Lees gerus Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand se rubriek Twyfelhoekie2023 20 25 Mei
Category: Media Verklarings
Straf die regering, nie die land nie, vra Solidariteit Beweging
Die Solidariteit Beweging het vandag gevra dat die Amerikaanse regering nie die land en sy mense moet straf vir wat die regering aanvang nie, maar regeringsleiers self teiken met hul verwagte strafmaatreēls.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging gaan die nuutste ramp wat die regering oor Suid-Afrika gebring het deur wapens aan Rusland te lewer, die land en sy mense duur te staan kom. Die VSA het reeds streng sanksies teen talle lande wat teen hulle kant gekies het in die oorlog in Oekraine.
Die Amerikaanse Ambassadeur het waarskynlik opdrag van President Biden gekry om in die openbaar standpunt in te neem. Dis hoogs waarskynlik dat die onlangse Suid-Afrikaanse afvaardiging na die VSA onder leiding van mnr Sidney Mufamadi misluk het om gemoedere in Washington te kalmeer.
Die regering se optrede is onverskoonbaar, omdat dit kom in ‘n tyd wat die land reeds diep in die moeilikheid is. Hierdie nuutste fout verseker bykans die kans op ‘n resessie, en die val in die rand verhoog allle landsburgers se reeds hoë lewenskostes.
Daarom is daar net een boodskap wat die Solidariteit Beweging aan die Amerikaners kan rig, en dit is dat hulle nie die land moet straf vir wat die regering aanvang nie. Hulle moet eerder die verantwoordelike regeringsleiers self teiken vir hul beoogde strafmaatreëls.
Hierdie optrede van die ANC is ‘n diplomatieke ramp. Suid-Afrika kan nie bekostig om in konflikte betrokke te raak waarby ons geen belang het en wat duisende kilometers van ons is nie. Die regering behoort in landsbelang op te tree, en nie vas te steek in die vergete Koue Oorlog era nie.
Die kanse vir ‘n 2023 resessie is nou deur die regering vergroot en die ANC se optrede verswak die rand so dat almal se lewenskostes verhoog. Die grootskaalse verkoop van SA baseerde aandele benadeel alle pensioenfondslede, en die ANC moet daarvoor verantwoording doen. Die regering se optrede kan ook duisende mense se werk kos omdat dit neerkom op ‘n verbreking van die gunstige (Afrika groei en geleenthede wet AGOA) handelsooreenkoms met die die VSA.
Dit is duidelik dat die regering lynreg teen die nasionale belang optree, en die betrokke regeringsleiers het volgens regslui ook wette oortree deur wapens te lewer aan ‘n land wat in ‘n oorlog betrokke is.
Dis algemene kennis dat die SANW in ‘n hopelose toestand is, en nie in staat is om sy basiese pligte uit te voer nie. Dit blyk uit die powere stand van die lugmag, leër én vloot.
Die regering het terselfdertyd die land se Verdedigingsbedryf tot op die grond afgebreek deur die skandelike vernietiging van Denel.
Die land wag nog ook in spanning vir vervolgings in die wapenskandaal wat dekades gelede al plaasgevind het. Daarby kom die vraag of daar enige korrupsie by die wapenverskaffing betrokke was.
Die regering het nou al genoeg skade aangerig, wat gesien kan word aan verval van die land op elke denkbare gebied. Die jongste krisis kan daartoe lei dat die land weer die Muishond van die wêreld word, en ‘n teiken van diplomatieke, ekonomiese en politieke strafmaatreëls.
Daarom behoort hierdie korrupte en onbevoegde ANC-regering te bedank. Die land kan hulle net nie meer bekostig nie.
Toespraak: Helpende Hand Kerkekongres.
(Hierdie toespraak is gelewer op 6 November 2019 tydens Helpende Hand se Kerkekongres)
Inleiding:
- Preek vir die verkeerde mense!
- Kritiese vrae bedoel om te help dink, nie om die wat in Koninkryk werk te kritiseer
- Afrikanerfokus bedoel nie Volkskerk nie
- Marx: idees van regerende klas in kerke… Staatskerk
- Antwoord: Kerk is God se Kerk, gelowiges maar ook Afrikaner gelowiges
- Namibië: Kerk het volk gelos, toe los die volk die Kerk
- Verwaarloos die Afrikaner: Groot Trek na toekoms sonder die Kerkleiers
- Armoede oplossings: Reformasie, Restourasie en Rewolusie
Vyf vrae aan die kerklike leierskap
- Verbond en kontrak
- Aandadig aan verlamming?
