Die land brand en julle eet koek

Geagte president Cyril Ramaphosa,

Die land brand.

In Januarie steek misdadige studente die Howard College van die Universiteit van KwaZulu-Natal aan die brand. Ook in Januarie word nóg treine in die Wes-Kaap aan die brand gesteek. Tot soveel soos 140 treinwaens is die afgelope drie jaar in afsonderlike voorvalle aan die brand gesteek.

Op simboliese vlak is staatsondernemings aan die brand en in huise brand kerse. Die Suid-Afrikaanse ekonomie brand en poste word vernietig. In Januarie is ons geskok oor duisende werkers wat afgedank gaan word.

Steeds in Januarie steek die ANC kersies op ʼn verjaarsdagkoek aan die brand en sny die koek. Hulle lag en lyk gelukkig. Hulle vier die stand van die land. Die land brand en die ANC eet koek en drink sjampanje.

En ons gewone mense is kwaad oor die toestand waarin die land is. Terwyl ons die hitte beleef, praat die ANC oor ʼn beter lewe vir almal.

Ek praat graag met u uit my hart met die oog op die staatsrede op 13 Februarie.

Ek is ʼn gewone burger, man van my vrou en pa van my kinders wie se toekoms nou begin. Ek wil hê hulle moet hier bly en daarom kan ek nie stilbly nie.

Ek praat dus brutaal eerlik juis omdat ek nie wil hê die land moet misluk nie. Ek verlekker my nie in die staat wat verswak nie. Nee, ek treur.

Van al die ongelykhede in ons land is daar geeneen so breed soos die ongelykheid tussen die ANC se denkbeeldige prentjie van Suid-Afrika en die werklikheid nie.

Terwyl ons in die koerante lees oor binnegevegte en verskillende faksies in die Suid-Afrika van die ANC, sien ons elke dag hoe die regte Suid-Afrika begin inplof.

Beurtkrag het nou bykans ʼn daaglikse verskynsel geword. By u presidentswoning is die krag nooit af nie. U ministers weet ook nie hoe dit voel om in die verkeer vas te sit weens beurtkrag nie – hulle word deur blouligbrigades deur die verkeer gelei. Ons gewone mense dra die gevolge van die regerende party se mislukking. Ons is moeg van die donker en moeg daarvan om staatsverval in ons huise te beleef.

Mnr. Ramaphosa, die ANC baklei onder mekaar terwyl gewone Suid-Afrikaners om oorlewing moet baklei.

Die land en sy werkers word geoffer vir uitgediende, sentralistiese staatsideologieë.

In 2020 sien ons, weens ʼn krimpende ekonomie, ʼn bloedbad van afleggings oor alle bedrywe en sfere heen. Telkom, Samancor, Glencore, Massmart, Amsa, MultiChoice en soveel ander ondernemings moet werkers in hul duisende aflê. Slegs vier uit tien volwassenes in Suid-Afrika werk. Vir dié wat werk en dié wat nie werk nie, is daar geen rede om koek te sny en “Geluk liewe maatjie” te sing nie.

Ons is nie gelukkig oor die stand van sake nie.

Terwyl tallose Suid-Afrikaners in haglike omstandighede in die openbare gesondheidsektor behandel word en 144 gesinne van die Life Esidimeni-pasiënte oor onbevoegdheid treur, wil die regering nou die totale sektor nasionaliseer.

Terwyl daar na skuld gesoek word, tot sover terug soos Jan van Riebeeck, loop Suid-Afrikaners bekommerd rond oor ʼn land wat besig is om te misluk.

Terwyl 75% van skole disfunksioneel is, is dit Lesufi se missie om presterende Afrikaanse skole te teister. Terwyl die polisiemag verswak en die land verstom is oor die swak dissipline van polisieleiers by ʼn staatsbegrafnis, is Suid-Afrikaners oral onder misdaadbeleg.

Terwyl die res van die wêreld én die geskiedenisboeke bewys dat privaat eiendomsreg ononderhandelbaar vir sukses is, gaan die ANC net eenvoudig voort om eiendomsreg aan te val.

Eskom is die simbool van transformasie in Suid-Afrika. Daar is met trots van wit mense en institusionele geheue ontslae geraak deur plekmaakpakkette en rassetransformasie. Vandag sit ons in die donker en die regering publiseer strenger rassewette

Terwyl duisende staatsdienswerkers hard werk, wil u die staatspensioenfonds gebruik om in die Eskom-put af te gooi. Gewone mense se belastinggeld is by Eskom en talle staatsondernemings geplunder en gewone mense se pensioenfondse moet nou gebruik word om die gevolge van die plunderaars reg te stel.

Ons moet uit die krisis, maar die ANC skep geen voorwaardes om uit die krisis te kom nie.

Ons wil nie die 13de Februarie ʼn mooi toespraak oor die droomwêreld van die ANC hoor nie. Ons wil hoor van die werklike stand van die staat en ons wil hoor van daadwerklike ingrepe.

Dit sal ʼn dapper leier verg wat bereid sal moet wees om met uitgediende ideologie te breek.

Ons wil eerder hoor dat die staat minder gaan doen, inmeng en reguleer. Ons wil hoor dat hande van ons pensioengeld af gehou gaan word. Ons wil hoor dat eiendomsreg gerespekteer sal word.

Ons wil hoor dat die opwekking en verspreiding van elektrisiteit gedesentraliseer word. Ons wil hoor dat die oorregulering van die ekonomie – rasseregulering ingesluit – gestaak word. Ons wil hoor hoe buitelandse vertroue herstel gaan word.

Ons wil hoor dat openbare skole nie staatskole word nie en dat die magte van ouers nie gesentraliseer word nie. Ons wil hoor en die vertroue hê dat die staat ons sal beskerm.

Ons wil hoor hoe die staat sy verantwoordelikheid in die openbare gesondheidsektor gaan nakom en ruimte vir privaat mediese dienste sal skep.

Ons wil hoor dat die privaat sektor en die gemeenskap meer in staat gestel gaan word om probleme self op te los.

Ons wil hoor dat plunderaars vervolg gaan word. Ons wil van radikale ingryp hoor.

Op 13 Februarie 2020 is u geleentheid om as staatsman die land bó die party te plaas.

Ek is egter bevrees dat die party die ideologie bo alles gekies het. Ideologie is werklikheidsvreemd en dit is wat met die ANC gebeur het.

Die prys is ongelukkig ʼn land wat brand.

Groete,
ʼn SA burger wat treur

 

Ope brief aan Ramaphosa: ‘U poog om Afrikaners se geskiedenis te kriminaliseer’

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het ‘n ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf na aanleiding van sy Versoeningsdagtoespraak. 

Meneer die president: Vryheidsvegters wat kinders doodmaak, is nie vryheidsvegters nie

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Geagte president Ramaphosa

16 Desember 2019, en u lewer ’n toespraak op Versoeningsdag op Bergville in KwaZulu-Natal. U beskryf die Slag van Bloedrivier van 16 Desember 1838 en noem die Voortrekkers indringers en die Zoeloes vryheidsvegters, want hulle het vir die vryheid van grond geveg.

Gerieflikheidshalwe word vergeet dat die geskiedenis en vorming van die Zoeloes ook die geskiedenis van die Mfekane insluit – indringing, inlywing, uitwissing en verdrywing, veral onder koning Shaka.

Die Voortrekkers se trek was ’n klein deel van groot, gedwonge, wrede volksverskuiwings en verhuisings. Die ontwrigting van daardie tyd was veral swart op swart.

Waarvan u ook nie vertel nie, is die gebeure wat aanleiding gegee het tot 16 Desember 1838.

Die Zoeloe-koning Dingaan en die Voortrekkerleier Piet Retief het oor grond onderhandel. Dingaan was gewillig om grond aan die Voortrekkers te gee in ruil vir beeste wat die Tlokwa van Sekonyela by Dingaan gesteel het.

Op 11 Januarie bring Retief die beeste terug. Op 4 Februarie word ’n traktaat geteken waarin Port Natal en die omliggende gebied, van die Tugela tot die Umzimvuburivier en van die see af noordwaarts, aan die Voortrekkers afgestaan is.

Op 6 Februarie word Piet Retief en sy geselskap wreed gemartel en vermoor. Piet Retief moes eers toekyk hoe sy seun, Pieter, vermoor word voordat hy ook gemartel en vermoor is.

Selfs die onderdane van Dingaan het dit as die wreedaardigste optrede ooit van Dingaan beskou en het respek vir hom verloor.

17 Februarie 1838. Die weerlose laers van Voortrekkers word aangeval. Die grootste kindermoord in een nag vind plaas – 185 kinders en 56 vroue word vermoor. Die wreedste denkbare metodes is gebruik om kinders dood te maak. Dit was so wreed, ek kan dit nie eers hier herhaal nie.

Meneer Ramaphosa, ken u vir Johanna van der Merwe? Dit was my oupa van wie ek die trotse naamdraer is, se oumagrootjie. Sy was 12 jaar oud met die Bloukrans- en Boesmansrivier-moord. Sy en ’n maatjie, Catherina, moes vlug. Sy is 21 keer met assegaaie gesteek; Catherina 24 keer.

Die Zoeloes het gedink hulle is dood en het hulle op ’n hoop liggaampies van ander kinders op ’n plat klip onder ’n suikerbosboompie gegooi. Johanna het die liggaampies van die ander kinders oor hulle getrek sodat die Zoeloes nie kon sien hulle leef nie.

Dit was die soort vryheidsvegters wat u in 2019 gedenk. Vryheidsvegters wat kinders en vroue wreed doodmaak, is nie vryheidsvegters nie.

Later het die Suid-Afrikaanse vloot ’n duikboot na my agtergrootjie, Johanna van der Merwe, vernoem. U regering het die duikboot herdoop na Assegaai.

Dit was die aanloop en agtergrond van 16 Desember 1838, wat u gerieflik uitlaat.

Op 16 Desember 1838 het 464 mans en 64 waens te staan gekom teen ’n reusagtige Zoeloe-oormag van 15 000.

Dit is binne hierdie omstandighede wat die Gelofte afgelê is. Die dag is nie deur die apartheidsregering ingestel soos u sê nie; dit is reeds lank voor apartheid herdenk. Ek voel my ook verbind aan die Gelofte.

