Die gemoedere op die jaarvergadering van Gelykheidshoop se gholfklub loop hoog. Gladdes Coetzee, plaaslike menseregteprokureur, is aan die woord: “Voorsitter, hierdie gholfklub is besig om dié simbool van ongelykheid in die land te word. Dis ʼn skánde.” ʼn Paar mense klap hande, ander knik die kop. Almal weet hoe goed Gladdes alles bedoel. Die Voorsitter probeer weer: ”Gladdes, dis ʼn tragedie dat Gholfhoogte se kampioen selfmoord gepleeg het toe hy verloor het, maar dis darem hoogs uitsonderlik.” “Uitsonderlik?” brul Gladdes. “Dis die gevolg van ongelykheid – die hoéveelste hierdie jaar in die gholfwêreld! Koerantkenners sê gholf sal doodloop as dit so aangaan.”
Slim, die plaaslike koerantman, kyk beskeie af toe hy die oë op hom voel. Hy is die kenners. Gladdes stoom voort: “Hierdie sogenaamde “uitsondering” kon vermy gewees het as daar net groter gelykheid en geregtigheid in gholf was. Ons moet nóú optree om nog ‘n tragedie te verhoed. Nóú!”. “Maar gholf het mos ‘n voorgeestelsel wat die swakker spelers ‘n gelyke kans gee, pleit-sê die Voorsitter”. “Gelyke kanse is nog nie werklike gelykheid nie”, sê Gladdes dreigend, “ek eis gelyke tellings”.
Die Voorsitter wens die vergadering is al verby. Hy boer met hoenders, wat net eiers lê en nie op hulle regte staan nie. “Gladdes, wat wil jy dan nou eintlik hê?”, vra hy moeg. “Ons benodig ‘n Akte van Gholfregte” sê Gladdes belangrik. “Is dit nie kommunisties nie”, vra Oudominee. “Moenie simpel wees nie,” brom Felix, die afgetrede plaaslike filosoof met die poniestert. “Stilte nou,” sê Slim en leun vorentoe. Hy ruik ‘n storie. As hy maar net iets in die Gelykheidsnuus geplaas kan kry, is hy weer in tel. (Hy wonder vinnig of dít dan nie ongelyk is nie.)
Akte van Gholfregte
“Ons moet die modernste akte van gholfregte in die wêreld opstel,” begin Gladdes. “Hoor, hoor!,” skree die Stadsraadslid en Jongjuffrou. “Ja,” sê Gladdes, bemoedig deur die ondersteuning. “Ons moet breek met die ou Gholforde, ons moet dit bréék sê ek jou. Ons moet begin deur al die putjies toe te gooi.” “Wat?,” skree Potties, die dorp se beste speler, en spring op. “Is jy mal?” Gladdes laat hom nie van stryk af bring nie: “Gholftellings bevoordeel net die beste spelers, moedig net ongesonde mededinging aan en lei tot ongelykheid”, sê hy. “As Gholfhoogte se kampioen nie verloor het nie, was hy vandag nog met ons.”
Tant Koekie begin treurig huil. Sy speel nie gholf nie, maar het gehoor hier word vandag oor hartseersake gepraat, en sy mis nie smart nie. Sy kyk onderlangs of Oudominee en Slim sien hoe bedroef sy is. “Geen tellings meer nie; almal moet gelyke punte hê en ‘n beurt kry om te wen,” gaan Gladdes voort. Nou is Pottie kwaad. “Dan sit ek nie my voet weer hier nie,” dreig hy. “Ons ook nie,” stem ‘n paar van die beter spelers saam. “Orde!” sê die voorsitter, maar niemand hoor nie. Almal praat gelyk.
Transformasie vir die nasie
Oudominee voel dis nou tyd vir leierskap: “Vrinne,” begin hy. “Gholfgenote.” Maar niemand luister nie. “Orde!” dreun Gladdes. Die saal word stil. Netnou maak Gladdes ‘n hofsaak, almal weet hy’s getroud met Kallie Kriel se een Tante. “Tweedens moet ons nuwe baanreëls instel wat bepaal wanneer, hoe ver en met watter stok geslaan kan word. Mense kan nie net aanhou maak wat hulle wil nie. So kan ons ongelykheid, dood en beserings voorkom.” “Maar dit sal nooit werk nie,” val die Voorsitter hom in die rede. “Niemand sal meer hier speel nie.” “Nonsens,” sê Felix, “As almal gelyk is en dieselfde punte kry, sal niemand uitgesluit wees nie en sal daar geen verloorders wees nie. Almal sal wil speel. Dís nou ware transformasie- vir die héle gholfnasie.”
Gladdes praat weer: “Derdens vereis geregtigheid dat hierdie gholfbaan van nou af behoort aan almal wat daarop speel, en dié wat dit nie kan bekostig nie, hoef nie meer speelgeld te betaal nie.” Oudominee knik gewigtig; hy wéét van geregtigheid.
Later die aand word Gladdes se Gholfakte op voorstel van Oudominee, gesekondeer deur Jongjuffrou, oorwéldigend aanvaar. Terwyl tant Koekie nog snik van aandoening, word die ou bestuur uitgestem en Gladdes, Felix en Jongjuffrou (as Sekretaresse) tot die bestuur verkies. Nog baie ander reëls word ingebring, en die beste spelers moet ook nou dubbeld betaal. Agttien baanbeamptes word aangestel om die nuwe reëls af te dwing.
Ongelukkig het die Gholfklub ‘n jaar later bankrot gespeel. Dit word nou vir gemeenskaplike weiding van die gemeenskap se vee gebruik ter viering van gelykheid. Pottie het intussen die nuwe kampioen van die buurdorp Gholfhoogte geword.