ʼn Afvaardiging van die Solidariteit Beweging, Solidariteit en AfriForum het Dinsdag 25 Februarie in die Withuis in Washington DC met senior verteenwoordigers van pres. Donald Trump se administrasie vergader ter bevordering van die belange van Afrikaners en Suid-Afrika.
Tydens die besoek is ’n memorandum aan die Trump-administrasie oorhandig en staan bekend as die “Washington Memorandum”.
Oor die volgende paar weke reis die afvaardiging deur die VSA om met belange groepe te vergader en inligting oor Suid-Afrika te deel.

Kyk Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, se boodskap hier
Wat is die fokus van die besoek aan die VSA?
- Suid-Afrika se buitelandse beleid en die behoefte daaraan om deur middel van ʼn ooreenkoms tussen die VSA en Suid-Afrika te herbelyn.
- Die verbreking van die 1994-ooreenkoms tussen die ANC en Afrikaners en die behoefte aan ʼn kultuurakkoord om ons grondwetlike reg op kulturele outonomie te herbevestig.
- Meer inligting oor Afrikaners in Suid-Afrika.
- Die Solidariteit Beweging se rol as ʼn burgerlike organisasie wat baie staatsdienste sonder staatsinkomste verskaf.
- Die bevestiging van ʼn stel feite oor wetgewing (onderwys en opleiding, rassewette, die Onteieningswet) en beleid in Suid-Afrika.
- Humanitêre hulp aan Suid-Afrika.
- Die hernuwing van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) en Suid-Afrika se deelname daaraan.
Watter aanbevelings is aan die Trump-administrasie gemaak?
- Dat diskriminasie teen Afrikaners gestaak word deur die anti-Afrikaanse Bela-wet en alle rassewetgewing af te skaf.
- Dat daar sterk opgetree kan word teen individue wat haatspraak en geweld aanpor.
- Dat plaasmoorde tot ʼn prioriteitsmisdaad verklaar word.
- Dat eiendomsreg gerespekteer word.
- Dat daar ʼn kultuurakkoord met Afrikaners gesluit kan word wat kulturele ruimte vir Afrikaners in Suid-Afrika sal skep.
- Dat die Trump-administrasie seker maak dat gewone Suid-Afrikaners nie vir die ANC se foute gestraf word nie en dat die Agoa-handelsooreenkoms steeds behoue bly.
- Dat daar humanitêre bystand gebied word deur middel van bydraes aan ʼn Afrikanerontwikkelingsfonds. Dit sal aangewend word vir die uitbou van veiligheidstrukture, maatskaplike strukture, werkstrukture, opleidingstrukture en infrastruktuur om Afrikaners wat hulle op kwesbare plekke bevind gekonsentreerd te vestig.
Wat is AGOA?
Die African Growth and Opportunity Act (AGOA) is ‘n belangrike handelsooreenkoms wat Suid-Afrikaanse uitvoere na die VSA bevoordeel. In 2024 was die waarde van hierdie uitvoere R156,8 miljard, wat ongeveer 576 000 werksgeleenthede in Suid-Afrika ondersteun het. Daarvan is 250 000 werke direk of indirek aan AGOA gekoppel.
Die ANC se roekelose buitelandse beleid en ekonomiese bestuur plaas Suid-Afrika se deelname aan AGOA in gevaar. Indien die land uit AGOA geskop word, sal dit die landbousektor, nywerhede en veral kwesbare gemeenskappe swaar tref. Ironies genoeg sal die elite, wat deur swart bemagtigingstransaksies bevoordeel word, grotendeels onaangeraak bly.
Die Solidariteit Beweging hoop dat Suid-Afrika in AGOA ingesluit bly, terwyl alternatiewe metodes oorweeg word om druk op die ANC te plaas om beleidsverandering teweeg te bring.
Wat is die Solidariteit Beweging se standpunt oor Suid-Afrika se verhouding met die VSA?
Die verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA het oor die afgelope jare al hoe meer gespanne geraak weens die ANC-regering se buitelandse beleid en sy negatiewe houding teenoor Westerse lande. Die Solidariteit Beweging het lank reeds gewaarsku teen hierdie vervreemding, en toe president Trump ʼn uitvoerende bevel onderteken wat ekonomiese druk op Suid-Afrika plaas, het dit ʼn diplomatieke krisis ontketen.
Solidariteit beskou die VSA as ʼn strategiese vennoot en verwelkom die Amerikaanse regering se besorgdheid oor sekere ANC-beleidsrigtings soos rassediskriminasie, die Onteieningswet en die regering se buitelandse beleid. Die Beweging het daarom besluit om ʼn afvaardiging na die VSA te stuur om die belange van Afrikaners en alle Suid-Afrikaners in die gesprek te vestig. Dit is noodsaaklik om alternatiewe oplossings te vind, veral rakende Agoa en handelsooreenkomste wat duisende werkgeleenthede in Suid-Afrika ondersteun.