Solidariteit Beweging verwelkom Nederland se vrae oor grondonteiening

Die Solidariteit Beweging het vandag die Nederlandse minister van buitelandse sake, Stef Blok, se versoek aan die Suid-Afrikaanse regering om meer inligting oor die beplande grondonteiening sonder vergoeding te gee, verwelkom.

Blok se versoek om meer duidelikheid oor die beplande wysiging van die Suid-Afrikaanse Grondwet te kry en die gepaardgaande kommer oor eiendomsreg in die land, is aan die Suid-Afrikaanse minister van buitelandse sake, Naledi Pandor, gerig. Dit volg nadat die Nederlandse parlement verlede jaar in Julie ʼn mosie aanvaar het waarin die parlement sy kommer oor die beplande grondonteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika uitgespreek het. In die mosie word die Nederlandse regering ook opdrag gegee om sy misnoeë hiermee teenoor die Suid-Afrikaanse regering uit te spreek.

Volgens Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, het dié organisasie verlede jaar met ses politieke partye in die Nederlandse parlement samesprekings gevoer. Die resultaat van die skakeling was dat die mosie deur twee partye voorgestel en deur ʼn meerderheid van parlementslede in die parlement aanvaar is. “Sedertdien skakel ons voortdurend met Nederlandse politici om seker te maak dat hul regering druk op die Suid-Afrikaanse regering oor dié aangeleentheid plaas.”

Volgens Kleynhans voer die Suid-Afrikaanse regering ʼn paai-en-misleidingsveldtog in die buiteland om belangrike handelsvennote gerus te stel oor die beplande grondwetwysigings. “Ons het ook in November verlede jaar die Europese Parlement in Straatsburg  besoek en daar met 14 politieke partye van sewe Europese lande samesprekings gevoer. Dit was duidelik dat die Suid-Afrikaanse regering Europese regerings en politici probeer paai oor die beplande grondwetwysigings.”

Die Solidariteit Beweging is reeds besig om nog parlemente in Europese lande te nader om ook in dié lande mosies teen die beplande wysigings te inisieer. AfriForum, wat deel van die Solidariteit Beweging is, besoek die VSA later vandeesmaand om ook daar bewustheid oor onder meer die beplande grondwetwysigings te bevorder. “Ons doelwit is om soveel as moontlik oorsese lande te oortuig om druk op die Suid-Afrikaanse regering uit te oefen om nie met die grondwetwysigings voort te gaan nie. Grondonteiening sonder vergoeding en ʼn verdere wegkalwing van eiendomsreg in Suid-Afrika sal tot groter ekonomiese probleme vir ons land lei. Buitelandse investering sal verder benadeel word,” het Kleynhans afgesluit.

Hoof van grond-komitee bewys grondonteiening gaan oor mag

Die Solidariteit Beweging het vandag met hewige kritiek gereageer teen die ANC se uitlatings, naamlik dat die uitvoerende gesag moet besluit wanneer onteiening sonder vergoeding (OSV) toelaatbaar is, want dit bevestig dat hierdie proses nie oor grond handel nie, maar oor mag.

Dit kom nadat die voorsitter van die parlementêre ad hoc-komitee getaak met die wysiging van artikel 25 van die Grondwet, Mathole Motshekga, in ʼn onlangse onderhoud op eNCA gesê het dat die ANC nie saamstem met die huidige wetsontwerp, wat hulle self ter tafel gelê het, en wat howe die gesag gee om te besluit wanneer nul vergoeding toegelaat kan word nie. Die ANC meen dat die uitvoerende gesag eerder oor hierdie mag moet beskik, aangesien hofprosesse tydsaam is en Suid-Afrikaners nie nog 25 jaar kan wag om die kwessie van grond aan te pak nie.

“Die ANC se voortsetting daarvan om OSV te kaap deur hierdie proses in die president en sy kabinet se hande te plaas, is onrusbarend. Hierdie uitlatings bewys weereens dat die ANC se enigste prioriteit die verkryging van absolute mag is. Daarom moet onteiening sonder vergoeding ongekwalifiseerd teengestaan word, hetsy dié mag by die howe of die uitvoerende gesag gesetel is. Die illusie dat daar ‘n ideologiese skeiding van magte tussen die drie bene van die regering bestaan, is buitendien doodgebore,” meen Francois Redelinghuys, kommunikasiebestuurder van die Solidariteit Beweging.

