Inleiding
Dit is soms nodig om ander lande te besoek om perspektief te kry oor wat in jou eie land gebeur. Ons beweging vestig tans ‘n internasionale netwerk om buitelandse steun te werf, en ek het Sondag met die Ethiopiese Lugdiens vanaf Addis Abeba af oor Afrika teruggevlieg. Hierdie lugdiens is tans die grootste in Afrika, brei geweldig vinnig uit, en toon nou al vir jare ‘n standhoudende wins. Ek kon sien hoekom. Die Ethiopiese lugdiens het ‘n puik veiligheidsrekord, spog met ‘n vloot van die nuutste vliegtuie, is spotgoedkoop, en passasiers kry ‘n puik diens. Ek kan hulle sonder voorbehoud aanbeveel bo die Europese lugdienste wat die meeste mense gebruik.
Hoekom sê ek dit? Ek sê dit omdat ek aanvanklik bevooroordeeld teen die Ethiopiese Lugdiens was. Ek erken dit. Hoe kan so klein landjie wat 25 jaar gelede nog deur geweld en hongersnood gestereotipeer is, nou die beste Lugdiens in Afrika hê? Maar hier kom die beste deel. Net voor ons opstyg lees ek dat die Ethiopiërs aanbied om ‘n deel van die sukkelende SAL te koop. Kan u dit glo? 25 jaar gelede was die SAL die beste en grootste lugdiens in Afrika, nou moet ‘n arm land ons help! Maar die nie Ethiopië se enigste prestasie nie. Hulle ekonomie het sedert 1990 per kop met 174.08% toegeneem, teenoor Suid-Afrika se skrale 22.67%! Maar daar’s meer. Onthou u die gruwelike foto’s van verhongerde Ethiopiese kindjies in die droë woestyn? Hulle is nou besig om daardie hele land te vergroen en ontbossing om te keer- vir ure het ek net groen plantasies en landerye onder die vliegtuig gesien. Net in Julie hierdie jaar het hulle 350 miljoen bome binne 12 uur (een dag!) geplant en daardeur die wêreldrekord wat deur Indië gehou was oortref! Hulle beplan om sowat 400 miljoen bome voor die einde van die jaar te plant!
Dis nie die enigste Afrikaland wat met rasse skrede gevorder het nie. Terwyl ons vlieg het ek gedink aan Ghana daar êrens onder die vliegtuig wat sedert 1990 met 121.59% gegroei het. Onthou u die verskriklike Volksmoord van die 1994 in Rwanda? Wel, daar’s nou al vir 25 jaar vrede en veiligheid, en hulle per kop inkomste het sedertdien met 298.31% geklim. Dit teenoor Suid-Afrika se 33.61% sedert 1994. Maar dis nie al nie. In 1990 was Mauritius se per kop inkomste net meer as die helfte van Suid-Afrika, maar nou is ons per kop inkomste net die helfte (57%) van Mauritius! Daarby het Mauritius se werkloosheid tussen 1983 en 2018 met 64.49% afgeneem, teenoor Suid-Afrika se toename van 122.68%.
Nou’s my vraag: hoekom vlieg Ethiopië by ons verby, hoekom oortref Mauritius ons groei, hoekom werk Rwanda, hoekom is Botswana se politici eerlik, hoekom is Namibië veilig, en Zambië vreedsaam? Hoekom word Suid-Afrika weer die muishond van Afrika? Omdat ons ten spyte van sterk mededinging van nog baie swak regerings op die Kontinent, sekerlik die vrotste regering in Afrika het! Dis nie dat hierdie lande nie probleme het nie, maar hulle werk aan oplossings. Ons regering transformeer die oplossings in probleme. Wat gaan met die ANC-regering aan dat almal vorentoe gaan en ons agteruitboer? Al waarvan mens hoor is straflose industriële skaal korrupsie, omtrent al die grafieke gaan suid, en al wat mens op die nuus sien is skandale en verval. Die ANC wil alles beheer, maar kan niks bestuur nie.
