Solidariteit mediaverklaring
Solidariteit se Onderwysernetwerk het ʼn skrywe aan skoolpersoneel gerig wat moontlik aan intimidasie of dreigemente blootgestel kan word wanneer die eerste skoolkwartaal volgende week aanbreek.
Johan Botha, hoof van die Solidariteit Onderwysernetwerk, sê die doel met die boodskap is om verwarrende boodskappe van veral politici oor die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela) te takel.
Die skrywe lees soos volg:
Beste Skoolhoofde en Onderwysers
In die lig van die onlangs gepromulgeerde Bela-wet en moontlike intimidasie deur onder meer politieke partye soos die EFF of die ANC, moedig die Solidariteit Onderwysernetwerk skole, personeel en hul bestuurspanne aan om nie aan druk toe te gee nie en om ten alle tye kalmte te handhaaf.
Solidariteit wil dit duidelik stel dat geen amptenaar, ongeag sy of haar posisie by die departement, politieke party of enige ander groep of organisasie, oor die reg beskik om ʼn skool of sy skoolgemeenskap oor taal- en/of toelatingsbeleid te intimideer nie.
Indien enige vorm van intimidasie of ontwrigting voorkom, kan die volgende stappe gevolg word:
1. Dokumenteer alle gebeure deeglik. (Neem foto’s, video’s, en notas.)
2. Meld die voorval(le) dadelik by Solidariteit (012 644 4300), die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), of AfriForum aan, of stuur ‘n e-pos na diens@solidariteit.co.za.
3. Tree binne die raamwerk van die wet op en moet onder geen omstandighede aan druk toegee nie. Die reg op toegang tot die skoolterrein word steeds voorbehou, en die veiligheid van personeel en leerders wat by die skool ingeskryf is, bly die hoogste prioriteit.
Elke skool is volkome daarop geregtig om sy belange, taalbeleid, leerders en personeel se regte te beskerm. Solidariteit is slaggereed om regsadvies en ondersteuning te bied waar u dit benodig.
Saam sal ons veg vir die toekoms en behoud van Afrikaanse onderwys!
Intussen berei die Solidariteit Beweging voor om die gebrekkige promulgering van die Bela-wet deur middel van regstappe uit te daag. Die Beweging het ook ʼn ooreenkoms met die minister van basiese onderwys by Nedlac gesluit. Dié ooreenkoms bied noodsaaklike beskerming aan Afrikaanse skole.
Die beskerming moet weerspieël word in regulasies, norme en standaarde wat die minister vir die klousules oor taal en toelating moet ontwikkel.
Solidariteit sal verseker dat dié ooreenkoms behoorlik geïmplementeer word.