Ná pres. Donald Trump se uitvoerende bevel dat die VSA Afrikaners as vlugtelinge sal verwelkom, het die Suid-Afrikaanse Sakekamer in die VSA (Saccusa) binne een naweek navrae van 20 000 Afrikaners gekry oor dié aanbod.
Die Solidariteit Beweging wil egter ’n beroep doen op diegene wat dit sterk oorweeg om die aanbod te aanvaar, om eers al die feite te oorweeg voor daar oorhaastig besluite geneem word.
Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, sê dat die aanbod van vlugtelingstatus nugter benader moet word. Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, raai Afrikaners ten sterkste af om vlugtelingstatus te probeer verkry, “selfs al voel jy bekommerd oor die toekoms”.
Vlugtelingstatus beteken nie outomatiese burgerskap, verblyfreg en beter geleenthede nie. Hiér is wat jy oor vlugtelingstatus in die VSA moet weet:
-
Jy kan nog nie vir vlugtelingstatus in die VSA aansoek doen nie
Afrikaners kan nie vir vlugtelingstatus in Amerika aansoek doen voordat die Amerikaanse regering nie regulasies ontwikkel het nie. Kleynhans verduidelik:
“Vlugtelingstatus word internasionaal aan die hand van verskeie handveste gedefinieer, maar lande bepaal grootliks hul eie beleid hieroor. Die uitvoerende bevel wat deur pres. Trump onderteken is, verwys na ’n plan wat nog opgestel moet word waarvolgens vlugtelingstatus gereguleer sal word. Niemand kan vir vlugtelingstatus aansoek doen voordat hierdie plan nie bekend gemaak en goedgekeur is nie.”
Die proses om vir vlugtelingstatus aansoek te doen, kan dus nog lank neem en sal stelselmatig plaasvind. Dit is voortydig en naïef om te glo dat duisende Afrikaners net uit Suid-Afrika kan stroom en as vlugtelinge in Amerika kan aanmeld.
-
As jy vlugtelingstatus het, kan jy nooit weer terugkeer na Suid-Afrika nie – nie eens vir ’n begrafnis nie
Indien jy as vlugteling uit vrye wil na jou tuisland terugkeer, verloor jy onmiddellik jou vlugtelingstatus en jou reg om langer in Amerika te woon. Dit beteken jy sal nie vinnig “huis toe” kan vlieg vir ’n begrafnis, troue of krisis met geliefdes tuis nie.
Om jou tuisland en geliefdes wat hier agterbly permanent te groet, is ’n gewigtige en emosionele besluit wat nie oorhaastig geneem moet word nie.
-
As vlugteling is jy onderhewig aan streng regulasies
Kleynhans waarsku dat vlugtelingstatus nie verwar moet word met verblyfreg of selfs burgerskap nie. Vlugtelinge word onder baie streng regulasies beheer en jy as individu het baie min seggenskap. Vlugtelinge se voorregte is ook baie beperk teenoor dié van ander immigrante.
Dit is belangrik om te onthou dat alle vlugtelinge immigrante is, maar nie alle immigrante is vlugtelinge nie. Owerhede sal byvoorbeeld alle reëlings rakende behuising, werk, basiese behoeftes, beweegruimte, huwelike en kinders onder streng toesig beheer.
-
Jy kan nie werk en bly waar jy wil nie
Om aan te sluit by die vorige punt, jy as vlugteling het nie vrye teuels om jou eie keuses oor jou leefwyse in die VSA te maak nie. Jy word in behuising spesifiek vir vlugtelinge geplaas waar jy geen beheer oor die verblyfomstandighede het nie. Verder kan jy nie enige beroep van jou keuse volg nie – die vlugtelingplan bepaal watter werk jy moet doen.
Afrikaners moet beslis nie verwag om ’n middelklassalaris te verdien nie. Die hoë lewenskoste in Amerika moet in gedagte gehou word en jou kwalifikasies en ondervinding sal nie noodwendig in ag geneem word wanneer daar oor jou beroep besluit word nie. Vlugtelinge verrig dikwels lae-inkomste werk teen die minimum loon.
