie meer goeie betroubare dienste aan die bevolking kan lewer soos veiligheid, gesondheid, elektrisiteit en behoorlike munisipale dienste nie. Die verswakkende staat het oor die afgelope 7 jaar sowat 1 miloen poste vernietig, terwyl miljoene ander nooit geskep kon word nie. Daarom het die privaatsektor oor die afgelope 25 jaar al meer privaatdienste begin lewer, soos privaatmedies, privaatsekuriteit en selfs privaatdorpe met betroubare dienste. Hierdie privatisering het waarskynlik reeds voorkom dat die staat heeltemal verval het. Die voortdurende aanvalle op Afrikaanse skole wys reeds dat die toekoms van Afrikaanse skole privaat is, hoewel die openbare skole so lank as moontlik aan die gang gehou moet word. Privatisering van dienste waarvoor werknemers reeds belasting betaal is egter vir die meeste mense onbekostigbaar, en dis hoekom ons plan op bekosigbare gemeenskapsdienste gegrond is. Hierdie dienste kan in samewerking met die privaatsektor geskied, terwyl daar ook waar moontlik met die staat saamgewerk kan word.

Gemeenskapsdienste

Die Solidariteit beweging se Plan B behels in kort om ons afhanklikheid van die staat stelselmatig te verminder en deur sterk selfhelporganisasies groeiende selfstandigheid te bewerkstellig. In die praktyk het ons reeds ver daarmee gevorder, en bied ons beweging met ‘n kern van voltydse personeel en met die hulp van duisende vrywilligers, ‘n wye spektrum dienste aan. Dit sluit onder meer veiligheid, munisipale diensverbetering, tegniese opleiding, ‘n universiteit, Afrikaanse media, maatskaplike versorging, studiehulp aan duisende studente, regsbystand, buitelandse steunwerwing en steundienste aan skole in. Solidariteit se beplande Netwerk van werk is die volgende opwindende fase van Plan B.

Die uitdaging bly om staatsdienste sonder staatsinkomste of ‘n staatstruktuur te lewer, midde in ‘n verswakkende staat en onder ‘n negatiewe regering. Daarom sal ons nuut moet dink en nuut moet doen, want vir die oplossing om te slaag sal dit groter as die probleem moet wees. Hoewel ons planne regmatig en geregverdig is, kan ons nie wag op vooraf toestemming nie, maar sal ons eerder na die tyd erkenning moet vra vir dit wat in die praktyk opgebou is. Ons toekoms is te belangrik om aan die ANC oor te laat!

(Bron: Solidariteit Tydskrif Mei 2019)

Die Afrikaner se 2030-droom

Dit is 10 Oktober 2030. Die groot dag het uiteindelik aangebreek. Die Suid-Afrikaanse regering teken vandag ’n omvattende kultuurakkoord waardeur Afrikaners se selfbestuur amptelik erken word. Die akkoord is in wese die erkenning van die uitgebreide kulturele selfbestuur wat Afrikaners reeds in die praktyk met sterk selfdoenorganisasies verwerklik het.

Dit het alles begin met die Toekomsberaad van 10 Oktober 2019, toe daar besluit is dat groeiende selfbestuur die enigste antwoord vir die mislukking van staatsbestuur is. Afrikaners het destyds besluit om nie langer te wag dat dinge vanself regkom nie, maar om ’n kulturele selfdoenplan te waag. Hulle het geweet dit sal nie help om vooraf toestemming te probeer vra nie, maar dat hulle op wettige wyse praktiese werklikhede sou moes skep en ná die tyd erkenning daarvoor sou kry.

Hoewel die Grondwet ruimte vir selfbestuur gehad het, wou die regering dit nie van “bo” af gee nie en het Afrikaners dit van “onder” af boontoe gebou. Die verwesenliking van selfbestuur was dus nie ’n eenmalige gebeurtenis nie, maar het deur ’n proses van groeiende selfbestuur geskied.

Die ankerdorpstrategie en konsentrasieplan het gaandeweg Afrikaners se verbeelding aangegryp. Die deurslag het gekom toe die besef wyd posgevat het dat die uitdaging nie ons klein getalle is nie, maar ons yl verspreiding. Die verval van die meeste dorpe en plattelandse gebiede het tot ’n nuwe “Groot Trek” gelei na waar Afrikaners in sowat 30 streekdorpe en -stede saamgetrek het. Die groter getalle op minder plekke het dit makliker gemaak om dienste soos skole, opleidingsentrums, veiligheidstelsels, munisipale dienste, maatskaplike sorg en werkverskaffing daar te konsentreer.

 

Staatkundige argitekplan

Die model vir die staatkundige “argitekplan” wat as die bloudruk van die selfbestuursprojek gebruik is, het uit ’n driehoek met vyf vlakke bestaan.

 

  • Persoonlik: Die basis van die driehoek was die beskerming en die bevordering van die persoonlike regte en vryhede van Afrikaners, ongeag waar hulle gebly het.
  • Instellings: Die tweede vlak was die uitbou van die veiligheids-, munisipale, maatskaplike, werk-, onderwys-, opleidings- en ander instellings en organisasies waarmee selfbestuur gebou is.
  • Dorpe: Dienste soos veiligheid, water, maatskaplike hulp en ander noodsaaklike dienste is vanaf stede en groter ankergebiede aan Afrikaners in klein dorpe gebied.
  • Ankergebiede: Die groter getalle Afrikaners in hierdie 30 stede en dorpe het dit moontlik gemaak om ’n omvattende verskeidenheid dienste te verskaf.
    • Kantons: Die vlak van selfbestuur het om verskillende redes die hoogste in drie gebiede onwikkel, naamlik Pretoria, die Suid-Kaap en die Orania-gebied. Pretoria se groot getalle Afrikaners het gehelp om dienste daar te ontwikkel wat in Switserse kantons aangetref word. In die Suid-Kaap het genoegsame getalle en sterk gemeenskapsenergie dit moontlik gemaak, en in Orania en die omgewing rondom die Vanderkloofdam het die bevolkingsamestelling dit vir Afrikaners moontlik gemaak om met 15 000 mense ’n bepalende meerderheid in die gebied te vestig.

 

Magsbalans

Hoewel die ANC-regering aanvanklik alles in hulle vermoë gedoen het om Afrikaners se regmatige strewe na kulturele vryheid en selfbestuur te dwarsboom, het die vermoë van die staat só vinnig afgeneem dat hulle dit nie meer kon keer nie. Daarby het die land se krisis so verdiep dat die ANC dit nie kon waag om Afrikaners as wetsgehoorsame en belastingbetalende gemeenskap so te vervreem dat spontane belastingboikotte die staatskas se kraantjie nog kleiner kon draai nie. Groeiende buitelandse druk uit veral Europa en die VSA, en die buitelandse beleggingsgemeenskap se waarskuwings dat die regering opgeleide minderhede nie verder moes vervreem nie, het die regering se beweegruimte verder beperk. Saam met die groeiende protesaksies van Afrikaners wat nie langer bereid was om net onderdanige melkkoeie te wees sonder bepalende inspraak oor sake wat hulle raak nie, het die gesamentlike gewig van al hierdie faktore die magsbalans teen die ANC begin swaai.

 

Ontwikkelingshulp

Die buiteland se aanvanklike ontnugtering met die ANC het gaandeweg verskuif na praktiese steun vir Afrikaners. Hoewel dit begin het by Europese state se beleidstandpunte teen onwettige ANC-wetgewing soos dié oor onteiening sonder vergoeding, het die regering se miskenning van Afrikaners se menseregte tot finansiële steun vir Afrikaanse onderwys en opleiding gelei. Daar was ná ’n paar jaar ook ’n deurbraak op munisipale vlak, toe ’n hele paar buitelandse dorpe en stede “tweelingstad”-ooreenkomste begin sluit het om van die aangewese ankerdorpe met ontwikkelingsprojekte te help. Die feit dat hierdie hulp deur die Afrikaner-dorpforums gekanaliseer is, het meegewerk dat die ontwikkelingshulp doeltreffend gebruik is en ’n groot verskil gemaak het. Dit het die Solidariteit Beweging ook gehelp om brugbouprojekte na ander gemeenskappe te finansier deur byvoorbeeld noodsaaklike dienste te verskaf.

Mense het besef dat daar ’n regstreekse verband is tussen vryheid, veiligheid en voorspoed. Sonder vryheid is ’n kultuurgemeenskap se veiligheid en voorspoed afhanklik van ’n vyandige regering. Veiligheid en voorspoed kan net deur vryheid gewaarborg word. Sonder vryheid kan mense moeilik hulself beveilig en is hulle voorspoed in gedrang omdat die regering hulle pensioengeld kan gebruik of hulle eiendom sonder vergoeding kan onteien.

 

Medepligtiges pleks van slagoffers

Kiesers wat aanmekaar vir ’n swak regering stem wat almal in die land laat ly, is nie slagoffers nie, maar medepligtiges. Die Solidariteit Beweging kon nie sonder staatsinkomste oral verantwoordelikheid vir alles en almal aanvaar nie.

Die suksesresep was dat daar nie tyd was om te wag tot almal soos ’n hegte eenheid saamstem nie, want vordering lei vinnig tot ’n samebindende eenheid. Afrikaners het opgehou om mekaar moedeloos te maak oor wat in die verlede gewerk het of in die hede afgebreek is, en het mekaar eerder begeester oor wat in die toekoms gebou kan word. Afrikaners het saam gebind, saam gebou, saam beskerm, met die owerhede beding en brûe na ander gemeenskappe gebou. Dit beteken nie dat daar volkome eenstemmigheid was nie. Die klem is net op “volksveelheid” eerder as “volkseenheid” geplaas, wat beteken het daar was ruimte vir verskille, maar dat dit waaroor verskil is, nie tot verlammende verdeeldheid gelei het nie. As mense nie met iets saamgestem het nie, het hulle dit minstens nie teengestaan nie.

 

Kuberkanton

Dít was die resep waarmee Akademia tot ’n wêreldklas universiteit in Afrikaans uitgebou is, met internasionale bande met verskeie universiteite in die VSA, Wes- en Oos-Europa en privaat universiteite in Afrika. Daarmee saam is Sol-Tech tot ’n omvattende beroepsopleidingskollege uitgebou, het Solidariteit ’n hele netwerk van werk ontwikkel, het Afrikaans weer tot ’n volle funksionele taal herleef, is daar saam met vennote ’n landwye netwerk onafhanklike Afrikaanse privaat skole ontwikkel, het AfriForum se buurtwagte en sekuriteitsmaatskappy misdaad onder beheer gebring, het Afrikaanse gemeenskapsmedia miljoene lesers en luisteraars in ’n gemeenskap saamgebind, het die ankerdorpe ligpunte midde-in die verval van baie ander geword, het finansiële steun vir Afrikaner-selfbestuur deur die kuberkanton ingevloei vanaf ondersteuners wêreldwyd, het Afrikaanse sakelui deur goed georganiseerde sakekringe werk aan jongmense gegee, het ’n digitale geldeenheid Afrikaanse koopkrag mobiliseer, het ’n genoteerde eiendomsmaatskappy landwyd leefruimtes vir Afrikaans en beleggingsgeleenthede geskep, het die drie Afrikanerkantons praktiese selfbestuur begin geniet, het Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike sambreel duisende verdienstelike behoeftiges landwyd bygestaan, en is sterk bande met die Afrikanerdiaspora gebou tot wedersydse voordeel.

Die somtotaal van al hierdie ontwikkelings was dat die omstandighede geskep is waarin Afrikaners ook blywend vry, veilig en voorspoedig in Suider-Afrika kon en kan voortbestaan, tot voordeel van hierdie landstreek en al sy mense. Dit was die hoofrede hoekom die regering uiteindelik nie anders kon nie as om die werklikheid van selfbestuur wat opgebou is, formeel te erken.

Hierdie geskiedkundige gebeure het weer die waarheid bewys van Daniel Burnham se stelling:

“Moenie klein plannetjies maak nie; dit het geen magiese krag om mense te begeester nie en sal nie werk nie. Maak groot planne; mik hoog, onthou dat ’n edele, logiese plan wat een maal uitgespel is, nooit sal doodgaan nie, maar lank nadat ons weg is steeds lewend sal wees, en homself toenemend hardnekkig sal laat geld.”

(Bron: Solidariteit Tydskrif Nobember 2019)

Solidariteit Beweging se bouplan vir volgende 110 jaar

(Hierdie toespraak is in April 2012 gelewer)

Die Solidariteit Beweging is vanjaar 110 jaar oud. Dit maak van die Beweging die oudste politieke beweging in Suid-Afrika. Die Beweging is as vakbond gebore in die hartseer na die Tweede Vryheidsoorlog, het sy eie strydgeskiedenis van onder andere die 1922-staking, was deel van die opstaan van die Afrikaner in die 1930’s. Dit het die apartheidsera beleef en daarna die Suid-Afrika na 1994 betree. Die Beweging se geskiedenis loop dus reeds die afgelope 110 jaar soos ʼn goue draad deur die geskiedenis van Suid-Afrika. Die Beweging kon daarin slaag om op kritieke tye kritieke besluite te neem wat hom die kanniedood van die Suid-Afrikaanse burgerlike samelewing gemaak het. Vandag is die Solidariteit Beweging die sterkste wat hy nog ooit was.

Vir die Solidariteit Beweging is dit nou belangrik om die boublokke in te messel vir die volgende 110 jaar.

Die politiek in Suid-Afrika is onstabiel en mense voel onseker oor die toekoms. Die Solidariteit Beweging gaan hom egter nie onttrek nie, maar aktief begin bou aan ʼn nuwe toekoms. Die doel van die plan is om aan mense hoop te gee.

Dit is ʼn praktiese plan met implementeringsdatums en die vermoë om dit uit te voer. Die driejaarbegroting van die plan is net oor die R1 miljard.

Die plan sê wat hy gaan doen en nie wat hy droom nie.

In die Solidariteit Beweging-bouplan toon ons aan waar ons self verantwoordelikheid neem en waar ons hande vat met ander organisasies wat reeds goeie werk doen. Die Solidariteit Beweging aanvaar daar is talle organisasies wat wonderlike werk doen waarvan ons nie eers bewus is nie. Die bouplan wil ook nie voorgee dat die volle antwoord binne die Solidariteit Beweging lê nie. Die Solidariteit Beweging glo juis nie aan blote eenheid as die antwoord nie, maar aan veelheid. Die Solidariteit Beweging voorsien ʼn netwerk van burgerlike organisasies wat met mekaar praat en mekaar help.

Emigrasie uit onsekerheid is een oplossing vir individue – as ʼn reël geld dit vir elite-individue wat die finansiële en akademiese vermoë het om te emigreer. Die meerderheid mense kan nie of wil nie emigreer nie. Vir hulle moet ʼn antwoord hier gekry word. Die antwoord lê nie in kla nie, maar in doen. Die Solidariteit Beweging gaan dus bly en bou, maar nie stilbly nie.

Die uitvoering van die Solidariteit Beweging se bouplan is die verantwoordelikheid van die instellings van die Solidariteit Beweging.

Die Solidariteit Beweging bestaan uit ʼn heg verweefde netwerk van instellings wat mekaar aanvul en uitbou.

Solidariteit-vakbond

Die vakbond Solidariteit is die paterfamilias van die Solidariteit Beweging en die Solidariteit Beweging is uit die vakbond gebore. Solidariteit is op die Christelike tradisie van die vakbondwese geskoei en het dus ʼn unieke benadering tot die vakbondwese wat verskil van dié van Cosatu. Die hooftaak van die vakbond is om werksekuriteit te verseker, om diensvoorwaardes te verbeter en om onreg in die werkplek uit te wis.

AfriForum – burgerregte

AfriForum is ʼn burgerregteorganisasie. Sy hooftaak is om die burgerregte van sy lede en hulle gemeenskappe te beskerm. Dit word gedoen deur regte op te eis en regte te beskerm. Dit word nie net in die hof gedoen nie, maar ook deur strukture in gemeenskappe te vestig.

Solidariteit Helpende Hand – diens

Solidariteit Helpende Hand lewer diens aan die gemeenskap, maar met die spesifieke doel om mense uit armoede te lei en om te voorkom dat mense in armoede verval. Helpende Hand glo nie aan opheffing deur toelaes nie, maar aan opheffing deur opleiding. Die fokus van Solidariteit Helpende Hand is dus beurse en beroepsleiding. Helpende Hand bedryf talle wonderlike projekte om die armoedesiklus te verbreek en het ook strukture landwyd wat diens aan die gemeenskap lewer.

Die Kom Huistoe-veldtog

Die Kom Huistoe-veldtog is ʼn inisiatief van AfriForum. Die veldtog se taak is om mense wat na Suid-Afrika wil terugkeer, te ondersteun.

Sol-Tech – tegniese opleiding

Sol-Tech lei studente in ambagte op. Die instelling is geregistreer as ʼn instelling vir voortgesette onderwys en opleiding en is by die tersaaklike setas (sektorale onderwys-en-opleidingsowerhede) geregistreer. Sol-Tech fokus daarop om studente in skaars en kritieke vaardighede op te lei.

Akademia – telematiese hoër onderwys

Akademia bied hoëronderwyskursusse aan en het in 2012 met die eerste diplomas en sertifikate begin. Leersentrums is dwarsoor Suid-Afrika gevestig en kursusse word telematies aangebied.

Solidariteit Finansiële Dienste

Die maatskappy bied ʼn reeks finansiële produkte. Die hoofproduk van die maatskappy is korttermynversekering vir lede van Solidariteit. Die winste van die maatskappy word gebruik om ontwikkelingsprojekte van die Solidariteit Beweging te finansier.

