Afrikaners moet ons plek vind

Inleiding

Dit is soms nodig om ander lande te besoek om perspektief te kry oor wat in jou eie land gebeur. Ons beweging vestig tans ‘n internasionale netwerk om buitelandse steun te werf, en ek het Sondag met die Ethiopiese Lugdiens vanaf Addis Abeba af oor Afrika teruggevlieg. Hierdie lugdiens is tans die grootste in Afrika, brei geweldig vinnig uit, en toon nou al vir jare ‘n standhoudende wins. Ek kon sien hoekom. Die Ethiopiese lugdiens het ‘n puik veiligheidsrekord, spog met ‘n vloot van die nuutste vliegtuie, is spotgoedkoop, en passasiers kry ‘n puik diens. Ek kan hulle sonder voorbehoud aanbeveel bo die Europese lugdienste wat die meeste mense gebruik.

Hoekom sê ek dit? Ek sê dit omdat ek aanvanklik bevooroordeeld teen die Ethiopiese Lugdiens was. Ek erken dit. Hoe kan so klein landjie wat 25 jaar gelede nog deur geweld en hongersnood gestereotipeer is, nou die beste Lugdiens in Afrika hê? Maar hier kom die beste deel. Net voor ons opstyg lees ek dat die Ethiopiërs aanbied om ‘n deel van die sukkelende SAL te koop. Kan u dit glo? 25 jaar gelede was die SAL die beste en grootste lugdiens in Afrika, nou moet ‘n arm land ons help! Maar die nie Ethiopië se enigste prestasie nie. Hulle ekonomie het sedert 1990 per kop met 174.08% toegeneem, teenoor Suid-Afrika se skrale 22.67%! Maar daar’s meer. Onthou u die gruwelike foto’s van verhongerde Ethiopiese kindjies in die droë woestyn? Hulle is nou besig om daardie hele land te vergroen en ontbossing om te keer- vir ure het ek net groen plantasies en landerye onder die vliegtuig gesien. Net in Julie hierdie jaar het hulle 350 miljoen bome binne 12 uur (een dag!) geplant en daardeur die wêreldrekord wat deur Indië gehou was oortref! Hulle beplan om sowat 400 miljoen bome voor die einde van die jaar te plant!

Dis nie die enigste Afrikaland wat met rasse skrede gevorder het nie. Terwyl ons vlieg het ek gedink aan Ghana daar êrens onder die vliegtuig wat sedert 1990 met 121.59% gegroei het. Onthou u die verskriklike Volksmoord van die 1994 in Rwanda? Wel, daar’s nou al vir 25 jaar vrede en veiligheid, en hulle per kop inkomste het sedertdien met 298.31% geklim. Dit teenoor Suid-Afrika se 33.61% sedert 1994. Maar dis nie al nie. In 1990 was Mauritius se per kop inkomste net meer as die helfte van Suid-Afrika, maar nou is ons per kop inkomste net die helfte (57%) van Mauritius! Daarby het Mauritius se werkloosheid tussen 1983 en 2018 met 64.49% afgeneem, teenoor Suid-Afrika se toename van 122.68%.

Nou’s my vraag: hoekom vlieg Ethiopië by ons verby, hoekom oortref Mauritius ons groei, hoekom werk Rwanda, hoekom is Botswana se politici eerlik, hoekom is Namibië veilig, en Zambië vreedsaam? Hoekom word Suid-Afrika weer die muishond van Afrika? Omdat ons ten spyte van sterk mededinging van nog baie swak regerings op die Kontinent, sekerlik die vrotste regering in Afrika het! Dis nie dat hierdie lande nie probleme het nie, maar hulle werk aan oplossings. Ons regering transformeer die oplossings in probleme. Wat gaan met die ANC-regering aan dat almal vorentoe gaan en ons agteruitboer? Al waarvan mens hoor is straflose industriële skaal korrupsie, omtrent al die grafieke gaan suid, en al wat mens op die nuus sien is skandale en verval. Die ANC wil alles beheer, maar kan niks bestuur nie.

  1. Klagstaat/Padkaart

Ek wil vandag ‘n Klagstaat teen die regering aan u voorhou, en dan wil ek by u hoor wat u dink hulle op die aanklagte moet pleit as u dink ons het genoeg bewyse: (skuldig of onskuldig)

Klag 1: Julle hou nie die burgers van hierdie land veilig nie!

Klag 2: Julle laat die staat stuk-stuk op die koppe van die burgers verval!

Klag 3: Julle verarm ons met jul powere ekonomiese bestuur, en wil nou boonop ons pensioenfondse tap omdat ons hardverdiende belastinggeld klaar op en weg is!

Klag 4: Julle het die Regsorde laat verval en wetteloosheid laat toeneem! Daar sit nog nie een Zupta in die tronk nie, en orals ontwrig protesaksies ons lewens.

Klag 5: Julle wil met al jul onwerkbare en onbekostigbare planne sowaar weer bewys Sosialisme kan nie werk nie.

Klag 6: Julle maak ‘n bespotting van die demokrasie deur verkiesings met onhaalbare beloftes van “stem vir ‘n lewe” te wen! (6+5) (Beloftes maak skuld, wat die hardwerkende belastingbetalers moet betaal)

Klag 7: Julle het witmense tweedeklasburgers gemaak met al jul rassewette en dubbele standaarde! Julle bederf die goeie persoonlike rasseverhoudinge met giftige politieke verhoudinge!

Klag 8: Julle tas ons Menseregte aan met planne om die grondwet te verander vir OSV, die verbreking van die grondwet met Raswette, kulturele vandalisme van Afrikaans en Afrikaanse skole en universiteite!

Klag 9: Julle regeer teen ons deur die grondwetlike ruimtes vir kulturele vryheid polities toe te stop! Lesufi en kie regeer nou ons skole ipv demokratiese ouerbeheerliggame.

Klag 10: Julle steel ons kinders se hoop deur die land tot op die rand van die afgrond te regeer! Julle blameer wit jongmense vir wat gebeur het voor hulle gebore is, terwyl jul nie verantwoordelikheid neem vir wat julle nou aanvang nie!

Dis nie net hierdie gehoor wat julle op hierdie klagtes skuldig bevind nie. In die hoofstede van die wêreld, Afrika ingesluit, word al meer openlik gepraat dat julle 25 jaar na 1994, mislukking uit die kake van sukses gryp. Wie het ooit met meer globale welwillendheid aan bewind gekom as die ANC? Maar nee, julle verspeel ons almal se kanse. Dis hoekom ons nie beleggers kry nie, hoekom maatskappye landuit trek, hoekom kredietgradeerders ons afgradeer, hoekom mense landuit gaan, en hoekom hier soveel werkloosheid en armoede is.

Dis gevolglik nie ‘n wonder dat die eerste tekens van ‘n belastingopstand sigbaar word agv die straflose plundering van hardverdiende belastinggeld nie. Mense gaan nie net aanhou betaal as hul geld voortdurend gesteel of wanbestuur word nie. Daarom gaan ons eersdaags projekte aankondig wat munisipale diensteliggame tot stand gaan bring om noodsaaklike dienste te lewer, wat finansier gaan word deur kortings op eiendomsbelasting vir diegene wat daaraan wil deelneem. AfriForum se loodsprojekte hiervoor is suksesvol, en dit moet nou landswyd uitgebrei word waar munisipaliteite verval.

Die Chinese regering het na die afsterwe van Mao Zedong die ekonomie begin bevry en kapitalisme ingestel onder die vaandel van “Sosialisme met Chinese eienskappe”. Die Chinese ekonomie het dadelik reageer en vinnig begin groei. Die Chinese leiers het kritiek van die ultra-Kommuniste dat hulle nou Kapitalisties raak afgemaak deur te sê dat dit nie saak maak of ‘n kat wit of swart is nie, solank hy muise vang. In Suid-Afrika voer die ANC nou Sosialisme in onder die vaandel van grondwetlike (sosiaal-ekonomiese) regte, maar nou verlam hulle die ekonomie so dat nie wit of swart katte die ekonomiese muise kan vang nie!

Maar, om net kritiek te lewer gaan nie help nie. Al hou ons nie van die regering nie, is ons lief vir die land, en wil ons help waar ons kan om dit te laat slaag. Al is ons nie vriende nie, hoef ons nie vyande te wees nie, maar kan ons selfs vennote wees. Ons het min gemeenskaplike sienings, maar het baie gemeenskaplike belange soos veiligheid, ‘n groeiende ekonomie wat werk skep en armoede oplos, en ‘n werkende land wat vir almal ‘n toekoms kan bied.

Daarom is ons uitdaging om beter persoonlike verhoudinge met gewone swartmense te kweek as wat radikale politici met hulle het, sodat hulle nie teen witmense opgesteek kan word soos wat Malema en Ace Magushule tydens die Xenofobiese geweld probeer doen het nie. Soos die Afro-Amerikaanse ekonoom Thomas Sowell gesê het: “There are few talents more richly rewarded with both power and wealth, than the ability to convince poor people that their problems are caused by people of another race.”

 

Maar gelukkig was hulle nie suksesvol nie, want hulle kiesers het deur hulle gesien. Tog lê ons toekoms nie in strategiese konfrontasie met hierdie rassiste nie, maar in strategiese konsentrasie van Afrikaners. Natuurlik moet ons nie huiwer om ons regmatige belange te beskerm nie, maar konfrontasie bly ‘n taktiese metode, nie ‘n strategiese doel nie. Wie nie bereid is om ‘n beskaafde samelewing te verdedig nie, moet homself voorberei op onbeskaafde chaos en verdrukking. Om te staan vir jou regte, beteken nie ‘n opstand nie. Wie vir niks staan nie, sal vir enige iets val.

 

Laat ek weer terugkom by ons Selfbestuursplanne vir Afrikaners. Ons uitgangspunt is drieledig: die eerste een is dat ons planne nie van die regering moet afhang nie, maar van onsself. Die tweede uitgangspunt is “volksveelheid” ipv volkseenheid. Daarmee bedoel ons dat ons planne voorsiening moet maak vir die hele spektrum van hoofstroom oortuigings van Afrikaners. Die tyd is verby dat een plan op almal afgedwing kan word. Daarom is ons derde uitgangspunt dat dit waaroor ons verskil ons nie hoef te verdeel nie. Maak eerder ruimte vir verskille, werk saam waarmee jy saamstem, sonder om dit waarmee jy verskil teen te staan.

  1. Toekomsplan se 5 pilare

Ons toekomsplan staan op 5 pilare.

  • Binding: die eerste pilaar is om Afrikaners verder saam te bind in ‘n helpmekaar netwerk van selfhelporganisasies, wat dien as die kulturele infrastruktuur vir selfbestuur;
  • Beskerm: die voortgaande beskerming van ons gemeenskap se regte en vryhede;
  • Bou: die versnelde uitbou van ons “bou om te bly” projekte;
  • Beding: die bedinging van ‘n “Kultuurakkoord” met die regering wat ons grondwetlike kulturele vryheid herbevestig;
  • Brugbou: die versnelde brugbouprojekte met ander gemeenskappe in die land.

 

  1. Selfbestuurspiramide

Die staatkundige “argiteksplan” wat die bloudruk van die selfbestuursprojek is, bestaan uit ’n driehoek met vyf vlakke.

 

  • Persoonlik: die basis van die driehoek is die beskerming en die bevordering van die persoonlike regte en vryhede van Afrikaners, ongeag waar hulle bly.
  • Instellings: vlak twee is die uitbou van die veiligheids-, munisipale, maatskaplike, werk- onderwys-, opleidings- en ander instellings en organisasies waarmee selfbestuur gebou

word.

  • Dorpe: dienste soos veiligheid, water, maatskaplike hulp en ander noodsaaklike dienste

word vanaf stede en groter ankergebiede aan Afrikaners in klein dorpe gebied.

  • Ankergebiede: die groter getalle Afrikaners in hierdie 30 stede en dorpsgebiede maak

dit moontlik om ’n omvattende verskeidenheid dienste te verskaf;

  • Kantons: die vlak van selfbestuur kan om verskillende redes waarskynlik die hoogste in

drie gebiede onwikkel, naamlik Pretoria, die Wes- of Suid-Kaap en die Orania-gebied. Pretoria se groot getalle Afrikaners maak dit makliker om dienste daar te ontwikkel wat in Switserse kantons aangetref word, in die Wes- of Suid-Kaap kan genoegsame getalle en sterk gemeenskapsenergie dit moontlik maak, en in Orania en die omgewing rondom die Vanderkloofdam maak die bevolkingsamestelling dit vir Afrikaners moontlik om selfs met 15 000 mense ’n bepalende meerderheid in die gebied te vestig.

 

  1. Kultuurakkoord

Ons is almal bewus daarvan dat die regering die grondwetlike ruimtes vir kulturele vryheid al meer polities toestop. Dit geld vir die wetgewende, uitvoerende én regterlike gesag, wat eenstemmig is oor die ideologie van radikale transformasie volgens rasseformules. Vir hulle is die kleure op die spanfoto belangriker as die uitslag op die telbord. Dit is hoekom ons al meer kritiek kry dat ons regmatige benutting van grondwetlike regte regs en rassisties is. Dis al ‘n stryd van meer as ‘n eeu, eers teen die Britse Imperialiste, en nou teen die ANC. Dit is hoekom ek al vir Langenhoven aangehaal het wat aan ‘n Imperialis gevra het “hoekom is my politiek altyd rassisme, en jou rassisme altyd politiek?

Mnr Lesufi en sy geesgenote wil nie net minder Afrikaans hoor nie, hulle wil minder Afrikaners sien. Die aanval op Afrikaans is in werklikheid ‘n aanval op Afrikaners se menseregte. Dit gaan oor veel meer as taal. Die mees basiese reg van ‘n kultuurgemeenskap is die reg op voortbestaan, wat begin met die bestaansreg op instellings soos skole en universiteite wat daardie kultuur aan die volgende geslag oordra. ‘n Aanval op ‘n gemeenskap se skole, kolleges en universiteite, is in werklikheid ‘n aanval op die voortbestaan van ons as gemeenskap. Hierdie instellings is gelyktydig ‘n nasionale- en ‘n kulturele bate, en wie dit wil vernietig wil in werklikheid ons as gemeenskap vernietig. Skoolkaping is nog erger as staatskaping. Dis hoekom ons hierdie mini-Bob Mugabe’s met alles in ons vermoë sal teenstaan.

Daarom wil ons ‘n Kultuurakkoord met die regering sluit, wat ‘n herbevestiging moet wees van die kulturele ruimtes in die grondwet. Ons vra nie gunste of gawes nie, ons wil net hê wat ons toekom. Ons glo aan gelykheid, en nie aan wit of swart oorheersing nie. Laat ons die gevolgtrekking van die VN se Ontwikkelingsverslag van 2004 onthou: “As die geskiedenis van die twintigste eeu iéts bewys het, dan is dit dat pogings om kultuurgroepe weg te wens of in die meerderheid te laat opgaan, eerder ‘n lewenskragtige kulturele herlewing uitlok”.

Kom ons vat mekaar se hande in ‘n gees van wedersydse erkenning en respek, eerder as om mekaar aan die keel te probeer gryp. Ek sê weer, al is ons nie altyd vriende nie, wil ons nie vyande wees nie, maar kan ons veel eerder vennote wees wat in almal se belang saamwerk.

Dit gaan oor veel meer as taal en kultuur, dit gaan oor vryheid, menswaardigheid en gelykheid. Dieselfde ideologie wat die land ondermyn en die vryheid van persone, sakelui, universiteite, die media, die regbank en eiendomsbesitters bedreig, bedreig kulturele vryheid. Daarom moet ons mekaar se vryheid beskerm, want deur iemand ander se vryheid te beskerm, beskerm jy jou eie vryheid.

Ons glo dat ‘n herbevestiging van die taal- en kulturele ruimtes in die grondwet, en ook gesaghebbende bronne soos die VN se Universele Verklaring van Menseregte, die Afrikahandves van Menseregte en die Regte van Volkere en ander tersaaklike internasionale gesagsdokumente, nodig is om die politieke verstopping van ons vryheid te stop. Die doel bly om ons regmatige kulturele ruimtes te verbreed en te verdiep, en om die erkenning en aanvaarding van die uitoefening daarvan deur alle tersaaklike owerhede te vergemaklik.

Ons gaan ‘n groot nasionale- en internasionale veldtog voer om ondersteuning te werf vir ‘n Kultuurakkoord, maar ek wil net die kern van so Akkoord vandag uitlig. Die bewoording van so ‘n Akkoord kan kortliks as volg lees:

Die regering herbevestig die reg van taal- en kultuurgemeenskappe soos Afrikaners om:

  • sy identiteit, taal, kultuur, erfenis, tradisies en gebruike te koester en vir die nageslag te bewaar. Dit sluit in Afrikaners se reg om hul erfenis te vier, in die openbaar uitdrukking aan hul identiteit en hul manier van leef te gee en om hul kinders groot te maak binne die raamwerk van hul taal, geloof, waardestelsel en tradisies.
  • Dit sluit ook die reg in van die Afrikanergemeenskap om sy eie instellings te ontwikkel en te bedryf ten einde hierdie ideale in die praktyk te verwesenlik.
  • Die reg en vryheid op regmatige Selfbestuur op enige wyse wat die internasionale reg vir kultuurgemeenskappe bied.
  • Vryheid van beroepskeuse, gelykheid in die werksplek, die reg om ondernemings sonder onbehoorlike staatsinmenging te bedryf, en die genieting van die ander regte en vryhede in die grondwet.

Ons besef dat daar ‘n groot steunwerwingsveldtog en harde bedinging met die regering nodig gaan wees om hierdie vanselfsprekende regte en vryhede te herbevestig, maar glo dat hierdie regmatige strewes wye ondersteuning gaan geniet en dat dit nie vir altyd teengestaan sal kan word nie. Ons sal later meer daaroor bekendmaak en die publiek ruim geleentheid vir insette gee voordat die bewoording finaliseer word.

  1. Die Pad Vorentoe

Dit is so dat veel van wat opgebou is vandag vervalle, vernietig of oorgevat is. Dit is ook so dat die regering die land en ons gemeenskap teister met onbekostigbare en onwerkbare beleidsrigtings. Ons word soos tweedeklasburgers behandel en derdewêrelds regeer. Die gehalte van regering word uitgedruk in ekonomiese terme en werkloosheidskoerse, en dit is daar vir almal om te sien. Daarom moet ons begrip hê dat baie mense moedeloos voel en nie meer hoop vir die toekoms sien nie. Ons hoor ook al meer van mense wat wil emigreer. Ons moet hulle nie kwalik neem nie, maar eerder bande met hulle behou soos wat Switserland doen met sy “buitelandse” kanton, om nie van die Israeli’s se buitelandse netwerke te praat nie. Ons moet hulle steeds betrek om te help bou, want dieselfde dinge wat hulle uitgedryf het teister hulle geliefdes wat bly steeds.

Maar ons kan nie net op die ashoop van wanhoop gaan sit nie. Afrikaners het vandag 3 toekomskeuses. Die eerste is emigrasie, die tweede is om te wag dat staatsbestuur verbeter, en die derde keuse is om saam te bou aan groeiende Selfbestuur.

Ons kies die derde weg- Selfbestuur. Die eerste weg, emigrasie- bly ‘n oplossing vir enkelinge, nie vir ‘n hele volk nie. Ons wil nie die wat trek verloor nie, maar ons wil ook nie dat hulle hul gemeenskap verloor nie. Ons kan mos nie weggooi wat oor meer as drie eeue hier opgebou is nie. Dan sal al die bloed en trane en opofferings van al die geslagte voor ons mos vergeefs wees.

