(Hierdie onderhoud is op 6 Julie 2021 op Nuuspod se YouTube-kanaal geplaas)
Nuuspod gesels met Flip Buys
(Hierdie onderhoud is op 6 Julie 2021 op Nuuspod se YouTube-kanaal geplaas)
(Hierdie video is op 12 Mei 2015 op AfriForum se YouTube-kanaal geplaas)
In die middel van die harde vlak 5-inperking kry ek een nag laat ’n benoude oproep van ’n jarelange staatmakerlid. “Gaan Solidariteit hierdie krisis oorleef?” vra hy angstig. “Wat as hierdie Covid-tsunami alles platvee waaraan ons 20 jaar lank gebou het? Solidariteit is al wat nog staan tussen ons en totale verval in hierdie land.”
“Ons het darem nie op sand gebou nie,” probeer ek hom gerusstel. “Ons het die Solidariteit Beweging juis vir krisistye gebou, al het ons nie geweet presies wat die krisis gaan wees nie. Natuurlik het die krisis ons ook onverwags getref, maar nie onvoorbereid nie.” Dit stel hom egter nie gerus nie, en hy peper my verder met “maar wat as”-vrae wat nie maklike antwoorde het nie: Wat as derduisende lede sterf, of hulle werk verloor, of as Solidariteit bankrot speel, of as daar geweld losbars, of as ons kinders nie kan skoolgaan nie? Ek verduidelik dat ons navorsing aandui dat die panieksyfers van die regering ’n groot oordrywing is. “Maar wat gaan ons doén?” vra hy dan.
Aksieplanne
As Christene glo ons dat alles in Sy hande is, en daarna werk ons asof alles in óns hande is. Ons berei al jare vir krisisse voor en is, sover dit menslik moontlik is, gerat en gereed vir wat kom. Ons kan nie alles doen nie, maar ons sal doen wat ons kan. Ons risikobestuurstrategie is al jare lank in plek. Ons beroepsveiligheidspan is besig met voorstelle oor gesonde werk wat aan die regering en maatskappye voorsien sal word. Die Solidariteit Navorsingsinstituut werk aan projeksies oor hoe die pandemie ons lede se gesondheid en werk kan raak. Daarna skakel ons dit om in planne vir elke afdeling en departement in Solidariteit. Ons skakel met ons lede se werkgewers om oor hul werk, mediese fonds en pensioen te praat. Ons Koronakrisissentrum was binne ’n week reg om duisende ledenavrae te hanteer. Solidariteit se regsmense werk kliphard aan oplossings vir probleme wat kom. Helpende Hand stig ’n Krisisfonds om lede met voedselnood te help. AfriForum se buurtwagte skakel met die polisie oor veiligheid. Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum bou ’n aanlyn matriekskool sodat kinders kan bybly. Ek noem nog ’n hele rits van ons projekte op. “Maar hoe gaan ons dit alles bekostig?” vra hy. Alles is gratis vir ons lede. Ons was voorbereid op ’n krisis, al kon ons nie beplan vir presies watter een nie.
Nagmerrie
Nadat ek hom so goed ek kan gerusgestel het, kom die slaap nie maklik nie. Dit was die tyd toe almal bekommerd was of daar genoeg plek in hospitale sal wees; die bouwerk aan Sol-Tech se nuwe kampus moet stop; AfriForum se buurtwagte mag nie patroleer nie; die howe sluit; ArcellorMittal maak vir die eerste keer in 70 jaar nie staal nie. Ons word oorval met navrae en kan nie bybly om al die WhatsApp-boodskappe, e-posse, Facebook-vrae en oproepe te antwoord nie. Dis soos ’n vloedgolf wat oor ons spoel, en dit hou net nie op nie. Soms voel dit of ’n mens soggens in ’n nagmerrie wakker word. Ons doen scenariobeplanning en stel aksieplanne op om alles in plek te kry. Dag en nag vloei deurmekaar; werk en huis word dieselfde tyd en plek. Tussendeur skop my krag af en my rekenaar en internetverbinding gee probleme, maar ons IT-mense verrig wondere en Solidariteit se organisasies is in ’n rekordtyd weer aanlyn.
Solidarity Fund
Net toe ek voel ons skep asem, bel Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand, my met die nuus dat die regering ons naam gebruik vir hulle Solidarity Fund. Ons regsmense sê in hierdie ramptyd sal die howe ons nie help nie, ons moet ons fonds se naam verander. Ek en dr. Dirk Hermann koukus en besef dit gaan geweldige verwarring skep. Baie mense gaan dink die Solidarity Fund is ons fonds en gaan geld daarin betaal. Ons lede wat in nood raak, gaan dink ons wil hulle nie help nie. Sommer die eerste dag al word dit ’n groot probleem. Mense betaal geld in die regeringsfonds en dink dis ons fonds. Lede kla by ons omdat die Solidarity Fund hulle nie wil help nie. Hannes sê Helpende Hand word oorstroom met hulpversoeke.
Virseker
Ons is raadop. Dit voel of ons ’n skare moet kosgee met twee brode en drie vissies. Dan kom die nuus: Virseker se beheermaatskappy, Telesure, en die stigter van Auto & General se Steyn-familietrust skenk R2 mijoen se kospakkies! Wat ’n uitkoms in daardie eerste dae! Hulle skenk uiteindelik nog R10 miljoen rand se kospakkies. Dan begin die skenkings instroom by Helpende Hand se Krisisfonds: kontantbydraes, kos, groente, meel, selfs vleis. Hannes se span noem die skenkingskantore “Josef Silo’s”. Alle hulpaansoeke word gekeur deur ’n span maatskaplike werkers, maar ons kry te veel aansoeke om almal te kan help. Kospakkies word landwyd versprei deur die personeel en vrywilligers van AfriForum, Solidariteit, Helpende Hand en Saai. Elke pakkie het ’n adres. Dit gaan rof. Die ANC se Lesufi probeer ons kosverspreiding keer en sentraliseer. Ons weier en gaan net aan, en wen uiteindelik ons saak in die hof. Teen Augustus het Helpende Hand reeds 20 000 gesinne met kospakkies gehelp asook meer as 1 600 ouetehuise en vele kerke en kinderhuise.
