Bron: Solidariteit
Solidariteit gaan tydens sy besoek aan die VSA vra dat druk op die regering volgehou word tot die regering aandui wanneer raswetgewing uitgefaseer gaan word. Lees meer oor Solidariteit se rasverlsag hieronder.


Solidariteit gaan tydens sy komende besoek aan die VSA vra dat druk op die regering volgehou word tot die regering aandui wanneer raswetgewing uitgefaseer gaan word.
Dit is volgens ‘n verslag oor Suid-Afrika se rasbedeling wat aan die Amerikaanse regering oorhandig gaan word. Solidariteit beplan ook om die G20-lande van Suid-Afrika se rasbeleid bewus te maak.
‘n Opvolgverslag oor die koste van rasbeleide vir die ekonomie en die invloed daarop op werkloosheid gaan later vanjaar gepubliseer word.
Solidariteit voer in die verslag aan dat rasgebaseerde beleide volgens internasionale norme en ooreenkomste, insluitend dié van die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) en die Konvensie oor die Uitwissing van Alle Vorme van Rassediskriminasie (ICERD), van ‘n tydelike aard moet wees.
“Die werklikheid in Suid-Afrika is egter dat hierdie beleide permanent geraak het, sonder enige duidelike einddatum of meetbare doelwitte om ongelykheid regtig aan te spreek,” het Connie Mulder hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) gesê.
Die verslag wys hoe Suid-Afrika na 30 jaar een van die mees rasgereguleerde lande ter wêreld geword het met nagenoeg 140 rassewette,
Mulder, sê Suid-Afrika is weens sy G20-voorsitterskap én politieke omwentelinge in die VSA meteens in die kollig en die wêreld is ontnugter oor Suid-Afrika. Hy sê ook dat die VSA en ander G20-lande druk op Suid-Afrika moet plaas om van rasbeleide ontslae te raak om Suid-Afrika meer beleggersvriendelik te maak.
“Hierdie rasbeleide, wat veronderstel was om ongelykhede van die verlede reg te stel, het beslis nie daarin geslaag om werkloosheid of armoede te verminder nie. Pleks daarvan het ʼn nuwe elite van tenderpreneurs en kaderontplooiing die lig gesien,” sê Mulder.
Die verslag wys op verskeie absurde gevolge van Suid-Afrika se rasbeleide. Dit sluit in:
• Eskom: Ingenieurs is vervang op grond van ras, wat bygedra het tot die energiekrisis.
• COVID-19-hulp: Fondse is slegs aan besighede gegee met ‘n meerderheid swart eienaarskap.
• Sportkwotas: Spanne verloor wedstryde weens hul sogenaamde “onverteenwoordigende” samestelling. Daar is selfs rasskeidsregters.
• Waterlisensies: Nuwe lisensies vereis nou 75% swart eienaarskap.
• Internasionale belegging: Starlink kon nie in Suid-Afrika sake doen sonder om 30% van sy aandele aan ‘n swart aandeelhouer af te staan nie.