Inperking: Te min te laat

Die aankondiging dat die ekonomie verder oopgemaak word is te min te laat. Die regering moes minstens 7 provinsies tot vlak 1 oopgestel het. SA is nou in ‘n ramptoestand as gevolg van die regering se wanbestuur van die ekonomie.

Die Covid-19 kurwe is besig om af te plat, maar die wyse waarop die pandemie deur die regering bestuur is veroorsaak dat die ekonomiese krisiskurwe nou eers begin styg. Die gevolge van die irrasionele sluit van die ekonomie gaan nog jare nadat die pandemie onder beheer is, voortduur.

Die regering het geen begrip getoon vir die delikate werking van die ekonomie nie. Mag is misbruik, politieke agendas is gedryf en fondse is geplunder.

Die Solidariteit Beweging doen ‘n beroep op die staat om verdere inmenging in die ekonomie te staak.

IMF-lening is vir Suid-Afrika; nie ’n skenking vir sekere politici nie – Solidariteit Beweging

Die Solidariteit Beweging het vandag gesê dat die lening van sowat R70 miljard wat die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) aan Suid-Afrika toegestaan het, aangewend moet word om die land midde die krisis te help en nie deur sekere politici as ’n skenking vir hul eie sakke of projekte beskou moet word nie.

Dit volg nadat sekere amptenare wat hoog op is onlangs betrek is by ’n ondersoek na korrupsie en tenderbedrog rakende die toekenning en aanwending van koronavirus-noodfondse, en verdere reddingsboeie aan ondermeer die SAL.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is lenings wat deur ’n regering aangegaan word uiteindelik ’n juk wat die belastingbetaler moet dra om die skuld te vereffen. Derhalwe dring die Beweging daarop aan dat presiese inligting rakende die aanwending van hierdie fondse bekend gemaak moet word om sodoende deursigtigheid te verseker. “Met ’n verwagte staatskuld van oor die 80% van die bruto binnelandse produk (BBP) vir die jaar, kan ons nie bekostig dat fondse wat ten duurste bekom word om Suid-Afrika tydens die krisis te help deur korrupte kaders gekaap word, terwyl belastingbetalers vir die gelag moet betaal nie,” het Buys gesê.

Buys het voorts gesê dat die Beweging binnekort met die IMF in verbinding sal tree om te verseker dat daar strenger vereistes en maatreëls in plek gesit word vir toekomstige lenings met betrekking tot korrupsie en reddingsboeie aan kronies sukkelende staatsinstellings soos die SAL. “Hierdie vereistes is nie alleenlik daar om die IMF te beskerm nie, maar om Suid-Afrikaanse belastingbetalers en die land as ’n geheel teen verkwisting te beskerm. Ongeag die vereistes, indien daar voorts nie hervormings plaasvind wat pro-besigheid en ekonomiese groei is nie, sal Suid-Afrika in ’n strik van skuld vasgevang word waaruit hy moeilik sal kan herstel,” het Buys gesê.

Volgens Buys het Suid-Afrika nie meer die luuksheid om staatsideologieë soos herverdeling voor te staan wat ekonomiese groei demper nie. “Die fiskale ruimte is reeds uiters beperk en verdere deregulering moet plaasvind om dit vir ondernemings so maklik as moontlik te maak om sake te doen en werk te help skep,” het Buys gesê.

Bevordering van private moedertaalonderrig deur hoofregter bekragtig – Solidariteit Beweging

Die Solidariteit Beweging het vandag bevestig dat hy sy planne gaan versnel om opvoedkundige instellings met Afrikaans as voertaal vinniger uit te bou. Dit volg nadat dat die LUR vir Onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) kritiek gelewer het op ’n volbank van die appèlhof se uitspraak oor Afrikaans by Unisa. Hy het in dieselfde toespraak ook kritiek op Solidariteit se bestaande privaat instellings gelewer.