Presteer
Ook op ander fronte presteer ons organisasies. Akademia skakel naatloos oor na aanlyn leer. Hulle stel hul voltydse Centurion-kampus vir 2021 bekend. Sol-Tech maak weer oop en die bouwerk gaan volspoed aan. Meer as 120 000 skoolkinders registreer by Die Wolkskool. Duisende onderwysers word met webinare opgelei om aanlyn klas te gee. Sowat ’n duisend skole word raad gegee oor gesonde onderrig. Die FAK reël aanlyn musiekkonserte wat teen die Voortrekkermonument se voorkant projekteer word. Maroela Media staan werklose kunstenaars by. Pretoria FM ondersteun die Krisisfonds. Ons begin hofsake teen min. Nkosazana Dlamini-Zuma se dom regulasies. Ons wen die meeste, maar verloor die saak teen die regering wat noodhulp op grond van ras toeken. Ja, die regering en die hof klou selfs in ’n ramptyd aan hul rassebeleid vas. Niemand gaan lê nie – ons veg voort en wen weer sake. ’n Boer maak ’n plan, skryf iemand vir my.
Die regering verbrou die krisis. Covid-19-korrupsie walg die land. Ons begin al hoe meer ondersteuning kry, dis eenvoudig verstommend. Al ons organisasies groei. Inligting oor die regering se swak hantering van die ramptoestand weerklink tot in die buiteland. Die infeksiekoers begin daal en veel minder mense word siek as wat voorspel is. Die inperkings word afgeskaal en die winter maak stadigaan plek vir lente. Mense begin weer lig sien.
Ons begin planne maak vir die post-Covid-tyd. ’n Boer maak ’n plan. Ons kan nie op die regering staatmaak nie, maar dit maak ons nie moedeloos nie; dis bevrydend. Ons wil en sal nie ons kinders se toekoms aan korrupte onbevoegdes oorlaat nie. Ons sal self verantwoordelikheid neem en sal ons nie laat onderkry nie. Ons planne is gróót, want dit moet groter as die probleem wees. Maar ons weet – in ’n krisis kan jy nie wag nie; jy moét waag, dan sal jy wen. Ek begin uitsien na die toekoms…
(Bron: Solidariteit Tydskrif, September 2020)
Suid-Afrika het ’n rekordwerkloosheidskoers. Dit is baie slegte nuus, want werk staan sentraal in ons lewens. Ons hele lewe is daarom georganiseer. Daarom het Solidariteit die Werkherstelprogram geloods. Gesaghebbende peilings deur Gallup het bepaal dat mense se grootste begeerte ’n goeie werk is. ’n Goeie werk stel jou in staat om jou roeping uit te voer en vir jou gesin te sorg. Dit gee sin aan die lewe, en jy lewer daardeur ’n bydrae tot die samelewing.
Werk is só belangrik dat die denker Max Weber gesê het die meeste mense werk nie om te leef nie, maar leef om te werk. Daarom wil mense werk selfs as die regering hulle deur Covid-19-inperkingsregulasies probeer keer. Maar dis nie al nie. Die welstand van ’n land word deur die welstand van sy werkmag bepaal. Daarom is ’n hoogs opgeleide, produktiewe en goed betaalde werkmag noodsaaklik vir Suid-Afrika om te werk. Dit is ook ’n voorwaarde vir die verbetering van die bevolking se lewenstandaard – wat immers die doel van ’n ekonomie is. Maar ’n topgehaltewerkmag is ook ’n vereiste vir die oplossing van ons land se knellende vraagstukke van armoede en werkloosheid.
Werknemers sleutelbelangrik
’n Land se werkmag voorsien sy inwoners van lewensbenodigdhede en maak produkte wat na ander lande uitgevoer word om geld in te bring. Werknemers word vir hulle bydraes vergoed en gebruik die vergoeding om lewensmiddele aan te koop wat deur ander werknemers gemaak en versprei word.
Die winste wat maatskappye maak, word aan die aandeelhouers betaal, waarvan werknemers se pensioenfondse die grootste is. Daardie spaargeld word belê vir werknemers se oudag, maar om te groei, werk die geld intussen in die ekonomie en skep so meer werk. Hierdie spaargeld van werknemers is die “brandstof” van ekonomiese groei wat belê word in maatskappye wat goed daarmee werk en so ’n goeie opbrengs kan lewer.
Werknemers betaal ook belasting, wat die staat dan aanwend om dienste soos onderwys, gesondheid, veiligheid, water en elektrisiteit te lewer. Werknemers is gevolglik ’n sleutelbelangrike skakel in die ekonomiese ketting.
Opleiding lê grondslag
Sonder ’n topwerkmag wat as ’n wenspan by ons internasionale mededingers kan kers vashou, sal ons van die wêreldkaart verdwyn. Dit is belangrik om te weet wat die bestaansvoorwaardes vir goeie werk en ’n topwerkmag is. Die rede is dat Suid-Afrika se werkloosheidsyfer reeds voor die Covid-19-krisis rekordvlakke bereik het.
Werk kan gesien word as ’n pyplyn wat al op laerskool begin. Goeie onderwys lê die grondslag vir naskoolse opleiding. Topgehalte-universiteite en -kolleges is onontbeerlik vir ’n topwerkmag. Navorsing bewys dat die vlakke van inkomste wat mense kry, bepaal word deur hulle vlakke van opleiding. Amerika is ’n supermoondheid omdat dit ’n superopleidingsmoondheid is, met 14 uit die 20 beste universiteite in die wêreld. Dit is waarom Solidariteit ons Netwerk van Werk begin het, met Sol-Tech, Akademia, die Helpende Hand Studiefonds en die Skoleondersteuningsentrum.
