Politieke oorwegings weeg swaarder as ekonomiese faktore wanneer dit by die VSA-tariewe kom. Senior ANC-leiers soos Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, en Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumbronne, hou aan om die VSA te beledig in plaas daarvan om diplomatieke verhoudinge te bou.
Dít ten spyte van VSA-leiers wat gewaarsku het “you’re not going to insult America for free”.
Hul openlike politieke weersin in die VSA-regering ondermyn die Suid-Afrikaanse ekonomie en veroorsaak nóg groter werkloosheid. Hul pogings om die ANC se politieke probleme op te los, gaan tot ekonomiese krisisse lei wat meestal hul kiesers gaan raak.
Terselfdertyd weier die ANC om die VSA se aandrang op noodsaaklike politieke hervormings ernstig op te neem en hanteer dit bloot as ʼn ekonomiese kwessie.
Die ANC is klaarblyklik vasgevang in die Koue Oorlog-era. Hulle bly klou aan die destydse anti-Westerse politieke beleide en alliansies, ten spyte van die ekonomiese krisis wat hulle veroorsaak.
Hul benepe rassebeleid gaan veel meer oor hul historiese anti-Westerse houding as oor regstelling. Hul vyandigheid strek tot die geboelie van wit burgers van Suid-Afrika as deel van hul diepgewortelde weersin in die Weste.
Die ANC probeer vergeefs om die winde van verandering te weerstaan en dink hulle is steeds die liefling van die wêreld. Daarom soek hulle aanhoudend en onnodig skoor met ʼn supermoondheid. Hierdie benadering gaan nog ernstige gevolge hê, en hulle gaan skoppend en skreeuend die toekoms ingesleep word.
Die ANC sal nog leer: Die verlede gaan nie terugkom nie, die hede gaan nie weggaan nie, en die toekoms gaan nie vanself regkom nie.


