Ernst Roets
Hierdie artikel is op Maroela Media gepubliseer.
Meer as drie dekades het verloop sedert politieke oorgang in Suid-Afrika in 1994. Die wêreld het dit gevier toe die ANC, onder leiding van Nelson Mandela, die bewind oorgeneem het in wat algemeen beskou is as die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika.
Die viering is in 1995 herhaal toe Suid-Afrika die Rugbywêreldbeker gewen het – wat geneem is as ʼn teken dat die Suid-Afrikaanse politieke projek werk. Die viering is ook in 1996 herhaal toe Suid-Afrika dít wat as die mees liberale, mees moderne en mees demokratiese grondwet in die wêreld beskryf is, aangeneem het.
Die BBC het ʼn dokumentêr getiteld Miracle Rising vervaardig waarin bekendes soos Oprah Winfrey, Bono (van die rock-groep U2) en Charlize Theron die situasie in Suid-Afrika ontleed en verduidelik het tot watter mate die politieke oorgang die gevolg van ʼn goddelike ingryping moes wees. Suid-Afrika het ook die ná-kindertydse suksesverhaal van die Verenigde Nasies geword – ʼn voorbeeld dat die toepassing van moderne globalistiese ideologieë op diverse samelewings tot sukses lei.
Natuurlik was daar, benewens die feit dat die oorgang nie tot die burgeroorlog gelei het wat deur talle voorspel is nie, regtig geen tasbare aanduiding dat die stelsel sou werk nie. Die destydse viering was grootliks daaraan te danke dat mense werklik gehou het van die ANC en Nelson Mandela wat die status van ʼn heilige verkry het – meestal as gevolg van sy passievolle pleidooi vir versoening ondanks sy tronkstraf, en danksy die feit dat die geskrewe teks van die Suid-Afrikaanse Grondwet ʼn manifestasie van die liberale demokrasie was.
Op daardie tydstip was dit bykans onmoontlik om enigiets hiervan teë te staan. Die narratief was net té sterk. En ʼn poging om ʼn teenargument te bied of om te waarsku teen die vooruitsigte van ʼn sosialistiese ANC-geleide regering is met aggressiewe beskuldigings van rassisme en anti-demokratiese sentiment begroet.
Mense het blykbaar vergeet dat die meeste Afrikaners ook ʼn einde wou maak aan die apartheidstelsel wat gevestig was op die idee van verskillende tuislande vir verskillende volke, maar wat op die ou end ʼn onverdedigbare stelsel van gedwonge skeiding geword het, kompleet met banke en strande wat volgens ras toegewys is.
Die vraag was nie of die stelsel moes eindig nie, maar hoe dit beëindig behoort te word, en nog belangriker waarmee dit vervang moes word. Maar, om aan te voer dat ʼn stelsel wat in ʼn land so groot en so divers soos Suid-Afrika eksklusief op Westerse individualistiese menseregte gebou is, nie ʼn volhoubare alternatief sou wees nie aangesien dit nie na behore voorsiening sou maak vir die aspirasies van die diversiteit van kulturele gemeenskappe nie, is met fel skeptisisme begroet. Om so te argumenteer is as ʼn aanval op die demokrasie geïnterpreteer.
Dit was ʼn rampspoedige tyd vir die Afrikaners. Alles wat as “Afrikaner” geëtiketteer kon word, is fundamenteel as rassisties en agterlik bestempel. Ons kon nie eers die woord “Afrikaner” gebruik om ons gemeenskap te beskryf nie. Nie vanweë een of ander wet nie, maar bloot omdat dit algemeen as onvanpas beskou is om ʼn Afrikaner te wees. Voorts het feitlik elke Afrikaner-instelling in duie gestort – insluitend die politieke partye en drukgroepe. Dit is deels toe te skryf aan die feit dat talle van hierdie instellings op een of ander manier afhanklik was van, of met die staat verbind was.
Tog het dinge nie uitgedraai soos wat Oprah Winfrey, Bono en Charlize Theron voorspel het nie. Die destydse politieke golf was koorsagtig ten gunste van die nuwe Suid-Afrikaanse regering en die regerende ANC – ʼn beweging wat sy eie ideologie met trots as ʼn mengsel van ras-nasionalisme en sosialisme beskryf het. En so, in ʼn tragies ironiese draai, het ʼn self-toegedigte nasionaal-sosialistiese beweging ná die val van die Berlynse Muur, die gevierde gesig van liberale demokrasie geword.
Op daardie tydstip het die jong Flip Buys, wat die leier van die hoofsaaklik Afrikaanse Mynwerkersunie (MWU) van Suid-Afrika geword het, gemeen dat wanneer politiek beoordeel word, dit belangriker is om die getye as die golwe in ag te neem. Al was die golwe oorweldigend heuglik, was die gety ook duidelik – geen sosialistiese, revolusionêre beweging kon nog ooit verantwoordelik regeer nie.
Toe die ANC aan bewind gekom het, het hulle seker gemaak om dit te stel dat hulle nie as ʼn politieke party of as ʼn regering beskou moes word nie, maar as ʼn bevrydingsbeweging-aan-bewind, wat steeds tot revolusie verbind was. Dit moes ʼn ooglopende rooi lig gewees het. Tog was die vreugdevolle stemming net te oorweldigend om oor sulke ongemaklikhede bekommerd te wees.
En so het die Afrikaners begin beplan.
