Gemeenskapondersteuning

Lees meer oor die Beweging

Beweging

Die Solidariteit Beweging se projekte vir oplossings vir SA uitdagings

Suid-Afrika is ʼn land van vele probleme maar met volop geleenthede. Die Solidariteit Beweging werk die verval in die land teen deur die opbou van ʼn netwerk van instellings wat danksy die gemeenskap se ondersteuning tot stand gekom het.

Ons droom is om ʼn blywende bydrae tot die welstand van die land en sy mense te maak. Daarom wil ons die omstandighede skep wat dit vir Afrikaners moontlik sal maak om volhoubaar hier te bly. Daarvoor bou ons die kulturele ruimtes wat vir enige gemeenskap se vrye, veilige en voorspoedige voortbestaan nodig is. Meer as 2 000 voltydse personeel en sowat 12 000 vrywilligers is by ons 46 organisasies betrokke.

In die lig van die werklikhede in die land is ons groot uitdaging om “staatsdienste” sonder staatsinkomste aan ʼn gemeenskap te lewer wat grootliks deur die regering uitgesluit word van bystand. Dit is hoekom ons dankbaar is dat soveel mense die nood raaksien en bereid is om die verantwoordelikheid saam met ons te dra.
Ons benadering is om dié uitdagings waaraan ons iets kan doen aan te pak eerder as om net te kla oor dié dinge waaraan ons nie veel kan doen nie.

’n Helpmekaar-beweging

Die Solidariteit Beweging het op elke noodsaaklike gebied ʼn selfhelporganisasie gevestig wat sonder belastinggeld of aandeelhouerskapitaal bedryf word.

Hierdie instellings word ondersteun deur fondse wat help om volhoubaarheid te verseker. Daarmee saam word talle ander projekte aangepak wat dus as die ekonomiese “enjins” vir hierdie helpmekaar-beweging dien.

Die omvang van ons projekte wys duidelik dat elke instelling groot finansiële uitdagings het, maar dit is met groot dankbaarheid dat bevestig kan word dat hulle tans goed presteer, bestendig groei en belangrike dienste aan duisende mense lewer.

Lede van die publiek kan self kies watter instellings of fondse hulle wil ondersteun.
Sommige vind meer aanklank by Akademia, wat besig is om tot ʼn wêreldklas- Afrikaanse universiteit uitgebou te word. Ander wil Sol-Tech se beroepsopleiding in skaars vaardighede ondersteun. Ons is baie trots daarop dat sowat 5 000 jongmense al aan hierdie twee instellings studeer.

Die Solidariteit Beweging se skoleondersteuningsprojekte by sowat 800 skole het ten doel om die toekoms van Afrikaanse onderwys te help verseker.

Werkendes en die ouer geslag mag dalk meer aanklank vind by Solidariteit se klipharde stryd om onbillike rassewetgewing teen te staan en om só gelykheid en regverdigheid in die werkplek te verseker.

Danksy die gereelde bydraes van duisende mense het ‘n netwerk van lewensgrootte instellings ontstaan wat reeds ‘n betekenisvolle verskil in duisende mense se lewe maak.
Ons belangrikste projekte
in 'n neutedop:


Sol-Tech fokus op beroepsopleiding, veral in skaars tegniese rigtings, waardeur studente internasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies kan verwerf. Sol-Tech wil jongmense nie net help om kwalifikasies te verwerf wat geskik is om werk te kry nie, maar wil hulle vir ʼn loopbaan toerus.

Die eerste studente is op 1 Februarie 2021 op Sol-Tech se nuwe, wêreldklaskampus in Monumentpark in Pretoria verwelkom en daar word reeds beplan aan die oprigting van koshuise vir studenteverblyf en om die kampus verder uit te brei. Die koste van die projek beloop bykans R300 miljoen.

Sol-Tech bied tans agt beroeps-kwalifikasies (voorheen bekend as ambagte) aan, naamlik vir elektrisiëns, dieselwerktuigkundiges, meulmakers, gereedskapmakers, passers en draaiers, sweisers, trekkerwerktuigkundiges en vir outo-elektrisiëns.

Uitbreiding om nog beroepskwalifikasies in rigtings soos inligtingstegnologie aan te bied, word ook in die vooruitsig gestel.