Die Zoeloes is oorwin. Dingaan het gevlug en sy stad, Umgungundlovu, is afgebrand. Die beendere van Piet Retief en sy manskappe is gevind en daarmee saam Retief se bladsak en die ongeskonde traktaat, ’n wettige transaksie.

Hierdie gebeure het niks met vryheidsvegters se trotste stryd ter verdediging van grond te doen gehad nie.

Dit het alles te doen gehad met ’n Voortrekkerleier wat onderhandel het vir grond, sy voorwaardes nagekom het en ’n ooreenkoms bereik het. Dit het te doen met ’n wrede diktator wat die Voortrekkers misbruik het, sy woord verbreek het, wrede moorde laat pleeg het en wou terugvat wat regmatig bekom is.

Hierdie gebeure is ’n skandvlek op die trotse Zoeloe-nasie se geskiedenis en is in die onderbewuste van Afrikaners ingeprent.

Die Zoeloe-prins Mangosuthu Buthelezi het dit ingesien en het Afrikaners tydens die Waarheids- en Versoeningskommissie om verskoning gevra vir die moord op Piet Retief. Hy het dit by minstens twee verdere geleenthede herhaal.

Buthelezi skryf oor die besondere band tussen Afrikaners en Zoeloes. Hy skryf hoe generaal Louis Botha sy oupa, Dinuzulu, se vrylating verseker het nadat die Engelse hom opgesluit het. Hy reik ’n hand na Afrikaners en sê die stryd vir vryheid, identiteit en erkenning is iets wat Afrikaners en Zoeloes deel.

Meneer die President, Afrikaners en Zoeloes het reeds in 1839 vrede gemaak toe Andries Pretorius en Mpande kaSenzangakhona hande geskud en ʼn vredesverbond met mekaar gesluit het. Sedertdien was daar in 180 jaar nooit weer oorlog tussen Afrikaners en Zoeloes nie. Afrikaners en Zoeloes onthou, maar het mekaar lankal vergewe. Daar is selfs ’n brug by Bloedrivier geopen wat dit simboliseer. Voormalige president Zuma, ook ’n Zoeloe, het die opening bygewoon. Vandag is daar deur samewerkingsooreenkomste ’n mooi verhouding tussen die huidige Zoeloe-koning, Goodwill Zwelithini, en Afrikaners. Hy deel nie u sentiment nie, en dit is ironies dat hy juis bekommerd oor wat die ANC-regering in 2019 met die Zoeloes se grond gaan doen. Ons kan nie toelaat dat ’n mooi verhouding deur politieke propaganda vertroebel word nie.

Dit is hoe daar versoenend met ’n verdeelde geskiedenis omgegaan word.

U het egter gepoog om ’n onverdedigbare stuk onreg vir politieke kapitaal te regverdig.

U het gekies om die geskiedenis te verdraai en te misbruik vir u politieke ideologie oor grond.

U het die slagoffers van 1838 die indringers en oortreders gemaak, en die oortreders en moordenaars het u vryheidsvegters gemaak.

U poog om Afrikaners se geskiedenis in sy geheel te kriminaliseer.

Ek ken egter die storie van Johanna van der Merwe, Lenie Retief, Anna Steenkamp, Dirkie Uys, en tientalle ander stories, en ek vertel dit vir my kinders. So doen baie ander Afrikaners.

Ons meesterverhale oor die geskiedenis bots en ek gaan my nie in u meesterverhaal laat inboelie nie.

Ons moet eerlik praat oor die geskiedenis, want dit bepaal die toekoms. Die Zoeloe/Afrikaner-verhaal is juis ʼn voorbeeld hoe daar versoenend met ʼn verdeelde geskiedenis omgegaan kan word.

Groete

Dr. Dirk Hermann

Bestuurshoof: Solidariteit Beweging

Basta, Zindzi, ons voetspore is in Afrika!

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het hierdie brief geskryf aan Zindzi Mandela na aanleiding van haar uitsprake op Twitter:

Beste Zindzi

So, ons is soos ongenooide gaste wat weier om te loop. Gronddiewe, noem jy ons. Volgens jou het ons mos nie met grond hier aangekom nie. Ons is glo “thieving rapist descendants of Van Riebeck (sic)”.

Mag ek onmiddellik sê jou twiets is walglik, verdelend en ’n vorm van haatspraak wat geweld teen minderhede kan aanblaas. Ons mag dit nie net daar laat en dit normaliseer nie. Volgens die Verenigde Nasies is vertikale haatspraak, dit wil sê deur mense met gesag, net soveel meer onaanvaarbaar en gevaarlik. Jy dra simboliese, morele en politieke gesag.

Die emosioneel belaaide, histories skewe meesterverhaal het al so neerslag gevind dat dit moeilik raak om dit te weerlê sonder om as rassis en apartheidsontkenner gebrandmerk te word. Hoe meer dit herhaal word, hoe meer word dit ’n waarheid totdat ons in ’n postwaarheidwêreld leef.

Ek het ʼn ander storie, en ek stel graag my 11 geslagte hier aan die suidpunt van Afrika aan jou bekend.

Ontmoet vir Hans (1636-1671), getroud met Tryn. Hy was my eerste voorvader hier en het in 1657 voet aan wal gesit. Hy was werkloos ná die Dertigjarige Oorlog en word toe soldaat vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. Hans was een van die eerste Vryburgers. Van Riebeeck was ’n amptenaar wat die Kaap ná 10 jaar verlaat het, maar die Vryburgers soos Hans het hul gesig na Afrika en hul rug op Europa gedraai. Die Vryburgers was die werklike geboorte van Afrikaners. Hulle het in daardie stadium Afrika gekies – nie as gaste nie, maar om op hierdie grond te bly. Hans is deur ’n leeu doodgebyt.

Ontmoet Hans se seun, Nicolaas (1666-1713), getroud met Maria. In dié tyd het die Franse Hugenote in Suid-Afrika aangekom. Ook Duitsers en ander, selfs van die inheemse bevolking, was deel van die Afrikaner-mengsel. Afrikaners het nie as Afrikaners hier aangekom nie. Ons het nie grond hier aangebring nie; ons het op hierdie grond Afrikaners geword.

Ontmoet vir Hendrik en Maria (1709 – sterfdatum onbekend). Teen hierdie tyd het ’n sterk Afrikaner-identiteit begin ontwikkel. Hy was deel van die leierskap van die Barbier-opstand teen die regering van die dag. Afrikaners wou weg van die Nederlandse heersers. Later het ons ons taal en mense na Afrika genoem, want ons is van en uit Afrika.

Ontmoet vir Marthinus David (1735 – sterfdatum onbekend), getroud met Adriana. Die trekboere het al verder begin wegtrek. Dit het die klimaat vir die Groot Trek geskep.

Ontmoet vir Marthinus Nicolaas (1780 – sterfdatum onbekend), getroud met Anna. Moord, diefstal en plundering aan die Oosgrens was ondraaglik. Daar was ’n drang na vryheid onder ’n selfstandige regering. Dit was die begin van die Groot Trek.

Dit was ook die tyd van die Mfecane. Honderde duisende mense is deur veral Shaka se magte doodgemaak en massas meer moes vlug. Die veroweraars het nie met grond rondgetrek nie, maar het met uiters wrede metodes grond verower. Dit is die deel van die geskiedenis waaroor daar geswyg word. Daar was ’n reuse-emigrasie en reusestryd vir grond. Afrikaners was deel daarvan.

Dit was ook die tyd toe Piet Retief en sy manskappe wreed deur Dingaan vermoor is, en dit nadat daar oor grond onderhandel is. Die bewys was ’n traktaat. Dit was ook die tyd van die grootste kindermoord in Suid-Afrika by Bloukrans- en Boesmansrivier. In een nag is 185 Afrikanerkindertjies wreed doodgemaak. Soos Europa, en die res van die wêreld, het Afrika ook ’n donker kant in die geskiedenis wat nie gekonfronteer word nie.

Dit was die tyd van slag van Bloedrivier en Dingaan se mag wat verbreek is. Britse beheer van die Kaap sedert 1806 was die begin van ’n eeu van vernedering van Afrikaners. Die Engelse het Afrikaners met minagting behandel. Hulle het ons as onbeskaaf geag – ’n siening oor Afrikaners wat later konsentrasiekampe “geregverdig” het.

Ontmoet vir Willem Adriaan (1824-1890), getroud met Tienie. Die Engelse het Natal weer besit en die Afrikaners wou vry wees. Hulle trek weer en vestig twee klein en arm republieke, die Zuid-Afrikaansche Republiek (oftewel die Transvaal) en die Oranje-Vrystaat.

Ontmoet vir Marthinus Nicolaas (1856-1942), getroud met Hester. In hierdie tyd annekseer die Engelse die Transvaal en die Eerste Vryheidsoorlog breek uit. Marthinus neem deel aan die Slag van Majuba. Die Afrikaners word die eerste Afrika-stam wat die koloniale moondheid in ’n oorlog oorwin. Die koningin van Engeland is verneder. Die Engelse wou steeds die goud hê en ’n tweede oorlog breek uit. Die Boere veg ’n dapper stryd, maar die Engelse gooi ons vroue en kinders in konsentrasiekampe waar 33 000 dood is. Hul plase is ook afgebrand. Marthinus Nicolaas is as banneling weggestuur. Hester is dood in ’n kamp. Haar dogter, Christina, my pa se ma, oorleef die kamp. Koningin Victoria het haar vernedering gewreek.

Marthinus was ook deel van die opstaan ná die oorlog. Die Afrikaners het gekies om self verantwoordelikheid te neem en het deur selfdoen hul vernedering gewreek. Marthinus was deel van die rebellie tydens die Eerste Wêreldoorlog, en deel van die merkwaardige Helpmekaarbeweging daarna. Alles het gekom uit die gemeenskap, los van die staat.