- Vervreemding van nageslag
- Armoede en geestelike armoede
- Heilige kultuur en kulture vandalisme
- Verbond en Kontrak
| Tans lê die klem slegs op die individu/enkeling. Daardie uitgangspunt kom vanuit die sosiale kontrak idee, wat by baie kerke die verbondsidee op die agtergrond geskuif het.
Dit voel soms vir my asof dele van die kerklike leierskap homself van die lidmate vervreem wat werklik ook gemeenskap soek – wat weet dat gebondenheid ʼn geskape werklikheid is? of Waarom skimp die kerklike leierskap dat om in jou gemeenskap betrokke te wees, dit eintlik teen die wil van die Here is, asof dit selfsugtig sou wees? (Uitreikaksies) of Waarom sien sommige kerke (wat net die individu beklemtoon) ‘n teenstelling tussen gemeente en gemeenskap?
|
Daar is ʼn ooglopende verskil tussen die Rooms Katolieke en Protestante siening oor armoede. In lande waar die Katolisisme die oorhand gehad het, is bedelary nooit eintlik streng verbied nie. Die rede was dat die RK ʼn bedelaar gesien het as ʼn getroue vergestalting van Christus self, in sy aardse armoede. Die protestante lande het egter almal deur die band bedelary amptelik verbied en vervang met werkshuise. Die rede voor was dat werk as ʼn wesenlike deel van ʼn God verende lewe gesien is.
As mens hierdie beeld mag toepas op die Afrikaner kan gevra word: Moet die Afrikaner bly bedel of mag die Afrikaner self werk? Die protestante kerke in die algemeen wil nie iets positief sê oor die Afrikaner as kultuur groep nie. Waar die Afrikaner tans selfstandigheid en self werksaamheid al hoe meer begin beoefen, hoe meer gaan die stemme van kerk leiers op, wat kwaai oor die bril loer en sê: moenie selfsugtig wees in jou self werksaamheid nie.
Het die kerklike leierskap nie die verbond omgeruil vir die kontrak nie. Dit beteken dat die klassieke liberale siening dat net individue bestaan en as keuse ʼn groep vorm. Die verbondenheid wat geslagte met mekaar het, word nie eintlik in berekening gebring nie. Die kerke aanvaar die Suid-Afrikaanse sosiale kontrak as die verstek posisie. Van daaruit lewer hulle kritiek op kulturele selfstandigheid. Dit is seker enige iemand se goeie reg om die sosiale kontrak te ondersteun – maar om dit op te dien as evangelie is ʼn ander saak. Transformasie is nie reformasie nie. Nasiebou is nie volksmoord nie. Verskraal tot inlywing by die meerderheid.
- Die kerklike leierskap het in ʼn groot mate verwyder geraak van die gewone mense.
| Is die kerke soms aandadig aan die geestelike en gemeenskaplike verlamming wat tans heers?
Of Waarom praat die kerke nie oor aktuele sake van die dag nie? Of Wat is die praktiese uitwerking van die geloof in die opstanding van Jesus vandag? Is dit nie ʼn hoopvolle toekoms nie in praktyk nie? |
In Ruanda met die volksmoorde daar was sommige van die RK priesters as kerk aandadig in hierdie uitwissing. Laat dit ʼn voorbeeld vir ons wees, dat die kerk nooit moord mag goedpraat nie, ook nie kulturele moord mag duld nie. Wanneer die kerk niks sê oor taal diskriminasie nie, berei hulle nie die grond voor vir kultuur uitwissings nie? Dit gaan tog nie net oor taal as klank nie, maar ook die spreker van die taal se bestaan. As die Afrikaanse kerke tans so in ʼn transformasie ywer hulle Afrikaanse eredienste omruil vir Engelse dienste, is daarin nie die kiem van kulturele vandalisme in geleë nie? Waarom verwar die kerklike leierskap transformasie met reformasie. Transformasie dryf die voortgaande rewolusie. Reformasie dryf die voorgaande heiliging van kultuur. Die een verwoes kulture tot ʼn monokultuur (Vgl. Marcuse se One dimensional man; asook The Emerging Monoculture: Assimilation and the “model Minority“deur W E. Watson, & S. Cuban (2003).
