(Flip Buys het hierdie toespraak in Junie 2012 gelewer)
Ons is nou in die jaar 2102 en Solidariteit vier sy twee honderdste verjaardag. Dit was ‘n lang pad tot hier en een wat baie durf en waagmoed gekos het.
Die verhaal begin by die probleme wat Suid-Afrika ervaar het aan die begin van die eeu, veral vanaf 2008. Sommer met die afskop van daardie jaar was die land geteister deur ‘n kragkrisis, vaardigheidstekort, geweldsmisdaad, verval van infrastruktuur, politieke onstuimigheid en ekonomiese probleme. Dit het later so erg geword dat al duideliker tekens van staatsverval oor die hele spektrum van die landsbestuur sigbaar geword het. Baie mense het begin twyfel in die toekoms van die land, en die getalle kundige mense wat uit die land uit begin stroom het, het in later jare ‘n vloedgolf geword. ‘n Oplossing was nêrens in sig nie, en mense het op groot skaal begin moed verloor.
Solidariteit was een van die min ligpunte in die Afrikaanse gemeenskap, maar die vakbond se plan was kleiner as die probleem en is te stadig uitgevoer. Maar toe het daar ‘n paar dinge gebeur. Die vakbond se hoofraad het ‘n Tienpunt plan goedgekeur, en ook die Solidariteit Waardeketting as die organisasie se strategie aanvaar. Daar was nou ‘n goeie werkbare plan op die tafel, maar daar was nog nie genoeg hulpbronne om die plan vinnig en doeltreffend uit te voer nie. Dit het steeds gelyk of die land se probleme met die tyd oor die vakbond en sy lede gaan spoel. Die groot deurbraak het gekom toe die vakbond besluit het om ‘n spesiale Solidariteit Groeifonds te stig, deur van elke lid ‘n maandelikse R10 bydrae te vra. Hierdie maandelikse som geld is in ‘n afsonderlike fonds gestort, wat aangewend is om vinniger te vorder met die plan om die dienste aan ons lede op ‘n nuwe vlak te plaas en ‘n veiliger toekoms vir hulle te skep. Die Groeifonds was die moderne weergawe van die geskiedkundige Reddingsdaadfonds en Helpmekaar beweging van die dertigerjare van die twintigste eeu.
Die eerste groot projek van die Groeifonds was om die vakbond se Opleidingskollege uit te bou tot ‘n volwaardige Tegniese Kollege. ‘n Nuwe gebou is dieselfde jaar reeds gekoop en binne ‘n jaar was daar al 500 studente wat volstoom in hulle eie taal besig met opleiding was. Reëlings is ook met Opleidingsentrums in ander dele van die land getref om jongmense op te lei wat ver van Pretoria af gewoon het. Later het baie van die vakbond se bestaande lede hulle kwalifikasies daar verder verbeter, en die sentrum is 5 jaar later aangewys as een van die top drie in die land. Terselfdertyd het die Groeifonds in ‘n Afstand onderrig kollege belê, wat die hele spektrum van nie-tegniese beroepsopleiding aan vakbondlede en hulle gemeenskappe gebied het. Maar dit was nie al nie. Die Solidariteit Helpende Hand se beursskema is ook verdriedubbel, en die vakbond nou al oor ‘n duisend jongmense per jaar gehelp om hulself vir die werkslewe te bekwaam aan Universiteite en die vakbond se Opleidingskolleges. Daarby was die vakbond ‘n vennoot van studiefondse soos die Rapport Onderwysfonds, wat gesorg het dat daar genoeg onderwysers vir die toekoms was. In 2012 is daar formele bande met Europese kolleges vir beroepsopleiding gesluit, wat verseker het dat die vakbond se kolleges aan wêreldstandaarde voldoen het. Teen hierdie tyd het die vakbond al 3 000 jongmense en ‘n duisend lede per jaar gehelp om hulself beter te bekwaam, en die droom dat almal wat wil studeer die geleentheid moet kry was binne bereik. Die vakbond se mededingende voordeel was nou dat sy lede en hulle kinders altyd op die voorpunt van opleiding was. In ‘n land waar goeie vaardighede baie skaars was, het dit gou deurgevloei na beter werksgeleenthede, salarisse en bevorderingsmoontlikhede. Dit was ook in hierdie tyd dat affirmative action prakties tot stilstand gekom het as gevolg van die vaardigheidstekort en verval van infrastruktuur.
