Solidariteit Beweging se bouplan vir volgende 110 jaar

(Hierdie toespraak is in April 2012 gelewer)

Die Solidariteit Beweging is vanjaar 110 jaar oud. Dit maak van die Beweging die oudste politieke beweging in Suid-Afrika. Die Beweging is as vakbond gebore in die hartseer na die Tweede Vryheidsoorlog, het sy eie strydgeskiedenis van onder andere die 1922-staking, was deel van die opstaan van die Afrikaner in die 1930’s. Dit het die apartheidsera beleef en daarna die Suid-Afrika na 1994 betree. Die Beweging se geskiedenis loop dus reeds die afgelope 110 jaar soos ʼn goue draad deur die geskiedenis van Suid-Afrika. Die Beweging kon daarin slaag om op kritieke tye kritieke besluite te neem wat hom die kanniedood van die Suid-Afrikaanse burgerlike samelewing gemaak het. Vandag is die Solidariteit Beweging die sterkste wat hy nog ooit was.

Vir die Solidariteit Beweging is dit nou belangrik om die boublokke in te messel vir die volgende 110 jaar.

Die politiek in Suid-Afrika is onstabiel en mense voel onseker oor die toekoms. Die Solidariteit Beweging gaan hom egter nie onttrek nie, maar aktief begin bou aan ʼn nuwe toekoms. Die doel van die plan is om aan mense hoop te gee.

Dit is ʼn praktiese plan met implementeringsdatums en die vermoë om dit uit te voer. Die driejaarbegroting van die plan is net oor die R1 miljard.

Die plan sê wat hy gaan doen en nie wat hy droom nie.

In die Solidariteit Beweging-bouplan toon ons aan waar ons self verantwoordelikheid neem en waar ons hande vat met ander organisasies wat reeds goeie werk doen. Die Solidariteit Beweging aanvaar daar is talle organisasies wat wonderlike werk doen waarvan ons nie eers bewus is nie. Die bouplan wil ook nie voorgee dat die volle antwoord binne die Solidariteit Beweging lê nie. Die Solidariteit Beweging glo juis nie aan blote eenheid as die antwoord nie, maar aan veelheid. Die Solidariteit Beweging voorsien ʼn netwerk van burgerlike organisasies wat met mekaar praat en mekaar help.

Emigrasie uit onsekerheid is een oplossing vir individue – as ʼn reël geld dit vir elite-individue wat die finansiële en akademiese vermoë het om te emigreer. Die meerderheid mense kan nie of wil nie emigreer nie. Vir hulle moet ʼn antwoord hier gekry word. Die antwoord lê nie in kla nie, maar in doen. Die Solidariteit Beweging gaan dus bly en bou, maar nie stilbly nie.

Die uitvoering van die Solidariteit Beweging se bouplan is die verantwoordelikheid van die instellings van die Solidariteit Beweging.

Die Solidariteit Beweging bestaan uit ʼn heg verweefde netwerk van instellings wat mekaar aanvul en uitbou.

Solidariteit-vakbond

Die vakbond Solidariteit is die paterfamilias van die Solidariteit Beweging en die Solidariteit Beweging is uit die vakbond gebore. Solidariteit is op die Christelike tradisie van die vakbondwese geskoei en het dus ʼn unieke benadering tot die vakbondwese wat verskil van dié van Cosatu. Die hooftaak van die vakbond is om werksekuriteit te verseker, om diensvoorwaardes te verbeter en om onreg in die werkplek uit te wis.

AfriForum – burgerregte

AfriForum is ʼn burgerregteorganisasie. Sy hooftaak is om die burgerregte van sy lede en hulle gemeenskappe te beskerm. Dit word gedoen deur regte op te eis en regte te beskerm. Dit word nie net in die hof gedoen nie, maar ook deur strukture in gemeenskappe te vestig.

Solidariteit Helpende Hand – diens

Solidariteit Helpende Hand lewer diens aan die gemeenskap, maar met die spesifieke doel om mense uit armoede te lei en om te voorkom dat mense in armoede verval. Helpende Hand glo nie aan opheffing deur toelaes nie, maar aan opheffing deur opleiding. Die fokus van Solidariteit Helpende Hand is dus beurse en beroepsleiding. Helpende Hand bedryf talle wonderlike projekte om die armoedesiklus te verbreek en het ook strukture landwyd wat diens aan die gemeenskap lewer.

Die Kom Huistoe-veldtog

Die Kom Huistoe-veldtog is ʼn inisiatief van AfriForum. Die veldtog se taak is om mense wat na Suid-Afrika wil terugkeer, te ondersteun.

Sol-Tech – tegniese opleiding

Sol-Tech lei studente in ambagte op. Die instelling is geregistreer as ʼn instelling vir voortgesette onderwys en opleiding en is by die tersaaklike setas (sektorale onderwys-en-opleidingsowerhede) geregistreer. Sol-Tech fokus daarop om studente in skaars en kritieke vaardighede op te lei.

Akademia – telematiese hoër onderwys

Akademia bied hoëronderwyskursusse aan en het in 2012 met die eerste diplomas en sertifikate begin. Leersentrums is dwarsoor Suid-Afrika gevestig en kursusse word telematies aangebied.

Solidariteit Finansiële Dienste

Die maatskappy bied ʼn reeks finansiële produkte. Die hoofproduk van die maatskappy is korttermynversekering vir lede van Solidariteit. Die winste van die maatskappy word gebruik om ontwikkelingsprojekte van die Solidariteit Beweging te finansier.

Solidariteit Groeifonds – bemagtiging

Elke lid van die vakbond Solidariteit dra elke maand R11 tot die Solidariteit Groeifonds by. Ander individue dra ook tot die fonds by. Die fonds finansier ontwikkelingsprojekte van die Solidariteit Beweging. Die vestiging van Sol-Tech is tot ʼn groot mate moontlik gemaak deur die Solidariteit Groeifonds. Die groeifonds gaan ʼn sterk bydrae lewer tot die bou van Dié Kampus.

Solidariteit Beleggingsmaatskappy

Solidariteit Beleggingsmaatskappy besit al die aandele in die verskillende Solidariteit-maatskappye. Die beleggingsfilosofie van die maatskappy is sterk gefokus op interne beleggings. Alle opbrengste word gebruik om verdere instellings te vestig.

Solidariteit Eiendomsmaatskappy

Solidariteit Eiendomsmaatskappy besit en bestuur die verskillende eiendomme van die Solidariteit Beweging. Een van die belangrikste projekte van die maatskappy is die ontwikkeling van Dié Kampus.

Maroela Media – internetgedrewe nuwe media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse mediamaatskappy wat met webgebaseerde media werk. Dit sluit ʼn webwerf, internetradio, foto’s, video’s en die sosiale media in. Maroela Media gaan die grootste Afrikaanse kuierplek op die web word.