- Deurdat die kerk se stem stil is oor die aardse verwagting, en bykans net oor die hemelse paradys preek, bewerk die kerklike leierskap ʼn baie gevaarlike vervreemding. Waarom is die kerklike leierskap agter die tyd? Hulle veg drake soos nasionalisme wat nie bestaan nie, en verhinder die beskerming van kultuur op sg. geloofsgronde. Hulle tree werklikheidsvreemd op, en vervreem daardeur die gewone lidmate. Deur eensydig klem te lê op die individu werk die kerke mee aan die vervreemding van die geslagte met mekaar. Die verbinding aan God se beloftes gaan tog ook oor die realisering daarvan in die nageslag se lewe?
| Waarom maak die kerklike leierskap of God se belofte net ʼn individuele kant het.
Of Waarom skep die kerklike leierskap ʼn geestelike generasie gaping deur die nageslag te vervreem van die konkrete beloftes van God? |
As die Here Jesus sê: Salig is die armes van gees, dan bedoel Hy die mense wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Die kerklike leierskap kom oor asof hulle sê: salig is die geestelike armoede.
| 4. Waarom spreek die kerke nie die verband tussen geestelike, kulturele en fisiese armoede direk aan nie? |
Jared Diamond: Culture or Welfare
Programs to reverse Indian cultural disintegration would be far better than welfare programs, for Indian minorities and for majority taxpayers alike. Similarly, those foreign countries now wracked by civil wars along linguistic lines would have found it cheaper to emulate countries based on partnerships between proud intact groups than to seek to crush minority languages and cultures.
| 5. Waarom laat die kerklike leierskap die (ont)heiliging van die volkere se lewe aan die duiwel oor? |
Waarom preek die kerke nie ook vir die volke nie, soos wat hulle plig is, aangesien God ook erfbesit oor die volke het. Die reformasie stel juis dat elke deel van die werklikheid die koningskap van God moet verkondig.
Wanneer ʼn volk ontstaan wil God ook uit daardie volksgemeenskap lof en eer ontvang. Die Bybel is tog duidelik dat gebondenheid aan God die boom en die bos insluit. Die individue en die groep saam moet hulle eer as dankbare geskenke aan God bring. Waarom het die kerklike leierskap eintlik oorgegee aan die liberale denkraamwerk wat eensydig klem op die enkeling lê. Waarom preek die kerke nie ook vir die volke soos wat ook hulle plig is nie? Die ander kant is om vryheid tot ʼn geheiligde kultuur te verkondig.
“En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin.” Open 21:24
Die Solidariteit Beweging geskok deur moord op Schalk Pienaar
Die Solidariteit Beweging is geskok deur die moord op die bekende prokureur en oudpolitikus Schalk Pienaar, wat op Maandagaand (19 September) by sy huis in Mokopane in Limpopo doodgeskiet is.
“Die Solidariteit Beweging is geskok deur die manier waarop Pienaar koelbloedig vermoor is. Die aard van die aanval op Pienaar skep die indruk dat dit hier om meer as net ʼn “gewone” moord gaan. Daar word vertrou dat die SAPD prioriteit sal gee aan die ondersoek na die moord en die Beweging sal die vordering daarmee dophou.
Daar word vertrou dat geregtigheid sal geskied,” sê Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.
Die Solidariteit Beweging veroordeel die moord ten sterkste en betuig simpatie met Pienaar se naasbestaandes.
Ramptoestand moet beëindig word; regstappe kom – Solidariteit Beweging
Die Solidariteit Beweging, waaronder Solidariteit en AfriForum, het vandag standpunt ingeneem deur te stel dat daar geen verdere rede bestaan waarom die huidige ramptoestand, wat al sowat 22 maande in werking is, van krag moet bly nie. Dit volg nadat die ramptoestand onlangs weer deur die regering verleng is.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, begin dit blyk dat die pandemie nou na ʼn endemiese fase beweeg. Voorts blyk dit dat daar nou verhoogde groepimmuniteit teen Covid-19 te bespeur is met die Omikron-variant wat tot minder ernstige siekte en sterftes gelei het. “Die feit dat die virus nou endemies is, beteken dat die virus nie gaan weggaan nie maar dat daar met die virus saamgeleef moet word. Dit beteken voorts dat uitsonderlike maatreëls deur die staat, soos wat onder ʼn ramptoestand ingestel kan word, nie meer nodig is om die virus in bedwang te probeer hou nie,” het Buys gesê.