Solidariteit Groeifonds – bemagtiging

Elke lid van die vakbond Solidariteit dra elke maand R11 tot die Solidariteit Groeifonds by. Ander individue dra ook tot die fonds by. Die fonds finansier ontwikkelingsprojekte van die Solidariteit Beweging. Die vestiging van Sol-Tech is tot ʼn groot mate moontlik gemaak deur die Solidariteit Groeifonds. Die groeifonds gaan ʼn sterk bydrae lewer tot die bou van Dié Kampus.

Solidariteit Beleggingsmaatskappy

Solidariteit Beleggingsmaatskappy besit al die aandele in die verskillende Solidariteit-maatskappye. Die beleggingsfilosofie van die maatskappy is sterk gefokus op interne beleggings. Alle opbrengste word gebruik om verdere instellings te vestig.

Solidariteit Eiendomsmaatskappy

Solidariteit Eiendomsmaatskappy besit en bestuur die verskillende eiendomme van die Solidariteit Beweging. Een van die belangrikste projekte van die maatskappy is die ontwikkeling van Dié Kampus.

Maroela Media – internetgedrewe nuwe media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse mediamaatskappy wat met webgebaseerde media werk. Dit sluit ʼn webwerf, internetradio, foto’s, video’s en die sosiale media in. Maroela Media gaan die grootste Afrikaanse kuierplek op die web word.

Kraal Uitgewers

Kraal-uitgewery gee historiese en aktuele Afrikanerboeke uit. Die uitgewery gee ook boeke uit wat waarskynlik nie deur ander uitgewerye uitgegee sal word nie. Die doel van die uitgewery is om die Afrikanergeskiedenis gebalanseerd aan te bied en om krities dog positief om te gaan met aktuele sake wat Afrikaners raak.

Solidariteit Radio – internetradio

Solidariteit Radio is ʼn internetgedrewe radiostasie wat ʼn alternatiewe stem- en kommunikasiekanaal is.

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings, in die omgang bekend as die FAK, is die oudste Afrikaanse sambreelorganisasie en is reeds in 1929 gestig. Die FAK bevorder die Afrikaner se kultuur en geskiedenis en die ontwikkeling van Afrikaans. Dit het kultuurforums waarby elke Afrikaanse organisasie kan aansluit. Die FAK bevorder Afrikaanse musiek deur die FAK-sangbundel, wat vanjaar 75 jaar oud is.

NP van Wyk Louw-navorsingsentrum

Die NP van Wyk Louw-navorsingsentrum is deel van die FAK en is ‘n instelling wat hom beywer vir die ontwikkeling en verdieping van die Afrikaner se intellektuele ideë- en- waarderaamwerk. Die sentrum help om toekomsoplossings vir Afrikaners te bedink deur navorsing te doen oor verskeie aktuele kwessies wat minderheidsgroepe raak. Die Navorsingsentrum is geskoei op soortgelyke Amerikaanse en Europese navorsingsinstellings, en ontwikkel oplossings vir die Afrikaner- en ander kultuurgemeenskappe volgens die internasionale beginsel van kulturele vryheid.

Solidariteit Beweging – internasionale skakelkantoor

Die internasionale skakelkantoor se taak is om internasionaal steun en fondse vir ons saak te werf. Die kantoor skakel ook met Afrikaners in die buiteland en is saam met die Stichting voor Afrikaans by die FAK ingeskakel. Die politieke, maatskaplike en ekonomiese omgewing waarin Afrikaans in Suid-Afrika moet oorleef, het sedert die politieke verskuiwing van 1994 drasties verander. Minderheidstale soos Afrikaans is op talle terreine onder druk met die gevolg dat alle Afrikaanssprekendes innoverend moet dink en hande vat vir die bevordering van Afrikaans. Die Stichting voor Afrikaans bevorder spesifiek samewerking tussen Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse organisasies en koördineer gesamentlike projekte ter bevordering van Afrikaans.

Solidariteit Navorsingsinstituut

Die Solidariteit Navorsingsinstituut gee diepte aan die Solidariteit Beweging. Die Instituut doen ekonomiese, sosiale, politieke en regsnavorsing.

Virseker Trust

Die Virseker Trust is nie deel van die Solidariteit Beweging nie, maar Solidariteit is ʼn vennoot van die trust. ʼn Deel van die premie-inkomste van die Afrikaanse korttermynversekeringsproduk Virseker word aan die trust geskenk. Die trust se doel is om jongmense in Afrikaans op te lei. Die eerste twee projekte van die trust is beurse en om te help bou aan Dié Kampus.

Hierdie 18 instellings sal verantwoordelik wees vir die implementering van die Solidariteit Beweging se bouplan.

Die Solidariteit Beweging se bouplan staan op 15 bene.

  1. Arbeid en ekonomie

Die Solidariteit Beweging funksioneer hoofsaaklik binne ʼn ekonomiese omgewing. Die ekonomiese bouplan het ʼn aantal subaspekte.

Solidariteit-vakbond: Mense bring die grootste deel van hul dag by die werk deur. Werk bepaal mense se identiteit en finansiële vermoë en dra by tot die algemene welstand en gesinslewe van ʼn persoon. Kollektiewe bedinging, beskerming in die werkplek en verbetering van diensvoorwaardes is die kernfunksie van Solidariteit en sal versterk word. Die vakbond het ʼn sterk span organiseerders, verteenwoordigers, onderhandelaars en litigante in die veld. Daar sal deurlopend gekyk word hoe hulle kapasiteit versterk kan word. Solidariteit is die waghond in die werkplek en moet help om omstandighede te skep wat dit moontlik vir mense maak om gelukkig te kan werk. Geluk in die werkplek is ʼn voorwaarde om gelukkig in Suid-Afrika te bly. ʼn Bouplan sonder ʼn werkplan is ʼn swak plan. Die veranderende ekonomie plaas werk, soos ons dit ken, onder groot druk. Solidariteit-vakbond wil as beskermer vir werknemers in die inligtingsekonomie optree. Een van die belangrikste instrumente is opleiding, wat meer volledig in ʼn ander been van die bouplan bespreek word. Rassediskriminasie teen minderhede in die werkplek bly steeds ʼn fokuspunt van die vakbond. Veiligheid en gesondheid raak ook al hoe meer onder druk weens maatskappye se ingesteldheid op die maksimum korttermynwins. Solidariteit sal dus sy visie uitbrei om ook veiligheid en gesondheid in die werkplek te verbeter..

Beskerming van minderhede in die werkplek: Solidariteit-vakbond werk saam met ander, oorwegend bruin, vakbonde om beskerming vir minderheidsvakbonde te verseker. ʼn Nuwe alliansie van vakbonde word beoog wat pluralisme in die werkplek sal bevorder. ʼn Hofsaak word tans voorberei wat in lyn met internasionale tendense die reg van minderhede in die werkplek sal bevorder. Solidariteit sal saam met ander minderheidsvakbonde hieraan werk.

Deelname aan die debat: Die ekonomiese debat vind hoofsaaklik binne die drieparty-alliansie plaas, wat ʼn ongesonde toedrag van sake is. Die Solidariteit Beweging gaan meer aktief tot die debat toetree en gaan sy eie plan met voorwaardes vir groei en werkskepping bekend stel. Daar gaan ook baie meer aktief deelgeneem word aan die debat oor nasionalisering en ander ekonomiese kwessies.

Afrikaans weer in hoofstroom: Die Solidariteit Beweging gaan meer aktief daaraan werk om Afrikaans terug te bring in die hoofstroom van die ekonomie. Die eerste stap was die loodsing van die Afrikaanse korttermynversekeringsproduk Virseker. Tot dusver was maatskappye se benadering dat hulle ter wille van die mark in Engels moet adverteer en diens lewer. Met Virseker is Afrikaans weer terug in die hoofstroom van die ekonomie. Virseker adverteer ter wille van die mark in Afrikaans en lewer sy dienste in Afrikaans. Sowat 31% van die koopkrag in Suid-Afrika is Afrikaans. Dit is die taal met die sterkste koopkrag. Afrikaans kan dus sy spiere in die ekonomie bult. Die Solidariteit Beweging gaan begin onderhandel om Afrikaanse aanbiedings van ander produkte, byvoorbeeld mediese en bankdienste, op die mark te kry. Afrikaans kan baie meer selfvertroue in die ekonomie kry.

  1. Onderwys

Onderwys is die kern van die bouplan. Die grootste deel van die befondsingskoek van die plan word vir onderwys geoormerk. Die uitgangspunt hiervan is dat ons mense in staat moet stel om vir hulleself ʼn toekoms te skep. Die beste manier om bo regstellende aksie uit te styg, is goeie opleiding. Die onderwysbeen van die bouplan het ʼn aantal kritieke subaspekte.

Skole: Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) doen wonderlike werk om professionele ondersteuning aan Afrikaanse onderwysers te gee. Daar word ondersoeke beplan om die beste Afrikaanse private onderwysmodel te vind. Oor die medium en langer termyn gaan private onderwys ʼn groter rol begin speel. Beheerliggame het dikwels baie meer magte as wat ouers besef. Fedsas doen kritieke werk om beheerliggame te ondersteun en te bemagtig en verdien ondersteuning. Die SAOU is ook op die voorpunt met navorsing oor onderwys in Suid-Afrika.

Opleiding van onderwysers: Onderwysersopleiding is onder druk. Die beste vermenigvuldiger van kennis is goeie onderwysers. Indien Afrikaanse kinders bemagtig moet word, moet goeie onderwysers opgelei word. Afrikaanse en Christelike onderwysopleiding is stadig maar seker besig om weg te kwyn. Die nuwe onderwysersopleidingsinstelling, Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros), speel ʼn kritieke rol en verdien ondersteuning. Solidariteit Helpende Hand gaan ook deur ʼn skolesentrum ondersteuning bied vir die voortgesette opleiding van onderwysers. Die beste manier om kinders uit armoede te kry en om te keer dat hulle nie daarin verval nie, is deur goeie onderwys – en goeie onderwysers is ʼn voorvereiste vir goeie onderwys.

Wiskunde: Die jongste matriekuitslae het weer gewys hoe belangrik wiskunde is. Iemand wat matriek met wiskunde slaag, het onmiddellik ʼn mededingende voordeel. Wiskunde maak ook net die beroepskeuses van enige leerder groter. Die deure is byvoorbeeld effektief toe vir iemand wat meer tegnies aangelê is en graag ʼn ambag wil volg, maar wat nie wiskunde het nie.

Wiskunde kan die enkele grootste veranderlike wees om ʼn jongmens toegang tot ʼn goeie beroep te gee.

Solidariteit Helpende Hand gaan deur sy skolesentrum help om onderwysers in wiskunde en wetenskap op te lei. Dit sal in samewerking met die Vereniging van Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) aangepak word. Die Vereniging bevorder uitnemendheid onder Afrikaanse wiskundeonderwysers. Die Virseker Trust gaan beurse hiervoor beskikbaar stel.

Beurse: Jongmense moet toegang tot onderwys kry deur beurse. Al hoe minder beurse word vir Afrikaanse kinders gegee. Solidariteit Helpende Hand het ʼn Afrikaanse beursplatform ontwikkel en administreer reeds meer as 60 Afrikaanse beurse. Daar word beplan om die beursplatform baie meer uit te brei. Elke lid van Solidariteit-vakbond gaan R5 per maand vir die vestiging van ʼn beursplatform gee. Dit gaan meer as R7 miljoen per jaar addisioneel tot die huidige beursfonds beteken. Solidariteit-vakbond is ook ʼn vennoot van die Rapport Onderwysfonds en die Virseker Trust.

Beroepsleiding: Jongmense moet nie net toegang kry tot beurse nie, maar moet die regte beroepskeuses maak. Solidariteit Helpende Hand ontwikkel ʼn omvattende beroepsleidingsprogram. Die program help om jongmense se belangstellings, aanleg, roepings en tekorte in die arbeidsmark te belyn. Wanneer hierdie elemente reg belyn is, is so ʼn jongmens se kans om werk te kry, feitlik 100%. ʼn Beroepsleidingsgids en -webwerf ondersteun studente met hulle beroepskeuses.

Opleidingsinstellings: Die bouplan maak voorsiening vir die vestiging van nuwe opleidingsinstellings. Sol-Tech se hoofverantwoordelikheid is om ambagslui op te lei. Dit is reeds een van die grootste instellings in Suid-Afrika wat ambagslui oplei. Sowat R30 miljoen is al in Sol-Tech belê. Sol-Tech se kapasiteit gaan meer as verdubbel word in die volgende drie jaar.

Die Solidariteit Beweging het ʼn nuwe telematiese hoëronderwysinstelling, Akademia, gevestig. Die instelling bied vanaf 2012 sertifikate en diplomas aan. Met behulp van telematiese tegnologie kan leersentrums dwarsoor Suid-Afrika opgerig word. Meer as R4 miljoen is al in Akademia belê. Daar word voorsien dat daar binne vyf jaar oral in Suid-Afrika leersentrums gaan wees en dat tot 10 000 studente só bedien kan word.

Dié Kampus: Die Solidariteit Beweging se opleidingsinisiatiewe het ʼn kampus nodig. Grond is reeds aangekoop vir hierdie projek van R150 miljoen. Dié Kampus gaan een van die belangrikste produksiemasjiene vir Afrikaanse opleiding wees en gaan onder andere die tuiste van Sol-Tech en Akademia wees. Solidariteit Eiendomme is verantwoordelikheid vir die ontwikkeling van Dié Kampus. Dié Kampus is ʼn inisiatief van die Solidariteit Beweging, maar dit behoort by uitstek aan die Afrikaanse gemeenskap. Mense oor ʼn breë spektrum van die samelewing gaan gevra word om te help bou aan dié groot projek.

Indien die opleidingsplanne suksesvol ontplooi word, gaan duisende jongmense in staat gestel word om vir hulself ʼn toekoms te skep.

  1. Juridies

Suid-Afrika is ʼn regstaat. Dit is krities om die regstaat in stand te hou. Die regsruimtes waarbinne ons mense leef, moet vergroot word met behulp van plaaslike en internasionale reg. Dit is AfriForum se taak om deurlopend ʼn waghond te wees vir burgerregte. Die Solidariteit-vakbond berei nou voor vir ʼn saak in die Konstitusionele Hof oor regstellende aksie en die hofstukke sal teen die einde van April op die regering beteken word. In hierdie hofsaak gaan die dilemma van bruin werknemers in die Wes-Kaap aandag kry. Slaag plaaslike regsmiddele nie vir Suid-Afrika se minderhede nie, is die internasionale kanale steeds beskikbaar. AfriForum het reeds daarin geslaag om verskeie regsake te wen en sal voortgaan om burgerregte in Suid-Afrika te verdedig.

  1. Geskiedenis, erfenisbewaring en kultuur

Die geskiedenis van die Afrikaner word tans gekriminaliseer. Die Afrikaner se geskiedenis moet in ere herstel word. Dit moet realisties aangebied word en nie gekriminaliseer of verromantiseer word nie. Kraal Uitgewery gaan hier ʼn groot rol speel. Talle boeke oor die Afrikaner se geskiedenis gaan gepubliseer word. In 2012 verskyn ʼn koffietafelboek oor die konsentrasiekampe asook ʼn herdruk van generaal Jannie Geldenhuys se boek oor die grensoorlog. Die FAK gaan ook ʼn projek aanpak om die Afrikaner se geskiedenis in ere te herstel en die Solidariteit Beweging steun dit ten volle. Die groot rolspelers in erfenisbewaring is die Erfenisstigting en die Voortrekkermonument. Hulle goeie werk sal deur die Solidariteit Beweging ondersteun word. Die Solidariteit Beweging werk nou saam met die FAK om Afrikaner-kultuuraksies te stimuleer en te koördineer. ʼn Nuwe FAK-sangbundel met nuwe Afrikaanse liedjies word eersdaags uitgegee. Daar word ook met dank kennis geneem van die ATKV se aktiwiteite om Afrikaans te bevorder.

  1. Buitelandse en diplomatieke druk

ʼn Internasionale skakelkantoor gaan gevestig word. Dit is ter versterking van Solidariteit se internasionale bande. Die Stichting voor Afrikaans gaan veral in Europa werk en die skakeling tussen Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse organisasies verbeter.

Die buitelandse skakelfunksie gaan veral Suid-Afrikaners in die buiteland vir ons saak mobiliseer. Die Solidariteit Beweging beskou nie Suid-Afrikaners in die buiteland as weghardlopers nie, maar as ambassadeurs. Die bouplan gaan dus moeite doen om die naelstring met diegene in die buiteland te versterk. ’n Spesiale internetplatform gaan gevestig word om Afrikaners wêreldwyd te mobiliseer. Skakeling en oortuigingswerk in die AU, EU en VN gaan ook ʼn belangrike deel van die internasionale skakelfunksie wees. Een so aksie is om vir elke Nederlandse parlementslid ʼn eksemplaar te skenk van Kraal Uitgewery se boek oor plaasmoorde, Treurgrond. Daar word ook gereelde skakeling met ambassades in Suid-Afrika beplan. Dit is ook belangrik om Afrikaners in die buiteland geleentheid te gee om terug te keer. Die Kom Huistoe-veldtog neem verantwoordelikheid hiervoor en het reeds sowat 4 000 Suid-Afrikaners gehelp om terug te keer.