Ons moet sélf begin doen
Dit is belangrik om te beklemtoon dat die welstand van ’n land bepaal word deur die welstand van sy werkmag. Dit gaan sleg met die land, want dit gaan sleg met die werkmag. Die kern van die probleem is dat ons land se werkmag te klein is: Net 24% van Suid-Afrikaners werk, volgens Claude Baissac, ekonomiese strateeg van Eunomix. Hierdie 14 miljoen werkers moet vir die land se 60 miljoen mense sorg. Dis onmoontlik vir net 24% werkers om volhoubaar vir 76% te sorg. Suid-Afrika se werkloosheidskoers was al voor die grendelstaat op rekordvlakke en staan volgens StatsSA nou op meer as 40% van dié wat kan werk.
Ons weet dat die regering wat die probleem veroorsaak het, dit nie alleen sal kan oplos nie. Daarom kan ons nie vir hulle wag nie. Ons moet self begin doen; ons moet self begin werk.
Ons werkskeppingstrategie
Dit is belangrik om te besef dat ’n normale land ’n voorvereiste vir normale werk is. Daar is nie normale en goeie werk in abnormale lande soos Zimbabwe, waar daar nou ’n werkloosheidskoers van sowat 80% en ’n inflasiekoers van meer as 300% is nie. Die les van Zimbabwe is dat werkersregte afhanklik is van burgerregte. Daarom sal Solidariteit moet help om groter normaliteit te vestig, omdat mense se werk daarvan afhang.
’n Werkstrategie kan vergelyk word met ’n boer se plaas. Daar is insette, soos om te ploeg en te plant, en daar is uitsette, soos ’n goeie oes. Indien die regte insette bestaan, sal dit lei tot die regte uitsette en dan kan ’n boer sy uitkoms bereik, naamlik goeie winste maak. ’n Werkstrategie het ook sekere insette nodig, soos ’n opgeleide werkmag, goeie regeringsbeleid, ’n markekonomie en redelike staatsbestuur.
Die meegaande tabel beskryf Solidariteit se werkskeppingstrategie. Die insette word in die eerste kolom aangedui. Dit is alles voorwaardes vir suksesvolle uitsette, soos ekonomiese groei, wat dan weer lei tot indiensneming wat werkloosheid afbring. Hierdie uitsette lei gesamentlik tot die bereiking van die belangrikste uitkoms van enige ekonomie, naamlik die verhoging van almal in die land se lewenstandaard.
Daarom werk Solidariteit vir normaliteit op alle gebiede – want dis ’n voorvereiste vir goeie werk.
(Bron: Solidariteit Tydskrif, November 2020)
Die Solidariteit Beweging is geskok deur die moord op die bekende prokureur en oudpolitikus Schalk Pienaar, wat op Maandagaand (19 September) by sy huis in Mokopane in Limpopo doodgeskiet is.
“Die Solidariteit Beweging is geskok deur die manier waarop Pienaar koelbloedig vermoor is. Die aard van die aanval op Pienaar skep die indruk dat dit hier om meer as net ʼn “gewone” moord gaan. Daar word vertrou dat die SAPD prioriteit sal gee aan die ondersoek na die moord en die Beweging sal die vordering daarmee dophou.
Daar word vertrou dat geregtigheid sal geskied,” sê Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.
Die Solidariteit Beweging veroordeel die moord ten sterkste en betuig simpatie met Pienaar se naasbestaandes.
Die geskiedenis gee aan elke geslag ‘n taak. Sommiges kry makliker take as ander. Party kry baie, ander moet baie gee. Maar omdat daar ‘n verbond tussen die geslagte is, omdat ‘n beskawing ‘n ketting van geslagte is wat soos met ‘n aflosresies dit wat jy kry moet bewaar en vir die volgende geslag aangee, omdat die een geslag van die vorige en volgende afhanklik is, beteken dit dat as net een geslag sy taak nie opneem nie, is daardie ketting vir altyd verbreek. Dan gaan daardie beskawing onder, verskraal tot ‘n voetnota in ‘n geskiedenisboek. Dis soos om ‘n boom af te kap, en dan te dink jy sal steeds die vrugte en koelte kan bly geniet.
Die geslagte voor ons het groot uitdagings gehad. Die een geslag moes die Groot Trek aanpak, die volgende een die Anglo-Boereoorlog, daarna die modernisering van Afrikaans en daardeur die land opbou, die volgende een moes die Koue Oorlog en die Grensoorlog trotseer en het die volkereverhoudingsprobleem probeer oplos deur sg “afsonderlike vryhede”, en die volgende het die waagstuk van meerderheidsregering aangepak.
Maar wat is ons taak? Die geskiedenis stel geen geslag vry om maar net te ry op die vorige geslagte se antwoorde op die eise van hulle tyd nie.
Terug na Toynbee se wysheid van uitdaging en antwoord. Ek wil dit waag om te sê dat ons geslag se taak is om die bestaansuitdaging van ons as Westerse volk aan te pak met ‘n volhoubare oplossing. Ons bestaanskrisis is nie ons klein getalle nie, maar ons yl verspreiding wat veroorsaak dat ons orals in die minderheid is en landswyd dieselfde probleme het.
Ons is meer as die onderskeie bevolkings van Namibië, Lesotho, Macedonië, Slowenië, Letland, Botswana, Gambië, Gaboen, Estland, Swaziland, Mauritius, Ciprus en Luxemburg, asook nog ’n menigte ander volke. Maar ons woon nie gekonsentreerd soos al hierdie volke nie, en is gevolglik ’n kwesbare minderheid tussen ’n groter meerderheid. Ons het nie ons eie “Skotland” of KZN nie.
Daarom word ons landswyd in die werksplek met rassseformules, kwotas en diskriminasie geteiken, daarom is ons orals onveilig, daarom verval ons dorpe, daarom word ons orals deur onsimpatieke meerderhede regeer, daarom word ons Westerse leefwyse orals bedreig, en daarom sien so baie mense nie meer ‘n toekoms hier nie.