Volgens Buys is die Beweging ook baie bekommerd oor die stand van skole in Suid-Afrika weens beperkings wat onderwys belemmer. “Die feit dat baie skole steeds nie na normale funksionering kan terugkeer nie, verdiep die kommer oor die toekoms van ʼn hele generasie leerders,” het Buys gesê.
Beide AfriForum en Solidariteit gaan voorts met regstappe begin om sodoende die howe te vra om die ramptoestand te beëindig.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, hou die ramptoestand ‘n bedreiging vir vryheid in, aangesien dit aan die regering buitengewone mag gee om burgerlike vryhede dramaties in te perk sonder dat sodanige mag op enige wyse aan parlementêre toesig en besluitneming onderwerp word. “Die feit dat die ramptoestand aanhoudend verleng kan word sonder parlementêre goedkeuring, is ʼn ernstige skending van gesonde demokratiese beginsels,” het Kriel gesê.
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, skep die huidige ramptoestand groot onsekerheid vir werkers, maatskappye en die ekonomie oor die algemeen, en dit moet dus beëindig word. “Die ramptoestand stel die regering in staat om op kort kennisgewing maatreëls in plek te stel wat besighede en werkers se lewensbestaan beïnvloed. Hierdie swaard wat oor die ekonomie hang skep onsekerheid vir kapitaalvorming en verdere uitbreiding in ʼn tyd waar ekonomiese groei nou van kardinale belang is,” sê Hermann.
Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder, sal die organisasie eersdaags sy hofstukke indien.
“AfriForum het reeds verskeie van die regering se verregaande maatreëls aangevat, insluitend die aandklokreël, staatskwarantynkampe en die verbod op godsdienstige byeenkomste. Dit is nou hoog tyd dat die ramptoestand in sy geheel opgehef word,” sê Broodryk.
Hermann sluit af deur te sê dat argumente dat die ramptoestand nie op kort kennisgewing beëindig kan word nie, gerieflikheidshalwe vergeet van die regulasies wat met “onmiddellike effek” onder die ramptoestand ingestel en afgedwing is.
Verdere besonderhede oor die voorgenome regstappe word binnekort bekend gemaak.
Onluste – Solidariteit Beweging sê aan lede: Bly kalm en organiseer
Die Solidariteit Beweging het vandag by ʼn mediakonferensie sy ondersteuners aangemoedig om te midde van die onluste wat sekere dele van die land teister, hul weerbaarheid op te skerp, kalm te bly en by hul plaaslike buurtwag aan te sluit.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die faksiegevegte in die ANC wat aanvanklik tot die plundery aanleiding gegee, ʼn platform gebied vir kriminele elemente om die situasie te misbruik om te steel en te buit. Buys het ʼn beroep op wetstoepassers gedoen om die orde te herstel en die skuldiges aan te keer. Volgens Buys moet die publiek egter nie hul veiligheid en dié van hul gesinne en gemeenskappe net aan die SAPD oorlaat nie want hulle kan self baie doen om hul eie weerbaarheid binne die raamwerk van die wet te verskerp. “As jy jouself en jou gesin kan beskerm, kan jy ook jou bure beskerm. As jy jou bure beskerm, kan julle saam julle gemeenskap beskerm,” het Buys bygevoeg. Buys het mense aangemoedig om by een van AfriForum se buurtwagte wat landswyd gevestig is, of by ander gemeenskapsveiligheidstrukture aan te sluit.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê georganiseerde gemeenskappe hoef nie in vrees te verval nie en kan kalm bly in die wete dat hul veiligheid in hul eie hande is. Dit is volgens Kriel nie ʼn vreemde verskynsel dat gemeenskappe self verantwoordelikheid vir hulle eie veiligheid aanvaar nie, soos wat verskeie gemeenskappe in KwaZulu-Natal die afgelope paar dae gewys het. Afrikaners het ook in die geskiedenis telkens self verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid aanvaar. “AfriForum het die afgelope paar jaar baie hulpbronne daarin belê om gemeenskapsveiligheidstrukture tot stand te bring en beskik reeds oor 159 buurtwagte, ʼn netwerk van beheerkamers, ʼn landswye radionetwerk, 12 500 buurtwag-vrywilligers, ʼn lugvleuel met 53 hommeltuig-vlieëniers en goed opgeleide personeel en vrywilligers. Benewens dit werk AfriForum saam met ʼn netwerk van ander buurtwagte, GPF-strukture, sekuriteitsmaatskappye en op talle plekke met plaaslike polisiestasies,” het Kriel gesê.
