FEITEBLAD
Die Solidariteit Beweging, waarvan Solidariteit en AfriForum deel is, is betrokke by ʼn omvattende proses met verskeie rolspelers oor die Bela-wet.
1. Die konsultasieproses wat president Ramaphosa op 13 September aangekondig het, is van stapel gestuur na aanleiding van telefoonoproepe van president Ramaphosa na AfriForum en Solidariteit in die lig daarvan dat hierdie instellings heftige beswaar teen sekere bepalings in artikel 4 en artikel 5 van die Bela-wet uitgespreek het.
2. Die aanvang van die konsultasieproses was nie beperk tot die RNE se geskilbeslegtingskomitee (Clearing House Committee) om ’n oplossing te vind nie, en daar was ook nie ʼn vaste formaat wat alle betrokke partye moes nakom, gestel nie.
3. Die konsultasieproses is as ʼn oop proses aangekondig waarin AfriForum en Solidariteit as die primêre beswaarmakers teen die Bela-wet ʼn sleutelrol sou speel.
In hierdie mate het AfriForum en Solidariteit uitgereik na politieke partye wat sowel binne as buite die RNE is, en in die besonder na die ANC aangesien die ANC die sterkste voorstander is vir die behoud van artikel 4 en artikel 5 van die Bela-wet.
4. As deel van die pogings om die gevolge van die Bela-wet te beklemtoon, het Solidariteit ingevolge artikel 77 van die Wet op Arbeidsverhoudinge ʼn dispuut oor Bela by Nedlac oor Bela verklaar met dié doel om ʼn artikel 77-sertifikaat te bekom wat sy lede toelaat om aan protesoptrede deel te neem.
Die kennisgewing in dié verband is in Oktober ingedien met Solidariteit as applikant en die president van Suid-Afrika en die minister van basiese onderwys as die respondente Solidariteit was die applikant en die president van Suid-Afrika en die minister van basiese onderwys is as die respondente aangewys.
Volgens Nedlac se reëls moet Nedlac poog om so ʼn dispuut te bemiddel.
5. Ná ʼn omvattende proses is twee ooreenkomste bereik.
6. Die eerste raamwerkooreenkoms is tussen Solidariteit, die Presidensie en die Ministerie van Basiese Onderwys gesluit. Beide respondente was behoorlik deur onderskeidelik die minister van basiese onderwys en die president gemagtig om die proses te onderneem, en om ʼn oplossing te vind vir die dooiepunt wat geskep is deur artikel 4 en artikel 5 van die Bela-wet.
7. Hierdie ooreenkoms sit die rol van die president en dié van die minister met betrekking tot die inwerkingtreding en implementering van die Bela-wet uiteen.
Die president moet die inwerkingtredingsreëlings vir die Bela-wet in werking stel , en die minister moet aanbevelings in hierdie verband maak. Die minister is ook verantwoordelik vir die ontwikkeling van nasionale norme en standaarde, regulasies en beleid om die implementering van die wet te ondersteun, waar nodig en toepaslik.
Die ooreenkoms verwater nie die president se finale verantwoordelikheid om die inwerkingstredingsreëlings vir die wet te proklameer nie, maar erken die rol van die minister om aanbevelings in hierdie verband aan die president te maak.
Daar moet beklemtoon word dat hoewel die president se magte om ʼn wet of sekere bepalings van ʼn wet te proklameer gehandhaaf word, hy nie die aanbevelings van ʼn kabinetsminister – in hierdie geval die minister van basiese onderwys – kan ignoreer nie. Hy moet daaroor besin, asook oor enige ander aanbevelings wat hy vanaf enige ander proses ontvang, en hy moet verseker dat die inwerkingtredingsreëlings rasioneel is.
Die ooreenkoms erken ook dat nasionale norme en standaarde, regulasies en beleid rakende die Bela-wet nie voltooi is nie.
Die ooreenkoms beaam dat die kantoor van die president bevestig het dat 13 Desember nie die aanvangsdatum van die wet is nie, maar eerder die einde van die RNE se konsultasieproses is.
Die ooreenkoms bepaal dat die minister ingevolge haar regsplig aanbevelings aan die president sal maak.
Al drie die partye het die ooreenkoms onderteken. Die ondertekenaars wat namens al drie partye opgetree het, was almal behoorlik daartoe gemagtig om die ooreenkoms te onderteken. Al die partye is aan die ooreenkoms gebonde.
Die president het ʼn mandaat aan sy span gegee, en die minister het ʼn mandaat aan haar span gegee om aan die proses deel te neem.
8. Binne hierdie raamwerk is ʼn tweede bilaterale ooreenkoms tussen Solidariteit en die minister van Basiese Onderwys onderteken.
9. Hierdie ooreenkoms bepaal dat die minister by die president sal aanbeveel om die omstrede artikels van Bela slegs te implementeer slegs wanneer norme en standaarde, beleide en regulasies ontwikkel is om die implementering van hierdie artikels te ondersteun.
Dit is ook haar regsplig, selfs sonder hierdie ooreenkoms. Geen proses kan dit verwater nie. Die ooreenkoms stel nie die regsplig van óf die president óf die minister tersyde nie, maar verleen erkenning daaraan.
Die bilaterale ooreenkoms beskryf die norme en standaarde, beleid en regulasies wat in meer besonderhede ontwikkel moet word. Dit is daarop gemik om groter regsduidelikheid en sterker konsultasiemeganismes ter ondersteuning van die betrokke artikels te verskaf.
Hierdie ooreenkoms sluit nie die moontlikheid van toekomstige wetswysigings uit indien die behoefte daarna sou onstaan nie.
Die ooreenkoms benadruk ook die ontwikkeling van moedertaalonderwys in die algemeen.
10. Die Nedlac-proses en die proses wat binne die regering van nasionale eenheid (RNE) aan die gang is, staan op hul eie bene, sluit mekaar nie uit nie en is selfs komplementerend.
Die RNE-proses sal egter met groot moeite tot ʼn ander gevolgtrekking kan kom, want die skikking in die Nedlac-proses is binne die bestaande regsraamwerk bereik.
Trouens, die skikking stipuleer bloot die logiese proses wat van die president en die minister vereis word om te volg. Die beste uitkoms vir die RNE is om die rolle van die president en die minister in hierdie aangeleentheid te erken en om hulle aan te moedig om hul werk te doen.
11. Die RNE mag probleme ondervind om tot ʼn ander politieke ooreenkoms te kom terwyl ʼn duidelike regsraamwerk en proses daargestel is. Die Nedlac-ooreenkoms is binne daardie raamwerk geleë.
Die oplossing vir die Bela-dispuut lê duidelik binne die wet.