As die uitdaging yl verspreiding is, is die oplossing groter konsentrasie na plekke waar mense tuisvoel. En dis presies wat lankal vanself begin gebeur. Daar is weer ‘n Groot Trek aan die gang. Mense trek al dekades lank vanuit die vervallende klein dorpies na streeksdorpe en stede, hulle trek vanuit vervreemde middestede na voorstede, vanuit gevaarlike gebiede na veiligheidsdorpe, vanuit plekke waar hulle ‘n klein minderheid is na plekke met groot getalle kultuurgenote soos die Weskaap. Ons konsentreer al meer op al minder plekke, en die groter getalle maak oplossings makliker. Die wat kan “trek” hul vanaf staatshospitale na privaathospitale, vanaf polisiediens na privaatsekuriteit, vanaf werk in die staatsdiens en openbare ondernemings na kleiner privaatmaatskappye. Meer as 500 000 het ook al konsentreer in organisasies soos Solidariteit, AfriForum en ons beweging. Dit maak dit al makliker om al vinniger aan al groter oplossings te werk. Die grootste waagstuk, is om in ‘n krisis te wag (op beter dae), in plaas van om ‘n plan te waag.
Kantonstrategie
In die praktyk ontstaan daar orals wat ons kulturele kantonne (Switserland) kan noem, waar mense meer vry, veilig en tuis voel en is. Waar ons vroeër al verder van mekaar af getrek het, trek mense nou saam en nader aan mekaar, en werk vanuit hierdie ruimtes dan saam met almal anders. Ons moet hierdie hedendaagse Groot Trek met dienste ondersteun, want dit het in die praktyk ons Plan B geword wat vanself begin loop het toe Plan A vasval. Dis nie ‘n projek om onsself te isoleer nie, maar juis in reaksie op ons isolering en uitsluiting deur die owerheid. Dit bou juis die kulturele leefruimtes vir ons om saam in Afrika te kan bestaan. Eilande is nodig om te keer dat die see jou nie oorweldig nie. Hierdie strewe na selfbesluitneming in kulturele leefruimtes is in reaksie op die mislukking van ANC-besluitneming oor ons. Dit sal nie help om hulle te beveg om die staatsruimtes te probeer terugvat nie. Ons moet eerder gemeenskapsruimtes bou deur konsentrasie, as om deur konfrontasie dit wat oorgevat is te probeer terugvat.
In die praktyk vorder ons al ver met ons plan om soos die Israelse Histadrut vir ons mense ‘n toekoms te bou. Maar ons sal vinniger groter moet konsentreer, want die yl verspreiding bly steeds ons bestaansuitdaging wat nog ons ondergang kan beteken.
Daarom het ons met projekte begin om ons mense se kapitaal te konsentreer, om so vinniger die kulturele leefruimtes wat ons nodig het om ons kultuurgemeenskap voort te sit te bou. Daarmee gaan ons Sol-Tech se nuwe kampus bou, daarmee gaan ons vir Sol-Tech ‘n groot koshuis bou vir ons lede se kinders wat ver bly, daarmee gaan ons vir Akademia ‘n groot kampus bou, daarmee gaan ons nog bekostigbare gehalteskole vir ons gemeenskap bou, en daarmee gaan ons nog groter leefruimtes bou. Ons sal binnekort meer praktiese planne hiervoor bekend maak, want ons wil graag hê ons lede moet nie net bydraers wees nie, maar bouers wat saam aan die toekoms bou. Ek gee u die versekering dat van die top breinkrag in die land saam met ons aan al hierdie planne werk. Die kern hiervan is ‘n vennootskap tussen kultuur en kapitaal, waar mense ‘n finansiële opbrengs op hul geld kan kry saam met ‘n kulturele dividend soos ‘n kollege, universiteit en skole vir hulle kinders.
Uiteindelik wil ons mense in klein dorpies kan help met noodsaaklike dienste, wil ons in die 30 Ankerdorpe en -stede waarna mense volgens ons navorsing trek volhoubare dienste skep soos veiligheid, werk, onderwys en maatskaplike sorg. Maar ek glo dat ons ook groter kantonne sal moet bou, waarskynlik in Pretoria in die noorde, moontlik een in die Suid-kaap, en een in die Weste van die land met Orania as groeipunt. Al hierdie projekte doen ons nie teen die owerheid nie, maar omdat dit nie sal help om vooraf goedkeuring te vra nie, vra ons eerder na die tyd om erkenning vir dit wat in praktyk gebou is. Selfs waar ons dit nie kry nie, bied die praktiese werklikhede wat ons skep vir ons die leefruimtes waarin ons vry, veilig, en voorspoedig kan voortbestaan. Ons strategie is om al die ruimtes wat die grondwet en internasionale reg ons bied te benut.
“Make no little plans; they have no magic to stir men’s blood and will not be realized. Make big plans; aim high in hope and work, remembering that a noble, logical plan will never die, but long after we are gone be a living thing, asserting itself with ever-growing insistency.”
As u sou vra hoe lank dit alles gaan vat, dan is my antwoord dat dit afhang van die steun en samewerking van ons eie mense. Die staat gaan dit nie van “bo” af vir ons gee nie, ons bou dit self van onder af. Die spoed en die hoogte van die kulturele “plafonne” gaan afhang van onsself, nie van die owerheid nie. Ons hoop ook om ondersteuning van die buiteland af te begin kry, omdat dit opbouende projekte is wat net tot voordeel sal strek.
Die harde waarheid is dat ons na 25 jaar weet dat die Akte van Menseregte nie ons grondliggende belange gaan beskerm nie. Maar ons weet ook dat hoe hoër die vlakke van selfstandigheid is wat ons bou, hoe minder kwesbaar sal ons van ‘n vervallende staat wees. Vryheid is uiteindelik die enigste waarborg vir veiligheid, vir ons lede se werk, vir gelykheid, vir reg en geregtigheid, vir volhoubare voorspoed, vir werkende dienste, vir goeie skole, en vir ‘n toekoms vir ons kinders.