Volgens Kolonel Jan Wessels, AfriForum se veiligheidshoof, het AfriForum reeds by die aanvang van die onluste sy bestaande gemeenskapsveiligheidsplanne in werking gestel deur AfriForum se buurtwagte op bystand te plaas. Wessels het daarop gewys dat AfriForum se beheerkamers en grondvlakstrukture die situasie fyn monitor, dat riglyne aan AfriForum se buurtwagte gestuur is om hul bestaande veiligheidsplanne verder te verfyn met inagneming van die huidige omstandighede. Buurtwagte is gevra om sigbaarheid te verhoog en mekaar en ander rolspelers waar nodig by te staan. “AfriForum gaan nie by die konflikte op snelweë en ander prominente plekke betrokke raak nie, maar gaan wel al ons aandag fokus om binne die raamwerk van die wet gereed te wees om die veiligheid van woonbuurte waar ons funksioneer te help verseker,” het Wessels gesê.
Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za om by een van AfriForum se buurtwagstrukture aan te sluit.
Die Solidariteit Beweging doen ook ʼn beroep op lede van die publiek om die Beweging se Krisisfonds te steun om Solidariteit Helpende Hand in KwaZulu-Natal in staat te stel om lewensmiddele aan lede van die gemeenskap beskikbaar te stel. Gebruik dié skakel om by te dra: www.krisisfonds.co.za.
Entstowwe: doeltreffend en veilig, maar elkeen moet kan kies – Solidariteit Beweging
Die Solidariteit Navorsingsinstituut het in ʼn omvattende wetenskaplike verslag bevind dat entstowwe ʼn doeltreffende en veilige manier is om die Covid-19-pandemie te beëindig. Die verslag ondersteun ook mense se vryheid om self te kan kies. Sterk kritiek word ook op die regering se sentrale beheer van die entstofprogram gelewer en gevolglik is daar ook bevind dat die privaat sektor op groot skaal betrokke moet raak.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gaan groot getalle van die Solidariteit Beweging se lede en ander Suid-Afrikaners binne die volgende weke ʼn keuse oor entstowwe moet maak. “Ons wil ons lede en ander Suid-Afrikaners in staat stel om verantwoordelike keuses te maak. Covid-19 tref ons almal swaar en almal smag daarna om ʼn einde aan die pandemie te bring. Met al die menings, fopnuus en politieke agendas wat die rondte doen, is goeie wetenskaplike navorsing noodsaaklik. Uit die bevindinge in die verslag kan ons ons lede aanmoedig om wel die entstowwe te gebruik, maar op voorwaarde dat elkeen self ʼn verantwoordelike besluit moet neem en sy eie unieke omstandighede in ag sal neem. Die data wys een risiko uit wat baie groter is as entstowwe vir die meeste mense: dit is om nié entstowwe te gebruik nie.”
Volgens die verslag, waarin ’n behoorlike internasionale studie gedoen is, is bevind dat entstowwe wel doeltreffend is. In lande soos Israel, die Verenigde Koninkryk en Hongarye is daar ʼn regstreekse verband tussen die toediening van entstowwe, ’n afname in infeksies en veral ʼn afname in hospitalisasie en sterftes. Pfizer, Moderna, AstraZeneca en Johnson & Johnson is effektief. Dit is ook op grond van bevindinge in die betrokke verslag dat die Solidariteit Beweging nie die Chinese entstof SinoVac asook nie die Russiese Sputnik V-entstof kan aanbeveel nie. Die beskikbaarheid van bestaande data is onvoldoende, wat tot gevolg het dat geen gevolgtrekking tans oor die doeltreffendheid van hierdie twee entstowwe gemaak kan word nie.
Daar is ʼn grondige ondersoek gedoen na data van aanmeldings van newe-effekte, soos deur Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, gestel. “Behoorlike wetenskaplike navorsing is gedoen en oorspronklike data is gebruik sodat afleidings waterdig is. Daar is bevind dat die entstowwe wel in ʼn groot mate veilig is. Soos ander medikasie is daar newe-effekte, maar vir die meeste mense is die risiko wat Covid-19 inhou baie hoër as die risiko wat die entstowwe inhou.”