Kraal Uitgewers

Kraal-uitgewery gee historiese en aktuele Afrikanerboeke uit. Die uitgewery gee ook boeke uit wat waarskynlik nie deur ander uitgewerye uitgegee sal word nie. Die doel van die uitgewery is om die Afrikanergeskiedenis gebalanseerd aan te bied en om krities dog positief om te gaan met aktuele sake wat Afrikaners raak.

Solidariteit Radio – internetradio

Solidariteit Radio is ʼn internetgedrewe radiostasie wat ʼn alternatiewe stem- en kommunikasiekanaal is.

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings, in die omgang bekend as die FAK, is die oudste Afrikaanse sambreelorganisasie en is reeds in 1929 gestig. Die FAK bevorder die Afrikaner se kultuur en geskiedenis en die ontwikkeling van Afrikaans. Dit het kultuurforums waarby elke Afrikaanse organisasie kan aansluit. Die FAK bevorder Afrikaanse musiek deur die FAK-sangbundel, wat vanjaar 75 jaar oud is.

NP van Wyk Louw-navorsingsentrum

Die NP van Wyk Louw-navorsingsentrum is deel van die FAK en is ‘n instelling wat hom beywer vir die ontwikkeling en verdieping van die Afrikaner se intellektuele ideë- en- waarderaamwerk. Die sentrum help om toekomsoplossings vir Afrikaners te bedink deur navorsing te doen oor verskeie aktuele kwessies wat minderheidsgroepe raak. Die Navorsingsentrum is geskoei op soortgelyke Amerikaanse en Europese navorsingsinstellings, en ontwikkel oplossings vir die Afrikaner- en ander kultuurgemeenskappe volgens die internasionale beginsel van kulturele vryheid.

Solidariteit Beweging – internasionale skakelkantoor

Die internasionale skakelkantoor se taak is om internasionaal steun en fondse vir ons saak te werf. Die kantoor skakel ook met Afrikaners in die buiteland en is saam met die Stichting voor Afrikaans by die FAK ingeskakel. Die politieke, maatskaplike en ekonomiese omgewing waarin Afrikaans in Suid-Afrika moet oorleef, het sedert die politieke verskuiwing van 1994 drasties verander. Minderheidstale soos Afrikaans is op talle terreine onder druk met die gevolg dat alle Afrikaanssprekendes innoverend moet dink en hande vat vir die bevordering van Afrikaans. Die Stichting voor Afrikaans bevorder spesifiek samewerking tussen Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse organisasies en koördineer gesamentlike projekte ter bevordering van Afrikaans.

Solidariteit Navorsingsinstituut

Die Solidariteit Navorsingsinstituut gee diepte aan die Solidariteit Beweging. Die Instituut doen ekonomiese, sosiale, politieke en regsnavorsing.

Virseker Trust

Die Virseker Trust is nie deel van die Solidariteit Beweging nie, maar Solidariteit is ʼn vennoot van die trust. ʼn Deel van die premie-inkomste van die Afrikaanse korttermynversekeringsproduk Virseker word aan die trust geskenk. Die trust se doel is om jongmense in Afrikaans op te lei. Die eerste twee projekte van die trust is beurse en om te help bou aan Dié Kampus.

Hierdie 18 instellings sal verantwoordelik wees vir die implementering van die Solidariteit Beweging se bouplan.

Die Solidariteit Beweging se bouplan staan op 15 bene.

  1. Arbeid en ekonomie

Die Solidariteit Beweging funksioneer hoofsaaklik binne ʼn ekonomiese omgewing. Die ekonomiese bouplan het ʼn aantal subaspekte.

Solidariteit-vakbond: Mense bring die grootste deel van hul dag by die werk deur. Werk bepaal mense se identiteit en finansiële vermoë en dra by tot die algemene welstand en gesinslewe van ʼn persoon. Kollektiewe bedinging, beskerming in die werkplek en verbetering van diensvoorwaardes is die kernfunksie van Solidariteit en sal versterk word. Die vakbond het ʼn sterk span organiseerders, verteenwoordigers, onderhandelaars en litigante in die veld. Daar sal deurlopend gekyk word hoe hulle kapasiteit versterk kan word. Solidariteit is die waghond in die werkplek en moet help om omstandighede te skep wat dit moontlik vir mense maak om gelukkig te kan werk. Geluk in die werkplek is ʼn voorwaarde om gelukkig in Suid-Afrika te bly. ʼn Bouplan sonder ʼn werkplan is ʼn swak plan. Die veranderende ekonomie plaas werk, soos ons dit ken, onder groot druk. Solidariteit-vakbond wil as beskermer vir werknemers in die inligtingsekonomie optree. Een van die belangrikste instrumente is opleiding, wat meer volledig in ʼn ander been van die bouplan bespreek word. Rassediskriminasie teen minderhede in die werkplek bly steeds ʼn fokuspunt van die vakbond. Veiligheid en gesondheid raak ook al hoe meer onder druk weens maatskappye se ingesteldheid op die maksimum korttermynwins. Solidariteit sal dus sy visie uitbrei om ook veiligheid en gesondheid in die werkplek te verbeter..

Beskerming van minderhede in die werkplek: Solidariteit-vakbond werk saam met ander, oorwegend bruin, vakbonde om beskerming vir minderheidsvakbonde te verseker. ʼn Nuwe alliansie van vakbonde word beoog wat pluralisme in die werkplek sal bevorder. ʼn Hofsaak word tans voorberei wat in lyn met internasionale tendense die reg van minderhede in die werkplek sal bevorder. Solidariteit sal saam met ander minderheidsvakbonde hieraan werk.

Deelname aan die debat: Die ekonomiese debat vind hoofsaaklik binne die drieparty-alliansie plaas, wat ʼn ongesonde toedrag van sake is. Die Solidariteit Beweging gaan meer aktief tot die debat toetree en gaan sy eie plan met voorwaardes vir groei en werkskepping bekend stel. Daar gaan ook baie meer aktief deelgeneem word aan die debat oor nasionalisering en ander ekonomiese kwessies.

Afrikaans weer in hoofstroom: Die Solidariteit Beweging gaan meer aktief daaraan werk om Afrikaans terug te bring in die hoofstroom van die ekonomie. Die eerste stap was die loodsing van die Afrikaanse korttermynversekeringsproduk Virseker. Tot dusver was maatskappye se benadering dat hulle ter wille van die mark in Engels moet adverteer en diens lewer. Met Virseker is Afrikaans weer terug in die hoofstroom van die ekonomie. Virseker adverteer ter wille van die mark in Afrikaans en lewer sy dienste in Afrikaans. Sowat 31% van die koopkrag in Suid-Afrika is Afrikaans. Dit is die taal met die sterkste koopkrag. Afrikaans kan dus sy spiere in die ekonomie bult. Die Solidariteit Beweging gaan begin onderhandel om Afrikaanse aanbiedings van ander produkte, byvoorbeeld mediese en bankdienste, op die mark te kry. Afrikaans kan baie meer selfvertroue in die ekonomie kry.

