(Hierdie toespraak is in September 2009 gedurende ‘n Predikante Ontbyt gelewer)
Padkaart
- Globale makro-neigings en religie
- Die Groot prentjie van makro veranderings in Suid-Afrika
- Belangrikste uitkomste van veranderings in SA (Gesin)
- Ons Gereformeerde Erfenis
- Globale makro-neigings en religie
’n Groot deel van die Westerse intellektuele elite glo nou al vir geslagte lank vas dat geloof geleidelik sal verdwyn in ’n onkeerbare proses van sekularisasie of verwêreldliking. Modernisering sou volgens hierdie siening lei tot die einde van geloof. Hierdie onwrikbare geloof in ongeloof spruit uit ’n oortuiging dat geloof ’n byproduk van agterlikheid is, en dat geloof sal kwyn namate kennis, opvoeding, demokrasie en welvaart oor die aardbol versprei. Hierdie mening het wye steun geniet – vanaf die Marxiste tot die denkers van die Verligting.
Hulle het geglo dat namate mense toenemend deur wetenskaplike kennis gevorm sou word, geloof in ’n Almagtige Godheid gaandeweg vervang sou word deur ’n geloof in die mens en sy vermoë om self ’n hemel op aarde te skep. Godsdiens sou uit die openbare arena verdwyn, en hoogstens ‘n randverskynsel word wat in privaat huishoudings beoefen word.
Die verwoestende “godsdiensoorloë” van die ou Europa was ’n mengsel van godsdienstige onverdraagsaamheid, politieke magstryd en gevegte om beheer van mense, grond en hulpbronne. Dit het die sekulêre wensdenkers laat glo dat, namate geloof verdwyn, die wêreld ook ’n veiliger plek sou word.
Die liberale en sosialistiese vryheidsoorloë teen outoritêre koningshuise was daarom meermale ook gesien as ’n stryd teen godsdiens se “onderdrukking” van die mens se vryheid en sy reg om vir homself ’n aardse paradys te skep. Godsdiens is gesien as die “opium van die volk” wat die massas onderdanig aan hul verdrukkers gehou het.
Daarteenoor het revolusionêre bewegings ook die geloof en die kerke ingespan om hulle waens deur die politieke driwwe te trek. Dink maar aan die teologie van die revolusie wat vir ’n lang tyd die godsdienstige wêreld tot die ondersteuning van wapengeweld gedryf het.
Dit is inderdaad so dat modernisering ’n belangrike rol gespeel het in die Europese oorgang na ’n post-Christelike era. Ná die Wêreldoorloë het miljoene mense begin glo dat God dood is en dat die sg “almagtige” welsynstaat of werkersparadys sy plek ingeneem het. Maar tot die sekulêre wensdenkers se ontnugtering het dit algaande duidelik geword dat politieke “geloofsbewegings” net tydelik die plek van die kerke ingeneem het.
Hierdie ideologiese bewegings het gestreef na ’n aardse hemel en het baie van die sielkundige en sosiale funksies van geloofsbewegings aangeneem. Vir ’n wyle het veral kommunisme betekenis gegee aan die lewens van miljoene mense wat hul drome van hemel op aarde geglo het. Ná die val van die kommunisme was miljoene Westerlinge baie verlig dat hul Europese demokratiese welsynshemel, of Amerikaanse kapitalistiese utopie nog steeds volstoom sake gaan doen. Hulle het God nie meer nodig gehad nie, want die staatsgod of geldgod sou nou vir hulle kon sorg. Die top Amerikaanse skrywer Francis Fukuyama, het na die val van die muur in ekstase in sy boek “The End of History” aangekondig dat die historiese konflik tussen ideologieë nou finaal beslis is in die guns van die “goue tweeling”, Westerse demokrasie en kapitalisme. Volgens hom het minagtende Marxiste en ongeduldige liberales op godsdiens neergesien as ‘n oudmodiese swakheid. Die Economist se jaar 2000 uitgawe het selfs ‘n “Grafskrif” geskryf waarin God se “einde” saam met die ou eeu voorspel is. ‘n Goue era van vrede en voorspoed sonder ideologiese verdelingslyne is voorspel.
Hierdie ideologiese verwaandheid het uiteindelik gelei tot ’n tipe sekulêre fundamentalisme, gekenmerk deur ’n onverdraagsaamheid teenoor geloof of gelowiges. Hul geloof in menslike saligheid deur ongeloof, het meermale gelei tot die intellektuele vervolging van gelowiges en die bespotting van die geloof in die massamedia. Die militante geloof van talle sekulêre Westerlinge in hul (ongelowige) lewenswyse het bygedra tot onbedoelde gevolge soos die opkoms van militante Islam.