Die tweede weg, Staatsbestuur, is te vol slaggate en risiko’s om as ‘n permanente oplossing te oorweeg. Die grootste risiko is om te sit en wag dat dinge regkom, eerder as om ‘n plan te waag om dinge self reg te maak. Liewer die ietwat onsekere waagstuk van Selfbestuur, as die sekere mislukkings van staatsbestuur wat ons elke dag om ons sien. Selfs al kom dinge more reg, vereis verantwoordelike langtermyn risikobestuur steeds dat ons Selfbestuur aanpak. Geen gemeenskap met selfrespek kan sy toekoms permanent afhanklik stel van ‘n regering nie. Dit sal roekeloos wees.

Ons moet selfbestuur bou om te bly vir die 95% wat bly. Ons verlang nie terug na die verlede onder die NP nie, maar sien nie kans vir ‘n ewige toekoms onder die ANC nie. Laat ons ophou om mekaar moedeloos te praat oor dinge waaraan ons niks kan doen nie. Kom ons begeester mekaar eerder met die dinge waaraan ons wel iets kan doen. Laat ons ophou om te kla oor dit wat sleg gaan, en laat ons ‘n toekoms bou sodat dit kan goed gaan.  Laat ons nie gewoond raak aan alles wat abnormaal in die land is nie, maar laat ons bou aan ‘n normale bestaan waar ons ook vry, veilig en voorspoedig kan wees. Kom ons trek nie ‘n streep deur ons verlede en ontbind as volk nie, maar kom ons bou eerder ‘n pad na die toekoms. Kom ons respekteer almal in die land, maar kom ons respekteer ook onsself.

Suid-Afrika word tans deur twee omgekeerde grafieke geteister, een wat afgaan en een wat opkom. Die swak staatsbestuur wat die land teister lei terselfdertyd tot die opkoms van groeiende selfbestuur. Waar die swak staatsbestuur neerdrukkend is, is die opkomende selfbestuur bevrydend. Staatsinstellings plof soms so hard in, dat dit mense nie altyd raaksien dat selfbestuur nuwe oplossings meebring nie. Ons kan min doen aan die verval van die polisie, Afrikaanse universiteite, staatshospitale, Eskom, dorpe en die uitsluitende rassewette deur die swak staatsbestuur. Maar ons kan  help bou aan buurtwagte, Afrikaanse privaatuniversiteite, kolleges, werksburo’s en maatskaplike  netwerke.

12 Doendinge:

  • Beding ‘n Kultuurakkoord met regering- steunwerwing daarvoor
  • Beskerming van regte, vryhede en belange
  • Bou van kulturele infrastruktuur en Afrikaanse leefruimtes vir saambestaan
  • Binding van Afrikaners in Helpmekaar netwerk van selfhelporganisasies
  • Brugbou na ander gemeenskappe en die owerhede
  • Veiligheid deur Buurtwagte en Veiligheidsmaatskappy
  • Internasionale steunwerwing en netwerk met die Afrikaanse diaspora
  • Belastingveldtog: waghondrol, beding vir kortings
  • Samewerking met Afrikaanse gemeenskap: ATR, AON, MOS
  • Protesteer teen swak regeer
  • Kapitaalmobilisering
  • Beskerming van die Regsorde

 

 

Vroue kan ons land gesondmaak

Dit is nie vandag nodig om uit te brei op die grootste probleem van ons land nie. Almal weet hoe geweldsmisdaad ons land teister, en dat die einde van hierdie nasionale krisis nog nie in sig is nie. Die groot vraag is egter wat die belangrikste oorsake daarvoor is, en of en hoe ons land se vroue ‘n tasbare verskil aan hierdie probleem kan maak.

My vertrekpunt is dat geweldsmisdaad nie ons grootste probleem is nie, maar eerder die gewelddadige gevolg van ons twee grootste probleme, naamlik die krisis van die Suid-Afrikaanse gesin, en die gebrek aan gesonde waardes wat so uiters noodsaaklik vir enige suksesvolle samelewing is. Daarom wil ek graag vandag by drie punte stilstaan. Die eerste is die stand van ons gesinne, dan die vraagstuk van gesonde waardes, waarna ek wil  afsluit by die sleutelrol wat vroue speel en  nog kan speel om ons land gesond te maak.

  1. Die Einde van die Gesin?

Daar is beslis ‘n direkte verband tussen Suid-Afrika se grootste knelpunte en die grootskaalse verbrokkeling van huwelike en gesinne in ons land. Net een derde van kinders in ons land word byvoorbeeld in ‘n “normale” gesin met albei biologiese ouers groot.  ‘n Opskrif soos “die einde van die gesin” sou dus nie ‘n oordrywing wees van hierdie verskynsel wat so ‘n verpletterende invloed op ons land se meer as 18 miljoen kinders het nie. Hulle is die grootste slagoffers van die gesinskrisis in ons land. In kort- die tradisionele huishouding van ‘n getroude paar met kinders word ‘n minderheidsleefstyl in baie dele van die wêreld, maar ongelukkig ook in Suid-Afrika. Hierdie krisis is die grootste onder die swart gemeenskap waar minder as ‘n derde van die kinders in ‘n huisgesin met twee ouers grootword, maar dit is ‘n groeiende probleem in alle gemeenskappe, met meer as 20% van wit kinders wat nie meer in ‘n huis met albei ouers grootword nie. Maar ons moet ook onthou dat dit ongelukkig so is dat baie ouers vandag soms so besig is, dat hulle baie keer prakties afwesig is, al is albei ouers in die teorie by die huis. In die gejaagde lewe van vandag, is die band tussen ouer en kind geweldig onder druk as gevolg van die ouers en kinders se besige programme, en die invloed van die alomteenwoordige moderne media soos die rekenaar, televisie en die selfoon- wat soms bykans ‘n groter invloed op die kind het as die besige ouer.

Krisisse soos geweldsmisdaad, armoede en swak skoolprestasie, is daarom nie die grootste probleem in ons land nie, maar veel eerder die skrikwekkende gevolg van die grootste krisis, naamlik die verbrokkeling van die tradisionele huisgesin. Ons stukkende land ís die gevolg van ons stukkende gesinne, en ons gaan nie ons land heel kry sonder om ons gesinne heel te maak nie. Dat die verbrokkeling van die tradisionele gesin ‘n wêreldwye verskynsel is wat veral die  moderne Weste ook teister, verander niks aan ons probleem nie. Die feit dat dit in Suid-Afrika saamloop met baie ander knelpunte is waarskynlik daarvoor verantwoordelik dat dit hier so ‘n sterk geweldskarakter aangeneem het.

Redes vir gesinsverbrokkeling

Die opkoms van die “nuwe ekonomie” is volgens Sosioloë soos Manuel Castells die grootste rede vir wat hy die ‘einde van die gesin” noem. Die belangrikste kenmerk van die nuwe ekonomie is die massa toetrede van die vrou tot die werksplek oor die afgelope drie dekades. Rosabeth Moss Kanter van Harvard Sakeskool beskryf dit as die grootste bevolkingsverskuiwing van die afgelope halfeeu, en sê dit het ‘n diepgaande omwenteling van die gesin, werk en werksplek tot gevolg gehad. Waar daar in die VSA in 1970 net sowat 50% van vrouens gewerk het, het dit nou tot byna 80% gestyg. Waar die tradisionele gesin van ouers met kinders in 1975 nog byna 50% van die bevolking uitgemaak het, is dit nou net 25%. In Swede word minder as 50% van kinders binne die tradisionele huwelik gebore, omdat die huwelik as outyds en uitgediend beskou word. Die probleem met hierdie beskouing is dat hierdie tipe informele huisgesinne makliker opbreek as huwelike, en die kinders in sulke gevalle swakker daaraan toe is. Dit lei ook tot die sg vervrouliking van armoede, omdat die vrou baie met ‘n laer inkomste maar met die koste van die kinders opgesaal word.

Groot Trek se stoot- en trekfaktore

Die Groot Trek van die vrou van die huis na die werksplek het talle voordele meegebring, maar het ongelukkig ook in talle gevalle negatief op gesinne en kinders ingewerk. Daar is veral twee redes hoekom vrouens op so groot skaal buite die huis  begin werk het. Die “stootfaktor” was dat lewenskostes so skerp begin styg het dat die man se inkomste nie meer genoeg was om die gesin te onderhou nie. Die “trekfaktor” was dat die nuwe ekonomie baie meer geleenthede vir vroue gebied het om hulleself in die werksplek uit te leef. Die rede hiervoor was die oorskakeling van die nywerheidsera met sy swaar ‘mansgedrewe” handewerk, tot die inligtingsera met sy kenniswerk waar die nuwe tegnologie dit vir enigeen moontlik gemaak het om te werk.

Die oorsake vir die krisis van die moderne gesin is veelvoudig, en die oplossing is nie so eenvoudig as om die vrou weer te probeer “huis toe” stuur nie. Die probleem is veel eerder dat die samelewing nog nie genoegsaam aangepas het om hierdie nuwe werks- en lewenswyse te hanteer nie. Die nuwe ekonomie het ‘n ongelooflike druk op die vrou geplaas, waar sy nou ‘n vierdubbele rol van vroulief, huisvrou, moeder én voltydse werknemer moet speel en probeer balanseer.

Invloed op kinders

Hierdie rewolusie het nie net vroue, gesinne en huwelike ‘n omwenteling laat ondergaan nie, maar het ook kinders se lewens totaal verander. Die belangrikste gevolg is volgens Castells dat min klein kindertjies vandag hulle ma’s se voltydse aandag kan geniet. Die gemiddelde aantal ure wat ouers by hulle kinders spandeer, het byvoorbeeld tussen 1960 en 1986 met tien tot twaalf ure per week afgeneem. Die gevolg hiervan sê Jeremy Rifkin, skrywer van “Die einde van Werk”,  is dat die afname in ouertoesig ‘n “verlatingsindroom”  by kinders geskep het, wat verantwoordelik was vir ‘n toename in kinderdepressie, jeugmisdaad, drank- en dwelm misbruik en selfs selfmoord. Daarom waarsku die Teoloog Professor Koos Vorster tereg teen die stelselmatige agteruitgang van die huwelik en die gesinslewe, en sê dat dit ons land se maatskaplike stabiliteit op die lange duur kan ondermyn. Die feite wys ongelukkig ons is klaar daar. Wanneer die gesin, as die belangrikste draer van gesonde waardes ten gronde gaan, sal die samelewing dit nie oorleef nie. Gesonde gesinne is steeds die boustene van ‘n gesonde land.

Wanneer word die prys te hoog?

Robert Reich, ‘n vorige Amerikaanse Minister van Arbeid, vra tereg of die nuwe ekonomie en al die welvaart wat dit meebring, die prys werd is wat ons huwelike, ons kinders en ons gesinne daarvoor moet betaal? Hy vra in sy boek oor werk en lewe in die nuwe ekonomie, ” The Future of Success”: wanneer word die prys te hoog?

Die antwoord is kort en kragtig: as ons kinders en ons huwelike (vir wie ons welvarend wil wees) die slagoffers van ons strewe na beroeps- en finansiële sukses is.

Wat is die oplossing vir die krisis van die gesin wat ons kinders en ons land so erg teister? Prof Koos Vorster sê dat daar oorgenoeg navorsing en bewyse is, dat die beste vorm van menslike verhoudings vir mans, vroue en kinders – steeds die Christelike huwelik is. Die feit is dat die vrou vandag steeds díe sleutelrol in die gesin speel- ten spyte van al die veranderings in ons moderne samelewing. Daarom behoort instellings soos Kerke, die Helpende hand, ons mans, en in die besonder ons land se Werkgewers- te besin oor wat gedoen kan word om ons vroue te help om die groot druk wat daar op hulle is beter te kan hanteer.

  1. Waardes

Die Britse filosoof Thomas Hobbes, het treffend gesê dat  in ‘n “state of nature, life is solitary, nasty, brutish and short”. Hy kon nie die nagmerrie van ‘n land sonder gesonde, gedeelde en samebindende waardes beter beskryf het nie.

Die groot omwenteling in ons land het met groot polarisasie saamgeloop. Daar was nie net konflik tussen gewapende groepe en ideologieë nie, maar ook tussen waardestelsels. Die groot omwenteling het nie net ‘n omwenteling van politieke ordes beteken nie, maar ook ‘n omwenteling in waardes. Die groot probleem is dat die ANC homself as ‘n rewolusionêre beweging  gesien het (en steeds sien) wat alles in die vorige orde moes omskep tot ‘n nuwe orde. Die groot rede vir die mislukking van  baie bevrydingsbewegings wat die bewind oorgeneem het (Thomas Sowell), was juis dat hulle nie probeer bou het op dit wat gewerk het en dit verder verbeter het nie, maar dat hulle alles probeer verander het. Die probleem is dat nie alles wat voor 1994 bestaan het was sleg, en nie alles wat in die plek daarvan gekom het is goed nie. Tydlose waardes wat die toets van die tyd en praktyk deurstaan het en wat onderliggend aan die sukses van alle wenlande is. Die mislukking van die meeste openbare skole, is tegelyk die mislukking van die waardes wat die bestuur van daardie skole onderlê.

Maar hoe word gesonde, gedeelde en samebindende sukseswaardes in ‘n land gevorm en gevestig? Die antwoord lê dat dit gedoen word deur instellings soos die regering en die staat, skole, kerke, die howe, die media, burgerlike organisasies en veral deur die gesin. Die probleem in SA is ongelukkig dat verskeie van hierdie instellings wat verantwoordelik vir die vaslegging van waardes is dit nie meer doen nie, of dat hulle rolle onder groot druk is.

Ons regering in die breë is ongelukkig nie ‘n toonbeeld van gesonde waardes nie, en ons staat word geteister deur korrupsie, ondoeltreffendheid, en ‘n gebrek aan gesonde oordeel. Die regering het ongelukkig ‘n  leidende aandeel in die swak prestasie van baie openbare instellings soos Munisipaliteite, Skole, Staatshospitale, en die Polisiediens, waar wenwaardes soos meriete, produksie en prestasie gereeld verplaas word deur verloorwaardes soos politieke gedienstigheid en rasgedrewenheid. Die opstand teen enige en alle waardes waarvan Julius Malema die toonbeeld is- kan ook as voorbeeld van verloorwaardes dien.

Maar kyk maar na die aftakeling van instellings wat gesonde waardes probeer vaslê soos die Kerk? Hoeveel aanvalle op die Kerk lees ons nie weekliks in die media- ook in die Afrikaanse media nie? Maar watter waardes bevorder die media wat ons kinders gebruik? En ons ouers? Vertolk ons ouers nog die waardes wat die media oordra vir ons kinders? Hoe gaan dit in ons skole. Hoeveel ouers maak seker dat die Beheerliggame en Onderwysers nog waardes bevorder wat ‘n verlengstuk is van die waardes wat die kind in ons huise leer? Die probleem is dat kinders wel waardes geleer word- dit kan ons nie keer nie. Wat ons wel kan doen is om te help seker maak dat hulle die regte waardes leer. Want ‘n kind wat deur innerlike beginsels en waardes beheer word, sal nie nodig hê dat ander instellings soos die Hof uiteindelik van buite af waardes op die kind hoef af te dwing nie.

As ons dus weer gesonde waardes wil hê, sal ons ook daardie instellings wat die waardes moet bevorder moet ondersteun. Ons sal ook die afbreek kultuur wat baie van die aanvalle op die kerk, die gesin, en ons skole onderlê moet teenwerk en vervang met ‘n opboukultuur. Dit is ‘n kultuur wat nie swyg oor die foute wat mag bestaan nie, maar wat soos President Kruger gesê het- wat die beste uit  die verlede neem  en daarop voortbou, in plaas van om alles af te breek.

Daarom wil ek vandag ‘n veldtog voorstel om weer ons gesonde waardes duidelik te omlyn en te bevorder, dit gaan nie vanself gebeur nie. Daarin kan ons Vroue saam met ons waardegedrewe instellings soos kerke en skole ‘n deurslaggewende rol speel.

  1. Rol van ons Vroue

Wanneer ons aan helde dink, was ons in die verlede te geneig om aan die spreekwoordelike Generaal op sy perd te dink. Daarom moet die Helpende hand gelukgewens word dat ons vandag aan ons Vroue eer betoon, vroue wat ‘n toonbeeld is van die gesonde waardes waarsonder ‘n suksesvolle samelewing nie kan klaarkom nie. Sulke toekennings doen ook baie om die noodsaaklike waardes te vestig en te beklemtoon.

Vir my is die helde en heldinne vandag die mense wat ‘n verskil maak – wat doen wat hulle kan waar hulle is met wat hulle het. Die Verpleegster op diens, die Polisieman of vrou, die Sakevrou, die Ma, die Staatsamptenaar wat haar werk na die beste van haar vermoë doen, die Kerklidmaat wat die minderbevoorregtes help, die vrywilliger wat ‘n beursfonds vir ‘n belowende maar behoeftige student stig, die Skoolhoof wat in moeilike omstandighede steeds sy roeping nakom.

Baie geluk aan almal wat vandag erkenning kry vir die rolle wat julle speel en die prestasies wat julle behaal het. Julle is die bewys daarvan dat niemand hoef te wag vir die  President of die Staat nie- julle is die rolmodelle vir ons  en vir die volgende geslag. Daar is nie ‘n beter manier om gesonde waardes te bevorder as rolmodelle nie. Daarom wil ons julle gelukwens met wat julle bereik het, maar ook dankie sê vir die rolmodelle wat julle vir almal van ons is. Baie dankie!

 

Van Mynwerkersunie na Solidariteit

Hierdie toespraak gaan oor die rol van burgerlike organisasies om verandering te bewerkstellig, en ek is gevra om die omvorming vanaf die Mynwerkersunie na Solidariteit as gevallestudie te gebruik. In die lig van die tydsbeperking gaan ek baie kort daaroor praat, ook omdat meer inligting beskikbaar is in die navorsing wat Prof Wessel Visser van Stellenbosch daaroor gedoen het. Daarna gaan ek meer in die algemeen praat oor die rol wat Afrikaanse burgerlike organisasies kan speel in die voorkoming en verligting van armoede.

Daarom gaan ek in my praatjie by ’n paar hoofpunte stilstaan:

  • Die krisis waarin die MWU na 1994 verkeer het;
  • Die vier golwe van strategiese verandering, hulle resultate, en die vyfde golf wat nou beplan word;
  • Die noodsaak van ‘n herskikking in die Afrikaner kultuurgemeenskap;
  • ‘n Breë raamwerkvoorstel om verandering deur ‘n burgerlike Afrikaner netwerk te bewerkstellig.
  1. Die krisis waarin die MWU na 1994 verkeer het

 Die MWU is een van die oudste vakbonde in die land, en het in 1902 na die Tweede Vryheidsoorlog ontstaan. Die vakbond se geskiedenis is baie nou verweef met die land en spesifiek die Afrikaner- en blanke werkers se geskiedenis. Soos Prof Visser dit in die slotsom van sy boek stel:  “In die geskiedenis van die Mynwerkersunie word tot ‘n belangrike mate ook die geskiedenis van Suid-Afrika weerspieël, en loop die historiese lotgevalle van die vakbond en dié van “blank Suid-Afrika” onlosmaaklik hand aan hand.”[1]

Maar die MWU was nie maar net deel van die land se geskiedenis nie, die vakbond het meermale geskiedenis help maak. Visser sê selfs dat die geskiedenis van die Mynwerkersunie gedurende die twintigste eeu die gang van die Suid-Afrikaanse politiek en ekonomie in ‘n belangrike mate beïnvloed het.”1

Maar dit het dramaties na 1994 verander. Suid-Afrika is vroeg in die negentigerjare getref deur ‘n dubbele rewolusie. In die eerste plek was daar die groot politieke veranderinge, wat die land gaandeweg totaal omskep het. Die twee groot magte van die tagtigers, die NP en die KP, kon nie die skielike magsverskuiwing oorleef nie en het ‘n dekade of wat later ontbind. Die skokgolwe van hierdie omwenteling het die twee magsblokke se stutorganisasies ook tot in hulle fondamente geskud. Baie het ondergegaan, terwyl ander gaandeweg verswak het of bloot op papier voortbestaan het. Net enkeles het die oorgang suksesvol oorleef.

