Bron: Netwerk24, 24 Mei 2023
Kritici van AfriForum staan aan die linker- en verregse kante van die Afrikaanse gemeenskap en hou daarom nie ’n bedreiging vir dié organisasie in nie, skryf Kallie Kriel.
Die aanvalle op AfriForum deur ’n paar kommentators wie se siening gereeld op Netwerk24 en in Media24 se dagblaaie gepubliseer word, begin nou aan ’n histeriese reaksie grens.
Ongelukkig is daar ook ’n paar joernaliste wat lustig hieraan meedoen. Terwyl die aanvalle daarop gemik is om AfriForum valslik uit te beeld as ’n onverdraagsame organisasie wat wanvoorstellings maak, hoef ’n mens nie ’n vuurpylwetenskaplike te wees om te kan sien dit is eerder diegene wat AfriForum aanval, wat hulle aan venynige onverdraagsaamheid en wanvoorstellings skuldig maak nie.
Die jongste aanval op AfriForum deur Amanda Gouws in haar artikel getuig juis van die soort onverdraagsaamheid en wanvoorstellings waarvan sy en ’n paar ander AfriForum beskuldig.
Gouws se onverdraagsaamheid blyk duidelik uit haar gebruik van woorde soos “walglik” en “minagting wat dit verdien” in haar verwysings na AfriForum. Dat Gouws in haar artikel ’n lang aanhaling waarna Ernst Roets verwys het, aanhaal asof dit sy eie woorde is, is verstommend. Dit is ook ’n verdraaiing van die waarheid deurdat Gouws versuim om te noem dat Roets duidelik gesê het dat hy niemand leed wil aandoen nie en die aanhaling genoem het om te wys dat daar in die geskiedenis verskeie voorbeelde is van sommige akademici wat voeling met die lot van gewone mense verloor het. Dit is soortgelyk aan sommige hedendaagse akademici wat wil voorgee dat die ernstige bedreiging wat plaasmoorde en die skending van eiendomsreg inhou, kwansuis nie so erg is as wat AfriForum sou voorgee nie.
Die ironie is dat onophoudelike aanvalle op AfriForum nie net daarin misluk om AfriForum te diskrediteer nie, maar dat dit AfriForum sterker maak.
Ook Gouws se aanspraak dat ek kwansuis sou gesê het Max du Preez is ’n “rassis” wat AfriForum aanval om homself “links” te posisioneer, is vals. As sy my uitspraak gelees het, sou sy gesien het dat ek gesê het dat daar verskeie swart mense is wat Du Preez van rassisme beskuldig en dat hy nou AfriForum as strooipop opstel en aanval om die aanval uit swart geledere verkeerd te bewys. Ook Gouws se bewering dat AfriForum nie apartheid as ’n “onreg” sien nie, is vals. Ons erken die onregte, die debat handel of dit gelykgestel kan word met Hitler se optrede as misdaad teen die mensdom. Anders as wat Gouws beweer, voer AfriForum geen “vete” teen mense uit haar dampkring nie.
‘Ons reageer slegs op aanvalle’
Om die waarheid te sê, ons het elke keer slegs gereageer op hul aanvalle. Gewoonlik sou ons hulle ignoreer, maar omdat sy en haar geesgenote ondanks hul beperkte steun in die Afrikaanse wêreld, byna onbeperkte toegang tot mediablootstelling in sommige media kry, is dit nodig om AfriForum se kant te stel sodat Afrikaanse luisteraars en lesers ten minste die ander kant van die saak kan hoor.
Die ironie is dat onophoudelike aanvalle op AfriForum nie net daarin misluk om AfriForum te diskrediteer nie, maar dat dit AfriForum sterker maak. Die kommentaar van lesers onderaan die aanvalle op AfriForum wat op Netwerk24 gepubliseer word, getuig daarvan dat die gewone Afrikaanse lesers hulle oorweldigend aan AfriForum se kant skaar. Natuurlik is die kommentaar nie ’n wetenskaplike peiling nie, daarom gebruik ek ook AfriForum se ledetal as akkurate barometer.
