Dit was op Alexanderbaai (van alle plekke!) dat ek die eerste keer die ANC se Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP) gesien het. Ek was nog nuut in die vakbondwese toe ek in daardie afgeleë gebied namens ons lede gaan onderhandel het. Langs my het ’n jong NUM-verteenwoordiger gesit, met ’n fakspapier in die hand waaruit hy ’n lang lys eise vir die mynbestuur voorgelees het.
Ek het dadelik agtergekom dat hy nie self die lys opgestel het nie, maar dat dit deel van ’n groter plan was. Dit het my nuuskierigheid geprikkel, en in teetyd het ek met hom begin gesels. Hy het ’n afskrif van die dokument vir my gegee, wat – in Afrikaans, nogal – getiteld was “Heropbou en Ontwikkelingsprogram (HOP)”. Die subtitel was “ANC – Reg om te regeer”. My eerste gedagte by die lees daarvan was iets soos aitsa, die ANC sal nog leer dat dit makliker is om te protesteer as te regeer!
Dié aand by die gastehuis het ek die dokument deurgelees, en nog meer bekommerd geraak oor die gevolge wat ’n ANC-regering vir die land sou inhou. Hoewel die HOP in redelike en gematigde terme geskryf was, was dit op dieselfde sosialistiese grondslae gebaseer wat al sovele keer misluk het.
Ek onthou die kern daarvan was dat dit ’n baie groot magsrol vir die staat voorsien het, wat dan daardie mag moes gebruik om “gelykheid” te bewerkstellig. Hulle regmatige strewe om swartmense op te hef, was oorheers deur die verdoeseling van ’n plan om witmense in die proses af te trek. Die klem was nie om armes ryker te maak deur ekonomiese groei nie, maar om die rykes armer te maak deur radikale herverdeling op rassegronde. Met “rykes” is daar nie die miljoenêrs bedoel nie, maar gewone produktiewe witmense wie se poste en bates nou herverdeel moes word om almal gelyker te maak. Dit het my verstom dat hulle steeds gedink het dat ’n politieke strategie mense uit armoede kan lig, eerder as ’n ekonomiese strategie. My gevolgtrekking was dat die noodsaak om swartmense op te hef, sal misluk weens hulle eie beleid om teen wittes te regeer.
Transformation
Die nou vergete HOP was die ANC se bloudruk vol beloftes en goeie voornemens waarmee hulle die land oorgevat en begin regeer het. Hoewel die HOP taamlik gou deur ander bloudrukke opgevolg is, het die goue draad in al die dokumente dieselfde gebly. Dit was dat die regering sy mag moes gebruik om met “radikale transformasie” minderhede se poste, bates en instellings te teiken vir herverdeling aan hulle kiesers. Dit was nie “meer vir ons almal” nie, maar “julle s’n vir ons”.
Die destydse hoof van die liberale Institute for Race Relations, John Kane-Berman, het dit soos volg gestel: “The term ‘revolution’ sounded too harsh for sensitive post-’94 ears, so the ANC seized the term ‘transformation’ and designated it the official state ideology. The problem with this is that it could be understood simultaneously in an innocent and revolutionary manner. Being against transformation is being completely politically incorrect – almost like being against motherhood and apple pie! But supporting it implies support for the ANC’s National Democratic Revolution.”
Uitkoms
Daar het ná 26 jaar van ANC-bewind genoeg tyd verloop om die uitkomste van die HOP en sy opvolgers te beoordeel, en nie net politici se uitsprake nie. ’n Beleid word immers nie aan sy bedoelings gemeet nie, maar aan sy uitkomste, het die Nobel-ekonoom Milton Friedman gesê. Die uitkoms van die ANC se beleid en regering was dat die land net voor die Covid-19-krisis ná jare van waarskuwings deur graderingsagentskappe na rommelstatus afgegradeer is. Daarmee was die mislukking van die ANC-regering net amptelik bevestig. Die feite het dit reeds gewys in die rekordsyfer-werkloosheidskoers, voortdurende resessies, groeiende staatskuld en swak staatsbestuur. Die HOP se beloftes van “heropbou en ontwikkeling” het in die praktyk “afbreek en agteruitgang” geword.
Nuwe “BBB” in plek van mislukte HOP
Maar hoe lyk die pad vorentoe ná die inperking en Covid-19?. Die uitdaging is dat die ANC steeds aan bewind gaan wees, al kon hulle die land nie eers voor die krisis suksesvol regeer nie. Dit help egter nie om net daaroor te kla nie, want dit gaan niks verander nie. Die krisis het weer gewys dat ons op ons eie is. Daarom sal ons moet terugval op die ou spreekwoord waarmee ons al vir meer as drie eeue in die land oorleef het: ’n Boer maak ’n plan.
Dis nie so moeilik as wat dit klink nie – ons het al ver gevorder. Nadat ek daardie HOP-bloudruk van die ANC op Alexanderbaai gesien het, was ek oortuig dat dit gaan misluk, en dat ons weer eendag ’n helpmekaarbeweging sou moes stig. Ons kon nie die ANC se HOP stop nie, maar niks keer ons om ’n “BBB-plan” – beskerm, bewaar en bou – te begin nie. Natuurlik het ek en my kollegas nie presies geweet wanneer en wat die krisis presies sou wees nie. Ons breë aanname was wel dat staatsbestuur sal misluk, en dat ons aan groeiende selfbestuur sal moet begin bou deur sterk selfhelporganisasies te stig. Hoewel ons dus nie presies kon beplan nie, kon ons voorberei. Daarom het ons oor die afgelope paar jaar vir elke staatsfunksie wat misluk of wat ons uitsluit, ’n alternatief gebou.
Die ANC se hantering van die krisis het dit duidelik gemaak dat hulle witmense as tweedeklasburgers sien, ’n minderheid wat minder regte het as ander in die land. Daarom is ons enigste uitweg om ons eie gemeenskap van eersteklas-kultuurburgers te maak.
Die Solidariteit Beweging is as krisisbeweging gestig vir ’n krisis wat jare gelede reeds voorsien is. Daarom was ons ook gerat vir die huidige krisis, al kon niks ’n mens genoegsaam voorberei vir die hartseer van baie lede wat hulle werk of inkomste daardeur verloor het nie. Maar ons kan nie gaan lê nie, ons sal te midde van die krisis weer moet begin herbou. Die uitdaging is om ons planne in hierdie tyd te versnel om mense met hul werk en ander behoeftes in baie moeilike omstandighede te help. Ons het nou vir dekades lank probeer om staatsbestuur reg te ruk, maar dit het misluk. Daarom is ons besig met beplanning om selfbestuur op elke denkbare gebied te versnel. Ons toekoms is heeltemal te belangrik om aan ’n party oor te laat wat ons nie kan of wil help nie.
(Bron: Solidariteit Tydskrif, Maart 2020)