Mulder sê ook dat nie een van die entstowwe totale beskerming teen Covid-19 kan bied nie, maar dat dit wel omvattende beskerming teen ernstige simptome en sterftes bied. Dit is waarskynlik nie nodig dat kinders die entstof ontvang nie, maar ouers kan goeie mediese advies by dokters inwin.
Die data wys dat die aansprake dat groot getalle mense weens die toediening van die entstof doodgaan, eenvoudig nie waar is nie. Die risiko vir bloedklonte en hartverwante newe-effekte is klein. Die meeste newe-effekte wat aangemeld is, is lig en stem ooreen met dié van enige ander entstof.
Die navorsers het ook bevind dat dit belangrik is dat individue wat reeds gesondheidsprobleme ondervind, tans siek is en voorheen newe-effekte van entstowwe ondervind het, eers met hul dokter moet skakel om seker te maak of dit veilig is om teen Covid-19 ingeënt te word.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, moet mense wat ʼn keuse wil maak, ʼn keuse kan maak. “Die regering se sentralisasie van entstowwe veroorsaak ʼn bottelnek in die entstofproses. Dat die proses gemonopoliseer word, is onaanvaarbaar. Die privaat sektor moet op alle vlakke van die waardeketting op ʼn groot skaal betrokke raak. Dit is nie net belangrik dat mense moet kan kies of hulle ʼn entstof wil ontvang nie, maar ook watter entstof hulle wil ontvang.”
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, word Solidariteit se lede, soos talle ander Suid-Afrikaanse burgers, tans ernstig deur die derde golf van die Covid-19-pandemie getref. “Ons lede is moeg vir inperkings en wil daaruit kom. Inenting kan beslis ʼn groot rol speel om uit die pandemie te kom. Vertrouensvlakke in die regering is met reg baie laag. Daar is ʼn fyn lyn tussen vertroue in die regering en vertroue in entstowwe. Die regering het sy mag tydens die inperking misbruik, vryhede weggekalwe en ʼn teelaarde vir skeptisisme oor entstowwe geskep.
“Wat ons nou moet doen is om na die feite te kyk. Ons moedig almal aan om hul omstandighede te evalueer en hul besluit (verantwoordelik) te neem en hul vryheid van keuse uit te oefen,” sluit Hermann af.
Laai die verslag hier af: http://soli.online/2yr
Solidariteit Beweging verwelkom grondwethof-uitspraak teen Zuma; vra vir konsekwentheid
Die Solidariteit Beweging het vandag die grondwethof se uitspraak verwelkom waarin hy Jacob Zuma skuldig bevind het aan minagting van die hof en hom tot 15 maande tronkstraf gevonnis het.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is die skuldigbevinding teen Jacob Zuma ʼn eerste stap om geregtigheid te laat geskied teen ʼn voormalige president wat die land tot op die rand van die afgrond gesleep het, hoewel sake teen hom oor dekades se misdrywe nog hangende is.
Buys het voorts gesê dat hoewel dié uitspraak in ʼn positiewe lig gesien moet word, daar nog baie moet gebeur om weer Suid-Afrikaners se vertroue in te boesem. “Die feit bly staan dat Suid-Afrika steeds geteister word deur ongekende hoë vlakke van korrupsie wat selfs tot so onlangs as verlede jaar met die skaamtelose plundering van hulpfondse te sien was. Die werklike toets gaan daarby berus of hierdie politieke elite ook suksesvol vervolg sal kan word, al dan nie,” het Buys gesê.
Buys het dit verder gestel dat die reaksie op die uitspraak wel Suid-Afrikaners se kollektiewe gevoel rakende regerende elite wat die reg straffeloos minag, weerspieël. “Dit kan hopelik ʼn era inlui waar meer verantwoordbaarheid onder politici en staatsamptenare verwag word,” het Buys gesê.
Volgens Buys is die Beweging wel skepties daaroor of Zuma homself gaan oorhandig en indien nie, of hy gearresteer sal word. “Dit is wyd bekend dat Zuma en sy volgelinge steeds verskeie ondersteuners binne die regerende party het. Indien Zuma homself nie oorhandig nie moet daar doelgerig opgetree word om sy inhegtenisname te bewerkstellig,” het Buys afgesluit.