“Hiermee skep Motshekga egter die illusie dat grondbesit ʼn kwessie van kardinale belang vir Suid-Afrikaners is wat versnel moet word. Dit is in teenstelling met die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming se eie bevindings dat 94,7% van mense in die grondhervormingsproses geldelike vergoeding bo grondbesit verkies. Die Instituut vir Rasseverhoudings het verder in 2019 bevind dat slegs 6% van mense glo dat grondhervorming een van die regering se topprioriteite moet wees. Dit bevestig dat OSV nie vir landsburgers belangrik is nie, maar eerder ʼn wyse is waarop die ANC aan homself die mag toeëien om wettiglik by ons almal te steel,” verduidelik Redelinghuys.
Motshekga het verder verduidelik hoe hierdie verandering deur legitieme prosedures – soos openbare verhore en die insette van ander politieke partye – aangebring sal word, aangesien hierdie nie slegs ʼn ANC-proses is nie.

“Die ANC se versekering dat prosedures gevolg gaan word, is nie juis gerusstellend nie. In 2019 het president Ramaphosa reeds in die middel van die openbare verhoorproses aangekondig dat die ANC voortgaan met OSV – dit ten spyte van die feit dat geskrewe openbare insette OSV oorweldigend teengestaan het. Hierdie voorbeeld dien as bewys dat die ANC nie sal skroom om oor billike prosedures en teenkanting te stoomroller in die najaag van sy eie belange nie,” verduidelik Redelinghuys voorts.

“Onteiening sonder vergoeding sal die regering die mag gee om een van die steunpilare van vryheid van ons te ontneem. Hierdie growwe skending van eiendomsreg is iets wat in beginsel teengestaan moet word, ongeag hoe dit geadministreer word,” meen Redelinghuys.

Redelinghuys het bevestig dat instellings van die Beweging, waaronder AfriForum en Solidariteit, skriftelike kommentaar sal indien om die voorstel teen te staan.

Ons bly, maar gaan nie stilbly nie!

Solidariteit Beweging maak omvattende blyplan bekend

 

Die Solidariteit Beweging gaan eerskomende Donderdag tydens ‘n toekomsberaad ‘n omvattende blyplan in Pretoria bekend maak. Die multimiljardrand-plan sluit opleidingsinstellings, skole, veiligheidsnetwerke, werkplanne, kultuurplanne, ʼnmaatskaplike strategie, media-instellings, internasionale steunwerwing en meer in.

Die 2030-blyplan is die mees omvattende selfbestuursplan wat nóg deur die Afrikanerkultuurgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap bekend gemaak is.

Daar word beplan om bykans R8 miljard se kapitaal vanaf 2020 tot 2030 daarvoor te mobiliseer. Daar word voorsien dat tienduisende mense elk ‘n bietjie sal gee. Solidariteit-lede gee reeds R10 per maand.

‘n Nuwe eiendomsbeleggingsmaatskappy, Kanton, gaan ook gestig word waar beleggers teen ʼn opbrengs in die eiendomme kan belê. Daar word ook beplan om Virseker verder uit te bou en ander besigheidsinisiatieweword in die vooruitsig gestel.

“Ons is bekommerd daaroor dat talle mense emigreer en/of vervreemd is van die land. Baie Afrikaners voel nie meer tuis nie. Talle voel dat, alhoewel hulle nie die land verlaat het nie, die land hulle verlaat het. Die doel van ons 2030-plan is om Afrikaners en die breë Afrikaanse gemeenskap weer tuis te laat voel in Suid-Afrika. Ons gaan bou om te bly. Staatsbestuur in Suid-Afrika het misluk en die tyd van selfbestuur het aangebreek,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê.

‘n Konsentrasiestrategie maak ‘n groot deel van die 2030-plan uit. Die Solidariteit Beweging het 30 ankerdorpe geïdentifiseer waarheen Afrikaners natuurlik trek. Daar word voorsien dat 67% van Afrikaners in 2030 in dié ankerdorpe sal wees en 95% van Afrikaners sal binne twee ure se ry van die ankerdorpe bly.