IN die derde wêreld het dit nie anders gegaan nie. Die stryd teen kolonialisme was meestal ook ‘n stryd vir sekulêre modernisasie. Afrika se nuwe regeerders het die Sendingskole genasionaliseer en godsdiens saam met etnisiteit weggewens as struikelblokke vir ontwikkeling. Maar teen die einde van die sewentigers was daar ‘n godsdienstige teenrewolusie aan die gang.
Maar die wêreld het nie stilgestaan nie. Geleerdes soos Harvard Universiteit se Sameul Huntington het reeds in 1993 in sy “Clash of Civilizations” die nuwe wêreldera na die tydperk van die groot ideologieë uitgespel. Volgens hom het 7 of 8 “beskawingsblokke” wat grootliks religieus baseer was, die plek van die groot ideologieë ingeneem. Mense sou nie meer gedefinieer word op grond van die ideologie waaraan hulle glo nie, maar volgens wat hulle is- hulle kultuur of religie. Die 8 is: Westerse Christendom, Islam, Ortodoks, Japans, Afrika, Chinees, Hindu, en Suid-Amerika.
Die nuwe verdeling- en groeperingslyne sou volgens Huntington die raakpunte tussen hierdie beskawings wees, soos Sarajewo waar die Islam, Christendom en die Ortodokse Christendom by mekaar aansluit. Waar Huntington vir ‘n paar jaar geweldig aangeval en selfs belaglik gemaak is, het sy globale denkraamwerk meer en meer geloofwaardigheid bygekry namate die nuwe wêreld na die val van die muur beslag gekry het.
Met die val van polities-utopiese gelowe soos die kommunisme, het miljoene mense begin terugkeer na hul tradisionele godsdiens, in baie gevalle ongelukkig na ekstreme vorme daarvan. Die vraag is wat gaan die gevolge wees van die ekonomiese krisis wat stormsterkte-afmetings in die Weste aangeneem het? Gaan dit ’n ekonomiese krisis bly of gaan dit gevolge inhou vir die ongelowige Westerlinge se vertroue in hul eie hemel op aarde? Gaan dit ook, soos in ander wêrelddele, lei tot ’n terugkeer na die evangelie van Jesus Christus noudat mensgemaakte afgode nie meer reën maak nie? Gaan die post-Christelike Europa agterkom dat hulle geloof in ongeloof toe al die tyd ‘n bygeloof was? Mag dit gebeur dat Europa weer die ware God ontdek met die besef dat sekulêre ideologieë mensgemaak is en dat hulle geloof in die Welsynstaat op sand gebou was.
Die feit is dat waar religie in die twintigste eeu as ‘n faktor in wêreldbesluite afgeskryf is, meen invloedryke tydskrifte soos die Economist dat religie in die nuwe eeu ‘n sentrale rol gaan speel, gedryf deur dit wat dit eintlik moes vernietig, soos Globalisering, die Inligtingsrewolusie en modernisering. Buite Wes-Europa het religie ‘n sterk terugkeer na die openbare terrein gemaak. In die VSA is dit veral die Protestantse Christendom wat aan die opkom is. ‘n Islamitiese party regeer vandag die tradisioneel sekulêre Turkye. In Indië het ‘n Hindu-gesinde party oorgeneem. As mens na die huidige neigings kyk, gaan China mettertyd die grootste Christen én Moslem land ter wêreld word. In Rusland het die geheime polisie ‘n Ortodokse kerk oorkant hulle hoofkwartier opgerig, nadat die KGB lank die kerk beveg het.
Dit is volgens die Economist ook insiggewend dat die “selftwyfel” weergawe van godsdiens nie vordering maak nie, maar veel eerder die wat hulle beskou as die fundamentalistiese weergawes daarvan. Dit lyk of diegene wat nie meer die waarheid suiwer en reguit stel nie maar alles relativeer en verwater, juis hulle volgelinge verloor. As die Duitse priester self nie meer glo nie, hoe kan hy verwag dat die bevolking nog sal glo?