Met die aanslag op AfriForum op sy felste die afgelope twee weke het slegs 0,0002% van AfriForum se meer as 208 000 lede bedank as gevolg van die wanvoorstellings wat oor ons gemaak word.
Dit is natuurlik jammer, maar moet gesien word in die lig daarvan dat AfriForum in dieselfde tydperk sowat 17 nuwe lede bygekry het vir elke lid wat bedank het.
Die positiefste gevolg van die opkoms van sosiale en elektroniese media is dat die gewone Afrikaanse mense nou toegang tot alle sienings kan kry en dan vir hulself kan dink.
Die rede waarom die fel aanslag teen AfriForum deur ’n groep kommentators en enkele joernaliste misluk, is omdat die tyd vir ewig verby is dat ’n klein groepie mense wat ’n monopolie oor die tradisionele media het, aan mense kan voorskryf hoe hulle moet dink.
In die ou dae kon ’n paar meningsvormers in die “hoofstroommedia” na hartelus etikette soos “verlig”, “verkramp”, “regs”, “links” en “liberalis” skep en mense wat anders as hulle dink, diskrediteer deur hulle in eng kampe te plaas.
Die koms van die sosiale en ander elektroniese media het die mag van ’n paar mense oor die openbare mening finaal gebreek. Skynbaar sukkel sommige kommentators om dit te aanvaar en probeer hulle om hul invloed te behou deur al hoe onbilliker en onverdraagsamer te raak teenoor enige persoon wat dit durf waag om van hulle te verskil. Hoe harder hulle aanval, hoe meer vervreem hulle die gewone Afrikaanse lesers en luisteraars.
Die positiefste gevolg van die opkoms van sosiale en elektroniese media is dat die gewone Afrikaanse mense nou toegang tot alle sienings kan kry en dan vir hulself kan dink.
‘Selfrespek ’n voorvereiste vir wedersydse respek’
’n Groot groep Afrikaanse lesers en luisteraars weet dat die mening van ’n paar kommentators lankal nie meer aan die openbare mening gelyk gestel kan word nie. Dit is soos Winston Churchill gesê het: “Published opinion should not be confused with public opinion.”
Baie Afrikaanse lesers en luisteraars weet dus ook dat plaasmoorde en die marteling wat soms daarmee gepaardgaan, krisisafmetings aanneem. Hulle weet ook dat die bedreiging wat onteiening sonder vergoeding inhou, ’n werklikheid is. Dit is immers die regerende party se beleid. Hulle weet ook dat probleme soos hierdie en die vele ander nie vanself sal verdwyn nie en dat dit noodsaaklik is dat ’n organisasie soos AfriForum alles moontlik moet doen om hierdie probleme te pak.
Die grootste pluspunt is dat ’n groot groep Afrikaanse lesers en luisteraars hulle nie laat mislei om te glo dat AfriForum en die Solidariteit Beweging, wat saam sowat 450 000 gesinne verteenwoordig, ’n randverskynsel is nie. Hulle weet dat hulle saam met AfriForum en die Solidariteit Beweging binne die 80%-middelgroep- Afrikaanssprekendes en -Afrikaners staan en dat ons hard werk vir ’n beter toekoms gebou op ’n basis van wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe. Hulle besef egter ook dat selfrespek ’n voorvereiste vir wedersydse respek is en daarom mag ’n mens maar met selfvertroue standpunt teen plaasmoorde, die skending van eiendomsreg en ander brandpunte inneem.
’n Beduidende groep Afrikaanse luisteraars en lesers staan ook verstom dat ’n paar kommentators vra dat die middelgroep in die Afrikaanse en Afrikanergemeenskap ’n stem moet kry.
Hulle weet dat die Solidariteit Beweging en AfriForum reeds oorweldigende steun in die middelgroep het en as stem vir hulle kan optree. Hulle weet ook dat AfriForum se kritici aan die linker- en verregse rande van die Afrikaanse wêreld staan en juis daarom hou hulle aan om AfriForum in groterwordende getalle te steun.