Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê: “Ons brand nie en breek nie; ons bou en beskerm. Ons wag nie dat die regering ons probleme oplos nie; ons sal dit self doen, en ons sal dit ook saam doen as dit kan.”
Kritiek wat die Solidariteit Beweging dikwels oor ons onderriginstellings (Sol-Tech, Akadmia, Bo-Karoo Opleiding en Gimnasium) kry, is dat ons ander ras- en kultuurgroepe wil uitsluit en poog om onsself van die res van Suid-Afrika te isoleer.
Dit sal egter meer akkuraat wees om te argumenteer dat openbare universiteite nie ruimte gun vir Afrikaanse kultuur nie. Afrikaans is in die meeste tersiêre staatsinstellings byna uitfaseer. Christelike waardes is nie noodwendig meer die norm nie. Ons universiteite het ’n politieke speelveld geword, eerder as ’n plek waar jongmense hul denke en menswees in ’n veilige omgewing kan vorm.
Die ware redes waarom die Solidariteit Beweging ons eie onderriginstellings bou, is die bevordering van moedertaalonderrig, om ’n plek te skep waar ons Christelike waardes kan beoefen en uitleef, om ruimte te skep waar studente kan deel wees van ’n gemeenskap met ooreenstemmende waardes, om gehalte-onderrig te bied wat behoeftes in die arbeidsmark takel, en om studente voor te berei om uitnemend in hul beroepe te wees.
-
Die bevordering van moedertaalonderrig
Navorsing bewys dat studente wat in hul moedertaal onderrig word, akademies beter presteer as studente wat in hul tweede of derde taal leer. Jaar na jaar bewys Afrikaans-medium skole se matriekuitslae dat moedertaalonderrig die resep vir sukses is.
By die onderriginstellings van die Solidariteit Beweging word daar slegs in Afrikaans onderrig. Dié instellings is van die enigste tersiêre instellings in die land wat onderrig slegs in Afrikaans aanbied. Met Afrikaans wat toenemend as onderrigtaal bedreig word, skep ons instellings hoop. Sonder om vervolging te vrees, kuier, leer, sing en bid studente in Afrikaans – hul moedertaal.
-
Om ’n plek te skep waar ons Christenskap kan beoefen
Om in die openbaar met skriflesing en gebed te open, is ’n voorreg wat nooit as vanselfsprekend aanvaar mag word nie. Buys verwoord die Solidariteit Beweging se uitgangspunt oor geloof: “Ons voel sterk oor Christenskap, ook omdat dit een van die min samebindende waardes in ons verdeelde land is, waar die Suid-Afrikaanse nasie grootliks net ’n geografiese uitdrukking is.”
By die Solidariteit Beweging se onderriginstellings word Christelike waardes gekoester en openlik onder die studente en personeel bevorder. Christenskap is die enigste geloof wat hier beoefen word en die studente voel veilig om hul geloof uit te leef en te groei in ’n omgewing waar hulle ondersteun word.
-
Om ’n ruimte te skep waar studente deel kan wees van ’n gemeenskap met ooreenstemmende waardes
Akademia, Sol-Tech en Bo-Karoo Opleiding bied verskeie studente-aktiwiteite aan waar studente hul leierskapvaardighede kan slyp en vriende kan maak wat dieselfde as hulle dink en glo.
Hiér is waar jongmense in ’n veilige omgewing geslyp en gevorm word om selfstandige en standvastige volwassenes te wees.
-
Die bied van gehalte-onderrig wat behoeftes in die arbeidsmark takel
Sol-Tech is begin omdat gesien is dat daar ’n tekort aan opgeleide ambagslui in die land was. Suid-Afrika het nie oor genoeg gehalte-opleidingskolleges beskik nie en al hoe minder jong persone het hulself in dié loopbaanrigting gekwalifiseer.
Vandag is Sol-Tech tjokvol studente en die leemte in die arbeidsmark word gevul. Studente word nog voor die einde van hul studie by werkgewers geplaas, en baie studente word bemagtig om hul eie ondernemings te begin.
In 2025 open Sol-Tech ook sy eie toetssentrum waar ambagslui akkreditasie kan ontvang. Deur die gapings in die arbeidsmark aan te pak, dra die Solidariteit Beweging by tot die bevordering en groei van die ekonomie. Verder word daar nuwe werksgeleenthede vir jongmense geskep.
-
Studente word voorberei om uitnemend in hul beroepe te wees
In Suid-Afrika verseker ’n tersiêre kwalifikasie alleen nie meer ʼn pos vir ’n jong gegradueerde nie. Die werksloosheidsyfer is 32,1% en byna die helfte van dié werkloses is jongmense. Verder het jong werkendes nie altyd die ervaring of kennis om in hul werksomgewing suksesvol te wees nie.
By die Solidariteit Beweging se onderriginstellings word studente bemagtig om vanaf die eerste dag by ’n nuwe werk uitnemend te wees. Die Solidariteit Beweging lei nie net studente op in ’n vakgebied nie, maar in waardes en werksetiek wat hul kop en skouers bo ander kandidate laat uitstaan.
Die Solidariteit Beweging hoop nie op ’n goeie toekoms nie; ons bou vir onsself ’n toekoms waarin ons gemeenskappe en kinders vry, veilig en voorspoedig kan leef en leer. Ons onderriginstellings is nie op politieke motiewe gebou nie, maar eerder om hoop en geleenthede te skep.