Die afvaardiging vra vir verskerpte druk op ANC-leiers in belang van Afrikaners en Suid-Afrika. Die afvaardiging is dankbaar teenoor die Trump-administrasie nadat Trump die kollig op die menseregteskending van Afrikaners, én die ANC se roekelose beleidsrigtings en swak regering van die land geplaas het.
ʼn Afvaardiging van die Solidariteit Beweging, Solidariteit en AfriForum het vandag in die Withuis in Washington DC met senior verteenwoordigers van pres. Donald Trump se administrasie vergader ter bevordering van die belange van Afrikaners en Suid-Afrika.
Die afvaardiging het tydens dié vergadering sy dank teenoor die Trump-administrasie uitgespreek nadat Trump die kollig op die menseregteskending van Afrikaners, én die ANC se roekelose beleidsrigtings en swak regering van die land geplaas het.
Die Beweging is ook dankbaar vir die VSA se bereidwilligheid om bystand aan Afrikaners te bied. “Ons neem graag die hand van vriendskap wat die VSA-regering na Afrikaners uitsteek,” het Flip Buys, voorsitter van die Beweging, aan die verteenwoordigers van die VSA-regering gesê.
Die Solidariteit Beweging het ook ʼn memorandum, getiteld die Washington Memorandum, tydens die vergadering aan die Trump-administrasie oorhandig. In dié memorandum word aangedui dat die belange van Suid-Afrika se inwoners, insluitend Afrikaners, ten beste bevorder kan word deur verskerpte druk op ANC-leiers, eerder as druk op die land.
Hierdie druk moet onder meer poog om eiendomsreg te beskerm, diskriminasie teen Afrikaners te staak deur omvattende rassewetgewing en die Bela-wet te keer, kulturele ruimte aan Afrikaners te bied deur ʼn kultuurakkoord met Afrikaners te sluit, en toe te sien dat ANC-leiers hulle noue bande met Iran en terreurgroepe, soos Hamas, beëindig.
Verskeie ondersteunende dokumente en navorsingsverslae is saam met die memorandum aan die Trump-administrasie oorhandig.
Die VSA word ook in die memorandum versoek om die humanitêre bystand wat die VSA aan Afrikaners bied, beskikbaar te stel om die kulturele infrastruktuur te help bou wat Afrikaners nodig het om voorspoedig in Suid-Afrika te bly.
Die Solidariteit Beweging se afvaardiging na die Withuis is gelei deur die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, en het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit en Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, ingesluit.
Suid-Afrika se deelname aan die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) is ook bespreek. Volgens Buys is Suid-Afrika se voortgesette deelname aan Agoa in belang van al die gewone mense, ondernemings en boere in die land en daarom word die VSA versoek om nie Suid-Afrika te straf deur Suid-Afrika se deelname aan Agoa op te sê nie, maar om eerder druk te plaas op ANC-leiers wat verantwoordelik is vir Suid-Afrika se onverantwoordelike beleidsrigtings.
“Diegene wat Agoa wil red deur probleme in Suid-Afrika as ‘disinformasie’ af te maak, sal ongelukkig nie daarin slaag om Agoa te red nie. Die Solidariteit Beweging is lojaal teenoor die land, en besef dat Agoa slegs gered kan word deur met druk op ANC-leiers toe te sien dat Suid-Afrika voldoen aan die vereistes wat Agoa stel.
“Deelnemende lande moet eiendomsreg en menseregte respekteer en nie direk teen die VSA se belange optree nie,” het Buys gesê.
Volgens Kriel het ANC-leiers in die regering minagtend opgetree teenoor AfriForum en die Solidariteit Beweging se opbouende pogings om die ondertekening van die Bela-wet, wat Afrikaanse skole en gevolglik die kulturele voortbestaan van Afrikaners en Afrikaanssprekendes bedreig, en die Onteieningswet te verhoed.
“Sou die ANC-leiers weier om hierdie wette, diskriminerende rassewette en Suid-Afrika se roekelose buitelandse beleid te hersien, sal hulle net hulself kan blameer indien die VSA teen hulle as individue optree.
“Dit is veral ANC-leiers wat hulle aan menseregteskendings en die skending van eiendomsreg skuldig maak. Diegene in die land wat korrupsie pleeg, oproepe tot geweld teen Afrikaners maak of bande met terreurorganisasies het, kan swaar gestraf word.”
Kriel het namens AfriForum se privaatvervolgingseenheid name van leiersfigure, wat volgens die Zondo-kommissie met bedrog en korrupsie verbind word, aan die Trump-administrasie oorhandig. Die VSA het spesiale wetgewing, soos die Magnitsky-wetgewing, vir korrupte politieke leiers wat reeds gebruik is om byvoorbeeld teen die Zimbabwiese regeringsleiers op te tree.
Hermann het tydens die vergadering in die Withuis ook ʼn verslag namens Solidariteit aan die Trump-administrasie oorhandig waarin die wye omvang van diskriminerende rassewetgewing in Suid-Afrika uitgewys word. Volgens Hermann is Suid-Afrika die mees rasgereguleerde land ter wêreld.
Dit misken nie net Afrikaners en ander minderhede se menseregte nie, maar vererger die land se probleme soos rekordhoë werkloosheidsyfers. Dit skrik beleggers af, benadeel ekonomiese groei en vernietig werksgeleenthede. Suid-Afrika moet beleggersvriendelik gemaak word en daarvoor moet rassewetgewing uitfaseer word.
Daarom vra die Solidariteit Beweging dat die Suid-Afrikaanse regering ter wille van Suid-Afrika en al sy mense hierdie uitgediende rassewetgewing moet uitfaseer. Die regering kan nie meer rassewette regverdig deur na die verlede te verwys nie, omdat die uitkoms ná dekades van rassewette wys dat dit nie werk nie, maar net armoede vererger omdat dit werkskeppers en belastingbetalers landuit dryf.
“Die huidige diplomatieke krisis is deur die ANC veroorsaak. Dit is nie net ʼn klein diplomatieke misverstand nie. Die Solidariteit Beweging is nie in die VSA om te paai nie, maar om antwoorde vir Suid-Afrika te kry deur die waarheid aan die lig te bring.
“Die uitkoms waarvoor ons sal werk is tot voordeel van die land ten spyte van die ANC. Druk vir harde beleidsveranderings sal juis goed vir die land wees,” het Hermann bygevoeg.
Die Washington Memorandum, wat aan die Withuis oorhandig is, asook foto’s van die besoek word hierby aangeheg.