  1. Onderwys

Onderwys is die kern van die bouplan. Die grootste deel van die befondsingskoek van die plan word vir onderwys geoormerk. Die uitgangspunt hiervan is dat ons mense in staat moet stel om vir hulleself ʼn toekoms te skep. Die beste manier om bo regstellende aksie uit te styg, is goeie opleiding. Die onderwysbeen van die bouplan het ʼn aantal kritieke subaspekte.

Skole: Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) doen wonderlike werk om professionele ondersteuning aan Afrikaanse onderwysers te gee. Daar word ondersoeke beplan om die beste Afrikaanse private onderwysmodel te vind. Oor die medium en langer termyn gaan private onderwys ʼn groter rol begin speel. Beheerliggame het dikwels baie meer magte as wat ouers besef. Fedsas doen kritieke werk om beheerliggame te ondersteun en te bemagtig en verdien ondersteuning. Die SAOU is ook op die voorpunt met navorsing oor onderwys in Suid-Afrika.

Opleiding van onderwysers: Onderwysersopleiding is onder druk. Die beste vermenigvuldiger van kennis is goeie onderwysers. Indien Afrikaanse kinders bemagtig moet word, moet goeie onderwysers opgelei word. Afrikaanse en Christelike onderwysopleiding is stadig maar seker besig om weg te kwyn. Die nuwe onderwysersopleidingsinstelling, Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros), speel ʼn kritieke rol en verdien ondersteuning. Solidariteit Helpende Hand gaan ook deur ʼn skolesentrum ondersteuning bied vir die voortgesette opleiding van onderwysers. Die beste manier om kinders uit armoede te kry en om te keer dat hulle nie daarin verval nie, is deur goeie onderwys – en goeie onderwysers is ʼn voorvereiste vir goeie onderwys.

Wiskunde: Die jongste matriekuitslae het weer gewys hoe belangrik wiskunde is. Iemand wat matriek met wiskunde slaag, het onmiddellik ʼn mededingende voordeel. Wiskunde maak ook net die beroepskeuses van enige leerder groter. Die deure is byvoorbeeld effektief toe vir iemand wat meer tegnies aangelê is en graag ʼn ambag wil volg, maar wat nie wiskunde het nie.

Wiskunde kan die enkele grootste veranderlike wees om ʼn jongmens toegang tot ʼn goeie beroep te gee.

Solidariteit Helpende Hand gaan deur sy skolesentrum help om onderwysers in wiskunde en wetenskap op te lei. Dit sal in samewerking met die Vereniging van Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) aangepak word. Die Vereniging bevorder uitnemendheid onder Afrikaanse wiskundeonderwysers. Die Virseker Trust gaan beurse hiervoor beskikbaar stel.

Beurse: Jongmense moet toegang tot onderwys kry deur beurse. Al hoe minder beurse word vir Afrikaanse kinders gegee. Solidariteit Helpende Hand het ʼn Afrikaanse beursplatform ontwikkel en administreer reeds meer as 60 Afrikaanse beurse. Daar word beplan om die beursplatform baie meer uit te brei. Elke lid van Solidariteit-vakbond gaan R5 per maand vir die vestiging van ʼn beursplatform gee. Dit gaan meer as R7 miljoen per jaar addisioneel tot die huidige beursfonds beteken. Solidariteit-vakbond is ook ʼn vennoot van die Rapport Onderwysfonds en die Virseker Trust.

Beroepsleiding: Jongmense moet nie net toegang kry tot beurse nie, maar moet die regte beroepskeuses maak. Solidariteit Helpende Hand ontwikkel ʼn omvattende beroepsleidingsprogram. Die program help om jongmense se belangstellings, aanleg, roepings en tekorte in die arbeidsmark te belyn. Wanneer hierdie elemente reg belyn is, is so ʼn jongmens se kans om werk te kry, feitlik 100%. ʼn Beroepsleidingsgids en -webwerf ondersteun studente met hulle beroepskeuses.

Opleidingsinstellings: Die bouplan maak voorsiening vir die vestiging van nuwe opleidingsinstellings. Sol-Tech se hoofverantwoordelikheid is om ambagslui op te lei. Dit is reeds een van die grootste instellings in Suid-Afrika wat ambagslui oplei. Sowat R30 miljoen is al in Sol-Tech belê. Sol-Tech se kapasiteit gaan meer as verdubbel word in die volgende drie jaar.

Die Solidariteit Beweging het ʼn nuwe telematiese hoëronderwysinstelling, Akademia, gevestig. Die instelling bied vanaf 2012 sertifikate en diplomas aan. Met behulp van telematiese tegnologie kan leersentrums dwarsoor Suid-Afrika opgerig word. Meer as R4 miljoen is al in Akademia belê. Daar word voorsien dat daar binne vyf jaar oral in Suid-Afrika leersentrums gaan wees en dat tot 10 000 studente só bedien kan word.

Dié Kampus: Die Solidariteit Beweging se opleidingsinisiatiewe het ʼn kampus nodig. Grond is reeds aangekoop vir hierdie projek van R150 miljoen. Dié Kampus gaan een van die belangrikste produksiemasjiene vir Afrikaanse opleiding wees en gaan onder andere die tuiste van Sol-Tech en Akademia wees. Solidariteit Eiendomme is verantwoordelikheid vir die ontwikkeling van Dié Kampus. Dié Kampus is ʼn inisiatief van die Solidariteit Beweging, maar dit behoort by uitstek aan die Afrikaanse gemeenskap. Mense oor ʼn breë spektrum van die samelewing gaan gevra word om te help bou aan dié groot projek.

Indien die opleidingsplanne suksesvol ontplooi word, gaan duisende jongmense in staat gestel word om vir hulself ʼn toekoms te skep.

  1. Juridies

Suid-Afrika is ʼn regstaat. Dit is krities om die regstaat in stand te hou. Die regsruimtes waarbinne ons mense leef, moet vergroot word met behulp van plaaslike en internasionale reg. Dit is AfriForum se taak om deurlopend ʼn waghond te wees vir burgerregte. Die Solidariteit-vakbond berei nou voor vir ʼn saak in die Konstitusionele Hof oor regstellende aksie en die hofstukke sal teen die einde van April op die regering beteken word. In hierdie hofsaak gaan die dilemma van bruin werknemers in die Wes-Kaap aandag kry. Slaag plaaslike regsmiddele nie vir Suid-Afrika se minderhede nie, is die internasionale kanale steeds beskikbaar. AfriForum het reeds daarin geslaag om verskeie regsake te wen en sal voortgaan om burgerregte in Suid-Afrika te verdedig.