Ons mense het deur hulle vindingrykheid, skeppende vermoë en ondernemingsgees wêreldklas prestasies op alle gebiede bereik: medies, sport, wetenskap, besigheid, kultuur en die kunste. Ons sal daardie selfde vermoë moet aanwend om op staatkundige gebied weer al hierdie elemente in ‘n samehangende plan in te weef, anders is dit nie standhoudend nie.
‘n Volk skep sy eie toekoms, het Vader Kestell gesê. Soos die beroemde bestuurskundige Jim Collins dit gestel het: “Whether you prevail or fail, endure or die, depends more on what you do yourself than on what the world does to you.”
Suksesresep
Kom ons gebruik ons voorouers se beproefde suksesresep om krisisse te oorkom:
Neem een groot krisis.
Meng dit met leierskap en visie.
Gooi ’n paar stewige “skudde” wilskrag by.
Versterk die mengsel met kinderlike geloof.
Vermenigvuldig dit met Helpmekaar-energie.
Klits hope harde werk by.
’n Knypie broedertwis na smaak.
Versoet met ’n groot skep saamstaan.
Bak nou vir sowat ’n dekade lank in ’n groot bak vol volharding en vasbyt.
Dit behoort genoeg te wees vir die toekoms van ’n hele nuwe geslag.
Afsluiting
Kom ons pak die taak wat die geskiedenis aan ons geslag gegee het aan met geloof, waagmoed, ywer en volharding.
Soos President Kennedy gesê het:
If not us, who? If not now, when?”
Flip Buys
Onwerkbare bestel
Suid-Afrika is ‘n uiters komplekse verskynsel weens sy verskeie bevolkings en kultuurgroepe. Die opstellers van die grondwet het ten spyte hiervan egter gekies om ‘n meerderheidsbestel te implementeer wat bloot net te simplisties is om ‘n komplekse heterogene land soos Suid-Afrika te bestuur.
Die uiteindelike gevolg van so ‘n meerderheidsbestel is die de facto totstandkoming van ‘n demografiese demokrasie waar ‘n party, soos die ANC, met 50% van die stemme 100% van die besluitnemingsmag oor almal op homself kan vestig. Werklikhede van Suid-Afrika kan nie meer weggesteek word nie. In die aangesig van die werklikheid is dit pynlik duidelik dat minderhede in Suid-Afrika kwesbaar is.
Op papier is daar feitlik geen ooreenkoms aangegaan om minderheidsregte in Suid-Afrika te beskerm en uit te bou nie. Hierdie bestel maak politieke oplossings vir minderhede dus uiters moeilik.
As die skip sink
Almal is dit egter eens. Suid-Afrika verkeer tans in die moeilikheid. Hoë vlakke van werkloosheid, lae ekonomiese groei en misdaadstatistieke wat vergelyk kan word met lande wat in ‘n oorlog gewikkel is, is maar net van die aanwysers.
Die toenemende mislukking van staatsbestuur is ‘n werklikheid wat minderhede sal moet verreken. Afrikaners en ander minderhede besef egter dat as die skip sink, sink hulle saam. Minderhede, wat geen politieke of besluitnemingsmag het nie is egter nie net landsburgers nie, maar ook kulturele burgers, lede van ’n eeueoue kultuurgemeenskap wat mekaar nodig het, wat mekaar se waardes deel en wat by mekaar veilig is.
Die oorwegende gevoel onder meeste minderheidsgroepe is dat hulle steeds wil saamwerk om die land te laat werk en floreer. Die oplossing is egter nie om jouself te isoleer nie, maar eerder om jouself as ‘n gemeenskap te verskans vanwaar jy vanuit ‘n vesting ‘n verskil tot die land kan maak. ’n Mens bou nie vir jou ’n huis om jouself van jou medemens af te sonder nie, maar juis om jou in staat te stel om saam in daardie dorp te bly.
Die Solidariteit-uitkyk
Die werklikheid is dat ons nie so onverantwoordelik kan wees om op die regering staat te maak vir ons en ons kinders se toekoms nie. Staatsbestuur het in Suid-Afrika misluk en die tyd vir selfbestuur het aangebreek. Die tyd is nou ook ryp om dit ‘n werklikheid te maak.
Die regering se onlangse hantering van die Covid-19 pandemie die krake wat reeds wyd sigbaar was laat oopbars met gevolglike wydverspreide ontnugtering in die ANC se sentrale ideologie. Hierdie noodwendige gevolg moet egter deur minderheidsgroepe as ‘n gulde geleentheid gesien word om self eienaarskap oor sy gemeenskap te neem.
Elke gemeenskap is dit aan homself verskuldig om ‘n toekoms te bou. Die Solidariteit Beweging glo dat hierdie toekoms verseker word deur middel van die uitbou van kulturele ruimtes vir die Afrikaanse taalgemeenskap en die Afrikaner kultuurgemeenskap waarin hierdie gemeenskappe veilig hul eie kultuur en taal kan uitleef. Om egter vooraf daarvoor toestemming by ‘n vyandige staat te soek gaan geen vrugte werp nie. Iets wat duidelik na vore gekom het met Panyaza Lesufi se onlangse uitsprake toe die Solidariteit Beweging sy onlangse Sol-Tech kollege begin bou het.
Dit is vanselfsprekend dat hierdie sogenaamde kultuurkantons waarin ‘n gemeenskap homself kan uitleef nie net die antwoord vir byvoorbeeld die Afrikaner hoef te wees nie, maar so-ook vir ander minderheidsgroepe indien hulle hul voortbestaan en eie kulturele waardes wil verseker.
