Beste Wieookal,
Ek weet dat jy Afrikaans praat, ek weet ook Afrikaans is nie ʼn witmanstaal nie, ek weet ook van die wonderlike invloed van almal op ons taal. Ek weet van ʼn verskeidenheid taaldialekte, aksente, idiome en sêgoed. Ek weet jy’s bruin, jy weet ek’s wit. Ek weet jy was tóé te swart en nóú te wit, en ek moet glo nou skaam wees oor my ‘witgeit’. Ek weet alle wittes wat Afrikaans praat is ook nie dieselfde. Party is van die Noorde en ander van die Suide en ander sommer net anders. Party het getrek en ander het gebly. Ek skryf sommer vir julle almal.
Ek weet al die goed, maar wie is jy? Ek weet nie waar jy vandaan kom nie, ek weet nie wat jou gebruike is nie.
Kortweg, ek ken nie jou storie nie.
Ons stories het verdrink in taal en rasdebatte. Die debatte is bruin, wit en Afrikaans, maar ons stories is baie dieper as dit. Ek het ʼn noordelike-Afrikanerstorie; Tannie Nora is bruin, maar is ʼn nooi van Graaff Reinet; Hans du Plessis skryf Griekwapsalms; Hendrik-Thys het ʼn Khoi-Sanstorie; Oom Waterboer moet sy Griekwastorie vertel; die Nels het ʼn Richterveldstorie; ander is suidelike-Afrikaners of sendeling-Afrikaners; ander het slawestories; stories met Maleisiese wortels en so kan ek aangaan… Waarskynlik ken ek nie eers jou storie se naam nie.
In hierdie skrywe wil ek jou vra om jou storie vir my te vertel. Vertel vir my, wie is jy?
Ek wil nie hê jy moet ek word of ek moet jy word nie, maar ek wil hê ons moet mekaar verstaan. Daar lê ʼn ‘ons’ in bloot verstaan.
Kom ek vertel vir jou my storie.
Ek is van Afrika.
Ek is deel van, soos president Zuma ons noem, die wit stam van Afrika. Ek het nie twee paspoorte nie.
My taal is Afrikaans en ek is ʼn Afrikaner; my mense het hulle taal en hulleself na Afrika vernoem. My eerste voorvader, Hans, het in 1657 in Suid-Afrika aangekom.
Hans was ʼn jaar later ʼn vryburger en het sy rug op Europa gedraai en sy gesig na Afrika. Hy is deur ʼn leeu doodgebyt, wat wys ons storie is ʼn harde Afrika-storie.
My mense was deel van die Groot Trek – eers na Natal en vandaar oor die Drakensberge na die Transvaal. Ons mense is gedryf deur vryheid.
My voorouers was deel van die eerste volk in Afrika wat ʼn koloniale moondheid in ʼn oorlog verslaan het. My oupagrootjie, Marthinus Nicolaas Ras, het saam met sy mede-Boere die Engelse op Majuba verslaan.
Talle grafte van my mense, die gevolg van gevegte vir ʼn plek in Afrika, lê regdeur Suid-Afrika versprei.
My oupagrootjie was ʼn banneling in Bermuda en my oumagrootjie is as gevolg van die ontberings in ʼn konsentrasiekamp dood. My ouma het as kind die konsentrasiekamp oorleef, maar haar boetie is dood.
My ouma se pa is dood tydens die Groot Griep van 1918 en haar ma was ʼn bediende wat wasgoed gewas het. My ouers is produkte van die Depressie en het ʼn obsessie gehad om uit hulle omstandighede te ontsnap.
My pa is nou nog baie bewus van wat die Engelse aan sy ma, oupa en ouma gedoen het. Republiekwording was die finale oorwinning oor die Engelse. Die swart vraagstuk was baie laer op sy agenda as die stryd teen die Engelse.
My pa was ook ʼn kind van apartheid, maar hy’s geen krimineel nie. Ek is trots op my pa en trots op wat hy bereik het. Ek dink sy en my familie se storie van opstaan is merkwaardig en moenie verswyg word nie.
Ek het begrip vir die apartheidskonteks waarbinne my pa-hulle geleef het en ek is trots op my geskiedenis en erken die goed en die kwaad.
Ek is opreg jammer oor dit wat fout geloop het in my verlede, maar dit trek nie ʼn lyn deur my geskiedenis nie, en veral nie deur my toekoms nie. Ek glo aan berou en vergifnis en vorentoe gaan.
Ek hou van Suid-Afrika. Ek hou van die natuur, die klimaat, die oop omgewing en die vriendelike mense. Ek hou van tipiese Afrikaanse humor en lag vir Suid-Afrikaanse grappe.
Ek hou daarvan om hier te kampeer, te braai, te kuier en vakansie te hou. Ek skreeu graag vir ʼn Suid-Afrikaanse rugbyspan en is deel van ʼn unieke rugby- en sportkultuur. Ek hou van blatjang, biltong, braaivleis en potjiekos.
Ek hou daarvan om hier kerk toe te gaan en God in my taal te aanbid en te besing. Tussen die mense waar ek leef, is dit nie vreemd om ʼn Christen te wees nie. Ek glo my roeping is hier in Suid-Afrika.
Ek is ʼn Christen en in Christus is ek vry. Ek glo aan hoop in Christus en die sekerheid van sy toekomsbelofte.
Ek kan my taal, Afrikaans – ʼn inheemse Afrika-taal – hier gebruik en uitleef. Ek is mal oor Afrikaanse musiek en is trots op die Afrikaanse letterkundeskatkis. Ek wil hê my kinders en kleinkinders moet in hulle moedertaal onderrig word.
Ek wil nie emigreer nie; ek wil ter wille van my, my familie en my gemeenskap hier in Afrika en, in besonder, in Suid-Afrika bly. My agterdeur is toe; ek gaan nêrens heen nie. Die grootste daad van politieke protes is waarskynlik om te sê: “Weggaan is nie ’n opsie nie. Ek is van Afrika.”
Omdat ek nêrens heen gaan nie, het ek geen alternatief as om vir my ʼn demokratiese ruimte in Suid-Afrika oop te kap nie. Ek steek my hand uit na ander Suid-Afrikaners om ʼn toekoms hier te skep.
Ek is ʼn pa en baie lief vir my dogters en vrou. Dit is vir hulle wat ek my arms sal stomp baklei vir ʼn veilige ruimte in Suid-Afrika.
Dit is ek. Wie is jy?