- Klagstaat/Padkaart
Ek wil vandag ‘n Klagstaat teen die regering aan u voorhou, en dan wil ek by u hoor wat u dink hulle op die aanklagte moet pleit as u dink ons het genoeg bewyse: (skuldig of onskuldig)
Klag 1: Julle hou nie die burgers van hierdie land veilig nie!
Klag 2: Julle laat die staat stuk-stuk op die koppe van die burgers verval!
Klag 3: Julle verarm ons met jul powere ekonomiese bestuur, en wil nou boonop ons pensioenfondse tap omdat ons hardverdiende belastinggeld klaar op en weg is!
Klag 4: Julle het die Regsorde laat verval en wetteloosheid laat toeneem! Daar sit nog nie een Zupta in die tronk nie, en orals ontwrig protesaksies ons lewens.
Klag 5: Julle wil met al jul onwerkbare en onbekostigbare planne sowaar weer bewys Sosialisme kan nie werk nie.
Klag 6: Julle maak ‘n bespotting van die demokrasie deur verkiesings met onhaalbare beloftes van “stem vir ‘n lewe” te wen! (6+5) (Beloftes maak skuld, wat die hardwerkende belastingbetalers moet betaal)
Klag 7: Julle het witmense tweedeklasburgers gemaak met al jul rassewette en dubbele standaarde! Julle bederf die goeie persoonlike rasseverhoudinge met giftige politieke verhoudinge!
Klag 8: Julle tas ons Menseregte aan met planne om die grondwet te verander vir OSV, die verbreking van die grondwet met Raswette, kulturele vandalisme van Afrikaans en Afrikaanse skole en universiteite!
Klag 9: Julle regeer teen ons deur die grondwetlike ruimtes vir kulturele vryheid polities toe te stop! Lesufi en kie regeer nou ons skole ipv demokratiese ouerbeheerliggame.
Klag 10: Julle steel ons kinders se hoop deur die land tot op die rand van die afgrond te regeer! Julle blameer wit jongmense vir wat gebeur het voor hulle gebore is, terwyl jul nie verantwoordelikheid neem vir wat julle nou aanvang nie!
Dis nie net hierdie gehoor wat julle op hierdie klagtes skuldig bevind nie. In die hoofstede van die wêreld, Afrika ingesluit, word al meer openlik gepraat dat julle 25 jaar na 1994, mislukking uit die kake van sukses gryp. Wie het ooit met meer globale welwillendheid aan bewind gekom as die ANC? Maar nee, julle verspeel ons almal se kanse. Dis hoekom ons nie beleggers kry nie, hoekom maatskappye landuit trek, hoekom kredietgradeerders ons afgradeer, hoekom mense landuit gaan, en hoekom hier soveel werkloosheid en armoede is.
Dis gevolglik nie ‘n wonder dat die eerste tekens van ‘n belastingopstand sigbaar word agv die straflose plundering van hardverdiende belastinggeld nie. Mense gaan nie net aanhou betaal as hul geld voortdurend gesteel of wanbestuur word nie. Daarom gaan ons eersdaags projekte aankondig wat munisipale diensteliggame tot stand gaan bring om noodsaaklike dienste te lewer, wat finansier gaan word deur kortings op eiendomsbelasting vir diegene wat daaraan wil deelneem. AfriForum se loodsprojekte hiervoor is suksesvol, en dit moet nou landswyd uitgebrei word waar munisipaliteite verval.
Die Chinese regering het na die afsterwe van Mao Zedong die ekonomie begin bevry en kapitalisme ingestel onder die vaandel van “Sosialisme met Chinese eienskappe”. Die Chinese ekonomie het dadelik reageer en vinnig begin groei. Die Chinese leiers het kritiek van die ultra-Kommuniste dat hulle nou Kapitalisties raak afgemaak deur te sê dat dit nie saak maak of ‘n kat wit of swart is nie, solank hy muise vang. In Suid-Afrika voer die ANC nou Sosialisme in onder die vaandel van grondwetlike (sosiaal-ekonomiese) regte, maar nou verlam hulle die ekonomie so dat nie wit of swart katte die ekonomiese muise kan vang nie!