Terselfdertyd het ‘n ekonomiese rewolusie ook die land oorspoel, in die vorm van globalisering. Dit het beteken dat ons gelyktydig met ‘n politieke én ekonomiese omwenteling van historiese omvang te doen gekry het. Dit het groot gevolge vir die land, die ekonomie, maar ook vir die Mynwerkersunie en sy lede gehad.

Die Mynwerkersunie was skielik geïsoleer en het homself alleen en in ‘n baie vyandige omgewing bevind, waar die regering, sakereuse en Cosatu vakbonde die unie sterk teengestaan het. Verder het die land nou ’n “oop” ekonomie gekry, en die skielike verskerpte internasionale mededinging het beteken dat sakereuse meer as ‘n miljoen werknemers afgedank het om winsgewend te bly. Baie bedrywe en maatskappye waarin die vakbond georganiseerd was se werksmagte het met 50% of selfs meer gekrimp, soos die mynbedryf, Eskom, Telkom en Iscor. Daarby het affirmative action ook die profiel van die werksmag drasties begin verander.

Talle lank bestaande vakbonde het in hierdie tyd ondergegaan. Die gesamentlike impak van hierdie veranderings het ook die MWU tot in ’n bestaanskrisis gedompel. Ledetalle het skerp geval,  daar was ‘n finansiële insinking, die Nywerheidsregistrateur het ons gedreig met deregistrasie, en sakelui, joernaliste, akademici en ander vakbonde het ons ondergang voorspel. Die ergste was dat baie van die sleutelmense self aan ons toekoms getwyfel het!

  1. Herskepping van die MWU (Eerste golf)

 Na my verkiesing as Hoof Uitvoerende Beampte middel 1997 moes daar spoedeisend met ‘n omkeerstrategie begin word. Daar was nie geld of tyd vir lang bosberade of slim konsultante nie. Ons kon nie eers ‘n rekenaar van R265 per maand bekostig nie! Dit was om soos ‘n vliegtuig in die vlug te herbou midde in ‘n luggeveg teen ‘n oormag vinniger vliegtuie! Daardie eerste jare het ek nie in die oggend wakker geword nie, ek het wakker geskrik!

Die vakbond is van die grond af weer opgebou, distrik vir distrik, bedryf vir bedryf en vakbond strukture is maatskappy vir maatskappy herbou. In die proses was daar groot personeel wisselings, kantore opgeknap en toegerus, diensvlakke verbeter, ‘n nuwe grondwet infaseer, die finansies moeisaam stabiliseer, en is die vakbond oor ‘n breë spektrum moderniseer. Die MWU is buite die politiek posisioneer, ‘n uitbreidingstrategie is begin, en ‘n nuwe styl en strategie is stelselmatig implementeer.

Dit was baie moeilike tye, daar was soms groot weerstand teen verandering, geld was baie skraps, groot foute is (veral deur my!) gemaak, maar die breë rigting was reg, en die proses het stadigaan resultate  begin toon. Hiervoor moet ek veral ons destydse Hoofraad en die senior personeel bedank vir hulle samewerking, vertroue en ondersteuning waarsonder ons beslis ons deure sou moes toemaak. Maar al hierdie werk was nog nie genoeg om te oorleef nie, hef aan het nog voorgelê.

  1. MWU-Solidariteit (Tweede golf: 2000)

 Tydens hierdie fase is die naam verander na MWU-Solidariteit, en groot organisatoriese verbeterings is aangebring.

 Die strategie onderliggend aan die tweede golf van verandering was om die MWU landswyd buite die mynbedryf uit te bou as ‘n vakbond vir geskoolde Afrikaanse werknemers in bykans alle bedrywe en beroepsgroepe in die privaatsektor. Tydens hierdie fase is die naam verander na MWU-Solidariteit, en groot organisatoriese veranderings is aangebring. Dit het onder meer die herorganisering van die vakbond in bedrywe beteken, terwyl nuwe bedrywe begin is, die hoofkantoor na ’n huurperseel in Centurion verskuif is, ’n nuwe korporatiewe identiteit, terwyl die volgende klein afdelings gestig is:

  • ‘n Regsafdeling;
  • ‘n Kommunikasie afdeling;
  • Lede Administrasie en Finansies;
  • ’n Besigheidsbeen.

Hierdie fase het tot ‘n stewige groei in die vakbond gelei, en ons het oa ons grootste mededinger en ‘n paar kleiner vakbonde oorgeneem en ingeskakel. Maar die groei het  ons onverwags weereens in ‘n krisis gedompel, omdat ons stelsels nie sterk genoeg was om die oornames en vinnige groei te dra nie. Ons regsstelsel kon byvoorbeeld nie die groei van ‘n honderd sake per jaar na twee honderd per maand hanteer nie! (Ek ook nie!). Kostes het vanweë die uitbreidings skerp gestyg terwyl ons inkomstes bykans stil gestaan en stadiger ingekom het. ‘n Tweede finansiële krisis het ontstaan, wat ons genoodsaak het om die vliegtuig van voor af in die vlug ter herbou! ʼn Vakbond is ’n baie lae winsgrens bedryf! In hierdie tyd het ek geleer koperdraad maak deur elke sent so lank moontlik te rek! Ek het orals geld probeer soek en eers toe ek nêrens regkom nie met ‘n skok besef dat geld nie ‘n plaasvervanger vir moeilike besluite is wat mens maar altyd probeer uitstel nie. Maar genadiglik het die vliegtuig se neus weer begin lig nadat almal saam die skouer aan die wiel gesit het.

  1. Solidariteit (Derde golf: 2002)

 Niemand moet dink dat die nuwe naam en golwe van verandering regtig so glad en presies op mekaar gepas het nie. Dit was oneindig meer ingewikkeld! Die belangrikste veranderings wat tydens hierdie golf aangebring was is:

  • Uitbreiding van ons ledebasis;
  • Uitbreiding van alle afdelings in Solidariteit;
  • Navorsing afdeling / en Regs Instituut;
  • ’n Telefoniese Dienssentrum, eerste in die vakbondwese;
  • Ontwikkeling van beleid en nuwe stelsels, soos ‘n Regsadministrasie stelsel, Gehaltebeheer, Diensstelsels;
  • Uitbreiding van die Besigheidsbeen met ‘n Bestuurshoof en nuwe besighede;
  • Herstigting van die Helpende Hand na die krisisse in Vanderbijlpark en Stilfontein;
  • Koop van ‘n nuwe Hoofkantoor kompleks;
  • Vestiging van ‘n Sekretariaat en Korporatiewe beheerstelsels;
  • Groot versterking in die senior bestuur van Solidariteit;
  • Stigting van AfriForum, inskakeling van die Maatskappy vir immigrasie en die loodsing van die Kom Huistoe-veldtog;
  • Stigting van Sol-Tech;
  • Opening van ʼn Buitelandse kantoor en buitelandse skakeling;
  • Talle nuwe lede dienste, soos Beroepsveiligheid en –gesondheid;
  • Solidariteit Opleidings Akademie;
  • Stigting van ʼn Reserwefonds;
  • Menslike Hulpbronne ens.

Dit is belangrik om te besef dat hierdie interne verbeterings die insette was wat noodsaaklik was om die doelwitte/uitsette van Solidariteit te verwesenlik, en dat dit nie ‘n doel op sigself was nie. Hierdie verbeterings het veral vanaf 2006 groot vrugte begin afwerp namate die Solidariteit naam gevestig geraak het, ons stelsels goed begin werk het, diensgehalte, finansies, en instellings begin groei toon, het en ons ekonomie van skaal bereik het. Die bykomende uitvoerende vermoë van die organisasie het ons gehelp om groot veldtogte te dryf soos die Gelyke geleentheid veldtog teen onbillike diskriminasie. Vanaf ‘n organisasie met ‘n paar personeellede op hoofkantoor, het Solidariteit nou ‘n sterk familie instellings met meer as 300 personeellede geword.

 

  1. Solidariteit beweging (Vierde golf: Jan 2008)

 Die doel van die vierde golf van strategiese verandering was om Solidariteit te omskep in die Solidariteit beweging, waarvan Solidariteit as vakbond nou net een been sou wees. Die res van die beweging het bestaan uit die Helpende Hand, AfriForum, ons Beleggingsmaatskappy (Sol-Tech, Oxbridge, Express, Finansiële dienste, Solidariteit Eiendomme), en die Groeifonds. Ons het nou ons fokus begin verander, vanaf groter na sterker, maw om ons grondslag te versterk en ons Christen demokratiese waardestelsel intern sterk te vestig, oa deur Solidariteitkunde vir al ons personeel en verteenwoordigers aan te bied.

Dit alles het groot voorspoed vir die Solidariteit beweging gebring, en ons verteenwoordig in totaal nou byna 140 000 lede of gesinne.

Maar in die onstuimige wêreld van Suid-Afrika is dit steeds nie genoeg om gerus te kan slaap nie, want die see waarop ons skip vaar is vol storms.

 

  1. Herskikking in Afrikaner kultuur gemeenskap (Vyfde golf?)

 Daar is veral 3 strategiese neigings wat ons in ons beplanning vir die toekoms gebruik:

  • Voortgesette staatsverswakking;
  • Die demografiese rewolusie;
  • Afrikaner magloosheid en uitsluiting. (stemreg vs stemkrag)

Die gevolge hiervan is die oorsaak van hierdie kongres- die heropkoms van Afrikaner verarming, vers 3. Dit is tragies dat ons met die sewentigste herdenking van die begin van die suksesvolle modernisering van die Afrikaner, weereens in ‘n bestaanskrisis verkeer.

Ons besef terdeë dat hierdie drie strategiese neigings die Afrikaner gemeenskap én Solidariteit se volhoubare sukses  bedreig, en dat ons dit nie alleen sal kan baasraak nie. Ons besef ook dat hierdie drie en ander verwante neigings tot baie groter armoede en ellende kan lei as wat ons ooit geken het. Dit kan selfs lei tot ‘n ernstige oorlewingskrisis as ons nie betyds iets daaraan doen nie.

Anders as in die dertigerjare, is die Afrikaner burgerlike instellings nie almal meer sterk en lewenskragtig nie, en is daar nie hoop op ‘n politieke “oplossing” nie. Daarom is  daar na my mening ‘n organisatoriese herskikking in Afrikaner geledere nodig, en vennootskappe met ander gemeenskappe waar enigsins moontlik. Die doel van so herskikking moet wees om praktiese oplossings vir ons knelpunte uit te werk, maar ook om gesamentlik met die regering te gaan praat om te kyk of skikkings hieroor nie moontlik is nie. Daar bestaan reeds so ‘n losse netwerk van organisasies wat saam oor hierdie dinge dink en praat. Dit is tyd om ‘n les by die Jode te leer: behou jou identiteit, sorg dat joú gemeenskap suksesvol is, en dra daarna by tot die sukses van die breë gemeenskap waar jy bly. My siening is dat die Afrikaner en Suid-Afrika interafhanklik is: vir die Afrikaner om suksesvol te wees, moet Suid-Afrika werk, en vir Suid-Afrika om te slaag, moet die Afrikaner voorspoedig wees. Diegene wat Afrikanerskap wil laat opgaan in ‘n breë Suid-Afrikanerskap, sal moet besef dat dit net daartoe sal lei dat dit die emigrasiegolf landuit net meer momentum sal kry, omdat dit die prys van Suid-Afrikaner te hoog sal opstoot. Ons het daardie standpunt mos al probeer, maar die uitkoms na 15 jaar wys mos dit is nie goed genoeg nie. Dis vir my logies dat net ‘n suksesvolle Afrikaner gemeenskap kan help om Suid-Afrika suksesvol te maak!

  1. Raamwerk voorstel vir verandering deur ‘n burgerlike Afrikaner netwerk

 Ons toekoms is te belangrik om net aan die regering oor te laat, daarom moet ons vinnig werkbare planne op die tafel kry. Planne wat groter is as die probleme waarvoor ons staan, planne wat goed uitgevoer moet word. Die beginpunt hiervan is om die Scenario’s oor die toekoms van die land, verder te verwerk in scenario’s vir die toekoms van die Afrikaner. Die  hoofdoel hiervan is om dit as vertrekpunt te gebruik vir die ontwikkeling van ‘n paar strategiese alternatiewe vir die Afrikaner gemeenskap. ‘n Informele netwerk van Afrikaanse burgerlike organisasies sal eersdaags begin met die omvattende navorsing wat hiervoor nodig sal wees, saam met kundiges uit die akademie en praktyk.

  1. Afsluiting

 Die Afrikaner gemeenskap staan in die spervuur van ingrypende makro neigings waaroor hy nie beheer het nie. Hierdie omwentelings kan verwoestende Tsunami’s word as ons dit probeer ignoreer of ontken, wat selfs ons hele toekoms spreekwoordelik kan wegspoel.

Hoe langer ‘n mens wag om te reageer op verandering, hoe minder opsies bly oor en hoe meer ingrypend raak die oorblywende oop paaie.

Mag ek daarom afsluit met die volgende woorde:  Die Afrikaanse gemeenskap moet verantwoordelikheid aanvaar vir sy eie toekoms en self aktief daaraan begin werk.  Nie in isolasie nie, maar saam met geleentheidsvennote waar nodig en waar moontlik. Dit help nie om aan ’n afhanklikheids-, isolasie of ontrekkingsindroom te ly nie. Die verlede gaan nie terugkom nie, die hede gaan nie weggaan nie en die toekoms laat nie op hom wag nie. Inteendeel,  die toekoms word bepaal deur wat ons vandag doen. 

[1] Van MWU tot Solidariteit – Geskiedenis van die Mynwerkersunie 1902 – 2002  deur Wessel Visser

Wees Sterk en Vol Moed: Geloofsverankerde optrede in veranderende tye

(Hierdie toespraak is in September 2009 gedurende ‘n Predikante Ontbyt gelewer)

Padkaart

 

  1. Globale makro-neigings en religie
  2. Die Groot prentjie van makro veranderings in Suid-Afrika
  3. Belangrikste uitkomste van veranderings in SA (Gesin)
  4. Ons Gereformeerde Erfenis

 

  1. Globale makro-neigings en religie

 

’n Groot deel van die Westerse intellektuele elite glo nou al vir geslagte lank vas dat geloof geleidelik sal verdwyn in ’n onkeerbare proses van sekularisasie of verwêreldliking. Modernisering sou volgens hierdie siening lei tot die einde van geloof. Hierdie onwrikbare geloof in ongeloof spruit uit ’n oortuiging dat geloof ’n byproduk van agterlikheid is, en dat geloof sal kwyn namate kennis, opvoeding, demokrasie en welvaart oor die aardbol versprei. Hierdie mening het wye steun geniet – vanaf die Marxiste tot die denkers van die Verligting.

Hulle het geglo dat namate mense toenemend deur wetenskaplike kennis gevorm sou word, geloof in ’n Almagtige Godheid gaandeweg vervang sou word deur ’n geloof in die mens en sy vermoë om self ’n hemel op aarde te skep. Godsdiens sou uit die openbare arena verdwyn, en hoogstens ‘n randverskynsel word wat in privaat huishoudings beoefen word.

Die verwoestende “godsdiensoorloë” van die ou Europa was ’n mengsel van godsdienstige onverdraagsaamheid, politieke magstryd en gevegte om beheer van mense, grond en hulpbronne. Dit het die sekulêre wensdenkers laat glo dat, namate geloof verdwyn, die wêreld ook ’n veiliger plek sou word.

Die liberale en sosialistiese vryheidsoorloë teen outoritêre koningshuise was daarom meermale ook gesien as ’n stryd teen godsdiens se “onderdrukking” van die mens se vryheid en sy reg om vir homself ’n aardse paradys te skep. Godsdiens is gesien as die “opium van die volk” wat die massas onderdanig aan hul verdrukkers gehou het.

Daarteenoor het revolusionêre bewegings ook die geloof en die kerke ingespan om hulle waens deur die politieke driwwe te trek. Dink maar aan die teologie van die revolusie wat vir ’n lang tyd die godsdienstige wêreld tot die ondersteuning van wapengeweld gedryf het.

Dit is inderdaad so dat mo­dernisering ’n belangrike rol gespeel het in die Europese oorgang na ’n post-Christelike era. Ná die Wêreldoorloë het mil­joe­ne mense begin glo dat God dood is en dat die  sg “almagtige” welsyn­staat of werkersparadys sy plek ingeneem het. Maar tot die sekulêre wensdenkers se ontnugtering het dit algaande duidelik geword dat politieke “geloofsbewegings” net tydelik die plek van die kerke ingeneem het.

Hierdie ideologiese bewegings het gestreef na ’n aardse hemel en het baie van die sielkundige en sosiale funksies van geloofsbewegings aangeneem. Vir ’n wyle het veral kommunisme betekenis gegee aan die lewens van miljoene mense wat hul drome van hemel op aarde geglo het. Ná die val van die kommunisme was miljoene Westerlinge baie verlig dat hul Europese demokratiese welsyns­­­­hemel, of Amerikaanse kapitalistiese utopie nog steeds volstoom sake gaan doen. Hulle het God nie meer nodig gehad nie, want die staatsgod of geldgod sou nou vir hulle kon sorg. Die top Amerikaanse skrywer Francis Fukuyama, het na die val van die muur in ekstase in sy boek “The End of History” aangekondig dat die historiese konflik tussen ideologieë nou finaal beslis is in die guns van die “goue tweeling”, Westerse demokrasie en kapitalisme. Volgens hom het minagtende Marxiste en ongeduldige liberales op godsdiens neergesien as ‘n oudmodiese swakheid. Die Economist se jaar 2000 uitgawe het selfs ‘n “Grafskrif” geskryf waarin God se “einde” saam met die ou eeu voorspel is. ‘n Goue era van vrede en voorspoed sonder ideologiese verdelingslyne is voorspel.

Hierdie ideologiese verwaandheid het uiteindelik gelei tot ’n tipe sekulêre fundamentalisme, gekenmerk deur ’n onverdraagsaamheid teenoor geloof of gelowiges. Hul geloof in menslike saligheid deur ongeloof, het meermale gelei tot die intellektuele vervolging van gelowiges en die bespotting van die geloof in die massamedia. Die militante geloof van talle sekulêre Westerlinge in hul (ongelowige) lewenswyse het bygedra tot onbedoelde gevolge soos die opkoms van militante Islam.

IN die derde wêreld het dit nie anders gegaan nie. Die stryd teen kolonialisme was meestal ook ‘n stryd vir sekulêre modernisasie. Afrika se nuwe regeerders het die Sendingskole genasionaliseer en godsdiens saam met etnisiteit weggewens as struikelblokke vir ontwikkeling. Maar teen die einde van die sewentigers was daar ‘n godsdienstige teenrewolusie aan die gang.