"Beroepsopleiding" Lees meer. Klik hier


Akademia is ʼn jong instelling gegrond op ʼn eeue oue universiteitstradisie wat sy eerste wortels in Plato se “Akademia” van 387 v.C. het. Tien jaar gelede, op 3 Maart 2012, het Akademia 42 studente in vyf programme verwelkom, en vandag spog dié instelling met bykans 2 500 studente en meer as 20 programme.

Akademia-studente draf sedert 2021 voltyds klas in Afrikaans op die nuut ingerigte Centurion-kampus, terwyl hulle terselfdertyd vir ʼn veeltalige wêreld voorberei word. Akademia bied tans erkende grade aan in rigtings soos BCom, BSc, BA, Regte en Onderwys, terwyl Rekenaarwetenskap vanaf 2023 aangebied gaan word. Daar word tans gewerk aan die aanbieding van kwalifikasies in verpleegkunde, ingenieurswese en verskeie ander rigtings.

Daar word ook fluks gevorder met die beplanning van ʼn nuwe Akademia-kampus. Sowat 250 ha grond is in Pretoria aangekoop en die argitekte het reeds die eerste konsepuitleg van ʼn kampus voltooi. Die Akademia-projek gaan uiteindelik sowat R1,7 miljard beloop. Daar word kliphard gebou aan ons droom van “wêreldklas in Afrikaans” en bande word met verskeie top-universiteite in ander lande gesmee.
"Wêreldklas in Afrikaans" Lees meer. Klik hier



Die Solidariteit Helpende Hand het meer as 100 personeellede en 200 takke en dorpsverteenwoordigers in 12 streke. Hierdie takke bestaan uit vrywilligers wat die nood van mense in Afrikanergemeenskappe bepaal en dit dan binne die beleidsraamwerk van Helpende Hand hanteer. Ons doel is om mense te help om hulself te help, en ons droom is om volhoubare voorspoed te help verseker.

Daar is ook meer as ʼn honderd Ons Winkels – skenkingswinkels landswyd wat ʼn volhoubare inkomste vir die dorpe waar hulle geleë is inbring.

Verder bedryf Helpende Hand tans vyf gemeenskapsentrums wat gestig is om veilige kleuter- en/of naskoolversoring tot die beskikking van gemeenskappe te stel.

Helpende Hand fokus op verskeie kategorieë en jy kan die kategorie kies wat jy deur middel van ʼn donasie wil steun:
  • Kinders
    (die Kosblikkieprojek help daagliks om 8 000 kleuters te voed)
  • Bejaardes
  • Gemeenskapsontwikkeling
  • Persone met gestremdhede
  • ’n Krisisfonds wat vir noodleniging soos byvoorbeeld die KZN-gebeure benut word.


"Volhoubare voorspoed" Lees meer. Klik hier


Meer as 2 miljoen Afrikaans-sprekendes lees maandeliks Maroela Media se betroubare en gebalanseerde nuus en inhoud van hoë gehalte. Maroela Media is die grootste Afrikaanse aanlyn publikasie, en publiseer meer as 50% van alle Afrikaans op die internet. Sowat 45 miljoen bladsye word maandeliks gelees.

Maroela Media voorsien ook gehalte-inhoud aan ‘n netwerk van sowat 75 gemeenskaps-radiostasies met ‘n totale luisteraarstal van ongeveer 1,95 miljoen. Dit sluit ʼn jaarlikse Afrikaanse radiovervolgverhaal van hoogstaande gehalte in. Opleiding in die vorm van ʼn gemeenskapsradioseminaar en ander bystand word ook verskaf.

Maroela Media het ook ʼn gratis aanlyn kinderensiklopedie, WEET, wat op laerskole se leerplanne gebaseer is. Dit word tans uitgebrei om ook vir hoërskole voorsiening te maak. Afrikaans is die spil waar rondom alles vir Maroela Media draai en daarom fokus dié webwerf deur sy inhoud en projekte op die behoud en uitbreiding van ons moedertaal.

Maroela Media se lesers beskou Maroela as ʼn tuiskomplek waar hulle in ʼn veilige omgewing Afrikaans kan praat, gerus kan wees dat die nuus en inligting betroubaar en gebalanseerd is, en waar hulle die geleentheid het om hul mening te kan lug.

"Gehalte-inhoud" Lees meer. Klik hier


Die FAK het in Maart 2021 met die hulp van die Solidariteit Beweging tot die bestuur van die Voortrekkermonument en die Erfenis-stigting toegetree nadat besoekerstalle weens die inperkings opgedroog het.