Maar, om net kritiek te lewer gaan nie help nie. Al hou ons nie van die regering nie, is ons lief vir die land, en wil ons help waar ons kan om dit te laat slaag. Al is ons nie vriende nie, hoef ons nie vyande te wees nie, maar kan ons selfs vennote wees. Ons het min gemeenskaplike sienings, maar het baie gemeenskaplike belange soos veiligheid, ‘n groeiende ekonomie wat werk skep en armoede oplos, en ‘n werkende land wat vir almal ‘n toekoms kan bied.
Daarom is ons uitdaging om beter persoonlike verhoudinge met gewone swartmense te kweek as wat radikale politici met hulle het, sodat hulle nie teen witmense opgesteek kan word soos wat Malema en Ace Magushule tydens die Xenofobiese geweld probeer doen het nie. Soos die Afro-Amerikaanse ekonoom Thomas Sowell gesê het: “There are few talents more richly rewarded with both power and wealth, than the ability to convince poor people that their problems are caused by people of another race.”
Maar gelukkig was hulle nie suksesvol nie, want hulle kiesers het deur hulle gesien. Tog lê ons toekoms nie in strategiese konfrontasie met hierdie rassiste nie, maar in strategiese konsentrasie van Afrikaners. Natuurlik moet ons nie huiwer om ons regmatige belange te beskerm nie, maar konfrontasie bly ‘n taktiese metode, nie ‘n strategiese doel nie. Wie nie bereid is om ‘n beskaafde samelewing te verdedig nie, moet homself voorberei op onbeskaafde chaos en verdrukking. Om te staan vir jou regte, beteken nie ‘n opstand nie. Wie vir niks staan nie, sal vir enige iets val.
Laat ek weer terugkom by ons Selfbestuursplanne vir Afrikaners. Ons uitgangspunt is drieledig: die eerste een is dat ons planne nie van die regering moet afhang nie, maar van onsself. Die tweede uitgangspunt is “volksveelheid” ipv volkseenheid. Daarmee bedoel ons dat ons planne voorsiening moet maak vir die hele spektrum van hoofstroom oortuigings van Afrikaners. Die tyd is verby dat een plan op almal afgedwing kan word. Daarom is ons derde uitgangspunt dat dit waaroor ons verskil ons nie hoef te verdeel nie. Maak eerder ruimte vir verskille, werk saam waarmee jy saamstem, sonder om dit waarmee jy verskil teen te staan.
- Toekomsplan se 5 pilare
Ons toekomsplan staan op 5 pilare.
- Binding: die eerste pilaar is om Afrikaners verder saam te bind in ‘n helpmekaar netwerk van selfhelporganisasies, wat dien as die kulturele infrastruktuur vir selfbestuur;
- Beskerm: die voortgaande beskerming van ons gemeenskap se regte en vryhede;
- Bou: die versnelde uitbou van ons “bou om te bly” projekte;
- Beding: die bedinging van ‘n “Kultuurakkoord” met die regering wat ons grondwetlike kulturele vryheid herbevestig;
- Brugbou: die versnelde brugbouprojekte met ander gemeenskappe in die land.
- Selfbestuurspiramide
Die staatkundige “argiteksplan” wat die bloudruk van die selfbestuursprojek is, bestaan uit ’n driehoek met vyf vlakke.
- Persoonlik: die basis van die driehoek is die beskerming en die bevordering van die persoonlike regte en vryhede van Afrikaners, ongeag waar hulle bly.