Maar die wêreld het nie stilgestaan nie.  Geleerdes soos Harvard Universiteit se Sameul Huntington het reeds in 1993 in sy “Clash of Civilizations” die nuwe wêreldera na die tydperk van die groot ideologieë uitgespel. Volgens hom het 7 of 8 “beskawingsblokke” wat grootliks religieus baseer was, die plek van die groot ideologieë ingeneem.  Mense sou nie meer gedefinieer word op grond van die ideologie waaraan hulle glo nie, maar volgens wat hulle is- hulle kultuur of religie. Die 8 is: Westerse Christendom, Islam, Ortodoks, Japans, Afrika, Chinees, Hindu, en Suid-Amerika.

Die nuwe verdeling- en groeperingslyne sou volgens Huntington die raakpunte tussen hierdie beskawings wees, soos Sarajewo waar die Islam, Christendom en die Ortodokse Christendom by mekaar aansluit. Waar Huntington vir ‘n paar jaar geweldig aangeval en selfs belaglik gemaak is, het sy globale denkraamwerk meer en meer geloofwaardigheid bygekry namate die nuwe wêreld na die val van die muur beslag gekry het.

Met die val van polities-utopiese gelowe soos die kommunisme, het miljoene mense begin terugkeer na hul tradisionele godsdiens, in baie ge­valle ongelukkig na ekstreme vorme daarvan. Die vraag is wat gaan die gevolge wees van die ekonomiese krisis wat stormsterkte-afmetings in die Weste aangeneem het? Gaan dit ’n ekonomiese krisis bly of gaan dit gevolge inhou vir die ongelowige Westerlinge se vertroue in hul eie hemel op aarde? Gaan dit ook, soos in ander wêrelddele, lei tot ’n terugkeer na die evangelie van Jesus Christus noudat mensgemaakte afgode nie meer reën maak nie? Gaan die post-Christelike Europa agterkom dat hulle geloof in ongeloof toe al die tyd ‘n bygeloof was? Mag dit gebeur dat Europa weer die ware God ontdek met die besef dat sekulêre ideologieë mensgemaak is en dat hulle geloof in die Welsynstaat op sand gebou was.

Die feit is dat waar religie in die twintigste eeu as ‘n faktor in wêreldbesluite afgeskryf is, meen invloedryke tydskrifte soos die Economist dat religie in die nuwe eeu ‘n sentrale rol gaan speel, gedryf deur dit wat dit eintlik moes vernietig, soos Globalisering, die Inligtingsrewolusie en modernisering.  Buite Wes-Europa het religie ‘n sterk terugkeer na die openbare terrein gemaak. In die VSA is dit veral die Protestantse Christendom wat aan die opkom is. ‘n Islamitiese party regeer vandag die tradisioneel sekulêre Turkye. In Indië het ‘n Hindu-gesinde party oorgeneem. As mens na die huidige neigings kyk, gaan China mettertyd die grootste Christen én Moslem land ter wêreld word. In Rusland het die geheime polisie ‘n Ortodokse kerk oorkant hulle hoofkwartier opgerig, nadat die KGB lank die kerk beveg het.

Dit is volgens die Economist ook insiggewend dat die “selftwyfel” weergawe van godsdiens nie vordering maak nie, maar veel eerder die wat hulle beskou as die fundamentalistiese weergawes daarvan. Dit lyk of diegene wat nie meer die waarheid suiwer en reguit stel nie maar alles relativeer en verwater, juis hulle volgelinge verloor. As die Duitse priester self nie meer glo nie, hoe kan hy verwag dat die bevolking nog sal glo?

Maar die heropkoms van godsdiens vertel nie die hele verhaal nie. Behalwe dat dit ongelukkig nie net die Christendom is wat groei nie maar valse godsdienste ook, skep die herlewing ook ‘n militante teenreaksie. Is dit nie maar ook waarmee ons tans in Suid-Afrika ook te doen kry nie? ‘n Mens kan nie vandag byna nie meer ‘n Afrikaanse koerant oopmaak sonder om ‘n aanval op die Christendom te moet aanskou nie. Dit lyk byna of daar ‘n samespanning is tussen die joernalistieke elite, heidense wetenskaplikes, Bybel- betwyfelende  godsdiens departemente by sommige universiteite, en skrywers en digters wat mekaar vertrap om uit die kas uit te klim.

Die punt wat ek wil maak is dat die wêreld besig is om te verander, en dat ons as Christen Gereformeerdes sterk en vol moed moet wees, in die wete dat God Almagtig is en dat ons die roeping het om Sy Woord en Sy Waarheid te versprei. My vraag is of ons hierdie roeping nakom, of ons Die Lig laat skyn en of ons nie soms agter die veiligheid van ons kerkmure teen die wêreld skuil in plaas van om hulle te bekeer en evangeliseer nie?

  1. Die Groot prentjie van makro veranderings in Suid-Afrika

 Dit is ongelukkig so dat die Suid-Afrikaanse staat oor die afgelope dekade geweldig verswak het terwyl die probleme waarvoor ons land te staan kom baie vergroot het. Dit is dus ‘n slegte kombinasie van groter probleme wat met ‘n kleiner vermoë aangepak moet word. Die verswakking van feitlik al die sleutel instellings van ons staat het meegebring dat die staat nie meer sy kernfunksie soos die beskerming van sy burgers kan uitvoer nie. Daarbenewens het baie ander instellings al so verswak dat daar landswyd opstande oor swak dienslewering uitgebreek het. Ons openbare skole en opleidings kolleges, hospitale, munisipaliteite, en veiligheidsdienste het dramaties verswak, sonder ‘n geloofwaardige vooruitsig op verbetering, en met die vooruitsig van versnelde verswakking nie uitgesluit nie. Hiermee is ek nie pessimisties nie. My bekommernis spruit uit die feit dat die oorsake van die verswakking so ‘n sentrale deel van die regerende party se ideologie en beleid is dat hulle dit nie sal kan verander nie. Ons minister van Arbeid sien nie in dat sy Transformasiebeleid ‘n groot deel van die skuld vir die bykans rewolusionêre gees onder die arm massas moet kry nie, en dreig inteendeel die privaatsektor met optrede omdat hulle gebrek aan sy transformasie model rewolusie sou veroorsaak.

Daarby het die demografiese omwenteling in die land agv die onbeheerste immigrasie van ongeskooldes en die emigrasie van hoogs geskooldes groot gevolge vir die land wat nog so nuut is dat dit nog glad nie deur beleidmakers (staat en  burgerlik) verreken is nie.

Die politieke en grondwetlike stelsel het ook verwagtings geskep waaraan die ekonomie nie aan kan voldoen nie, omdat 10% belasting betalers net nie vir almal kan sorg nie. Benewens die groter en groter las wat die produktiewe deel van die bevolking opgelê word, kry hulle ook bitter min vir hulle belasting geld, en moet hulle ten duurste vir privaat dienste betaal nadat hulle van die hoogste netto belasting in die wêreld betaal het. Dit is die belangrikste drywers van verarming in die wit gemeenskap, wat oa gesien kan word in die krimpende geskooldheid van hierdie groep wat op die langer termyn ook groot gevolge gaan hê. Dit ten spyte van die wit hoër middelklas se goeie ekonomiese aanpassing by die nuwe bedeling, ten spyte van die omwentelings.

Die groot jammerte van die groot Suid-Afrikaanse oorgang was dat die meeste van die Afrikaner se burgerlike instellings nie die politieke grondverskuiwing oorleef het nie. Vir die meeste mense was vangnette of sagte landings nie moontlik nie, en is dit ‘n belangrike deel van die verklaring van die reuse emigrasie na ander lande. Mense voel eenvoudig dat die land se staatsinstellings verswak en selfs kan verval, dat daar nie alternatiewe gemeenskap- instellings is nie, en dat daar dus nie vir hulle of hul kinders ‘n toekoms is nie. Die winsgedrewe privaatinstellings soos mediese fondse, privaat sekuriteit, ommuurde dorpe en privaat opleiding raak vir baie net te duur.

Ons sukkel vandag steeds om sterk burgerlike instellings met uitvoerende vermoë te skep, deels moontlik omdat die Afrikaner die slagoffer van sy eie suksesvolle modernisering was. Dié wat welvarend geword het op die golf van die vorige geslag se kollektiewe pogings om hulle gemeenskap ekonomies, polities en kultureel te bemagtig, het ‘n roepingsbesef  teenoor hul gemeenskap vir individuele welvaart verruil. Hulle probeer sekerheid met hul geld koop.

Die Gereformeerde Kerke sal dus in die toekoms hulle rol moet speel in ‘n verswakkende Suid-Afrika waar net die welvarendes op die medium termyn nog gehalte dienste sal kan bekostig, in ‘n omgewing waar die markekonomie en sy instellings onder ál groter linkse druk gaan kom, en waar baie welvarende lidmate en –individue bloot na hulleself gaan omsien.

Die vraag is wat die kerk se rol in so ’n toekoms gaan wees?

  1. Gevolge van die Suid-Afrikaanse omwenteling

 Dit lei nie twyfel dat daar in die SA omwenteling sekere wenners, maar ongelukkig ook sekere verloorders was nie. (Prof Pierre du Toit). Die wenners was oa die nuwe politieke en burokraties elite (op alle regeringsvlakke), die nuwe ekonomiese magnate en die opkomende swart middelklas, en diegene wat deur regstellende aksie bevoordeel is. Verder is die meer as 12  miljoen ontvangers van maatskaplike toelaes ook beter daaraan toe.

Daarby kom daar die 250 000 huishoudings met suksesvolle grondeise, die sowat 3 miljoen nuwe huiseienaars, en die miljoene wat groter toegang tot dienste gekry het.

Van die verloorders is wit mans, almal wat deur geweld getref is (310 000 dood en 700 000 verkrag en hulle gesinne), gesinne en families wat deur emigrasie geraak is, die 2,5 miljoen wat sedert 1994 aan Vigs gesterf het, en die miljoene wat steeds arm is of voel dat hulle nie genoeg by die demokratiese veranderings gebaat het nie.

By verre die belangrikste kategorie van verloorders in die nuwe Suid-Afrika is egter die kinders.  Onlangse navorsing deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasse-Aangeleenthede (South African Institute of Race Relations) het daarop gewys dat die meeste Suid-Afrikaanse huisgesinne onderhewig is aan intense kragte van sosiale ontwrigting, met meetbare gevolge in die vorm van gesinsverbrokkeling, –aftakeling en -verval. Die omvang hiervan word kortliks geskets.

In 2007 (die jaar waarna meeste van die volgende demografiese data verwys) is nagenoeg 3 679 000 kinders wees, hetsy met die sterfte van een of albei ouers.  Dit kom neer op ongeveer een uit elke vyf kinders.  Hierdie is ‘n stygende tendens, gesien die syfer van 2002 toe (slegs) 2 995 000 kinders wees was.  ‘n Stygende aantal van hierdie weeskinders verkry verdere versorging in omstandighede waar kinders (gedefinieer as 17 jaar en jonger) hoofde van huishoudings is.  Die aantal sulke huishoudings het met 25% vanaf 118 000 in 2002 tot 148 000 in 2007 gestyg.

Benewens kinders wat ouers verloor het deur sterftes, is daar ook huishoudings waar vaders wel lewe, maar wat hulle gesinne verlaat het.  Hierdie is ook ‘n stygende tendens in alle rassegroepe, behalwe die Indiër-bevolking, waar dit van 11% in 1993 tot 8% in 2002 gedaal het.  Onder swart/African gesinne het die persentasie afwesige vaders van 40% in 1993 tot 50% in 2002 gestyg, onder witmense vanaf 8% tot 11% in dieselfde jare, en bruines vanaf 32% tot 37% oor dieselfde tydperk.

‘n Verdere krag van verbrokkeling is egskeidings, waar die hoogste koers onder die wit bevolking is, en die laagste onder die swart/African bevolking is.  ‘n Laaste aspek van hierdie proses van sosiale verval is te vinde in die stygende patroon van enkelouerskap waar kinders gebore word buite familieverband en tienerswanger-skappe en -geboortes.  Die kumulatiewe effek van hierdie kragte is dat slegs een derde van alle Suid-Afrikaanse kinders groot word in huishoudings saam met albei hulle ouers.  Vier uit elke tien leef saam met net hulle ma, en bykans een uit elke vier (23%) leef sonder enige ouer, met ‘n skrale 3% wat groot word saam met net hulle pa. [1]

Bogenoemde beskrywing skets die buitelyne van ‘n nasionale krisis, wat verdiep het vanaf 2002.  Die sosiale omgewing van meeste kinders in Suid-Afrika is die produk van diepgaande sosiale ontwrigting.  Persoonlike faktore speel ‘n groot rol hierin, (soos in die geval van egskeidings), maar daar is groter sosiale kragte wat ook hierby betrek is.  Geweldsmisdaad, gemeet aan moord, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede is ter sprake.  Die verlies aan lewens deur VIGS en tuberkulose, saam met ander noodlottige siektes is ter sake.  Albei hierdie kragte is vervleg in die bykomende konteks skeppende werking van armoede en ongelykheid, werkloosheid, swak onderwys en korrupsie in die aanwending van openbare fondse vir lewering van maatskaplike dienste.

Bogenoemde paragraaf omskryf die kroniese sindroom van onderontwikkeling waarin baie Suid-Afrikaners verval is.  Hierdie sindroom se oorsprong kan nog een stap verder terug gevind word.  Die effektiewe bekamping van VIGS, tuberkulose en ander potensieël noodlottige siektes berus onder andere by effektiewe staatsdepartemente vir die lewering van openbare gesondheidsdienste.  So ook is die bekamping van misdaad terug herleibaar na ‘n effektiewe kriminele regstelsel, vanaf die polisiëring dienste tot die howe en tronke.  Armoede, werkloosheid en ongelykheid is die verantwoordelikheid van die regering van die dag, wat die opvoedkundige stelsel en die nasionale ekonomie moet bestuur om beide die skep van rykdom en die herverdeling daarvan te bevorder.  Kortom, ‘n sterk en effektiewe staat word benodig.  Maar, soos in die boek van Pottinger deegliks uitgewys word, is die nalatenskap van die nege jaar van die Mbeki-bewind juis die teenoorgestelde, die aftakeling van die staat in ‘n proses wat hy beskryf as de-modernisasie.[2]

Eweneens word ‘n sterk burgerlike samelewing benodig.  Die staat kan as ‘n aktiewe party lewensomstandighede bevorder vir die behoud en instandhouding van gesinne, soos hierbo aangedui.  Maar die staat kan nie mense motiveer om te belê in hulle huwelike nie, en kan nie mans verhoed om weg te loop van hulle vrouens en kinders nie.  Sosiale norme, gesetel in kulturele (hoofsaaklik godsdienstige) praktyke en instellings is net so belangrik.  Nie net gesinne nie, maar gemeenskappe moet hegter ingebind word, eerder as om uit te rafel en te atomiseer.  Dit verg die herskepping van sosiale kapitaal, waar persone mekaar intrek in sosiale netwerke van wedersydse hulpverlening gebaseer op die norme van wederkerigheid, onderlinge vertroue, en gelykheid.

Die politieke implikasies van verbrokkeling van die gesin en die basiese eenheid van sosiale samehorigheid, is belangrik.  Alhoewel op die oog af relatief verskuil van die openbare …

Derdens, gegewe bogenoemde, het hierdie krisis nie die potensiaal om Suid-Afrika weer langs dieselfde verdelingslyne soos voor 1994 te polariseer nie. Inteendeel, die kumulatiewe effek van bogenoemde kragte skep die vooruitsig van verbrokkeling eerder as fragmentasie.  Die verbrokkeling van gesinne, families, en gemeenskappe is die begin van hierdie proses, waar die basiese eenhede van sosiale orde afgetakel word.  Die volgende vlak van verbrokkeling is waar die sosiale samehorigheid en kohesie wat die burgerlike samelewing uitmaak, bedreig word.  Dit skep die basis vir die vestiging van nuwe, patologiese plaasvervangende eenhede van sosiale orde in die vorm van misdaad-sindikate en krygshere wat die grense tussen politiek en misdaad berekend aftakel.

Hierdie krisis is ook besig om die demokratiese skikking van 1994 af te takel.  ’n Vredesdividend wat oneweredige opbrengste oplewer, sigbare armoede, werkloosheid en die ooglopende en opvallende luukse lewenstyle van die nuwe élites, skep stygende frustrasie by die gewone publiek.  Tot onlangs is hierdie frustrasie getemper deur ‘n politieke kultuur onder die regerende party se ondersteuners waar lojaliteit nog beleidsmislukkings troef.  Straatpolitiek uit protes teen swak dienslewering het egter sedert 2004 ‘n standhoudende kenmerk van ons politieke landskap geword.[3]  Die ongelyke opbrengste van die vredesproses en die demokratiese skikking kom nou tot uiting in hierdie vorm van straatpolitiek juis op ‘n stadium wanneer die mense wat die meeste ontbeer die naaste is aan ontsnapping daaruit.  In formele terme is die drempel in 1994, met die demokratiese regstaat gehaal.  Die konkrete bereiking van ‘n beter lewe is ook tergend naby.  Baie het dit wel reeds bereik.  Maar vir dié wat dit nog nie het nie, word die ontbering des te meer pynlik hoe nader hulle aan die drempel kom.  Hulle ervaar die persepsie van verlies op ‘n intense manier wanneer iets wat sopas ingepalm is verloor word, en wanneer die bereiking van ‘n doel gedwarsboom word net wanneer dit amper bereik is.  Donald L. Horowitz se tweeledige hipotese is hier ter sake: “a grievance is most poignant when it is almost redressed”, en “the impetus for violence to seek a gain increases as the distance from the goal decreases.”[4]

Vir my wys al hierdie bogenoemde dat daar ‘n noodkreet in die land is vir die vestiging en die hervestiging van ‘n Christelik-gereformeerde waardestelsel wat die liefde van Christus na die stukkende gesinne en families moet bring.

  1. Ons Gereformeerde Erfenis

 My gevolgtrekking is dat daar as gevolg van die omwentelings in die wêreld en in ons land ‘n soeke en smagting na die Waarheid is. Dit bied ‘n ongeëwenaarde geleentheid aan ons as Gereformeerdes om ons lig te laat skyn in hierdie duisternis om ons. Maar dan moet ons nie net ‘n interne fokus hê nie, ons moet nie net met onsself besig wees nie, ons moet ‘n sterk eksterne fokus ook hê. Ons mense is soekend. As ons nie vir hulle die antwoorde gaan gee nie, gaan hulle dit op verkeerde plekke soek. Ons kerke word nie voller nie, maar Angus Buchan en Greta Wild se saamtrekke word goed bygewoon. En dan praat ek nie eers van al die ander sogenaamde antwoorde nie.

Ons leef vandag ín ‘n oop geglobaliseerde wêreld, waar die kommunikasie rewolusie dit nie meer moontlik maak om ongewenste inligting te beheer nie. Pornografie en duiwelsdrek is op enige selfoon of rekenaar te kry. In ons verbrokkelde gesinne maak die TV en Rekenaar meermale ons kinders groot, en nie meer die ouers en die Bybel nie.

Vir my as ‘n gewone gelowige kerkganger lyk dit soms of die teoloë die meeste oor die Bybel twyfel, wat die skape geweldig verwar. Dan sit ons ook in Afrikaanse geledere met die golwe van woede wat die wêreld laat losbreek oor die gelowige en sy kerke.

