Deur Flip Buys
Die geskiedenis wys dat feitlik elke volk ʼn bestaansvraagstuk het. Die Duitsers se ligging in Sentraal-Europa was histories hul bestaansvraagstuk, omdat hulle ideaal geleë is vir vrede, maar rampspoedig vir oorlog. Die Russe se bestaansvraagstuk was dat hulle nog altyd agter die Weste was, en verskeie kere deur Westerse magte aangeval is soos Napoleon, Imperiale Duitsland en Nazi-Duitsland. Talle Afrikalande se bestaansvraagstuk is hardnekkige armoede waaruit min volke op die kontinent nog kon ontsnap.
Afrikaners se bestaansuitdaging is nie ons klein getalle nie, maar ons yl verspreiding. Ons is meer Afrikaners as die totale bevolkings van onderskeidelik Namibië, Lesotho, Macedonië, Slowenië, Letland, Botswana, Gambië, Gaboen, Estland, Eswatini (Swaziland), Mauritius, Ciprus en Luxemburg, asook menige ander. Ons woon egter nie in ʼn gekonsentreerde gebied soos al hierdie volke nie, en is gevolglik ʼn kwesbare minderheid tussen ʼn groter meerderheid. Ons het nie ʼn natuurlike “Skotland” waar ons as ʼn meerderheid woon en werk nie. As die Skotte yl versprei oor Brittanje was, sou hulle oral ʼn betekenislose minderheid sonder hul eie instellings gewees het. Dieselfde beginsel geld vir die mense van Lesotho en vir enige ander volk.
Dieselfde probleme
Hierdie landswye verspreiding veroorsaak dat ons oral in die minderheid is en dieselfde probleme regoor die land ervaar. In meer as 200 munisipaliteite is Afrikaners polities magloos, blootgestel aan geweldsmisdaad, toenemende dorpsverval, druk op Afrikaanse skole, en rasseteikens in die werksplek wat teen ons ingestel is.
Hierdie landswye yl verspreiding en minderheidstatus beteken ook dat daar op te min plekke genoeg Afrikaners is vir kostedoeltreffende dienste soos veiligheid, goeie gesondheidsorg, ʼn lewendige kultuurlewe, groot skole, vol kerke en hoër opleiding. Hierdie uitdagings, tesame met die verswakkende infrastruktuur in die meeste dorpe, lei tot ekonomiese probleme en selfs verarming van die platteland. ʼn Voorbeeld hiervan is dat slegs 27% van wit Afrikaanssprekendes universiteit bywoon, teenoor die 40% van verstedelikte wit Engelssprekendes – hoofsaaklik omdat laasgenoemde gekonsentreerd naby universiteite bly. Ons yl verspreiding beteken dat ons verder van universiteite af woon en uiteindelik nie so welvarend soos Engelssprekendes is nie.
Groot Trek
Bevolkingstatistieke wys dat Afrikaners, in reaksie op al hierdie uitdagings, weer ʼn “Groot Trek” na groter streekdorpe en -stede aangepak het. Alhoewel hierdie verskuiwing ʼn negatiewe impak op die kleiner “senderdorpe” het, het dit ʼn positiewe uitwerking op die groter “ontvangerdorpe”. Hierdie bevolkingsverskuiwing lei daartoe dat baie kleiner dorpe selfs nóg vinniger verswak, maar terselfdertyd lei dit na ʼn groter saamtrek van Afrikaners op baie ander plekke. Die groter getalle wat op groter dorpe en in stede saamtrek, maak dit makliker om dáár dienste soos Afrikaanse skole, sterker buurtwagte, beter munisipale dienste en meer werksgeleenthede te lewer.
Dit is noodsaaklik dat hierdie natuurlike bevolkingsverskuiwing van Afrikaners deur gemeenskapsorganisasies ondersteun word met ʼn konsentrasiestrategie. So ʼn strategie kan streekdorpe as “Ankerdorpe” uitwys, waar daar meer gefokusde dienste aangebied kan word. Dit behels dienste soos veiligheid met sterk buurtwagte, ondersteuning aan Afrikaanse skole, maatskaplike bystand soos bejaardesorg en gemeenskapsklinieke vir mense sonder ʼn mediese fonds, hulp met noodsaaklike munisipale dienste soos water, paaie en elektrisiteit, sowel as werksverskaffing en opleiding, en dienste aan sakelui om hul ondernemings meer staatsbestand te maak.
Dit beteken nie dat die platteland en kleiner dorpe aan hul lot oorgelaat word nie. Inteendeel, sterk streekdorpe sal dit juis moontlik maak om op kleiner dorpe te oorleef, aangesien nabygeleë dienste beskikbaar sal wees. Buitendien sal so ʼn konsentrasiestrategie bloot die formalisering wees van ʼn proses wat reeds aan die gang is.
Groeiende selfbestuur
Die formalisering van so ʼn konsentrasiestrategie sal meer gefokusde en vinniger ontwikkeling van dienste moontlik maak, om te verhoed dat alles oral verval. Met verloop van tyd sal dit nodig wees om ʼn gemeenskapsforum op elke “Ankerdorp” te stig om hierdie dienste te belyn. Organisasies wat wesenlike getalle Afrikaners verteenwoordig – in sektore soos onderwys, maatskaplike dienste, veiligheid, sake en landbou, asook erfenis-, taal- en kultuurorganisasies – sal genooi word om aan hierdie forums deel te neem. Terwyl elke organisasie sy onafhanklikheid behou, kan hulle saamwerk en mekaar ondersteun.
Hierdie strategie sal Afrikaners in staat stel om hoë vlakke van selfbestuur te kan ontwikkel in gebiede waar hulle saamtrek om sodoende die gevolge van swak staatsbestuur te ontkom. Terselfdertyd kan die forums in streekdorpe en -stede dan na die kleiner dorpe uitreik om met knelpunte te help. Namate hierdie proses van groeiende selfbestuur vorder, kan al hierdie dorps- en streeksforums selfs op provinsiale en nasionale vlak begin koördineer. Yl verspreiding is ons probleem; groter konsentrasie is die oplossing. Dit is nou tyd vir ʼn daadwerklike konsentrasiestrategie.