Die Groeifonds was ook ‘n inspuiting vir die versnelde groei van die vakbond se personeel agentskappe wat onder die vaandel van Express Personnel Professionals bedryf is. Binne 5 jaar het Solidariteit oor ‘n landswye netwerk van werksverskaffings maatskappye beskik wat werk aan lede en hulle families verskaf het. Hierdie Express agentskappe het baie goed ingeskakel by die opleidingskolleges, en talle maatskappye het ooreenkomste met Solidariteit gesluit om vir hulle opgeleide en ervare personeel te verskaf. Baie Suid-Afrikaners wat na die land teruggekeer het met die hulp van AfriForum se “Kom huistoe” veldtog, is deur Express van werk voorsien. Express het teen 2015 al een van die vyf grotes op die gebied van werksverskaffing geword, en is selfs deur die President in sy Staatsrede bedank vir hul rol in die oplossing van die vaardigheidskrisis na die groot kragonderbrekings van 2011. Vakbondlede se salarisse het ook vinnig gestyg, want werkgewers het geweet dat die vakbond vir hulle vinnig ander werk sal kry as hulle nie genoeg betaal word nie.
Die vakbond het self in hierdie tyd van krag tot krag gegaan, en is wyd erken as die leier op sy gebied. Vanaf die 2008 onderhandeling seisoen het vakbondlede beter verhogings as lede van ander unies gekry. Die nuwe kollektiewe bedinging stelsel en strategie wat in 2009 ontwikkel is, het die vakbond verder op die voorpunt geplaas. Die baanbrekerswerk van die navorsingsafdeling en die Solidariteit Akademie het ‘n groot bydrae tot hierdie sukses gelewer. Die vakbond se kantoornetwerk is opgeknap, en die kantore is omskep in volwaardige Dienskantore. Die vakbond se regsdiens was reeds gereken as die beste op hul gebied, en belangrike dienste soos beroepsveiligheid is nou ook aan lede verskaf. Dit was nie lank voordat die vakbond al vinniger begin groei het nie. Groot werk is hier gedoen deur die Werwings- en Kommunikasie departement saam met al die Organiseerders van die vakbond. Daar is ook ‘n nuwe Bemarkingsafdeling gestig, wat met groot sukses met hulle splinternuwe metodes gehad het. Teen 2015 het die vakbond die 250 000 kerf oorskry, en was ‘n krag in bedrywe wat voorheen as onorganiseerbaar beskou is. Hierdie groei het egter nie die diensgehalte beïnvloed nie, omdat die vakbond se diensstelsels en administratiewe steundienste saam met die ledetal gegroei het. Die Dienssentrum het ook gesorg vir maklik toeganklike dienste aan alle lede. Solidariteit het homself nooit isoleer nie, en met behulp van ‘n alliansie strategie ‘n nasionale invloed uitgeoefen sonder om sy karakter te verloor. Goeie bande is ook met buitelandse vakbonde gebou, en die vakbond het veral op hulle hulp gesteun wanneer swak regerings aan bewind was.
Die Solidariteit Helpende Hand het in moeilike tye hoop geskep vir die Solidariteit familie. Teen einde 2008 was die organisasie landswyd gevestig met takke in elke groot dorp en stad. Die Helpende Hand het mettertyd maatskaplike werkers in al die vakbond kantore aangestel, om na lede in nood om te sien, armes te versorg en gemeenskappe by te staan. Hulle het ook gehelp om jaarliks staatspensioene te reël vir meer as 5 000 gestremdes en bejaardes. Die organisasie se beursfonds het gehelp om jongmense dieselfde en beter geleenthede te gee as wat hul ouers gehad het, en duisende is oor die jare voorberei vir hulle werkslewe. In 2009 is meer as 20 buitelandse takke gestig, en fondswerwing onder Suid-Afrikaners in die buiteland het miljoene rande na hulpbehoewendes in Suid-Afrika laat stroom. Teen 2011 het die organisasie goedkoop behuising aan armes begin voorsien, noodvoedingsprojekte by 78 laerskole bedryf, sowat 5 000 kinders per jaar van skryfbehoeftes voorsien, duisende jongmense gehelp met beroepsvoorligting, en het landswyd Omgeeprojekte soos ambulansdienste in arm gebiede te bedryf. Sowat 3 000 kinders is per jaar na ‘n bekende kinderstrand geneem waar hulle meer van die Evangelie kon leer en ook beroepsvoorligting ontvang het.