  1. Polities

Die Solidariteit Beweging gaan nie aktief by die partypolitiek betrokke raak nie, maar die rol speel van ʼn burgerlike waghond. Die Solidariteit Beweging bevestig hiermee weer eens sy politieke onafhanklikheid. Gesprekke gaan gevoer word met plaaslike opposisiepartye en met diegene in die regerende alliansie wat die gevaar besef wat die Malema-idees inhou. Die Beweging se mediastrategie gaan ook fokus op drukuitoefening. Wanneer ʼn instansie hom onttrek aan politieke prosesse, versnel die momentum weg van sy idees. Die Solidariteit Beweging, saam met ander burgerlike organisasies, sal poog om die magsbalans in Suid-Afrika te verbeter. Die Solidariteit Beweging gaan nie toekyk hoe politieke heethoofde die land se beeld beskadig nie. AfriForum gaan voort om sy oorwinning in die hof teen Malema se haatspraak te verdedig. Die Solidariteit Beweging glo egter in beginsel dat sosiale dispute nie in die hof opgelos moet word nie en dat ʼn nuwe skikking nodig is om nasionale vertroue te herstel. Indien daar geen ander uitweg is nie, sal die Beweging nietemin nie huiwer om regte in die hof te verdedig nie.

  1. Veiligheid

Veiligheid bly een van die grootste kopsere van Suid-Afrikaners. ʼn Druk- en regstrategie sal deur AfriForum en die Solidariteit-vakbond gevolg word om misdaad hoog op die regering se agenda te hou. AfriForum het ʼn volledige plan vir gemeenskapsbeveiliging bekend gemaak. Plaaslike gemeenskappe sal ook ondersteun word om eie gemeenskapsbeveiligingstrategieë in werking te stel. Die handhawing van wet en orde maak deel uit van die Solidariteit Beweging se regstrategie. AfriForum sal polisievergrype en -nalatigheid steeds in die hof aanspreek.

  1. Munisipale dienslewering

AfriForum gaan meer aktief betrokke raak by munisipale dienslewering. Drukgroepe op plaaslike vlak gaan gevestig word. Daar word voorsien dat daar binne drie jaar AfriForum-takke in gemeenskappe dwarsoor Suid-Afrika gevestig sal wees. Die gemeenskap bly die belangrikste waghond vir munisipale dienslewering en moet beter georganiseer word.

  1. Selfdoen

Een van die kernpilare van die bouplan is selfdoen. Dit beteken dat gemeenskappe meer selfverantwoordelikheid moet aanvaar. Om dit te bewerkstellig, is ʼn netwerk van burgerlike organisasies nodig. Die Solidariteit Beweging kan nie naastenby die volle verantwoordelikheid vir die burgerlike samelewing op hom neem nie. Burgerlike instellings sal meer verantwoordelikheid moet neem vir burgerregte, maatskaplike dienste, eiendomsregte en veiligheid op plaaslike vlak. Gemeenskapstrukture moet gevestig word sodat die gemeenskappe self verantwoordelikheid kan neem. Die Solidariteit Beweging steun alle organisasies wat plaaslike strukture het en moedig hulle aan om hulle strukture te versterk. Selfstandige gemeenskappe wat self verantwoordelikheid neem vir alle funksies binne die gemeenskap moet gestimuleer word. Die Solidariteit Beweging sal vennootskappe sluit met bestaande organisasies sodat die organisasies mekaar kan versterk.

  1. Maatskaplike ondersteuning

Mense raak al meer onder druk en Afrikanerarmoede is ʼn groeiende tendens. Dit is Solidariteit Helpende Hand se taak om die armoedesiklus te breek en om te keer dat mense in armoede verval. Weerlose mense gaan ondersteun word, en mense wat kan werk, gaan gehelp word om na die arbeidsmark terug te keer. Hier is die fokus weer eens op beurse en beroepsleiding. Takke wat moet help met die stryd teen armoede te voer, gaan dwarsoor Suid-Afrika gestig word. Daar is reeds sowat 115 Helpende Hand-takke in die land. Die Solidariteit Beweging neem met dank kennis van die talle ander maatskaplike organisasies en kerke wat wonderlike werk doen en sal graag met hulle saamwerk en hulle ondersteun waar nodig.

  1. Navorsing

ʼn Plan se sukses word bepaal deur sy intellektuele diepte. Boustrategieë kan slegs met goeie navorsing ontwikkel word. Die korrekte feite is onontbeerlik vir die dialoog oor wetgewing of ander onderhandelinge. Die Solidariteit Navorsingsinstituut gaan versterk word. Die NP van Wyk Louw Sentrum vir Kulturele Vryheid se rol is spesifiek om gereeld navorsingsverslae en boeke oor kulturele vryheid te publiseer.

  1. Jeug

Soos reeds aangetoon, gaan die grootste inset in ons jeug in die vorm van opleiding wees. AfriForum Jeug gaan voort met die vestiging van AfriForum Jeug by universiteite. AfriForum Jeug het die Tukkies-studenteraadsverkiesing oorweldigend gewen. AfriForum Jeug beplan ook ʼn jeugopleidingsinstituut wat jongmense sal toerus om hulle aktief in die burgerlike samelewing te handhaaf. Die Voortrekkers doen steeds goeie werk en verdien erkenning en ondersteuning daarvoor.

  1. Landbou en grondsake

Die Solidariteit Beweging beplan nie om direk by die landbou betrokke te raak nie. Daar is reeds sterk landbou-unies, naamlik TLUSA en AgriSA. Die Solidariteit Beweging sal dié instellings sover moontlik ondersteun in hulle stryd om voedselsekuriteit vir Suid-Afrika te verseker. Kraal Uitgewery se publikasie Treurgrond het die lig laat val op plaasmoorde. Die Solidariteit Navorsingsinstituut beplan ook ʼn verslag oor grondhervorming. AfriForum sal sy navorsing oor gemeenskapsbeveiliging ook aan landbouorganisasies beskikbaar stel.

  1. Media en kommunikasie

ʼn Bouplan van hierdie omvang waarvan steunwerwing en druk ʼn groot rol speel, kan nie uitgevoer word sonder goeie kommunikasie nie. Die bouplan is nie net tot voordeel van die Solidariteit Beweging, sy lede en hulle gemeenskappe nie, maar tot voordeel van die hele Suid-Afrika. Gevolglik word die Suid-Afrikaanse media as bondgenote gesien. Daarby gaan die Solidariteit Beweging sy eie media inspan. Die sosiale media en ander nuwe media-instrumente gaan ten volle ontgin word. Maroela Media gaan onder andere hiervoor aangewend word. Dit is ʼn volledige Afrikaanse nuwemediaplatform wat teks, video, klank, blogs en sosiale media gaan integreer. Solidariteit Radio se stem sal helder bly opklink. Boeke bly ʼn kragtige medium om idees oor te dra. Kraal Uitgewery gaan die onderliggende idees van die bouplan deur middel van boeke te bevorder. Die bouplan gaan ook deur talle netwerke en strukture bekend gestel word. Gemeenskapsradiostasies is krities belangrik en die Solidariteit Beweging sal gemeenskapsradio ondersteun waar moontlik.

  1. Finansies – die brandstof van die bouplan

Die instellings van die Solidariteit Beweging wat die bouplan moet uitvoer, moet almal ʼn ekonomiese enjin ontwikkel om hulle bydrae tot die plan sover moontlik te ondersteun. Dit is egter nie op sigself genoeg nie. Die Afrikaanse gemeenskap sal betrokke moet raak en help om die plan te finansier. Noue samewerking met AfriSake, ʼn Afrikaanse sakenetwerk, word beoog om te help om kapitaal vir die bouplan te mobiliseer. Ander kreatiewe fondswerwingsmetodes soos die vennootskap met die Afrikaanse korttermynversekering Virseker gaan ook in groter diepte ondersoek word. Die Solidariteit Beweging se buitelandse skakelkantoor gaan finansieringshulp uit die buiteland ontgin, en ook Suid-Afrikaners in die buiteland nader om te help om die bouplan te finansier.

Hierdie opsomming gee die breë trekke van die maniere waarop elke instelling van die Solidariteit Beweging verantwoordelikheid gaan neem vir die verskillende aspekte van die bouplan. Die instellings het reeds in die meeste gevalle hulle besigheidsplanne en begrotings vir die bouplan gefinaliseer.

Die bouplan gaan oor die volgende drie jaar ongeveer R1 miljard kos. Dit maak dit een van die grootste burgerlike projekte, sonder staatsbefondsing, in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Ons vertrou dat die bouplan by mense die hoop sal laat opvlam dat hulle gelukkig in Suid-Afrika kan bly woon, werk en woeker.

Krisisberaad: Raamwerk vir ’n toekomsplan van hoop

(Hierdie toespraak is gelewer deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, tydens die Beweging se Krisisberaad wat op 5 Mei 2015 in Pretoria gehou is.)

 Waarom ʼn krisisberaad?

Die Solidariteit Beweging het die Krisisberaad saamgeroep om te besin oor die groeiende krisis in die land en om oplossings daarvoor te ontwikkel. Ons doel is nie om net te praat oor die probleme nie, maar om iets daaraan te doen, want ons is hier om te bly. Daarom is hierdie beraad eerder ’n doenskrum as ’n dinkskrum. Vandag is die begin van ’n groter proses om omvattende oplossings te ontwikkel en in werking te stel. Natuurlik besef ons goed dat die land en ons gemeenskap se probleme nie oornag opgelos kan word nie. Ons gaan nietemin nie sit en wag vir langtermynplanne nie, maar ons gaan vandag reeds ’n pakket met korttermyn-aksieplanne ter tafel bring om solank die bal aan die rol te sit. Wees egter verseker dat u vorentoe nog ruim geleentheid sal kry om verdere insette te lewer.

Ons beweging het die afgelope paar jaar van krag tot krag gegaan en gegroei, en dit is nou ’n hedendaagse Helpmekaar-beweging van selfhelp-doenorganisasies wat ’n omvattende reeks dienste aan ons gemeenskap lewer. Dit is met groot dankbaarheid dat ek vandag kan aankondig dat ons ledeorganisasies (die vakbond Solidariteit, AfriForum, die Solidariteit Helpende Hand en ons kultuurvennoot die FAK) die afgelope maand gesamentlik ’n ledetal van 300 000 bereik het! As ons lede se gesinne by hierdie syfer ingesluit word, beteken dit waarskynlik dat ons nou nagenoeg ’n miljoen mense verteenwoordig. Daarmee probeer ons nie voorgee dat ons nou namens alle Afrikaners kan praat en besluit nie, maar ons aksieplanne is ten bate van Afrikaners se reg om blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika te kan voortbestaan, ook tot voordeel van die land en sy mense.

Die dubbele krisis van staatsverval en tweedeklasburgerskap: die gevaar van staatsverval

Wat bedoel ons daarmee dat Suid-Afrika in ’n krisis verkeer? Daar is toenemende tekens dat die agteruitgang in die land besig is om al vinniger te versnel. Die groot gevaar is dat dit lateraan ingevolge die “wet op versnelde agteruitgang” tot staatsverval kan lei. Dit gebeur wanneer iets wat op ’n glybaan na onder is, al hoe vinniger begin afgly totdat dit naderhand in ’n onkeerbare spiraal na die bodem toe spoed. Die “sneller” hiervoor is gewoonlik ’n onverwagse gebeurtenis wat soos ’n vallende domino ’n ketting van gebeure ontketen. Dink maar net hoe die aanvalle op vreemdelinge soos ’n vinnige veldbrand versprei het.

Wanneer ’n Derdewêreldland inplof, is dit soos iemand op ’n fiets wat op ’n plaaspad val. Dit is seer en stowwerig, maar jy kan dadelik weer opklim en verder aanry. As ’n moderne land egter verval, is dit soos ’n vliegtuig wat neerstort. Dit gebeur nie baie nie; dit neem lank voordat dit gebeur omdat ’n vliegtuig ver kan sweef, maar as die vliegtuig val, is dit ’n ramp waarvan nie gou weer opgestaan kan word nie.

Suid-Afrika het gelukkig nog nie “geval” nie, en daar is nog baie positiewe dinge in die land ook, wat ’n mens hoop gee dat die land nie sommer totaal sal verval nie. Maar die rooi ligte flikker, want groot dele van die staat het al verswak of geval en dit kan die res begin omstamp soos die domino waarna ek verwys het. Dink maar aan die 80% van die openbare skole wat al verval het; die talle dorpe wat nie meer behoorlike munisipale dienste kan lewer nie; soveel staatshospitale wat faal om ’n gesondheidsdiens te lewer en waar mense doodgaan weens ’n gebrek aan mediese diens; ’n polisiediens wat nie meer die land se mense kan veilig hou nie; en die talle staatsdepartemente wat in werklikheid eerder werkskeppingsprojekte is wat nie werk nie. Die feit dat sommige mense nog nie hierdie verval raaksien nie omdat hulle op Eerstewêreld-eilande leef wat nie van die staat afhanklik is nie, verander niks aan die feit van ’n falende staat nie. Buitendien het beurtkrag die verval tot in ons huise gebring; is die vandalisering van ons monumente wyd beleef as ’n simboliese aanval op ons gemeenskap; en het die geweld teen vreemdelinge mense laat wonder waartoe mense, wat normaalweg vreedsaam is, binne ’n oogwink in staat is. Gelukkig bestaan ’n land nie net uit die staatsektor nie, maar het die land ook lewendige en sterk privaat en burgerlike sektore.

Ek wil die sewe ergste staatskrisisse kortliks opsom voordat ons na oplossings begin kyk:

  1.  Die ideologiese krisis: Die krisis hou daarmee verband dat die regering ná 21 jaar nog nie ’n werkbare regerende ideologie kon ontwikkel nie, maar steeds vasklou aan uitgediende opposisie- /struggle-resepte uit die Koue Oorlog-era. Dit word al duideliker dat die regerende party tydens die destydse grondwetlike onderhandelinge toegewings gemaak het om die mag te kry, en nou die mag gebruik om hul oorspronklike doelwitte deur te stoomroller. Dít is ’n giftige mengsel van rassenasionalisme onder die dekmantel van “transformasie” en outoritêre politieke en onbekostigbare ekonomiese sosialisme. Die ANC het dit herhaaldelik duidelik gestel dat die doel van hul transformasiebeleid is om beheer van alle “magsentrums” oor te neem, met “African”-heerskappy (hegemonie) as doelwit.
  2.  Die politieke krisis: Ons stelsel, wat deur een party oorheers word, lei tot al minder vryheid vir die ekonomie; die opposisie; die media; die regbank; grondwetlike instellings soos die openbare beskermer; staatsinstellings; die burgerlike samelewing; en die beperking van die vryheid van taal- en kultuurgroepe. As dit nie gekeer word nie is die uiteinde hiervan ’n vryheidslose, ondemokratiese “demokrasie.”
  3. Die regeringskrisis: Dit word al duideliker dat die regering nie ’n moderne land kan regeer nie. Dit is die hoofoorsaak van die versnellende verswakking van die staat en dít deur self-toegediende wonde soos byvoorbeeld die regering se rassebeleid. Daarom ontstaan daar ’n groeiende gaping tussen wat die regering wil doen en wat die staat kan doen.
  4. Die grondwetlike krisis: Die grondwetlike gesag raak al meer ondergeskik aan politieke mag. Vanweë “Zumafikasie” word Suid-Afrika al meer deur persoonlike en politieke netwerke, in plaas van deur grondwetlike instellings, regeer.
  5. Die ekonomiese krisis: Die politiek het verwagtings geskep waaraan die ekonomie nie kan voldoen nie en wat die onvolhoubare toestand dat 3 miljoen belastingbetalers ’n bevolking van 55 miljoen mense moet versorg, tot gevolg het.
  6. Die bedelingskrisis: Die krisis het tot gevolg dat die ingeboude struktuurfoute onder meer daartoe lei dat meerderheidsregering oorgaan in meerderheidsoorheersing.
  7. Die kulturele krisis: Die krisis vergestalt hom daarin dat die demokratiese ruimtes van grondwetlik erkende kultuurgemeenskappe algaande kwyn vanweë die krimpende politieke ruimtes, en dié kultuurgemeenskappe se instellings oorgeneem en elke aspek van hul lewens deur die meerderheid beheer/oorheers word en dít deur die beleid van “verteenwoordigendheid.”

Hiermee tesaam kan nog talle ander krisisse genoem word, soos die maatskaplike krisis weens gesinsverbrokkeling; die misdaadkrisis; die groeiende krisis van die land se infrastruktuur soos elektrisiteits- en waterverskaffing; die omgewingskrisis; die waardekrisis; die krisis in die arbeidsmark wat blyk uit hemelhoë werkloosheid en armoede; die tekens van agteruitgang in ons regstelsel met gevalle van straflose korrupsie van politieke leiers; en die demografiese krisis wat homself uitspeel.

Gelukkig is daar ook nog sterk dryfkragte wat staatsverval teenwerk, soos die meervoudige magsentrums in die land; die sterk moderne sektor met sy groeiende middelklas; die veelvlakkige verskeidenheid in die land wat algehele magsentralisasie bemoeilik; die groot groep goed opgeleide mense; die gedeelde Christelike waardes; die onafhanklike howe en die regstelsel; die luide opposisiepolitiek; tegnologie wat mense bemagtig; die kulturele kapitaal in talle gemeenskappe; en die wakende oog van die buiteland.