  1. Geskiedenis, erfenisbewaring en kultuur

Die geskiedenis van die Afrikaner word tans gekriminaliseer. Die Afrikaner se geskiedenis moet in ere herstel word. Dit moet realisties aangebied word en nie gekriminaliseer of verromantiseer word nie. Kraal Uitgewery gaan hier ʼn groot rol speel. Talle boeke oor die Afrikaner se geskiedenis gaan gepubliseer word. In 2012 verskyn ʼn koffietafelboek oor die konsentrasiekampe asook ʼn herdruk van generaal Jannie Geldenhuys se boek oor die grensoorlog. Die FAK gaan ook ʼn projek aanpak om die Afrikaner se geskiedenis in ere te herstel en die Solidariteit Beweging steun dit ten volle. Die groot rolspelers in erfenisbewaring is die Erfenisstigting en die Voortrekkermonument. Hulle goeie werk sal deur die Solidariteit Beweging ondersteun word. Die Solidariteit Beweging werk nou saam met die FAK om Afrikaner-kultuuraksies te stimuleer en te koördineer. ʼn Nuwe FAK-sangbundel met nuwe Afrikaanse liedjies word eersdaags uitgegee. Daar word ook met dank kennis geneem van die ATKV se aktiwiteite om Afrikaans te bevorder.

  1. Buitelandse en diplomatieke druk

ʼn Internasionale skakelkantoor gaan gevestig word. Dit is ter versterking van Solidariteit se internasionale bande. Die Stichting voor Afrikaans gaan veral in Europa werk en die skakeling tussen Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse organisasies verbeter.

Die buitelandse skakelfunksie gaan veral Suid-Afrikaners in die buiteland vir ons saak mobiliseer. Die Solidariteit Beweging beskou nie Suid-Afrikaners in die buiteland as weghardlopers nie, maar as ambassadeurs. Die bouplan gaan dus moeite doen om die naelstring met diegene in die buiteland te versterk. ’n Spesiale internetplatform gaan gevestig word om Afrikaners wêreldwyd te mobiliseer. Skakeling en oortuigingswerk in die AU, EU en VN gaan ook ʼn belangrike deel van die internasionale skakelfunksie wees. Een so aksie is om vir elke Nederlandse parlementslid ʼn eksemplaar te skenk van Kraal Uitgewery se boek oor plaasmoorde, Treurgrond. Daar word ook gereelde skakeling met ambassades in Suid-Afrika beplan. Dit is ook belangrik om Afrikaners in die buiteland geleentheid te gee om terug te keer. Die Kom Huistoe-veldtog neem verantwoordelikheid hiervoor en het reeds sowat 4 000 Suid-Afrikaners gehelp om terug te keer.

  1. Polities

Die Solidariteit Beweging gaan nie aktief by die partypolitiek betrokke raak nie, maar die rol speel van ʼn burgerlike waghond. Die Solidariteit Beweging bevestig hiermee weer eens sy politieke onafhanklikheid. Gesprekke gaan gevoer word met plaaslike opposisiepartye en met diegene in die regerende alliansie wat die gevaar besef wat die Malema-idees inhou. Die Beweging se mediastrategie gaan ook fokus op drukuitoefening. Wanneer ʼn instansie hom onttrek aan politieke prosesse, versnel die momentum weg van sy idees. Die Solidariteit Beweging, saam met ander burgerlike organisasies, sal poog om die magsbalans in Suid-Afrika te verbeter. Die Solidariteit Beweging gaan nie toekyk hoe politieke heethoofde die land se beeld beskadig nie. AfriForum gaan voort om sy oorwinning in die hof teen Malema se haatspraak te verdedig. Die Solidariteit Beweging glo egter in beginsel dat sosiale dispute nie in die hof opgelos moet word nie en dat ʼn nuwe skikking nodig is om nasionale vertroue te herstel. Indien daar geen ander uitweg is nie, sal die Beweging nietemin nie huiwer om regte in die hof te verdedig nie.

  1. Veiligheid

Veiligheid bly een van die grootste kopsere van Suid-Afrikaners. ʼn Druk- en regstrategie sal deur AfriForum en die Solidariteit-vakbond gevolg word om misdaad hoog op die regering se agenda te hou. AfriForum het ʼn volledige plan vir gemeenskapsbeveiliging bekend gemaak. Plaaslike gemeenskappe sal ook ondersteun word om eie gemeenskapsbeveiligingstrategieë in werking te stel. Die handhawing van wet en orde maak deel uit van die Solidariteit Beweging se regstrategie. AfriForum sal polisievergrype en -nalatigheid steeds in die hof aanspreek.

  1. Munisipale dienslewering

AfriForum gaan meer aktief betrokke raak by munisipale dienslewering. Drukgroepe op plaaslike vlak gaan gevestig word. Daar word voorsien dat daar binne drie jaar AfriForum-takke in gemeenskappe dwarsoor Suid-Afrika gevestig sal wees. Die gemeenskap bly die belangrikste waghond vir munisipale dienslewering en moet beter georganiseer word.

  1. Selfdoen

Een van die kernpilare van die bouplan is selfdoen. Dit beteken dat gemeenskappe meer selfverantwoordelikheid moet aanvaar. Om dit te bewerkstellig, is ʼn netwerk van burgerlike organisasies nodig. Die Solidariteit Beweging kan nie naastenby die volle verantwoordelikheid vir die burgerlike samelewing op hom neem nie. Burgerlike instellings sal meer verantwoordelikheid moet neem vir burgerregte, maatskaplike dienste, eiendomsregte en veiligheid op plaaslike vlak. Gemeenskapstrukture moet gevestig word sodat die gemeenskappe self verantwoordelikheid kan neem. Die Solidariteit Beweging steun alle organisasies wat plaaslike strukture het en moedig hulle aan om hulle strukture te versterk. Selfstandige gemeenskappe wat self verantwoordelikheid neem vir alle funksies binne die gemeenskap moet gestimuleer word. Die Solidariteit Beweging sal vennootskappe sluit met bestaande organisasies sodat die organisasies mekaar kan versterk.

  1. Maatskaplike ondersteuning

Mense raak al meer onder druk en Afrikanerarmoede is ʼn groeiende tendens. Dit is Solidariteit Helpende Hand se taak om die armoedesiklus te breek en om te keer dat mense in armoede verval. Weerlose mense gaan ondersteun word, en mense wat kan werk, gaan gehelp word om na die arbeidsmark terug te keer. Hier is die fokus weer eens op beurse en beroepsleiding. Takke wat moet help met die stryd teen armoede te voer, gaan dwarsoor Suid-Afrika gestig word. Daar is reeds sowat 115 Helpende Hand-takke in die land. Die Solidariteit Beweging neem met dank kennis van die talle ander maatskaplike organisasies en kerke wat wonderlike werk doen en sal graag met hulle saamwerk en hulle ondersteun waar nodig.