Maar die heropkoms van godsdiens vertel nie die hele verhaal nie. Behalwe dat dit ongelukkig nie net die Christendom is wat groei nie maar valse godsdienste ook, skep die herlewing ook ‘n militante teenreaksie. Is dit nie maar ook waarmee ons tans in Suid-Afrika ook te doen kry nie? ‘n Mens kan nie vandag byna nie meer ‘n Afrikaanse koerant oopmaak sonder om ‘n aanval op die Christendom te moet aanskou nie. Dit lyk byna of daar ‘n samespanning is tussen die joernalistieke elite, heidense wetenskaplikes, Bybel- betwyfelende godsdiens departemente by sommige universiteite, en skrywers en digters wat mekaar vertrap om uit die kas uit te klim.
Die punt wat ek wil maak is dat die wêreld besig is om te verander, en dat ons as Christen Gereformeerdes sterk en vol moed moet wees, in die wete dat God Almagtig is en dat ons die roeping het om Sy Woord en Sy Waarheid te versprei. My vraag is of ons hierdie roeping nakom, of ons Die Lig laat skyn en of ons nie soms agter die veiligheid van ons kerkmure teen die wêreld skuil in plaas van om hulle te bekeer en evangeliseer nie?
- Die Groot prentjie van makro veranderings in Suid-Afrika
Dit is ongelukkig so dat die Suid-Afrikaanse staat oor die afgelope dekade geweldig verswak het terwyl die probleme waarvoor ons land te staan kom baie vergroot het. Dit is dus ‘n slegte kombinasie van groter probleme wat met ‘n kleiner vermoë aangepak moet word. Die verswakking van feitlik al die sleutel instellings van ons staat het meegebring dat die staat nie meer sy kernfunksie soos die beskerming van sy burgers kan uitvoer nie. Daarbenewens het baie ander instellings al so verswak dat daar landswyd opstande oor swak dienslewering uitgebreek het. Ons openbare skole en opleidings kolleges, hospitale, munisipaliteite, en veiligheidsdienste het dramaties verswak, sonder ‘n geloofwaardige vooruitsig op verbetering, en met die vooruitsig van versnelde verswakking nie uitgesluit nie. Hiermee is ek nie pessimisties nie. My bekommernis spruit uit die feit dat die oorsake van die verswakking so ‘n sentrale deel van die regerende party se ideologie en beleid is dat hulle dit nie sal kan verander nie. Ons minister van Arbeid sien nie in dat sy Transformasiebeleid ‘n groot deel van die skuld vir die bykans rewolusionêre gees onder die arm massas moet kry nie, en dreig inteendeel die privaatsektor met optrede omdat hulle gebrek aan sy transformasie model rewolusie sou veroorsaak.
Daarby het die demografiese omwenteling in die land agv die onbeheerste immigrasie van ongeskooldes en die emigrasie van hoogs geskooldes groot gevolge vir die land wat nog so nuut is dat dit nog glad nie deur beleidmakers (staat en burgerlik) verreken is nie.
Die politieke en grondwetlike stelsel het ook verwagtings geskep waaraan die ekonomie nie aan kan voldoen nie, omdat 10% belasting betalers net nie vir almal kan sorg nie. Benewens die groter en groter las wat die produktiewe deel van die bevolking opgelê word, kry hulle ook bitter min vir hulle belasting geld, en moet hulle ten duurste vir privaat dienste betaal nadat hulle van die hoogste netto belasting in die wêreld betaal het. Dit is die belangrikste drywers van verarming in die wit gemeenskap, wat oa gesien kan word in die krimpende geskooldheid van hierdie groep wat op die langer termyn ook groot gevolge gaan hê. Dit ten spyte van die wit hoër middelklas se goeie ekonomiese aanpassing by die nuwe bedeling, ten spyte van die omwentelings.
Die groot jammerte van die groot Suid-Afrikaanse oorgang was dat die meeste van die Afrikaner se burgerlike instellings nie die politieke grondverskuiwing oorleef het nie. Vir die meeste mense was vangnette of sagte landings nie moontlik nie, en is dit ‘n belangrike deel van die verklaring van die reuse emigrasie na ander lande. Mense voel eenvoudig dat die land se staatsinstellings verswak en selfs kan verval, dat daar nie alternatiewe gemeenskap- instellings is nie, en dat daar dus nie vir hulle of hul kinders ‘n toekoms is nie. Die winsgedrewe privaatinstellings soos mediese fondse, privaat sekuriteit, ommuurde dorpe en privaat opleiding raak vir baie net te duur.