Volgens die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, het die Konstitusionele Hof by monde van hoofregter, Mogoeng Mogoeng, in 2019 in sy uitspraak in die Stellenbosch-taalsaak ’n beroep op die gemeenskap gedoen om self private onderriginstellings ter bevordering van Afrikaans en ander inheemse tale te bou, ingevolge artikel 29(3) van die Grondwet. Hoofregter Mogoeng het selfs ’n beroep op korporatiewe welwillendheid gedoen om hulpbronne beskikbaar te maak om sodoende te help om privaat opleidingsinstellings vir Afrikaans en ander inheemse tale te befonds.
“Hoofregter Mogoeng se versoek dat gemeenskappe self instellings moet bou en dit met eie kapitaal moet finansier om taal te bevorder, is dus presies wat die Beweging, binne die raamwerk van die Grondwet, doen,” het Buys gesê. Hy het beklemtoon dat hoofregter Mogoeng se uitspraak voortbou op vele soortgelyke standpunte deur die Konstitusionele Hof ten gunste van Afrikaans en Afrikaanse instellings vir hoër onderwys.

“Super-taal”
Volgens Buys is dit ironies dat Lesufi tydens die debat van die NRP gemaan het dat daar nie ’n “super-taal” moet wees nie en dat alle tale gelyk moet wees, terwyl hy doelbewus en met ywer voortgaan om erkende inheemse tale te ondermyn sodat Engels as die enigste “super-taal” van onderrig by instellings voortbestaan. “Die Solidariteit Beweging, anders as die LUR, staan juis die beginsel van veeltaligheid voor en moedig dus ook enige gemeenskap aan om hulle taal deur onderriginstellings te bevorder. Die Beweging is voorts bereid om saam met enige gemeenskap te werk om dít te verwesenlik,” het Buys gesê.
Hy het ook beklemtoon dat die Beweging se opleidingsinstellings ten doel het om wêreldklas in Afrikaans te wees. “Die doel is nie om ander uit te sluit of om Afrikaanse studente te isoleer nie, maar juis om die Afrikaanse ruimtes te skep wat dit vir jongmense moontlik sal maak om saam in Suid-Afrika te bly tot voordeel van die land en al sy mense. Die doel is ook nie om uitsluitend te wees nie, maar juis om te verseker dat Afrikaans as akademiese taal én Afrikaanse studente ingesluit is. Hierdie instellings is ook oop vir enige anderstalige student wat in Afrikaans wil studeer.

Kulturele infrastruktuur
Die internasionale reg en die Grondwet se vertrekpunt is dat taal- en kultuurgemeenskappe die reg op bestaan en voortbestaan het, en dat hulle instellings mag hê om hulle taal en kultuur na die volgende geslag oor te dra. Enige poging om hulle hierdie reg te ontsê, is ’n totalitêre poging om daardie gemeenskappe te vernietig. Daarom is die Solidariteit Beweging se opvoedkundige instellings deel van ons strategie om die kulturele infrastruktuur te bou wat nodig is om dit vir Afrikaners en Afrikaanssprekendes moontlik te maak om vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika te bly. Die Grondwet se uitgangspunt is juis eenheid in verskeidenheid, en daarom sal pogings om eenvormigheid af te dwing of om minderhede by die meerderheid in te lyf, met alle mag teengestaan word.

“Demokrasie sonder kulturele vryheid, is net vryheid vir die demografiese meerderheid en dus ondemokraties. Daarom mag aktivistiese politici, wat die multikulturele werklikheid van die land met ’n monokulturele ideologie probeer omskep na hulle politieke beeld, nie toegelaat word om ter wille van goedkoop publisiteit ’n heksejag teen Afrikaans en sy sprekers te voer nie. Dis ’n deursigtige poging om die aandag van die groter onderwyskrisisse in die land af te lei, waaraan mnr. Lesufi ’n groot aandeel het,” het Buys gesê.

“Ons bly trots op Afrikaans wat volgens kenners soos Prof Mahmood Mamdani van Uganda die mees suksesvolle dekoloniseringsprojek op die Afrika kontinent was,” het Buys gesê.