Die dubbele krisis van staatsverval en tweedeklasburgerskap: Die gevaar van tweedeklasburgerskap

Daar word dikwels gesê dat dit ekonomies nog goed gaan met wit mense in die algemeen en met Afrikaners in die besonder, en dit word as bewys voorgehou van ons voortgesette bevoorregting in die nuwe bedeling. Gewoonlik word die welvaart van ’n handvol Afrikaanse wêreldklas sakelui dan gebruik as bewys van hoe goed dit met Afrikaners gaan, asof dit die algemene standaard is. Dit herinner aan die ou NP-regering se poging om die vorige bestel te regverdig deur daarop te wys dat die lewenstandaard van swart mense in Suid-Afrika veel hoër was as in die res van Afrika. Die betreklik goeie ekonomiese prestasie van Afrikaners in weerwil daarvan dat die ANC téén hulle regeer, kan tog nou nie as ’n regverdiging van ’n toenemend onregverdige stelsel aangevoer word nie!

Verskeie grondwetlike ruimtes bestaan vir taal- en kultuurgemeenskappe se regte soos taal; moedertaalonderwys; enkelmediumskole en -universiteite; kulturele instellings; en selfs die erkenning van dié gemeenskappe se reg om na geografiese en ander vorme van “selfbeskikking” te streef. Almal se reg op vryheid, menswaardigheid en gelykheid word ook in die Handves van Menseregte gewaarborg. Daar is selfs grondwetlike instellings soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat); die Menseregtekommissie; en die Kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kultuur-, geloof-, en taalgroepe om oor dié regte te waak. Boonop kan gemeenskappe hulle nog op die howe ook beroep as hulle steeds ontevrede is. Dit is nou wigte en teenwigte so ver as wat die oog kan sien. Dit het alles in 1994 baie goed geklink. Intussen het daar egter ’n groeiende kloof ontstaan tussen die grondwetlike teorie en die politieke praktyk. My enigste verklaring daarvoor is dat die krisisse in die land alles tekens is dat die 1994-ooreenkoms besig is om uit te rafel. Navorsers verbonde aan die Cornell Universiteit voer aan dat die gemiddelde lewensduur van grondwette in die wêreld net 17 jaar lank is, moontlik omdat die “politieke leeftyd” van die opstellers daarvan hoogstens twee dekades is. Kyk maar na ons parlement waar nog net twaalf van die 1994-parlementslede nog in die parlement dien en net agt van hulle is ANC-lede. Maar kom ons kyk hoe die bedeling reeds in die praktyk verander het:

  •  Veeltaligheid het ná ’n oorgangstyd oral eentaligheid geword;
  • Gelykheid en “regstelling” het “verteenwoordigendheid” geword;
  • Afrikaanse skole word deurlopend deur staatsweë vir “transformasie” geteiken;
  • Die grondwetlike voorsiening vir Afrikaanse universiteite word polities toegestop;
  • Die betrokke grondwetlike instellings wat hieroor moes waak, is tandeloos, disfunksioneel of is deur die regering gekoöpteer;
  • Rassetransformasie volgens bevolkingsyfers het die meeste instellings onder ANC- en swart politieke beheer laat beland;
  • Die goedkeuring van hierdie grondwetlike regte berus ook by die meerderheid, wat dit betekenisloos maak omdat die ANC dit skynbaar as voortgesette bevoorregting beskou; en
  • Die meerderheid se individuele regte weeg nou, kortom, swaarder as die minderheid s’n.

Al die nie-bindende gerusstellings en versekerings in plaas van strukturele voorsiening vir ons regte, het dit duidelik gemaak dat ons bestel se individuele sentralisme te simplisties is om die kompleksiteite van ’n heterogene samelewing te reguleer. Minderheidsoorheersing is bloot deur meerderheidsoorheersing vervang, soos die bekende politieke wetenskaplike, Donald Horrowitz, gewaarsku het. Dit is hoekom demokrasie in ’n multi-etniese land nie as vryheid beleef word nie, maar as oorheersing deur die meerderheid – soos wat die staatskundige Timothy Sisk gesê het.

  1. Raamwerk vir ’n toekomsplan van hoop: ’n Strategie vir volksveelheid

Dit is nou genoeg oor die krisis. Kom ons kyk na oplossings en die Solidariteit Beweging se raamwerk vir ’n toekomsplan van hoop. Ek het vroeër gesê dat ons ’n merkwaardige prestasie behaal het deur die 300 000-ledetal te bereik.

Die vraag is wat ons moet doen met hierdie oorweldigende steun wat daagliks aan die toeneem is? ’n Belangrike rede vir ons historiese groei was die suksesvolle verdediging van ons lede se gevestigde regte en belange. Tweedens probeer ons om, so goed as wat ons kan, die impak van die verswakkende staat en landsomstandighede op ons lede te versag. Derdens word dienste aan lede gelewer wat die staat of maatskappye nie kan of wil lewer nie. Vierdens steun mense ons projekte om hulle te beskerm teen ’n bedeling wat hulle struktureel benadeel. Vyfdens ondersteun lede ons aksies om die bestaande orde se verval te vertraag en aktief teen te werk.

Dit is alles baie nodig, maar dit bring tog sekere vrae na vore. Dit is nie volhoubaar om net in die pad van verdere agteruitgang te staan nie; ons moet ook bou aan ’n pad van vooruitgang! Ons uitdaging is ongelukkig nie net ’n swak regering nie, maar ’n verswakkende bedeling.

Dit help ook nie om net as brandweermanne vure in bestaande geboue te blus nie; ons moet soos bouers ook nuwe geboue oprig. Om reddingsboeie vir drenkelinge te gooi is noodsaaklik, maar daar moet ook nuwe skepe gebou word. Om te waarsku dat die land kan misluk is tydig, maar ’n vars alternatiewe visie wat die verbeelding aangryp, skep werklik hoop en energie en ’n toekoms vir ons kinders. Taktiese oorwinnings en suksesse verseker ons nog nie van ’n volhoubare en menswaardige vry, veilige en voorspoedige voortbestaan nie.

Die Afrikaner het volgens N.P. van Wyk Louw sy toekoms nog altyd met daadkragtige waagstukke geskep, waarvan nie een se uitkoms aanvanklik seker was nie. Louw het drie historiese waagstukke genoem:

  • Die Groot Trek (en die stigting van die Boererepublieke);
  • Die aandurf van die Britse Ryk as die destydse supermoondheid in 1899;
  • Die aanvaarding van Afrikaans as amptelike taal in 1925.

Hierna is ’n vierde en onsuksesvolle waagstuk aangepak, naamlik die poging om ons rasseprobleem deur afsonderlike ontwikkeling op te los.

Die vraag is of die tyd nie nou aangebreek het vir ’n volgende en vyfde waagstuk nie.

Die voorwaarde vir die sukses van enige plan is dat soveel moontlik Afrikaners (dalk 80%) dit uiteindelik steun, wat beteken dat ons gemeenskap se belangrikste uiteenlopende sienings deel van hierdie plan moet wees. Planne vir “volkseenheid” werk nie omdat dit veronderstel dat almal by een plan moet inval. Dit is wensdenkery dat almal met alles saamstem; dit gebeur nêrens ter wêreld nie, behalwe miskien in Noord-Korea waar dít wat nie verpligtend is nie, verbode is. Daarom is hierdie raamwerkvoorstel gegrond op “volksveelheid” met die uitgangspunt dat mense nie oor alles saamstem of hoef saam te stem nie – dit is doodnormaal. Die plan maak daarom voorsiening vir die drie belangrikste historiese denkstrome in ons geskiedenis. Laat ek verduidelik.

Daar was nog altyd drie groepe Afrikaners wat volgens hul steun ingedeel is in:

  • Die groep, die individualiste, wat individuele regte voorstaan soos vergestalt in ’n “Engelse” demokrasie;
  • Diegene wat ten gunste is van groepsregte of minderheidsregte soos wat dit in plurale demokrasieë aangetref word (Artikels 6, 30, 31, 185); en
  • Ondersteuners van gebiedsregte, selfbeskikking of federalisme soos wat die geval in Europa is (die bogenoemde Artikels, asook Artikel 235).

Hierdie indeling val natuurlik saam met die politieke modelle wat elke groep verkies. Vir die eerste groep is ’n gewone een mens, een stem-demokrasie voldoende; die tweede groep voel dat groepsregte ook nodig is; terwyl die derde groep na geografiese oplossings, soos verskillende vorme van selfbeskikking, streef. Die eerste groep wil bloot goeie en regverdige regeerders hê; die tweede groep wil self besluite kan neem oor belangrike sake soos onderwys; en die derde groep beskou vorme van federale of gebiedsoutonomie as die enigste blywende staatkundige opsie.

Daar heers natuurlik hewige verskille tussen Afrikaners oor die haalbaarheid van elkeen van hierdie drie sienings, en daar bestaan inderdaad groot praktiese struikelblokke vir elkeen. ’n Strategiese plan, wat nie net vir ’n faksie onder die Afrikaners nie maar vir ons hele gemeenskap voorsiening maak, moet dus al drie hierdie groepe se menings in berekening neem – hoe moeilik dit nou ook al mag wees. Die voorwaarde is natuurlik dat die betrokke voorstelle nie lugkastele is of op ’n hunkering na die verlede gebaseer is nie. Sulke voorstelle sal meer weerstand as steun ontlok. Daarom moet alle voorstelle aan die maatstawwe van grondwetlikheid; demokrasie; moderne staatspraktyk; en die werklikhede van ons land voldoen.

Daarom is die voorgestelde vyfde waagstuk gevolglik eerder op volksveelheid as op volkseenheid gebou. Ons is té min en té versprei dat een groep sy eie oplossing op die ander kan afdwing of dit kan deurstoomroller. Die voorwaarde vir die sukses van ’n strategie vir volksveelheid is natuurlik demokratiese verdraagsaamheid. Dit beteken dat dít waaroor ons verskil ons nie hoef te verdeel nie. Beskou mekaar se aksies as waardetoevoeging eerder as volksverraad of ’n verwerping van die huidige bedeling!

Demokratiese verskille is nie noodwendig dieselfde as verdeeldheid of eie aan die Afrikaner nie; dit is ’n menslike eienskap. Ons navorsing wys dat 80% of meer Afrikaners saamstem oor sake soos Christenskap; Westerse waardes; taal en kultuur; die vrye mark; gemeenskap, gesin en geskiedenis; die oppergesag van die reg; selfstandigheid, federalisme; tradisies; en gesonde rassebetrekkinge. Dit is vir my die tien pilare waarop ons hierdie volksveelheid moet bou. Dit is breedweg ons idees in die stryd om idees.

Tyd vir die vyfde waagstuk: Afrikanerselfstandigheid en gemeenskapsfederalisme

Staatsafhanklikheid of onafhanklikheid is nie nou prakties haalbaar nie. Daarom behels ons voorstel ’n derde moontlikheid, oftewel ’n middeweg en dit is Afrikaner-selfstandigheid – wat ook nie ’n kortpad is nie. Daar is ’n noodsaak vir groter ooreenstemming oor die spesifieke staatkundige stelsel wat ons voorstaan. Daarom wil ek hierdie model beskryf as “gemeenskapsfederalisme.

Omdat die Solidariteit Beweging glo dat die staat se sentralisme demokratiese vryheid bedreig, is ons plan in wese federalisties. Dit beteken dat ons glo aan maksimale selfstandigheid vir gemeenskappe. Federalisme word wêreldwyd gesien as die beste teenvoeter vir regerings se drang om die samelewing met sentralistiese mag te oorheers. Ons strategie is om die bestaande grondwetlike ruimtes vir selfstandigheid te gebruik, en om deur sterk selfhelporganisasies groeiende selfstandigheid op elke noodsaaklike gebied te bevorder. Ons weet oplossings val nie uit die lug uit nie, maar moet van die grond af opgebou word. Dit beteken nie dat ons onsself téén die regering opstel nie, maar dat ons die sentralistiese verstaatliking van die samelewing teenwerk deur die ruimtes vir die selfstandigheid van gemeenskappe te beskerm.

Hierdie voorstel moet egter nog die toets van behoorlike navorsing, ondersoek, bespreking en raadpleging deurstaan, en is ’n oop voorstel wat verder ontwikkel kan word. Ons beoog om by ’n opvolgberaad op 10 Oktober vanjaar daaroor aan u te kom terugrapporteer.

Die enigste voorwaarde is dat die gekose model die verbeelding moet kan aangryp en dat dit die energie wat nodig is om dit in werking te kan stel by ons instellings moet kan opwek.

Kortom gaan dit oor ’n plan vir selfstandigheid. Dit behels ’n strategie van groeiende selfstandigheid deur gemeenskapsorganisasies soos ons moderne Helpmekaar-beweging wat die selfstandigheid vanaf grondvlak opbou. Die vlak van selfstandigheid van ’n spesifieke lewensterrein word bepaal deur die wil en vermoë, en prestasies van die instellings wat op daardie terrein werksaam is.

Die model werk soos ’n piramide: Help sover jy wil, maar moenie ander beveg wat hoër of verder wil nie, en moet ook nie diegene beveg wat nie verder as jy wil gaan nie. Natuurlik behels dit ook die neem van moeilike besluite wat nie langer uitgestel kan word nie.

Die piramide se eerste vlak is individuele regte; die tweede groepsregte; en die derde gebiedsregte. Kortliks kan die voorgestelde strategie soos volg uiteengesit word:

Gebruik die individuele regte waaroor ons beskik:

  • Stemreg en verkiesings;
  • Grondwetlike regte en vryhede;
  • Howe en die regsorde;
  • Die media en spraakvryheid;
  • Grondwetlike instellings soos die openbare beskermer;
  • Die markekonomie en eiendomsreg;
  • Die Handves van Menseregte;

Gebruik die beskikbare groepsregte:

  • Moenie teen ’n oop deur skop nie, al is dit op ’n skrefie oop;
  • Gebruik die bestaande grondwetlike voorsiening;
  • Onderwys: beheerliggame en universiteitsrade;
  • Gemeenskapsorganisasies, Sol-Tech, Akademia, Helpende Hand, AfriForum;
  • Wetgewing soos die Talewet en munisipale wette;
  • Inspraak in plaaslike regering;
  • Veiligheid byvoorbeeld gemeenskapspolisiëringsforums, buurtwagte en sekuriteitsmaatskappye;
  • Privatisering, howe, media;
  • Vennootskappe met ander gemeenskappe;
  • Skakeling met die owerhede; en
  • Kulturele “selfregering” deur landswye gemeenskapsrade ingevolge artikel 185 van die Grondwet kan ondersoek word.

Groeiende selfstandigheid op gebiedsbasis

Hoewel die Grondwet wel in artikel 235 voorsiening maak vir “selfbeskikking”, het dit tot dusver nie ernstige aandag gekry nie. Dit is ’n omstrede begrip weens bepaalde politieke konnotasies daaraan verbonde, en dit sal baie omsigtig hanteer moet word. Dit ís egter in die Grondwet, en die lewensvatbaarheid daarvan regverdig ’n behoorlike ondersoek omdat ons graag alle moontlike grondwetlike ruimtes op meriete wil oorweeg. Daar sal dus nie sprake wees van modelle wat na apartheid hunker nie.

Ons kan weer ’n toekoms opbou waarin ons blywend vry, veilig en voorspoedig kan wees. Ons voorouers het dit reggekry in baie moeiliker omstandighede, en daar is mos niks fout met ons nie. Ons het net die kulturele selfvertroue daarvoor nodig en die “kan doen”-kultuur waarmee ons voorouers die voorste landsekonomie in Afrika se geskiedenis opgebou het. Ons vier met reg ons voorouers se prestasies. Maar laat ons aan die werk spring om weer vir ons nageslag ’n rede te gee om die toekoms wat ons vir hulle geskep het te vier!

Ten slotte

Van Wyk Louw het vier bestaanskrisisse vir ’n volk genoem:

  • Fisieke uitwissing;
  • Oorstroming deur getalle;
  • Vrywillige ontbinding; en
  • Wanneer blote voortbestaan belangriker word as voortbestaan in geregtigheid.

Die vorige bedeling het tot ’n einde gekom omdat Afrikaners self besluit het dat die groot eis van die tyd “geregtigheid” is. Daar is nou geregtigheid teenoor die meerderheid. Daarom is die eis van ons tyd nou om te sorg dat daar vir ons gemeenskap ook geregtigheid is, en die klem moet nou op “voortbestaan” lê.

Dames en here, ons is hier om te bly. Ons sal egter die voorwaardes moet skep om hier te kan bly. Ons omstandighede is uiters ingewikkeld, en ek wil nou al waarsku teen eenvoudige mooiklinkende “oplossings”. Die tyd vir vinnige en maklike antwoorde is lankal verby, en ons wil beslis nie voorgee dat ons al die oplossings het nie. Daarom is dit vandag net die begin van ’n langer proses om alle moontlike oplossings te ondersoek, en sien ek saam met u uit na die res van die dag se besprekings. Baie dankie dat u soveel omgee dat u vandag hier saam met ons is.

 

Solidariteit: Reg vir die volgende 100 jaar

(Flip Buys het hierdie toespraak in Junie 2012 gelewer)

Ons is nou in die jaar 2102 en Solidariteit vier sy twee honderdste verjaardag. Dit was ‘n lang pad tot hier en een wat baie durf en waagmoed gekos het.