Ontmoet vir Jacobus Johannes, getroud met Christina (1900-1970). Christina het die Irene-konsentrasiekamp oorleef. Hulle het die volle impak van die 1930-depressie en die armblankevraagstuk beleef. Een derde van Afrikaners was werkloos en nog ’n derde was behoeftig, met al die maatskaplike uitdagings wat daarmee saamgegaan het. Dit was weer ’n krisis en weer ’n merkwaardige tyd van opstaan deur die Reddingsdaadbond, Federale Volksbeleggings en verskeie kultuurorganisasies.

Ontmoet Marthinus Nicolaas (1936 – ) en Moira. Dit is my ma en pa. Hulle was beide kinders uit die tyd van blanke armoede. Pa het vertel van sy opgewondenheid toe hy sy eerste langbroek in die hoërskool gekry het. Sy hele lewe is egter ’n merkwaardige storie. Hy het bo sy omstandighede uitgestyg en deur harde werk besturende direkteur van Clover SA geword. Vir die eerste keer in ons geslagslyn is die kringloop van armoede en swaarkry verbreek.

My pa se geslag het daarin geslaag om Suid-Afrika te moderniseer. Hy vertel hoe sy oupa hom vertel het van die Boere-oorlog en die hartseer van sy vrou en sy seuntjie, Petrus, wat in die kamp dood is. Hy vertel hoe sy geslag besluit het dat Afrikaners nooit weer deur so ʼn trauma sal gaan nie. Hy vertel hoe koloniale owerhede uit Afrika gevlug het en hoe Afrikaners hier moes bly, want ons het Afrika geword. Hy vertel van oorlewingsangs.

So is ’n stelsel ontwikkel wat nie moreel of prakties volhoubaar of regverdigbaar was nie – ’n stelsel wat, ironies genoeg, die vernedering van Afrikaners op ander oorgedra het. Die apartheidstelsel het Afrikaners ook van die krag van die gemeenskap ontneem deurdat die staat die verantwoordelikheid van die gemeenskap begin oorneem het.

Ontmoet Dirk Johannes (1972 – ) en Elsha. Dit is ek en my vrou. Ons is die postapartheidgeslag. Ons geslag se verantwoordelikheid is om postapartheidantwoorde te soek vir ’n volgende geslag. Mense van my geslag oorweeg dit om die land te verlaat, maar baie gaan net hier bly. Ons wat hier bly, gaan bou, en ons geskiedenis leer ons van uithou en aanhou. Ons geslag gaan nie die geslag wees wat daardie geskiedenislyn verbreek nie. ’n Voorwaarde daarvoor is wedersydse erkenning en respek.

Ontmoet my dogters, Marisha, Minè, Elzaan en Hanri. Hulle moet jou en ander se tirades absorbeer. Ironies genoeg projekteer jy jou gevoel van vernedering op my kinders, en dit vanuit Denemarke en vanuit ’n hoogs betaalde ambassadeurspos. Woede soos joune word op hulle gerig en dit word geïnstitusionaliseer in rassewetgewing wat niks te doen het met wie hulle is en wat hulle doen nie; dit is gebaseer op hoe hulle lyk.

Hulle het egter ’n storie – dit is ʼn storie wat baie groter is as jou gebrekkige meesterverhaal.

Dat daar vergrype en vernedering in ons verhaal was, is waar, maar dat Afrikaners ’n ongelooflike storie van swaarkry, opstaan, saamwerk en uitreik het, is ook waar. Foute en ’n donker kant het ons wel en ons erken dit. Erkenning maak ons juis sterker, maar dit maak nie van ons gaste wat moet loop nie. Ons haal die goeie uit die verlede en bou eerder die toekoms daarop.

My dogters is die elfde geslag hier. Oor 11 geslagte heen het ons hiér ons beslag gekry. Ons identiteit is hier ontwikkel. Ons is nie ’n koloniale moondheid nie, maar ’n wit stam van Afrika.

Jy het die foute van Afrikaners geneem en dit geëskaleer tot ’n absolute boosheid. Jou storie het, soos almal sʼn, ook ’n donker kant waarmee jy jouself moet konfronteer, maar jy het dit verromantiseer tot slegs edele vryheidstryde.

Ek ken my familie se storie en alles daarvan is deel van my, foute en al.

Vandag is my voltydse werk om ’n nuwe, moderne helpmekaarbeweging te bou. Ons het ’n storie van opstaan uit die gemeenskap. Ons het ’n kragtige DNS. Tot jou frustrasie gaan ons hier bly, maar ons gaan nie stilbly nie. Gaste is ons nie, was ons nie, en gaan ons nie word nie. Ons het nie ʼn ander huis nie. Ons is hier om te bly, want dis ons plek.

Basta, Zindzi, ons voetspore is in Afrika!

‘Die land’ is weg

Dr. Dirk Hermann, die bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, het dié ope brief aan Heidi Edeling, uitvoerende hoof van die Ghoemas, geskryf nadat die musiekvideo van “Die Land” waarin Steve Hofmeyr sing van die benoemingslys van die Ghoema-musiektoekennings verwyder is.

Beste Heidi

Baie mense in die Afrikaanse gemeenskap is kwaad. Ons is kwaad omdat “Die land” weg is. Een van Afrikaans se beste liedjies en video’s van die afgelope jaar is deur die Ghoema Trust by die spogtoekenningsaand verban ná druk deur die hoofborg, MultiChoice.

Die lied begin met die woorde: “Ek en my vriende het saamgekom om ʼn boodskap van hoop te deel.” Die res van die lied is inspirerend. Die sentrale boodskap is dat die land aan elkeen van ons behoort.

Die Afrikaanse gemeenskap voel vervreemd; hulle voel magteloos en geïsoleerd. Hulle voel hulle is in die land, maar nie meer deel van die land nie. Hier kom ʼn groep kunstenaars en sê: Ek belowe jou, die land behoort aan jou. Hulle vervolg met ʼn positiewe boodskap dat my vlag sal aanhou waai en die sade sal ek saai. Kortom: Ek sal steeds bly plant in my land. Die lied het ʼn oproep tot liefde en vra verder: “Wat is nog reg en verkeerd, wil ek weet.” Die kunstenaars vra: “Wat los ons vir ons kinders. Wat gaan ons eendag kan wys?”

Hierdie lied is nou verbied. Die Ghoemas het nie “Die land” onttrek oor die inhoud of gehalte van die lied nie; selfs nie eens omdat Steve Hofmeyr een van die sangers is nie, maar omdat die borg dit geëis het.

Jy skryf in die brief waarin julle jul gewraakte besluit bekend maak: “Ek het ʼn offisiële versoekskrif van Joe Hesu, MultiChoice se groephoof ontvang. As gevolg van Steve Hofmeyr se deelname in die video, versoek MultiChoice dat die benoeming van “Die Land” onttrek word. Verder verklaar hulle dat indien dit nie plaasvind nie, hulle geen opsie het as om hul borgskap van die Ghoema Musiektoekennings 2019 te onttrek nie.”

Op grond hiervan onttrek die Raad van Trustees van die Ghoema Trust die benoeming van die video.

Die borg manipuleer dus die uitkoms van ʼn spogtoekenningsaand. Die een bestanddeel waarsonder ʼn aand soos die Ghoemas nie kan bestaan nie, is integriteit. Onafhanklike beoordelaars, leiers in die bedryf, moet kuns onbevange beoordeel. Jul eie reëls bepaal dat Die Ghoemas ʼn onafhanklike toekenningsgeleentheid is waar die musiekbedryf vir sekere prestasies vereer word. Julle het jul eie reël oortree.

Kunstenaars is vrye geeste en daardie vryheid moet beskerm word. Dit skep ʼn ongelooflike slegte presedent indien borge begin voorskryf wat in is en wat uit is. Vandag besluit ʼn borg watter lied onttrek moet word, maar môre skryf ʼn borg voor watter lied bygevoeg moet word. Vandag besluit ʼn borg hulle hou nie van ʼn kunstenaar se standpunt nie en môre hou hulle nie van ʼn spesifieke lewenstyl nie. Vandag is dit ʼn borg en môre is dit die staat.

Jul besluit om “Die land” te onttrek, het die Ghoemas van sy integriteit en vryheid ontneem. Julle het die Afrikaanse musieklandskap verskraal tot ʼn wêreld gesien uit die oog van ʼn enkele borg. Julle het eenvoudig gedienstig aan hul wêreldbeskouing geraak. Ongelukkig is hul beskouing weer gedienstig aan die algemene politiek korrekte siening wat die heersende idees van die staat weerspieël.

Die regte ding sou wees om aan jul eie missie gehoorsaam te bly en dit is om prestasie in die musiekbedryf te vereer. Omdat julle weggetree het van jul missie ter wille van ʼn borg is daar woede. Adam Tas, Dewald Wasserfall, Corlea Botha, Bok van Blerk, Bobby van Jaarsveld en ander het hul weersin in jul besluit uitgespreek. Hulle almal is hul vryheid deur die besluit ontneem.

Bobby van Jaarsveld som dit raak op: “As ons musiek nie welkom is daar nie, is ons seker nie welkom daar nie. Raak moeg om stil te bly terwyl hulle ons boelie.”

Bobby som ʼn groter gevoel op – ʼn algemene gevoel dat ons moeg is daarvan om geboelie te word. Die Ghoemas het net nog ʼn simbool van daardie geboelie geword. Die reaksie van die Afrikaanse gemeenskap is oorweldigend teen jul besluit. Julle het hulle vervreem. Strategies het julle met jul gesig na die verkeerde kant toe gaan staan. Dit is jammer, want die Ghoemas is ʼn mooi inisiatief.

Corlea Botha spreek haar diepliggende kommer uit oor die vrees onder Afrikaanse kunstenaars dat hul werk nou gesensor word: “… of gaan ons net met sekere mense mag werk?” vra sy. Bok van Blerk het ook reeds laat weet dat hy nie meer die Ghoemas gaan bywoon nie.

Ironies genoeg kla die woorde van die lied wat julle verbied julle aan. Ons as lede van die publiek wil weet wat is nog reg en verkeerd? Ons vra wat los ons vir ons kinders? Wat gaan ons eendag kan wys? Dit is hierdie vrae wat maak dat ons jul besluit nie net daar kan los nie.

“Die land” het nou ʼn proteslied geword. Dit het iets groters geword as bloot ʼn Ghoema-benoeming. Dit het ʼn simbool geword van hoe mense voel. Dit was oorspronklik ʼn lied van hoop en dit sal ʼn lied van hoop bly, maar dit wys nou ook dat protes soms nodig is om hoop lewend te hou.

