Geagte president Cyril Ramaphosa,
Die land brand.
In Januarie steek misdadige studente die Howard College van die Universiteit van KwaZulu-Natal aan die brand. Ook in Januarie word nóg treine in die Wes-Kaap aan die brand gesteek. Tot soveel soos 140 treinwaens is die afgelope drie jaar in afsonderlike voorvalle aan die brand gesteek.
Op simboliese vlak is staatsondernemings aan die brand en in huise brand kerse. Die Suid-Afrikaanse ekonomie brand en poste word vernietig. In Januarie is ons geskok oor duisende werkers wat afgedank gaan word.
Steeds in Januarie steek die ANC kersies op ʼn verjaarsdagkoek aan die brand en sny die koek. Hulle lag en lyk gelukkig. Hulle vier die stand van die land. Die land brand en die ANC eet koek en drink sjampanje.
En ons gewone mense is kwaad oor die toestand waarin die land is. Terwyl ons die hitte beleef, praat die ANC oor ʼn beter lewe vir almal.
Ek praat graag met u uit my hart met die oog op die staatsrede op 13 Februarie.
Ek is ʼn gewone burger, man van my vrou en pa van my kinders wie se toekoms nou begin. Ek wil hê hulle moet hier bly en daarom kan ek nie stilbly nie.
Ek praat dus brutaal eerlik juis omdat ek nie wil hê die land moet misluk nie. Ek verlekker my nie in die staat wat verswak nie. Nee, ek treur.
Van al die ongelykhede in ons land is daar geeneen so breed soos die ongelykheid tussen die ANC se denkbeeldige prentjie van Suid-Afrika en die werklikheid nie.
Terwyl ons in die koerante lees oor binnegevegte en verskillende faksies in die Suid-Afrika van die ANC, sien ons elke dag hoe die regte Suid-Afrika begin inplof.
Beurtkrag het nou bykans ʼn daaglikse verskynsel geword. By u presidentswoning is die krag nooit af nie. U ministers weet ook nie hoe dit voel om in die verkeer vas te sit weens beurtkrag nie – hulle word deur blouligbrigades deur die verkeer gelei. Ons gewone mense dra die gevolge van die regerende party se mislukking. Ons is moeg van die donker en moeg daarvan om staatsverval in ons huise te beleef.
Mnr. Ramaphosa, die ANC baklei onder mekaar terwyl gewone Suid-Afrikaners om oorlewing moet baklei.
Die land en sy werkers word geoffer vir uitgediende, sentralistiese staatsideologieë.
In 2020 sien ons, weens ʼn krimpende ekonomie, ʼn bloedbad van afleggings oor alle bedrywe en sfere heen. Telkom, Samancor, Glencore, Massmart, Amsa, MultiChoice en soveel ander ondernemings moet werkers in hul duisende aflê. Slegs vier uit tien volwassenes in Suid-Afrika werk. Vir dié wat werk en dié wat nie werk nie, is daar geen rede om koek te sny en “Geluk liewe maatjie” te sing nie.
Ons is nie gelukkig oor die stand van sake nie.
Terwyl tallose Suid-Afrikaners in haglike omstandighede in die openbare gesondheidsektor behandel word en 144 gesinne van die Life Esidimeni-pasiënte oor onbevoegdheid treur, wil die regering nou die totale sektor nasionaliseer.
Terwyl daar na skuld gesoek word, tot sover terug soos Jan van Riebeeck, loop Suid-Afrikaners bekommerd rond oor ʼn land wat besig is om te misluk.
Terwyl 75% van skole disfunksioneel is, is dit Lesufi se missie om presterende Afrikaanse skole te teister. Terwyl die polisiemag verswak en die land verstom is oor die swak dissipline van polisieleiers by ʼn staatsbegrafnis, is Suid-Afrikaners oral onder misdaadbeleg.
Terwyl die res van die wêreld én die geskiedenisboeke bewys dat privaat eiendomsreg ononderhandelbaar vir sukses is, gaan die ANC net eenvoudig voort om eiendomsreg aan te val.
Eskom is die simbool van transformasie in Suid-Afrika. Daar is met trots van wit mense en institusionele geheue ontslae geraak deur plekmaakpakkette en rassetransformasie. Vandag sit ons in die donker en die regering publiseer strenger rassewette
Terwyl duisende staatsdienswerkers hard werk, wil u die staatspensioenfonds gebruik om in die Eskom-put af te gooi. Gewone mense se belastinggeld is by Eskom en talle staatsondernemings geplunder en gewone mense se pensioenfondse moet nou gebruik word om die gevolge van die plunderaars reg te stel.
Ons moet uit die krisis, maar die ANC skep geen voorwaardes om uit die krisis te kom nie.
Ons wil nie die 13de Februarie ʼn mooi toespraak oor die droomwêreld van die ANC hoor nie. Ons wil hoor van die werklike stand van die staat en ons wil hoor van daadwerklike ingrepe.
Dit sal ʼn dapper leier verg wat bereid sal moet wees om met uitgediende ideologie te breek.
Ons wil eerder hoor dat die staat minder gaan doen, inmeng en reguleer. Ons wil hoor dat hande van ons pensioengeld af gehou gaan word. Ons wil hoor dat eiendomsreg gerespekteer sal word.
Ons wil hoor dat die opwekking en verspreiding van elektrisiteit gedesentraliseer word. Ons wil hoor dat die oorregulering van die ekonomie – rasseregulering ingesluit – gestaak word. Ons wil hoor hoe buitelandse vertroue herstel gaan word.
Ons wil hoor dat openbare skole nie staatskole word nie en dat die magte van ouers nie gesentraliseer word nie. Ons wil hoor en die vertroue hê dat die staat ons sal beskerm.
Ons wil hoor hoe die staat sy verantwoordelikheid in die openbare gesondheidsektor gaan nakom en ruimte vir privaat mediese dienste sal skep.
Ons wil hoor dat die privaat sektor en die gemeenskap meer in staat gestel gaan word om probleme self op te los.
Ons wil hoor dat plunderaars vervolg gaan word. Ons wil van radikale ingryp hoor.
Op 13 Februarie 2020 is u geleentheid om as staatsman die land bó die party te plaas.
Ek is egter bevrees dat die party die ideologie bo alles gekies het. Ideologie is werklikheidsvreemd en dit is wat met die ANC gebeur het.
Die prys is ongelukkig ʼn land wat brand.
Groete,
ʼn SA burger wat treur