Solidariteit Beweging wil samewerking tussen SA en Hongarye bevorder
Die Solidariteit Beweging het die afgelope week saam met verteenwoordigers van verskillende bedrywe in Hongarye ʼn vereniging in Boedapest opgerig wat samewerking tussen Hongarye en Suid-Afrika sal bevorder. Dit volg nadat ʼn afvaardiging van die Beweging die afgelope twee weke met politici, sakeleiers, akademici en ander leiersfigure in Hongarye ontmoet het.
Die Hongaars-Suider-Afrikaanse Vriendskapsvereniging is formeel as ʼn vereniging by die owerhede in Hongarye geregistreer en sal verskeie projekte fasiliteer. Die Solidariteit Beweging het verlede jaar reeds besluit om sy Europese netwerk ook na Sentraal- en Oos-Europa uit te brei met ʼn eerste sterk fokus op die vier lande wat deel van die Visegrad-groep is, naamlik Pole, Hongarye, Slowakye en Tsjeggië. Die vriendskapsvereniging sal ʼn voltydse kantoor in Boedapest hê wat deur Hongare gefinansier word.
Tydens die onlangse besoek is met verskeie senior regeringsleiers in Boedapest oor uitdagings en geleenthede samesprekings gevoer. Volgens Jaco Kleynhans, hoof van Internasionale Skakeling by die Beweging, het die Beweging vyf belangrike doelwitte met internasionale skakeling. Eerstens is dit om kulturele vriendskappe in soveel as moontlik lande te smee sodat daar veral ʼn groter bewustheid van Suid-Afrika se diversiteit geskep kan word. “Terwyl ons in alle internasionale skakeling Suid-Afrika se enorme uitdagings van swak regering, korrupsie, misdaad en die Afrikaners se unieke belewenis van Suid-Afrika oordra, maak ons dit ook duidelik dat Suid-Afrika ʼn land van ongekende geleenthede is en dat die land nie afgeskryf moet word nie. Ons bevorder dus vriendskap, eerder as om net buitelandse kritiek en druk te probeer ontlont.” Verdere doelwitte sluit in die bevordering van sake-geleenthede, akademiese samewerking, uitruiling van landboukennis en -tegnologie en kulturele projekte om groter bewustheid van die twee streke se kulturele verskeidenheid te skep.
Die Beweging beplan veral om deur die nuutgestigte vereniging sakegeleenthede vir sy lede in Hongarye te help ontgin sodat lede van die Beweging hul internasionale bedrywighede kan diversifiseer. “Ons het tydens ons besoek ook met verskeie universiteite, akademici en politici wat akademiese beleid beïnvloed, vergader met die doel om ons eie opleidingsinstellings, insluitende Akademia en Sol-Tech, se internasionale bande te versterk. Ons verwag baie goeie samewerking oor die volgende paar jaar tussen ons instellings en universiteite in Hongarye. Die Beweging se planne om binnekort met landbou-opleiding te begin, sal ook ʼn hupstoot kry met samewerking uit Hongarye. Verder beplan ons om met die hulp van groepe in Hongarye meer studente uit Suid-Afrika te stuur om met spesiale beurse in Hongarye te gaan studeer.”
Die Beweging se afvaardiging na Hongarye het bestaan uit Kleynhans, dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, Werner Human, operasionele bestuurder van die Beweging, Ernst Roets, hoof van beleid en aksie van AfriForum, en Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.
Solidariteit Beweging betuig meegevoel met Zoeloes na afsterwe van koning Zwelithini
Die Solidariteit Beweging het vandag sy innige simpatie teenoor die Zoeloes se koninklike familie en die Zoeloe-gemeenskap as ʼn geheel betuig nadat dit bekend geword het dat Sy Majesteit Koning Goodwill Zwelithini vanoggend oorlede is.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die Beweging, en AfriForum in die besonder, goeie verhoudings met die koninklike familie gehandhaaf om sodoende wedersydse erkenning en respek tussen verskillende kultuurgemeenskappe in Suid-Afrika te bewerkstellig.
Volgens Buys het koning Zwelithini ʼn beduidende rol in die kulturele uitlewing en identiteit van die Zoeloes gespeel en deurentyd ook respek teenoor ander kultuurgemeenskappe in ʼn diverse land betoon.
“Dit is vir ons as Beweging hartseer om van die afsterwe van koning Zwelithini te verneem. Die land en die Zoeloe-gemeenskap in die besonder is armer weens sy afsterwe,” het Buys gesê.