Ons sukkel vandag steeds om sterk burgerlike instellings met uitvoerende vermoë te skep, deels moontlik omdat die Afrikaner die slagoffer van sy eie suksesvolle modernisering was. Dié wat welvarend geword het op die golf van die vorige geslag se kollektiewe pogings om hulle gemeenskap ekonomies, polities en kultureel te bemagtig, het ‘n roepingsbesef teenoor hul gemeenskap vir individuele welvaart verruil. Hulle probeer sekerheid met hul geld koop.
Die Gereformeerde Kerke sal dus in die toekoms hulle rol moet speel in ‘n verswakkende Suid-Afrika waar net die welvarendes op die medium termyn nog gehalte dienste sal kan bekostig, in ‘n omgewing waar die markekonomie en sy instellings onder ál groter linkse druk gaan kom, en waar baie welvarende lidmate en –individue bloot na hulleself gaan omsien.
Die vraag is wat die kerk se rol in so ’n toekoms gaan wees?
- Gevolge van die Suid-Afrikaanse omwenteling
Dit lei nie twyfel dat daar in die SA omwenteling sekere wenners, maar ongelukkig ook sekere verloorders was nie. (Prof Pierre du Toit). Die wenners was oa die nuwe politieke en burokraties elite (op alle regeringsvlakke), die nuwe ekonomiese magnate en die opkomende swart middelklas, en diegene wat deur regstellende aksie bevoordeel is. Verder is die meer as 12 miljoen ontvangers van maatskaplike toelaes ook beter daaraan toe.
Daarby kom daar die 250 000 huishoudings met suksesvolle grondeise, die sowat 3 miljoen nuwe huiseienaars, en die miljoene wat groter toegang tot dienste gekry het.
Van die verloorders is wit mans, almal wat deur geweld getref is (310 000 dood en 700 000 verkrag en hulle gesinne), gesinne en families wat deur emigrasie geraak is, die 2,5 miljoen wat sedert 1994 aan Vigs gesterf het, en die miljoene wat steeds arm is of voel dat hulle nie genoeg by die demokratiese veranderings gebaat het nie.
By verre die belangrikste kategorie van verloorders in die nuwe Suid-Afrika is egter die kinders. Onlangse navorsing deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasse-Aangeleenthede (South African Institute of Race Relations) het daarop gewys dat die meeste Suid-Afrikaanse huisgesinne onderhewig is aan intense kragte van sosiale ontwrigting, met meetbare gevolge in die vorm van gesinsverbrokkeling, –aftakeling en -verval. Die omvang hiervan word kortliks geskets.
In 2007 (die jaar waarna meeste van die volgende demografiese data verwys) is nagenoeg 3 679 000 kinders wees, hetsy met die sterfte van een of albei ouers. Dit kom neer op ongeveer een uit elke vyf kinders. Hierdie is ‘n stygende tendens, gesien die syfer van 2002 toe (slegs) 2 995 000 kinders wees was. ‘n Stygende aantal van hierdie weeskinders verkry verdere versorging in omstandighede waar kinders (gedefinieer as 17 jaar en jonger) hoofde van huishoudings is. Die aantal sulke huishoudings het met 25% vanaf 118 000 in 2002 tot 148 000 in 2007 gestyg.
Benewens kinders wat ouers verloor het deur sterftes, is daar ook huishoudings waar vaders wel lewe, maar wat hulle gesinne verlaat het. Hierdie is ook ‘n stygende tendens in alle rassegroepe, behalwe die Indiër-bevolking, waar dit van 11% in 1993 tot 8% in 2002 gedaal het. Onder swart/African gesinne het die persentasie afwesige vaders van 40% in 1993 tot 50% in 2002 gestyg, onder witmense vanaf 8% tot 11% in dieselfde jare, en bruines vanaf 32% tot 37% oor dieselfde tydperk.
‘n Verdere krag van verbrokkeling is egskeidings, waar die hoogste koers onder die wit bevolking is, en die laagste onder die swart/African bevolking is. ‘n Laaste aspek van hierdie proses van sosiale verval is te vinde in die stygende patroon van enkelouerskap waar kinders gebore word buite familieverband en tienerswanger-skappe en -geboortes. Die kumulatiewe effek van hierdie kragte is dat slegs een derde van alle Suid-Afrikaanse kinders groot word in huishoudings saam met albei hulle ouers. Vier uit elke tien leef saam met net hulle ma, en bykans een uit elke vier (23%) leef sonder enige ouer, met ‘n skrale 3% wat groot word saam met net hulle pa. [1]
Bogenoemde beskrywing skets die buitelyne van ‘n nasionale krisis, wat verdiep het vanaf 2002. Die sosiale omgewing van meeste kinders in Suid-Afrika is die produk van diepgaande sosiale ontwrigting. Persoonlike faktore speel ‘n groot rol hierin, (soos in die geval van egskeidings), maar daar is groter sosiale kragte wat ook hierby betrek is. Geweldsmisdaad, gemeet aan moord, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede is ter sprake. Die verlies aan lewens deur VIGS en tuberkulose, saam met ander noodlottige siektes is ter sake. Albei hierdie kragte is vervleg in die bykomende konteks skeppende werking van armoede en ongelykheid, werkloosheid, swak onderwys en korrupsie in die aanwending van openbare fondse vir lewering van maatskaplike dienste.