Die verhaal begin by die probleme wat Suid-Afrika ervaar het aan die begin van die eeu, veral vanaf 2008. Sommer met die afskop van daardie jaar was die land geteister deur ‘n kragkrisis, vaardigheidstekort, geweldsmisdaad, verval van infrastruktuur, politieke onstuimigheid en ekonomiese probleme. Dit het later so erg geword dat al duideliker tekens van staatsverval oor die hele spektrum  van die landsbestuur sigbaar geword het. Baie mense het begin twyfel in die toekoms van die land, en die getalle kundige mense wat uit die land uit begin stroom het, het in later jare ‘n vloedgolf geword. ‘n Oplossing was nêrens in sig nie, en mense het op groot skaal begin moed verloor.

Solidariteit was een van die min ligpunte in die Afrikaanse gemeenskap, maar die vakbond se plan was kleiner as die probleem en is te stadig uitgevoer. Maar toe het daar ‘n paar dinge gebeur. Die vakbond se hoofraad het ‘n Tienpunt plan goedgekeur, en ook die Solidariteit Waardeketting as die organisasie se strategie aanvaar. Daar was nou ‘n goeie werkbare plan op die tafel, maar daar was nog nie genoeg hulpbronne om die plan vinnig en doeltreffend uit te voer nie. Dit het steeds gelyk of die land se probleme met die tyd oor die vakbond en sy lede gaan spoel. Die groot deurbraak het gekom toe die vakbond besluit het om ‘n spesiale Solidariteit Groeifonds te stig, deur van elke lid ‘n maandelikse R10 bydrae te vra. Hierdie maandelikse som geld is in ‘n afsonderlike fonds gestort, wat aangewend is om vinniger te vorder met die plan om die dienste aan ons lede op ‘n nuwe vlak te plaas en ‘n veiliger toekoms vir hulle te skep. Die Groeifonds was die moderne weergawe van die geskiedkundige Reddingsdaadfonds en Helpmekaar beweging van die dertigerjare van die twintigste eeu.

Die eerste groot projek van die Groeifonds was om die vakbond se Opleidingskollege uit te bou tot ‘n volwaardige Tegniese Kollege. ‘n Nuwe gebou is dieselfde jaar reeds gekoop en binne ‘n jaar was daar al 500 studente wat volstoom in hulle eie taal besig met opleiding was. Reëlings is ook met Opleidingsentrums in ander dele van die land getref om jongmense op te lei wat ver van Pretoria af gewoon het. Later het baie van die vakbond se bestaande lede hulle kwalifikasies daar verder verbeter, en die sentrum is 5 jaar later aangewys as een van die top drie in die land. Terselfdertyd het die Groeifonds in ‘n Afstand onderrig kollege belê, wat die hele spektrum van nie-tegniese beroepsopleiding aan vakbondlede en hulle gemeenskappe gebied het. Maar dit was nie al nie. Die Solidariteit Helpende Hand se beursskema is ook verdriedubbel, en die vakbond nou al oor ‘n duisend jongmense per jaar gehelp om hulself vir die werkslewe te bekwaam aan Universiteite en die vakbond se Opleidingskolleges. Daarby was die vakbond ‘n vennoot van studiefondse soos die Rapport Onderwysfonds, wat gesorg het dat daar genoeg onderwysers vir die toekoms was. In 2012 is daar formele bande met Europese kolleges vir beroepsopleiding gesluit, wat verseker het dat die vakbond se kolleges aan wêreldstandaarde voldoen het. Teen hierdie tyd het die vakbond al 3 000 jongmense en ‘n duisend lede per jaar gehelp om hulself beter te bekwaam, en die droom dat almal wat wil studeer die geleentheid moet kry was binne bereik. Die vakbond se mededingende voordeel was nou dat sy lede en hulle kinders altyd op die voorpunt van opleiding was. In ‘n land waar goeie vaardighede baie skaars was, het dit gou deurgevloei na beter werksgeleenthede, salarisse en bevorderingsmoontlikhede. Dit was ook in hierdie tyd dat affirmative action prakties tot stilstand gekom het as gevolg van die vaardigheidstekort en verval van infrastruktuur.

 Die Groeifonds was ook ‘n inspuiting vir die versnelde groei van die vakbond se personeel agentskappe wat onder die vaandel van Express Personnel Professionals bedryf is. Binne 5 jaar het Solidariteit oor ‘n landswye netwerk van werksverskaffings maatskappye beskik wat werk aan lede en hulle families verskaf het. Hierdie Express agentskappe het baie goed ingeskakel by die opleidingskolleges, en talle maatskappye het ooreenkomste met Solidariteit gesluit om vir hulle opgeleide en ervare personeel te verskaf. Baie Suid-Afrikaners wat na die land teruggekeer het met die hulp van AfriForum se “Kom huistoe” veldtog, is deur Express van werk voorsien. Express het teen 2015 al een van die vyf grotes op die gebied van werksverskaffing geword, en is selfs deur die President in sy Staatsrede bedank vir hul rol in die oplossing van die vaardigheidskrisis na die groot kragonderbrekings van 2011. Vakbondlede se salarisse het ook vinnig gestyg, want werkgewers het geweet dat die vakbond vir hulle vinnig ander werk sal kry as  hulle nie genoeg betaal word nie.

Die vakbond het self in hierdie tyd van krag tot krag gegaan, en is wyd erken as die leier op sy gebied. Vanaf die 2008 onderhandeling seisoen het vakbondlede beter verhogings as lede van ander unies gekry. Die nuwe kollektiewe bedinging stelsel en strategie wat in 2009 ontwikkel is, het die vakbond verder op die voorpunt geplaas. Die baanbrekerswerk van die navorsingsafdeling en die Solidariteit Akademie het ‘n groot bydrae tot hierdie sukses gelewer. Die vakbond se kantoornetwerk is opgeknap, en die kantore is omskep in volwaardige Dienskantore. Die vakbond se regsdiens was reeds gereken as die beste op hul gebied, en belangrike dienste soos beroepsveiligheid is nou ook aan lede verskaf. Dit was nie lank voordat die vakbond al vinniger begin groei het nie. Groot werk is hier gedoen deur die Werwings- en Kommunikasie departement saam met al die Organiseerders van die vakbond. Daar is ook ‘n nuwe Bemarkingsafdeling gestig, wat met groot sukses met hulle splinternuwe metodes gehad het. Teen 2015 het die vakbond die 250 000 kerf oorskry, en was ‘n krag in bedrywe wat voorheen as onorganiseerbaar beskou is. Hierdie groei het egter nie die diensgehalte beïnvloed nie, omdat die vakbond se diensstelsels en administratiewe steundienste saam met die ledetal gegroei het. Die Dienssentrum het ook gesorg vir maklik toeganklike dienste aan alle lede. Solidariteit het homself nooit isoleer nie, en met behulp van ‘n alliansie strategie ‘n nasionale invloed uitgeoefen sonder om sy karakter te verloor. Goeie bande is ook met buitelandse vakbonde gebou, en die vakbond het veral op hulle hulp gesteun wanneer swak regerings aan bewind was.

Die Solidariteit Helpende Hand het in moeilike tye hoop geskep vir die Solidariteit familie. Teen einde 2008 was die organisasie landswyd gevestig met takke in elke groot dorp en stad. Die Helpende Hand het mettertyd maatskaplike werkers in al die vakbond kantore aangestel, om na lede in nood om te sien, armes te versorg en gemeenskappe by te staan. Hulle het ook gehelp om jaarliks staatspensioene te reël vir meer as 5 000 gestremdes en bejaardes. Die organisasie se beursfonds het gehelp om jongmense dieselfde en beter geleenthede te gee as wat hul ouers gehad het, en duisende is oor die jare voorberei vir hulle werkslewe. In 2009 is meer as 20 buitelandse takke gestig, en fondswerwing onder Suid-Afrikaners in die buiteland het miljoene rande na hulpbehoewendes in Suid-Afrika laat stroom. Teen 2011 het die organisasie goedkoop behuising aan armes begin voorsien, noodvoedingsprojekte by 78 laerskole bedryf, sowat 5 000 kinders per jaar van skryfbehoeftes voorsien, duisende jongmense gehelp met beroepsvoorligting, en het landswyd Omgeeprojekte soos ambulansdienste in arm gebiede te bedryf. Sowat 3 000 kinders is per jaar na ‘n bekende kinderstrand geneem waar hulle meer van die Evangelie kon leer en ook beroepsvoorligting ontvang het.

Die vakbond het vroeg in die eeu reeds besef dat beskerming op die werksterrein nie genoeg was nie, omdat die grootste bedreiging soms daarbuite gelê het. Daarom is AfriForum gestig, om in die besonder na die beskerming van lede se grondwetlike- en burgerregte om te sien. Die organisasie het gou naam gemaak met oorwinnings in die Grondwetlike- en ander howe oor kernsake soos misdaad en die plig van die staat om sy burgers veilig te hou. Mettertyd het die organisasie uitgebrei na ‘n sambreel organisasie vir Afrikaner belange buite die party politiek, en het ook ‘n leidende rol gespeel om ‘n Afrikaner raad tot stand te bring. Na uitgerekte onderhandelinge met die regering saam met ander goedgesinde organisasies, is ‘n “Opvolgskikking “ uiteindelik met die regering in 2012 beding. Dit het die kroon gespan op ooreenkomste wat reeds oor knelpunte soos regstellende aksie met die regering beding is, en het gehelp om onbillike rassediskriminasie in die werksplek stop te sit. Dit was eintlik ‘n nuwe “sosiale kontrak” oor sake soos onderwys, veiligheid, taalregte en groter selfstandigheid. Die onderhandelinge met die regering het baie soos vakbond onderhandelinge gewerk. Vakbonde onderhandel en sluit ooreenkomste met werkgewers om die regte en belange van hulle lede te beskerm. Hierdie beproefde model is soos elders in die wêreld uitgebrei en aangepas en daar is saam met ander Afrikaanse instellings met die regering onderhandel oor sake wat ons gemeenskap geraak het. Solidariteit het nooit by die party-politiek betrokke geraak nie, maar die vakbond se beleid was om binne die soms harde werklikheid sy lede en sy gemeenskap se belange te beskerm deur met die regering  van die dag te beding.

Solidariteit het geweet dat ‘n gemeenskap homself nie kan of moet isoleer nie, en het reeds in April 2008 ‘n buitelandse kantoor in Brussel, die setel van die Europese unie geopen. Die doel van die kantoor was om die vakbond se buitelandse skakeling te koördineer, met goedgesinde vakbonde te skakel, fondse te werf, en om samewerkings ooreenkomste met Opleidingskolleges te sluit. Die kantoor het seker gemaak dat buitelandse regerings onpartydige inligting oor Suid-Afrika ontvang, wat gehelp het dat hulle by tye groot druk op die Suid-Afrikaanse regering geplaas het om grondwetlike bepalings oor veiligheid, eiendomsreg en gelykheid na te kom. Vanaf 2009 is meer skakelbeamptes in die buiteland aangewys. Dit was hoofsaaklik goedgesinde oud-Suid-Afrikaners wat dit vir die liefde van die saak gedoen het. Daar was groot buitelandse druk op die regering om misdaad stop te sit, veral nadat daar in 2009 gelyktydig 78 buitelandse betogings oor geweld in Suid-Afrika in talle hoofstede in die wêreld gehou is. Teen 2014 het die vakbond se buitelandse netwerk vir die eerste keer oor die R20 miljoen rand ingesamel. ‘n Jaar later het die nuwe Vlaamse regering ‘n groot Tegniese kollege in die Oosrand finansier, en Europese maatskaplike organisasies het fondse vir talle Solidariteit projekte bewillig. Namate die veiligheid in die land verbeter het en misdaad afgeneem het, het al meer Suid-Afrikaners na die land teruggekeer. Dit is insiggewend dat veral baie kinders wat in die buiteland gebore is hulself weer permanent gevestig het na besoeke wat deur Solidariteit se buitelandse kantore gereël is.

Solidariteit se Besigheidsafdeling en Groeifonds was die finansiële dryfkrag agter die meeste van hierdie projekte. ‘n Wye reeks dienste is aan lede gelewer, vanaf mediese-, pensioen-, versekerings- en opleidingsdienste. Die vakbond se mediese fonds het in 2014 sy eerste hospitaal geopen, terwyl die Solidariteit pensioenfonds duisende afgetredenes se spaargeld veilig bestuur het. ‘n Eie Versekeringsmaatskappy het uit die vakbond se begrafnisskema gegroei, wat later ook die korttermyn versekering van ons lede hanteer het. In 2015 het die Solidariteit Beleggingsmaatskappy sy eerste aftree oord vir lede geopen. Die maatskappy het ook mettertyd beleggings in ‘n privaatskoolnetwerk en in  radiostasies gedoen.

Die vakbond het vroeg in die nuwe eeu al besef dat hulle nie kan bestaan as ‘n eiland van voorspoed in ‘n see van armoede en ellende nie. Daarom is daar uitgereik na swart vakbonde en ander organisasies wat onder die swart armes gewerk het, en is hulp verleen waar dit moontlik was. Die Helpende hand se suksesvolle maatskaplike agentskappe is in arm gebiede gekloon en mense is opgelei om projekte soos kleuterskole, voedingsprojekte, en bejaardesorg te bedryf, terwyl Sol-Tech daar ook Opleidingskolleges gestig het om beroepsopleiding aan werkloses te gee.

Hierdie merkwaardige suksesverhaal van Solidariteit het die doemprofete verkeerd bewys en gewys dat ‘n gemeenskap wat verantwoordelikheid neem vir sy eie toekoms ‘n sukses daarvan kan maak. Hulle positiewe voorbeeld het moed en hoop geskep en is mettertyd nagevolg, selfs deur sosialistiese organisasies wat vroeër vir die staat sou gewag het om iets vir hulle te doen

Vandag kan ons met die perspektief wat tyd bring sien wat die redes vir hulle sukses was, sê die professor. Solidariteit was altyd ‘n doenorganisasie,  mense was en is hulle kernbesigheid, en hulle het hulle roeping om hulle mense te beskerm vervul.

Midde in die baie probleme wat in die land was, was die afgelope honderd jaar vir Solidariteit ‘n eeu van sukses terwyl baie ander platgeval het.

In ‘n tyd waar baie mense gesê het dat daar nie meer ‘n toekoms was nie, het hulle in 2008 begin om ‘n toekoms te skep.

In ‘n tyd waarin so baie belowende jongmense oorsee gegaan het omdat hulle nie meer hier geleenthede gesien het nie, het Solidariteit begin om vir hulle geleenthede te skep.

In ‘n tyd waarin mense moedeloos gevoel het oor die politiek, het Solidariteit hoop buite die politiek begin skep.

In ‘n tyd waarin selfs baie werkende mense nie genoeg gehad het om hul gesinne te versorg nie, het die vakbond se onderhandelaars met goeie navorsing, voorbereiding en beplanning vir derduisende werknemers beter diensvoorwaardes onderhandel.

Terwyl opnames getoon het dat werksonsekerheid een van die grootste probleme in die land was, het hulle die vakbond se landswye netwerk van werksbeskerming verder uitgebou en ook vir duisende mense van werk voorsien.

Terwyl die nood van mense wat hul werk verloor het a.g.v. beroepsbeserings en –siektes net groter geraak het, het die Solidariteit spanne miljoene rande se regmatige vergoeding vir hierdie lede beding. Maar meer belangrik, het hulle voorkom dat mense seerkry of siek word deur veiligheid in die werksplek te verbeter.

Terwyl die meeste mekaar net moedeloos gepraat het oor die vaardigheidstekort, het hulle in 2006 met Sol-Tech en hulle ander kolleges en beursfondse aan die probleem begin werk.

In ‘n tyd waarin almal gekla het oor werksgeleenthede, het  hulle deur hulle personeel agentskappe ‘n werkverskaffingsnetwerk gevestig.

Terwyl ander vrugteloos vir die regering gewag het om hulle probleme op te los omdat hulle nie die geld gehad het om iets daaraan te doen nie, het hulle met die Groeifonds en hulle sakebeen geld bymekaar begin maak en hulle selfhelp planne self befonds.

Terwyl die meeste mense nie weet of nie omgee vir die opkomende armoede in die wit gemeenskap nie, het die Helpende Hand met die ondersteuning van duisende lede ‘n verskil in baie lewens gemaak.

Terwyl mense net gekla het oor dienslewering wat al swakker geword het, het Solidariteit hulle dienste en diensgehalte op alle terreine verbeter.

In ‘n tyd waarin baie mense net berade gehou het oor die agteruitgang van Afrikaans, het Solidariteit oor die jare in Afrikaans nuut gedink én gedoen, terwyl hulle Engelssprekende lede se taal ook respekteer en bevorder het.

Terwyl baie ander organisasies net gekerm en gekla en by die dag agteruitgaan het, het Solidariteit van krag tot krag gegaan.

Terwyl baie mense baie bekommerd begin raak het oor onbillike rassediskriminasie, is Solidariteit se gebalanseerde  standpunt uiteindelik reg bewys en deur die land aanvaar.

In ‘n tyd waarin daar nog baie wantroue tussen wit en swart bestaan en rassisme gedy het, het Solidariteit goeie verhoudings met almal nagestreef.

Terwyl baie dinge in Suid-Afrika al slegter gegaan het, het talle buitelanders na die vakbond se suksesverhaal kom kyk en is dit uiteindelik ook in Suid-Afrika nagevolg.

Terwyl minderheidsgroepe uit die openbare lewe onttrek het, het Solidariteit se  Burgerregte inisiatief mense weer tot deelname aktiveer.

Terwyl sommige net gedink het aan emigrasie landuit, was AfriForum al weer besig om met ‘n Kom Huistoe-Veldtog mense terug te bring.

Terwyl baie mense net gekla het maar min daaraan wou doen, was daar feitlik elke dag iets in die media oor wat Solidariteit gedoén het.