“Afrikaners en Afrikaanssprekendes se probleem is nie hulle getalle nie, maar hulle yl verspreiding. In die 30 ankerdorpe gaan ons die gemeenskap help om gemeenskapsdienste soos skole, mediese klinieke, veiligheidstrukture, tersiêre, maatskaplike strukture, opleidings- en werknetwerke te vestig. Hoe meer gekonsentreerd Afrikaners bly hoe meer kan die gemeenskap self verantwoordelikheid neem. Ons konsentrasiestrategie is nie vreemd nie. In die res van die wêreld is dit algemene praktyk,” het Buys gesê.

Die plan maak ook meer inligting oor Akademia, die Beweging se nuwe hoëronderwysinstelling, bekend. Volgens die plan beplan Akademia om tussen 30 en 40 nuwe grade te akkrediteer, en gaan ‘n nuwe kampus gebou word wat 6 000 studente kan akkommodeer. Nog Akademia-sentrums gaan dwarsoor Suid-Afrika geopen word sodat almal wat in, of in die omgewing van ankerdorpe bly, toegang tot tersiêre studie kan kry.

Die plan maak ook meer besonderhede bekend oor die bou van die nuwe Sol-Tech-kampus, asook planne om ʼnnuwe Afrikaanse skoolstelsel saam met vennote te ontwikkel. Die Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum het bekend gemaak dat reeds R200 miljoen se studiehulp aan 5 000 studente uitbetaal is. Daar word beplan om die beursplatform tot R1 miljard uit te bou.

“Deur hierdie reuseblyplan stuur ons ‘n sterk boodskap uit namens die miljoene mense wat hier gaan bly. Ons bly hier, maar ons gaan nie stilbly of stilsit nie. Al die onderskeie instellings van die Solidariteit Beweging gaan werk om ‘n toekoms te skep waar die Afrikanerkultuurgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap vry, veilig en voorspoedig kan wees. Ons geskiedenis wys dat ons nie klein plannetjies maak nie. Ons maak groot planne en voer dit uit,” het Buys gesê.

Solidariteit het ook bekend gemaak dat hy ‘n netwerk van beroepsgildes gaan vestig. Verdere regstappe en internasionale klagte teen die regering se beleid van rassekwotas word beplan. Daar word ook bekend gemaak dat nasionale gesondheidsversekering en planne om pensioenfondse te gebruik om sukkelende staatsondernemings te help, aktief teengestaan gaan word. Groter planne vir wettige belastingprotes en optrede teen belastingplunderaars is ook in die 2030-plan ingesluit.

Buys sê verder dat kulturele selfbestuur en selfstandigheid die onderliggende strategie van die hele plan is. Gemeenskappe moet meer selfverantwoordelikheid neem. Ons kan nie toelaat dat die staat ons toekoms bepaal nie. Ons wil die reg hê om self te kan besluit.

‘n Ander kernelement van die blyplan is veiligheid. AfriForum beplan om 200 gemeenskapsveiligheidstrukture te vestig en 20 000 buurtwaglede voor 2030. ʼn Sekuriteitsmaatskappy, wat gaan help met beveiliging, gaan ook gevestig word.

Volgens die Solidariteit Beweging is al sy planne binne die raamwerk van die Grondwet wat aan taal- en kultuurgemeenskappe die reg gee om verengings of ander organe van die burgerlike gemeenskap te stig. In die verslag skryf die Solidariteit Beweging dat hy nie besig is om homself te isoleer nie, maar dat die Beweging juis optree in reaksie op isolering en uitsluiting deur die owerheid.

 

 

Beweging kondig Toekomsberaad aan vir die pad na 2030

Die groter Solidariteit Beweging, waaronder Solidariteit, AfriForum, Helpende Hand en die FAK, het vandag aangekondig dat hy eersdaags, op 10 Oktober 2019 ’n tweede Toekomsberaad sal hou waarby hy sy toekomsplanne vir 2030 bekend sal maak.

Hierdie Toekomsberaad volg op die eerste een wat in 2015 gehou is, waarby planne vir 2020 beraam en bekendgemaak is. Die doelwitte wat in 2015 gestel is, is egter reeds voor die einde van hierdie vyfjaartermyn bereik en verdere toekomsplanne is nou van wesenlike belang.