Die Beweging glo egter daarin dat elke gemeenskap die beste weet wat die betrokke gemeenskap nodig het en verlang en moet derhalwe self besluite oor homself neem sodat daardie gemeenskap nie weer onder ander se besluite moet leef nie.
Hierdie verstandhouding moet tussen verskeie minderheidsgroepe heers. Dit beteken egter nie dat minderheidsgroepe in isolasie en sonder tussenwerking moet oorleef nie. Daar waar gemene belange en waardes heers, kan en sal die onderskeie groepe met mekaar moet saamwerk.
Selfvertroue
Die Solidariteit-model is geskoei op selfvertroue om sonder vrees te doen wat gedoen moet word in belang van die gemeenskap wat hy dien. Om die selfvertroue te hê om dit te doen is die enkele grootste pyl in ‘n gemeenskap se koker.
Die feit van die saak is dat elke gemeenskap moet besluit wat dit is wat vir hom belangrik is en saam met die inkoop van die gemeenskap daardie strewe ‘n werklikheid maak.
Die pad na selfbestuur is onseker, maar dit bied die kans op sukses, terwyl die pad na staatsbestuur tot ’n sekere ondergang lei.
Vir die afgelope 15 jaar raak dit pynlik duidelik dat Suid-Afrika op ‘n glybaan van verval is. Toenemende staatsverval, grootskaalse korrupsie en gepaardgaande kaping van die staat, swak munisipale bestuur, diensleweringproteste en die verbrokkeling van staatsentiteite waaronder Eskom (die nasionale kragvoorsiener) is maar net enkele voorbeelde hiervan.
Die groterwordende krisis
Al hierdie faktore van korrupsie, wanbestuur, wanbesteding en ‘n proteskultuur lei noodwendig tot ekonomiese ineenstorting. Die regerende party van Suid-Afrika, die ANC, het vir alle praktiese doeleindes gefaal met die bestuur van die land terwyl elke ekonomiese aanduider daarop sinspeel dat Suid-Afrika op ‘n fiskale afgrond afstuur. Onlangse gebeure soos die grootskaalse onluste en plundering wat in Julie 2021 dele van die land tot stilstand geruk het, het internasionaal opslae gemaak. Gebeure soos hierdie is egter nie die oorsaak van die probleem in Suid-Afrika nie maar bloot ‘n gevolg van toenemende staatsverval wat deur veral kommerwekkende ekonomiese toestande gekenmerk word en uiteindelik lei tot uitermatige werkloosheid en maatskaplike krisisse. Dit is dus nie verregaande om te voorsien dat nog maatskaplike onrus in die toekoms sal plaasvind indien hierdie kwessies nie daadwerklik aangespreek word nie.
Daar is wydverspreide erkenning dat die ANC se mislukking om ‘n moderne ekonomie te bestuur egter gesetel is in sy historiese ideologiese doelwitte. Hierdie toedrag van sake kan ondermeer toegeskryf word aan ‘n staat wat in wese vyandig is teenoor die privaatsektor deurdat daar aktief beleid geimplementeer word wat privaatondernemings hinder om effektief sake te doen, wetgewing wat werkskepping belemmer en ‘n staat wat doodeenvoudig nie vertroue, plaaslik en internasionaal, inboesem nie.
Die ironie van die saak is egter dat terwyl dit pynlik duidelik is dat meeste van die ANC se beleide en inisiatiewe op ‘n groot skaal in sy gesig ontplof het, hy doodluiters voortgaan om nog verdere radikale wetgewing te probeer implementeer wat histories problematiese gevolge gehad het. ‘n Behoefte om die grondwet sodanig te verander dat die onteiening van en uiteindelike staatrentmeersteskap van privaat grond sonder vergoeding moontlik is, is al etlike jare ‘n besprekingspunt. Hierdie posisie is egter nie onverwags nie. Tot so onlangs as 2021 het oudpresident Kgalema Mothlanthe sy verwondering vir die Chinese Kommunistiese Party (CPC) laat hoor en die hoop uitgespreek dat Suid-Afrika meer by dié regering moet leer.
Alhoewel dit algemeen aanvaar word dat beginsels soos eiendomsreg in talle lande tot ekonomiese vooruitgang en voorspoed gelei het, word populistiese beleide soos die onteiening van eiendom egter verdedig deur ‘n retoriek te bevorder dat minderhede, en spesifiek witmense, die skuld moet dra vir die menigte probleme in die land en sodanig ook moet boet vir die verlede. Die konteks tot hierdie debat is egter baie meer ingewikkeld.
Minderhede
Suid-Afrika is ‘n multikulturele en uiters heterogene land wat uit verskeie groepe bestaan. Die land kan beswaarlik verdeel word volgens vier rasgroeperinge, soos wat dikwels propageer word. Met die politieke ommeswaai in 1994 is daar in wese toegewings gemaak om tot ‘n ooreenkoms te kom dat minderhede steeds regte, beskerming en eiendomsreg sal geniet, iets wat internasionaal as die norm beskou word, in ruil vir ‘n meerderheidsregering. Die praktyk is egter dat daar ten spyte van hierdie bepalings reeds in 1997 ‘n beleid van verteenwoordigendheid deur die ANC aanvaar is. Hierdie beleid van absolute verteenwoordigendheid, het dit duidelik gemaak dat die die werksmag (en uiteindelik die hele samelewing) die rassedemografie van die totale land moet weerspieël. Na dese het menigte raswette die lig gesien wat aktief hierdie beleid probeer verwesenlik.
Ten spyte van grondwetlike bepalings wat diskriminasie op grond van ras verbied is daar milddadig voortgegaan om rassewette te formuleer wat onder andere sake-eienaars forseer om hul belange op te gee, kwotas gebaseer op ras wat in die werkplek en op die sportveld moet geld en handveste wat transformasie vir elke ekonomiese sektor uitstip. Die term radikale transformasie is as sodanig gevestig om hierdie rassebeleide onder die vaandel van verteenwoordigendheid uit te voer met die grondwetlike hof wat dit herhaaldelik, deur sy interpretasie van die grondwet, as wenslik beskryf het.
