Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het hierdie ope brief aan Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, geskryf as deel van sy kommentaar op die wysigingswetsontwerp op die Skolewet, wat op 13 Oktober deur die onderwysdepartement aangekondig is.
Geagte minister Motshekga
Ek gaan nee sê: My kind is my verantwoordelikheid en daarom wil ek besluit
Ek is net ʼn gewone ouer met vier dogters, almal nog op skool. Soos ʼn gewone ouer is ek, ʼn gewone burger, gefrustreerd oor baie dinge in die land. Soos die meeste gewone mense het ek geduld met baie dinge, maar oor iets wat my kinders raak, is ek, soos ander gewone ouers, buitengewoon ongeduldig. Kom ek stel dit anders: dit maak my woedend as iemand my kinders benadeel.
Die voorgestelde wysigings aan die Wet op Basiese Onderwys wil van my kinders staatsobjekte maak, onderdanig aan ʼn staatsideologie. Die idee krap waar nie gekrap moet word nie; dit krap in my hart. Die nuwe wysigings verander openbare skole in staatskole. Die staat sprei sy tentakels in my huis in en ontneem net eenvoudig ouers die reg om deur hul beheerliggame besluite te neem.
Ek is ʼn demokratiese burger, nie ʼn staatsonderdaan nie. Ek wil ʼn sê hê oor my lewe tot op die laagste vlak. Dit geld nog soveel meer vir my kinders.
Skole is mikro-demokrasieë. Dit is plekke waarheen ouers hul kinders neem om onderrig te ontvang en opgevoed te word. Hulle neem saam verantwoordelikheid vir hul kinders en verkies beheerliggame wat oor die skole moet “regeer”.
Die staat wil die demokrasie van skole wegneem en vervang met staatsdiktatorskap. Om ʼn meer bekende begrip te gebruik: die staat wil die skole kaap.
Deur die nuwe wysigings wil die staat besluit oor toelatings, oor taal, oor skoolkapasiteit en oor aanstelling van onderwysers. Die departement kan besluit oor klasgroottes en taalsamestelling. Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, het vandeesweek oor die radio gesê daar is nie plek vir Afrikaanse skole nie. Sy doel is om klasse te vergroot tot 60 of 70 kinders, in teenstelling met konsensus wêreldwyd dat kleiner klasse tot beter onderrig lei, veral op skoolvlak. ʼn Klaskamer met 70 kinders gaan net lei tot ʼn oorwerkte onderwyser wat swak onderrig aan 70 kinders gee. Uitnemendheid word ingeboet vir inklusiwiteit.
Met alle respek, die probleem is nie skole wat uitsluit nie, maar te min skole. Die oplossings wat voorgestel word, is ʼn klag teen die staat se onvermoë om nuwe skole te bou.
Ander voorgestelde wysigings is dat die onderwysdepartement skole kan dwing om fasiliteite met ander skole te deel. Die hoof van die departement kry die mag om beheerliggame eensydig te ontbind. Skoolfasiliteite wat deur ouers onderhou en verbeter word, moet gratis aan die departement beskikbaar gestel word.
Aanstellings van onderwysers moet streng volgens regstellende aksie en rasverteenwoordiging geskied. Onderwysers moet selfs verslag doen oor hul eie en hul huweliksmaat se finansies. Alle skryfbehoeftes en studiemateriaal moet sentraal verkry en versprei word.
Minister, u wil dus die seggenskap van ouers om te besluit oor die huishoudelike sake van die skool wegneem. Skoolgemeenskappe gaan van hul skole vervreem word, want hulle het nie meer inspraak nie.
Die staat word al swakker, maar die regering wil meer regeer. Die wetgewing gaan goeie skole in slegte skole, en slegte skole in nagmerries verander.
Deur die wysigings word die staat nie méér demokraties nie, maar minder demokraties. Suid-Afrika word só ʼn staatsdiktatuur. Dit is ʼn verloor-verloor-verloor-scenario.
Voor 10 November moet Suid-Afrikaners kommentaar op die wysigings lewer. Ek, soos tienduisende ander ouers, gaan nee sê. Ek gaan nee sê vir skoolkaping deur die staat. Ek gaan nee sê vir die staat se planne om openbare skole in staatskole te omskep.
My kind is mý verantwoordelikheid en daarom wil ék besluit. Los my kinders uit!