Bogenoemde paragraaf omskryf die kroniese sindroom van onderontwikkeling waarin baie Suid-Afrikaners verval is. Hierdie sindroom se oorsprong kan nog een stap verder terug gevind word. Die effektiewe bekamping van VIGS, tuberkulose en ander potensieël noodlottige siektes berus onder andere by effektiewe staatsdepartemente vir die lewering van openbare gesondheidsdienste. So ook is die bekamping van misdaad terug herleibaar na ‘n effektiewe kriminele regstelsel, vanaf die polisiëring dienste tot die howe en tronke. Armoede, werkloosheid en ongelykheid is die verantwoordelikheid van die regering van die dag, wat die opvoedkundige stelsel en die nasionale ekonomie moet bestuur om beide die skep van rykdom en die herverdeling daarvan te bevorder. Kortom, ‘n sterk en effektiewe staat word benodig. Maar, soos in die boek van Pottinger deegliks uitgewys word, is die nalatenskap van die nege jaar van die Mbeki-bewind juis die teenoorgestelde, die aftakeling van die staat in ‘n proses wat hy beskryf as de-modernisasie.[2]
Eweneens word ‘n sterk burgerlike samelewing benodig. Die staat kan as ‘n aktiewe party lewensomstandighede bevorder vir die behoud en instandhouding van gesinne, soos hierbo aangedui. Maar die staat kan nie mense motiveer om te belê in hulle huwelike nie, en kan nie mans verhoed om weg te loop van hulle vrouens en kinders nie. Sosiale norme, gesetel in kulturele (hoofsaaklik godsdienstige) praktyke en instellings is net so belangrik. Nie net gesinne nie, maar gemeenskappe moet hegter ingebind word, eerder as om uit te rafel en te atomiseer. Dit verg die herskepping van sosiale kapitaal, waar persone mekaar intrek in sosiale netwerke van wedersydse hulpverlening gebaseer op die norme van wederkerigheid, onderlinge vertroue, en gelykheid.
Die politieke implikasies van verbrokkeling van die gesin en die basiese eenheid van sosiale samehorigheid, is belangrik. Alhoewel op die oog af relatief verskuil van die openbare …
Derdens, gegewe bogenoemde, het hierdie krisis nie die potensiaal om Suid-Afrika weer langs dieselfde verdelingslyne soos voor 1994 te polariseer nie. Inteendeel, die kumulatiewe effek van bogenoemde kragte skep die vooruitsig van verbrokkeling eerder as fragmentasie. Die verbrokkeling van gesinne, families, en gemeenskappe is die begin van hierdie proses, waar die basiese eenhede van sosiale orde afgetakel word. Die volgende vlak van verbrokkeling is waar die sosiale samehorigheid en kohesie wat die burgerlike samelewing uitmaak, bedreig word. Dit skep die basis vir die vestiging van nuwe, patologiese plaasvervangende eenhede van sosiale orde in die vorm van misdaad-sindikate en krygshere wat die grense tussen politiek en misdaad berekend aftakel.