- Instellings: vlak twee is die uitbou van die veiligheids-, munisipale, maatskaplike, werk- onderwys-, opleidings- en ander instellings en organisasies waarmee selfbestuur gebou
word.
- Dorpe: dienste soos veiligheid, water, maatskaplike hulp en ander noodsaaklike dienste
word vanaf stede en groter ankergebiede aan Afrikaners in klein dorpe gebied.
- Ankergebiede: die groter getalle Afrikaners in hierdie 30 stede en dorpsgebiede maak
dit moontlik om ’n omvattende verskeidenheid dienste te verskaf;
- Kantons: die vlak van selfbestuur kan om verskillende redes waarskynlik die hoogste in
drie gebiede onwikkel, naamlik Pretoria, die Wes- of Suid-Kaap en die Orania-gebied. Pretoria se groot getalle Afrikaners maak dit makliker om dienste daar te ontwikkel wat in Switserse kantons aangetref word, in die Wes- of Suid-Kaap kan genoegsame getalle en sterk gemeenskapsenergie dit moontlik maak, en in Orania en die omgewing rondom die Vanderkloofdam maak die bevolkingsamestelling dit vir Afrikaners moontlik om selfs met 15 000 mense ’n bepalende meerderheid in die gebied te vestig.
- Kultuurakkoord
Ons is almal bewus daarvan dat die regering die grondwetlike ruimtes vir kulturele vryheid al meer polities toestop. Dit geld vir die wetgewende, uitvoerende én regterlike gesag, wat eenstemmig is oor die ideologie van radikale transformasie volgens rasseformules. Vir hulle is die kleure op die spanfoto belangriker as die uitslag op die telbord. Dit is hoekom ons al meer kritiek kry dat ons regmatige benutting van grondwetlike regte regs en rassisties is. Dis al ‘n stryd van meer as ‘n eeu, eers teen die Britse Imperialiste, en nou teen die ANC. Dit is hoekom ek al vir Langenhoven aangehaal het wat aan ‘n Imperialis gevra het “hoekom is my politiek altyd rassisme, en jou rassisme altyd politiek?
Mnr Lesufi en sy geesgenote wil nie net minder Afrikaans hoor nie, hulle wil minder Afrikaners sien. Die aanval op Afrikaans is in werklikheid ‘n aanval op Afrikaners se menseregte. Dit gaan oor veel meer as taal. Die mees basiese reg van ‘n kultuurgemeenskap is die reg op voortbestaan, wat begin met die bestaansreg op instellings soos skole en universiteite wat daardie kultuur aan die volgende geslag oordra. ‘n Aanval op ‘n gemeenskap se skole, kolleges en universiteite, is in werklikheid ‘n aanval op die voortbestaan van ons as gemeenskap. Hierdie instellings is gelyktydig ‘n nasionale- en ‘n kulturele bate, en wie dit wil vernietig wil in werklikheid ons as gemeenskap vernietig. Skoolkaping is nog erger as staatskaping. Dis hoekom ons hierdie mini-Bob Mugabe’s met alles in ons vermoë sal teenstaan.
Daarom wil ons ‘n Kultuurakkoord met die regering sluit, wat ‘n herbevestiging moet wees van die kulturele ruimtes in die grondwet. Ons vra nie gunste of gawes nie, ons wil net hê wat ons toekom. Ons glo aan gelykheid, en nie aan wit of swart oorheersing nie. Laat ons die gevolgtrekking van die VN se Ontwikkelingsverslag van 2004 onthou: “As die geskiedenis van die twintigste eeu iéts bewys het, dan is dit dat pogings om kultuurgroepe weg te wens of in die meerderheid te laat opgaan, eerder ‘n lewenskragtige kulturele herlewing uitlok”.
Kom ons vat mekaar se hande in ‘n gees van wedersydse erkenning en respek, eerder as om mekaar aan die keel te probeer gryp. Ek sê weer, al is ons nie altyd vriende nie, wil ons nie vyande wees nie, maar kan ons veel eerder vennote wees wat in almal se belang saamwerk.