  1. Navorsing

ʼn Plan se sukses word bepaal deur sy intellektuele diepte. Boustrategieë kan slegs met goeie navorsing ontwikkel word. Die korrekte feite is onontbeerlik vir die dialoog oor wetgewing of ander onderhandelinge. Die Solidariteit Navorsingsinstituut gaan versterk word. Die NP van Wyk Louw Sentrum vir Kulturele Vryheid se rol is spesifiek om gereeld navorsingsverslae en boeke oor kulturele vryheid te publiseer.

  1. Jeug

Soos reeds aangetoon, gaan die grootste inset in ons jeug in die vorm van opleiding wees. AfriForum Jeug gaan voort met die vestiging van AfriForum Jeug by universiteite. AfriForum Jeug het die Tukkies-studenteraadsverkiesing oorweldigend gewen. AfriForum Jeug beplan ook ʼn jeugopleidingsinstituut wat jongmense sal toerus om hulle aktief in die burgerlike samelewing te handhaaf. Die Voortrekkers doen steeds goeie werk en verdien erkenning en ondersteuning daarvoor.

  1. Landbou en grondsake

Die Solidariteit Beweging beplan nie om direk by die landbou betrokke te raak nie. Daar is reeds sterk landbou-unies, naamlik TLUSA en AgriSA. Die Solidariteit Beweging sal dié instellings sover moontlik ondersteun in hulle stryd om voedselsekuriteit vir Suid-Afrika te verseker. Kraal Uitgewery se publikasie Treurgrond het die lig laat val op plaasmoorde. Die Solidariteit Navorsingsinstituut beplan ook ʼn verslag oor grondhervorming. AfriForum sal sy navorsing oor gemeenskapsbeveiliging ook aan landbouorganisasies beskikbaar stel.

  1. Media en kommunikasie

ʼn Bouplan van hierdie omvang waarvan steunwerwing en druk ʼn groot rol speel, kan nie uitgevoer word sonder goeie kommunikasie nie. Die bouplan is nie net tot voordeel van die Solidariteit Beweging, sy lede en hulle gemeenskappe nie, maar tot voordeel van die hele Suid-Afrika. Gevolglik word die Suid-Afrikaanse media as bondgenote gesien. Daarby gaan die Solidariteit Beweging sy eie media inspan. Die sosiale media en ander nuwe media-instrumente gaan ten volle ontgin word. Maroela Media gaan onder andere hiervoor aangewend word. Dit is ʼn volledige Afrikaanse nuwemediaplatform wat teks, video, klank, blogs en sosiale media gaan integreer. Solidariteit Radio se stem sal helder bly opklink. Boeke bly ʼn kragtige medium om idees oor te dra. Kraal Uitgewery gaan die onderliggende idees van die bouplan deur middel van boeke te bevorder. Die bouplan gaan ook deur talle netwerke en strukture bekend gestel word. Gemeenskapsradiostasies is krities belangrik en die Solidariteit Beweging sal gemeenskapsradio ondersteun waar moontlik.

  1. Finansies – die brandstof van die bouplan

Die instellings van die Solidariteit Beweging wat die bouplan moet uitvoer, moet almal ʼn ekonomiese enjin ontwikkel om hulle bydrae tot die plan sover moontlik te ondersteun. Dit is egter nie op sigself genoeg nie. Die Afrikaanse gemeenskap sal betrokke moet raak en help om die plan te finansier. Noue samewerking met AfriSake, ʼn Afrikaanse sakenetwerk, word beoog om te help om kapitaal vir die bouplan te mobiliseer. Ander kreatiewe fondswerwingsmetodes soos die vennootskap met die Afrikaanse korttermynversekering Virseker gaan ook in groter diepte ondersoek word. Die Solidariteit Beweging se buitelandse skakelkantoor gaan finansieringshulp uit die buiteland ontgin, en ook Suid-Afrikaners in die buiteland nader om te help om die bouplan te finansier.

Hierdie opsomming gee die breë trekke van die maniere waarop elke instelling van die Solidariteit Beweging verantwoordelikheid gaan neem vir die verskillende aspekte van die bouplan. Die instellings het reeds in die meeste gevalle hulle besigheidsplanne en begrotings vir die bouplan gefinaliseer.

Die bouplan gaan oor die volgende drie jaar ongeveer R1 miljard kos. Dit maak dit een van die grootste burgerlike projekte, sonder staatsbefondsing, in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Ons vertrou dat die bouplan by mense die hoop sal laat opvlam dat hulle gelukkig in Suid-Afrika kan bly woon, werk en woeker.

Dit is tyd om die vertroue te hernuwe

(Hierdie toespraak is op 16 Mei 2018 gelewer, tydens die bekendstelling van Solidariteit Jeug)

Geagte president, raadslede, eregaste, personeel en lede van die media,

Ons praat vandag oor ʼn toekoms vir die jeug. Maar dan moet ons seker maak dat die toekoms nie net ʼn voortsetting van die huidige toestand van die land is nie. Daar moet verandering kom, want Suid-Afrika is nie nou op ʼn goeie plek nie: In die politiek veg almal met almal; die staat verval stuk-stuk; die ekonomie staan feitlik stil; werkloosheid en armoede bly hoog; misdaad vier hoogty; rassisme steek sy lelike kop uit; gewelddadige protes is vernietigend; korrupsie word ʼn aansteeklike siekte; daar is ʼn voortdurende moddergooiery op sosiale media; en minderheidsgroepe soos Afrikaners verkeer onder ernstige druk.

Die oplossing is die wedersydse erkenning en respek tussen mense en gemeenskappe, want dit is noodsaaklik vir ons almal se vreedsame, volhoubare en voorspoedige voortbestaan. Daar is egter ʼn belangrike voorvereiste vir ʼn suksesvolle toekoms – en dit is vertroue.

My boodskap vandag is dat dit tyd geword het dat wedersydse vertroue hernuwe word omdat ons land tans gekenmerk word deur groeiende wantroue, toenemende teleurstelling en ʼn stygende woede oor alles wat verkeerd gaan. Hierdie probleem – wat ek ʼn vertrouenskrisis wil noem – is ʼn omvattende probleem wat baie breër is as net byvoorbeeld tussen swart en wit, of tussen verskillende politieke groepe, vakbonde of ander groeperings.