Daarom moet ons in hierdie Calvyn gedenkjaar weer opnuut kyk na ons Erfenis, en dit onbeskaamd en onbeskroomd uitdra met elke middel wat ons kan. Ons moet nie die heeltyd op die verdediging wees nie, ons moet  op die “aanval” wees. Ons maak te min van die wonderlike erfenisse van die Protestantse Hervorming. Ons roep nie meer ons mense genoeg op om hulle roepings na te kom nie, ons mag nie toelaat dat die negatiewe feite ons regeer nie, ons moet net op ons opdrag fokus. God is Almagtig. Ons moet nie te klein dink en te  min van onsself verwag nie. Wat keer ons byvoorbeeld om ‘n reuse beursfonds op die been te bring om Christelik-Gereformeerde onderwys op alle vlakke en in al sy  fasette te bevorder?

Ja, die wêreld is omgekrap, maar as Christen Gereformeerde gelowige voel ek rustig, omdat ek weet dat God regeer. Hy is Almagtig, en Hy beskik oor alles. Ons mag ons nie laat afskrik nie. Mag die Here ons help om ons roepings gehoorsaam na te kom. Kom laat ons sterk en vol moed wees.

 Bronne:

[1]     John Kane-Berman, “A Risk not Recognised”, Fast Facts, no. 7/2009, July 2009, p. 1; Gail Eddy, “Unhappy Families”, Fast Facts, no. 7/2009, July 2009, pp. 2-3.

[2] Brian Pottinger, The Mbeki Legacy, Cape Town: Zebra Press, 2008.

[3]    Doreen Atkinson, “Taking to the streets: has developmental local government failed in South Africa?,”  Buhlungu, S. et al., (eds.), State of the Nation, South Africa 2007, Pretoria: HSRC Press, 2007, pp. 53-77.

 

[4]   Donald, L. Horowitz, The Deadly Ethnic Riot, Berkeley: University of California Press, 2001, p. 343.

Twee Toekomsbeelde

Twee toekomsbeelde.

Dit is die jaar 3007. Die Professor kyk op haar horlosie. Dit is byna nog tien minute voor die klas begin. Sy kyk by die venster uit, verby die eeue oue geboue na die sneeubedekte berge van die pragtige Noorweegse Universiteitsdorpie. Haar nuutste boek speel juis in hierdie berge af. Sy dink aan vandag se klas, aan die vreemde versoek van die jong student wie se voorgeslagte blykbaar aan die warm Suidpunt van Afrika gebly het – waar hulle die taal gepraat het wat sy as ’n akademiese stokperdjie bestudeer. Afrikaans. As Taalhistorikus stel sy van ál die tale wat verdwyn het, die meeste in Latyn en Afrikaans belang. Sy weet nie hoekom juis dié twee haar nou eintlik interesseer nie. Moontlik omdat die beskawings wat hierdie tale gebruik het só suksesvol was voordat hulle soveel eeue na mekaar verdwyn het.

Terwyl die eerste van die klein groepie studente wat haar kursus in verdwene tale neem die klas binnekom, dink sy aan die student se versoek om vir hulle meer te vertel van dié taal en mense wat in die vorige eeu verdwyn het. Sy wou spesifiek weet of die uitsterf van die taal en die mense wat dit gepraat het ’n noodwendigheid was, en of dit anders kon gewees het- moontlik as daar ander keuses gemaak is. As Taalhistorikus was dit vir haar interessant om weer navorsing oor die geskiedenis van hierdie taal en sy mense te doen. Sy het selfs ’n vakkundige kollega in Suid-Afrika opgespoor wat haar na ’n paar ou mense verwys het wat die taal nog kon praat. By hulle het sy gehoor dat daar nog ’n paar duisend was wat Afrikaans kon praat en verstaan.

Maar, soos met die Romeine, is daar nie konsensus hoekom die taal en sy mense uitgesterf het nie. Uit haar navorsing is dit wel duidelik dat hulle die suksesvolste beskawing in Afrika was voordat hulle onder die golwe van die geskiedenis verdwyn het. Soos in die geval van die Romeine, het getalle skynbaar die deurslag gegee. Afrikaners het vanaf die begin van die vorige eeu af ’n bevolkingsínploffing beleef as gevolg van lae geboortekoerse en emigrasie, terwyl ander groepe se getalle nog vir ‘n paar dekades gegroei het. Baie van die geskiedenisboeke verwys negatief na die Afrikaners in hul voetnotas, na aanleiding van ’n sg. “Apartheidstelsel”  waarmee hulle vir ’n tyd die land beheer het. Hierdie tipe probleem kom egter maar steeds oor die hele kontinent voor. In die groter konteks van Afrika, lyk dit vir haar maar eerder soos ‘n belangebotsing tussen verskillende groepe, moontlik gekompliseer deurdat verskillende rasse daarby betrokke was.  Dit kon ook wees dat hierdie klein volkie maar gemaal is deur wiele van die wêreldkonflik tussen die grootmoondhede van daardie tyd.

Nie dat die probleme in dié gebied opgehou het met die beëindiging van die Koue oorlog en die koms van meerderheidsregering nie. Suid-Afrika het al hoe meer deel van Afrika en die probleme van Afrika geword. Die belangrikste rede vir die kwyning van Afrikaans en die Afrikaner blyk enkelkind gesinne en die toenemende emigrasie van jong Afrikaners te wees, skynbaar in reaksie op die Afrikanisering van die land en die gebrek aan ‘n toekomsbeeld  en geleenthede vir hulle. Mettertyd was Afrikaners, wat altyd dun verspreid oor die land was, se getalle feitlik orals so klein persentasie van die bevolking, dat dit nie prakties moontlik was om Afrikaans of Afrikaanse instellings in stand te hou nie. Daarom het hulle instellings toenemend die vorm van die bevolking begin aanneem. Afrikaners het later net tweetalige enkellinge geword, en is al hoe meer opgeneem in die meerderheid, en hulle waardes en oortuigings het algaande versmelt tot dit nie meer onderskei kon word van ander nie.

Op buitelandse gebied het sake ook drasties verander. Die permanente lede van die Veiligheidsraad van die VN, en spesifiek Indië, China en Brasilië, het al ‘n paar keer skerp gebots oor die grondstowwe van Afrika. Sedert die groot wêreldkonflik oor klimaatkwessies in die  veertigs, en namate Islam die meerderheidsgodsdiens in Europa geword het, het die VSA sy histories isolasionistiese beleid herontdek en sy neus grootliks uit die wêreldpolitiek gehou. Die tyd toe Westerse waardes, instellings en tale die gang van gebeure bepaal het, het ook verbygegaan en is verplaas deur dié van die nuwe wêreldmagte. En alhoewel niemand die term kolonisasie gebruik nie, is Afrika in die praktyk deur die grootmoondhede opgedeel in Indiese, Chinese, Brasiliese en Eurabiese (Versamelnaam vir Europa en Moslemlande)  “grondstofkolonies”.

Kon die geskiedenis van Afrikaans en die Afrikaner anders verloop het? Die vraag hang in die lug, en die nege studente kyk vraend na haar. Miskien-, miskien as die ANC nie na hulle oorname met ‘n struggle styl aanhou regeer het nie, miskien as die ou Afrikaner instellings nie platgeval het nie, miskien sou die jongmense gebly het as die ouer geslag vir hulle ‘n toekoms kon skep, miskien miskien. Maar die volk wat wêreldleiers op elke gebied opgelewer het, het verlam deur die ANC se beskuldigings oor die verlede, vertroue in homself en in sy toekoms verloor. Afrikaners het die atoom gesplit, harte oorgeplant, wêreldmagte op die slagveld gepak, globale sakeryke gebou, ‘n moderne taal ontwikkel, met die wêreldgrotes op elke gebied saamgepraat. Dit was een van die min volke wat homself binne die bestek van een geslag gemoderniseer het, wat oor ‘n stel tydlose waardes beskik het wat hom gedryf het om die hoogste prestasies op wetenskaplike, tegnologiese en kulturele gebiede te behaal, ver van die naaste ontwikkelde land af.

Daardie selfde volk het, ‘n geslag later, bykans nie meer kans gesien om ‘n Afrikaanse kleúterskool in stand te hou nie, en die jongmense het weggetrek toe ‘n Afrikaanse lewe nie meer moontlik was nie… Dié volk van groot idees en groot dade, se planne het té klein vir die probleem geword, planne wat buitendien nie behoorlik of betyds uitgevoer nie.

Die Professor bly nog diep ingedagte sit en peins lank nadat die studente die klas verlaat het, dan staan sy op en stap vinnig uit, sy moet nog gaan aandete maak…

Dames en Here, ek is daarvan oortuig dat hierdie negatiewe toekomsbeeld ons voorland is as ons nie iets drasties begin doen nie. Gelukkig is dit nog nie te laat nie, en kan ons nog baie doen. Gelukkig is daar genoeg tekens dat ons mense die verlamming van die afgelope dekade of wat begin afskud en dat hulle weer begin dink en doen. My grondliggende uitgangspunt is dat die toekoms van ‘n mens of ‘n volk ‘n keuse is wat gemaak word. Jy kies ‘n toekoms, en dan werk jy om dit te realiseer. Deur nie te kies nie, kry jy die toekoms wat ander vír jou kies.

Daarom hou ek graag ‘n positiewe toekomsbeeld aan u voor, waarna ek wil afsluit met ‘n kort fotobeeld van wat Solidariteit reeds in plek gesit het om die positiewe toekomskeuse ‘n werklikheid te maak.

Dit is die jaar 3007. Dit is ‘n groot jaar vir Afrikaans en die Afrikaner, want dis nou 400 jaar gelede wat Hendrik Bibualt die eerste was wat in die openbaar gesê het:” Ik ben een Afrikander”.

Die Afrikaner en sy taal het in daardie 400 jaar deur diep waters gegaan, maar ook hoë hoogtes bereik. Dit lyk of ons met elke eeuwending deur ‘n bestaanskrisis gegaan het, maar gelukkig nog elke keer sterker anderkant uitgekom het. Hier verwys ek na die krisisse van 1707, 1806, 1902, en die krisis rondom die jaar 2000.

Die krisis na die ANC se bewindsoorname in 1994 was sekerlik die Afrikaner se grootste bestaanskrisis. Alhoewel die koms van demokrasie aanvanklik met ope arms deur Afrikaners verwelkom is, het daar mettertyd ‘n ontnugtering ingetree namate die ANC al meer soos oorwinnaars in plaas van bevryders begin optree het. Terwyl daar nog steeds lippediens aan die Grondwet getoon is, het daar gaandeweg ‘n al hoe groter gaping tussen die grondwetlike teorie en die harde praktyk ontwikkel. Oorgangstydperke in Afrika duur sowat twintig jaar, en teen 2014 was die land al onherkenbaar getransformeer.

Maar waar talle waarnemers die Afrikaner en Afrikaans se ondergang voorspel het, het daar rondom die eerste dekade van die vorige eeu ‘n besliste wending gekom. Oor die redes daarvoor verskil mense dikwels, maar dis duidelik dat dit aan ‘n paar positiewe verwikkelings toegeskryf kan word.

Eerstens het Afrikaners ophou kla oor alles wat sleg gaan, en self verantwoordelikheid vir hulle toekoms begin aanvaar. Dit is asof die besef posgevat het dat elke geslag verantwoordelik is vir sy eie tyd, en dat die verskraling van Afrikaner strewes tot materiële welvaart alleen nie voldoende was om in Afrika te oorleef nie. Daar is al meer besef dat ‘n groep  welvarende Afrikaanse individue nie dieselfde as ‘n suksesvolle gemeenskap is nie.

Die keerpunt het gekom toe die besef posgevat het dat ‘n klein gemeenskap sterk en lewenskragtige instellings nodig het om in ‘n oop samelewing te oorleef en te floreer. Afrikaners kon nie meer wag op die regering of statutêre leiers om vir hulle rigting te gee nie, want minderhede het nie amptelike leiers of gesagstrukture nie. Gemeenskappe wat nie wil of kan ontbind nie, moet sterk burgerlike instellings stig met die nodige uitvoerende vermoë om noodsaaklike dienste aan hulle gemeenskap te lewer.

Anders as die Afrikaner se vroeëre suksesverhale, was daar nie hierdie keer ‘n sentrale leier, -organisasiestruktuur of strategie wat tot ‘n oplossing gelei het nie. Die slagspreuk was eerder volksveelheid as volkseenheid. Dit was meer ‘n losse beweging as ‘n vaste plan wat gevolg is. Dit het begin as ‘n paar klein stroompies wat eers onseker- maar later al sterker en met meer selfvertroue saam begin vloei het. Die sukses was te wyte aan ‘n kombinasie van trek en stootfaktore. Namate makliker niksdoen opsies misluk het en die moeiliker selfdoen opsies meer suksesvol geraak en momentum begin kry het, het mense moed geskep en het daar ‘n spontane Afrikaner herlewing gekom.

Grondwetlike regte is opgeëis en in die praktyk omskep met sterk instellings, sodat dit nie net papierregte gebly het nie. Afrikaners  het die demokratiese ruimtes wat daar vir hulle oop was ten volle begin benut en verder verruim, en besef dat hulle slegs kan help om die land te laat slaag as hulself as ‘n gemeenskap suksesvol is. Selfs die regering het mettertyd ingesien dat Afrikaners wat die ruimte het om voluit hulself te wees, terselfdertyd ook die beste Suid-Afrikaners is.

Afrikaners het begin insien dat hulle meer van hulself moet verwag. Ou ideale is omskep in nuwe drome,  ou idees is hersien volgens nuwe werklikhede, omgesit in vars idiome en daarna met lewenskragtige instellings nagejaag en tot werklikhede omskep. Hulle het ingesien dat geskiedenis gemáák word, en nie vanself gebeur nie.

Na vele probeerslae, het daar ‘n oorkoepelende Afrikaner sambreel liggaam tot stand gekom wat ruimte gebied het vir almal se standpunte, maar wat op ‘n geloofwaardige manier aan oplossings gewerk het. Daaruit het ‘n organisatoriese herskikking voortgespruit, en funksionele organisasies is op sleutelgebiede gestig terwyl ander opnuut belyn is sodat noodsaaklike dienste op maatskaplike, onderwys, en kulturele gebiede gelewer kon word.

Hierdie dienste is op ‘n koöperatiewe sake grondslag gestig, en daar is bv ‘n netwerk Afrikaanse privaatskole reg oor die land gestig. Daarmee saam het kolleges ontwikkel wat Afrikaanse beroepsopleiding verskaf het, terwyl daar ook regsfondse ontstaan het wat die Afrikaanse gemeenskap se regte in die howe verdedig het waar nodig. ‘n Skakelkantoor of Taal ambassade is in Europa geopen wat die bande met ons stamlande versterk het, en mettertyd tot groot materiële hulp met die befondsing van die strategie gelei het.

Daarmee saam is organisasies wat bande met die Diaspora gebou het versterk, en het hierdie wêreldwye bande as ‘n groot hulpmiddel gedien om suksesvolle strukture in Suid-Afrika op te rig. Namate die situasie vir Afrikaners in Suid-Afrika verbeter het, het duisende kinders van die oorspronklike emigrante na die land teruggekeer en aan ‘n nuwe toekoms help bou.

Sakelui het ook begin om Afrikaanse jongmense te help deur ondernemerskap onder hulle te bevorder, terwyl ‘n navorsings instituut opgerig is wat ‘n groot bydrae gelewer het om paaie oop te dink en te studeer. Gemeenskapsradio’s is mettertyd landswyd op die Amerikaanse model opgerig, en het ‘n groot rol gespeel om samewerking onder Afrikaners te bevorder. ‘n Vrywillige gemeenskapsbelasting is ingestel om almal toegang tot die netwerk van dienste te gee en die aktiwiteite te befonds.

Daar is ook alliansies en vennootskappe met ander gemeenskappe gevorm, en ‘n hoogtepunt was die skakeling met ander groepe in Afrika via die Afrika Unie. Afrikaanse burgerregte groepe het na aanvanklike konfrontasie met die regering uiteindelik daarin geslaag om suksesvol met hulle oor knelpunte te onderhandel, en die regering het mettertyd besef dat ‘n suksesvolle Afrikaner gemeenskap in landsbelang is. ‘n Reeks Opvolgskikkings is gesluit.

Groot moeite is ook gedoen om die armoede en werkloosheid in die swart gemeenskap te verlig, en daar is ten alle koste teen isolasie gewaak.

Die geluk was dat daar nie baie van nuuts af gedoen moes word nie, omdat die basiese boustene vir die plan reeds bestaan het en dit net belyn of heraktiveer is. Na net meer as tien jaar is die droom bereik van ‘n  selfstandige Afrikaner gemeenskap met selfdoen instellings wat sy selfstandigheid op elke terrein ondersteun en inhoud daaraan gegee het.

Mag ek afsluit met ‘n kort fotobeeld van die boustene wat Solidariteit reeds in plek begin kry het omdat ons die positiewe toekoms gekies het, en wil ek terselfdertyd ook erkenning gee vir dit wat ander organisasies reeds in plek gesit het.

 

 

 

 

Versoening en Verwydering?

Die deelname van verskillende groepe aan die nasiebou- en versoeningsaktiwiteite, en die redes waarom gesamentlike deelname nie spontaan plaasvind nie.

 Inleiding en padkaart

Afrikaners is ʼn inheemse volk van Afrika met ʼn geskiedenis van meer as 350 jaar op die vasteland. Daarom praat ek vandag hier as ʼn inheemse en oortuigde Afrikaner, Suid-Afrikaner en Afrikaan. Ek het nie ʼn tweede paspoort nie – en beplan nie om een te kry nie. Selfs die ANC het verlede jaar in ʼn besprekingsdokument oor die sg. “nasionale vraagstuk” hulself só oor die Afrikaner se verbintenis tot Afrika uitgelaat: “It is becoming clearer and clearer that white Afrikaners have a different emotional, psychological and material relationship to Africa and South Africa compared to other whites”.

Daarom is dit belangrik dat hierdie simposium besin oor geskiedkundige vraagstukke soos die land se verdeelde verlede, omdat dit van groot betekenis vir ons almal se toekoms is. Ek wil graag op die volgende punte klem lê:

  • Die 1994-skikking en versoening;
  • Vervreemding tydens die Mbeki-era;
  • Bywoning van nasiebou- en versoeningsaktiwiteite;
  • Die geskiedenis as slagveld?
  1. Die 1994-skikking en versoening

Die meeste Afrikaners was in 1994 optimisties oor die toekoms, en het geglo dat hulle grondliggende belange met die koms van die nuwe bedeling veilig sou wees. Leiers het hoog opgegee oor die “Suid-Afrikaanse wonderwerk” en “die beste grondwet in die wêreld” wat almal se regte sou beskerm en verskans. Dit was veral die grondwetlike beskerming van Afrikaans se amptelike status wat ʼn groot rol in die gerusstelling van leidende Afrikaners oor die nuwe bedeling gespeel het.  Huntington het in sy “Clash of Civilizations” betekenisvol verklaar dat sprekers van minderheidstale in ʼn veeltalige land nie omgee om die verbindingstaal te praat nie, solank die voorwaardes bestaan vir die voortgesette ontwikkeling en groei van hul eie taal op terreine soos onderwys en die universiteitswese.

Die oorgangsfase na die verkiesing was dan ook gekenmerk deur president Mandela se versoeningspolitiek. Hierdie beleid was daarop gemik om blankes gerus te stel, en ʼn gladde en vreedsame oorgang na swart regering te bewerkstellig. In hierdie fase is daar ook groot veranderings in die ANC se ekonomiese beleid aangebring, weg van sosialisme en kommunisme na die GEAR-program, wat ʼn sentrum linkse vryemark stelsel in Suid-Afrika gevestig het.

