– Deur Marisa Engelbrecht
Langs my op die vliegtuig sit ‘n tannie. Sy is feitlik heeltemal grys met diep hartseer-plooie langs haar oë. Sy is op pad om vir haar kinders in Nederland te gaan kuier. Sy het haar seun en sy gesin drie jaar laas gesien.
“Die kinders het so groot geword!” skerts sy opgewonde. Haar kleindogter het mamma geword en sy gaan om die nuwe babatjie te ontmoet en bietjie uit te help. Haar man kon ongelukkig nie saamgaan nie. Die vliegtuigkaartjies is net te duur, maar hy sal volgende jaar ‘n beurt kry.
Haar dogter is in Australië. “Sy en haar man is al bykans 20 jaar daar. Die kinders praat glad nie meer Afrikaans nie. Dis so hartseer,” sê sy. “My engels is ook nie eintlik waffers nie, so ons sukkel maar om met mekaar te praat.”
Ek luister aandagtig na die tannie se opgewondenheid en hartseer oor haar kinders. Maar sy is so dankbaar dat hulle die geleenthede in die buiteland kon kry en dat dit met hulle goed gaan. Ek self is nie ‘n vreemdeling vir familie en vriende in die buiteland nie. Ons almal ken iemand in die buiteland. Kinders, ooms, tannies, hartsvriende, kennisse, oud-kollegas. Mense wat die uiterse moeilike besluit moes neem om op te pak en nuwe wortels in die “veiliger” vreemde te gaan plant.
Ek het voorreg gehad om verlede jaar saam met die Solidariteit Navorsingsinstituut ‘n uitgebreide navorsingsprojek aan te pak onder Afrikaners in die buiteland. Hoekom het ons die navorsing gedoen? Omdat ons ‘n behoefte geïdentifiseer het onder ons mense in die buiteland dat hulle hierdie vervreemding van ons Afrikaanse kultuur eerstehands ervaar. Die risiko van ons tweede en derde generasie in die buiteland is natuurlik nóg groter en uit die navorsing het daar telkemale die kwessie van identiteit, vervreemding, waardes, isolasie, taal, erfenis, opvoeding, ens na vore gekom.
Wat wou ons met hierdie navorsing bereik? Ons wou vir Afrikaners in die buiteland ‘n digitale tuiste bou waar hulle weer die tipiese tuis-wees en gasvryheid van Afrikaners virtueel kan ervaar. Dit was natuurlik geen maklike taak nie, maar die terugvoer en insette wat ons op die navorsing gekry het, was werklik insiggewend en van onskatbare waarde. Ons het ook gaan kyk wat ander lande vir hul diaspora doen en hoe hulle projekte lyk. Die verskil natuurlik is dat ander lande se regerings meestal hierdie projekte dryf. Die Suid-Afrikaanse regering het geen so ‘n projek vir Afrikaners nie, en ons het verantwoordelik gevoel om hierdie leemte te vul.
Uit ons wenslys van wat ons alles op hierdie virtuele tuiste wou ontwikkel en aanbied, het ons uitgereik na al die instellings binne die Solidariteit Beweging om hand by te sit om hierdie virtuele wêreld se hartklop te bou – en daar is hy vandag – MyHartland, die virtuele kultuurtuiste vir elke Afrikaner wat vandag in die buiteland is.
Ons wegspring aanbod het agt afdelings naamlik ‘n Afrikaanse kultuurhuis, My Gemeenskap, ‘n Kinderhoekie, Boerekos resepte, Kom kuier-jeugprogram, Entrepeneurs, Werksgeleenthede en Nuus. Dan is daar natuurlik ook geleentheid vir mense om ‘n digitale burger van MyHartland te word deur enigeen (of meer) van ons 10 projekte te ondersteun. Hulle is ook Welkom om ‘n gratis profiel te skep waarmee hulle hul virtuele reis na MyHartland kan begin en ons op hierdie nuwe reis kan volg.
Pak vandag jou tasse, bring jou familie, hartsvriende, ooms, tannies, kennisse en oud-kollegas saam op hierdie virtuele reis na MyHartland, want ons wortels is geplant in ons taal, ons kultuur, ons identiteit en ons verbondenheid tot mekaar, ongeag waar ons, of ons kinders, in die wêreld woon. MyHartland, jou virtuele kultuurtuiste.


