Geagte Minister Kubayi-Ngubane
Het u al ʼn boer sien huil … saam met sy werkers?
Johan en Sanet Stadler het ʼn klein stukkie grond met die prentjiemooi Swartberge in die agtergrond. Hy het in die dorp gewerk en met volstruise geboer. Strenger uitvoerregulasies, mededinging in die internasionale mark en sporadiese voëlgriep het Johan gedwing om sy plasie te omskep in ʼn werkende gasteplaas. Hy doen dit nou voltyds. Hy het ʼn karaktervolle klipskuur, ou onbenutte huisies en die ou melkstal omskep in slaapeenhede. Hy het tien werkers in diens. Twee vroue help in die kombuis, vyf help om skoon te maak en drie mans hou die plaas in stand. Die onderneming se salarisrekening is R53 000 per maand. Die twee vroue in die kombuis is Sarah en Mildrid. Vir Johan en Sanet se kinders is die twee vroue soos hul tweede en derde ma’s.
Vandeesweek het Johan Stadler, die geharde boer van die Klein-Karoo, gehuil. Hy het gehuil toe hy sien hoe Sanet, Sarah en Mildrid saam huil. Hul besigheid het tot stilstand gekom. Die Maart-vakansie, Paastyd en die vakansiedae is hul hoë-inkomstetyd. Hul verlies is groot. Hy het gehuil omdat getroue werkers saam met hom nie meer ʼn inkomste het nie.
So is daar duisende Johan Stadlers wat die afgelope twee maande oor hul besighede en werkers huil. Toerisme gaan dié sektor wees wat laaste gaan herstel ná die Covid-19-krisis.
Hulle is hard getref deur die regering se regulasies. Hulle is dood gereguleer. Die regering moet help. R200 miljoen vir die sektor is te min, maar dit sal minstens help.
U departement, Minister, het egter besluit dat ras as kriterium gebruik gaan word by die toekenning van hulp aan die bedryf. Noodhulp het rassehulp geword. Covid-19 ken nie kleur nie. Nóg die virus, nóg die regering se regulasies het tussen ʼn Joel Musangu en ʼn Johan Stadler onderskei. U onderskei tussen hulle op grond van ras. U sê vir Sarah en Mildred julle gaan nie gehelp word nie, want Johan en Sanet is wit.
U sluit groot ondernemings, wit ondernemings en mikro-ondernemings, waarvan die meeste in swart besit is, vir hulp uit. Slegs ondernemings met ʼn omset kleiner as R2,5 miljoen per jaar en wat vir belasting geregistreer is, kwalifiseer vir hulp. Dit is toevallig in die deel van die sektor waar baie wit gesinne gastehuise begin het omdat hulle reeds deur die transformasie-ideologie uit die formele arbeidsmark geskop is.
ʼn Klein groepie swart eienaars, slegs 7% van die sektor, kwalifiseer vir die leeueaandeel van die hulp. In totaal word 93% van eienaars, ook duisende klein mikro- swart ondernemings van hulp uitgesluit. Van die 350 000 werknemers in die sektor word meer as 300 000, waarvan 65% swart is, van die hulp uitgesluit. U is suksesvol om rassehulp vir ʼn klein groepie te gee, maar u misluk met noodhulp vir u sektor.
U straf wit ondernemings omdat hulle volgens u nie vinnig transformeer nie. Hulle word skuldig bevind aan wit-wees in die toerismesektor. U departement is so rasseblind dat u bereid is om duisende werkers vir die groter rasse-ideologie te offer. U maak u skuldig aan dubbele diskriminasie in ʼn krisis – eerstens teenoor die wit eienaars van ondernemings en tweedens teenoor alle werkers, wit en swart.
Die doel van die toerisme-verligtingsfonds is om die gevolge van die Covid-19-krisis te verlig. U omskep dit egter in ʼn transformasiefonds. U skryf dat ʼn gesonde toerismesektor gesonde transformasie moet hê. U gebruik dan ʼn hartseer krisis wat duisende mense raak om transformasie te bevorder. U gebruik die krisis om ondernemings aan te kla omdat hulle nie swart genoeg is nie.
U voer swart bemagtiging, wat vir ʼn spesifieke doel ontwerp is, as verweer aan. Die doel van swart bemagtiging is om te bevoordeel om die benadeling van die verlede reg te stel. Hierdie fonds gaan nie oor bevoordeling nie; dit gaan oor oorlewing. Selfs vir die swart ontvanger van hulp gaan dit oor basiese oorlewing; vir die wit persoon gaan dit oor ondergang.
Minister, terwyl ek by swart bemagtiging is, wil ek die volgende noem: Volgens regulasies vir swart bemagtiging is klein maatskappye in normale omstandighede vrygestel van swart bemagtigingsvereistes. In die Covid-19-krisis is swart bemagtiging skielik op die maatskappye van toepassing. In die krisis word die hekkie vir wit maatskappye hoër as in normale omstandighede.
Midde-in ʼn krisis, waar ons saam ʼn vyand moet beveg, maak u van ras ʼn vyand en moet ons hof toe gaan. Op 28 April 2020 sien ons u in die hooggeregshof oor mense wat van hulp uitgesluit word, nie op grond van hul nood nie, maar oor hoe hulle lyk.
Week na week is pres. Ramaphosa op televisie en vra alle Suid-Afrikaners in die idioom van ʼn staatsman om saam te staan. Hy noem ons sy mede-Suid-Afrikaners. Dit is in ʼn tyd soos dié waarin ons mekaar nodig het. Ons word gekonfronteer met ʼn krisis soos nog nooit tevore nie. Suid-Afrika, ons het jul hulp nodig, hoor ons van die president.
Ons help, mnr. die President. Ons offer ons inkomste op. Help ons ook asseblief. En dan Minister, antwoord u: “Jammer, julle is wit.”
Die wêreld en Suid-Afrika huil oor Covid-19. Johan en Sanet Stadler huil saam met Sarah en Mildred.
Bêre die rasse-ideologie in die krisis, Minister, en kom huil eerder saam met Johan en sy werkers.
Vriendelike groete
Dirk Hermann