Die Mandela faktor, die euforie oor die nuwe Grondwet, die aanvaarding van GEAR en die feit dat die  ANC-regering in die oorgangsfase téén pessimiste se negatiewe verwagtings in nie die land dramaties in die grond in regeer het nie, het geweldig baie tot versoening en die geloofwaardige vestiging van die nuwe bedeling bygedra en blankes gerusgestel dat daar nie veel sou verander nie. Prof. Wessel Visser, historikus van Stellenbosch, meen daar was ʼn gevoel van verligting in die lug, ʼn kunsmatige gevoel dat diepliggende verskille skielik en wonderbaarlik verdwyn het, en dat ʼn nuwe Suid-Afrikaanse nasie nou tot stand gekom het, veral na die 1995 oorwinning van die rugby wêreldbeker.

In die besonder is die wit elite deur al hierdie gebeure gepaai, en veral wit sakelui, akademici, medialeiers en politici het gevoel dat hulle grondliggende belange deur die grondwet beskerm was. Die nuwe regering het slim daarin geslaag om die ou wit gesagsorde te koöpteer as deel van die nuwe magselite terwyl hulself regeringservaring kon opdoen. Groot klem is op grondwetlike beginsels en nie-rassige beleidsrigtings gelê. Regstellende aksie in hierdie tydperk was hoofsaaklik daarop gemik om ʼn nuwe leierskorps – wat regeringsbeleid in die staatsdiens en openbare sektore sou uitvoer – te vestig en om onbillikhede van die verlede reg te stel.

Na die aanvaarding van die finale grondwet en die verkiesing van mnr. Mbeki as staatshoof het die transformasie-era aangebreek, met die ANC se mag nou sterk genoeg gevestig. Die ANC het deur demokratiese verkiesings en grondwetlike meganismes sy beheer landwyd op alle gebiede gevestig, en die klem het gaandeweg vanaf die grondwet en versoening begin skuif na die transformasie van die land en sy instellings volgens proporsionele rasseteikens. Prof. Wessel Visser meen dat die Mbeki presidentskap se program van versnelde Afrikanisering onder die vaandel van transformasie, gaandeweg ʼn groot ontnugtering oor die nuwe Suid-Afrika by die  gemiddelde Afrikaner laat posvat het.

Professor Lawrence Schlemmer se navorsing het daarop gedui dat ʼn kommerwekkende vervreemding sedert 1994 tussen die Afrikanergemeenskap en die nuwe politieke orde ontwikkel het. Sy gevolgtrekking was dat die gemiddelde Afrikaner “afgeskakel’ (switched off) en uitgerangeer voel en nie veel meer in die hoofstroom (swart) Suid-Afrika belangstel nie. Die invloedryke Ton Vosloo van Naspers het in 2002 opgemerk dat dit nie ʼn poging is om paniek te veroorsaak as mens sou sê dat die Afrikaner in ʼn krisis verkeer nie, met rooi ligte wat op sy bestaanspad flikker.

Hierdie ontnugtering spruit waarskynlik uit ʼn gevoel by baie Afrikaners dat die nuwe bedeling nie aan hulle optimistiese verwagtings van 1994 voldoen het nie, en spyte van die middelklas se suksesvolle aanpassing op ekonomiese gebied. In 1994 was die meerderheid Afrikaners oortuig van die noodsaak dat swartmense volle politieke regte moes hê, maar het hulle teen die eeuwending bekommerd geword dat die politieke veranderings verder as gelyke regte gegaan het en dat baie van hul eie regte nou bedreig was. Afrikaners wou ʼn volle en gelyke demokrasie hê, maar het nie verwag dat hul eie demokratiese regte min gewig sou dra of dat hulle hul politieke invloed heeltemal sou verloor nie. Hulle het aanvaar dat die swart geskiedenis sy regmatige plek sou moes inneem, maar het nie verwag dat hulle eie geskiedenis bykans gekriminaliseer sou word nie. Hulle het begrip gehad vir die ANC se  siening dat húlle plekname en erfenisse groter erkenning moes kry, maar wou nie hê dat Afrikaanse plekname en historiese erfenisse voor die voet verander moes word nie. Afrikaners het gedink dis niks minder as reg nie dat die inheemse swart tale die geleentheid moes kry om hulle volle potensiaal te verwesenlik, maar kon nie sien waarom Afrikaans in ‘n proses van verengelsing benadeel moes word nie. Afrikaners het begrip gehad vir die regstelling van dit wat verkeerd was, maar verwerp die misbruik daarvan om Afrikaanse instellings te verengels en onder swart beheer te bring dmv die beginsel van (rasse) “verteenwoordigendheid”.

Hierdie groeiende gaping tussen ʼn mooi grondwetlike teorie en harde praktyk is treffend verwoord deur meningsleiers soos professor Francois Venter van Potchefstroom, ʼn grondwetlike regsgeleerde en een van die argitekte van die nuwe bedeling. Hy het reeds in 2002 die stelling gemaak dat “Die ANC van vroeg in die negentiger jare vir hulself langtermyn ideologiese doelwitte gestel het, en dit raak al hoe duideliker dat van daardie doelwitte steeds sonder kwalifikasie nagestreef word. In die onderhandelingsproses is ʼn aantal toegewings gemaak ten einde beheer oor die staat te kry, sodat hulle dan die middele van die staat kon gebruik om stelselmatig hul oorspronklike doelwitte te verwesenlik.”

Hierdie “voortsetting van die struggle deur staatsmag” word ten beste illustreer deur die deurlopende druk op Afrikaans as openbare taal, kulturele vandalisme soos die gedwonge verandering van plekname soos Pretoria en Potchefstroom, planne vir ʼn magsgreep by die Kaapse metro, die hantering van sekere grondverdelingsaksies, die toepassing van regstellende aksie, en veral ook die hantering van die geskiedenis van die Afrikaner.

Al hierdie gebeure het ʼn groeiende kommer by talle Afrikaners laat ontstaan dat die historiese skikking van 1994 in baie opsigte bykans vervang word met ʼn “wenner-vat-alles” benadering wat nie ruimte vir minderhede se sienings bied nie.

 

  1. Bywoning van nasiebou- en versoeningsaktiwiteite

 Dit bring my by die bywoning van nasiebou- en versoeningsaktiwiteite, en in besonder die bykans algehele afwesigheid van witmense by openbare feesdae. Spontane deelname aan nasiebou- en versoeningsaktiwiteite sal waarskynlik net plaasvind as almal voluit deel daarvan voel. As bepaalde groepe egter voel dat hulle uitgesluit word en dat die fokus en tema van die nasionale feesdae net op ʼn sekere groep gemik is, sal hulle uiteraard nie spontaan deelneem nie. Soos Wessel Visser dit stel: “Afrikaners word nie gelok deur ʼn nasiebou-benadering van één geskiedenis, één Engelse taal en één patriotiese party nie”.

‘n Voorwaarde vir spontane deelname is dus dat alle groepe se sensitiwiteite verreken moet word, in die besonder op godsdienstige-, politieke- en kulturele gebiede. Daarvoor is behoorlike raadpleging nodig, en nie weer die een of ander vorm van elite skikking nie.

ʼn Voorvereiste vir betrokkenheid is dus dat daar demokratiese ruimte vir almal moet wees. Ek het aan die begin gesê ek is van geboorte en uit vrye keuse ʼn Afrikaner, ʼn Suid-Afrikaner én ʼn Afrikaan. Al wat die meeste Afrikaners wil hê is die demokratiese ruimte om voluit Afrikaners te wees, dan sal hulle voluit Suid-Afrikaners wees – die beste wat daar in die wêreld is. Maar kry ek die gevoel dat ek die ruimte om Afrikaner én eersteklas Suid-Afrikaner te wees misgun word, verloor ek my entoesiasme vir nasiebou en nasionale feesdae op daardie voorwaardes. Miskén een van my identiteite, en daar bou daar ʼn weerstand teen die ander op. Soos dr. Pieter Mulder dit gestel het: “As die prys van Suid-Afrikanerskap my Afrikanerskap is, dan is die prys te hoog”. Dan is dit soos Samora Marchal sou gesê het: “for the nation to grow, the tribe must die”. As almal egter die demokratiese ruimte het om hul eie identiteite voluit uit te leef, sal hulle ook voluit hulle Suid-Afrikaanse identiteit uitleef en spontaan deelneem aan nasiebou aksies. Daarom is my beroep op demokratiese ruimte vir ʼn balans tussen ewe belangrike identiteite.

Spontane deelname sal nie gebeur as nasionale feeste uit die oogpunt van die Afrikaner gemeenskap as ‘n tipe “oorwinningsfees” beleef word, of as die verlede aangebied word as die verhaal van helde en skurke, of as mense voel hulle het nie ‘n gelyke plek in die toekoms van hierdie land nie. Daar kan tog nie van die Afrikaner verwag word om feesdae by te woon waar hulle en sy geskiedenis as gerieflike politieke slaansakke gebruik word nie, waar die ANC se weergawe van die geskiedenis as die enigste en amptelike weergawe aangebied word, en waar hierdie vertolking van die verlede gebruik word om omstrede aspekte van die regering se huidige en toekomstige beleid te regverdig nie. En as ek die Afrikaner van die verlede verdedig, wil ek regtig nie beskuldig word dat ek terugverlang na die verlede of dat ek die onverdedigbare wil verdedig nie. As ek na sommige dinge uit die verlede kyk wil ek uitroep soos Maarskalk Petain in April 1940, toe hy verklaar het dat: ”France is in need of defeat. Defeat is necesarry for her regeneration. Vicory would strenghen the political regime which had led her to moral ruin. Anything is preferable to the contuinuation of so a perfidious a regime”. Maar Petain was verkeerd; sy optrede het die Nazi’s gehelp om Frankryk oor te vat.  Natuurlik is daar groot foute in die verlede gemaak, maar aan die ander kant word daar nooit erkenning gegee vir dit wat wel reg gegaan het nie. Ons voorouers was beslis nie supermense nie, maar was beslis ook nie kriminele nie. Hulle was net gewone mense wat in ongewone omstandighede foute gemaak het, maar ook buitengewone wêreldklas prestasies opgelewer het. Dit is veral nie regverdigbaar dat die Afrikaner verantwoordelik gehou word vir alles wat in die land fout gegaan het nie. Suid-Afrika is deel van Afrika, en is deel van die probleme van Afrika wat onderontwikkeldheid veroorsaak het soos oorbevolking, die status van vroue, en gebrek aan ‘n ondernemerskapkultuur. Soos Ali Mazrui, die Nigeriese akademikus opgemerk het: “Africa as a whole borrowed the wrong things from the West – even the wrong components of capitalism. We borrowed the profit motive, but not the entrepreneurial spirit. We borrowed the acquisitive appetites of capitalism, but not the creative risk taking.

Verder kan ons nie mense regverdig buite hul tyd oordeel, sonder om terselfdertyd ook die invloed van ‘n bepaalde era se strategiese konteks, (bv die koue oorlog) of historiese stroomversnellings soos dekolonisasie, of traumatiese gebeure soos die konsentrasiekampe te verreken nie.

Die meeste mense het maar ‘n selektiewe geheue as dit by die verlede kom. Kyk hoe hoogheilig was die Britte teenoor die regte van andere wat die Voortrekkers aan die Oosgrens sou geskend het, maar kyk na hulle eie rekord met die Konsentrasiekampe meer as ‘n halfeeu later. Die ANC is lief daarvoor om die Afrikaner se verlede te fynkam en te vergelyk met vandag se hoogste standaarde, maar is self taamlik vergeetagtig wanneer dit kom by die veel erger vergrype van bv Stalin of baie Afrika lande en leiers. Mag ons nooit van die ANC hoef te sê soos Talleyrand teleurgesteld gesê het van die Franse Koningshuis na die eerste abdikasie van Napoleon en die koningskap herstel is nie:” Die Koningshuis het niks vergeet en niks onthou nie”.  Ek kan my ook nie herinner dat iemand in hogere kringe al onthou het van die tragiese geskiedenis van slawerny in Afrika wat betref die verslawing van mede-Afrikane nie.

Daarom moet ons maar die verlede soos Paul Kruger hanteer: “Neem uit die verlede alles wat goed en mooi is, vorm daarna jou ideaal en streef dan om dit in die toekoms te verwesenlik”. Soms is ek in die SA konteks bekommerd oor ‘n benadering van: soek in die verlede  na dit wat ons kan verdeel, vorm daarna jou politieke beleid en streef dan om in die toekoms daardie foute te herhaal!

Dis vandag mode om die Afrikaner van 1834 te meet teen 2006 se voorste menseregte ideale, wat nou nog nie eers op ‘n kwart van die planeet alledaagse praktyk is nie! Ten spyte daarvan is dit insiggewend om te lees dat artikel 5 van Retief se Manifes van 1837, uitdruklik teen slawerny stelling ingeneem het, byna 30 jaar voór die Amerikaners eers ‘n burgeroorlog klaar moes veg om dit af te skaf. Artikel 10 van die ZAR Grondwet van 1858 se verbod op slawerny en slawehandel was ook voór die Amerikaanse burgeroorlog (1861-1865) al wet.

ʼn Misbruik van die geskiedenis om by ʼn politieke beleid te pas het al geweldige skade aangerig. In sy ergste vorme kan dit tot die ontbinding van die geteikende groep lei, en ʼn roepe na wraak by die verontregte groep. Die geskiedenis of die misbruik daarvan is ‘n kragtige wapen, wat groter verwoesting as ‘n kernbom kan aanrig. Aktivistiese historici wat altyd net wil aanval (Offence is the rule of war-Foch) kan dit as ‘n wapen probeer misbruik om selfs die moontlikheid van ‘n liberaal-demokratiese Afrikaanse herlewing te voorkom of om onbillike diskriminasie te regverdig. My bekommernis is verder dat die transformasie stoomtrein nie net tot instellings beperk is nie, maar ook tot die geskiedenis.

My siening is dat daar nooit net een objektiewe en korrekte weergawe van die verlede kan of selfs hoef wees nie. Ons sienings word mos gekleur deur ons opvoeding, lewenservaring en ideologiese uitgangspunte. Bergman het seker nie verniet gesê ‘n ideologiese standpunt is ‘n waarde oordeel wat as ‘n feitlike stelling aangebied word nie! Ons stem  nie eers oor die hede en die onmiddelike toekoms saam nie, hoe moet ons nou saamstem oor die verlede! Terloops, hierdie tipe stelsel word demokrasie genoem!

Wessel Visser meld tereg dat Afrikaners oor die algemeen die politieke, maatskaplike en kulturele grondverskuiwings in Suid-Afrika as traumaties beleef en beleef het, en soos die emigrasiesyfers toon, het baie dit selfs onhoudbaar gevind. Dit alles beteken nie dat Afrikaners ʼn frustreerde, angstige en ontnugterde minderheid is wat alle vorms van verandering nou probeer dwarsboom nie. Dit is eerder ʼn teken van ʼn gemeenskap wat soms moeisaam, soms opgeruimd deur reusagtige historiese omwentelings en stroomversnellings worstel, terwyl hulle hulself met hul verlede en toekoms probeer versoen!

  1. Afsluiting

Om op te som: die hede is onseker, die toekoms is nie meer wat dit was nie, en selfs die verlede is nie meer veilig nie! As ek aan die volgende geslag dink, is ek meer bekommerd oor die verlede as oor die toekoms. As die volgende geslag Afrikaners die ANC weergawe as dié weergawe aanvaar, moet ons nie verbaas wees as ons kinders teen ons in opstand kom en alles waarvoor ons staan verwerp nie. Dit het al in ander lande gebeur. Hoeveel keer moes ek nie al hoor hoe jongmense kwaad sê dat hulle nou gestraf word vir die sondes van die vaders nie. Die vraag is of hulle agv skool leerplanne en die media nou reeds alles glo oor die vaders se sondes? Ek sê natuurlik nie dat ons vaders sonder sondes was nie, maar soos Alan Paton in 1985 tydens die Hoernlé gedenklesing gesê het:” If you liken Apartheid SA to Nazi Germany, that is a prostitution of language”. Die vraag is verder of die maklike emigrasie van baie Afrikaanse  jongmense reeds iets te doen het met ‘n verwerping van hulle geskiedenis?

Daarom is die beoogde Erfenis sentrum van die allergrootste belang om balans en perspektief vir ons jongmense te bring. Daar is tog nie ‘n toekoms vir ‘n gemeenskap wat homself haat vanweë ander se weergawe van sy verlede nie.

 

Die Afrikaner is dood, lank leef die Afrikaner!

Tien jaar ná die instelling van algemene demokrasie in SA is dit noodsaaklik dat ons as Afrikaners voorraad opneem van ons situasie, eerlik met onsself wees oor die impak van die omwentelings op ons as  gemeenskap, en dan koel en kalm vir die toekoms begin beplan. Ons as Afrikaners mag ons nooit selfsugtig isoleer nie, maar dit is uiters noodsaaklik dat ons ‘n slag na ons eie situasie begin kyk, natuurlik sonder om perspektief op die groot Suid-Afrikaanse prentjie te verloor. In die kort tydsbestek van ‘n halfuur waarin ek hierdie gewigtige onderwerp moet behandel, sal u begrip daarvoor hê as ek vinnig oor ingewikkelde sake gaan, wel wetende dat dit nie volledig behandel word nie, en dat daar uiteenlopende menings oor dit waaroor ek praat mag wees.

Daarom gaan ek in my toespraak stilstaan by enkele hoofpunte. In die eerste plek wil ek kyk na die vraag of die Afrikaner in die nuwe bedeling gekry het waarna hy so lank gestreef het, naamlik ‘n regverdige Suid-Afrika waarin daar plek is vir al sy mense, met gelyke regte vir almal, en waarin ook Afrikanerbelange veilig is. (Definisie: almal wat hulself sien as Afrikaners). Tweedens wil ek stilstaan by die strategiese kwessies en knelpunte wat ons sal moet verreken in die beplanning vir die volgende dekade en meer, en derdens wil ek ‘n paar breë vertrekpunte noem vir ‘n lewenskragtige Afrikanergemeenskap wie se grondliggende belange veilig is en wat sy plek kan volstaan in Suid-Afrika.

 

  1. Die uitkomste van die nuwe bedeling

My toespraak fokus op die impak van die nuwe bedeling op die Afrikaner, en nie op nasionale suksesse soos die regering se vryemark ekonomiese beleid nie. ‘n Bedeling word nie gemeet aan die voorgaande goeie bedoelings, mooi grondwetlike formulerings, of huidige regeringsgerusstellings nie, maar aan die uitkomste daarvan. Hier laat ek die uitspraak oor aan een van die belangrikste argitekte van die nuwe bedeling, mnr FW de Klerk, toe hy verlede maand voor die Kaapse Persklub gesê het dat dit duidelik geword het dat sy bekommernisse oor die toekoms van minderhede wel deeglik gegrond was. Volgens hom is dit ‘n realiteit dat witmense en ander minderhede toenemend ontmagtig voel, en vra hy wat anders as dominasie dit is as die swart meerderheid die agenda dikteer vir die wit, Indiër en bruin minderhede, en hulle kernbelange daardeur negatief geraak word?

