Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, wat self ʼn oud-SR-voorsitter, raadslid en uittredende visepresident van die konvokasie van die Noordwes-Universiteit (NWU) is, het hierdie ope brief aan prof. Robert Balfour, die NWU se adjunk-visiekansellier vir onderrig en leer geskryf oor sy voorstelle oor die universiteit se taalbeleid:
Geagte prof. Balfour
Ek sien u wil die Potch-kampus Engels maak. Dit is die ou PU vir CHO met die mooi universiteitslied met sy treffende aanhef: “Gebore uit die nag van smaad”. Die nag van smaad was swaarkryjare en die opstaan ná die Anglo-Boereoorlog se puin. Mense het in hul armoede hul sente gegee om die universiteit te bou. Die ontstaan van die Potchefstroomse Universiteitskollege (PUK) was voorwaar ’n wonderdaad.
Waar die PUK uit smart gebou is, word hy toe eenvoudig gevat. Samesmeltings, transformasie en ’n nuwe Suid-Afrika was die redes daarvoor. Nou wil julle selfs die taal vat. Dit gaan nie net die taal wees nie, maar alles rondom die taal.
Dit het begin met die verandering van die naam PU vir CHO. Toe is vir ons gesê net die naam op die hek gaan verander. Die CHO sou van die hek na die hart skuif. Dit was ’n opoffering vir die behoud van Afrikaans. Dit was toe nie waar nie.
Daarna is gesê Afrikaans sal beskerming geniet deur ’n gedesentraliseerde model bestaande uit verskillende kampusse, waarvan elk op sy eie uniek is. Nou is dit ook nie meer waar nie.
Moenie bekommer nie, is toe vir ons gesê. Die PUK sal PUK bly. Nou is die woorde van die akroniem, PUK, verbode woorde.
Elke kampus in hierdie gedesentraliseerde model sou sy eie karakter hê. ’n Gesonde studentelewe, uniek aan elke kampus, sou beskerm word. Ook dit is nie meer so nie.
Tolkdienste van wêreldgehalte sou vir diegene wat in Engels wou studeer, toegang bied. Nou is dit vernederend.
Elke kampus het sy eie korporatiewe kleur gehad, so ontwerp dat dit saam ’n eenheid vorm. Daar word toe, soos telkens vantevore, gekonsulteer. Die meerderheid verwerp toe pers maar pers word die kleur. Niks van wat belowe is, het toe waar geword nie. Alles was prosesse op pad na iets anders.
En nou, nou moet Potch Engels word. Alles wat belowe is, is tot niet. Moenie bekommerd wees nie, sê hulle nou. Daar sal nog ’n plekkie vir Afrikaans wees. Dalk kan daar steeds ’n tolkdiens in Afrikaans beskikbaar gemaak word as dit prakties moontlik is. Studente mag dalk nog met mekaar Afrikaans praat, solank hulle net nie daardeur uitsluit nie.
Beste Professor, die geskiedenis toon dat ook dít nie waar is nie.
Ongelukkig is Engels die voorwaarde vir transformasie. Dit is nie die einde nie, dit is die begin.
Nou volg die eis dat die kurrikulum gedekoloniseer word – en niemand weet nog wat dit behels nie. Ander kampusse wys dat anargisme die instrument is wat gebruik word om dit te eis. Studentelewe gaan verdwyn; koshuise se name gaan verander; en tradisies gaan sneuwel. Meer sentralisering kom. Dié resep is al by ander universiteite getoets.
Radikale transformasie gaan die kodewoord word.
Die slegte nuus vir u is dat die Balfours, al praat hulle Engels, sal moet gaan. Die krokodil wat u voer, gaan u eet. Dit geld ook vir die Van Rensburgs, die Verhoefs, die Venters, die Van der Walts en vir andere. Jy kan meedoen of paai, maar die krokodil se lus is onversadigbaar.
U mag dalk opreg glo dat die NWU ’n gladde oorgang van Afrikaans na Engels gaan maak. Dit is net die taal wat verander. Studente gaan toegerus word vir die wêreld daarbuite en dit deur Engels, die wêreldtaal.
Dit is egter nie net die taal op die hek wat verander nie. Wat gaan verander, is waardes, etiek en kultuur. Die waardes wat by so ’n gedekoloniseerde universiteit oorgedra word waar laboratoriums en biblioteke brand as studente nie hul sin kry nie, is nie die waardes wat studente eendag in die wêreld daarbuite suksesvol sal maak nie.
Professor, u blaas ’n vuur aan sonder om te besef wat deur daardie vuur verteer gaan word.
Ek gaan egter nee sê. Ek gaan in geen onduidelike taal nie, nee sê. Afrikaanse sprekers is moeg vir leuens. Eers het die Grondwet ons beskerm. Toe kom die Kovsie-uitspraak. Kovsies, Tukkies, Maties. Talle beloftes en daar het niks van gekom nie.
Potchefstroom – die laaste plek waar Afrikaans as tersiêre taal in ’n openbare ruimte primêr gebruik word – is al wat oor was.
Nou wil julle dit ook wegneem. Dit plaas Afrikaans op die kampus in die laaste loopgraaf. Iets wat ’n geveg verdien. Dit het nou groter geword as die NWU. Dit gaan nou oor ’n taal wat veg vir die oorlewing van haar hoërorde- akademiese funksie wat oor ’n tydperk van 100 jaar ontwikkel is. Dit is te duur om net te laat gaan en julle het nie die reg om dit te doen nie.