Dit gaan oor veel meer as taal en kultuur, dit gaan oor vryheid, menswaardigheid en gelykheid. Dieselfde ideologie wat die land ondermyn en die vryheid van persone, sakelui, universiteite, die media, die regbank en eiendomsbesitters bedreig, bedreig kulturele vryheid. Daarom moet ons mekaar se vryheid beskerm, want deur iemand ander se vryheid te beskerm, beskerm jy jou eie vryheid.
Ons glo dat ‘n herbevestiging van die taal- en kulturele ruimtes in die grondwet, en ook gesaghebbende bronne soos die VN se Universele Verklaring van Menseregte, die Afrikahandves van Menseregte en die Regte van Volkere en ander tersaaklike internasionale gesagsdokumente, nodig is om die politieke verstopping van ons vryheid te stop. Die doel bly om ons regmatige kulturele ruimtes te verbreed en te verdiep, en om die erkenning en aanvaarding van die uitoefening daarvan deur alle tersaaklike owerhede te vergemaklik.
Ons gaan ‘n groot nasionale- en internasionale veldtog voer om ondersteuning te werf vir ‘n Kultuurakkoord, maar ek wil net die kern van so Akkoord vandag uitlig. Die bewoording van so ‘n Akkoord kan kortliks as volg lees:
Die regering herbevestig die reg van taal- en kultuurgemeenskappe soos Afrikaners om:
- sy identiteit, taal, kultuur, erfenis, tradisies en gebruike te koester en vir die nageslag te bewaar. Dit sluit in Afrikaners se reg om hul erfenis te vier, in die openbaar uitdrukking aan hul identiteit en hul manier van leef te gee en om hul kinders groot te maak binne die raamwerk van hul taal, geloof, waardestelsel en tradisies.
- Dit sluit ook die reg in van die Afrikanergemeenskap om sy eie instellings te ontwikkel en te bedryf ten einde hierdie ideale in die praktyk te verwesenlik.
- Die reg en vryheid op regmatige Selfbestuur op enige wyse wat die internasionale reg vir kultuurgemeenskappe bied.
- Vryheid van beroepskeuse, gelykheid in die werksplek, die reg om ondernemings sonder onbehoorlike staatsinmenging te bedryf, en die genieting van die ander regte en vryhede in die grondwet.
Ons besef dat daar ‘n groot steunwerwingsveldtog en harde bedinging met die regering nodig gaan wees om hierdie vanselfsprekende regte en vryhede te herbevestig, maar glo dat hierdie regmatige strewes wye ondersteuning gaan geniet en dat dit nie vir altyd teengestaan sal kan word nie. Ons sal later meer daaroor bekendmaak en die publiek ruim geleentheid vir insette gee voordat die bewoording finaliseer word.
- Die Pad Vorentoe
Dit is so dat veel van wat opgebou is vandag vervalle, vernietig of oorgevat is. Dit is ook so dat die regering die land en ons gemeenskap teister met onbekostigbare en onwerkbare beleidsrigtings. Ons word soos tweedeklasburgers behandel en derdewêrelds regeer. Die gehalte van regering word uitgedruk in ekonomiese terme en werkloosheidskoerse, en dit is daar vir almal om te sien. Daarom moet ons begrip hê dat baie mense moedeloos voel en nie meer hoop vir die toekoms sien nie. Ons hoor ook al meer van mense wat wil emigreer. Ons moet hulle nie kwalik neem nie, maar eerder bande met hulle behou soos wat Switserland doen met sy “buitelandse” kanton, om nie van die Israeli’s se buitelandse netwerke te praat nie. Ons moet hulle steeds betrek om te help bou, want dieselfde dinge wat hulle uitgedryf het teister hulle geliefdes wat bly steeds.