Gautengse grafte: Beweging vra ondersoek na moontlike tender-ongerymdhede

Die Solidariteit Beweging het vandag versoek dat daar dringend ondersoek ingestel word na moontlike ongerymdhede in die uitreiking van enige tenders om grafte in Gauteng te grawe. Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die Gautengse LUR vir gesondheid, dr.Bandile Masuku, ter voorbereiding op Covid-19-sterftes in dié provinsie, plek vir sowat 1,5 miljoen grafte geïdentifiseer en sommige begin grou het.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê dat hoewel die styging in Covid-19-sterftes in dié provinsie nie lig opgeneem moet word nie, is die veronderstelling absoluut absurd dat daar slegs in dié enkele provinsie vir 1,5 miljoen sterftes – drie keer meer as die aantal sterftes in die hele wêreld tot dusver – gereed gemaak moet word. “Die eerste voorspellings, wat Suid-Afrika genoop het om die nasionale inperking in te stel, het geraam dat die land as ’n geheel ten slegste sowat 351 000 sterfgevalle weens Covid-19 kan hê. Hierdie voorspellings is egter gemaak voordat daar baie oor die virus en neigings bekend was. Die departement van gesondheid, in samewerking met mediese kenners, se eie vooruitskattings is egter later aangepas na ’n moontlike slegste scenario van sowat 48 000 sterftes landswyd teen November vanjaar. Hierdie moontlike slegste scenario is ver verwyderd van dít wat die Gautengse regering nou vir die een enkele provinsie uitstip,” het Buys gesê.

Volgens Buys laat hierdie aksie deur die Gautengse LUR baie vrae ontstaan. “Indien die departement van gesondheid self voorspel dat Suid-Afrika ten slegste 48 000 sterftes landswyd kan hê, is dit verregaande dat Gauteng homself moet voorberei op 1,5 miljoen sterftes wat sowat 10% van dié provinsie se totale bevolking uitmaak. Weens die massiewe verwydering tussen dit wat deur die departement voorspel word en dit wat die Gautengse regering op voorberei, is dit dus uiters belangrik om hierdie projek en die moontlike tenders wat daarmee gepaard gaan deeglik te ondersoek,” het Buys gesê.

Volgens Buys kan aksies soos hierdie voorts tot onnodige paniek en angs in die provinsie lei terwyl dit geensins op enige feite gebaseer is nie. “Indien die LUR vir gesondheid voorspel dat daar soveel sterftes in die Gauteng-provinsie gaan wees moet hy dit kan staaf deur empiriese feite bekend te maak. Indien nié, is hy besig om onverantwoordelik op te tree,” het Buys gesê.

Buys stel ten slotte dat dit sinies is van die Gautengse regering dat hulle antwoord op die pandemie blyk te wees om massagrafte te voorsien in plaas van hospitaalbeddens. “Aanvanklik was die rede vir die nasionale inperking dat daar meer hospitaalbeddens bygevoeg moet word, maar met meer as 100 dae van inperking is daar nasionaal slegs sowat 400 hospitaalbeddens bygevoeg,” het Buys gesê.

Solidariteit Beweging loods globale veldtog teen diskriminerende regeringsbeleid

Die Solidariteit Beweging het ’n internasionale veldtog geloods om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om rassediskriminasie in die toekenning van regeringsfondse in die stryd teen die gevolge van die Covid-19-pandemie te beveg. In ’n brief aan oorsese regerings en internasionale organisasies vra die Beweging dat sterk standpunt ingeneem word teen die toepassing van enige vorm van rassediskriminasie wanneer hulpverleningsmaatreëls in die stryd teen die gevolge van die Covid-19-pandemie ingestel word.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is ’n internasionale veldtog nodig omdat die regering nie na pleidooie van verskeie burgerlike organisasies en politieke partye wil luister nie. “Ons het vandag verskeie oorsese regerings en organisasies versoek om nie net standpunt teen die afgelope weke se kommerwekkende gebeure in te neem nie, maar ook om binne hul magte stappe teen die Suid-Afrikaanse regering te doen. Ons het reeds met politici in verskeie lande in Europa gepraat en verwag dat druk op die Suid-Afrikaanse regering gaan toeneem.”