Hierdie krisis is ook besig om die demokratiese skikking van 1994 af te takel. ’n Vredesdividend wat oneweredige opbrengste oplewer, sigbare armoede, werkloosheid en die ooglopende en opvallende luukse lewenstyle van die nuwe élites, skep stygende frustrasie by die gewone publiek. Tot onlangs is hierdie frustrasie getemper deur ‘n politieke kultuur onder die regerende party se ondersteuners waar lojaliteit nog beleidsmislukkings troef. Straatpolitiek uit protes teen swak dienslewering het egter sedert 2004 ‘n standhoudende kenmerk van ons politieke landskap geword.[3] Die ongelyke opbrengste van die vredesproses en die demokratiese skikking kom nou tot uiting in hierdie vorm van straatpolitiek juis op ‘n stadium wanneer die mense wat die meeste ontbeer die naaste is aan ontsnapping daaruit. In formele terme is die drempel in 1994, met die demokratiese regstaat gehaal. Die konkrete bereiking van ‘n beter lewe is ook tergend naby. Baie het dit wel reeds bereik. Maar vir dié wat dit nog nie het nie, word die ontbering des te meer pynlik hoe nader hulle aan die drempel kom. Hulle ervaar die persepsie van verlies op ‘n intense manier wanneer iets wat sopas ingepalm is verloor word, en wanneer die bereiking van ‘n doel gedwarsboom word net wanneer dit amper bereik is. Donald L. Horowitz se tweeledige hipotese is hier ter sake: “a grievance is most poignant when it is almost redressed”, en “the impetus for violence to seek a gain increases as the distance from the goal decreases.”[4]
Vir my wys al hierdie bogenoemde dat daar ‘n noodkreet in die land is vir die vestiging en die hervestiging van ‘n Christelik-gereformeerde waardestelsel wat die liefde van Christus na die stukkende gesinne en families moet bring.
- Ons Gereformeerde Erfenis
My gevolgtrekking is dat daar as gevolg van die omwentelings in die wêreld en in ons land ‘n soeke en smagting na die Waarheid is. Dit bied ‘n ongeëwenaarde geleentheid aan ons as Gereformeerdes om ons lig te laat skyn in hierdie duisternis om ons. Maar dan moet ons nie net ‘n interne fokus hê nie, ons moet nie net met onsself besig wees nie, ons moet ‘n sterk eksterne fokus ook hê. Ons mense is soekend. As ons nie vir hulle die antwoorde gaan gee nie, gaan hulle dit op verkeerde plekke soek. Ons kerke word nie voller nie, maar Angus Buchan en Greta Wild se saamtrekke word goed bygewoon. En dan praat ek nie eers van al die ander sogenaamde antwoorde nie.
Ons leef vandag ín ‘n oop geglobaliseerde wêreld, waar die kommunikasie rewolusie dit nie meer moontlik maak om ongewenste inligting te beheer nie. Pornografie en duiwelsdrek is op enige selfoon of rekenaar te kry. In ons verbrokkelde gesinne maak die TV en Rekenaar meermale ons kinders groot, en nie meer die ouers en die Bybel nie.
Vir my as ‘n gewone gelowige kerkganger lyk dit soms of die teoloë die meeste oor die Bybel twyfel, wat die skape geweldig verwar. Dan sit ons ook in Afrikaanse geledere met die golwe van woede wat die wêreld laat losbreek oor die gelowige en sy kerke.
Daarom moet ons in hierdie Calvyn gedenkjaar weer opnuut kyk na ons Erfenis, en dit onbeskaamd en onbeskroomd uitdra met elke middel wat ons kan. Ons moet nie die heeltyd op die verdediging wees nie, ons moet op die “aanval” wees. Ons maak te min van die wonderlike erfenisse van die Protestantse Hervorming. Ons roep nie meer ons mense genoeg op om hulle roepings na te kom nie, ons mag nie toelaat dat die negatiewe feite ons regeer nie, ons moet net op ons opdrag fokus. God is Almagtig. Ons moet nie te klein dink en te min van onsself verwag nie. Wat keer ons byvoorbeeld om ‘n reuse beursfonds op die been te bring om Christelik-Gereformeerde onderwys op alle vlakke en in al sy fasette te bevorder?
Ja, die wêreld is omgekrap, maar as Christen Gereformeerde gelowige voel ek rustig, omdat ek weet dat God regeer. Hy is Almagtig, en Hy beskik oor alles. Ons mag ons nie laat afskrik nie. Mag die Here ons help om ons roepings gehoorsaam na te kom. Kom laat ons sterk en vol moed wees.
Bronne:
[1] John Kane-Berman, “A Risk not Recognised”, Fast Facts, no. 7/2009, July 2009, p. 1; Gail Eddy, “Unhappy Families”, Fast Facts, no. 7/2009, July 2009, pp. 2-3.
[2] Brian Pottinger, The Mbeki Legacy, Cape Town: Zebra Press, 2008.
[3] Doreen Atkinson, “Taking to the streets: has developmental local government failed in South Africa?,” Buhlungu, S. et al., (eds.), State of the Nation, South Africa 2007, Pretoria: HSRC Press, 2007, pp. 53-77.
[4] Donald, L. Horowitz, The Deadly Ethnic Riot, Berkeley: University of California Press, 2001, p. 343.