Bron: Rapport, 24 April 2016
Teen die muur agter Kallie Kriel lees jy Thomas Jefferson se woorde: A little rebellion now and then is
a good thing.
Om met nul lede en ’n personeelkorps van drie ’n astrante, aktivistiese burgerregteorganisasie te begin, vra meer as net ’n skeut rebelsheid.
Om binne tien jaar 170 000 lede te hê, vra visie.
Dis wat Kallie Kriel met AfriForum reggekry het.
Die invloedrykste burgerregteorganisasie in die land, noem Frans Cronjé, bestuurshoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge, hulle.
Op pad na hul tienjaarviering vanjaar het AfriForum (onder baie meer) die pad hof toe snuifgetrap, indirek meegehelp om Malema uit die ANC geskors te kry, die internasionale reus Nestlé laat ophou melk koop by Grace Mugabe, vir Afrikaans baklei op Maties, Potch, die Vrystaat én Tuks, Pretoria se naam behou, infrastruktuur op die platteland help herstel, plaasmoorde onder die regering én die Verenigde Nasies se neus gedruk, die langste boerewors in die geskiedenis gebraai, en ’n aanvegbare rolprent gemaak oor “die ANC se bevlekte verlede”.
In die uitstalkas in Kallie se kantoor staan ’n borsbeeld van Koos de la Rey en ’n model van die Voortrekkermonument. Yslik groot teen die muur is ’n afdruk van Jan van Riebeeck met die woorde: Je suis Jan, Ek is Jan. Tradisie. Nostalgie. Bande met die verlede.
Jy dink onwillekeurig aan ’n ander kragman in ’n ander kantoor in Suid-Afrika: Gwede Mantashe, met Che Guevara en ’n 1913-foto van ’n swart veewagter agter ’n span osse teen sy mure. Revolusie en nostalgie, bande met ’n ander verlede.
Planete uitmekaar, maar tog: vinkel en koljander.
As ons niks gedoen het nie, was Afrikaans nou weg by Tukkies. Ná ons ooreenkoms met die ANC was daar stabiliteit op die kampusse. Nou’s ons kritici stil.
Later, in die maag van AfriForum se imposante gebou in Centurion, kyk adminvroue vlugtig op van dosyne bokse. Die nuwe lidmaatskapvorms marsjeer omtrent by die deur uit, 300 nuwes elke dag.
“Ons moes onsself eers vestig,” hoor jy tevredenheid in Kallie stem, sy wysvinger op die plantjie in hul tienjaargedenkboek wat hul groei uitbeeld: Jaar 1: 560 lede; jaar 2: 6 501; jaar 4: 16 824. En toe, ná hul 2010-hofsaak teen Julius Malema, verdubbel dit byna. En daarna verdubbelings elke jaar.
Dis oor mense se frustrasie met die land, antwoord hy. “Maar as jy bloot hamer op frustrasie, verloor mense moed, emigreer, of bly onbetrokke agter hoë mure. Jy moet vir mense hoop gee.”
’n Beriggie in ’n Britse koerant het AfriForum sy aanvanklike hupstoot gegee. “ ’n Joernalis het uitgesnuffel Nestlé koop melk by Robert Mugabe se vrou, Grace, van ’n plaas wat sy onregmatig bekom het. En ons, ’n magtige organisasie van drie mense, besluit toe om ’n maatskappy met produkte in elke wêreldland aan te vat.”
Hulle skep toe ’n primitiewe webwerf, nestlebloodmilk.com, wys foto’s van wandade in Zim en nooi uit: Raas met Nestlé, hier’s die webskakel.
“Die Britse joernalis publiseer dit toe met die webadres. Binne 24 uur het Nestlé 75 000 beswaarbriewe ontvang. Daai aand op pad huis toe, met my kar vol kinders, bel Nestlé se hoofkantoor in Randburg: Kom vir ’n vergadering, vanáánd nog.
“Nestlé het toe summier opgehou om Grace se melk te koop, en gevra ons moet die webwerf sluit. Die volgende oggend halfagt bel hulle angstig oor die webwerf nog aanlyn is. En ek sê ons kantoor maak eers agtuur oop . . .”
Hy lag. “Byna ’n jaar later bel ’n oom om te hoor of hy maar weer Nestlé-produkte kan koop, want ‘die tannie het nie meer gesigroom nie, en sy lyk al te naar . . .’ ”
Kallie was in 1996 ’n jong geskiedenis- en aardrykskundeonderwyser met sy linkerbrein vol politiek en sy regterbrein vol aktivisme by die Hoërskool Verwoerdburg (nou Centurion) toe hy Flip Buys leer ken het. In Flip, die nuwe hoofsekretaris van die Mynwerkersunie (MWU), se kop was die bloudruk vir Solidariteit.