In sy skrywe verwys die Beweging na die Minister van Toerisme, Mmamoloko Kubayi-Nguabane, se Toerismehulpfonds vir klein ondernemings in die toerismebedryf, sowel as die Minister van Kleinsakeontwikkeling, Khumbudzo Ntshavheni, se besluit om rassevereistes te gebruik in die toekenning van finansiële hulp aan klein sakeondernemings.

Verder is die Solidariteit Beweging ook bekommerd oor wat hy beskryf as ’n polisiestaat wat in Suid-Afrika ontwikkel. Volgens Buys is die gebruik van geweld en intimidasie deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Nasionale Weermag kommerwekkend, en die Beweging gaan die buitewêreld ook daarvan bewus maak.

’n Derde punt waarna die Beweging in sy skrywe aan oorsese rolspelers verwys, is die inmenging in die hulpverlening wat deur gemeenskapsorganisasies gelewer word. “Ons is ook tans besig om oorsese regerings en organisasies bewus te maak van die drakoniese aard van Suid-Afrika se inperkingsmaatreëls. Sekere maatreëls, wat geen bydrae lewer tot die bestryding van die virus nie, word op ‘n drakoniese manier afgedwing. Die maatreëls dui almal op ‘n algemene oorregulering van die burgerlike samelewing waardeur mense se menswaardigheid en regte aangetas word.”

Die Solidariteit Beweging wil hê dat ander lande, veral die VSA en Europese lande, druk op die Suid-Afrikaanse regering moet plaas om van diskriminerende praktyke en maatreëls wat onaanvaarbaar is, af te sien. Die Beweging het briewe aan meer as 30 lande se regerings geskryf, sowel as aan organisasies soos die Verenigde Nasies, die Europese Unie, die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds.

Solidariteit Beweging wil na grondwethof oor inperking

Die Solidariteit Beweging het vandag gesê dat hy besig is om senior regslui te raadpleeg met die doel om uiteindelik die grondwethof te nader om die regering te verplig om die huidige nasionale inperking meer na streeksvlak af te wentel.

Volgens die Beweging is daar geen rede hoekom die volgehoue, irrasionele inperkingsmaatreëls wat tans in Suid-Afrika geld, nie so gou as moontlik in verskeie streke na vlak 1 verslap behoort te word nie. Volgens die Oxford Government Response Stringency Index is Suid-Afrika tans een van die lande met die strengste inperkingsmaatreëls.

Dit volg nadat dit al hoe duideliker word dat Suid-Afrika reeds die moontlike voordeel uit ʼn grendelstaat bereik het en dat ʼn verdere uitgerekte inperking nie die infeksiekoers van die virus sal demp nie, maar meer werklose uitgelewerde mense tot gevolg sal hê. Die Beweging het dit gestel dat hoewel die virus nog nie sy piek bereik het nie, die inperking in sy huidige formaat nie hierdie gebeurtenis sal keer nie.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is die ANC besig om met die inperking mense se werk te saboteer. “Dit wil voorkom of die regering se voorgestelde fragmentering van inperking op verskillende streke en provinsies bloot lippediens was. Dit is ondenkbaar dat die Limpopo- en Noordwes-provinsies, waar tans onderskeidelik 17 en 29 aktiewe gevalle in die hele provinsie voorkom, steeds op vlak 4 van die inperking is. Voorts het Mpumalanga 33 en die Noord-Kaap 12 aktiewe gevalle, terwyl mense reg oor hierdie provinsies nie kan werk om vir hul kinders kos te voorsien nie,” het Buys gesê.