Die vakbond het vroeg in die eeu reeds besef dat beskerming op die werksterrein nie genoeg was nie, omdat die grootste bedreiging soms daarbuite gelê het. Daarom is AfriForum gestig, om in die besonder na die beskerming van lede se grondwetlike- en burgerregte om te sien. Die organisasie het gou naam gemaak met oorwinnings in die Grondwetlike- en ander howe oor kernsake soos misdaad en die plig van die staat om sy burgers veilig te hou. Mettertyd het die organisasie uitgebrei na ‘n sambreel organisasie vir Afrikaner belange buite die party politiek, en het ook ‘n leidende rol gespeel om ‘n Afrikaner raad tot stand te bring. Na uitgerekte onderhandelinge met die regering saam met ander goedgesinde organisasies, is ‘n “Opvolgskikking “ uiteindelik met die regering in 2012 beding. Dit het die kroon gespan op ooreenkomste wat reeds oor knelpunte soos regstellende aksie met die regering beding is, en het gehelp om onbillike rassediskriminasie in die werksplek stop te sit. Dit was eintlik ‘n nuwe “sosiale kontrak” oor sake soos onderwys, veiligheid, taalregte en groter selfstandigheid. Die onderhandelinge met die regering het baie soos vakbond onderhandelinge gewerk. Vakbonde onderhandel en sluit ooreenkomste met werkgewers om die regte en belange van hulle lede te beskerm. Hierdie beproefde model is soos elders in die wêreld uitgebrei en aangepas en daar is saam met ander Afrikaanse instellings met die regering onderhandel oor sake wat ons gemeenskap geraak het. Solidariteit het nooit by die party-politiek betrokke geraak nie, maar die vakbond se beleid was om binne die soms harde werklikheid sy lede en sy gemeenskap se belange te beskerm deur met die regering van die dag te beding.
Solidariteit het geweet dat ‘n gemeenskap homself nie kan of moet isoleer nie, en het reeds in April 2008 ‘n buitelandse kantoor in Brussel, die setel van die Europese unie geopen. Die doel van die kantoor was om die vakbond se buitelandse skakeling te koördineer, met goedgesinde vakbonde te skakel, fondse te werf, en om samewerkings ooreenkomste met Opleidingskolleges te sluit. Die kantoor het seker gemaak dat buitelandse regerings onpartydige inligting oor Suid-Afrika ontvang, wat gehelp het dat hulle by tye groot druk op die Suid-Afrikaanse regering geplaas het om grondwetlike bepalings oor veiligheid, eiendomsreg en gelykheid na te kom. Vanaf 2009 is meer skakelbeamptes in die buiteland aangewys. Dit was hoofsaaklik goedgesinde oud-Suid-Afrikaners wat dit vir die liefde van die saak gedoen het. Daar was groot buitelandse druk op die regering om misdaad stop te sit, veral nadat daar in 2009 gelyktydig 78 buitelandse betogings oor geweld in Suid-Afrika in talle hoofstede in die wêreld gehou is. Teen 2014 het die vakbond se buitelandse netwerk vir die eerste keer oor die R20 miljoen rand ingesamel. ‘n Jaar later het die nuwe Vlaamse regering ‘n groot Tegniese kollege in die Oosrand finansier, en Europese maatskaplike organisasies het fondse vir talle Solidariteit projekte bewillig. Namate die veiligheid in die land verbeter het en misdaad afgeneem het, het al meer Suid-Afrikaners na die land teruggekeer. Dit is insiggewend dat veral baie kinders wat in die buiteland gebore is hulself weer permanent gevestig het na besoeke wat deur Solidariteit se buitelandse kantore gereël is.
Solidariteit se Besigheidsafdeling en Groeifonds was die finansiële dryfkrag agter die meeste van hierdie projekte. ‘n Wye reeks dienste is aan lede gelewer, vanaf mediese-, pensioen-, versekerings- en opleidingsdienste. Die vakbond se mediese fonds het in 2014 sy eerste hospitaal geopen, terwyl die Solidariteit pensioenfonds duisende afgetredenes se spaargeld veilig bestuur het. ‘n Eie Versekeringsmaatskappy het uit die vakbond se begrafnisskema gegroei, wat later ook die korttermyn versekering van ons lede hanteer het. In 2015 het die Solidariteit Beleggingsmaatskappy sy eerste aftree oord vir lede geopen. Die maatskappy het ook mettertyd beleggings in ‘n privaatskoolnetwerk en in radiostasies gedoen.
Die vakbond het vroeg in die nuwe eeu al besef dat hulle nie kan bestaan as ‘n eiland van voorspoed in ‘n see van armoede en ellende nie. Daarom is daar uitgereik na swart vakbonde en ander organisasies wat onder die swart armes gewerk het, en is hulp verleen waar dit moontlik was. Die Helpende hand se suksesvolle maatskaplike agentskappe is in arm gebiede gekloon en mense is opgelei om projekte soos kleuterskole, voedingsprojekte, en bejaardesorg te bedryf, terwyl Sol-Tech daar ook Opleidingskolleges gestig het om beroepsopleiding aan werkloses te gee.