Twee jaar later was Kallie Solidariteit se bemarkingshoof. Die werk het aangerol: regstellende-aksie-sake, misdaad, onderwys . . . “En omdat ek ’n liefde vir dié goed het, het ek vir Pretoria se naam begin veg. Só is ’n burgerregteorganisasie gebore.”
AfriForum. Met drie personeellede.
“Met my eerste begroting sê Flip vir my: ‘hoorie maat, dis nie ’n begroting nie, dis ? lening.’ Dit het my nogal gegooi, maar dis toe die rede vir ons sukses. Ons was uit die staanspoor selfonderhoudend.”
Hy’t vinnig moes leer wat’s die verskil tussen bedel en beding. “Ons het naïef gedink goeie standpunte is wat tel.” Hulle’t agt keer met Jacob Zuma vergader, en dan luister hy mooi na hul lieflike argumente, en doen niks daaraan nie.
’n Gesprek tussen Solidariteit en Salie Manie (die voorsitter van die arbeidsportefeuljekomitee in die 1990’s) bly hom by. “Toe Salie ons frustrasies oor regstellende aksie hoor, sê hy, nee, man, kannie wees nie, hy’t nog nooit iemand by die parlement sien betoog nie. Ek sê toe nee, die ongelukkiges emigreer. Hy was verstom dat mense hulself eerder sal ontwortel as om standpunt in te neem.”
Op ’n manier het dit deel van AfriForum se DNS geword.
“Speel jy nie binne die politieke speelveld van druk nie, word jy eenvoudig geïgnoreer.”
Van die begin af het AfriForum temperature opgejaag. En blapse gemaak, glimlag hy. “Ek moes leer: As jy nie sterk strukture het nie, kan jy nie maak asof jy sterk is nie.”
Só is hy en drie kollegas op ’n dag in sy karretjie Potgietersrus toe om by die hof te betoog oor sekuriteitsmanne wat in ’n transitoroof doodgebrand het. “Ek’t gereken ’n paar oproepe na predikante en kultuurorganisasies sal sorg dat die massas ons inwag. Toe’s daar vyf mense . . . Die TV was op pad en ons gaan ons naam krater maak.”
Kallie hol toe maar die strate in en hark 50 mense nader. Een blykbaar in ’n Osama bin Laden-T-hemp.
Kallie het as volbloed-KP in Pretoria-Noord grootgeword, in ’n polities wakker gesin wat altyd in ’n kringetjie om die draadloos verkiesingsuitslae geluister het. “Pa het ons geleer jy kán maar trots wees op jou Afrikaneridentiteit, jy mág maar planne maak om te oorleef as gemeenskap, as sprekers van die taal. Maar ons het altyd ook gesê die Afrikaner se voortbestaan moet in geregtigheid wees.”
Kallie het uit die KP bedank oor die party se bande met die AWB en omdat hulle nie aan die onderhandelinge wou deelneem nie. “Afrikaners was destyds in ’n dilemma, hulle kon nie assosieer met die AWB nie, maar ook nie met die NP nie.
“Wat ons nou agterkom met AfriForum se groei: Jy moet die gematigde middelgroep Afrikaners mobiliseer. Dís ons teikenmark, nié die 10% ekstreem regs of die 10% links wat hul Afrikaneridentiteit opoffer ter wille van groter samewerking nie.”
Die ultraregses probeer van tyd tot tyd AfriForum kaap. “Daar kom ’n aanval, sê maar van Sunette Bridges se mense, en dit lyk asof die hele aarde vir jou kwaad is. Dan stap ek na ons adminafdeling en vra hoeveel mense het bedank – en sien dit het geen uitwerking nie.
“Daar’t ’n realisme ingetree, dat ons dinge anders moet aanpak en die morele hoë grond behou. Konflik is in niemand se belang nie, maar dit beteken nie gesonde wrywing is sleg nie.”
Elke AfriForum-sukses was ná wrywing met die ANC. Maar soms is AfriForum se metodes effens kras en die stem nogal skril, skryf Tim du Plessis in die gedenkalbum.