Volgens Buys is daar geen sin daarin om die hele land, of selfs hele provinsies so streng in te perk nie. Provinsies wat ʼn lae infeksiekoers het, kan realisties gesproke tot vlak 1 verlaag en slegs gemonitor word. “Die idee van die inperking was om te verhoed dat die gesondheidstelsel oorweldig word. ʼn Benadering wat meer federaal van aard is, sal steeds hierdie doelwit bereik terwyl die virus deur verskillende streke beweeg,” het Buys gesê.

Buys benadruk dit dat die tyd nou aangebreek het om die maatreëls dringend te verslap sodat soveel as moontlik mense waar die infeksiekoers laer is, toegelaat kan word om veilig terug te keer werk toe. “Mense kan nie langer verhinder word om na hul gesinne om te sien nie. Die terugkeer na die werk moet geskied terwyl veiligheid en higiëne in die werkplek steeds ʼn hoë prioriteit geniet,” het Buys afgesluit.

Solidariteit Beweging verwelkom uitfasering van inperking 

Die Solidariteit Beweging verwelkom die proses van uitfasering van die inperking, maar glo dat die regulasies meer verslap moes word sodat mense wat gesond kan werk weer kon terugkeer werk toe. Indien dit nie gebeur nie is dit ʼn geval van “te min te laat”, en bestaan die gevaar dat die regering baie mense vanweë hongersnood kan laat omkom in sy poging om te keer dat die virus nie mense laat sterf nie.

Die beweging verwelkom dit ook dat talle van ons voorstelle in die regering se nuwe regulasies verskyn omdat dit in ooreenstemming is met beste praktyke wat in ander lande suksesvol was. Dit behels onder meer maatreëls om gesonde werk te bevorder, en ook slim inperkings wat op dele wat erger onder die epidemie deurloop sal fokus.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê dat die grootste fout wat die regering maak is om te dink dat die staat in plaas van die privaat sektor die ekonomie weer aan die gang moet skop . Die Suid-Afrikaanse staat kan dit nie bekostig om deur groot geldelike inspuitings die land se ekonomiese wiele weer te laat draai soos wat die geval in ryk lande is nie.

Daarom is die enigste oplossing dat die privaat sektor bevry moet word om groot hoeveelhede geld in die ekonomie te pomp. Hierdie geld moet verkry word deur vir die volgende jaar belastings en regeringsregulasies dramaties te verlig, verliesmakende openbare ondernemings te verkoop, staatsuitgawes te sny en die armes se bestaanstoelae vir die volgende jaar te verhoog.

Beleggersvertroue

Terselfdertyd moet die regering beleggersvertroue dringend herstel om kapitaal na die land te lok deur skadelike beleidsrigtings te laat vaar en staatskapers wat tot dusver skotvry rondloop, te vervolg. Beleidsrigtings wat in landsbelang gestop moet word is: onteiening sonder vergoeding, die beplande nasionalisering van gesondheidsorg en die praatjies oor die gebruik van pensioengeld om verliesmakende staatsondernemings te subsidieer. Die rasse- en transformasievoorskrifte vir staatshulp is ook verdelend en diskriminerend, en behoort dringend verslap te word. Dit is jammer dat AfriForum en Solidariteit eers hofsake daarteen moes aanhangig maak in plaas dat die regering self besef dat ʼn ramptoestand nie die tyd is om op grond van ras te diskrimineer nie.

Die eerste drie weke van inperking was nodig om die verspreiding van die virus te keer en om die land se gesondheidstelsel op ʼn groot toename in siek mense voor te berei, maar baie van die inperkingsregulasies was onnodig en het die pandemiekrisis verder vererger deur die land in ʼn groter ekonomiese krisis te dompel.

Die Covid-19-epidemie gaan volgens alle aanduidings nog lank met ons wees en dit gaan duisende mense laat siek word. Die stryd daarteen is ʼn marathon eerder as ʼn naelloop, en die land het ekonomiese hulpbronne nodig om hierdie lang stryd te finansier. Daarom is dit dringend belangrik dat Solidariteit se voorstelle oor hoe alle mense wat gesond na die werksplek kan terugkeer landswyd in werking gestel behoort te word, en nie net noodsaaklike werkers nie. Buys het voorts ook benadruk dat buurtwagorganisasies toegelaat moet word om hul plaaslike gemeenskappe in samewerking met die polisie te help beskerm.