As ʼn beweging van 450 000 lede of gesinne wil en kan ons ʼn betekenisvolle bydrae maak om vertroue te verbeter, en om by te dra tot ʼn toekoms waarin ons almal blywend vry, veilig en voorspoedig kan leef. Dis elkeen se plig om te help verseker dat ons jongmense ʼn mooi toekoms in hierdie land het, en daarom is dit ons almal se plig om aan vertroue onder mekaar, en so vertroue in die toekoms, te bou.

Om vertroue te herbou, beteken nie dat jy jou eie belange hoef te verwaarloos nie – inteendeel. Dit beteken veel eerder dat jy jou eie en die algemene belang moet bevorder deur na oplossings te soek. Dit is so dat ons nie altyd gedeelde sienings het nie, maar ons het gedeelde belange, soos ʼn veilige land; soos ekonomiese voorspoed; soos die strewe na ʼn goeie werk; soos ʼn werkende staat; en soos gesonde verhoudinge tussen mense en gemeenskappe. Die sleutel daartoe is om te fokus op dít waaroor ons saamstem en deur te sorg dat dít waaroor ons in die land verskil, ons nie so hoef te verdeel dat ons mekaar al meer begin wantrou en beveg nie.

Die swak leierskap van die Zuma-jare het ʼn bepalende rol gespeel in die verswakking van eenheid en vertroue, maar as ons toelaat dat sy nalatenskap die land aanhou vergiftig, bly ons gyselaars van die verlede en gee ons aan hierdie treurige “leier” wat die land laat ly het, die finale oorwinning.

Maar as die hoofoorsaak van die vertrouenskrisis oor die afgelope jare die swak president was, dan is die goeie nuus dat hy uitgeskuif is en dat daar nou ʼn nuwe leier is wat besig is om homself te vestig. Dit is ongelukkig so dat mnr. Ramaphosa sleg weggespring het met die kwessie van onteiening sonder vergoeding wat mense verder uitmekaar gedryf het in plaas van nader aan gesamentlike oplossings gebring het. Die president sal moet leiding neem om die verdeeldheid te heel deur almal se fundamentele belange in ag te neem. Dis nou tyd om saam te werk aan die toekoms van die volgende geslag, en nie die land te verdeel op pad na die volgende verkiesing toe nie. Ons jeug verdien beter as politieke slagspreuke.

ʼn Land van verontregtes en gegriefdes?

Ek maak die sterk stelling dat dit lyk of ons land tans gekenmerk word deur ʼn groeiende wantroue, toenemende teleurstelling en ʼn stygende woede, en dat dit op ʼn vertrouenskrisis uitgeloop het. Dit geld vir bykans alle gemeenskappe, en kan onder meer gesien word in die daaglikse nuus wat mens soms laat wanhoop aan die toekoms. Die kern is te veel mense is té kwaad. Die goeie nuus is dat daar oor die algemeen nog goeie persoonlike verhoudinge is, maar politieke verhoudinge mag nie so verswak dat dit uiteindelik hartlike persoonlike verhoudinge besoedel nie.

Laat ek ʼn paar voorbeelde noem:

  • Talle swart mense voel kwaad oor swak of geen dienslewering en is teleurgesteld in die ekonomiese vrugte van politieke bevryding, wat soms onhaalbare verwagtings geskep het. Daarom is daar te veel vandalistiese proteste, in plaas dat griewe langs demokratiese weë gevoer word;
  • Talle armes en werkloses voel die regering laat hulle in die steek en die “rykes” (gewone werkendes) is die oorsaak van hul ellende;
  • Talle wit mense voel kwaad omdat hulle kwalik geneem word vir wat in die verlede gebeur het – dinge wat voor sommiges se geboorte plaasgevind het – terwyl ander nie verantwoordelikheid neem vir wat hulle nou aanvang nie. Dit help ook nie dat die regering die verlede bly blameer vir hul swak regering in die hede nie;
  • Landsburgers van alle rasse voel dat die regering hulle nie beskerm teen geweldsmisdaad nie;
  • Jong swart mense voel dat wit bevoorregting nog steeds voortgesit word, terwyl wit mense voel dat hul betreklike voorspoed ten spyte van benadeling is, en uit harde, eerlike werk spruit;
  • Jong wit mense voel hulle word benadeel deur rassewette sonder dat hulle ooit bevoordeel was, terwyl jong swart mense wat nie benadeel was nie, nou bevoordeel word;
  • Werkers voel hulle kry bykans niks vir al hul belasting nie, en moet al hoe meer vir al swakker en minder staatsdienste betaal terwyl hul swaar verdiende geld gereeld uitgemors word;
  • Sakelui voel die regering maak dit al moeiliker vir hulle om suksesvol voort te bestaan en dat sosialistiese vakbonde dit onmoontlik maak om werk te skep;
  • Talle Afrikaners ervaar dat die regering hulle teiken vir benadeling en hul grondliggende belange ondergrawe;
  • Sosialiste voel weer verontreg omdat hulle voel dat die regering die staatsmag moet gebruik om die “rykes” se swaarverdiende bates te “herverdeel” (die mooi woord vir afvat);
  • Daar is te veel onderlinge wantroue tussen rassegroepe, wat aangeblaas word deur gewetenlose politici wat nie deur die ANC tereggewys word nie. Dit lyk te veel of die EFF-stert die ANC-hond swaai.
  • Mense praat nie meer met mekaar nie, maar bykans net oor mekaar;
  • ʼn Groepie onverdraagsame kommentators (kenners sonder kennis) voer ’n vete teen AfriForum en Solidariteit, en misbruik hul bykanse monopolie in die openbare media deur heeltyd op ons te skreeu en met ekstreme groepe te vergelyk, asof die brandweer aan brandstigters gelykgestel kan word.

Natuurlik kan hierdie lysie langer of korter gemaak word afhangende van elkeen se persoonlike standpunte en ervaring, en vanselfsprekend kan daar ook baie positiewe punte genoem word. Die punt is dat al hierdie en ander knelpunte en vraagstukke besig is om ʼn groeiende vertrouenskrisis tussen die regering en verskillende groepe burgers te skep, en dat daar onder lede van alle gemeenskappe ʼn oplaaiende teleurstelling is met wat in die land gebeur.

Dit help nie om net die verlede onder apartheid, of Zuma se rampspoedige regering te blameer nie. Die verlede is verby, maar ons kan en moet iets aan die toekoms doen. Elkeen van ons kan vandag nog begin om verhoudinge te verbeter deur bloot ander mense op ʼn Christelike manier te behandel, en nie op grond van stereotipes wat jy op TV of sosiale media sien nie.