Volgens mnr de Klerk is die konsep van “verteenwoordigendheid” onversoenbaar met die grondwetlike beginsel van kulturele verskeidenheid. Hy sê dat in ons multikulturele gemeenskap “verteenwoordigendheid” daarop sal uitloop dat die meerderheid elke faset van minderhede se lewens sal beheer, of dit nou in hulle werk, skole, universiteite of hulle sport is.

Kyk mens na die probleme met Afrikaanse onderwys, die druk op Afrikaans as taal, die onbillike diskriminasie wat onder die vaandel van regstellende aksie gepleeg word, die emigrasie van soveel Afrikaanse jongmense en hoogs geskooldes wat nie meer ‘n toekoms hier sien nie, die ontmagtiging van Afrikaners en Afrikaanse instellings onder die dekmantel van transformasie, dan kan mens nie anders as om saam te stem met mnr de Klerk se uitsprake nie.

Die vraag is dan wat wou die oorgrote meerderheid Afrikaners tien jaar gelede gehad het, en wat het hulle gekry? Kom ons kyk bietjie in meer detail wat die groot meerderheid Afrikaners tien jaar gelede op verskillende terreine wou hê, en dan wil ek ‘n mening waag oor wat hulle voel hulle gekry het op dieselfde terreine. My mening is dat hulle wou hê dat swartmense volle regte moes kry, maar dat hulle tien jaar later bekommerd voel dat die omwenteling verder as gelyke regte gegaan het en dat baie van hulle eie regte nou in gedrang is.

Hulle het stemreg vir swartmense gegun, maar is nou bekommerd dat hulle eie stemreg tien jaar later in die praktyk bitter min invloed oor het. Hulle wou ‘n volwaardige demokrasie hê, maar voel nou dat hulle eie demokratiese regte oordonder word. Hulle het gemeen dis niks anders as reg dat swartmense volle burgerregte en gelyke geleenthede kry nie, maar voel nou baie dat hulself soos tweede klas burgers behandel word. Hulle was bly oor die grondwet se gelyke wegspring vir almal, maar sien dat gelykheid nou beteken dat almal gelyk by die wenpaal moet uitkom. Hulle het gestem vir die afskaffing van rassediskriminasie, maar voel nou dat hulle die teiken daarvan geword het. Hulle het gemeen dit is net regverdig as die inheemse tale hul volle potensiaal verwesenlik, maar het gemeen dat dit bereik kon word sonder om Afrikaans te marginaliseer. Hulle het saamgestem dat swartmense ekonomies bemagtig moet word, maar is nou bekommerd dat hulleself in die proses ontmagtig kan word. Hulle wou die ANC-bannelinge uit die buiteland laat terugkeer, maar wou nie hê dat die omstandighede só moes verander dat hul eie geliefdes tien jaar later landuit sou stroom nie. Hulle het gevoel dat Afrikanerbeheer oor die staatsmedia nie geregverdig kan word nie, maar wou dit nie net deur ANC-beheer vervang nie. Hulle wou hê dat swartmense hulle regmatige deel van die belastinggeld moes kry, maar wou nie self hul billike deel verloor nie. Hulle het aanvaar dat die “swart” geskiedenis sy regmatige deel in die son moes kry, maar wou nie die Afrikaner s’n bykans gekriminaliseer sien nie. Hulle het begrip vir die ANC se standpunt gehad dat hul plekname en erfenisse groter erkenning moes kry, maar wou nie hul eie historiese name en erfenisse laat uitskuif nie. Hulle het die noodsaaklikheid van die verbetering van swart onderwys ingesien, maar voel dat die ANC nou beheer van die Afrikaner se onderwys op alle vlakke oorgeneem het en dit begin verengels en domineer. Afrikaners het begrip vir die regstelling van historiese ongelykhede gehad, maar voel gegrief deur die misbruik daarvan om instellings te verengels en dit deur die ideologie van verteenwoordigendheid onder swart beheer te bring. Afrikaner kiesers het vrywillig minderheidsbeheer vir ‘n demokratiese regstaat verruil, maar baie voel tien jaar later uiters bekommerd dat die land in ‘n transformasiestaat begin verander.

Ek wil my siening oor waar die Afrikaner tien jaar ná demokrasie staan opsom deur te sê dat ‘n breë onrustigheid besig is om pos te vat dat die ANC die historiese 1994 ooreenkoms in belangrike opsigte begin verbreek. Dat Afrikanerbelange onder die dekmantel van regstelling benadeel word, dat die noodsaak om weg te beweeg van Apartheid as verskoning gebruik word om meerderheidsdominasie te regverdig, dat die demokrasie in die lig van die getalleverhoudings soms misbruik word om minderheidsgroepe te ontmagtig in plaas van te beskerm, dat verkiesings misbruik word om Afrikanerbelange by die stembus “demokraties” te oorweldig, dat Afrikanerbelange nie net ly onder regstelling of die onbedoelde gevolge van die nuwe bedeling nie, maar dat daar ‘n element van doelbewuste marginalisering teenwoordig is, dat die Afrikaner nie seggenskap het oor die aanwending van sy belastinggeld wat gebruik word om beleidsrigtings wat hom benadeel te befonds nie,  dat die ANC sy “struggle” met behulp van staatsmag voortsit, dat die noodsaak van nasionale eenheid gebruik word om ANC oorheersing en die afwatering van diversiteit te regverdig.

Mnr Mbeki het al tereg opgemerk dat die belange van swart en wit in Suid-Afrika interafhanklik is. Die probleem wat gevolglik uit voorafgaande ontleding voortspruit, is dat enige beleidsrigting wat die Afrikaner in die naam van transformasie benadeel ook die Afrikaner ontmagtig om sy deel te doen om die massa arm swartmense in hierdie mooi land te  help en te ontwikkel. Mag ek opsom deur te sê dat nieteenstaande al die goeie vordering op baie gebiede in die land, die Afrikaner en Afrikaans se situasie kommerwekkend versleg het, en dat mense wat dit op die hart dra ernstig daarvan werk sal moet maak om te verseker dat dit nie verder verswak nie.

  1. Strategiese knelpunte en kwessies

Aan die begin van die tweede dekade van algemene demokrasie is dit noodsaaklik dat vinnig gekyk word na ‘n paar strategiese knelpunte of kwessies wat verreken sal moet word in ons beplanning vir die toekoms. Ek wil nie fokus op die simptome (soos onderwys) wat die gevolg is van hierdie knelpunte nie, maar wil probeer om ‘n paar van die oorsake uit te lig.

  • Demografie (bevolkingsgetalle)

Die vraag is nie meer of die Afrikaner ‘n toekoms het nie, maar of daar in die toekoms nog ‘n Afrikanervolk sal wees? Die Afrikaner is ‘n verspreide en krimpende minderheid, en geen beplanning sal help as ons nie meer getalle het nie. Ons geboortekoers is reeds benede vervangingskoers, emigrasie dun ons getalle verder uit, en vigs het ook ‘n wesenlike impak. Hierdie drie faktore het proporsioneel ‘n baie groter impak op Afrikanergetalle as wat vigs op swart getalle het. Dit is die belangrikste hekkie wat ons sal moet oorkom as ons ‘n toekoms wil hê. Getalle het ‘n deurslaggewende impak op die Afrikaner se politieke gewig, sy kulturele invloed, sy demokratiese ruimtes, sy ekonomiese krag en die regering se beleidsrigtings rondom die konsep van “verteenwoordigendheid”. Solidariteit het ‘n top-demograaf opdrag gegee om ‘n studie oor die saak te doen, en sal die resultate graag met ander organisasies deel. My voorstel is dat ons so vinnig moontlik ‘n behoorlike beraad oor hierdie onderwerp moet hou en kyk na voorstelle wat al in ander lande gewerk het.

  • ANC voortsetting van die struggle deur staatsmag

My bekommernis is dat die ANC nog nie besef die struggle is verby nie, dat hulle geneig is om soms die demokrasie te gebruik om hulle struggle-doelwitte deur te stoomroller, soos die onlangse naamsverandering van Pretoria. In die proses is hulle meesters op die gebied van mooi woorde en onberispelike idiome. Neem nou maar regstellende aksie. Wie kan nou teen regstelling wees, die woord se regverdiging lê immers in homself! Hulle giet hulle planne in ‘n onbesproke internasionaal-aanvaarbare liberale idioom waarteen niemand kan stry nie – en voer dan presies die teenoorgestelde, naamlik ‘n onliberale rassebeleid, uit. Goedgelowige sakelui is met hierdie mooi woorde en idioom in ‘n ANC nasionalistiese projek gekoöpteer om hulle te help om ‘n rasse-ideologie te implementeer, alles onder die mooiklinkende dekmantel van “regstelling”. Natuurlik is Solidariteit sterk ten gunste van opheffing, ontwikkeling en regstelling van wat verkeerd was. Maar in die praktyk gaan dit lankal nie meer oor regstelling nie, maar oor proporsionele rasseverteenwoordiging! Woorde soos “transformasie en regstelling” is soms net polities korrekte terme om Afrikanerinvloed en –beheer te vervang met swart ANC beheer oor instellings, ook instellings soos Universiteite wat direk met die Afrikaner se kulturele vryheid en identiteit te make het.

  • Afrikaner-selfvertroue

Die Afrikaner se selfvertroue en selfbeeld is die afgelope jare erg geknou. Baie aanvaar sonder meer die ANC se weergawe van die verlede – ‘n eensydige beeld, wat deur die ANC gebruik word om sy huidige beleidsrigtings te regverdig. ‘n Weergawe waarvolgens die Afrikaner en sy beleid van Apartheid verantwoordelik is vir feitlik alle probleme in die land, en dus nou verdien om vir ‘n onbepaalde tyd die teiken van regstelling en transformasie te wees. Natuurlik weet ons almal van onverdedigbare beleidsrigtings wat swartmense benadeel het en nou reggestel moet word. Maar swartmense in SA is mos nie die enigste armes in die wêreld nie. Meer as die helfte van ons planeet se inwoners is brandarm volgens die VN definisie, en daar was nie orals apartheid nie. Die ANC hou die Afrikaner nou verantwoordelik vir die normale probleme van armoede en onderontwikkeling wat elders in Afrika en in baie ander dele van die wêreld algemeen voorkom. Hulle vergeet ook van die probleme wat hulle self help veroorsaak het! Kan ons ooit die impak bereken wat die ANC  beleid van vroeër om die land “onregeerbaar” te maak gehad het op ‘n kultuur van wetteloosheid wat help lei het tot die huidige vlakke van geweldsmisdaad? Of die uitwerking van die veldtogte vir munisipale boikotte en die kultuur van wanbetaling wat vandag nog voortduur en gelei het tot die ineenstortingl van munisipale dienste? Of die sanksie- en disinvesteringsveldtog se invloed op die huidige vlakke van werkloosheid? Laat ons maar eerlik wees sonder om die ander oorsake van armoede te misken: die ANC-in-regering sit nou met baie van die probleme wat die ANC-in-struggle help veroorsaak het en waarvoor hulle die Afrikaners blameer! Daar is ook geen erkenning vir dit wat wel reg verloop het en vir die mees suksesvolle ekonomie wat in Afrika opgebou is nie. Die feit is Afrikaners is, of was nog nooit, supermense nie, maar is of was beslis ook nie die kriminele van die geskiedenis wat ons in sommige kringe gemaak word nie. Ons was en is maar net ‘n doodgewone gemeenskap wat in ongewone omstandighede met buitengewone probleme moes worstel!

  • Ander kwessies

 

In die lig van die kort tydsbestek gaan ek nie die ander strategiese kwessies bespreek wat ek wel kernbelangrik ag nie. Dit is onder andere die opkomende verarming onder Afrikaners as gevolg van die historiese omwentelings van die negentigs; die ideedroogte wat darem nou begin opklaar; die probleem van “onervare magteloses” – van Afrikaners wat nie weet hoe om sonder staatsmag klaar te kom nie; van die gebrek aan sterk burgerlike instellings; van die feit dat daar nie ‘n samehangende droom of toekomsbeeld onder Afrikaners is nie en oor die gevolge van hierdie en baie ander probleme wat ons mense ervaar.

Die feit is dat die Afrikaner tans op die strategiese verdediging is, en dat veel van wat regverdig opgebou is, tans verlore gaan.

  1. Vertrekpunte vir die toekoms

My droom vir die Afrikaner is díé van ‘n lewenskragtige selfstandige gemeenskap wie se grondliggende belange veilig is, en wat sy plek kan volstaan in Suid-Afrika. ‘n Gemeenskap wat oor die vermoë beskik om besluite wat hom raak te kan neem en dit self uit te voer. ‘n Gemeenskap wat homself én ander respekteer, wat aan sy eie kant is, maar met ‘n passie om te help werk aan die ontsaglike probleme van ons land en al sy mense.

 

Daarom wil ek 5 vertrekpunte vir toekomsbeplanning aan u voorhou wat nodig sal wees om hierdie breë droom te realiseer:

 

  • Doeltreffende belangebeskerming:

Die Afrikaner het ‘n groeiende behoefte aan doeltreffende belangebeskerming, wat sterker gaan word namate sy posisie verder verswak en die omgewing waarin hy leef onvriendeliker word. Enige beplanning sal hiermee rekening moet hou.

 

3.2    Bou voort op die suksesse

Ná bykans ‘n dekade van bykanse verlamming is daar weer sterk lewe in ons gemeenskap, en is daar genoeg suksesse waarop ons behoort voort te bou. Voorbeelde is daar baie, vanaf die magdom aksies wat op die taalakker aan die gang is, die herlewing van die oop gesprek en ‘n nuwe intellektuele debat onder Afrikaners, die opkoms en heropkoms van organisasies soos die FAK, Solidariteit, die Regslui vir Afrikaans, die Voortrekkers, Onderwysaksiegroepe en andere, die suksesse van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting, die groeiende gewildheid van Afrikaanse musiek, die reaksie op Solidariteit en die MVI se “Kom Huistoe” veldtog en ander emigrasie-aksies, die sukses wat die Rapport Onderwysfonds in sy eerste jaar behaal het, die steun wat Solidariteit se Helpende Hand as maatskaplike aksie van die gemeenskap ontvang, en die groeiende bereidheid van mense om hulle grondwetlike regte op te neem en te verdedig wanneer dit nodig is en nie anders kan nie, soos met die hofsake oor Afrikaanse skole. Kom ons bou op hierdie en ander suksesse voort: daar is weer lewe in ons gemeenskap!

3.3    Breë Afrikanerforum

Geen gemeenskap of groep in die land het net een mening nie, ook nie die Afrikaner nie (dankie tog!) Maar dit is wel nodig dat ons – met inagneming van en ruimte vir verskille – ‘n geloofwaardige gemeenskaplike forum tot stand bring om standpunte en inligting uit te ruil, aksies te koördineer en ‘n breë konsensus te bou rondom knelpunte wat ons as gemeenskap raak. Sonder om voor te gee dat so ‘n forum namens alle Afrikaners praat, behoort daar ook gesprekke met die owerheid vanuit so ‘n forum aangevoor te word. Soos wat vakbonde met ‘n bestuur beding oor sake wat hulle lede raak, kan verskillende organisasies met die regering beding oor sake wat ons gemeenskap raak.

 

3.4    Opvolgskikking

So ‘n proses van gesamentlike bedinging behoort ‘n tipe “Opvolgskikking” ten doel te hê, om knelpunte en griewe saam te vat in ‘n ooreenkoms of ooreenkomste met die regering. Ek wil vooraf waarsku dat ons glad nie bekommerd moet wees as die regering ons in die begin net vriendelik groet en hoflik ignoreer nie. Harde ervaring in die vakbond en -onderhandelingswêreld het my al geleer: wie nie ‘n faktor is nie, kry niks; nie eers die krummels wat by die besturende of regerende tafels afval nie. Met doelgerigte leierskap en goeie organisasievermoë sal ons op ‘n positiewe manier weer ‘n faktor moet raak waarvan die owerhede kennis sal moet neem. As ons nie vir Afrika en vir Suid-Afrika lief was nie, het ons mos ook emigreer. Ons veg nie vir ‘n beter verlede nie, ons werk vir ‘n beter toekoms!

 

3.5    Burgerlike netwerk

Baie van die Afrikaner se burgerlike organisasies en -instellings het spreekwoordelik oud en afgeleef geword, sonder die energie, uitvoerende vermoë of hulpbronne om hulle doelwitte te bereik. Ons sal ernstig hieroor moet besin, omdat die Afrikaner ‘n netwerk van lewenskragtige burgerlike “selfdoen”- organisasies op talle lewensterreine nodig het om die toekoms met vertroue tegemoet te gaan. Ons gemeenskap moet weer selfstandig word! Ons kan beslis nie net op die regering staatmaak om ons probleme op te los nie, hulle kan hul eie nie eens baasraak nie. Ons sal weer moet leer om sonder staatsmag suksesvol te wees, ons sal weer ‘n selfdoenkultuur moet aanleer, ons sal weer op ons eie bene moet leer staan. Wat ‘n wonderlike vooruitsig!

3.6    Alliansies

 

Ten spyte van groot uitdagings sal ons moet waak teen polarisasie, en behoort ons binne hoorafstand van die regering te bly. Daarom sal ons moet kyk na die moontlikheid van alliansies oor grense heen, en sal ons moet wys dat ons nie net selfsugtig en in isolasie na ons eie belange wil omsien nie. Aan die ander kant moet ons ook waak teen willose alliansies wat ons net gaan neutraliseer in ons pogings om aksie en lewenslus in ons gemeenskap te blaas.

  1. Slot

In vergange se woorde van Vader Kestell: ‘n volk red homself. Ons toekoms is – menslik gesproke – in ons eie hande. Ons kan nie meer roem op die prestasies van die verlede nie: elke geslag moet verantwoordelikheid neem vir sy eie tyd.

Daar was ‘n tyd toe die Afrikaner homself verantwoordelik gevoel het vir die hele land se probleme. Daarvan is ons genadig bevry. Dit is nou tyd dat ons – sonder om selfsugtig te wees of onsself te isoleer – fokus op ons eie gemeenskap. As óns dit nie doen nie, sal niemand anders nie. Baie dankie.

 

 

Spreekbuys: Solidariteit-beweging bied nou tuiste vir almal in onsekere tye

Hierdie jaar nader sy einde midde in groot politieke en ekonomiese onsekerhede. Op politieke vlak het die geskille in die regerende party wyd uitgekring en tot ‘n bewindsverandering en groot politieke onstuimigheid gelei. Daarby lyk die wêreldekonomie geweldig kwesbaar en aandelebeurse wip dramaties op en af. Tot sover het die finansiële orkane gelukkig nie Suid-Afrika voluit getref nie, maar ons gaan nie die uitkring gevolge kan vryspring nie.

 

Die gevolg van hierdie politieke en ekonomiese rukwinde is dat die see waarop die Solidariteit-skip vaar vir die nabye toekoms nog rowwer kan raak. Alhoewel ons nie iets aan die sterk winde kan doen nie, kan ons sorg dat ons skip sterk genoeg is om die storms te weerstaan. Daarom het Solidariteit se leierskap oor die afgelope jaar hard daaraan gewerk om ons skip te versterk, te verbeter en te beveilig. Die doel hiervan was om ons lede beter te kan beskerm, deur meer en beter dienste aan hulle te bied. Maar die doel was ook om Solidariteit as vakbond uit te bou tot ‘n beweging waarby almal wat ons doelstellings ondersteun kan aansluit-, selfs mense wat nie tradisioneel “vakbondmense” is nie. Daarom is Solidariteit vandag in 5 pilare ge-organiseer, wat beteken dat Solidariteit as oorhoofse beweging nou ‘n tuiste vir almal in ons nismark,wat ons doelwitte ondersteun, bied.