Die epidemie bly ʼn ernstige bedreiging, en die uitfasering beteken nie net dat mense soos voorheen kan aangaan nie, maar dat daar ʼn “nuwe normaal” is waarvolgens almal na mekaar se welstand sal moet omsien deur sosiale afstand te handhaaf en sekere gesondheidsprotokolle te handhaaf. Dit bly ook belangrik om mense met onderliggende siektetoestande steeds te beskerm, terwyl die staat ook sy vermoë om vir die virus te toets, dit op te spoor en siekes te behandel verder moet verbeter in samewerking met die privaat sektor.

Laastens lê die Beweging klem daarop dat die desentralisering van die hantering van die virus noodsaaklik is om suksesvol in die stryd te wees. “Die gefragmenteerde benadering waar verskillende provinsies inperking op verskillende vlakke kan uitfaseer, is ʼn welkome eerste stap,” het Buys gesê.

Noodsaaklik dat universiteite met programaanbod voortgaan – Solidariteit Beweging

Die Solidariteit Beweging het vandag ʼn beroep op openbare universiteite gedoen om dadelik met hul beplande aanlyn programme voort te gaan en om nie toe te laat dat oorkombare hindernisse die akademiese program ontspoor nie.

Hierdie oproep kom te midde van universiteite soos die NWU, UP en ander opleidingsinstellings wat die begin van aanlyn klasse pas weer uitgestel het uit kommer dat alle studente dalk nie gelyke toegang tot tegnologie het nie.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is dit nie ʼn oplossing om alle studente terug te hou omdat universiteitsbesture bekommerd is dat sekere studente gaan agterraak nie.

Die oplossing is om eerder spoedeisend met aanlyn klasse te begin, en dan spesiale maatreëls te tref om studente te help wat nie toegang tot die regte tegnologie het nie. Dit help nie om die groot meerderheid studente te benadeel uit vrees dat die minderheid nie toegang tot die klasse gaan hê nie. Hoewel besture aanvoer dat die voortsetting van aanlyn klasse uitsluitend gaan wees, word die groot massa studente wat wel toegang het met die uitstel van klasse uitgesluit.

Duisende dosente en ondersteuningspersoneel het die afgelope maand kliphard gewerk om kursusse aanlyn te kry, terwyl studente hulself gereed gemaak het vir klasse wat hierdie week sou begin. Nou moet hierdie mense hoor dat universiteitsbesture eensydig besluit het om klasse tot in Mei uit te stel.

Die verlengde inperking het reeds geweldige ontwrigting van die werksaamhede van universiteite tot gevolg gehad, en nou verleng universiteitsbesture dit verder. Dit is reeds baie moeiliker om aanlyn te studeer in plaas van deur gewone klasbywoning, en die uitstel gaan onvermydelik tot nog groter uitdagings vir studente en dosente lei.

Daarom is die oplossing eerder om die klasse so gou as moontlik te laat hervat, en dan ekstra klasse en nauurse programme in te stel wanneer die inperking verby is om studente by te staan.

“Dit is egter verblydend om te sien dat sommige universiteite reeds planne begin maak het om studente tegemoet te kom soos om sekere webtuistes gratis beskikbaar te stel, terugbetalingsinisiatiewe op data in te stel en om die gemeenskap te nader vir skenkings van rekenaars en ander toestelle,” het Buys gesê.

Intussen gaan Akademia, die privaat hoër onderwysinstelling, normaal voort met klasse, en bystand word gebied aan studente wat uitdagings met toegang tot tegnologie en data ervaar.