Solidariteit het pas ʼn gilde vir Afrikaanse kunstenaars gestig. Die doel van die gilde is juis om ons kunstenaars teen boelies te beskerm sodat hulle vry kan wees.

Ons kan nie jul besluit omdraai nie, maar ons kunstenaarsgilde gaan met ʼn veldtog begin om te verseker dat minstens net soveel mense na “Die land” op sosiale media kyk as wat mense na die Ghoemas op TV gaan kyk. Ons gaan hierdie video wyd versprei. In die nuwe wêreld van nuwe media kan geen tradisionele media-instelling voorskryf wat gekyk en nie gekyk mag word nie. As die Ghoemas “Die land” onttrek, benoem die gemeenskap self die lied as gemeenskapskeuse.

“Die land” is weg by die Ghoemas, maar die land is nie weg van ons nie. Die land behoort aan my en aan jou. Ek belowe jou.

Ek sluit ʼn skakel van die video by die skrywe in.

Discovery: Wit mense is as vredeoffers vir die regerende elite aangebied en hulle is woedend

Discovery se aankondiging dat 10% aandele van die Discovery Bank eksklusief aan swart kliënte beskikbaar gestel gaan word, het groot reaksie op sosiale media tot gevolg gehad. Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het ʼn ope brief aan Adrian Gore, die uitvoerende hoof van Discovery geskryf waarop Gore gereageer het. Dr. Hermann antwoord in ʼn tweede ope brief op Gore se reaksie.

Geagte mnr. Gore

Ek sien u het gereageer op my ope brief. Opsommenderwys sê u dat Discovery, in u eie woorde, moet optree op ʼn manier wat ooreenstem met die maatskaplike en wetsvereistes wat op die groep van toepassing is.

U sê dat wetgewing swart eienaarskap in die nuwe Discovery Bank vereis en dat dit spesifiek as deel van u lisensiëringsproses vereis word. U het ook ʼn onderneming aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank gegee dat daar swart eienaarskap in die nuwe Discovery Bank gaan wees.

Ek sou graag wou weet na watter maatskaplike vereiste (imperative) u verwys. As ek na u skrywe kyk, wil dit lyk of die heersende politieke ideologie ook u maatskaplike raamwerk geword het. As een van Suid-Afrika se sakereuse, het u klakkeloos ingeval by die transformasie-ideologie van die regerende elite en dit sommer onkrities u eie gemaak.

Wat as dit moreel verkeerd is? Dit is jammer dat groot besigheid nie ʼn kultuur het om die moraliteit van ʼn magsorde uit te daag nie. Om ʼn groep suiwer op grond van ras uit te sluit, was, is en bly moreel verkeerd.

U moes intree vir u kliënte, maar u het nie. Inteendeel, u het ʼn groot deel van hulle as vredeoffer vir die regerende elite aangebied. U wit kliënte is tereg ontstoke daaroor. Hulle wil nie soos offerdiere voel nie. ʼn Mediese fonds of versekeraar word in jou persoonlike ruimte toegelaat. Daar bestaan ʼn band van vertroue en daardie band is gebreek.

U het u wit kliënte geminag omdat u aan die regering se maatskaplike vereistes wou voldoen. Hulle het dit nie aanvaar nie en daag u uit. U het die maatskaplike vereiste wat u kliënte stel, onderskat.

Die tweede vraag is: Wat is die wetsraamwerk waarna u verwys? U het die sogenaamde maatskaplike vereiste al so deel van uself gemaak dat u dit in regsterme aanbied.

U voer aan wetgewing vereis van u om swart mense in te sluit en wit mense uit te sluit. Dit is wat u transaksie doen. Daar is egter geen wetgewing wat dit vereis nie.

Die Bankwet het nêrens ʼn bepaling wat rassetransformasie as voorvereiste vir lisensiëring stel nie.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se lisensiëringsdokument noem nie een keer enige vereistes met betrekking tot rassetransformasie nie.

Die finansiële sektor het wel ʼn handves waarin teikens vervat is. Dit is egter nie wetgewing nie. Dit is ʼn vrywillige dokument met riglyne en geen harde teikens nie. Geen lisensie is daaraan onderworpe nie.

Daar moet vrywillig aan die handves voldoen word, maar dit is geen wet nie.

Hierdie handves maak voorsiening vir verskeie ander opsies wat nie absolute uitsluiting op grond van ras vereis nie. Daar kan dus aan die handves voldoen word sonder om uit te sluit. Daar kan aan alle ander wetgewings voldoen word sonder om uit te sluit.

Die enigste ander wetgewing is die swart bemagtigingswetgewing wat bepaal dat staatsliggame en openbare instellings kodes vir goeie praktyk in ag moet neem wanneer lisensies uitgereik word.

Die Reserwebank gee geen aanduiding dat hulle dit doen nie en is in elk geval privaat en nie ʼn staatsliggaam of openbare onderneming nie. Selfs al sou daar ʼn kode vir goeie praktyk wees, sal geen kode ʼn plig plaas om wit mense uit te sluit om ʼn lisensie te bekom nie.

Ons het begrip daarvoor dat besigheid binne die werklikhede van Suid-Afrika gedoen moet word, maar ʼn koue benadering van uitsluiting is verkeerd en is nie nodig nie.

U het geen moeite gedoen om ʼn kreatiewe skema, wat nie uitsluitend is nie, te ontwikkel. Inteendeel – u het met trots op ʼn verhoog gestaan en rasse-uitsluiting as vindingryk aangebied.

U het die mees radikale opsie gekies. Dit was volgens wetsvereistes nie nodig nie, maar u het dié weg ingeslaan omdat dit, volgens u, die beste aan die magselite se maatskaplike vereistes voldoen.

Wat u egter totaal onderskat het, is die maatskaplike vereiste van ʼn reusegroep van u huidige en toekomstige kliënte. Hulle vereis lojaliteit van Discovery, want hulle is lojaal. Hulle verwag om as volle belanghebbers erken te word, want hulle het Discovery gebou. Hulle wil bloot net so deel wees van u transaksies as u ander kliënte. Hulle is nie lus om deel te wees van ʼn maatskappy se sosiale manipulasie nie. Hulle is al genoeg as slaansak deur die regering gebruik en nou kom Discovery en slaan hulle ook – toe slaan hulle terug.

Die maatskaplike vereistes van ʼn groot deel van u kliënte gaan dit vir u baie moeilik maak om u nuwe bank van stapel te stuur. U het dit reeds gestel dat die bank swaar steun op bestaande Discovery- kliënte wat daarby inkoop. U het egter nagelaat om u kliënte toe te laat om in te koop.

MiWay-baas klap Afrikaners en toe klap hulle terug

Die uitvoerende hoof van MiWay, René Otto, het ’n twiet – nadat hy die boek The Lost Boys of Bird Island gelees het, uitgestuur wat Afrikaners en sosiale media gebruikers behoorlik ontstel het. Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, reageer in ’n opebrief op Otto se twiet.

Beste René

Ek sien jy het om verskoning gevra vir jou twiet wat jy uitgestuur het nadat jy The Lost Boys of Bird Island gelees het. Ek wil graag deur die brief ʼn perspektief bied oor hoekom Afrikaners so woedend op jou twiet gereageer het.

Dit is mos deesdae hoogmode om Afrikaners te kriminaliseer. As jy dit self doen, dink jy mos jy het jouself van die smet van die bose gemeenskap gereinig.

So het jy met jou twiet ook by die koor van stemme ingeval. Jy gebruik ʼn boek, wat oor ʼn pedofielnetwerk handel en op wankelrige bene staan, om sommer in die proses ʼn klap uit te deel in die rigting van die Afrikaners van vandag wat glo hulle is die uitverkore volk van God en steeds in ontkenning leef oor die vernietiging van die apartheidsera.

Dit ten spyte daarvan dat twee sentrale karakters in die verhaal, naamlik die besigheidsman van Port Elizabeth, Dave Allen, en die voormalige NP-minister van omgewingsake, John Wiley, Engelsprekend was.

Of die feite in die boek glad nie, gedeeltelik of die volle waarheid is, is nie hier relevant nie. Jou klap na die hedendaagse Afrikaner was onvanpas en eenvoudig nie aanvaarbaar nie.

Die reaksie op jou twiet was oorweldigend en jy het om verskoning gevra vir die manier hoe jou twiet geïnterpreteer is. Volgens die verklaring wat later uitgereik is, was dit nie jou bedoeling om enige persoon of kultuur seer te maak nie.

Jy sê ook jy het die boodskap in jou persoonlike hoedanigheid getwiet, maar jy kan jouself en jou posisie by MiWay nie van mekaar skei nie. Jy het jou magsposisie misbruik. Jy is die uitvoerende hoof van MiWay en ek is bekommerd dat jou “opregte” berou dalk te make het met die skade wat MiWay gely het. Die probleem is nie die interpretasie van jou twiet nie; dit is jou twiet.

Afrikaners is moeg daarvan om geboelie en gekriminaliseer te word en jy het dit onderskat. Wat jy selfs meer onderskat het, is Afrikaners se reusekoopkrag. Wat jy onderskat het, is dat Afrikaners steeds meer as 30% van die finansiëledienste-koopkrag in Suid-Afrika het. Ek weet nie hoeveel Afrikanerkliënte MiWay het nie, maar ek vermoed dit is heelwat.

Hoewel hulle ʼn klein groep is, maak dit van hulle ʼn formidabele faktor om mee rekening te hou in die sektor waarin jy werk. Ek sou ook jammer gewees het as ek dié groep woedend gemaak het.

Om een of ander rede het jy egter steeds gedink dit is in orde om ʼn klap in hul rigting te mik. Dit is mos polities korrek om dit te doen. Op sosiale media het die Afrikaners teruggeklap.

Daar is drie instellings wat ʼn groot invloed op jou lewe gehad het. Die eerste is jou alma mater, die Universiteit van Pretoria (Tukkies). Deur Tukkies het jy jou kennis verwerf en is jy aan sekere waardes blootgestel wat jou gevorm het. Dit het jou in staat gestel om vandag die hoof van MiWay te wees.