Volgens Francois Redelinghuys, kommunikasiebestuurder van die Solidariteit Beweging, is dit verblydend om te kan aankondig dat die planne wat die versekeie instellings van die Beweging in 2015 bekendgestel het reeds, alvorens die einde van die vyfjaartermyn, bereik is. Volgens Redelinghuys wys dit dat die Beweging nie net praat nie, maar werklik doen.

“Die werk kan egter nie nou stop nie. Daar heers toenemende kommer dat die agteruitgang van die staat besig is om al hoe meer momentum te kry terwyl die aktiewe uitsluiting wat Afrikaners op verskeie fronte beleef slegs deur praktiese selfbestuur die hoof gebied kan word,” het Redelinghuys verduidelik.

“Die Beweging en al sy instellings werk dus kliphard aan toekomsplanne waar die Afrikaner en die Afrikaanse taalgemeenskap hier in Suid-Afrika vry, veilig en voorspoedig kan bly en leef,” het Redelinghuys beaam.

“Hierdie planne kan egter nie verwesenlik word sonder betrokke en aktiewe gemeenskappe nie. Daarom hou ons ’n massiewe beraad waarby al die lede en ondersteuners van die instellings in die Beweging genooi word om saam te kom dink en deel te neem aan die bou van ’n toekoms vir ons en ons nageslag,” het Redelinghuys gesê.

Afrikaner-gemeenskap neem toe; werk nóú nodig

Die Solidariteit Beweging het vandag in reaksie op Statistieke Suid-Afrika se halfjaarlikse bevolkingsberaming weereens die belangrikheid van die Beweging se werksaamhede beklemtoon om daardeur ʼn toekoms vir die Afrikaanse taalgemeenskap en die Afrikaner-kultuurgemeenskap te help verseker.

Die statistieke dui daarop dat die wit bevolking tussen die ouderdom van nul en veertien jaar, in weerwil van verwagtinge, met sowat 17 000 mense toegeneem het. Die totale wit bevolking het voorts sedert verlede jaar met sowat 130 000 mense gegroei. Hierdie groeiende jong bevolking is ʼn voortsetting van die tendens soos deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) in 2018 in sy demografieverslag uitgewys. Net soos in die geval van ander minderheidsgroepe is dieselfde tendens ook onder die bruin gemeenskap te bespeur. Die jong bruin bevolking het met sowat 16 500 mense toegeneem, terwyl die totale bruin bevolking met net meer as 100 000 mense aangegroei het.

Volgens Connie Mulder, hoof van die SNI, plaas hierdie groeiende jonger bevolking toenemend druk op minderheidsgroepe om opleiding en ander dienste vir hul jeug te verseker. Aldus Mulder benodig hierdie bevolking maatskaplike infrastruktuur ten einde ontwikkeling te verseker en uiteindelik ook werksgeleenthede wanneer dié generasie die arbeidsmark moet betree. Mulder verduidelik hoe ʼn wieg-tot-graf-benadering al hoe meer ʼn noodsaaklikheid geword het in die lig van die staat se snelle agteruitgang.

“Met werkloosheid van 50% onder die jeug en ’n regering wat nie oor die vermoë beskik om hierdie probleem aan te pak nie, word die taak aan die onderskeie gemeenskappe oorgelaat om self daarna om te sien en verantwoordelikheid te neem,” meen Mulder.

Mulder verduidelik voorts hoe hierdie syfers die toekoms van die Afrikaanse taalgemeenskap en die Afrikaner-kultuurgemeenskap in Suid-Afrika duidelik skets. “Die bevolkingsgroepe se werklike getalle is aan die toeneem. Dit beteken dat die Afrikaner-bevolking meer gaan word, maar dat dit ook kleiner gaan word in vergelyking met die res van Suid-Afrika se bevolking. “Daar gaan dus groter druk in die openbare sfeer op die Afrikaner wees, maar terselfdertyd meer mag en geleenthede in die private sfeer indien hierdie groep verder binne bepaalde geografiese gebiede konsentreer soos wat reeds die afgelope tyd die tendens is,” aldus Mulder.

“Minderheidsgroepe se getalle word steeds meer. Emigrasie het gevolglik nie so ’n drastiese impak op bevolkingsgetalle soos wat dikwels gevrees word nie. Waaroor ons egter steeds bekommerd moet wees, is oor die gehalte van mense wat ons land verlaat,” meen Mulder.

