Theuns du Buisson
Bron: Maroela Media
In die laaste deel van elke jaar reik talle organisasies hul lys van wêreldrisiko’s vir die volgende jaar uit, waarvolgens groot ondernemings dan hul beplanning doen om te sorg dat hulle daarteen verskans is.
Benewens al die gewone goed, natuurrampe en politieke onsekerheid en so aan, is daar vanjaar ʼn nuwe een. “Trump se proteksionisme,” wat volgens die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) ʼn beduidende risiko vir die wêreldekonomie inhou. Ek steur my nog nooit juis aan die WEF se praatjies oor hoe die aardbol enige oomblik gaan verbrand as almal nie ons beesvleis vir goggas verruil nie, maar ongelukkig steur baie invloedryke mense hulle wel daaraan.
Proteksionisme
Hierdie uitgediende beleid word allerweë beskou as ʼn groot struikelblok vir ekonomiese groei. Met reg ook. Dit behels dat tariewe ingestel word om invoere uit te hou, om dan die plaaslike industrie te bevorder. So het Suid-Afrika byvoorbeeld tariewe op staalinvoere en hoendervleis. Die uiteinde daarvan is dat staal en hoender baie duurder is, sonder dat ons ʼn noemenswaardige hoenderbedryf het en terwyl die plaaslike staalsektor steeds onder ewige druk bly.
Kortliks is proteksionisme op die drogrede dat daar wenners en verloorders in handel is gebaseer. Die werklikheid is dat almal wen in behoorlike handel.
Tariewe word egter ook vir ander redes ingestel. As ʼn land byvoorbeeld slawe-arbeid gebruik, kan tariewe ingestel word om die uitvoerder te straf, sonder om op te hou om daardie produkte te koop. Al wie eintlik so gestraf word, is die verbruiker van hierdie produkte, omdat hulle meer daarvoor betaal en steeds hul gewetens moet sus oor hulle die produkte van slawerny gebruik. Dan is daar ook ander oorwegings, soos enorme tariewe op Chinese CCTV-toerusting, wat volgens verskeie kenners gebruik word om op die hele wêreld te spioeneer. Die bekendste is teenstortingstariewe, wat ingestel word om te voorkom dat ʼn ander land hul goedkoop, dikwels minderwaardige, produkte in ʼn land stort, die plaaslike bedryf vernietig, en dan in die toekoms weer produkte teen normale pryse en volumes aanhou uitvoer sonder die las van ʼn kompeterende mark.
Ongeag die redes, is dit ʼn aanvaarde waarheid dat enige handelsbeperkinge, of dit nou kwotas, tariewe of wat ook al is, sleg is vir die globale ekonomie. Daar word bereken dat die wêreldekonomie kan verdubbel as alle lande toegelaat word om hul spesialisprodukte sonder tariewe of ander hindernisse uit te voer.
Hoe gevaarlik is dit vir Suid-Afrika?
Net soos wat bykans almal aanvaar dat handelsbeperkinge en tariewe sleg is, aanvaar almal ook dat die beste vir Amerika ook die beste vir die wêreld is. As dit goed gaan met Amerika, gaan dit goed met die wêreld. Wanneer hierdie twee algemene waarhede strydig met mekaar is, word die water vertroebel.
Nuwe tariewe en ander handelsbeperkings maak produkte en dienste vir Amerikaners duurder, maar dit skep ook werksgeleenthede en ʼn meer gelokaliseerde ekonomie in Amerika. Saam met lokalisasie kom ander risiko’s wat oor die langer duur tot die VSA se nadeel kan wees. Maar dan is daar ook talle voordele. Deur fabrieke terug na die VSA te skuif, word groot kapitaalbeleggings aangegaan en selfs al speel baie van die risiko’s wel uit – sal dit baie onwaarskynlik wees dat hierdie beleggings ongedaan gemaak sal word deur weer aanlegte na die buiteland te verskuif.
Die grootste voordeel van so ʼn beleid is dat die VSA energie-onafhanklikheid sal nastreef. Hulle produseer hul eie olie, en met Trump se voorgestelde beleid in plek, genoeg vir hulle eie behoeftes en selfs uitvoere. Dit beteken dat die vraag na die res van die wêreld se olie daal, met die gevolg dat almal, nie net Amerika nie, minder vir energie betaal. Almal wen dus hier en in die energie-intensiewe wêreld van vandag is dit niks om ons neuse voor op te trek nie.
Waar Suid-Afrika, en almal anders, wel direk geraak word, is uitvoere na die VSA. Ook hier hoef Suid-Afrika nie te bekommerd te wees nie. Die meeste van ons uitvoere is rou materiaal en chemikalieë waarop daar selde, indien ooit, tariewe geplaas word. En selfs al sou dit gebeur, geniet Suid-Afrika tariefvrye status onder AGOA vir hierdie produkte. Ook die motorbedryf, wat direk in Trump se visier is, geniet hierdie voordeel. Ons plaaslike bedrywe sal dus ʼn baie sterk kompeterende voordeel geniet. Tensy AGOA tot ʼn einde kom, of hierdie bedrywe plaaslik tot niet gaan, het ons min om oor te bekommer.
Is dit dan regtig ʼn risiko?
Enige beleid wat ekonomiese groei onderdruk, of wat dit op een plek konsentreer op grond van mensgemaakte omstandighede is sleg. Dit is ook uiteraard ʼn risiko. Maar vir Suid-Afrika sal die grootste risiko eerder wees dat ons regering aanhou om vyandig teenoor die Weste op te tree en ons so uit AGOA geskop word. Onder daardie omstandighede sal ʼn meer proteksionistiese beleid in Amerika slegs nadele vir ons inhou, sonder dat wesenlike voordele ons te beurt val.
Hierdie is natuurlik ook alles net van toepassing as Trump wel weer die Withuis inneem. Die alternatief is nog vier jaar van powere groei en grootskaalse vermorsing deur die Amerikaanse regering. En dit is vir niemand goed nie.