Die ander twee instellings is Santam en Sanlam, wat geboorte aan MiWay gegee het.

Die drie instellings is instellings wat uit die Afrikaner se swaarkry gebore is. Dié instellings het hul destydse omstandighede te bowe gekom en het dit uitpresteer. Hul stories is merkwaardige stories. Dit is asof jy met jou twiet hierdie geskiedenis net eenvoudig wil ontken, al is dit Afrikanerinstellings en -waardes wat jou help vorm het.

Die drie instellings se stories is in breë trekke in der waarheid ook maar die storie van die Afrikaners. Dit is ook die stories wat my gevorm het en ek is ongelooflik trots daarop. Die volle Afrikanerstorie is my storie – die swaarkry, die opstaan, die kampe, die helpmekaar, die hartseer, die vreugde, die armoede en die reddingsdaad. Insgelyks was daar ook vergrype en verryking; ʼn honger na mag en magsmisbruik; vernedering en uitsluiting van ander. Dít alles het my gevorm. Die goeie maak egter nie ons volle storie heilig nie en die slegte kriminaliseer ons nie.

Net so is daar goed en ook heelwat kwaad te vind onder alle volke in die wêreld – dink maar aan die Engelse, Duitsers, Russe, Japannese en, hier op eie bodem, aan die Zoeloes en die Afrikaners.

Dit is hoekom die wyse president Kruger gesê het: “Neem uit die verlede wat goed en edel is en bou daarop die toekoms.”

Jy het dit nie gedoen. Jy het verval in die goed-kwaad-beoordeling van die geskiedenis en Afrikaners is aan die kant van die kwaad. Die geskiedenis is nie so simplisties nie en Afrikaners is moeg vir die soort beoordeling van hul geskiedenis. Ek is moeg daarvan om net as boos uitgebeeld te word, veral deur mense wat wil wys: “Ek is nie so nie”.

Jy het Afrikaners onnodig geklap. Hulle het teruggeklap, want Afrikaners is nie te klap nie.

 

U koninklike hoogheid, prins William

U koninklike hoogheid, prins William

 

U sal wonder hoekom ek, ’n gewone Suid-Afrikaner, aan u, die toekomstige koning van Engeland, skryf. Die inhoud van my skrywe sal dit verklaar. U is die pa van ’n seun, prins George, en ’n dogter, prinses Charlotte, onderskeidelik vier en twee jaar oud. Net soos u is ek ook ’n pa. Soos u en u eggenote, Catherine, is ek en my vrou, Elsha, lief vir ons kinders, Marisha (15), Minè (13), Elzaan (10) en Hanri (7); ons wil hulle toevou en beskerm en wil nie hê hulle moet seerkry nie.

Ons voorsate was destyds kerkmense net soos wat u mense kerkmense was. My mense is steeds kerkmense, u s’n ook. Daarom is die inhoud van die skrywe belangrik, vir u en vir my.

In die jaar 1900 was u grootouma, Victoria, ’n koningin en my grootouma, Hester, ’n doodgewone boervrou. U grootjie was getroud met prins Albert wat op 14 Desember 1861 tot sterwe gekom het. Sy dood was vir haar ’n skok sy het in rou die res van haar lewe swart gedra. Victoria en Albert het sterk klem gelê op morele en gesinswaardes wat daartoe aanleiding gegee het dat daar selfs gepraat is van hul huishouding as die eerste gesinsmonargie. Dit is ʼn tradisie wat u en u eggenote beslis voortsit.

U grootjie was ’n koningin, maar tog ook ’n gewone mens wat moeilike kinderdae, vreugde, hartseer en pyn geken het.

 

Ons grootjies is al twee in 1901 gedurende die laaste jaar van die Anglo-Boereoorlog, wat van 1899 tot 1902 geduur het, oorlede. Myne is dood weens die haglike toestande in ’n konsentrasiekamp en u grootjie as gevolg van haar rype ouderdom. Die Anglo-Boereoorlog was vir ons al twee se grootjies ’n traumatiese gebeurtenis.

U grootjie skryf in haar joernaal dat die jaar 1900 vir haar ’n verskriklike jaar was. Haar lieflingkleinseun, prins Christian Victor, het tydens die Anglo-Boereoorlog aan maagkoors gesterf. Sy was gebroke oor sy dood. Die Britse militêre owerhede wou sy liggaam na Engeland toe terugstuur, maar u grootouma het per telegram laat weet dat hy in Suid-Afrika begrawe moes word. Dit was sy wens dat as hy tot sterwe sou kom, hy tussen sy gevegskamerade begrawe moes word.

U grootouma het ’n besondere betrokkenheid by die Anglo-Boereoorlog gehad. Sy wou in besonderhede ingelig wees oor veldslae en het telegramme van gelukwensing en simpatie aan die generaals gestuur. Sy het die ongevallelyste bestudeer en het ’n spesiale fotoalbum van die gesneuweldes gehou. Vir Kersfees 1900 het sy 100 000 blikkies met sjokolade aan haar soldate gestuur. Sy het self agt serpe gehekel wat aan die veelsydigste soldate wat aan die Suid-Afrikaanse veldtog deelgeneem het, gegee is.

Die Britte het die Anglo-Boereoorlog as ’n teetyd-oorlog beskou, want dit sou voor teetyd iets van die verlede wees. Die Boere het egter net bly veg. Die verleentheid vir Engeland het tot so ’n mate toegeneem dat u grootjie uiteindelik as gevolg van die weerstand teen die oorlog nie vrylik in Europa kon rondtoer nie.

Die aand voor haar dood op 21 Januarie 1901, was sy nouliks by haar bewussyn toe sy vir haar dogter, prinses Beatrice, gevra het: “Wat gaan deesdae in Suid-Afrika aan?”

My oumagrootjie Hester se storie is ’n storie oor wat toe werklik in Suid-Afrika aan die gang was – stories wat waarskynlik nie aan u grootouma vertel is nie.

My grootjie was getroud met Marthinus en sy het ook kinders gehad, waarvan Petrus en Christina die jongstes was. In die jaar 1900 was hierdie tweetjies, soos u kinders vandag, onderskeidelik vier en twee jaar oud. Soos u grootjie wou my oumagrootjie ook maar net haar kinders toevou en beskerm en wou sy hulle seerkry en swaarkry spaar.

Om my grootjie se seer te verstaan, moet ek meer sê oor die uitwerking wat die Anglo-Boereoorlog op haar en haar mense gehad het.

In 1815 het die Engelse as oorwinnaars uit die Napoleontiese oorloë getree en hulself toe beskryf as “the greatest and the most highly civilised people that ever the world saw”.

Hul goddelike missie was globale perfeksie deur ander nasies te onderwerp. Cecil John Rhodes het dit soos volg opgesom: “I contend that we are the finest race in the world and that the more of the world we inhabit, the better it is for the human race.”

Blootstelling van ander aan die “superior civilisation” kon net tot hul voordeel strek, so is aanvaar. As ander in die proses uitgewis moes word, was dit in diens van “the greater good’’ en globale ontwikkeling en uiteindelik selfs vir hulle.

Britse uitbreiding het in u grootjie se tyd ’n bloeitydperk beleef. My oumagrootjie was aan die ontvangkant daarvan.

Die Britse denkraamwerk van daardie tyd het ’n ongelooflike invloed op my oumagrootjie se mense gehad. Vir die Engelse was die Boere ʼn vreemde verskynsel – hulle was wit, het die Bybel gelees, maar was volgens die Engelse agterlik. Die Boere moes opgehef en ingelyf word ter wille van “the greater good,” maar hulle het weerstand daarteen gebied.

In 1877 annekseer 33 man van u grootjie se magte, onder leiding van lord Shepstone, die ZAR, my oumagrootjie se mense se republiek. Aanvanklik wou die Boere dit gewoon nie glo nie, maar hul teenkanting teen die anneksasie het uiteindelik in 1880 op ’n oorlog, later bekend as die Eerste Vryheidsoorlog, uitgeloop.

Vier prominente veldslae het gevolg voordat die Boere ’n finale oorwinning op 27 Februarie 1881 by die Slag van Majuba behaal het. Hester se man, Marthinus, het self ook aan dié slag deelgeneem – hy het geveg vir vryheid; u grootjie se magte het geveg vir grond met skitterende diamante. Dié oorlog was die eerste sedert die Amerikaanse Revolusie waarin Brittanje oortuigend oorwin is.

Vir Brittanje was die vernedering groot. Dit is beskou as ’n “terugslag” vir die “beskawing”. U grootjie, Victoria, was geskok en het om wraak gevra.

Die wraak het in 1899 in die vorm van die Anglo-Boereoorlog gekom. Hierdie keer het u grootjie se mense vir grond en glansende goud geveg en my oumagrootjie se mense het geveg vir hul grond en vryheid.

Die Anglo-Boereoorlog word ook as die eerste propaganda-oorlog geag. In dié oorlog is my oumagrootjie se mense verneder en as absoluut agterlik uitgebeeld. Die magtige Britse pers het met mening op hulle neergedaal.

Die Amerikaans gebore Britse politikus, sir Ellis Ashmead-Bartlett, was tydens dié oorlog ʼn lid van die Britse Laerhuis. Hy het my oumagrootjie se mense “the scum of South Africa” en “the most unscrupulous and corrupt that have ever disgraced any country” genoem.

My oumagrootjie en haar mense is name genoem wat hulle ontmens het; hulle was selfs beskou as ongediertes wat uitgewis moes word. Ontmensing en vernederende name het die weg gebaan vir die latere regverdiging van die verskroeideaardebeleid en die massas mense wat in konsentrasiekampe dood is.

Die oorlog het op 11 Oktober 1899 uitgebreek en gedurende die daaropvolgende bykans drie jaar is sowat 500 000 Britse soldate vir die stryd gemobiliseer.

Dit was in daardie stadium die grootste oorsese mobilisasie nóg in Engeland se geskiedenis – en is gevoer teen een van die kleinste volkies ter wêreld.