Hierdie twee organisasies sien nou om na 12 erfenisterreine soos die Bloedrivier Erfenisterrein, die Kroonstad Konsentrasiekampkerkhof, asook die Bloukrans Monument en die Kaalvoetvroustandbeeld.

Die nuwe bestuur het verskeie projekte aangepak soos Projek 10 000 wat beoog om 10 000 mense wie se hart warm klop vir die bewaring van ons geskiedenis en erfenis as vriende van die monument te verenig. Die sukses van die projek sal die volhoubare voortbestaan van die Voortrekkermonument vir die nageslag verseker.

Die Voortrekkermonument word gesien as ʼn kultuurtuiste en ʼn baken van hoop vir mense. Daarom vra ons dat mense ʼn belegging in en vir hul kultuur maak.

Deur die Voortrekkermonument te ondersteun kan jy, soos duisende voor jou, ʼn outeur wees wat help skryf aan die volgende hoofstuk van die Afrikaner se geskiedenis.

"Erfenis" Lees meer. Klik hier


AfriForum Veiligheid

Veiligheid is een van die mens se basiese behoeftes, maar ongelukkig is dit nie iets wat vanself kom nie. AfriForum help jou om danksy ’n uitgebreide buurtwagstelsel veiligheid in en om jou huis, woonbuurt en gemeenskap te vestig.

AfriForum het reeds meer as 164 buurt- en plaaswagte regdeur die land op die been gebring, en doen groot werk om ons woonbuurte veiliger te maak. Ons streef goeie samewerking na met die Suid-Afrikaanse Polisiediens, sekuriteitsmaatskappye en ander buurtwagte. Ons droom is om hierdie veiligheidsnetwerk te versterk en landswyd uit te brei wat groot finansiële eise aan ons stel.

AfriForum Veiligheid maak staat op die nuutste tegnologie as “vermenigvuldiger” en maak ruimskoots gebruik van en behaal goeie resultate met hommeltuie, ʼn landswye radionetwerk en die opleiding van personeel en vrywilligers.

"Veiligheidsnetwerk" Lees meer. Klik hier


Regsfonds

Die Solidariteit Regsfonds is gestig om die regering se afdwing van onbillike rassewette in die werkplek en sakewêreld teen te staan. Hierdie wette verontreg nie net mense op grond van ras nie, maar dit benadeel die ekonomie en dryf jongmense landuit.

Ons moet hierdie onregverdighede nou stuit vir ons eie toekoms en ook sodat ons kinders eendag ʼn toekoms kan hê waarin ons en hulle gelyk en vry, veilig en voorspoedig kan lewe.

Danksy die beste regshulp aan ons kant voer die Regsfonds regsgedinge tot in die hoogste howe oor rassisme, korrupsie, wanbesteding en rassewette teen die staat, staatskapers en ander instellings soos Denel, SAL, Sasol en ArcelorMittal.

Ongelukkig is dit nie moontlik dat al die regskoste vir gedinge teen regstellende aksie deur Solidariteit-lidmaatskapgeld alleen gedra kan word nie. Daarom is die Solidariteit Regsfonds geskep en vra Solidariteit die publiek se ondersteuning om dit vir hom finansieel moontlik te maak om reg en geregtigheid in die land te verseker.

"Vry, veilig en voorspoedig" Lees meer. Klik hier


Onafhanklike Afrikaanse skole

Daar word in samewerking met Solidariteit se Skoleondersteuning-sentrum (SOS) beplan en ontwikkel aan die stigting van ʼn Afrikaanse privaat skool.

Ons wil die toekoms van Afrikaanse onderwys verseker deur openbare skole by te staan en ʼn nuwe Afrikaanse privaatskoolnetwerk te ontwikkel.

"Onderwys" Lees meer. Klik hier


Bekostigbare studiefondse

Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum administreer tans 220 studiefondse ter waarde van R238 miljoen. Danksy hierdie fondse is die studie van meer as 6 300 behoeftige studente oor die afgelope 11 jaar moontlik gemaak. In 2022 word 1 200 studente deur middel van R50 miljoen se bekostigbare studielenings bygestaan.

"Afrikaanse onderwys" Lees meer. Klik hier
Bankbesonderhede

SOLIDARITEIT BEWEGING TRUST
Rekeningnommer: 62450763662
Tak: CENTURION 838
Takkode: 261550
Swift-kode: FIRNZAJJ

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.