Wat dus in praktyk na die 1994-skikking gebeur het is dat ‘n nuwe rassebedeling gevestig is waar die meerderheid die minderhede in Suid-Afrika totaal oorheers. Die uiteinde hiervan is dat minderhede dikwels uitgesluit word uit besluite oor sake wat hulle ten diepste raak soos taalvoorkeure. Dit is weens die eenvoudige demokratiese bestel van Suid-Afrika wat die uiteindelike gevolg het dat minderhede nie ‘n werklike sê oor hul toekoms en uitlewing daarvan kan hê nie. Die gevolgtrekking is dus dat die ANC in wese toegewings tydens die 1994-onderhandelinge gemaak het om die mag te bekom en nou daardie mag gebruik om sy doelstellings te bereik. Hierdie doelstelling word duidelik in die NDR (National Democratic Revoltion) in die ANC se idioom verwoord: “We have never made a secret of our belief that the shortest route to socialism is via a democratic state.”
In meeste demokratiese lande het minderhede egter ruimtes waar hulle die meerderheid kan vorm, indien nie, word elke deel van hul bestaan deur ‘n meerderheid oorheers. Dit is juis weens hierdie dat daar in die internasionale reg ‘n sterk argument bestaan dat die erkenning van gemeenskapsregte as ‘n voorwaarde moet dien vir die gelyke genieting van individuele regte. Indien nie, sal die meerderheidsgroep se individuele regte telkens swaarder weeg.
Dit sluit aan by die VN se Ontwikkelingsprogram (UNDP) wat in 2004 ‘n verslag uitgereik het waarin die beste praktyke van vreedsame lande uiteengesit word. In hierdie verslag word daar gestel dat ‘n gewone demokratiese bestel en gewaarborgde individuele regte nie alleenlik voldoende is nie. Die verslag stel dus voorts: “As die geskiedenis van die twintigste eeu iéts bewys het, dan is dit dat pogings om kultuurgroepe weg te wens of in die meerderheid te laat opgaan, eerder ’n lewenskragtige kulturele herlewing uitlok.”
Die keerkant is egter dat alhoewel politieke rasseverhoudings deurgaans versleg, verhoudinge tussen individue en groepe grootliks positief is. Die gevolg is dus dat daar al hoe groter samewerking tussen verskeie gemeenskappe in Suid-Afrika geskied wat gegrond is op die basis van wedersydse erkenning en respek.
In die aangesig van die werklikheid is dit egter pynlik duidelik dat minderhede in Suid-Afrika kwesbaar is. Minderhede, en spesifiek Afrikaners, verlang nie terug na die verlede nie, maar sien swaarlik uit na die toekoms onder hierdie omstandighede.
Die Solidariteit Beweging glo egter dat daar ‘n oplossing en ‘n antwoord vir elke probleem en uitdaging is. Ons is hier om te bly, en ons sal nie almal Suid-Afrika verlaat nie. Suid-Afrika is ‘n land met groot potensiaal en kan en moet ‘n tuiste vir al haar mense skep. Die Solidariteit Beweging en sy instellings is gretig om met enigiemand saam te werk om die probleme wat die falende staat skep die hoof te bied en om gemeenskappe te help om ‘n vry, veilige en voorspoedige land vir alle Suid-Afrikaners te skep.
Daar word na ʼn onlangse verskynsel in Suid-Afrika as staatskaping verwys. Dit is die byna algehele korrupsie van die staat, deur kader-ontplooiing. Tans is die Zondo-kommissie van ondersoek besig om hierdie bewerings te ondersoek. Tot dusver was die onthullings verdoemend. Elke faset van die openbare lewe is deur korrupte amptenare geïnfiltreer, wat voortgegaan het om hulself deur groot opgeblase verkrygingstenders en op ander maniere te verryk.
Alhoewel die kommissie se taak nog nie voltooi is nie, het die Zondo-kommissie verskeie gevalle van groot korrupsie blootgelê met ANC-amptenare wat belastingbetalers se geld onbeskaamd deur tenderkorrupsie geplunder het.
Een van die fasiliterende beleide is swart ekonomiese bemagtiging (SEB). Hierdie beleid dwing sekere rassekwotas op die regering se verkrygings of aankope af, byvoorbeeld 51% van jou verkrygings moet van firmas wees waarvan 51% deur swart vroue besit word. Indien iemand deel van die elite is, het SEB geleenthede geskep om pryse op te blaas, aangesien die betrokke staatsdepartement rassekwotas moet haal.
Wat veral skrikwekkend is, is die feit dat die voormalige sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, sterk geïmpliseer is in verskeie gevalle van ernstige bedrog. Hoewel aanklagte van korrupsie amptelik teen hom opgehef is, is hy in Mei 2021 tydelik uit die ANC geskors, meer as ʼn jaar nadat die eerste bewyse van die omvang van sy korrupsie aan die lig gekom het in ’n boek deur die joernalis Pieter-Louis Myburgh. Hierna was hy steeds sekretaris-generaal van die ANC, met baie onsekerheid oor wat presies sy posisie was. Ondanks sy “skorsing” het Ace Magashule voortgegaan om ANC-funksies by te woon en as ʼn ANC-amptenaar op te tree met geen amptelike berisping van die party nie.