Gevolge van vertrouensbreuk

Daar bestaan ʼn “kontrak” tussen enige regering en sy burgers. Dit behels dat die burgers die regering toestemming gee om oor hulle te regeer en instem om die owerheid te gehoorsaam en belasting te betaal, mits die regering sy deel van die kontrak nakom deur die land goed te regeer, belasting verantwoordelik te gebruik, en sy kernfunksies soos veiligheid behoorlik na te kom. Die regering kom nie meer sy deel van die kontrak na nie, en dit is die rede vir die vertrouensbreuk met baie van sy burgers, swart en wit. Die ANC se ondersteuners het wel kanale om hul griewe in die party te hanteer, maar minderheidsgroepe is demokraties uitgesluit daarvan en kan nie hul vertrouenskrisis langs “normale” kanale hanteer nie. Die bewys hiervoor lê byvoorbeeld in die tallose gesprekke oor baie jare tussen verteenwoordigers van Afrikaanse organisasies met die ANC en die regering, wat sonder uitsondering op niks uitgeloop het nie. Hierdie vertrouenskrisis is besig om, onder meer, Afrikaners as minderheidsgroep, maar ook die land te benadeel.

Hierdie vertrouenskrisis lei tot vyf groepe se reaksies:

  • Onttrekkers: Hierdie mense het nie meer vertroue in die staat nie, en leef soos geprivatiseerde burgers wat net na hul eie belange omsien;
  • Landverlaters: Van broodnodige hoogs geskooldes wat totaal vertroue in die land verloor het (vertrouensbreuk), en nie net in die regering nie;
  • Opstandiges: Hulle kom byvoorbeeld in opstand teen swak dienslewering, maar niks kan opgebou word deur dinge af te breek of te brand nie;
  • Oorlewers: Hulle dryf maar net saam met die stroom en probeer self oorleef;
  • Opbouers: Hulle is lief vir die land, en al hou hulle nie altyd van die regering nie, reageer hulle opbouend deur te doen wat hulle kan met wat hulle het, waar hulle is.

Voorstel: hernuwe die vertroue met ʼn nasionale dialoog

Die Kanadese denker Charles Taylor het gesê dat tussengroepvertroue in multi-etniese samelewings nie vanselfsprekend aanvaar kan word nie, maar altyd ʼn werk-in-proses is. Dit is volgens hom baie belangrik dat dit gereeld hernuwe moet word omdat vertroue met verloop van tyd begin taan en kwyn, met negatiewe gevolge vir die land en alle betrokkenes.

Solidariteit se Hoofraad het gister besluit dat dit nodig is om vertroue te probeer hernuwe met gesprekke en ooreenkomste met die owerhede. Dit kan iets wees soos ʼn nasionale dialoog. Maar om te verseker dat dit nie maar weer net in ʼn doellose gepraat ontaard nie, bestaan daar twee voorwaardes vir die sukses van so ʼn gesprek:

  • Die eerste is dat wedersydse erkenning en respek vir mense, gemeenskappe en menselewens ononderhandelbaar is. Sekere van die ANC se beleidsrigtings het tot groot wantroue onder Afrikaners gelei. Ek wil dit duidelik stel dat ons uit ons pad sal gaan om vertroue te herbou, maar dat ons (soos Van Zyl-Slabbert) nie dink dat dit demokrasie is as twee wolwe en ʼn skaap “demokraties” moet besluit wat hulle vir aandete gaan eet nie;
  • Die tweede is dat daar nie maar net geluister word na mekaar se sienings nie, maar iets aan die probleme gedoen word. Ons is moeg om te praat oor die probleme soos onbillike rassewette, dorpsverval, geweldsmisdaad, en aanvalle op Afrikaanse skole en universiteite, sonder dat daar iets daaraan gedoen word. Dit lyk of daar ʼn totale onvermoë by die ANC teenwoordig is om verby hul eie eng ideologiese en rassegrense te kyk en om die belange van almal in die land in ag te neem. So ʼn gesprek met die ANC en die regering moet dus nie net ʼn eensydige verduideliking van regeringsbeleid wees nie, maar moet uitloop op ʼn ooreenkoms of ooreenkomste, byvoorbeeld in die vorm van ʼn opvolgskikking of ʼn kulturele ooreenkoms, wat wel in werking gestel word en nie soos al die voriges maar net op die rak bly lê nie.

Die vervreemding onder baie Afrikaners spruit uit ons ervaring dat die regering die grondwetlike ooreenkoms verbreek het waarvolgens meerderheidsregering verruil is vir minderheidsbeskerming. Onteiening kan “wettig” gemaak word deur howe, parlemente en wette, maar dit kan nie daardeur “REG” gemaak word nie. Hier praat ek nie net van die onteiening van grond nie, maar van Afrikaanse universiteite, mense se werk, aandeelhouding in besighede, skole en grondwetlike regte. Dis ons patriotiese reg en plig om standpunt in te neem teen beleidsrigtings wat die land gaan benadeel, of wat teen ons regeer of ons as tweedeklas of onderdane in plaas van vrye en gelyke burgers behandel.

Ons wil graag hê die land moet suksesvol wees, want ons en ons kinders bly ook hier. Ons wil graag help om die land suksesvol te maak, maar dan moet ons nie uitgesluit of uitgeskuif of geteiken word nie.

’n Hoofstroom- 80%-beweging wat streef na normaliteit

Ek wil dit duidelik stel dat ons nog nooit voorgegee het om “namens” Afrikaners te praat nie. Maar ons glo dat ons ten behoewe van bykans almal praat as ons byvoorbeeld eiendomsreg (of ander menseregte) bevorder, omdat onteiening almal in ʼn land benadeel. Ons is ʼn hoofstroom- “80%-”beweging van 450 000 mense wat net streef na normaliteit, en wat nie die twee uiterstes van die politieke spektrum verteenwoordig nie. Die Solidariteit Beweging glo nie aan vreemde, ekstreme, ingevoerde of uitgediende ideologieë nie.

Ons 80%-ideeraamwerk is breedweg:

  • Ons is gegrond op ’n Christen-demokratiese grondslag (met ʼn roepingsbesef);
  • Groeiende markekonomie;
  • Oppergesag van die reg;
  • Gesonde rassebetrekkinge en samewerkende verhoudings;
  • Federalisme, oftewel die erkenning van selfstandige gemeenskappe in plaas van sentralisme;
  • Veiligheid;
  • Goeie werk, en ʼn produktiewe, goed opgeleide en goed betaalde werksmag;
  • Moedertaalonderwys en -opleiding aan dié wat dit verkies;
  • Die gesin as bousteen van die gemeenskap;
  • Afrikaans, ons kulturele lewenswyse, geskiedenis en erfenisse;
  • Maatskaplike sorg vir weerloses; en
  • Veelvoudige identiteite, soos Afrikane, Afrikaners, Suid-Afrikaners en Afrikaanssprekendes.