 

Solidariteit Beweging waarsku teen gevolge van verdere inperking in huidige formaat

Die Solidariteit Beweging het gewaarsku dat ’n verlenging van die inperkingsperiode in die formaat soos wat dit tans daar uitsien, tot gevolg gaan hê dat die staat van inperking kan inplof. Dít volg nadat President Cyril Ramaphosa vanaand aangekondig het Suid-Afrika se staat van inperking gaan tot einde April verleng word. Die Beweging bestaan uit meer as 20 gemeenskapsorganisasies met 500 000 lede wat AfriForum, Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand insluit.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sal die verlenging die ekonomiese en maatskaplike gevolge van die COVID-19-pandemie vererger.

Radikale veranderings moet aangebring word om die staat van inperking volhoubaar te maak. Mense moet toegelaat word om gesond te werk. Juis omdat dit noodsaaklik is om die lang stryd teen COVID-19 volhoubaar te maak, is veranderings aan regulasies noodsaaklik.

Volgens Buys moet werkplekke ingrypend verander word om mense in staat te stel om gesond te werk.

“Alle gesonde werk is noodsaaklike werk. Indien die ekonomie nie gestimuleer word nie, gaan dit tot grootskaalse werkverlies en maatskaplike onstabiliteit lei.

“Ons sal omvattende voorstelle vir ’n strategie vir gesonde werk aan President Ramaphosa maak. Dit is nodig dat daar ’n skuif gemaak word vanaf slegs noodsaaklike werkers na almal wat gesond kan werk. Die keuse is nie tussen gesondheid en werk nie, maar vir gesonde werk vir soveel moontlik werknemers,” sê Buys.

Beweging hou ’n gesamentlike Helpmekaar-dag

Die Solidariteit Beweging, hou vandag 7 April 2020 ’n aanlyn Helpmekaar-dag. Die doel van die dag is om ’n reuse-helpmekaarpoging te loods deur die krag van die gemeenskap in te span om mense in maatskaplike nood te help, om besighede te ondersteun en om kinders te help sodat hulle steeds kan skoolgaan gedurende hierdie onsekere tye. Die dag sal ten bate van die Solidariteit Beweging se krisisfonds wees.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is die Beweging daarop gegrond om ’n Helpmekaar-Beweging te wees en moet gemeenskappe nou midde-in die koronakrisis saamstaan. “Dit is die begin van ʼn helpmekaarpoging. In die tye wat voorlê, gaan ons mekaar moet help en die Beweging sal al sy instellings inspan om dit te vermag,” het Buys gesê.

Volgens Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, is die maatskaplike nood wat weens die koronavirus ontstaan het reeds yslik en moet gemeenskappe nou saamstaan om die krisis die hoof te bied. Die organisasie word oorval deur versoeke en help reeds duisende kleuters, gesinne en oumense om daagliks kos en ander hulp te ontvang. Volgens Noëth het die organisasie net in Maart reeds R753 739 aan noodprojekte bestee, en daarom is die versterking van die krisisfonds noodsaaklik.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit is die krisis nog nie op sy kruin nie. Intussen het 53 000 leerlinge reeds op die Skoleondersteuningsentrum se Wolkskool geregistreer om aanlyn te kan voortgaan met hul onderrig. “Die staat gaan ons nie deur die krisis dra nie, ons gaan mekaar in hierdie tyd moet dra. Alhoewel ons almal onseker is moet ons juis daarom mekaar help. Dis tyd dat ons moet saamdra en saamwerk, want ons kan nie toelaat dat weerloses en kinders in hierdie tyd agtergelaat word nie,” het Hermann gesê.

Op dié Helpmekaar-dag gaan daar ook ʼn beroep op die gemeenskap gedoen word om klein- en mediumsakeondernemings te help. Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, lê die beste hulp aan sakeondernemings in die koopkrag van verbruikers. Duisende sakeondernemings het reeds by AfriForum se sakenetwerk by afriforumnetwerk.co.za geregistreer. Ondernemings word aangemoedig om by die netwerk te registreer sodat mense aangemoedig kan word om by hulle te koop.

Ondersteuners kan hier, tot die krisisfonds bydra.

Sakeondernemings kan hier registreer vir die AfriForum-sakenetwerk.

 

 

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.