Teen Junie 1900 het Engeland gemeen die oorlog was uiteindelik verby toe die Vrystaatse hoofstad, Bloemfontein, en die hoofstad van die ZAR, Pretoria, ingeneem is. Die Boere het egter nie in stadsterme gedink nie – die stede mag dalk ingeneem gewees het, maar nie die land nie.

In Europese oorlogsdenke was dit ʼn totaal onverklaarbare verskynsel, maar die Boere het guerrillavegters geword. ’n Desperate Joseph Chamberlain, die destydse minister van kolonies, het verklaar: “The war office declared that the international law for European or civilised nations could not be applied to the Boers, as they were worse than inferior Africans.” Dit het op die volgende opdrag uitgeloop:

 

Gather all food, wagons, Cape carts, sheep, oxen, goats, cows, calves, horses, mares, foals, forage and poultry. Destroy what you cannot eat or remove. Burn all houses and explain that the reason for this is that they have harboured the enemy. Give no receipts. The question of how to treat women and children and what amount of food and transport to leave them will arise. They have forfeited all right to consideration and must now suffer for persistently ignoring warnings.

 

Ten uitvoering van hierdie opdrag is nagenoeg 30 000 huise afgebrand en kerke en dorpe is afgebrand. Ongeveer 160 000 Boerevroue en -kinders van ons twee klein republieke is in 59 konsentrasiekampe gestop. Die toestande in die konsentrasiekampe was haglik. Onlangse navorsing toon dat nagenoeg 34 000 Boerevroue en -kinders in en op pad na die konsentrasiekampe dood is – sowat 65% hiervan was kinders van 16 jaar en jonger. Mense is nie in die kampe gestop oor wat hulle gedoen het nie, maar oor wie hulle was. Tot twintig persent van die bevolking van die twee Boererepublieke het in die oorlog omgekom.

Die Havenga-verslag het die ergste vorme van verkragting en seksuele geweld teen vroue en dogters in die kampe aan die lig gebring. Hierdie verslag is eers in 1982 bekendgemaak. Die verklarings van die vroue dui op die grofste gevalle van verkragting, molestering en aanranding deur Britse soldate en hul swart handlangers.

My oumagrootjie  en haar twee klein kindertjies, Petrus en Christina, is soos vee op oop treintrokke sonder toiletgeriewe vanaf Rustenburg na die Irene-kamp vervoer. Daar was sowat 5 600 mense in die kamp. Uiteindelik het 1 163 mense in dié kamp omgekom (Hierdie syfer mag stellig selfs hoër wees.) Twintig mense moes saam in ’n tent bly wat ontwerp is vir 16 soldate om in te slaap. My grootouma se seuntjie Petrus is dood in die kamp. Sy laaste woorde was: “Mamma, ek is honger.” So het hy, net voordat hy gesterf het grootjie se vraag op haar doodsbed oor wat in Suid-Afrika aan die gang is, beantwoord.

Daar was nie ’n kissie vir klein Petrus nie en hy is in ’n kombersie begrawe.

Soos vir u grootjie was die jaar 1900-’01 ook vir my oumagrootjie ’n jaar van smart. Haar smart was ook weens die oorlog, maar my oumagrootjie was in die Irene-konsentrasiekamp. Haar man is as banneling na Ceylon weggestuur. My oumagrootjie kon nie vir hom ’n blikkie met sjokolade vir die Kersfees van 1900 stuur nie. Sy was ’n gevangene – swak en gebroke.

Die oorlog het ook rasseverhoudinge in Suid-Afrika vir altyd verander. Ongeveer 120 000 swart soldate, waarvan tussen 30 000 en 50 000 gewapen was, het aan Britse kant aan die oorlog deelgeneem. Daar is aan hulle belowe dat hulle ná die oorlog die grond en huise van die Boere kon kry en met die Boerevroue sou kon trou.

Later is die swart soldate ingespan om die verskroeideaardebeleid uit te voer en het hulle deelgeneem aan aanrandings, teistering en die verkragting van Boerevroue en -dogters. Dit het ’n weersin laat ontstaan.

Aan die ander kant was daar lojale swart werkers wie se huise ook afgebrand is en wat ook na konsentrasiekampe gestuur is waar swart vroue tot beskikking van Britse offisiere was.

Sowat 14 000 tot 21 000 swart mense uit ’n totaal van 115 000 is in konsentrasiekampe dood; die meeste daarvan ook kinders.

Die grootste aantal sterftes onder swart mense in konsentrasiekampe het gedurende Desember 1901 plaasgevind. So was die jaar 1901 ook ’n traumajaar vir die groter Seko-familie. Ses lede van die familie, waaronder vier kinders – Andries (3), Anna (4), Groeta (3) en Raiu (2) – asook Maria (70) en Sannie (70) het in die Bloemfonteinse konsentrasiekamp omgekom.

In 2002 is die grafte van sowat 100 swart persone wat waarskynlik in die Greylingstad-konsentrasiekamp omkom het, gevind. Dit is die vergete smart van grootoumas waarvan ons nie eens bewus was nie.

Die Britte het ook die swart mense vir arbeid en voedselverbouing gebruik. Die verwydering van swart arbeid vanaf die plase was die laaste meesterskuif van die Britte om die Boere se kosvoorrade af te sny.

Brittanje se obsessie om die oorlog te wen, het almal in Suid-Afrika getref.

Uiteindelik het die Boere die oorlog verloor.

Dit was die langste en duurste koloniale oorlog in die Britse geskiedenis en dit was die laaste van die groot imperiale oorloë.

Die morele integriteit van die Boere het nie tydens die oorlog verlore gegaan nie; dié van die Britte het wel.

Ná die oorlog het die Boere stadigaan begin terugkeer na hul land en grond. Vroue is alleen terug plaas toe. Alles was afgebrand en karkasse het oor die plase verstrooi gelê.

Die sowat 32 000 mans en seuns wat in ballingskap was, het vanaf die uithoeke van die aarde – Ceylon, Indië, St. Helena, Portugal en Bermuda – teruggekeer na ’n land wat verwoes was.

Die rou was diep. Daar was bykans nie ’n gesin wat nie iemand in die oorlog aan die dood afgestaan het nie. Daar was nie ondersteuningstrukture in die kampe om die dood te hanteer en te verwerk nie. Gesinne was uitmekaar geskeur en elkeen was besig met sy of haar eie rou smart.

Die Boere het egter op indrukwekkende wyse ná die oorlog begin opstaan. Hulle het instellings soos die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie in die lewe geroep om die oorlogwesies te help. Skole is gebou en finansiële en kultuurinstellings het tot stand gekom. Ten spyte van die pyn van die oorlog het die mense opgestaan. Die oorlog kon nie die trots van my oumagrootjie se mense blus nie en iets van daardie trots leef vandag nog steeds in ons voort.

Vanaf 1902 tot 1930 het ’n vreemde stilte oor die oorlog geheers. Daar was nie werklik ’n openbare diskoers daaroor nie. Die seer het net té vlak gelê.

Die ekstreme trauma van die oorlog het by Afrikaners die diepgewortelde vrees vir oorlewing verskerp, wat Suid-Afrika se geskiedenis vir altyd verander het. Die Afrikaner-psige ná die oorlog het ook ’n direkte invloed op die ontwikkeling van apartheid gehad. Afrikaners wou net nooit weer die mag verloor en blootgestel word aan dít waaraan die vorige geslag tydens die oorlog blootgestel was nie. Dit het gelei tot die aanvaarding van ’n stelsel wat in geen opsig volhoubaar was nie. Die paradoks is dat die smart van die oorlog daartoe aanleiding gegee het dat Afrikaners later die muishond van die wêreld geword het.

Die verhaal van u grootjie se lewe vertel ook iets van haar hart – ’n gesinsmens wat bekommerd was oor haar kinders, diep getreur het oor die dood van haar man en intense smart beleef het oor die dood van haar lieflingkleinseun in Suid-Afrika. U grootjie was egter ook die produk van die denke van haar tyd, soos die geloof dat Brittanje ter wille van die wêreld soveel as moontlik van die wêreld moes beset. Dit was daardie imperiale ideaal wat my oumagrootjie letterlik doodgemaak en my land vir altyd verander het.

Ek wonder hoe u grootjie, met die wysheid wat nawete bring, sou gereageer het op die tragiese gebeure van die Anglo-Boereoorlog. Hoe sou sy reageer as sy buite die konteks van haar tyd kon sien wat haar tyd aan my oumagrootjie en haar mense gedoen het?

U staan egter buite die konteks van u grootjie se tye. U kan sien wat met my oumagrootjie gebeur het. Al is dit net vir ’n oomblik kan u uself indink hoe dit moes voel om as ’n banneling na Ceylon toe gestuur word terwyl u eggenote en u kinders in ’n konsentrasiekamp moes wees waar u seuntjie, George, met die woorde: “Ek is honger” op sy lippies sterf en die vrees bestaan dat klein Charlotte ook in die kamp kan sterf.

Die vraag is hoekom die hele debat oor die Anglo-Boereoorlog steeds relevant is vir Brittanje en Suid-Afrika. Waarom ’n brief in hierdie tyd?

Die effek van die oorlog en die tydperk van kolonialisasie is steeds duidelik sigbaar in Suid-Afrika. In daardie sin kan Brittanje, en spesifiek die koningshuis, nie koud staan teenoor gebeure wat Suid-Afrika vandag steeds, selfs meer as 100 jaar later, vorm nie. Selfs ná die Anglo-Boereoorlog was en is daar steeds ’n ietwat ambivalente verhouding tussen Suid-Afrika en Brittanje, aan die een kant gekenmerk deur vriendskap en besoeke aan die land deur die koningshuis en lede van die koningsfamilie en Suid-Afrika wat aan Britse kant aan die twee Wêreldoorloë deelgeneem het, maar aan die ander kant het ʼn mate van wantroue en ʼn sekere mate van vyandigheid bly vassteek.

 

In Suid-Afrika stoei ons steeds met die vraag oor hoe ’n postkoloniale land lyk. Hierdie debat kan egter nie gevoer word sonder ’n behoorlike begrip van die tydperk van Britse kolonialisasie en die invloed daarvan op die Afrikaner-psige en apartheid nie.