Die prys om ons identiteit, kultuur en tradisie te laat vaar, was net té hoog, al is dit wat van ons verwag was. Die nuwe Suid-Afrikaanse projek kan in die woorde van Samora Machel beskryf word: “ … for the nation to prosper, the tribe must die”. Met ander woorde, om die nuwe Suid-Afrikaanse identiteit te laat slaag, moet die kultuurgemeenskappe wat Suid-Afrikaanse burgers as lede het ontbind. Dit is omdat die ANC en sy rasieleiers kultuur en gemeenskaplike identiteit beskou het as “agterlik” en as “stamdenke” wat tot die verlede behoort.
Dit was in hierdie tyd wat die Afrikaners besluit het om ʼn beweging te bou. Gegrond op dit wat ons uit historiese ervaring kon leer, was die mees waarskynlike toekomsvooruitsig dat Suid-Afrika nie die suksesverhaal sou wees wat van die dakke af uitgebasuin is nie.
Ons het die uiters belangrike les oor die gevare van statisme geleer – die Afrikaners het ʼn groot deel van die tweede helfte van die 20ste eeu daaraan bestee om ʼn sterk staat te bou wat eerstens moreel onverdedigbaar geword het en tweedens amper oornag ingehaal is, en onmiddellik teen ons gedraai is. Weens die feit dat ons ʼn numeriese minderheid is, het die vooruitsig om sake deur verkiesings te verander onrealisties geword.</p>
En so het ons omstandighede daartoe gelei dat ons ʼn fundamentele waarheid oor die menslike toestand herontdek het. Dit is die belangrikste feit waarop nie net die Afrikanerdom nie, maar die Weste gebou is. Eerstens en primêr is dit die feit dat mense van nature gemeenskapswesens is. Ons wil instinktief ons gemeenskappe en die dinge wat ons geërf het bewaar, al is moderne globalistiese ideologieë hewig daarteen gekant. Tweedens is dit ʼn feit dat die enigste weg na voorspoed en sukses deur gemeenskapsinstellings loop.
Al bly verantwoordelike burgerskap vir ons belangrik, het ons besef dat die staat net probleme en geen oplossings nie sou oplewer. As ons as ʼn gemeenskap wou oorleef, moes ons ons eie oplossings vind. Ons het weer geïnspireer geraak deur die woorde van die Afrikaner-godsdiensleier Vader Kestell wat gedurende die 1930’s gesê het: “ʼn Volk red homself” en uiteindelik het ons ʼn aangepaste weergawe daarvan aangeneem as slagspreuk van ons tyd: “Ons sal self”.
En so is die Afrikanerprojek van die 21ste eeu daarop gemik om ʼn toekoms vir ons gemeenskappe te verseker deur die bou en versterking van ʼn netwerk van gemeenskapsinstellings. Dit het begin met die herbenaming en verandering van die beeld van die Mynwerkersunie tot Solidariteit, die herskryf van sy grondwet en Buys se aankondiging dat hierdie instelling die basis van ʼn nuwe beweging van instellings moet vorm.
Al het feitlik al die Afrikanerinstellings teen die einde van die 20ste eeu in duie gestort, het die Solidariteit Beweging, soos ons dit vandag ken, in ʼn kwessie van ʼn paar dekades tot ʼn netwerk van meer as 50 instellings gegroei wat aktief in verskeie sfere van die Afrikanergemeenskapslewe werk om ʼn toekoms vir ons gemeenskap te verseker.
Hierdie instellings sluit in:
- die Christelike werkersinstelling Solidariteit;
- die burgerregtegroep AfriForum;
- die gemeenskapsopheffingsinstelling Solidariteit Helpende Hand;
- die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, die FAK;
- verskeie akademiese instellings, insluitend die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, die ambagsopleidingskollege, Sol-Tech, en die hoëronderwysinstelling, Akademia;
- verskeie media-instellings, insluitend Maroela Media, die grootste Afrikaanse aanlyn nuusplatform;
- die eiendomsontwikkelingsmaatskappy Kanton;
- die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, OOM; en talle ander.
Ons glo dat die enigste volhoubare toekoms een is waarin gemeenskappe deur hul eie instellings verantwoordelikheid vir hulself aanvaar en waarin wedersydse erkenning en respek en vreedsame naasbestaan aangemoedig word. Gevolglik is ons benadering gebaseer op dit wat ons binding en brugbou kan noem. Binding impliseer om aktief binne ons eie gemeenskap te werk en om trots te wees op wie ons is en waarvoor ons staan. Brugbou beteken om uit te reik na ander gemeenskappe om saam te werk in die geval van sake waaroor ons saamstem.
Intussen lyk dit of die politieke bedeling in Suid-Afrika na alle waarskynlikheid gaan misluk. Suid-Afrika is volgens amper elke denkbare maatstaf op pad na mislukking. Tog is dit eenvoudig te vergesog om oplossings van die regering te verwag. Ons sal met die regering saamwerk waar ons kan, maar ons is dankbaar vir die feit dat ons weer ontdek het wat dit van ʼn gemeenskap verg om te floreer.
Om hierdie redes vind die woorde van Winston Churchill, dat die toekoms reeds gebeur het al is dit nie eweredig versprei nie, diep aanklank by ons. Ons glo dat wat die krisis betref die toekoms van die Westerse wêreld op sekere belangrike maniere reeds in Suid-Afrika gebeur het. Maar meer as dit, ons glo ook dat wat die oplossings betref, die toekoms op sekere belangrike maniere reeds aan die gebeur is.