Roekeloos kru, noem Max du Preez hul nuwe anti-ANC-propagandafliek, Tainted Heroes. Die dokumentêr verdraai feite om AfriForum se gevaarlike propagandaboodskap te pas, skryf die joernalis Pieter du Toit in ’n resensie.
Die dokumentêr bring bloot perspektief, verdedig Kallie. “Max het die fliek nie eens gesien nie. Ek het ’n kleintjie dood aan die geskiedenisweergawe van die ANC as ’n vlekkelose klomp wat Suid-Afrika kom red het van die bose Boere. Dis hoekom die fliek vir my belangrik is.
“Afrikaners was allesbehalwe engeltjies. Hulle het foute gemaak, maar óók buitengewone dinge gedoen.”
Toe AfriForum Julius Malema in die hof aangevat het oor “Kill the Boer, Kill the Farmer”, is AfriForum hard gekritiseer in ope briewe aan Kallie. “Die hofsaak sou polarisasie veroorsaak, isoleer Afrikaners en gee ons ’n regse beeld. Ons is later gevindikeer toe die ANC Malema uit die party geskop het.
“Ons word gekap oor ons kwansuis niks doen vir swart mense nie, dat ons net vir Afrikaners werk. Maar ons mág, dis ons grondwetlike reg. Ons het egter veelvuldige identiteite, en ons doen mee om die héle Suid-Afrika te verbeter,” sê hy en gaan haal ’n lêer oor Wallmansthal, waar hulle namens ’n swart gemeenskap onwettige grondbesetters suksesvol in die hof gestuit het.
“Almal drink immers die skoon water uit ons blou- en groendruppelveldtog, word beveilig deur ons buurtwagte, ry op ons slaggatvrye paaie.”
Hulle’t ook kritiek gekry oor hulle die EFF-studente byna militaristies probeer keer het tydens die onluste op die Tukkiekampus.
“En as ons dit nié gedoen het nie? Dis nie die ideaal nie, maar as ouens die klasse instorm en ontwrig en
die universiteit beskerm nie die studente nie?
“Die antwoord is allesbehalwe ’n militêre een, maar as jy nie opstaan vir jouself nie, reduseer jy jouself tot ’n tweederangse burger. Eerder stilbly as om ’n ‘regse’ beeld te kry? Dis soos om selfmoord te pleeg sodat jy nie vermoor word nie.
“As ons niks gedoen het nie, was Afrikaans nou weg by Tukkies. Ná ons ooreenkoms met die ANC was daar stabiliteit op die kampusse. Nou’s ons kritici stil.”
Vindikasie, weer, knik hy.
Beklemtoon: “Jy kan die beste planne hê vir Afrikaans, maar as jy nie die morele hoë grond het nie, sál jy misluk.”
Solank hy ’n sê het, sal AfriForum nooit ’n politieke party word nie. “Dis juis ons voorwaarde vir sukses. ’n Mens kan baie meer doen buite die partypolitiek. AfriForum se nalatenskap behoort te wees: Jy’s nié magteloos nie, jy kan iets doen.”
Soos AfriForum se statuur oor tien jaar verbreed het, het syne ook, skerts Kallie toe ons kyk na sy Comrades-foto’s teen die muur. “ ’n Vriend sê as ? ou lyk soos ek nou tien jaar ná hy die Comrades gehardloop het, is hy baie bly hy’t dit nooit gedoen nie.”
Hy en Elana, ’n opvoedkundige sielkundige, het vier biologiese kinders en een hartskind. “In so ’n groot gesin is daar nooit ’n droë oomblik nie. En jy’s heeltyd besig om iemand iewers te gaan aflaai. Toe ons kleintjie in die kleuterskool was, het ek sommer weer jonk gevoel tussen al die jong ma’s – tot een vir my ‘hallo, meneer’ gesê het. Ek het vir haar skoolgehou!”
Hulle’t laas jaar vir Jakes in hul huis geneem. “Jakes het ’n oop deur na sy toekoms toe nodig gehad. Hy swot nou ’n sweisambag by Soltech en het verlede jaar vir die Blou Bulle se o.18-klubspan gespeel. Die Kriel-gene knou hom gelukkig nie in sport nie.”
Jakes noem hulle nou Ma en Pa, sê hy sag. En vertel ewe stil: “Elvis Blue sing: ’n Mens is gemaak om spore te los. Ek wil nie oordrewe godsdienstig raak nie, maar ’n mens het ’n roeping, ’n rol om te speel. Nie net in jou werk nie, maar ook vir jou kinders . . .
“En jou land.”