Ironies genoeg was Afrikaners die stam in Afrika wat ’n antikoloniale oorlog gewen en ’n baie duur prys daarvoor in ’n tweede oorlog betaal het. As ’n direkte gevolg daarvan het ’n “nooit-weer-gevoel-sindroom” onder Afrikaners posgevat wat weer ’n invloed gehad het op die regverdiging van apartheid.

U en ek is albei deel van postkoloniale geslagte. Ons kan terugkyk op die geskiedenis en begrip vir mekaar se pyn hê. Alhoewel ek steeds verskil met die meesternarratief van u grootjie se tyd en veral oor die wrede manier waarop dit uitgeleef is, kan ek begrip hê vir die pyn van ’n ouma wie se kleinseun in ’n oorlog sterf en vir die pyn van duisende vroue, ma’s en kinders in Brittanje omdat hul mans en pa’s in Suid-Afrika dood is.

Ek wil nie ’n verskoning hê nie. My oumagrootjie se mense het deur innerlike krag uit die smart van die oorlog opgestaan. Ek wil wel begrip hê vir die pyn as gevolg van die oorlog. Wat aanvanklik gesien was as ’n sogenaamde witmansoorlog, het uiteindelik ook groot pyn vir gewone swart Suid-Afrikaners, pa’s, ma’s, kinders en hul eie oumas, ingehou.

Teen hierdie agtergrond wil ek u nooi om Suid-Afrika saam met u gesin te besoek. Kom ons toon onderlinge begrip vir mekaar se geskiedenis binne ’n postkoloniale konteks en debat oor dekolonisasie.

Kom besoek die graf van u grootoom, Christian Victor, en gaan lê ’n krans daar. Ek sal ook ’n krans daar lê. Kom besoek ook die graffie van my grootoom, Petrus, in die Irene-konsentrasiekamp en lê ’n krans daar. Ek sal dit ook doen. Kom ons besoek saam met die Seko-familie die grafte van hul familielede in Bloemfontein en lê ook daar kranse.

ʼn Herbesoek van die oorlog is nodig vir die postkoloniale debat in Suid-Afrika en ter wille van die gewete van Brittanje en die koningshuis.

Geslagte met die voordeel van nakennis kan kragtige simboliese dade doen sodat ons nie vergeet nie; sodat ons nie herhaal nie; sodat ons kan bou aan ’n nuwe toekoms.

U kan ’n groot rol daarin speel, want u is nie net ’n toekomstige koning nie; u is ook ’n pa.

 

Hoogagtend die uwe

 

Dr. Dirk Hermann

Ek sien u wil die Potch-kampus Engels maak…

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, wat self ʼn oud-SR-voorsitter, raadslid en uittredende visepresident van die konvokasie van die Noordwes-Universiteit (NWU) is, het hierdie ope brief aan prof. Robert Balfour, die NWU se adjunk-visiekansellier vir onderrig en leer geskryf oor sy voorstelle oor die universiteit se taalbeleid:

Geagte prof. Balfour

Ek sien u wil die Potch-kampus Engels maak. Dit is die ou PU vir CHO met die mooi universiteitslied met sy treffende aanhef: “Gebore uit die nag van smaad”. Die nag van smaad was swaarkryjare en die opstaan ná die Anglo-Boereoorlog se puin. Mense het in hul armoede hul sente gegee om die universiteit te bou. Die ontstaan van die Potchefstroomse Universiteitskollege (PUK) was voorwaar ’n wonderdaad.

Waar die PUK uit smart gebou is, word hy toe eenvoudig gevat. Samesmeltings, transformasie en ’n nuwe Suid-Afrika was die redes daarvoor. Nou wil julle selfs die taal vat. Dit gaan nie net die taal wees nie, maar alles rondom die taal.

Dit het begin met die verandering van die naam PU vir CHO. Toe is vir ons gesê net die naam op die hek gaan verander. Die CHO sou van die hek na die hart skuif. Dit was ’n opoffering vir die behoud van Afrikaans. Dit was toe nie waar nie.

Daarna is gesê Afrikaans sal beskerming geniet deur ’n gedesentraliseerde model bestaande uit verskillende kampusse, waarvan elk op sy eie uniek is. Nou is dit ook nie meer waar nie.

Moenie bekommer nie, is toe vir ons gesê. Die PUK sal PUK bly. Nou is die woorde van die akroniem, PUK, verbode woorde.

Elke kampus in hierdie gedesentraliseerde model sou sy eie karakter hê. ’n Gesonde studentelewe, uniek aan elke kampus, sou beskerm word. Ook dit is nie meer so nie.

Tolkdienste van wêreldgehalte sou vir diegene wat in Engels wou studeer, toegang bied. Nou is dit vernederend.

Elke kampus het sy eie korporatiewe kleur gehad, so ontwerp dat dit saam ’n eenheid vorm. Daar word toe, soos telkens vantevore, gekonsulteer. Die meerderheid verwerp toe pers maar pers word die kleur. Niks van wat belowe is, het toe waar geword nie. Alles was prosesse op pad na iets anders.

En nou, nou moet Potch Engels word. Alles wat belowe is, is tot niet. Moenie bekommerd wees nie, sê hulle nou. Daar sal nog ’n plekkie vir Afrikaans wees. Dalk kan daar steeds ’n tolkdiens in Afrikaans beskikbaar gemaak word as dit prakties moontlik is. Studente mag dalk nog met mekaar Afrikaans praat, solank hulle net nie daardeur uitsluit nie.

Beste Professor, die geskiedenis toon dat ook dít nie waar is nie.

Ongelukkig is Engels die voorwaarde vir transformasie. Dit is nie die einde nie, dit is die begin.

Nou volg die eis dat die kurrikulum gedekoloniseer word – en niemand weet nog wat dit behels nie. Ander kampusse wys dat anargisme die instrument is wat gebruik word om dit te eis. Studentelewe gaan verdwyn; koshuise se name gaan verander; en tradisies gaan sneuwel. Meer sentralisering kom. Dié resep is al by ander universiteite getoets.

Radikale transformasie gaan die kodewoord word.

Die slegte nuus vir u is dat die Balfours, al praat hulle Engels, sal moet gaan. Die krokodil wat u voer, gaan u eet. Dit geld ook vir die Van Rensburgs, die Verhoefs, die Venters, die Van der Walts en vir andere. Jy kan meedoen of paai, maar die krokodil se lus is onversadigbaar.

U mag dalk opreg glo dat die NWU ’n gladde oorgang van Afrikaans na Engels gaan maak. Dit is net die taal wat verander. Studente gaan toegerus word vir die wêreld daarbuite en dit deur Engels, die wêreldtaal.

Dit is egter nie net die taal op die hek wat verander nie. Wat gaan verander, is waardes, etiek en kultuur. Die waardes wat by so ’n gedekoloniseerde universiteit oorgedra word waar laboratoriums en biblioteke brand as studente nie hul sin kry nie, is nie die waardes wat studente eendag in die wêreld daarbuite suksesvol sal maak nie.

Professor, u blaas ’n vuur aan sonder om te besef wat deur daardie vuur verteer gaan word.

Ek gaan egter nee sê. Ek gaan in geen onduidelike taal nie, nee sê. Afrikaanse sprekers is moeg vir leuens. Eers het die Grondwet ons beskerm. Toe kom die Kovsie-uitspraak. Kovsies, Tukkies, Maties. Talle beloftes en daar het niks van gekom nie.

Potchefstroom – die laaste plek waar Afrikaans as tersiêre taal in ’n openbare ruimte primêr gebruik word – is al wat oor was.

Nou wil julle dit ook wegneem. Dit plaas Afrikaans op die kampus in die laaste loopgraaf. Iets wat ’n geveg verdien. Dit het nou groter geword as die NWU. Dit gaan nou oor ’n taal wat veg vir die oorlewing van haar hoërorde- akademiese funksie wat oor ’n tydperk van 100 jaar ontwikkel is. Dit is te duur om net te laat gaan en julle het nie die reg om dit te doen nie.

 

Ek gaan nee sê: My kind is my verantwoordelikheid

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het hierdie ope brief aan Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, geskryf as deel van sy kommentaar op die wysigingswetsontwerp op die Skolewet, wat op 13 Oktober deur die onderwysdepartement aangekondig is.

Geagte minister Motshekga

Ek gaan nee sê: My kind is my verantwoordelikheid en daarom wil ek besluit

Ek is net ʼn gewone ouer met vier dogters, almal nog op skool. Soos ʼn gewone ouer is ek, ʼn gewone burger, gefrustreerd oor baie dinge in die land. Soos die meeste gewone mense het ek geduld met baie dinge, maar oor iets wat my kinders raak, is ek, soos ander gewone ouers, buitengewoon ongeduldig. Kom ek stel dit anders: dit maak my woedend as iemand my kinders benadeel.

Die voorgestelde wysigings aan die Wet op Basiese Onderwys wil van my kinders staatsobjekte maak, onderdanig aan ʼn staatsideologie. Die idee krap waar nie gekrap moet word nie; dit krap in my hart. Die nuwe wysigings verander openbare skole in staatskole. Die staat sprei sy tentakels in my huis in en ontneem net eenvoudig ouers die reg om deur hul beheerliggame besluite te neem.

Ek is ʼn demokratiese burger, nie ʼn staatsonderdaan nie. Ek wil ʼn sê hê oor my lewe tot op die laagste vlak. Dit geld nog soveel meer vir my kinders.

Skole is mikro-demokrasieë. Dit is plekke waarheen ouers hul kinders neem om onderrig te ontvang en opgevoed te word. Hulle neem saam verantwoordelikheid vir hul kinders en verkies beheerliggame wat oor die skole moet “regeer”.

Die staat wil die demokrasie van skole wegneem en vervang met staatsdiktatorskap. Om ʼn meer bekende begrip te gebruik: die staat wil die skole kaap.

Deur die nuwe wysigings wil die staat besluit oor toelatings, oor taal, oor skoolkapasiteit en oor aanstelling van onderwysers. Die departement kan besluit oor klasgroottes en taalsamestelling. Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, het vandeesweek oor die radio gesê daar is nie plek vir Afrikaanse skole nie. Sy doel is om klasse te vergroot tot 60 of 70 kinders, in teenstelling met konsensus wêreldwyd dat kleiner klasse tot beter onderrig lei, veral op skoolvlak. ʼn Klaskamer met 70 kinders gaan net lei tot ʼn oorwerkte onderwyser wat swak onderrig aan 70 kinders gee. Uitnemendheid word ingeboet vir inklusiwiteit.

