Dr. Dirk Hermann, die bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, het dié ope brief aan Heidi Edeling, uitvoerende hoof van die Ghoemas, geskryf nadat die musiekvideo van “Die Land” waarin Steve Hofmeyr sing van die benoemingslys van die Ghoema-musiektoekennings verwyder is.
Beste Heidi
Baie mense in die Afrikaanse gemeenskap is kwaad. Ons is kwaad omdat “Die land” weg is. Een van Afrikaans se beste liedjies en video’s van die afgelope jaar is deur die Ghoema Trust by die spogtoekenningsaand verban ná druk deur die hoofborg, MultiChoice.
Die lied begin met die woorde: “Ek en my vriende het saamgekom om ʼn boodskap van hoop te deel.” Die res van die lied is inspirerend. Die sentrale boodskap is dat die land aan elkeen van ons behoort.
Die Afrikaanse gemeenskap voel vervreemd; hulle voel magteloos en geïsoleerd. Hulle voel hulle is in die land, maar nie meer deel van die land nie. Hier kom ʼn groep kunstenaars en sê: Ek belowe jou, die land behoort aan jou. Hulle vervolg met ʼn positiewe boodskap dat my vlag sal aanhou waai en die sade sal ek saai. Kortom: Ek sal steeds bly plant in my land. Die lied het ʼn oproep tot liefde en vra verder: “Wat is nog reg en verkeerd, wil ek weet.” Die kunstenaars vra: “Wat los ons vir ons kinders. Wat gaan ons eendag kan wys?”
Hierdie lied is nou verbied. Die Ghoemas het nie “Die land” onttrek oor die inhoud of gehalte van die lied nie; selfs nie eens omdat Steve Hofmeyr een van die sangers is nie, maar omdat die borg dit geëis het.
Jy skryf in die brief waarin julle jul gewraakte besluit bekend maak: “Ek het ʼn offisiële versoekskrif van Joe Hesu, MultiChoice se groephoof ontvang. As gevolg van Steve Hofmeyr se deelname in die video, versoek MultiChoice dat die benoeming van “Die Land” onttrek word. Verder verklaar hulle dat indien dit nie plaasvind nie, hulle geen opsie het as om hul borgskap van die Ghoema Musiektoekennings 2019 te onttrek nie.”
Op grond hiervan onttrek die Raad van Trustees van die Ghoema Trust die benoeming van die video.
Die borg manipuleer dus die uitkoms van ʼn spogtoekenningsaand. Die een bestanddeel waarsonder ʼn aand soos die Ghoemas nie kan bestaan nie, is integriteit. Onafhanklike beoordelaars, leiers in die bedryf, moet kuns onbevange beoordeel. Jul eie reëls bepaal dat Die Ghoemas ʼn onafhanklike toekenningsgeleentheid is waar die musiekbedryf vir sekere prestasies vereer word. Julle het jul eie reël oortree.
Kunstenaars is vrye geeste en daardie vryheid moet beskerm word. Dit skep ʼn ongelooflike slegte presedent indien borge begin voorskryf wat in is en wat uit is. Vandag besluit ʼn borg watter lied onttrek moet word, maar môre skryf ʼn borg voor watter lied bygevoeg moet word. Vandag besluit ʼn borg hulle hou nie van ʼn kunstenaar se standpunt nie en môre hou hulle nie van ʼn spesifieke lewenstyl nie. Vandag is dit ʼn borg en môre is dit die staat.
Jul besluit om “Die land” te onttrek, het die Ghoemas van sy integriteit en vryheid ontneem. Julle het die Afrikaanse musieklandskap verskraal tot ʼn wêreld gesien uit die oog van ʼn enkele borg. Julle het eenvoudig gedienstig aan hul wêreldbeskouing geraak. Ongelukkig is hul beskouing weer gedienstig aan die algemene politiek korrekte siening wat die heersende idees van die staat weerspieël.
Die regte ding sou wees om aan jul eie missie gehoorsaam te bly en dit is om prestasie in die musiekbedryf te vereer. Omdat julle weggetree het van jul missie ter wille van ʼn borg is daar woede. Adam Tas, Dewald Wasserfall, Corlea Botha, Bok van Blerk, Bobby van Jaarsveld en ander het hul weersin in jul besluit uitgespreek. Hulle almal is hul vryheid deur die besluit ontneem.
Bobby van Jaarsveld som dit raak op: “As ons musiek nie welkom is daar nie, is ons seker nie welkom daar nie. Raak moeg om stil te bly terwyl hulle ons boelie.”
Bobby som ʼn groter gevoel op – ʼn algemene gevoel dat ons moeg is daarvan om geboelie te word. Die Ghoemas het net nog ʼn simbool van daardie geboelie geword. Die reaksie van die Afrikaanse gemeenskap is oorweldigend teen jul besluit. Julle het hulle vervreem. Strategies het julle met jul gesig na die verkeerde kant toe gaan staan. Dit is jammer, want die Ghoemas is ʼn mooi inisiatief.
Corlea Botha spreek haar diepliggende kommer uit oor die vrees onder Afrikaanse kunstenaars dat hul werk nou gesensor word: “… of gaan ons net met sekere mense mag werk?” vra sy. Bok van Blerk het ook reeds laat weet dat hy nie meer die Ghoemas gaan bywoon nie.
Ironies genoeg kla die woorde van die lied wat julle verbied julle aan. Ons as lede van die publiek wil weet wat is nog reg en verkeerd? Ons vra wat los ons vir ons kinders? Wat gaan ons eendag kan wys? Dit is hierdie vrae wat maak dat ons jul besluit nie net daar kan los nie.
“Die land” het nou ʼn proteslied geword. Dit het iets groters geword as bloot ʼn Ghoema-benoeming. Dit het ʼn simbool geword van hoe mense voel. Dit was oorspronklik ʼn lied van hoop en dit sal ʼn lied van hoop bly, maar dit wys nou ook dat protes soms nodig is om hoop lewend te hou.
Solidariteit het pas ʼn gilde vir Afrikaanse kunstenaars gestig. Die doel van die gilde is juis om ons kunstenaars teen boelies te beskerm sodat hulle vry kan wees.
Ons kan nie jul besluit omdraai nie, maar ons kunstenaarsgilde gaan met ʼn veldtog begin om te verseker dat minstens net soveel mense na “Die land” op sosiale media kyk as wat mense na die Ghoemas op TV gaan kyk. Ons gaan hierdie video wyd versprei. In die nuwe wêreld van nuwe media kan geen tradisionele media-instelling voorskryf wat gekyk en nie gekyk mag word nie. As die Ghoemas “Die land” onttrek, benoem die gemeenskap self die lied as gemeenskapskeuse.
“Die land” is weg by die Ghoemas, maar die land is nie weg van ons nie. Die land behoort aan my en aan jou. Ek belowe jou.
Ek sluit ʼn skakel van die video by die skrywe in.