Maar ons kan nie net op die ashoop van wanhoop gaan sit nie. Afrikaners het vandag 3 toekomskeuses. Die eerste is emigrasie, die tweede is om te wag dat staatsbestuur verbeter, en die derde keuse is om saam te bou aan groeiende Selfbestuur.
Ons kies die derde weg- Selfbestuur. Die eerste weg, emigrasie- bly ‘n oplossing vir enkelinge, nie vir ‘n hele volk nie. Ons wil nie die wat trek verloor nie, maar ons wil ook nie dat hulle hul gemeenskap verloor nie. Ons kan mos nie weggooi wat oor meer as drie eeue hier opgebou is nie. Dan sal al die bloed en trane en opofferings van al die geslagte voor ons mos vergeefs wees.
Die tweede weg, Staatsbestuur, is te vol slaggate en risiko’s om as ‘n permanente oplossing te oorweeg. Die grootste risiko is om te sit en wag dat dinge regkom, eerder as om ‘n plan te waag om dinge self reg te maak. Liewer die ietwat onsekere waagstuk van Selfbestuur, as die sekere mislukkings van staatsbestuur wat ons elke dag om ons sien. Selfs al kom dinge more reg, vereis verantwoordelike langtermyn risikobestuur steeds dat ons Selfbestuur aanpak. Geen gemeenskap met selfrespek kan sy toekoms permanent afhanklik stel van ‘n regering nie. Dit sal roekeloos wees.
Ons moet selfbestuur bou om te bly vir die 95% wat bly. Ons verlang nie terug na die verlede onder die NP nie, maar sien nie kans vir ‘n ewige toekoms onder die ANC nie. Laat ons ophou om mekaar moedeloos te praat oor dinge waaraan ons niks kan doen nie. Kom ons begeester mekaar eerder met die dinge waaraan ons wel iets kan doen. Laat ons ophou om te kla oor dit wat sleg gaan, en laat ons ‘n toekoms bou sodat dit kan goed gaan. Laat ons nie gewoond raak aan alles wat abnormaal in die land is nie, maar laat ons bou aan ‘n normale bestaan waar ons ook vry, veilig en voorspoedig kan wees. Kom ons trek nie ‘n streep deur ons verlede en ontbind as volk nie, maar kom ons bou eerder ‘n pad na die toekoms. Kom ons respekteer almal in die land, maar kom ons respekteer ook onsself.
Suid-Afrika word tans deur twee omgekeerde grafieke geteister, een wat afgaan en een wat opkom. Die swak staatsbestuur wat die land teister lei terselfdertyd tot die opkoms van groeiende selfbestuur. Waar die swak staatsbestuur neerdrukkend is, is die opkomende selfbestuur bevrydend. Staatsinstellings plof soms so hard in, dat dit mense nie altyd raaksien dat selfbestuur nuwe oplossings meebring nie. Ons kan min doen aan die verval van die polisie, Afrikaanse universiteite, staatshospitale, Eskom, dorpe en die uitsluitende rassewette deur die swak staatsbestuur. Maar ons kan help bou aan buurtwagte, Afrikaanse privaatuniversiteite, kolleges, werksburo’s en maatskaplike netwerke.
12 Doendinge:
- Beding ‘n Kultuurakkoord met regering- steunwerwing daarvoor
- Beskerming van regte, vryhede en belange
- Bou van kulturele infrastruktuur en Afrikaanse leefruimtes vir saambestaan
- Binding van Afrikaners in Helpmekaar netwerk van selfhelporganisasies
- Brugbou na ander gemeenskappe en die owerhede
- Veiligheid deur Buurtwagte en Veiligheidsmaatskappy
- Internasionale steunwerwing en netwerk met die Afrikaanse diaspora
- Belastingveldtog: waghondrol, beding vir kortings
- Samewerking met Afrikaanse gemeenskap: ATR, AON, MOS
- Protesteer teen swak regeer
- Kapitaalmobilisering
- Beskerming van die Regsorde