Terwyl baie hoofde van organisasies gekla het oor hulle mense, het Solidariteit ‘n eendragtige wenspan gehad op wie altyd staatgemaak kon word

Solidariteit het sukses behaal omdat hulle ‘n plan gemaak het wat groter as die probleem was, en omdat  hulle dit betyds en doeltreffend uitgevoer het.

 

Kom help bou aan ‘n toekoms.

(Hierdie toespraak is tydens die Toekomsberaad gelwer, wat op 10 Oktober 2015 plaasgevind het)

Ek kom om vir ʼn volk te laat wat klein langs ander volke staan, dat hul naam nie sal verklink en tot die stiltes gans vergaan.

Dames en Here, hierdie strofe uit NP van Wyk Louw se “Dieper Reg” het my onlangs weer getref toe ek deur ʼn eensame bejaarde dame gevra is “dat ons tog moet help dat al haar kleinkinders nie landuit trek nie, want sy wil  ʼn ouma van kinders in Suid-Afrika wees, nie ʼn ‘granny’ vir kinders in Australië nie”. Daar is waarskynlik grootouers in hierdie gehoor wat weet wat verlange na jou kleinkinders is.

Hierdie roerende versoek van ʼn gewone ouma het my laat besef hoekom ons eintlik vandag hier is: Dis ons geslag se taak om die omstandighede te skep waarin Afrikaners blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika kan leef, en nie net as enkelinge probeer oorleef nie.  ʼn Sterk georganiseerde Afrikanergemeenskap met die ruimtes om tuis te voel in Afrika, sal juis die vertroue in die toekoms skep deur hier te bly en ʼn volhoubare bydrae tot die land en al sy mense te lewer.

Daarmee bedoel ek nie dat ons moet laer trek of onsself teen ons landgenote moet opstel nie, maar dat ons juis die omstandighede moet skep dat ons nie landuit hoef te trek of “land-in” te onttrek nie. Ons bly nie op ʼn eiland nie; daarom moet ons as kultuurgemeenskap na binne bind, maar terselfdertyd na “buite” brûe bou na die groter Afrikaanse taalgemeenskap en na al die ander mense met wie ons hierdie mooi land deel. Want as ons net op die verskille klem lê, gaan die klowe en verdelings net groter word en speel ons in die hande van radikale populiste wat die land in vlamme wil sien.

Ons is Afrikane en Suid-Afrikaners, maar ons mag Afrikaners ook wees, want daar kan van geen gemeenskap op aarde verwag word om hul bestaan op te hef en so hul geskiedenis en grondwetlike bestaansreg en -regte prys te gee nie. Dis tog kulturele selfmoord! Dit is hoekom ons Grondwet in Artikel 30 en 31 uitdruklik voorsiening maak vir die bestaan van kultuurgemeenskappe en hul reg om hulself uit te leef. Want die geskiedenis het wêreldwyd getoon dat indien nasionale eenheid verskraal word tot inlywing by die meerderheid, die prys te hoog word om te betaal.

Daarom mag ons maar aan ons eie kant wees, want dit beteken nie om teen ander te wees nie. Apartheid is verby, en Afrikaners is in wêreld-oë nie meer die slegte ouens nie en ons moet ook nie in daardie era vassteek nie. Ons kan ook nie toelaat dat ons met ʼn skuldkompleks as politieke gyselaars van die verlede aangehou word nie. As Afrikaners nie vir hulself omgee nie, gaan niemand anders dit doen nie. Afrikanerskap is ’n vrywillige keuse, kies vir of teen dit, maar moenie ons kwalik neem as ons daarvoor kies nie. Groei verby daardie vooroordeel, aanvaar mekaar se keuses, en gaan aan met die lewe.

Ons Beweging het op 5 Mei vanjaar ʼn Krisisberaad gehou om te besin oor die dubbele krisis van staatsverval en tweedeklasburgerskap. By daardie beraad het ons gesê dat die staat gelukkig nog nie verval het nie en dat daar nog baie positiewe faktore is wat ʼn mens hoop gee dat die land nie sommer heeltemal sal verval nie. Maar die rooi ligte flikker omdat belangrike dele van die staat reeds so ingrypend verswak of reeds verval het, dat dit die res van die staat kan omtrek as dit nie betyds gekeer word nie.

Daarmee saam het ons gewaarsku oor die groeiende gevaar van tweedeklasburgerskap vir groepe soos Afrikaners, waar meerderheidsregering oorgaan na meerderheidsoorheersing omdat die ANC elke aspek van ons lewens wil beheer. Dis amptelike ANC beleid wat uitdruklik bepaal dat transformasie volgens “verteenwoordigende” rasseteikens “African hegemony” oftewel African oorheersing ten doel het.

Probleme word egter nie opgelos deur net daaroor te praat nie; dit word opgelos deur iets daaraan te doen. Van Wyk Louw het tereg gesê dat ʼn volk se voortbestaan nie op abstrakte regte of dinamiese leiers berus nie, maar op dade waarmee die mense daagliks hul bestaansreg bevestig.

Daarom het ons teenoor u onderneem om te werk aan praktiese oplossings wat ons dan by die Toekomsberaad sal kom bekend stel. Die planne wat ons vandag hier voorlê, is die resultaat van suksesvolle loodsprojekte wat ons oor die afgelope vyf jaar getoets het, verryk het met die insette wat ons van die publiek gekry het en verfyn het met die hulp van 20 kundige projekspanne.

Maar om werklik ʼn sistemiese verskil te maak, moet dit ingrypend versnel, vergroot, en daadkragtig uitgevoer word. Ons gee nie voor dat dit die aller en enigste antwoorde is, of dat ons nou alle probleme alleen kan oplos nie. Ons geskiedenis het egter bewys dat wanneer gewone mense saamwerk, hulle selfs in ongewone omstandighede buitengewone resultate kan behaal.

Met ons Beweging se 330 000 lede verteenwoordig ons, saam met hul gesinne, seker meer as ʼn miljoen mense en ons gee geensins voor dat ons namens alle Afrikaners kan praat of besluit nie. Ons aksieplanne is egter ten bate van Afrikaners se reg om blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika te kan lewe, en wil ook tot voordeel van die land en al sy mense strek.

Helpmekaar-beweging

Ons beskou hierdie plan as die derde groot “Helpmekaar”-beweging in die Afrikaner se geskiedenis, waar mense self verantwoordelikheid vir die toekoms aanvaar het. Die eerste beweging het ʼn eeu gelede, ná die Oorlog, ontstaan toe ons voorouers ʼn bepalende rol gespeel het om die land ná die “verskroeide aarde”-beleid van die Britte weer op te bou.

Die tweede beweging het begin met die destydse “Reddingsdaad”-kongresse in die dertigerjare. Natuurlik weet ons dat die tye verander het en dat die omstandighede heeltemal van daardie era verskil. Maar die groot les van daardie geskiedenis bly steeds staan, naamlik dat wonderwerke kan plaasvind as ʼn gemeenskap hulself in sterk selfdoen-organisasies organiseer en saam aan ʼn gemeenskaplike toekoms bou. Dit help nie om met ‘n wenslys by die regering te gaan vra nie, kom ons stel eerder ons eie werkslys op en begin dit uitvoer.

Daar is 3 groepe probleme in die land wat alle inwoners raak, dié wat alle Afrikaanssprekendes raak en dié wat Afrikaners raak.

Ons besef dat swak regering almal in die land raak As die bos brand, sal dit nie help om te sê dat jy nie ʼn boom is nie. As die bos brand, brand ons saam; as die staat val, dan val dit op ons almal. Daarom help ons waar ons kan om nasionale probleme saam met ander gemeenskappe op te los, ongeag of dit ʼn dorp se watervoorsiening, elektrisiteit- of veiligheidsprobleme is.

Ons sal saam met ander groeperings werk om te help keer dat die land verval of dat ons in ʼn vryheidslose “demokrasie” ontaard. Natuurlik het ons nie altyd dieselfde beleid as ander groepe nie, maar as ons dieselfde belange het, is daar minstens ruimte vir handevat oor bepaalde sake. So kan ons op ʼn belangebasis saamwerk waar ons mekaar nie op ʼn beleidsbasis kan vind nie. Brugbou na buite is in ons land net so noodsaaklik soos binding na binne. Maar daar kan tog nie van ons verwag word om die regering se werk te doen nie; hy word verkies, betaal en met ons belastinggeld befonds om dienste te lewer en ons moet en gaan hulle daarvoor aanspreeklik hou. Dit is hoog tyd dat hulle hul werk begin doen!

Afrikaans is een taal met baie kulture wat aan almal behoort wat vir Afrikaans lief is. Daar is ernstige probleme wat alle Afrikaanssprekendes raak en wat ons Beweging as lid van die Afrikaanse Taalraad (ATR) met die owerhede opneem en hanteer.

Benewens die probleme wat almal in die land en alle Afrikaanssprekendes raak, is daar uitdagings wat meer bepaald die Afrikaner as kultuurgemeenskap raak. Dit behels sake soos rassewetgewing, die kriminalisering van ons geskiedenis, die vandalisering van Afrikaner- monumente, die aanvalle op universiteite, skole en ander instellings wat ons voorouers opgebou het en die misbruik van politieke mag om die grondwetlike ruimtes vir ons kulturele vryheid te verstop. Die ANC sê altyd dat politieke vryheid sonder ekonomiese vryheid net vryheid vir die rykes is. Maar ons ervaring is dat politieke vryheid sonder kulturele vryheid net vryheid vir die meerderheid is!

Ons Helpmekaar 2020-plan is nie daarop gerig om te probeer terugkeer na die verlede nie, maar om ʼn beter toekoms te bou. Dit is ook nie ʼn poging om onsself te isoleer, parallelle regeringstrukture op te rig, om rassepolarisasie te veroorsaak of om laer te trek of ʼn apartheidsvolkstaat te probeer stig nie. Ons werk mét en ín die werklikhede van die land, maar ons berus ons nie daarby nie, want ons verwag meer van onsself.

Ons hele strategie is daarop gerig om deur sterk selfhelporganisasies groter en groeiende selfstandigheid op noodsaaklike terreine te bewerkstellig. Dit is eerder aanvullend tot die swak of onwillige staatstrukture en die doelwit daarmee is om aan ons die vermoë te gee om besluite te kan neem en dit self uit te voer. Deur hierdie selfdoen-strukture wil ons ons afhanklikheid van swak staatsbesluitneming verminder met sterk en selfstandige gemeenskapstrukture.

Die ervaring in ander lande wys dat ʼn minderheidsgroep in ʼn oop gemeenskap sterk instellings nodig het om suksesvol te kan oorleef. Waar die ANC staatsmag, staatsinstellings en staatsfondse het om sy belange te bevorder, het die Afrikaner sterk selfdoen-instellings nodig om sy grondliggende belange te beskerm.

Daarom is die doel van ons plan om dit vir mense moontlik te maak om hier te bly; om nie landuit te trek of “landin” te onttrek nie. Noem dit maar ʼn mededingende alternatief vir emigrasie en vir die glybaan waarop die land tans na onder beweeg.

Dit val egter tog vreemd op die oor as die ANC-regering ons uit die staatsdiens, werkplek of universiteite uitskuif, maar dan terselfdertyd sê Afrikaners moet hulself nie eenkant hou nie. Of as hul rassebeleid wit mense se geleenthede in die werkplek en sakewêreld aan bande lê, maar ons dan van rassisme beskuldig as ons ander planne maak.

En van wanneer af is die beskerming van grondwetlike regte nou “regs”? Daarom wil ek vandag Langenhoven se vraag aan mnr. Zuma herhaal: Hoekom is jul rassisme altyd net politiek, maar ons politiek altyd rassisme? Hou eerder op om ons kinders op grond van hul ras by universiteite en kolleges uit te skuif onder die dekmantel dat Afrikaans toegang beperk of dat alles verteenwoordigend van die rassesamestelling van die land moet wees.

Minister Nzimande wil nie minder Afrikaans op die kampusse hoor nie; hy wil minder Afrikaners op die kampusse sien! Hy raas eintlik oor ras! En as ons dan begin om met die tienrandnote van gewone mense die bomenslike taak aan te pak om weer ʼn wêreldklas- Afrikaanse universiteit te begin bou, dan het hy boonop die vreemde vermetelheid om oningeligte uitsprake te maak dat daar nie meer plek vir Afrikaanse universiteite is nie!

Van krisis in 2015 na oplossings in 2020

Daar is mense wat dit vreemd vind dat ons sê ʼn gemeenskap moet verantwoordelikheid vir sy toekoms aanvaar asof dit nie doodnormaal is nie. Geen regering ter wêreld kan alles vir almal doen nie, wat nog te sê ʼn regering wat teen ʼn deel van sy burgers regeer?

Dit is mos heeltemal onverantwoordelik om jou toekoms net aan ʼn regering oor te laat – vra maar vir die Grieke, die Zimbabwiërs, of enige ander land. ʼn Suksesvolle land bestaan tog uit ʼn doeltreffende staatsektor, ʼn groeiende privaat sektor en ʼn aktiewe gemeenskapsektor.

Maar die ineenstorting van die staatsektor kan die ander sektore ook vernietig, soos in Zimbabwe gebeur het toe die regering se vernietiging van sy burgers se politieke en burgerlike vryhede tot ʼn werkloosheidsyfer van 80% gelei het. Waar die doel van ʼn ekonomie is om die lewenstandaard van die bevolking te verhoog, is die doel van ʼn gemeenskapsektor om die lewensgehalte te verhoog.

Daarom is ons droom om vanaf ʼn krisis in 2015, met behulp van Helpmekaarplanne, teen 2020 praktiese oplossings in werking te hê wat ons goed op die pad van ons visie sal plaas na ʼn toekoms waar ons gemeenskap blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika kan lewe, en nie net oorlewe nie, want dit klink te na aan oorlede!

Natuurlik besef ons dat alles nie teen 2020 maanskyn en rose gaan wees nie, maar ons glo dat praktiese planne met meetbare doelwitte wat deur sterk organisasies uitgevoer word, ons veel verder gaan vat as om net jou oë toe te knyp; elke vyf jaar te stem en verder te hoop op die beste. Daarmee wil ons die moedelose gevoel onder mense die nek inslaan dat om polities mag-loos te wees, ons terselfdertyd magteloos maak. Dit is nie waar nie! Kom ons fokus eerder op uitvoerbare planne wat ʼn tasbare verskil in mense se lewens gaan maak – dis hoe ʼn toekoms geskep word.

“Volkseenheid deur volksveelheid”

Die voorwaarde vir die sukses van enige plan is dat soveel Afrikaners as moontlik dit moet steun en aktief moet meehelp om dit uit te voer. Ons wil vir ʼn hele gemeenskap ʼn toekoms skep; nie net vir een faksie nie. Maar om hierdie kritieke massa se steun te kry, sal die belangrikste en soms uiteenlopende sienings deel van hierdie plan moet wees.

Planne vir “volkseenheid” werk nie omdat dit veronderstel dat almal by een plan moet inval. Dit is wensdenkery dat almal met alles moet of sal saamstem – dit gebeur nêrens ter wêreld nie. Daarom, teenstellend soos dit mag klink, is die belangrikste vereiste vir eenheid dat daar ruimte moet wees vir “veelheid”. Ons uitgangspunt is dat mense nie met alles hoef saam te stem om steeds met mekaar te kan saamwerk oor die sake waaroor hulle wel saamstem nie.

Dít waaroor ons verskil, hoef ons nie te verdeel nie. Kom ons los die debatte oor wie wat in 1992 gestem het, maar werk eerder saam in 2015. Daarom sal ons die demokratiese verdraagsaamheid aan die dag moet lê om met planne waarmee jy saamstem, saam te werk en om dit waarvan jy verskil, nie teen te staan nie. Kom ons kyk wat dit in die praktyk beteken wanneer ons by praktiese planne kom.

Grondwetlike selfstandigheidsplan

Staatsafhanklikheid of -onafhanklikheid is nie nou prakties haalbaar nie – dit het ons ondersoeke duidelik uitgewys. Daarom behels ons voorstel ’n derde weg, oftewel ’n middelpad, en dit is Afrikaner-selfstandigheid – wat ook nie ’n kortpad is nie, maar na ons mening die enigste pad vorentoe. Die haalbaarheid van hierdie weliswaar moeilike plan moet opgeweeg word teen die haalbaarheid en volhoubaarheid van die huidige bedeling. Daar is ongelukkig nie meer volmaakte en maklike planne oor nie, en ons plan behels eerder ’n werklys as ’n wenslys.

Die omstandighede in die land laat ons met drie keuses.

  • Aanvaar en berus jou by hoe ons regeer word en hoop daar gebeur ʼn politieke wonderwerk.
  • Verlaat die land na groener en gelyker weivelde.
  • Organiseer in sterk selfdoenorganisasies en skep vir jou ʼn volhoubare toekoms.

Baie mense vra vir my hoe ons toekoms lyk, en my antwoord is dat ons toekoms gaan lyk soos die een wat ons saam skep.

Baie mense het reeds in reaksie op swak regering hulself begin “regeer”, al sien of noem hulle dit nie ʼn selfstandigheidstrategie nie. Hulle verkies om te bly in ʼn provinsie, stad of dorp waar hulle deur daardie meerderheidsparty hulself regeer. Hulle kyk na privaat televisiekanale. Hulle het privaat mediese fondse. Hulle bly in privaat dorpe. Hulle het privaat sekuriteitsdienste. Hulle werk in die privaat sektor. Hul kinders is in privaat skole en hulle het kragopwekkers sodat hulle selfs oor hul eie elektrisiteit kan beskik.