“Dit is duidelik dat die Afrikaner hier is om te bly. Die groot taak wat nou op ons skouers rus, is om die weg te baan na die vry, veilige en voorspoedige toekoms in Suid-Afrika waarna ons mense op soek is.”

 

Solidariteit Beweging verwelkom mosie oor grondonteiening deur Nederlandse parlement

Die Solidariteit Beweging het die aanvaarding van ʼn mosie oor grondonteiening deur die Nederlandse parlement vandag verwelkom. Die mosie spreek hom sterk uit teen die stappe wat geneem word om die onteiening van grond sonder vergoeding in Suid-Afrika moontlik te maak. ʼn Meerderheid van die lede van die Tweede Kamer in die Nederlandse parlement het ten gunste van die mosie gestem en daardeur opdrag aan die Nederlandse regering gegee om deur bilaterale en ander internasionale prosesse duidelik standpunt daaroor in te neem.

Die mosie is deur Martijn van Helvert van die Christen-Democratisch Appèl (CDA) en Kees van der Staaij, leier van die Staatkundig Gereformeerde Partij (SGP), ingedien. Die Solidariteit Beweging het die afgelope paar maande intensiewe pogings aangewend om politici en ander leiers in Nederland en ander Europese lande oor die katastrofiese beplande grondonteiening sonder vergoeding in te lig.

Volgens Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, het hulle reeds in Februarie met verskeie politici, insluitende Van Helvert en Van der Staaij, hieroor vergader. “Na aanleiding van die wyse waarop die parlementêre komitee wat  grondwetwysigings moet ondersoek om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak, ons en andere se waarskuwings geringgeskat het, het die Solidariteit Beweging geen ander keuse gehad as om hierdie saak te internasionaliseer nie. Ons sal steeds voortgaan om ook politici in ander lande en ander regerings te oortuig om druk op die Suid-Afrikaanse regering toe te pas om nie met die beplande wysigings aan die Grondwet voort te gaan nie.”

Die mosie wat vandag deur die Nederlandse parlement aanvaar is, lê klem op die feit dat sowel die Internasionale Deklarasie van Menseregte as die Afrika-Handves oor Mense- en Volkereregte die onteiening van eiendom op grond van velkleur verbied. “Die mosie wat in Februarie verlede jaar in die Suid-Afrikaanse parlement aanvaar is, was duidelik ten gunste van onteiening op grond van velkleur en oortree dus hierdie belangrike handveste,” sê Kleynhans. Volgens hom verwag die Solidariteit Beweging dat ander lande die Nederlandse parlement se voorbeeld sal volg. “Ons sal nou ook seker maak dat die Nederlandse regering wel in hierdie verband optree en ons sal voorts ook voortgaan om seker te maak dat hierdie aangeleentheid, saam met ander belangrike kwessies soos landelike veiligheid, waaraan die regering ook nie aandag gee nie, op internasionale forums bespreek word,” het Kleynhans afgesluit.

Jaco Kleynhans
Hoof: Internasionale skakeling
Solidariteit Beweging
083 324 5631

Gehalteonderwys die slagoffer in Lesufi se oorlog

Die Solidariteit Beweging het vandag standpunt ingeneem teen die heraanstelling van Panyaza Lesufi as LUR vir Onderwys in Gauteng. Dit volg nadat David Makhura, Gautengse premier, sy aanvanklike besluit om Lesufi uit hierdie rol te skuif, teruggetrek het.

Lesufi, wat sedert 2014 as LUR van Onderwys in Gauteng dien, se eerste termyn in hierdie rol was gekenmerk deur omstrede en vyandige uitlatings jeens ondermeer Afrikaans eerder as daadwerklike suksesse in die provinsie.

Volgens Francois Redelinghuys, kommunikasiebestuurder van die Solidariteit Beweging, is Lesufi se rekord as LUR egter nie iets om oor opgewonde te raak nie. “In die eerste twee jaar van mnr. Lesufi se eerste termyn het die persentasie leerlinge in die provinsie wat wiskunde in matriek geslaag het, van 74% in 2014 tot 69% in 2016 gedaal. In dieselfde tydperk het die aantal leerlinge wat fisiese wetenskap geslaag het, van 76% tot 69% gedaal,” het Redelinghuys gesê.