Voormalige president Jacob Zuma is ook geïdentifiseer as iemand wat tydens sy ampstermyn groot voordeel uit korrupsie getrek het. Alhoewel hy formeel gedagvaar is om voor die Zondo-kommissie te verskyn, het Zuma eenvoudig verkies om nie aan die dagvaarding gehoor te gee nie. Die Zondo-kommissie het dus die howe genader wat ʼn hofbevel aan Zuma uitgereik het om voor die Zondo-kommissie te verskyn, maar weereens het Zuma eenvoudig besluit om nie aan die hofbevel gehoor te gee nie. Hy het eerder die ANC se militêre vleuel, uMkhonto weSizwe, gemobiliseer wat “veterane” gestuur het om sy herehuis in landelike Natal te bewaak.[1]
Alhoewel dit mag lyk asof daar ʼn goeie ANC en ʼn slegte ANC is, het staatskaping bewys dat dit nie die geval is nie. Tydens die covid-19-pandemie het ANC-amptenare noodfondse geplunder wat bedoel was vir die verkryging van persoonlike beskermende toerusting (PBT) en vir voedselverligting vir huishoudings wat die meeste geraak was. [2] [3]
Dié plundery is gedoen deur ANC-amptenare ná aan die huidige president van die ANC, Cyril Ramaphosa, insluitend sy eie woordvoerder, Khusela Diko. [4]
Suid-Afrika se voormalige minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, was onlangs in ʼn skandaal gewikkel rakende onreëlmatige uitgawes deur sy departement in ʼn kontrak van meer as R150 miljoen wat aan ʼn goeie vriend toegeken is.[5] Dit het konsultantkostes van meer as R3 miljoen ingesluit wat aangewend is sodat die konsultant minister Mkhize na ʼn geskeduleerde nuusonderhoud kon vergesel om die publiek op hoogte te bring van die covid-19-pandemie.[6]
[1] https://www.iol.co.za/news/politics/mk-vets-ret-secure-jacob-zumas-home-to-prevent-possible-arrest-d8f31649-0b3a-490c-aba0-eedf0c2e68e5
[2] https://www.iol.co.za/news/politics/anc-outraged-embarrassed-at-looting-of-covid-19-funds-says-magashule-a6decd77-42b5-4087-8048-0c9976dde97c
[3] https://www.iol.co.za/the-star/opinion-analysis/covid-19-presented-chance-for-anc-to-loot-shamelessly-441c3994-1494-48ba-be5d-96f0aa3e24fb
[4] https://www.enca.com/news/covid-19-ramaphosa-vows-tackle-corruption
[5] https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-05-26-department-of-healths-irregular-r150m-digital-vibes-deal-daily-mavericks-investigative-work-so-far-in-one-bundle/
[6] https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-05-23-exposed-dohs-r150m-digital-vibes-scandal-zweli-mkhize-associates-charged-millions-for-covid-19-media-briefings/
Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel is nie op standaard nie. Jaar na jaar verlaag die Departement van Onderwys hulle eie standaarde om ʼn positiewe narratief rakende onderwys te bly handhaaf. Die realiteite wys egter die teendeel.
In 2016 is gesê die matriekslaagsyfer was 76,2%. Dit blyk nie ʼn té somber prentjie te wees nie. In dieselfde jaar is die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel egter deur die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) in die 137ste plek uit 139 lande geplaas. Dit wys duidelik dat enige positiewe narratief wat die regering probeer handhaaf ʼn blote fasade is. In die groter skema van dinge is ons ver onder standaard en gaan ons net verder afwaarts. Om dit te illustreer, moet daar na hierdie twee faktore oor die afgelope paar dekades gekyk word: In 2010 was die genoemde slaagsyfer 67,8%. Die onderwysstelsel was in die 129ste plek uit 138 lande. In 2000 was die matriekslaagsyfer slegs 61,7%. In daardie jaar het openbare skole in Suid-Afrika egter die 52ste plek uit 148 lande op die wêreldranglys beklee. Dit wys dat die interne statistieke elke jaar beter lyk, maar dat dit gemeet aan globale standaarde slegter lyk. Die regering werk uiters hard daaraan om die onderwysstandaarde verlaag om sodoende die statistieke te verhoog.
Benewens die afname gemeet aan globale standaarde maak die regering nie elke jaar die werklike matriekslaagsyfer bekend nie. Die matriekslaagsyfer wat hulle wel bekend maak, neem nie die aantal leerlinge wat van graad 1 tot 12 uitval, in ag nie. Hulle neem bloot die leerlinge in ag wat elke jaar matriekeksamen skryf. Om dit te verstaan, moet ʼn mens die matriekslaagsyfer van die regering met die werklike slaagsyfer vergelyk. Van die 1,2 miljoen leerlinge wat in 2006 met graad een begin het, het slegs 34,7% in 2017 matriek geslaag. Die genoemde matriekslaagsyfer in 2017 was 75,1%. Hierdie getal neem nie die 40,4% van leerlinge in ag wat die skool deur die verloop van 12 jaar verlaat het nie.
Tydens die covid-19-pandemie is onderwys aansienlik geraak. Volgens ʼn studie wat post-covid gedoen is, het graad 4-leerlinge (10-jariges) slegs 25% van die gewenste onderrig wat hulle in ʼn jaar moes hê, behaal.[1] Suid-Afrikaanse skole het lank gesluit gebly nadat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) riglyne gewysig het om te bepaal dat skole tydens die pandemie oop moet bly.
Die impak was verlammend, met minder as 4% van onderwysers by geen-skoolgeld-skole wat enige vorm van virtuele leer gebruik het, wat beteken dat kinders eenvoudig sonder opvoeding by die huis gesit het. [2]
Met inagneming van Suid-Afrika se werkloosheidsyfer, word hierdie kinders eenvoudig onindiensneembaar gemaak deur ʼn onderwysstelsel wat ernstig misluk.
[1] https://cramsurvey.org/wp-content/uploads/2021/05/10.-Shepherd-D.-Mohohlwane-N.-Taylor-S.-_-Kotze-J.-2021.-Changes-in-education-A-reflection-on-COVID-19-effects-over-a-year.pdf
[2] https://cramsurvey.org/wp-content/uploads/2021/05/10.-Shepherd-D.-Mohohlwane-N.-Taylor-S.-_-Kotze-J.-2021.-Changes-in-education-A-reflection-on-COVID-19-effects-over-a-year.pdf p24