Hierdie merkwaardige suksesverhaal van Solidariteit het die doemprofete verkeerd bewys en gewys dat ‘n gemeenskap wat verantwoordelikheid neem vir sy eie toekoms ‘n sukses daarvan kan maak. Hulle positiewe voorbeeld het moed en hoop geskep en is mettertyd nagevolg, selfs deur sosialistiese organisasies wat vroeër vir die staat sou gewag het om iets vir hulle te doen
Vandag kan ons met die perspektief wat tyd bring sien wat die redes vir hulle sukses was, sê die professor. Solidariteit was altyd ‘n doenorganisasie, mense was en is hulle kernbesigheid, en hulle het hulle roeping om hulle mense te beskerm vervul.
Midde in die baie probleme wat in die land was, was die afgelope honderd jaar vir Solidariteit ‘n eeu van sukses terwyl baie ander platgeval het.
In ‘n tyd waar baie mense gesê het dat daar nie meer ‘n toekoms was nie, het hulle in 2008 begin om ‘n toekoms te skep.
In ‘n tyd waarin so baie belowende jongmense oorsee gegaan het omdat hulle nie meer hier geleenthede gesien het nie, het Solidariteit begin om vir hulle geleenthede te skep.
In ‘n tyd waarin mense moedeloos gevoel het oor die politiek, het Solidariteit hoop buite die politiek begin skep.
In ‘n tyd waarin selfs baie werkende mense nie genoeg gehad het om hul gesinne te versorg nie, het die vakbond se onderhandelaars met goeie navorsing, voorbereiding en beplanning vir derduisende werknemers beter diensvoorwaardes onderhandel.
Terwyl opnames getoon het dat werksonsekerheid een van die grootste probleme in die land was, het hulle die vakbond se landswye netwerk van werksbeskerming verder uitgebou en ook vir duisende mense van werk voorsien.
Terwyl die nood van mense wat hul werk verloor het a.g.v. beroepsbeserings en –siektes net groter geraak het, het die Solidariteit spanne miljoene rande se regmatige vergoeding vir hierdie lede beding. Maar meer belangrik, het hulle voorkom dat mense seerkry of siek word deur veiligheid in die werksplek te verbeter.
Terwyl die meeste mekaar net moedeloos gepraat het oor die vaardigheidstekort, het hulle in 2006 met Sol-Tech en hulle ander kolleges en beursfondse aan die probleem begin werk.
In ‘n tyd waarin almal gekla het oor werksgeleenthede, het hulle deur hulle personeel agentskappe ‘n werkverskaffingsnetwerk gevestig.
Terwyl ander vrugteloos vir die regering gewag het om hulle probleme op te los omdat hulle nie die geld gehad het om iets daaraan te doen nie, het hulle met die Groeifonds en hulle sakebeen geld bymekaar begin maak en hulle selfhelp planne self befonds.
Terwyl die meeste mense nie weet of nie omgee vir die opkomende armoede in die wit gemeenskap nie, het die Helpende Hand met die ondersteuning van duisende lede ‘n verskil in baie lewens gemaak.
Terwyl mense net gekla het oor dienslewering wat al swakker geword het, het Solidariteit hulle dienste en diensgehalte op alle terreine verbeter.
In ‘n tyd waarin baie mense net berade gehou het oor die agteruitgang van Afrikaans, het Solidariteit oor die jare in Afrikaans nuut gedink én gedoen, terwyl hulle Engelssprekende lede se taal ook respekteer en bevorder het.
Terwyl baie ander organisasies net gekerm en gekla en by die dag agteruitgaan het, het Solidariteit van krag tot krag gegaan.
Terwyl baie mense baie bekommerd begin raak het oor onbillike rassediskriminasie, is Solidariteit se gebalanseerde standpunt uiteindelik reg bewys en deur die land aanvaar.
In ‘n tyd waarin daar nog baie wantroue tussen wit en swart bestaan en rassisme gedy het, het Solidariteit goeie verhoudings met almal nagestreef.
Terwyl baie dinge in Suid-Afrika al slegter gegaan het, het talle buitelanders na die vakbond se suksesverhaal kom kyk en is dit uiteindelik ook in Suid-Afrika nagevolg.
Terwyl minderheidsgroepe uit die openbare lewe onttrek het, het Solidariteit se Burgerregte inisiatief mense weer tot deelname aktiveer.
Terwyl sommige net gedink het aan emigrasie landuit, was AfriForum al weer besig om met ‘n Kom Huistoe-Veldtog mense terug te bring.
Terwyl baie mense net gekla het maar min daaraan wou doen, was daar feitlik elke dag iets in die media oor wat Solidariteit gedoén het.
Terwyl baie hoofde van organisasies gekla het oor hulle mense, het Solidariteit ‘n eendragtige wenspan gehad op wie altyd staatgemaak kon word
Solidariteit het sukses behaal omdat hulle ‘n plan gemaak het wat groter as die probleem was, en omdat hulle dit betyds en doeltreffend uitgevoer het.