-
Jy kan enige tyd beveel word om terug te keer na Suid-Afrika
Wanneer die VSA-regering hul beleid verander of besluit dat die situasie in Suid-Afrika verbeter het, kan die vlugtelinge enige tyd terug na Suid-Afrika gedeporteer word.
Jou verblyf in die VSA is dus nie gewaarborg nie, wat dit moeilik maak om met stabiliteit en sekerheid te leef. Dit is nie onmoontlik vir Afrikaners om as vlugtelinge te “begin en hulself op te werk” tot Amerikaanse burgers nie, maar die moontlikheid hang af van baie veranderlikes wat nog onseker is.
-
Jy mag slegs met beperkte besittings aanmeld
Vlugtelingstatus beteken nie dieselfde as emigrasie nie. Jou meubels en aardse besittings sal ongelukkig nie saam met jou kan reis nie. Jy kan in Amerika aanmeld met slegs die nodigste.
Dit sal vir die middelklaspersoon in Suid-Afrika ’n geweldige ekonomiese verlies wees.
Kleynhans vestig die aandag daarop dat vlugtelingstatus vir mense bedoel is wat werklik swaarkry, alles verloor het, deur erge trauma (soos geweldsmisdade) gegaan het en nog talle ander gevalle. Vir hierdie mense is dit ’n werkbare opsie, en in hierdie gevalle moet die individu se keuse gerespekteer word.
-
Jy sal nie oor grense heen kan reis nie
Vlugtelinge mag nie sonder toestemming oor die grense van die gasheerland reis nie. Weens die streng regulasies is jou beweging ook beperk.
Bailey waarsku ook: “As ’n mens boonop een keer ’n vlugteling was of om vlugtelingstatus probeer aansoek doen het, sal jy internasionaal ook moeiliker ’n visum kry omdat jy as ʼn risikogeval beskou word wat moontlik ’n onwettige immigrant kan word.”
-
Dit is onwaar dat die Solidariteit Beweging “nee dankie” gesê het vir pres. Trump se aanbod
Emigrasie en om vir vlugtelingstatus aansoek te doen, is ’n persoonlike besluit en behoort met empatie en ondersteuning benader te word.
Die Solidariteit Beweging se mening is dat dit nie vir almal ’n opsie is om te vlug nie en dat die bogenoemde aspekte deeglik oorweeg moet word.
“Die belangrikste is om te besef dat die Trump-administrasie die eerste Amerikaanse regering is wat direk op die hoogste vlak weer na Afrikaners verwys en dus Afrikaners as ’n wesenlike rolspeler, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in geopolitiek beskou. Dit opsigself is ’n reusedeurbraak. Afrikaners staan nou sentraal in die globale magstryd. Dit hou baie geleenthede in, maar selfs groter risiko’s,” sê Kleynhans.
Die Solidariteit Beweging verwelkom pres. Trump se erkenning van die Afrikaner. Dié wat egter in die land moet of wil agterbly, benodig erkenning en steun om vir onsself ’n toekoms in die land te bou waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan leef.
Om te vlug is nie noodwendig die antwoord op die uitdagings wat ons in Suid-Afrika beleef nie. In baie opsigte is dit meer voordelig vir Afrikaners om in die land te bly en te help bou aan ’n beter toekoms. Indien jy regtig graag wil emigreer, moenie vlugtelingstatus as ’n “maklike uitweg” sien nie. Volg eerder die regte kanale vir emigrasie en maak seker van die vereistes en voorwaardes van verblyf in jou nuwe land. Om met Kleynhans se woorde af te sluit:
“Afrikaners se toekoms is in Suid-Afrika, maar altyd met ’n wete dat daar voortdurend geleenthede vir ons mense sal oopgaan om oorsee te gaan woon en werk – soms tydelik, soms permanent. Dit moet ons met groot sensitiwiteit en respek bejeën.”