Die Solidariteit Beweging glo dat nasionale gesprekke om oplossings vir die land se knellende krisisse te kry, noodsaaklik is, maar dit lyk asof die Nasionale Dialoog net op nóg nuttelose gesprekke in plaas van aksie gaan uitloop. Die rede hiervoor is dat dit blyk dat die ANC die beoogde Nasionale Dialoog wil kaap om verlore steun te probeer terugwen, eerder as om antwoorde vir die krisisse te vind.
Die ANC gee nou hoog op oor die noodsaak van deelname aan die Nasionale Dialoog, maar was oor die afgelope dekades nie bereid om in goeie trou met ander belanghebbendes te praat en na hulle voorstelle te luister nie. Die ervaring is dat die ANC eerder ’n ANC-monoloog voer as om aan nasionale dialoë deel te neem.
Die ANC het alle vorige gesprekke oorheers en dit bloot as forums gebruik om hul beleid te probeer verkoop, eerder as forums waar hulle kon luister na voorstelle oor hoe om hul onwerkbare beleid aan te pas.
Daarby is die ondervinding dat ooreenkomste wat wel bereik is, kort daarna deur die ANC verbreek is, om maar net weer alleen in hul sosialistiese doodloopstraat voort te strompel en die land saam te sleep.
Daarom sal die Solidariteit Beweging ’n wag-en-kyk-benadering ten opsigte van die Nasionale Dialoog inneem. Ons is te besig met werk om die gevolge van mislukte ANC-beleid te probeer aanpak, en het nie tyd om vir weke en maande lank na hul uitgediende blaampolitiek en ’n herhaling van verbeeldinglose idees te luister nie.
Ons ondervinding is dat “gemeenskapsdialoë” meer vrugte oplewer as ’n staatsdialoog, en dat gesprekke tussen gemeenskappe meer praktiese resultate voortbring.
Daarom beplan ons om in samewerking met ander kultuurgemeenskappe ’n standpunt oor die land se knellende vraagstukke by die Nasionale Dialoog in te dien, en aanvanklik slegs ’n waarnemer na die Dialoog te stuur voordat ons oor deelname sal besluit.
Die ANC het nog geen aanduiding gegee dat hulle oor mislukte beleidsrigtings gaan herbesin nie. Die beste aanduidings is dat hulle sedert die totstandkoming van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) nog steeds voortgaan asof hulle alleen regeer, en dat hulle eerder die land die teiken van Amerikaanse sanksies sal maak as om in landsbelang beleidsaanspassings te maak. Die land het nuwe en vars idees nodig omdat die ou ANC-idees misluk het en dit geensins van enige nut sal wees om hierdie idees net weer te laat hersirkuleer nie. Miljoene mense het nou al lank genoeg onder die ANC se leierskap gely.