Maar hierdie persoonsgebaseerde selfstandigheidstrategie is baie duur en is ook weens praktiese redes nie orals en vir almal moontlik nie. Daarom is ons beplanning op gemeenskapselfstandigheid in plaas van persoonlike selfstandigheid gebaseer.

Ons strategie is om die bestaande grondwetlike ruimtes vir selfstandigheid te gebruik en om deur sterk selfhelporganisasies groeiende selfstandigheid op elke noodsaaklike gebied te bevorder. Dit is ons Helpmekaarbeweging se plan in een sin. Ons weet oplossings val nie uit die lug uit nie, maar moet van die grond af opgebou word. Dit beteken nie dat ons onsself téén die regering opstel nie, maar dat ons die sentralistiese verstaatliking van die samelewing teenwerk deur die ruimtes vir die selfstandigheid van gemeenskappe te beskerm.

Kortom gaan dit oor ’n plan vir selfstandigheid om swak staatsbesluitneming te verruil of te versag met groeiende selfbesluitneming. Die vlak van selfstandigheid van ’n spesifieke lewensterrein word bepaal deur die wil en vermoë en prestasies van die instellings wat op daardie terrein werksaam is, asook deur eksterne faktore soos demografiese, ekonomiese en politieke werklikhede.

Die Grondwet maak eerstens voorsiening vir individuele regte (Handves van Menseregte), tweedens vir gesamentlike of gemeenskapsregte (artikels 6, 29, 30, 31, 185), en derdens selfs vir gebiedsregte in artikel 235. Net soos ander gemeenskappe in Skotland, Quebec, België, Spanje en in talle Afrikalande, is daar onder Afrikaners steun vir elkeen van hierdie drie groepe regte of kombinasies daarvan. Dit is normaal, demokraties en grondwetlik, en voorstaanders mag op ʼn wettige en demokratiese manier enige van hierdie opsies bevorder.

Daar heers natuurlik hewige verskille oor die haalbaarheid van elkeen van hierdie drie sienings, en daar bestaan inderdaad groot praktiese struikelblokke vir elkeen. So het die voorstanders van individuele regte agtergekom dat dit dikwels nie genoeg is om hul belange te beskerm nie omdat die individuele regte van die meerderheid in die praktyk swaarder weeg as die individuele regte van kleiner groepe.

Daarteenoor het voorstanders van gesamentlike regte soos Afrikaanse skole of Afrikaans as universiteitstaal agtergekom dat politieke mag homself ook nie altyd aan grondwetlike gesag steur nie.

Maar net so het voorstanders van gebiedsregte soos selfbeskikking ontdek dat die gebrek aan ’n uitvoerbare plan en demografiese, politieke en ekonomiese werklikhede dikwels swaarder weeg as historiese ideale en internasionale regte.

Maar die praktiese probleme met hierdie drie kategorieë regte gee niemand die reg om een van hierdie groepe se grondwetlike reg om daarna te streef, te misken nie. Dit sou ondemokraties en selfs ongrondwetlik wees.

Ek het onlangs Frans de Klerk se boek, Orania, van dorp tot stad, gelees en my gevolgtrekking was dat al is daar talle praktiese probleme wat so ʼn dorp nog sal moet oorkom, dit ʼn baie meer uitvoerbare en regverdigbare plan as die volkstaatplanne van ouds is.

Orania mag daarna streef om ʼn stad te word, en kan met hierdie grondwetlike reg as “vloer”, namate hulle groei met die regering onderhandel om die “plafon” van selfstandigheid te verhoog in verhouding met die grootte van die beplande stad. Ondersteuners van gebiedsregte sal baie verder met die praktiese uitbou van ʼn “kultuurstad of -stede” kom as om te bly wens dat die regering vir hulle ʼn staat soos ‘n “Skotland” gaan gee – wat nie in Suid-Afrika vir Afrikaners bestaan nie. Weer eens, ‘n werklys wat van jouself afhang eerder as ‘n wenslys wat van die regering afhang.

Daarom moet ons bly veg vir al ons grondwetlike regte en ruimtes, anders kan ons maar die Grondwet in ʼn argief gaan toesluit. Dis nie ondenkbaar dat dele van al drie hierdie kategorieë deel van die oplossing is nie. As jy die Grondwet ondersteun, kan jy dit mos nie soos ‘n spyskaart gebruik en net kies waarvan jy hou nie. Gun mekaar die ruimtes wat daar is, al hou jy nie van die bepaalde “gereg” nie.

Samewerking met opposisiegroepe

Daar kan ʼn saak uitgemaak word dat Afrikaners hulself nie per definisie in een blok teen die ANC moet opstel nie en eerder moet probeer om politieke skikkings oor knelpunte met die regering te sluit. Maar samewerking met opposisiegroepe is ook belangrik omdat daar gemeenskaplike belange is, selfs waar daar nie altyd gemeenskaplike sienings is nie.

Ons mening is wel dat ʼn beter regering nie in die kort termyn haalbaar is nie en dat ʼn beter bedeling nodig is om probleme te oorkom en nie net ʼn beter regering nie. Ons sal ʼn ander bewind verwelkom, maar is nie oortuig dat dit al die probleme in die land sal kan oplos nie – ons land se uitdagings lê veel dieper as die politiek.

Maar daar is belangrike gemeenskaplike belange wat as grondslag vir samewerking met opposisiegroepe kan dien. Georganiseerde kultuurgroepe wat hul regte en belange bevorder, kan ’n onmisbare deel van ‘n strategie wees om te keer dat te veel mag in te min hande beland en so ’n “tirannie van die meerderheid” verhoed.

Tweedens is vryheid ondeelbaar, en raak die aantasting van een soort vryheid al die ander. Dit maak nie saak of dit persoonlike vryheid, mediavryheid, die vryheid van die regbank, ekonomiese vryheid, die vryheid van die burgerlike samelewing of die vryheid van kultuurgemeenskappe is nie. Al hierdie vryhede is saam die enigste teenvoeter vir die totalitêre transformasie van die ANC wat die hele samelewing wil oorheers.

Ons Beweging stel egter nie daarin belang om self die partypolitiek te betree nie omdat ons “meer weeg as wat ons tel” en weens die getalleverhoudings nie ʼn saakmakende verskil in die parlement sal kan maak nie. Ons glo dat ons baie meer buite die partypolitiek kan bereik. Daarby stem ons lede vir verskillende partye en sal ons net onnodige verdeeldheid in ons beweging invoer sonder dat dit voordele vir ons lede inhou.

Helpmekaar 2020-raamwerkplan vir gemeenskapselfstandigheid

Die vraag is waarna mik ons met hierdie 2020 helpmekaarplan? Wat wil ons uiteindelik bereik, en waarvoor vra ons u steun? Hoe lyk die mylpale op die pad na vryheid, veiligheid en voorspoed, en waar is die padkaart om daar uit te kom?

Laat my asseblief toe om kortliks meer te vertel van die praktiese uitkomste wat ons wil bereik. Daarna sal die hoofde van die Beweging se lede-organisasies meer besonderhede deurgee.

Nasionale gemeenskapsnetwerk

Die Solidariteit Beweging besef dat ons nie alles alleen kan regkry nie. Daarom wil ons graag vennootskappe sluit met ander organisasies wat Afrikaners verteenwoordig met die doel om ʼn nasionale gemeenskapsnetwerk tot stand te bring. Hierdie netwerk moet die uitvoering van planne koördineer en groter eendragtigheid teweegbring, met strukture van plaaslike tot op nasionale vlak. Daarom sal ons graag suksesvolle organisasies met wesenlike steun of belange betrek wat breedweg ons standpunte, Christen-demokratiese waardes en sienings oor kulturele selfstandigheid deel. Die besonderhede hiervan sal ons graag saam met belangstellende vennote uitwerk.

‘n Gemeenskap leef deur sy instellings. Daarom wil ons graag gemeenskapsnetwerke in elke stad en dorpsgebied vorm, wat met behoud van elkeen se identiteit gesamentlik omsien na prioriteite soos veiligheid, noodsaaklike dienste, die omgewing, werksgeleenthede, die bevordering van Afrikaans, maatskaplike sorg en gesonde gesinne, skakeling met die betrokke owerhede, monumente, ondersteuning aan Afrikaanse skole en kinders, geskiedenis, media, opleiding, goeie regering, besigheidsbevordering, kapitaalmobilisering en die bevordering van goeie rassebetrekkinge.

Terselfdertyd wil ons hierdie strukture tot op nasionale vlak vestig, waar ons benewens hierdie prioriteite ons bestaande nasionale projekte soos buitelandse skakeling met mense wat geëmigreer het wil uitbrei en ook bande met hoofstroom buitelandse groepe wil verstewig.

Teen 2020 wil ons graag hierdie strukture uitbou tot ‘n landwye Afrikanernetwerk wat die vermoë het om besluite te neem en dit uit te voer, een wat na ons gemeenskap se grondliggende belange kan omsien, wat ooreenkomste met die owerhede oor knelpunte sluit, ’n Afrikaanse Taalsentrum wat Afrikaans se toekoms beveilig, wat help om ons dorpe en stede te laat werk, wat alle grondwetlike regte en ruimtes voluit benut, wat gelyke geleenthede in die werksplek verseker, wat in samewerking met alle rolspelers misdaad hokslaan, wat korrupsie beveg, wat ’n groeiende Afrikaanse privaat universiteit tot stand gebring het, wat deur die Helpende hand se Skole ondersteuningsentrum ons skole suksesvol help hou.

’n Netwerk  met genoeg Studiefondse om alle jongmense wat wil te help om te studeer en met Loopbaansentrums wat ons jeug help om hul volle vermoë te verwesenlik, wat ons geskiedenis normaliseer, wat ons erfenisse bewaar, wat die regsorde help beskerm en wat selfstandigheid op elke moontlike gebied bevorder. Sien dus in u gedagte ‘n opwaartse grafiek wat van onder af in 2015 opwaarts tot by 2020 trek.

Dames en here, ‘n wyse man het gesê dat elke geslag verantwoordelik is vir sy eie tyd. Dis nou ons beurt om daardie verantwoordelikheid op ons skouers te neem. Wat ‘n wonderlike voorreg om vir ons kinders ‘n veilige toekoms te skep!

Finansiering van die Helpmekaarplan

Dit is so dat ons grootste uitdaging is om “staatsdienste” te lewer sonder om belastinginkomste te ontvang en sonder dat mense twee keer vir een diens betaal. Die Beweging bestaan meestal uit organisasies sonder winsoogmerk, en beskik nie oor onuitputlike finansiële bronne nie. Daarom is ons strategie om “grootgeld met kleingeld” te maak deur gereelde “Helpmekaar”-bydraes van duisende gewone mense.

Op hierdie manier kon ons dit tot dusver regkry om R50 miljoen rand in Sol-Tech te belê, waarvan byna alles uit gereelde tienrandbydraes van vakbondlede bestaan het. Dieselfde geld vir Akademia, hoewel ons bevoorreg is om met groter skenkings van enkele weldoeners baie vinniger te groei as wat andersins moontlik sou wees.

Ons gaan eersdaags ‘n spesiale Afrikaanse Universiteitsfonds stig om hierdie belangrike projek te versnel omdat niemand weet hoe lank ons kinders nog onbeperkte plek by die bestaande universiteite gaan kry nie. Ons moet eenvoudig Akademia binne ’n dekade tot ‘n omvattende Afrikaanse universiteit uitbou!

Die R3,5 miljard wat die Solidariteit Beweging in die volgende vyf jaar gaan mobiliseer, bestaan in die eerste plek uit die fondse wat gegenereer word deur die instellings met lede en ondersteuners, teen ’n gemiddelde bedrag van R100 per maand. Daarom wil ons uit ons harte dankie sê vir die lede van AfriForum, die Solidariteit vakbond, Solidariteit Helpende Hand en die FAK wat dit vir ons moontlik gemaak het om tot hier te vorder en vir hul volgehoue ondersteuning om hierdie Helpmekaar 2020 plan voluit in werking te stel.

Daarbenewens verkry die Beweging ook inkomste uit die mobilisering van Afrikaanse koopkrag en natuurlik uit die betaling vir dienste gelewer. Besighede van die Solidariteit Beleggingsmaatskappy soos ons Eiendomme- en ons Finansiële Dienste Maatskappy bring ook hul kant en dra miljoene tot die totaal by.

Afsluiting

Ons vra nie vir die regering spesiale gunste en gawes nie, selfs welwillende verwaarlosing sal vir ons die ruimte gee om te doen wat ons moet. Maar ek wil vir almal wat so hard aan hierdie droom werk en mooi ideale in werkbare vyfjaarplanne omskep het van harte bedank. Dis ’n wonderlike voorreg om met sulke spanne saam te werk en te sien hoe ’n droom besig is om waar te word.

Maar ek wil in besonder vir u almal bedank vir u teenwoordigheid vandag by hierdie beraad en ek wil u uit die diepte van my hart vra om saam met ons aan ’n vrye, veilige en voorspoedige toekoms te bou. Ons mag dit doen, ons kan dit doen, en ons gaan dit doen.

Ek wil graag afsluit met die laaste strofe van Totius se gedig ’’Die Besembos’’ met die pragtige Afrikaans van sy tyd, ter ere van die geslag wat ná ’n verwoestende oorlog die land weer opgebou het en van wie ons soveel kan leer:

Maar al slaan om my stam die woedende vlam

wat knett’rende vonke saai;

al kom al die winde, die kwalik gesinde,

om my as uit die wêreld te waai;

al kom ook die dier om sy eetlus te vier;

al word ek gekap en gekloof;

al word ek gestowe deur die son daarbowe

wat my laaste sappe wil roof –

nogtans sier ek my hoogte in die vreeslikste droogte

met my altyd groenende top;

en word my wortels verduur én droogte én vuur,

ja ek staan uit my as weer op.

Laat dan mense en diere, droogte en vure,

met al wat hul kwaad wil versin,

maar kom om te kap, te brand en te trap –

ek leef en sal lewe; my dood kry is min!

  • Die Toekomsberaad kan regstreeks op www.toekomsberaad.co.za gevolg word. Die volledige verslae van die Toekomsberaad se Helpmekaar 2020-plan sal ook op dié webwerf gelees kan word.

 

Ons geslag se taak is om ons bestaanskrisis aan te pak

(Hierdie toespraak is op 6 Junie 2019 gelewer, tydens Solidariteit se Nasionale Kongres)

Hierdie kongres vind plaas in uiters moeilike tye in ons land en in ons lede se lewens. Talle mense twyfel of daar nog ʼn toekoms in hierdie “wye en droewe” land is, soos die digter Van Wyk Louw Suid-Afrika beskryf het. Die redes is bekend:

  • Werkloosheid het rekordhoogtes bereik, volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA);
  • Die land beleef die langste ekonomiese afswaai (ses jaar) sedert die Tweede Wêreldoorlog, en ons ekonomie het pas weer met 3,2% gekrimp;
  • Ons lede se poste word deur rassekwotas herverdeel en ons weet nie waar ons kinders ʼn goeie werk gaan kry nie;
  • Suid-Afrika vaar die slegste van alle lande wat nié in ʼn oorlog gewikkel is nie, aldus Bloomberg.

Dit is geen wonder dat baie Godvresende, hardwerkende en wetsgehoorsame burgers wonder of daar nog ʼn toekoms in die land is nie. Dit is verstaanbaar dat mense so voel. As Eerste Wêreldmense swak regeer word, soos tweedeklasburgers behandel word en Derde Wêrelds geregeer word, dan trék hulle – na ʼn Eerste Wêreldplek.

Al hierdie dinge laat baie Afrikaners wonder of die “einde van die geskiedenis” nie vir ons as volk aangebreek het, en of ons nie, soos soveel ander beskawings, onder die golwe van die tyd gaan verdwyn nie.

Die land het weer ʼn kans gekry toe mnr. Zuma deur pres. Ramaphosa vervang is. Dit is moontlik die laaste kans. Ons wens hom sterkte toe, want ʼn swaar vrag rus op sy skouers. Ons steun nie die ANC nie, maar ons is lief vir die land en wil help om dit ʼn beter plek te maak vir almal wat hier woon. Ons hoop die regering vat uiteindelik die hand van samewerking wat ons nou al so lank na hulle toe uitsteek.

Plan B

Tog kan ons nie net op die regering staatmaak vir ons en ons kinders se toekoms nie. Dit sou heeltemal onverantwoordelik wees in die lig van hul swak prestasie. Die huidige bedeling – kom ons noem dit Plan A – is te diep in die moeilikheid om ons maklik weer daaruit te kry. Gemeet aan die ANC se “prestasielys” van meer as twee dekades, en omdat hulle steeds aan dieselfde beleid vasklou, kan ons nie aanvaar dat hulle nou skielik die land veilig gaan maak, dat die ekonomie goed gaan groei, dat hulle die drakoniese rassewette gaan afskaf, dat hulle eerlik en bekwaam gaan regeer, en dat die staatsverval omgekeer gaan word nie.

Einstein het tereg gesê as jy dieselfde dinge doen, moet jy dieselfde uitkomste verwag.