Met alle respek, die probleem is nie skole wat uitsluit nie, maar te min skole. Die oplossings wat voorgestel word, is ʼn klag teen die staat se onvermoë om nuwe skole te bou.

Ander voorgestelde wysigings is dat die onderwysdepartement skole kan dwing om fasiliteite met ander skole te deel. Die hoof van die departement kry die mag om beheerliggame eensydig te ontbind. Skoolfasiliteite wat deur ouers onderhou en verbeter word, moet gratis aan die departement beskikbaar gestel word.

Aanstellings van onderwysers moet streng volgens regstellende aksie en rasverteenwoordiging geskied. Onderwysers moet selfs verslag doen oor hul eie en hul huweliksmaat se finansies. Alle skryfbehoeftes en studiemateriaal moet sentraal verkry en versprei word.

Minister, u wil dus die seggenskap van ouers om te besluit oor die huishoudelike sake van die skool wegneem. Skoolgemeenskappe gaan van hul skole vervreem word, want hulle het nie meer inspraak nie.

Die staat word al swakker, maar die regering wil meer regeer. Die wetgewing gaan goeie skole in slegte skole, en slegte skole in nagmerries verander.

Deur die wysigings word die staat nie méér demokraties nie, maar minder demokraties. Suid-Afrika word só ʼn staatsdiktatuur. Dit is ʼn verloor-verloor-verloor-scenario.

Voor 10 November moet Suid-Afrikaners kommentaar op die wysigings lewer. Ek, soos tienduisende ander ouers, gaan nee sê. Ek gaan nee sê vir skoolkaping deur die staat. Ek gaan nee sê vir die staat se planne om openbare skole in staatskole te omskep.

My kind is mý verantwoordelikheid en daarom wil ék besluit. Los my kinders uit!

 

Ek is moeg vir rasboelies

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, skryf vir Tumi Morake van Jacaranda FM:

Beste Tumi

Ek is wit en moeg daarvoor om op grond van my ras geboelie te word. Ras is nie my primêre identiteit nie, maar ek word kort-kort in ʼn posisie geplaas waar ek dit moet verdedig. Ek, en waarskynlik jy ook, smag daarna dat ons verby ras moet kom.

Ongelukkig is dit deesdae mode om wit mense te boelie. Al die probleme het begin toe Jan van Riebeeck (hoor wit mense) hier aangekom het. Wit “boytjies” moet hulle gedra. Wit mense moenie geslag word nie, in elk geval nie nou nie. Wit mense is vreemdelinge in die land, kolonialiste van ʼn spesiale aard. Met wittes moet gedoen word wat Hitler met die Jode gedoen het. Ons moet selfs met bazookas geskiet word. Al hierdie dinge is deur politici en mense in leiersposisies gesê. Boelies met gesag.

Hierdie rasseboeliegedrag is in die openbare diskoers aanvaarbaar. Dis só aanvaarbaar dit haal nie eens die nuus nie.

Wit mense moet tog so versigtig wees wat hulle sê. Hulle moet op oordrewe wyse wys hulle is nie rassisties nie, maar die rasboelies gaan net voort.

Laat ʼn wit mens nou waag om te verbrou, dan is dit op al wat ʼn voorblad is. Dit kan net kleinskaalse brouwerk wees soos in die gerekende ekonoom Chris Hart se geval, dan is jy weg.

Wit mense word in die werkplek geboelie. Valse klagtes van rassisme vernietig loopbane. Ons is steeds besig met die saak van ʼn wit vrou wat daarvan beskuldig is dat sy die k-woord gebruik het nadat sy swart kollegas dissiplinêr aangekla het. Daar is later erken dat die klagte teen haar vals was en versin is om uit die moeilikheid te kom. Sy is nogtans verplaas.

Spanningsvlakke loop hoog. Sielkundiges spesialiseer in depressie onder wit mense as gevolg van vervreemding in die werkplek. In my eie doktorale studie was ek geskok om te sien hoe hoog wit mense se vervreemdingsvlakke is.

Vervreemding lei daartoe dat wit mense magteloos voel. Hulle is ín ʼn situasie, maar nie déél daarvan nie. Hulle begin betekenisloos voel. Maatskappye word selfs gestraf omdat wit mense daar is. Veral in die werkplek voel hulle geïsoleer en uiteindelik begin hulle van hulself vervreemd raak, wat tot vlakke van depressie lei. Wat die spanning opjaag, is dat die moraliteit van die dag hulle nie toelaat om te sê hoe hulle voel nie.

Ten spyte van dié gevoelens bly wit mense lojaal aan die land, hulle presteer goed, wil hier bly en, volgens die Instituut van Rasseverhoudinge, is gevoelens van rassisme oor die algemeen, ook onder swart Suid-Afrikaners, baie laag. Tussenras-verhoudinge is oor die algemeen in die daaglikse omgang van mense nie sleg nie.

Natuurlik is daar swart mense wat ook op verskeie vlakke en as gevolg van verskeie redes vervreemd voel. Dit is ʼn werklikheid, maar dit maak nie die gevoel wat wit mense beleef, ongedaan nie. Albei groepe moet daaroor kan praat en dit deel.

Die vervreemding van wit mense is deel van my werk. Ek word elke dag daarmee gekonfronteer. Ek is nie deel van die media-elite of die liberale wit elite nie, maar ek is gereeld op fabrieksvloere, by mynskagte en tussen personeel by universiteite.

Gewone wit werknemers beleef boeliegedrag elke dag, maar dit is nie deel van die openbare diskoers nie – dis hoogstens deel van die braaivleisdiskoers.

Dit is ’n diskoers waarvan jy nie weet nie want die politiek korrekte hoofstroom het die morele stilswye van die verlede daarop gelê.

Soms borrel dit uit en dan vra die korrektes: “Waar kom dit vandaan?” Tumi, dit is wat op die oomblik met jou gebeur. Jy het ’n naald in ’n sweer gedruk. Jy verstaan dit nie want dit word weggesteek.

ʼn Deel van die sweer se negatiewe kant borrel op sosiale media uit. Daar is ongelukkig mense wat ras met ras wil beveg, maar die oorgrote meerderheid is gewone, goeie mense wat gefrustreerd is, maar hier wil bly, wil werk, ʼn bydrae wil lewer en goed met ander rassegroepe oor die weg wil kom.

Wit mense probeer om op verskeie plekke te ontsnap. Een so ʼn veilige plek is hul motors. Dit is hul plek. Van hulle luister na musiek oor radiostasies soos Jacaranda FM. Ten spyte van die verkeer is dit tog ’n plek waar hulle rustig kan wees, na musiek kan luister met omroepers wat die atmosfeer fasiliteer.

Wat het jy toe gedoen? Jy dring hul veilige plek binne en wys hulle tereg. Jy gebruik die analoog van die boelie (hoor wit mense) wat die fiets met geweld by die maatjie (hoor swart mense) afgevat het. Die maatjies hoor dan hulle moet nou die fiets deel. Die maatjie by wie die fiets weggevat is, voel daar was nie vergelding nie, want die boelie is nie gestraf nie. Boonop is die boelie nog beloon ook, want hy mag steeds met die fiets speel.

Is jy verbaas dat ʼn deel van jou lojale luisteraars woedend is? Hulle is ontnugter oor hul radiostasie wat hulle in hul veilige plek toegelaat het. Hulle word orals gebombardeer; hulle wil nie in hul motors ook op die vingers getik word nie.

Kortom, jy sê wit mense het wat hulle het omdat hulle dit met geweld gevat het; daar moes eintlik vergelding gewees het; hulle moes eintlik gestraf gewees het; en wat hulle het, moes eintlik van hulle weggeneem gewees het. Wit mense moet dus eintlik dankbaar wees.

Jy gaan selfs verder en sê jy haat dit dat jy om verskoning moet vra en moet verduidelik omdat jy pro-swart is. Jy praat van jou mense is “the people of the soil”. Wit mense is nie jou mense nie en daarmee impliseer jy hulle is nie deel van “the soil” nie. Jy sê eintlik dat wit mense kolonialiste is.

Jou hele gevoel was: “Bly tog net stil, julle was ʼn klomp onderdrukkers. Julle het eintlik jul regte verloor en is vreemdelinge wat dankbaar moet wees dat julle dit gegun word om hier te wees.”

Daar is wel ʼn probleem, want dit is nie net “jou” mense wat na jou luister nie. Dis Jacaranda FM-mense wat na Jacaranda FM luister. Volgens jou is wit mense nie jou mense nie, maar hulle is jou luisteraars.

Ironies genoeg gebruik jy die analogie van ’n boelie om van ’n platform wat jou ’n sekere mate van mag gee, te boelie. Jy het jou platform misbruik. Dit gaan nie daaroor dat jy jou gevoelens uitgespreek het nie; inteendeel, ek wil hê ons moet meer en openliker praat. Dit gaan egter wel daaroor waarvandaan en vanaf watter platform jy hierdie uitsprake maak.

Tumi, jy sê jy het kinders wat nog in dié land moet grootword. Ek het ook kinders. Hulle moet ook nog in hierdie land grootword. My kinders is die elfde geslag in Suid-Afrika. Ons sien onsself as van Afrika-grond. My taal en identiteit het in Afrika ontwikkel. Ons het nie as Afrikaners in Suid-Afrika aangeland nie; ons het dit hier geword. Ons het nêrens om heen te gaan nie en ons wil nêrens heen gaan nie.

Ons gaan net hier bou en bly, maar ons gaan nie stilbly nie.

In die afgelope week het die Instituut van Rasseaangeleenthede ʼn verslag uitgebring wat wys dat die absolute oorweldigende meerderheid Suid-Afrikaners voel hulle het mekaar nodig. Ek is een van daardie mense. Dalk moet ons die debat in Suid-Afrika skuif na wedersydse erkenning en respek sodat ons kinders vry en veilig op hulle fietsies kan ry. Daardie debat begin by jou en my.

Groete

Dirk Hermann

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.