 

Pilaar 1: Die vakbond

Die vakbond beskerm ons lede in die werkplek. Die eerste stap in hierdie proses was om die vakbond en sy arbeidsverhoudinge lededienste deurlopend op te knap en te verbeter. Daarom het ons hierdie jaar ons landswye netwerk dienskantore verder verbeter. Die personeel is opgelei, moderne toerusting is aangeskaf, nuwe kantore is aangekoop, en die doel is om ons kantore nou uit te bou tot volle dienskantore. Daarby is die vakbond se steundienste opgeknap om doeltreffende ondersteuning aan ons diensafdelings te bied. Dit strek vanaf navorsingshulp en kommunikasie tot regsdienste en administratiewe en finansiële steundienste. ‘n Groot opleidingsprojek is ook geloods om ons unieverteenwoordigers die nodige opleiding vir hulle belangrike werk te gee.

 

Pilaar 2: Die Helpende Hand

Die Solidariteit Helpende Hand word sedert Juliemaand landswyd uitgebrei om maatskaplike ondersteuning aan ons lede en hulle gemeenskappe te bied. Daar is reeds voltydse personeel in die Kaap aangestel, terwyl meer as twintig takke nou landswyd gestig is. Die Beursfonds word sterk uitgebrei, en projekte om armoede te verlig loop nou in al die provinsies. Tonne kos en klere word maandeliks versprei, en die Helpende Hand werk nou met ander hulpinstellings soos kerke saam. Mense wat nie by die vakbond kan aansluit nie, maar wat wil help of geldelik wil bydra kan met die Helpende Hand skakel by ons nasionale Dienssentrum.

 

Pilaar 3: Solidariteit Beleggingsmaatskappy (SBM)

Hierdie maatskappy bestuur Solidariteit se besigheidsafdeling, en word 100% deur die vakbond besit. SBM se doel is om bykomende dienste aan lede te bied en om kapitaal te skep om ons lededienste verder te verbeter. Die belangrikste maatskappye wat deel van SBM is, is ons tegniese kolleg, Sol-Tech, asook die beroepsopleidingkollege, Oxbridge, waarin ons wesenlike aandele het. Verder bestuur SBM ook ons personeelagentskappe, Express Employment Professionals, en ons Korttermyn Groepskema, Solidariteit Ledevoordele. Ons mediese fonds SolVita én ons pensioenfonds is ook deel van SBM.

 

Pilaar 4: Solidariteit Groeifonds

Die Solidariteit Groeifonds se doel is selfbemagtiging, en is die nuutste lid van die beweging. Die Groeifonds word befonds deur maandelikse ledebydraes, asook bydraes van die publiek wat nie lede van die vakbond is nie, maar ons doelstellings ondersteun. Die Groeifonds is in sy eerste bestaansmaand oorval met mense wat bydraes wil maak, veral pensioenarisse en klein sakelui. Hierdie pilaar bied ‘n tuiste vir sulke mense wat nie vakbondlede wil word nie, maar wat die noodsaak van die Groeifonds verstaan. Hierdie mense wil help om ons jeug te laat oplei en en wil werksverskaffingsprojekte ondersteun. Die Groeifonds is tans besig om ‘n nuwe sentrum te koop wat genoeg plek sal hê om ons kollege te huisves.

 

Pilaar 5: AfriForum

Dis ongelukkig nie net ons lede se werksbelange wat bedreig word nie. Mense is ook bekommerd oor die geweldsmisdaad en aantasting van hulle grondwetlike regte. Daarom is AfriForum buite-om Solidariteit gestig om te kyk na burgerregte buite die werksplek. AfriForum groei baie vinnig en bied veral ‘n tuiste vir mense wat bekommerd is oor hulle regte buite die werkplek. So help AfriForum ook dat Solidariteit se fokus nie verwater nie en dat ons daarop kan fokus om ons lede in die werkplek te beskerm. Die nuutste projek wat AfriForum aangepak het, is die stryd om die behoud van die Springbok-embleem.

 

Ondersteuners

Solidariteit het die afgelope paar jaar geweldige belangstelling gekry van mense wat nie by die vakbond kan aansluit nie, byvoorbeeld omdat hulle nie werknemers is nie. Hierdie mense ondersteun egter ons doelstellings en woú deel word van die Solidariteit-beweging. Met die strukturering van die beweging in 5 pilare word dit nou vir al ons ondersteuners moontlik om êrens ‘n tuiste te vind. Daarom is ons taak vir die res van die jaar om die Solidariteit-beweging beter te rat vir die nuwe jaar met al sy uitdagings. Ons slagspreuk vir 2009 is: “‘n Tuiste vir almal!”.

(Bron: Solidariteit Tydskrif 2008)

Spreekbuys: Kom ons word deel van die oplossing

Meer as 2 500 jaar gelede moes jong mans in Antieke Griekeland wat diensplig moes doen om burgerskap van die Atheense stadstaat te kry, ’n merkwaardige eed aflê. Hierdie eed, en dit wat dit onderlê, het die grondslag van die Westerse kultuur en beskawing geword.

Die 18-jarige mans moes beloof om hulle stad en die erfenis wat hulle van hul voorgeslagte gekry het, te bewaar, te verbeter, en dan soos ’n aflosstokkie vir die volgende geslag aan te gee. Daarby moes hulle onderneem om hul gemeenskap dapper te verdedig, die stad se wette eerlik te gehoorsaam, hul regeerders teen te staan as dié nie eerbaar optree nie, burgerlike verantwoordelikheid vir hulle stad en sy mense te neem, en om die God van hul vaders te dien.

Hierdie eed met sy kern van bewaring en verbetering het oor die eeue in baie vorme weerklink, maar die wese daarvan was altyd dieselfde. Dit is dat ’n gemeenskap ’n verbond is tussen dié wat reeds dood is, dié wat vandag lewe en dié wat nog gebore moet word. Dit beteken dat ’n volk gesien is as ’n onbreekbare ketting van geslagte, waar elke skakel vir sy eie tyd verantwoordelikheid moes neem. Elke geslag moet dit wat hul ontvang, verbeter, maar hul mag dit nie weggee of ten gronde laat gaan nie, want dit is nie net hulle s’n nie. Dit behoort aan die ketting van geslagte wat in die waas van die eeue ontstaan het, en tot in die verre toekoms in strek.

Die wese van die Westerse sukses oor die eeue spruit dus in wese daaruit dat Westerlinge histories dít wat ons van ons voorgeslagte gekry het, bewaar en verbeter het, en dit weer na die volgende geslag oorgedra het. Elke geslag het net verder en hoër gebou as die vorige een. Almal begin nie weer voor, staan stil of steek in die verlede vas nie. Hierdie Westerse kultuurskat is deur sterk instellings soos skole, stede, gemeenskapsorganisasies en ander instellings van geslag tot geslag bewaar en oorgedra na die volgende geslag. Die Westerse kultuur was en is nie volmaak nie, en het hulself nes ander groot beskawings aan gruwels soos slawerny, verwoestende oorloë, verdrukking en uitbuiting skuldig gemaak. Die grootheid van die Weste lê dus nie daarin dat hul kultuur volmaak is nie, maar dat die Weste in staat was om hulle foute te verbeter.

 

Van Riebeeck se skatkis

Hierdie Westerse kultuurskat is deur Jan van Riebeeck na Suid-Afrika gebring, en het stelselmatig na die binneland uitgebrei deur historiese bewegings soos die Groot Trek. Die kulturele skatkis het bestaan uit “hardeware” soos die markekonomie, die regsorde, wetenskap en tegnologie, stede en infrastruktuur, asook “sagteware” soos beskryf in die Atheense Eed, naamlik persoonlike verantwoordelikheid, ondernemerskap, werksetiek, Christelike waardes en roepingsbesef. Dit beteken nie dat alles wat Van Riebeeck met die skip hier aangebring het of die Trekkers met hulle waens na die binneland geneem het net reg en volmaak was nie, maar die kern van deurlopende bewaring, regstelling en oordra na die opvolgende geslagte het die kultuur heeltyd verder verbeter.

Dit het ook deel geword van Afrikaners se “geboortepapiere” oftewel stigtingsdokumente. Dink maar aan pres. Kruger se laaste boodskap van “neem uit die verlede wat skoon en mooi is en bou die toekoms daarmee”, en Langenhoven se bede in die laaste vers van “Die Stem” waar hy vra “… Dat die erwe van ons vaders vir ons kinders erwe bly”. Hierdie kulturele skatkis is veel meer as braaivleis, rugby en sonneskyn. Dit is ’n werkende land, ’n produktiewe ekonomie, ’n regverdige regsorde, ’n eerbare demokratiese regering, bekwame staatsadministrasie, ’n produktiewe en goed betaalde werksmag. Dit is wêreldklas stede en goed regeerde dorpe, goeie skole en wêreldklas kolleges en universiteite. Dit is ’n moderne samelewing met al die dienste en geriewe wat daarmee gepaard gaan, soos werkende hospitale, paaie, huise en infrastruktuur. Hierdie skat van ons kultuur moet ons – soos Van Wyk Louw so treffend sê – veilig “deur die massa dra” en vir die volgende geslag bewaar.

Albert Einstein het hierdie oordrag tussen geslagte pragtig soos volg aan ’n groep kinders gestel: “Die wonderlike dinge wat julle in jul skole leer, is die werk van talle geslagte. Al dié dinge word in jul hande geplaas as jul erfenis sodat julle dit kan ontvang, eer, verder daartoe bydra, en eendag dit getrou aan jul kinders kan oorhandig.”

Elke geslag dink hy is slimmer as die vorige en wyser as die volgende geslag, het George Orwell gesê. Daarom lewer mense vandag vurige kritiek op ons voorouers, want hulle weet nie wat die omstandighede was waarin hulle moes leef nie. Terselfdertyd besef ons nie altyd hoe belangrik dit is om te bewaar wat ons gekry het nie, want ons aanvaar dit as vanselfsprekend.

Die historikus prof. Hermann Giliomee het gesê dit is verstommend watter gebrek aan strategiese denke daar by Afrikaners in sleutelposisies is. Dit gaan ver terug in die onlangse geskiedenis. Eers is daar ’n totale oorskatting van mag, en dan dieselfde totale onderskatting van middele tot jou beskikking wat vir ’n goeie doel aangewend kan word. En, o, die dwingende begeerte om af te gee, prys te gee en oor te gee in die waan dat dit die moreel regte ding is om te doen.

 

Ons geslag se taak

Die geskiedenis gee aan elke geslag ’n taak. Sommiges kry makliker take as ander. Party kry baie, ander moet baie gee. Maar omdat –

  • daar ’n verbond tussen die geslagte is,
  • ’n beskawing ’n ketting van geslagte is wat soos met ’n afloswedloop dít wat jy kry, moet bewaar en vir die volgende geslag aangee, en
  • die een geslag van die vorige en die volgende een afhanklik is,

beteken dit dat as net een geslag nie sy taak opneem nie, daardie ketting vir altyd verbreek is. Dan gaan daardie beskawing onder, verskraal tot ’n voetnota in ’n geskiedenisboek.

Die geslagte voor ons het met groot uitdagings te kampe gehad. Die een geslag moes die Groot Trek aanpak, die volgende een die Anglo-Boereoorlog. Daarna het die modernisering van Afrikaans gevolg waardeur die land opgebou is. Die volgende geslag moes die Koue Oorlog en die Grensoorlog trotseer en het die volkereverhoudingsprobleem onsuksesvol probeer oplos deur sogenaamde “afsonderlike vryhede.” Die volgende geslag moet ’n oplossing vind vir meerderheidsregering wat in meerderheidsoorheersing begin ontaard.

 

Selfbestuur

Die harde waarheid is dat staatsbestuur van bo af besig is om te misluk, en dat ons groeiende selfbestuur van onder af sal moet bou met sterk gemeenskapsorganisasies. Hoe hoër die vlakke van selfbestuur wat ons op elke gebied bou, hoe meer vryheid sal ons hê.

Vryheid is uiteindelik die enigste waarborg vir veiligheid, vir ’n voorspoedige ekonomie, vir ons lede se werk, vir gelykheid, vir reg en geregtigheid, vir werkende dienste, vir goeie skole, en vir ’n toekoms vir ons kinders.

Ons mense het deur hul vindingrykheid, skeppende vermoë en ondernemingsgees wêreldklasprestasies op alle gebiede bereik: medies, sport, wetenskap, sake, kultuur en die kunste. Daarom is ons geslag se taak om dieselfde vermoë aan te wend om op staatkundige gebied weer al hierdie elemente in ’n samehangende plan in te weef. Dit is ’n voorwaarde vir volhoubare werksgeleenthede en ’n goeie werk in hierdie land.

(Bron: Solidariteit Tydskrif, Januarie 2020)

Spreekbuys: Die pad vorentoe ná die inperking en Covid-19

Dit was op Alexanderbaai (van alle plekke!) dat ek die eerste keer die ANC se Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP) gesien het. Ek was nog nuut in die vakbondwese toe ek in daardie afgeleë gebied namens ons lede gaan onderhandel het. Langs my het ’n jong NUM-verteenwoordiger gesit, met ’n fakspapier in die hand waaruit hy ’n lang lys eise vir die mynbestuur voorgelees het.

Ek het dadelik agtergekom dat hy nie self die lys opgestel het nie, maar dat dit deel van ’n groter plan was. Dit het my nuuskierigheid geprikkel, en in teetyd het ek met hom begin gesels. Hy het ’n afskrif van die dokument vir my gegee, wat – in Afrikaans, nogal – getiteld was “Heropbou en Ontwikkelingsprogram (HOP)”. Die subtitel was “ANC – Reg om te regeer”. My eerste gedagte by die lees daarvan was iets soos aitsa, die ANC sal nog leer dat dit makliker is om te protesteer as te regeer!

Dié aand by die gastehuis het ek die dokument deurgelees, en nog meer bekommerd geraak oor die gevolge wat ’n ANC-regering vir die land sou inhou. Hoewel die HOP in redelike en gematigde terme geskryf was, was dit op dieselfde sosialistiese grondslae gebaseer wat al sovele keer misluk het.

Ek onthou die kern daarvan was dat dit ’n baie groot magsrol vir die staat voorsien het, wat dan daardie mag moes gebruik om “gelykheid” te bewerkstellig. Hulle regmatige strewe om swartmense op te hef, was oorheers deur die verdoeseling van ’n plan om witmense in die proses af te trek. Die klem was nie om armes ryker te maak deur ekonomiese groei nie, maar om die rykes armer te maak deur radikale herverdeling op rassegronde. Met “rykes” is daar nie die miljoenêrs bedoel nie, maar gewone produktiewe witmense wie se poste en bates nou herverdeel moes word om almal gelyker te maak. Dit het my verstom dat hulle steeds gedink het dat ’n politieke strategie mense uit armoede kan lig, eerder as ’n ekonomiese strategie. My gevolgtrekking was dat die noodsaak om swartmense op te hef, sal misluk weens hulle eie beleid om teen wittes te regeer.

 

Transformation

Die nou vergete HOP was die ANC se bloudruk vol beloftes en goeie voornemens waarmee hulle die land oorgevat en begin regeer het. Hoewel die HOP taamlik gou deur ander bloudrukke opgevolg is, het die goue draad in al die dokumente dieselfde gebly. Dit was dat die regering sy mag moes gebruik om met “radikale transformasie” minderhede se poste, bates en instellings te teiken vir herverdeling aan hulle kiesers. Dit was nie “meer vir ons almal” nie, maar “julle s’n vir ons”.

Die destydse hoof van die liberale Institute for Race Relations, John Kane-Berman, het dit soos volg gestel: “The term ‘revolution’ sounded too harsh for sensitive post-’94 ears, so the ANC seized the term ‘transformation’ and designated it the official state ideology. The problem with this is that it could be understood simultaneously in an innocent and revolutionary manner. Being against transformation is being completely politically incorrect – almost like being against motherhood and apple pie! But supporting it implies support for the ANC’s National Democratic Revolution.”

 

Uitkoms

Daar het ná 26 jaar van ANC-bewind genoeg tyd verloop om die uitkomste van die HOP en sy opvolgers te beoordeel, en nie net politici se uitsprake nie. ’n Beleid word immers nie aan sy bedoelings gemeet nie, maar aan sy uitkomste, het die Nobel-ekonoom Milton Friedman gesê. Die uitkoms van die ANC se beleid en regering was dat die land net voor die Covid-19-krisis ná jare van waarskuwings deur graderingsagentskappe na rommelstatus afgegradeer is. Daarmee was die mislukking van die ANC-regering net amptelik bevestig. Die feite het dit reeds gewys in die rekordsyfer-werkloosheidskoers, voortdurende resessies, groeiende staatskuld en swak staatsbestuur. Die HOP se beloftes van “heropbou en ontwikkeling” het in die praktyk “afbreek en agteruitgang” geword.

 

Nuwe “BBB” in plek van mislukte HOP

Maar hoe lyk die pad vorentoe ná die inperking en Covid-19?. Die uitdaging is dat die ANC steeds aan bewind gaan wees, al kon hulle die land nie eers voor die krisis suksesvol regeer nie. Dit help egter nie om net daaroor te kla nie, want dit gaan niks verander nie. Die krisis het weer gewys dat ons op ons eie is. Daarom sal ons moet terugval op die ou spreekwoord waarmee ons al vir meer as drie eeue in die land oorleef het: ’n Boer maak ’n plan.

Dis nie so moeilik as wat dit klink nie – ons het al ver gevorder. Nadat ek daardie HOP-bloudruk van die ANC op Alexanderbaai gesien het, was ek oortuig dat dit gaan misluk, en dat ons weer eendag ’n helpmekaarbeweging sou moes stig. Ons kon nie die ANC se HOP stop nie, maar niks keer ons om ’n “BBB-plan” – beskerm, bewaar en bou – te begin nie. Natuurlik het ek en my kollegas nie presies geweet wanneer en wat die krisis presies sou wees nie. Ons breë aanname was wel dat staatsbestuur sal misluk, en dat ons aan groeiende selfbestuur sal moet begin bou deur sterk selfhelporganisasies te stig. Hoewel ons dus nie presies kon beplan nie, kon ons voorberei. Daarom het ons oor die afgelope paar jaar vir elke staatsfunksie wat misluk of wat ons uitsluit, ’n alternatief gebou.

Die ANC se hantering van die krisis het dit duidelik gemaak dat hulle witmense as tweedeklasburgers sien, ’n minderheid wat minder regte het as ander in die land. Daarom is ons enigste uitweg om ons eie gemeenskap van eersteklas-kultuurburgers te maak.

Die Solidariteit Beweging is as krisisbeweging gestig vir ’n krisis wat jare gelede reeds voorsien is. Daarom was ons ook gerat vir die huidige krisis, al kon niks ’n mens genoegsaam voorberei vir die hartseer van baie lede wat hulle werk of inkomste daardeur verloor het nie. Maar ons kan nie gaan lê nie, ons sal te midde van die krisis weer moet begin herbou. Die uitdaging is om ons planne in hierdie tyd te versnel om mense met hul werk en ander behoeftes in baie moeilike omstandighede te help. Ons het nou vir dekades lank probeer om staatsbestuur reg te ruk, maar dit het misluk. Daarom is ons besig met beplanning om selfbestuur op elke denkbare gebied te versnel. Ons toekoms is heeltemal te belangrik om aan ’n party oor te laat wat ons nie kan of wil help nie.

(Bron: Solidariteit Tydskrif, Maart 2020)

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.