Bron: Netwerk24, 17 Junie 2016
Elke ware sportliefhebber moet doen wat hulle kan om Suid-Afrikaanse sport van die kwotabeleid te red, skryf Kallie Kriel.
In Echbert Boezak se meningstuk Hou op om sportkwotas te blameer poog hy om diegene wat rassekwotas in sport teenstaan, op oppervlakkige wyse af te maak as mense wat dink “wit spelers is outomaties bekwaam, terwyl spelers van kleur gedurig moet bewys dat hulle bekwaam is.”
Hierdie wanvoorstelling deur Boezak het reeds kop uitgesteek tydens die Twitter-skermutseling tussen my, Boezak en ’n paar ander selfaangestelde waghonde vir politieke korrektheid kort ná die Springbokke se skoknederlaag op hul tuisveld teen 14 spelers van die beseringgeteisterde Ierse rugbyspan.
In hul poging om “transformasie” te beskerm, het Boezak en ’n paar ander Twitter-krygers my daarop gewys dat baie van die wit spelers Saterdag swak gespeel het en dat dit ’n oorwegend wit span was wat verlede jaar geskiedenis gemaak het deur die eerste keer teen Argentinië te verloor. Hieroor is hulle uiteraard reg, maar hulle mis die punt van my argument.
My standpunt dat “transformasie” Suid-Afrikaanse rugby die afgelope paar jaar stelselmatig verswak het, is nie ’n vingerwysing na enige afrigter of speler – swart óf wit – nie. Dit is eerder ’n vingerwysing na ruggraatlose rugbybase wat toegelaat het dat die gehalte van Suid-Afrikaanse rugby verswak deur onder andere Fikile Mbalula, minister van sport, toe te laat om ’n politiesgedrewe rassekwotabeleid onder die dekmantel van “transformasie” op Suid-Afrikaanse rugby af te dwing. Wanneer Mbalula sê “spring”, vra die rugbybase blykbaar “hoe hoog?”.
Dié rugbybase het blykbaar nie agtergekom dat die woord “transformasie” nie in die Suid-Afrikaanse Grondwet voorkom nie. Ook nie dat “transformasie” intussen in ’n kodewoord ontaard het waarmee die ANC deur rasgedrewe sosiale ingenieurswese poog om beheer oor elke terrein in ons samelewing te verkry nie.
AfriForum is ten gunste daarvan dat elke kind in hierdie land, swart én wit, blootstelling aan sport en toegang tot afrigting en fasiliteite moet hê. Die feit dat 80% van Suid-Afrikaanse skole tans egter wanfunksionerend is, is die belangrikste rede waarom nie almal dié geleenthede kry nie. Die regering se onvermoë om skole reg te ruk, word nou verdoesel deur die probleem elders te soek en met kunsmatige stappe soos die afdwing van kwotas te probeer regruk.
’n Mens moet ook simpatie hê met talentvolle swart spelers wat nou slegs as kwotaspelers gebrandmerk word.
Dié kwotabeleid – wat onder die dekmantel van transformasie op rugbyspanne selfs op skolevlak afgedwing word – verswak Suid-Afrikaanse rugby struktureel. My argument is soos volg: Om ’n speler wat die potensiaal toon tot een van die wêreld se beste spelers in sy posisie te ontwikkel, moet dié speler se spel ontwikkel word deur hom in en teen die beste moontlike spanne te laat speel. Sowel wit as swart spelers word die beste as hulle saam met en teen die bestes speel. Deur in provinsiale skoletoernooie met meriete weg te doen ten gunste van ’n kwotabeleid, word die gehalte van die spel wat daar gespeel word onafwendbaar verswak. Die polities korrektes kan ontspan: Ek bedoel nie dat swart spelers ’n span verswak nie; inteendeel, daar is briljante swart spelers wat hul plek in spanne verdien. Wat ’n span wel verswak, is wanneer die rassepolisie – wat sommige rugbybase en politici insluit – ten alle koste ’n rassekwota wil afdwing deur spelers te kies wat op meriete alleen nie die span sou haal nie.
Die kwotabeleid verswak Suid-Afrikaanse rugby verder, omdat heelwat wit spelers wat potensiaal het, eerder hul heil in die buiteland loop soek of ná hul skoolloopbaan heeltemal ophou rugby speel, of in ander gevalle selfs gedwing word om ’n ander posisie te speel om hul kanse te verbeter om gekies te word. ’n Mens moet ook simpatie hê met talentvolle swart spelers wat nou slegs as kwotaspelers gebrandmerk word.
Soos die gehalte van die spel plaaslik afneem weens die aandrang op rassekwotas deur Mbalula en sy mede-rasideoloë in rugbybesture, sal Suid-Afrikaanse rugby (en natuurlik ander sportsoorte ook) toenemend sukkel om internasionaal mededingend te wees. Die tekens is reeds daar dat ons begin het om dié punt te bereik.
Wat eerskomende Saterdag se wedstryd tussen die Springbokke en Ierland betref, wens ek Allister Coetzee en sy spelers, wit én swart, alle sterkte toe. Dit is nie hul skuld dat ons sport die slagoffer van politiek geword het nie. Ek hoop hulle wen, net soos ek hoop dat die waghonde vir politieke korrektheid nie ’n moontlike oorwinning sal gebruik om voor te gee dat alles nou weer wel is in Suid-Afrikaanse rugby nie. Alles is nié wel nie.
Elke ware sportliefhebber moet nou doen wat hulle kan om ons sport te normaliseer en van die nadelige kwotabeleid te red. Dit is juis om hierdie rede dat AfriForum en Solidariteit gesamentlik ’n veldtog geloods het wat onder meer behels dat die kwotabeleid in die Suid-Afrikaanse arbeidshof en by internasionale sportliggame en die Verenigde Nasies beveg gaan word.
Solank as wat jongmense se sportdrome deur politici se rasbeheptheid vernietig word, het ons elkeen ’n verantwoordelikheid om nee te sê vir kwotas.