Die Romeinse denker Salustius het gesê dat min mense vryheid begeer, die meeste soek net goeie heersers. Die geskiedenis wys egter dat vryheid ʼn voorwaarde vir goeie regering is. Oorheersing is die onvermydelike gevolg van onvryheid. Dit is veral die geval in multinasionale state soos Suid-Afrika, waar die demografie meer bepalend is as die demokrasie. Mense stem nou een maal eerder vir identiteit as beleid. In die praktyk is demokrasie in ʼn demografies verdeelde land soos Suid-Afrika eerder ʼn resep vir oorheersing as vir vryheid. Die meerderheidsgroep se partye word as regering verkies, omdat verkiesings meer soos ʼn rassesensus as ʼn mededinging tussen partye lyk.
Die geskiedenis is die verhaal van die stryd tussen vryheid en gelykheid. Anders gestel, ʼn stryd tussen demokrasie en sosialisme. Karl Marx het betekenisvol gesê dat stemreg vir die werkersklas politieke mag vir hulle beteken, wat dan gebruik moet word om ekonomiese mag te bekom deur die instelling van sosialisme. Tog het sosialisme nog altyd geëindig in armoede en verdrukking.
Hel op aarde
Dit is baie belangrik om die verskil tussen vryheid en gelykheid te verstaan. Sosialiste sien gelykheid nie as ʼn gelyke wegspring nie, maar as gelyk by die wenpaal. Geen samelewing kan “gelyk” én vry wees nie. In kommunistiese lande was almal (behalwe die regeerders) gelyk, maar niemand was vry nie. Die rede hiervoor is dat sosialiste se utopiese ideale om “hemel op aarde” te skep, in hel op aarde eindig. Die sosialistiese aandrang op gelykheid, lei noodwendig tot die einde van vryheid. Dit is mos nie moontlik om alles vir sekeres te gee, sonder om alles van ander af weg te vat nie. Daarom het Winston Churchill gesê die keuse is tussen ʼn ongelyke verdeling van welvaart, en die gelykop verspreiding van armoede. Die verdrukking kom in by die sosialistise staat wat die rol van “groot gelykmaker” speel, deur met wette of wapens van die “rykes” te vat, en met groot gebaar vir hulle ondersteuners uit te deel asof dit hulle s’n is. In sosialistiese lande is gelykheid nie gelyke vryheid nie, maar “gelyke knegskap”.
Waar Christene die armes ryker wil maak met mededeelsaamheid, wil sosialiste die “rykes” armer maak met herverdeling. Die gevolg hiervan is nog groter armoede. Die produktiewe deel van die samelewing produseer minder, want die vrugte van hulle arbeid word deur die staat gesteel. Die onproduktiewes werk nóg minder, want hulle kry mos gratis wat hulle wil hê.
Na die val van kommunisme in die vroeë negentigs, het die wêreld van sosialisme af begin wegbeweeg. Suid-Afrika het egter in die teenoorgestelde rigting beweeg, omdat die ANC steeds aan sosialisme vasklou. Die regering gee dikwels hulle drakoniese rassewette mooi name, soos die Wet op “billike indiensneming”, of die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering, of die nuwe onderwyswetgewing (Bela) wat onderwys kamtig meer “toeganklik” sal maak. In die praktyk is dit egter drakonies, omdat dit op gedwonge herverdeling met staatsmag of ontneming van ouers se demokratiese inspraak neerkom. Hulle planne met die Onteieningswet het ook ten doel om “gelykheid van grondbesit” te bevorder, al weet ons nou wat die uiteinde van só ʼn drakoniese wet sal wees. Die goeie nuus is dat vryheid op die lange duur nog altyd sosialisme oorwin het, omdat sosialisme nie ʼn werkbare stelsel is nie. Voorstanders van vryheid het dekades gelede al die Koue Oorlog gewen. Daarom moet ons nie optree as verloorders nie, maar die saak van vryheid met mag en mening bevorder.


