Beste vriende en makkers,
In elke geslag se leeftyd is daar ʼn plig om nee te sê. Dis nou ons tyd!
NP van Wyk Louw waarsku teen die gevaar as ‘n hele geslag sonder protes verbygaan. Anders gestel: die gevaar as die plig om nee te sê versaak word. Dit gaan oor meer as die korttermyn onreg teenoor die individu maar ‘n langtermyn gevolg wat selfs oor geslagte kan strek. Dit is die dieper reg wat ons almal voor moet stry.
Sê ons nie nou nee nie, word dit elke keer moeiliker en word ons meer verlam.
Solidariteit het saam met AfriForum stukke by die Konstitusionele Hof ingedien om nee te sê vir die Departement Toerisme se planne om hulp te gee op grond van ras.
Intussen werk Solidariteit se regspan aan ʼn klag teen die Suid-Afrikaanse regering, by die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van rassediskriminasie, rakende die regering se besluit om die kleur van jou vel vir hulp te oorweeg.
Solidariteit het by die Lyttelton-polisiestasie ʼn klag teen die Minister van Kleinsakeontwikkeling, wat ‘n vals eed afgelê het, gelê. Sy het in hofstukke gesê haar departement gaan nie hulp op grond van ras toeken nie.
Ten spyte van haar eed wat sy gesweer het, spring sy toe om – en hóé jy lyk, gaan nou wel ʼn maatstaf vir hulp wees.
Ons lê ʼn klag, want dit is ons plig om nee te sê.
Die hele situasie is, om die minste te sê, bisar. Verlede week lewer ʼn regter uitspraak dat dit reg is dat mense in nood hulp kry op grond van die kleur van hul vel.
Waarom skreeu almal nie van die dakke af dat dit gek is nie? Waarom kom die groter gemeenskap nie hul plig na, om nee te sê, nie.
Die regering voer dit verder en sê die voedselhulp wat ons bymekaar maak en wil versprei, wil hulle ook beheer en oor besluit.
“Nee”, sê ons vir die regering: “dit gaan die regering nie doen nie”. Julle gaan nie hulp aan ons weier en dan die hulp wat ons aan die gemeenskap gee, keer, beheer en reguleer nie.
ʼn Radiostasie vra my waar ons argumente in die hof platgeval het. Nee, dis die stelsel wat op ons platgeval het. ʼn Regter bevind dat hulp in ʼn krisis op grond van die kleur van jou vel gegee mag word en die stelsel meen dis reg so.
Die stelsel het hierdie saak op morele vlak verloor. Om belastingbetalers se geld te vat om hulp te gee op grond van die kleur van jou vel, is moreel siek.
Die regering verwag van ons as wit mense, minderhede en Afrikaners om dit te aanvaar. Die hof het mos nou gespreek, maar die kern bly tog dat reg gespreek moet word.
As die reg sê daar is regverdiging om só teen wit mense te diskrimineer, het ons ʼn rassestaat; nie ʼn regstaat nie. Dis ʼn onreg.
Ons as minderhede in die algemeen, en Afrikaners spesifiek, moet dit nie aanvaar nie. Ons het ʼn plig om nee te sê.
Hulp op grond van wie jy is, is op dieselfde immorele vlak as om die verspreiding van kos eensydig te wil beheer. Die antwoord is nee.
Die regering het nie die grondwetlike, morele of selfs godsdienstige reg om ons burgerlike lewe te nasionaliseer nie.
Ons gaan ons vryhede verdedig. Ons is niemand se belastingslawe nie.
Oor hierdie saak gaan ons die regering beveg, in ʼn strafsaak, in die grondwethof en in die VN.
Dié onreg moet reggestel word.
Ons gaan egter nie plekke afbrand, rommel strooi, vensters breek, klippe gooi en mense aanrand nie.
Ons gaan ook nie ons vryhede verwaarloos, neerlê en verskrik raak nie.
Ons wil vry wees en sal self doen.
Op dieselfde dag as wat die rasse-uitspraak kom, het Solidariteit Helpende Hand R2 miljoen se kos versprei. Om honger te keer is immers die regte en goeie ding om te doen. Miljoene rande en miljoene rande meer se fisiese hulp is deur die Solidariteit Beweging se Krisisfonds ingesamel. Die nood is groot en skenkings stroom steeds in.
Die regering skop ons uit en dan help ons onsself. Nee, dít gaan nie van bo af beheer word nie.
Dis harde protes. Ons as gemeenskap wat sê: “Basta, ons sê nee en doen self!”
Die regering het egter nou weereens gewys – ons moet ons eie ding meer, en op nuwe maniere doen. Ons moet die krag en waarde van mekaar ontdek. Ons moet mekaar in ons beroepe ondersteun, by mekaar koop, mekaar help, na ons ou mense en weerloses kyk en mekaar in diens neem. Ons moet ons kinders laat leer en jongmense laat studeer. Ons moet ons beveilig, ons kultuur uitleef en oppas, saam leef, konsentreer en saam bid. Dis die wapens in ons hande – kragtige wapens.
Die wonderlike ding is dat Afrikaners dit al gedoen het: opstaan ná die Anglo-Boereoorlog en Helpmekaar ná die Rebellie van 1914 en die reddingsdaad ná die depressie in die 1930’s. Ons weet hoe om in en na krisisse terug te bons.
In die middel van die koronakrisis en die nood wat daarmee gepaard gaan, het die regering en die stelsel ʼn ongelooflike onreg teenoor wit mense, minderhede en Afrikaners gepleeg – hulle het in nood gesê: wit mens jy is op jou eie.
Ons kan nie op hierdie staat staatmaak nie.
Ons kan ons nie laat bind deur onreg deur die staat nie.
Ons kan dus ook nie afhanklik van die staat wees nie.
Ons kan wel binne en vanuit die gemeenskap in geloof en vertroue optree.
Dit is ʼn ander soort protes, wat ons geslag nie mag verbygaan nie en dit is bevrydend.
Dus, jammer Minister, ons het ʼn plig om nee te sê.
My oproep aan ons almal is dus: sê nee en help mekaar.
Groete
Dirk Hermann