Daarom moet ons – terwyl ons hoop dat Plan A sal slaag en sal help waar ons kan en waar ons toegelaat word om dit te doen – kliphard aan ons eie Plan B werk. Want indien Plan A misluk en Plan B te stadig vorder, gaan ons kinders Plan C volg – oorsee. Dan val Plan A én Plan B plat. Dan slyt ons ons oudag eensaam in swak bestuurde ouetehuise, terwyl ons kinders sukkel om hul voete in vreemde lande te vind. ʼn Mens wil nie eens daaraan dink nie!

Waar Plan A ANC-besluitneming is, gaan ons Plan B oor selfbesluitneming. Waar Plan A oor sukkelende staatsinstellings gaan, gaan Plan B oor selfhelpgemeenskapsorganisasies. Waar Plan A oor volledige meerderheidsbestuur gaan, gaan Plan B oor groeiende selfbestuur. Onder Plan A is ons staatsafhanklik. Met Plan B raak ons staatsbestand en selfstandig. Waar Plan A oor verstaatliking en sentralisme gaan, gaan Plan B oor privatisering en federalisme. Waar Plan A van die ANC afhang, hang Plan B van onsself af. Waar die bes moontlike uitkoms van Plan A regverdige heersers is, gaan Plan B oor groeiende vryheid. As u vir my sê Plan B is in praktyk onbeskryflik moeilik, dan sê ek Plan A het homself tot sover onmoontlik bewys. Plan A het my beste wense, maar my realistiese hoop is op Plan B, want Plan C beteken die einde van ons geskiedenis.

Ek wil dit duidelik stel dat ons Plan B nié teen Plan A gerig is nie. Ons wil hê die land moet slaag, maar dit is nie binne ons mag as die regering dit rampspoedig regeer en die meerderheid hulle aanhou verkies nie. Ons kies nie teen die regering nie; ons kies vir ons gemeenskap. Ons mag mos aan ons eie kant wees. Terwyl ons hoop dat Plan A ook slaag, is my vertroue egter meer in Plan B. Sol-Tech wys dat gemeenskapskrag meer suksesvol is as staatsmag. Privaat hospitale is gesonder as staatshospitale. Dienste in privaat dorpe werk beter as munisipale dienste.

Ons Westerse kultuur is die grootste rede hoekom Plan B werk. Dit is ʼn bou-en-bewaar-kultuur, wat nie by Van Riebeeck begin het nie, maar wat in die newels van die tyd in antieke Athene, Jerusalem en Rome gebore is en ontwikkel het.

Kultuur: van geslag tot geslag

Kultuur is nie net braaivleis en rugby en lekker musiek nie. Dit is sekerlik deel van ons kultuur, maar dit is ʼn vervlakking van ons kultuur om dit te verskraal tot sport en ontspanning. Kultuur is ʼn lewenswyse; dit is wie en wat ons is en waaraan ons as vanselfsprekend glo. Dit is ons stelsels of hardeware (soos die regsorde, die markekonomie, wetenskap, tegnologie en demokrasie) en dit is ons waardes of sagteware (soos persoonlike verantwoordelikheid, werketiek, tydsbegrip, dissipline en gesinstrukture).

Kultuur is die skat van ons Christelike geloof vanuit Jerusalem, ons denkwyse vanuit antieke Athene en ons samelewingsorde vanuit Rome. Daarvandaan is ons kultuur gevorm deur die groot Westerse omwentelings soos die Protestantse Hervorming, die Renaissance, die Verligting en die Nywerheidsrewolusie.

Maar wat is die kern van die sukses van hierdie kultuur wat die Weste nou al vir eeue suksesvol gemaak het? As ons dít weet, het ons ook die sleutel tot die sukses vir ons opstaan uit die huidige krisis.

My siening is dat die wese van die Westerse sukses daaruit spruit dat Westerlinge histories dít wat ons van ons voorgeslagte gekry het, bewaar en verbeter het, en dit weer na die volgende geslag toe oorgedra het. Elke geslag het net verder en hoër gebou as die vorige een. Almal begin nie weer voor of gaan agteruit nie. Dit is hierdie “verbond tussen geslagte” waarmee Westerse samelewings deurlopend oor die eeue opgebou is wat die Weste laat uitstyg het en waarmee ons weer ʼn toekoms kan opbou.

Kom ons kyk waar dit vandaan kom:

Meer as 2 500 jaar gelede moes jong mans in antieke Griekeland wat diensplig moes doen om burgerskap van die Atheense stadstaat te kry, ʼn merkwaardige eed aflê. Hierdie eed, en dit wat dit onderlê, het myns insiens die grondslag van ons Westerse kultuur geword.

Die kern daarvan was dat jong mans van 18 jaar moes beloof om die erfenis wat hulle van hul voorgeslagte gekry het, te bewaar en in ʼn beter toestand as wat hulle dit ontvang het, aan die volgende geslag na te laat. Daarby moes hulle ook onderneem om hul mense dapper te verdedig, die stad se wette te gehoorsaam, verantwoordelikheid vir hul gemeenskap te neem en om die God van hul vaders te dien.

Hierdie eed het oor die eeue in baie vorme weerklink. In die vroeë 1800’s het die Britse denker Edmund Burke gesê dat die samelewing ʼn kontrak is tussen dié wat reeds dood is, dié wat vandag lewe en dié wat nog gebore moet word. Daarmee het Burke bedoel dat ʼn kultuur en ʼn samelewing nie net bedryf mag word vir die gerief van die huidige geslag nie, maar ʼn diep verbond is tussen die voorouers, die lewendes én die nageslag wat nog moet kom. Jy moet dít wat jy ontvang het, verbeter, maar jy mag dit nie weggee nie, want dit is nie joune nie. Jy mag dít wat jy gekry het by jou voorgeslag gebruik, maar jy leen dit van jou kinders. Dít wat goed is van wat jy gekry het, moet aan die volgende geslag aangegee word.

Albert Einstein hierdie oordrag van geslag tot geslag treffend gestel: “Bear in mind that the wonderful things you learn in your schools are the work of many generations. All this is put in your hands as your inheritance in order that you may receive it, honour it, add to it, and one day faithfully hand it on to your children.”

Dit sluit aan by pres. Paul Kruger se laaste boodskap waarin hy sê neem uit die verlede wat skoon en mooi is en bou die toekoms daarmee. Dit sluit ook aan by die woorde van Langenhoven se laaste vers van Die Stem waar hy pleit “… Dat die erwe van ons vaders vir ons kinders erwe bly”. Dit is veel meer as braaivleis en rugby. Dit is goeie skole. Dit is ʼn gesonde ekonomie. Dit is ʼn goeie werk. Dit is wêreldklaskolleges en -universiteite. Dit is ʼn moderne samelewing met al die dienste en geriewe wat daarmee gepaard gaan soos werkende hospitale, paaie, huise en infrastruktuur.

Wat is egter die geheim van die val of oorlewing van beskawings? Die Britse historikus, Arnold Toynbee, het in sy dekade lange Studie van die Geskiedenis (wat 12 boeke beslaan) bevind dat almal deur uitdagings bedreig was, maar dat skeppende minderhede wat suksesvol op die bedreigings gereageer het, die geheim van oorlewing is.

Hierdie minderhede het ʼn besielende doel gestel, ʼn plan gemaak om dit te bereik en volhardend gewerk totdat dit verwesenlik is – kortom: doel, plan, aksie. Wanneer leiers egter nie met voldoende skeppende energie en verbeeldingryke planne vorendag gekom het en dit uitgevoer is nie, het beskawings ondergegaan. In Toynbee se woorde: “Great civilizations never die, they commit suicide.”

Ons geslag se taak

Die geskiedenis gee aan elke geslag ʼn taak. Sommiges kry makliker take as ander. Party kry baie, ander moet baie gee. Omdat daar egter ʼn verbond tussen die geslagte is; omdat ʼn beskawing ʼn ketting van geslagte is wat soos met ʼn afloswedloop dít wat jy kry, moet bewaar en vir die volgende geslag aangee; omdat die een geslag van die vorige en die volgende een afhanklik is, beteken dit dat as net een geslag nie sy taak opneem nie, daardie ketting vir altyd verbreek is. Dan gaan daardie beskawing onder, dit verskraal tot ʼn voetnota in ʼn geskiedenisboek. Dit is soos om ʼn boom af te kap en dan te dink jy sal steeds die vrugte en koelte kan bly geniet.

Die geslagte voor ons het met groot uitdagings te kampe gehad. Die een geslag moes die Groot Trek aanpak, die volgende een die Anglo-Boereoorlog. Daarna het die modernisering van Afrikaans gevolg waardeur die land opgebou is. Die volgende geslag moes die Koue Oorlog en die Grensoorlog trotseer en het die volkereverhoudingsprobleem probeer oplos deur sogenaamde “afsonderlike vryhede.” Die volgende geslag het die waagstuk van meerderheidsregering aangepak.

Maar wat is ons taak? Die geskiedenis stel geen geslag vry om maar net op die rug van vorige geslagte se antwoorde op die eise van hul tyd te ry nie.

Terug na Toynbee se wysheid van uitdaging en antwoord as die sleutel tot voortbestaan – ek wil dit waag om te sê dat dit ons geslag se taak is om die bestaansuitdaging van ons as Westerse volk met ʼn volhoubare oplossing aan te pak.

Ons bestaanskrisis is nie ons klein getalle nie, maar ons yl verspreiding wat veroorsaak dat ons orals in die minderheid is en landwyd dieselfde probleme het.

Ons is meer as die onderskeie bevolkings van Namibië, Lesotho, Macedonië, Slowenië, Letland, Botswana, Gambië, Gaboen, Estland, Swaziland, Mauritius, Ciprus en Luxemburg, asook ’n menigte ander volke. Maar ons woon nie gekonsentreerd soos al hierdie volke nie, en ons is gevolglik ʼn kwesbare minderheid tussen ʼn groeiende meerderheid. Ons het nie ons eie “Skotland” of “KwaZulu” nie.

Daarom word ons landwyd in die werkplek deur rasseformules, kwotas en diskriminasie geteiken; daarom is ons orals onveilig; daarom verval ons dorpe; daarom word ons landwyd deur onsimpatieke meerderhede regeer; daarom word ons Westerse leefwyse orals bedreig; en daarom sien so baie mense nie meer ʼn toekoms hier nie.

As die uitdaging yl verspreiding is, is die oplossing groter konsentrasie– en dit is presies wat lankal besig is om vanself te gebeur. ʼn Groot Trek is weer aan die gang. Mense trek al dekades lank uit vervallende klein dorpies na streeksdorpe en na die stede toe; hulle trek van vervreemde middestede na voorstede; uit gevaarlike gebiede na veiligheidsdorpe; uit plekke waar hulle ʼn klein minderheid is na plekke toe waar daar groter getalle van hul kultuurgenote is waar hulle tuis voel soos in die Wes-Kaap. Ons is besig om al meer op al minder plekke te konsentreer, en die groter getalle maak oplossings makliker. Dié wat kan, “trek” vanaf staatshospitale na privaat hospitale, vanaf die polisiediens na privaat sekuriteitsdienste, vanaf werk in die staatsdiens en openbare ondernemings na werk by kleiner privaat maatskappye. Meer as 500 000 het ook al in organisasies soos Solidariteit, AfriForum en ons Beweging gekonsentreer. Dit maak dit al makliker om al vinniger aan al groter oplossings te werk.

Die grootste waagstuk is om in ʼn krisis te wag (op beter dae) in plaas daarvan om ʼn plan te waag.

Kantonstrategie

In die praktyk ontstaan daar orals konsentrasies wat ons kulturele kantons (Switserland) kan noem, waar mense meer vry, veiliger en tuis voel. Waar ons vroeër al verder van mekaar af getrek het, trek mense nou al nader aan mekaar, en werk vanuit hierdie ruimtes dan saam met almal anders. Ons moet hierdie hedendaagse Groot Trek met dienste ondersteun, want dit het in praktyk ons Plan B geword wat vanself ontstaan het toe Plan A vasval.

Dit is nie ʼn projek om onsself te isoleer nie, maar juis in reaksie op ons isolering en uitsluiting deur die owerheid. Dit bou juis die kulturele leefruimtes vir ons om saam in Afrika te kan bestaan. Eilande is nodig om te keer dat die see jou nie oorweldig nie. Hierdie strewe na selfbesluitneming in kulturele leefruimtes is in reaksie op die mislukking van ANC-besluitneming oor ons. Dit sal nie help om hulle te beveg deur die staatsruimtes te probeer terugvat nie. Ons moet eerder gemeenskapsruimtes bou deur konsentrasie, as om deur konfrontasie dít wat oorgeneem, is te probeer terugvat.

In die praktyk vorder ons al ver met ons plan om, soos die Israelse Histadrut, ʼn toekoms vir ons mense te bou. Maar ons sal vinniger groter moet konsentreer, want die yl verspreiding bly steeds ons bestaansuitdaging wat nog ons ondergang kan beteken.

Daarom het ons met twee groot projekte begin om ons mense se kapitaal te konsentreer om só vinniger die kulturele leefruimtes te bou wat ons nodig het om ons kultuurgemeenskap voort te sit. Daarmee gaan ons Sol-Tech se nuwe kampus bou. Daarmee gaan ons vir Sol-Tech ʼn groot koshuis bou as studieverblyf vir ons lede se kinders wat ver bly. Daarmee gaan ons ʼn groot kampus vir Akademia bou. Daarmee gaan ons nog saam met vennote bekostigbare skole van gehalte vir ons gemeenskap bou, en daarmee gaan ons nog groter leefruimtes bou.

Ons sal binnekort meer praktiese planne hiervoor bekendmaak, want ons wil graag hê ons lede moet nie net bydraers wees nie, maar bouers wat saam aan die toekoms bou. Ek gee u die versekering dat van die topbreinkrag in die land saam met ons aan al hierdie planne werk. Die kern hiervan is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal waar mense ʼn finansiële opbrengs op hul geld kan kry, saam met ʼn kulturele dividend soos ʼn kollege, universiteit en skole vir hul kinders.

Uiteindelik wil ons mense in klein dorpies kan help met noodsaaklike dienste. Ons wil in die 30 ankerdorpe en -stede waarnatoe mense (volgens ons navorsing) trek, volhoubare dienste skep soos veiligheid, werk, onderwys en maatskaplike sorg. Ek glo egter dat ons ook groter kantons sal moet vestig, waarskynlik in Pretoria in die noorde, moontlik een in die Suid-Kaap, en een in die weste van die land met Orania as groeipunt.

Al hierdie projekte doen ons nie teen die owerheid nie, maar omdat dit nie sal help om vooraf goedkeuring te vra nie, vra ons eerder ná die tyd om erkenning vir dít wat in praktyk gebou is. Selfs waar ons dit nie kry nie, bied die praktiese werklikhede wat ons skep vir ons die leefruimtes waarin ons vry, veilig, en voorspoedig kan voortbestaan.

Ons strategie is om al die ruimtes wat die Grondwet en internasionale reg ons bied, te benut.

Daniel Burnham het gesê: “Make no little plans; they have no magic to stir men’s blood and will not be realized. Make big plans; aim high in hope and work, remembering that a noble, logical plan will never die, but long after we are gone be a living thing, asserting itself with ever-growing insistency.”

Ons verlang nie na die verlede onder die NP nie, maar ons sien ook nie uit na die toekoms onder die ANC nie. Ons wil net ʼn normale lewe lei. Ons staan nie vir uitgediende ideologieë nie. Ons werk vir ʼn normale toekoms in ʼn normale werkende land waar ons en ons gesinne veilig kan leef en bly, en waar almal ʼn normale werk kan hê waar ons gelyk behandel word.

ʼn Normale werk is net moontlik in ʼn normale samelewing. Daarom is ons Beweging se strewe na ʼn normale samelewing net so noodsaaklik as ons vakbond se strewe na ʼn goeie werk vir ons lede.

As u sou vra hoe lank dit alles gaan neem, dan is my antwoord dat dit afhang van die steun en samewerking van ons eie mense. Die staat gaan dit nie van bo af vir ons gee nie; ons bou dit self van onder af. Die spoed en die hoogte van die kulturele plafonne gaan afhang van onsself; nie van die owerheid nie. Ons hoop ook om ondersteuning van die buiteland af te begin kry omdat dit opbouende projekte is wat net tot voordeel van almal sal strek.

Die harde waarheid is dat ons ná 25 jaar weet dat die Akte van Menseregte nie ons grondliggende belange gaan beskerm nie. Maar ons weet ook dat hoe hoër die vlakke van selfstandigheid is wat ons bou, hoe minder kwesbaar sal ons in ʼn vervallende staat wees.

Vryheid is uiteindelik die enigste waarborg vir veiligheid, vir ons lede se werk, vir gelykheid, vir reg en geregtigheid, vir volhoubare voorspoed, vir werkende dienste, vir goeie skole, en vir ʼn toekoms vir ons kinders.

Ons mense het deur hul vindingrykheid, skeppende vermoë en ondernemingsgees wêreldklas-prestasies op alle gebiede bereik: medies, sport, wetenskap, besigheid, kultuur en die kunste. Ons sal daardie selfde vermoë moet aanwend om op staatkundige gebied weer al hierdie elemente in ʼn samehangende plan in te weef, anders is dit nie standhoudend nie.

ʼn Volk skep sy eie toekoms, het Vader Kestell gesê. Soos die beroemde bestuurskundige Jim Collins dit gestel het: “Whether you prevail or fail, endure or die, depends more on what you do yourself than on what the world does to you.”

Ten slotte: Kom ons pak die taak wat die geskiedenis aan ons geslag opgelê het aan met geloof, waagmoed, ywer en volharding.

Saam met pres. Kennedy vra ek vandag: “If not us, who? If not now, when?”

 

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.