Volgens Redelinghuys geniet Lesufi se beheptheid om oorlog teen Afrikaanse skole te voer voorkeur bo die bevordering van gehalteonderwys in die provinsie. “Hierdie statistieke toon dat onderwys in Gauteng allermins onder die leiding van mnr. Lesufi vooruitgegaan het. Dit is voorts lagwekkend om te sien dat sy politiekery en uitsprake jeens suksesvolle Afrikaanse skole, eerder as sy prestasie, nou beloon word,” het Redelinghuys gesê.

“Die Solidariteit Beweging beaam dus voorts dat hy nie sal terugstaan terwyl die reg op moedertaalonderrig ondermyn word nie. Ons sal voorts ook deur middel van al ons onderskeie instellings aanhou veg vir die toekoms van Afrikaanse onderwys,” het Redelinghuys gesê.

Toekoms te kosbaar om dit net aan regering oor te laat

Laat jou stem tel, maar toekoms te kosbaar om dit net aan regering oor te laat – Solidariteit Beweging

Lede-instellings wat deel uitmaak van die Solidariteit Beweging het vandag op ʼn gesamentlike mediakonferensie die standpunt oor die komende verkiesing gehuldig dat dit belangrik is om aan die demokratiese proses deel te neem, maar dat daar weens die verswakkende aard van die staat self verder gebou moet word.

Die instellings van die beweging, waaronder Solidariteit, AfriForum, Solidariteit Helpende Hand en die FAK tel, verteenwoordig sowat 2 miljoen mense, wat 500 000 lede en hul gesinne insluit. Dit sluit verteenwoordiging van belange op verskeie vlakke, wat onder meer die wêreld van werk, gemeenskapsveiligheid, minderheidsregte, burgerregte, maatskaplike sorg en taal- en kulturele erfenis behels.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, bly die beweging polities onverbonde en moedig hy steeds sy lede en hul gesinne aan om te gaan stem. “Ons praat met almal, maar verbind ons nie aan enige bepaalde party nie. Mense is met reg baie ontevrede oor die swak regering en die verkiesing bied wel ʼn geleentheid om jou stem te laat hoor,” het Buys verduidelik.

“Ons wil egter nie voorgee dat Suid-Afrika ʼn normale demokrasie is en dat die land weer op die regte pad gebring kan word deur net te stem nie. Daarmee verwerp ons beslis nie grondwetlike demokrasie nie; inteendeel, ons verdedig dit. Dit is egter ʼn bekende feit dat die ANC nie net die staat gekaap het nie, maar die hele grondwetlike demokrasie. Die land en sy instellings het onberekenbare skade opgedoen deur grootskaalse wanbestuur; korrupsie wat industriëleskaal-afmetings aangeneem het; die ANC se beleid van kaderontplooiing wat ten doel het om die hele land te beheer; die ondermyning van grondwetlike instellings soos die Nasionale Vervolgingsgesag en andere; die najaag van ʼn rampspoedige transformasiebeleid; en die herinstelling van ʼn omvattende rassebedeling,” het Buys verduidelik.

Volgens Buys kan die beweging dus nie toestaan en kyk hoe skadelike beleid en swak bestuur die land tot op die afgrond dwing en sodoende met almal se toekoms dobbel nie. “Ons is verbind tot die land en derhalwe maak ons gebruik van demokratiese en grondwetlike prosesse om verantwoordbaarheid te eis, die ekonomie te groei en die regsorde te handhaaf. Terselfdertyd het die werklikhede egter gewys dat dit roekeloos onverantwoordelik sal wees om ons toekoms net aan die regering oor te laat. Daarom sal ons ná die verkiesing planne bekendmaak om verdere momentum aan ons Plan B te gee. Met Plan B neem ons ook self verantwoordelikheid vir ons gemeenskap se toekoms deur die organisering van sterk gemeenskapsorganisasies op elke belangrike gebied. Ons tweeledige doel is om eerstens meer staatsbestand te word en tweedens groter selfstandigheid te bewerkstellig,” het Buys bevestig.

“Die doel van Plan B is nie om Afrikaners byvoorbeeld te probeer afsonder nie, maar om juis die kulturele leefruimtes te skep om saam in Afrika te bly. Deur die omstandighede te skep waarin Afrikaners blywend vry, veilig en voorspoedig kan wees, kan ons ook ʼn volhoubare bydrae maak tot die welsyn van die land en al sy mense,” het Buys gesê.

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.