Nuuskommentaar vir Pretoria FM deur Jaco Kleynhans
Die groot Duitse staatsman en kanselier, Otto von Bismarck, het byna ’n eeu en ’n half gelede opgemerk dat die Verenigde State van Amerika deur swak bure in sy noorde en suide, en deur visse in sy weste en ooste gekenmerk gaan word. Bismarck se opmerking is natuurlik in ’n tyd gemaak toe die VSA nog volgehou het met redelike globale isolasie en weinig aptyt om by globale konflik of selfs net internasionale knelpunte betrokke te raak.
Uiteindelik is die VSA by die Eerste Wêreldoorlog ingetrek en ten spyte van ’n sterk afkeur vir verdere buitelandse intervensionisme is die land tydens die Tweede Wêreldoorlog uiteindelik ook weer volledig by die konflik, maar uiteindelik ook die herskikking van globale magsverhoudinge ingetrek. Die res is geskiedenis. Tydens die afgelope agt dekades het die VSA die polisieman van die wêreld geword.
Vandag is daar 90 000 Amerikaanse soldate in Europese lande soos Duitsland, Brittanje, Italië, Pole en selfs die Baltiese State, Georgië en Finland wat almal ’n grens met Rusland deel. Nog honderde duisende Amerikaanse soldate is regoor die wêreld versprei. Daar is tans 750 Amerikaanse weermagbasisse in 80 lande buite die VSA, in veral Europa, die Midde-Ooste, Asië en die Stille Oseaan-gebied.
Terwyl die natuurlike Amerikaanse inslag meer isolanisties was, het die Japanese se aanval op Pearl Harbor dit byna beëindig. Na die terugkeer na ’n uiters gereserveerde buitelandse betrokkenheid in die 1920’s en 1930’s het die Tweede Wêreldoorlog die vraag laat ontstaan of Amerikaanse isolanisme finaal beëindig is.
Die probleem is egter dat byna die hele Europa, maar ook talle lande in Asië, soos Suid-Korea en Japan, en ook talle lande in die Midde-Ooste die afgelope sewentig jaar toenemend afhanklik van Amerikaanse verdediging geraak het.
Volgens ’n onlangse peiling deur die Associated Press verkies 42% van Amerikaners dat hulle land heeltemal van globale konflik en ander internasionale probleme wegbly. Net 23% van Amerikaners voel dat hulle land meer internasionaal betrokke moet raak. Die toename in isolanisme het al tydens die later jare van die rampspoedige oorloë In Irak en Afganistan ontstaan.
Donald Trump se keuse van JD Vance as sy adjunkpresidentskandidaat verteenwoordig ‘n nuwe klem op isolanisme in die VSA. Vance verteenwoordig ’n sterk begronde en intellektuele beweging wat ten minste na die werk van Pat Buchanan in die 1990’s terugstrek en toenemend sedert 2016 onder leiding van Donald Trump weer momentum kry. Hierdie beweging vra nie vir ’n terugkeer na die soort Amerikaanse isolasie van voor die Eerste Wêreldoorlog nie, maar dring wel daarop aan dat Europa, Taiwan, Japan, Suid-Korea en selfs Israel meer moet doen om hulleself te verdedig.
Vance se benoeming het verlede week behoorlik ’n gegons in Londen, Brussel, Den Haag, Berlyn en natuurlik Kiëf veroorsaak. Die Trump/Vance-buitelandse beleid behoort egter niemand af te skrik nie. Dit is steeds gebaseer op kollektiewe verdediging met vennote, maar meer op ’n gelyke grondslag waar almal billik bydrae. Tweedens is dit gebaseer op ’n beëindiging van konflik met langtermyn skikkings en oplossings in plaas van ’n verlenging van oorloë soos in Oekraïne en die Palestynse gebiede. En derdens vereis dit ’n baie sterker fokus op die beskerming van Amerikaanse industrieë en werksgeleenthede teen onbillike internasionale handelspraktyke. Sou Trump in November verkies word, kan dit beteken dat Amerika volgende jaar ’n noodsaaklike herskikking in internasionale magsverhoudinge, handelspraktyke en die voortslepende oorloë mag sien.