Grondwetlike ruimtes en regte is nie “regs” nie, dis net normaal om na normaliteit te streef.

Dis tyd vir ʼn nuwe begin

Ons veg nie vir ʼn beter verlede nie, ons klou nie aan onregmatige voorregte vas nie, maar ons as gemeenskap wil deel van die toekoms wees. Ons jongmense verdien beter as om onwelkom en soos tweedeklasburgers in hul eie land te voel. Ons vra nie die onmoontlike nie, maar net vir vrye demokratiese ruimtes om ons taal en kultuur uit te leef.

Hoekom moet ons weens die toe deure in Suid-Afrika ons tot die buiteland wend? Hoekom bereik ons nie eerder ooreenkomste oor knelpunte en gaan dan saam beleggings in die buiteland werf nie? Hoekom moet die provinsie Noordwes ten gronde gaan, ten spyte daarvan dat AfriForum verlede Oktober ʼn ooreenkoms met die premier gesluit het om te help om die munisipale dienste reg te ruk? Hoekom laat ons toe dat misdadigers ons dag en nag teister, en sluit die polisie nie ingevolge wetgewing ʼn ooreenkoms met AfriForum se buurtwagte om landwyd almal se veiligheid te verbeter nie? Hoekom word die hand van samewerking wat ons uitsteek, nie gevat nie?

Die ANC kan nie alleen die land se probleme oplos nie, en niemand anders kan dit alleen doen nie. Ons wil graag op ʼn opbouende manier help om oplossings vir ons land en ons kultuurgemeenskap se probleme te ontwikkel. Daarom steek ons ons hand in vriendskap na die nuwe president en die regering toe uit. Dis ʼn oop hand, nie ʼn gebalde vuis nie, maar ook nie ʼn pleitende bedelhandjie nie. Ons het respek vir die owerheid, maar ons het ook ons selfrespek. Ons glo baie sterk aan versoening, maar verwerp die verskraling daarvan tot ʼn blote inlywing by die meerderheid. Hoekom met minderhede veg vir dit wat meerderhede as vanselfsprekend aanvaar? As die regering nie vir ons kultuurgemeenskap ook omgee nie, aanvaar ons die verantwoordelikheid vir ons eie toekoms.

Dis tyd vir ʼn nuwe begin: Kom ons begin met mekaar praat en werk saam aan ʼn nuwe toekoms vir die land en al sy mense.

 

Vrystede as model vir groeiende gemeenskap-selfstandigheid

(Hierdie toespraak is op 3 Mei 2016 by Orania se Stadskonferensie gelewer)

Die Amerikaanse ekonoom Paul Romer se verbeeldingryke idee van vrystede het die afgelope dekade ’n opskudding veroorsaak. Vrystede is stede wat onder ’n spesiale “handves” regeer word, en nie aan al die gewone staatswette onderhewig is nie. Dit word volgens selfgekose politieke, ekonomiese, en kulturele stelsels geregeer. Dié stede geniet afgewentelde selfbestuur. Dit maak dit moontlik om pasmaak stelsels te ontwerp en beter besluite te neem omdat die regeerders meer in voeling met plaaslike omstandighede is.

In 2008 was 112 van Kalifornië se stede al vrystede, waarvan Los Angels en San Francisco die bekendstes is. Die beste voorbeeld van ’n vrystad is sekerlik Hongkong, wat saam met die stadstaat Singapoer as model vir China se vinnige ekonomiese ontwikkeling gedien het. Die Chinese leier Deng Xiaoping het in die tagtigerjare vier vrystede naby Hongkong as loodsprojekte begin om te sien hoe die vryemarkstelsel in China kan werk. Na die sukses van hierdie stede het hy nog 14 sulke stede as “spesiale ekonomiese sones” begin en daarna die model oor die hele Ooskus van China gekloon. Uiteindelik het China “stad vir stad” tot ʼn moderne staat ontwikkel. Die regeerders van hierdie gebiede het beleggers, besighede en geskoolde werkers met hul vernuwende ekonomiese en politieke stelsels getrek. Só het die vrystadmodel van Hongkong die lanseerplatform van die opkoms van China geword volgens die beginsel van “een land, twee stelsels”.

Derdewêreldlande

Romer, ’n ekonoom aan die Stanford-Universiteit, het bekendheid verwerf vir sy voorstel dat ryk lande vrystede op oop gebiede in arm lande help begin en dit dan onder ’n spesiale handves regeer. Die doel is om hierdie suksesmodel dan na groter gebiede uit te brei, totdat die hele land naderhand beter regeer word. Romer is reeds in 1997 as een van Times se 25 invloedrykste persone benoem, en hy het in 2012 die tydskrif Foreign Policy se lys van honderd top-denkers in die wêreld gehaal. Sy lesing op TED se wêreldkonferensie in 2009 het hom regoor die wêreld bekend gemaak, en talle lande eksperimenteer met sy idees om die Hongkong-voorbeeld regoor die wêreld uit te voer.

Twee stelsels

Romer se vertrekpunt is dat swak regering die grootste oorsaak van armoede, werkloosheid en omgewingskrisisse is. Hy vergelyk die reuseverskille tussen lande wat gelyk begin het, maar in twee regeringstelsels verdeel is, byvoorbeeld Oos- en Wes-Duitsland, Noord- en Suid-Korea, en natuurlik China en Hongkong of China en Taiwan. Die enigste verskil tussen die voorspoed van die een deel en die ellende van die ander deel was die verskillende regeringstelsels.

Die Chinese leiers het nes Romer geglo dat dit te moeilik is om ’n hele land dadelik te verander en dat dit makliker is om met ’n stad as lewende eksperiment te begin. Dit gee mense die vryheid om die nuwe stelsel te benut of ʼn oue te behou. Dis ook klein genoeg om genoeg proefnemings te doen voordat dit op ’n groter skaal uitgevoer en gekloon word. Romer voel veral sterk daaroor dat dit te moeilik is om bestaande stede met gevestigde stelsels en lewenswyses te verander omdat dit tot groot weerstand teen verandering kan lei. Sy voorstel is dat dit beter is om eerder nuwe stede te ontwikkel wat van die begin af volgens die nuwe reëls gebou is.

Suid-Afrika

Die Suid-Afrikaanse regering het die Chinese eksperiment hier in ’n afgewaterde vorm probeer herhaal. In 2014 is die Wet op Spesiale Ekonomiese Sones (Wet no. 16 van 2014) deurgevoer en areas soos Coega, Richardsbaai, Oos-Londen en Saldanhabaai aangewys. Daar bestaan dus reeds ʼn plaaslike regsraamwerk vir Romer se idees.

In die praktyk is private dorpe wat hulself regeer besig om landwyd te ontstaan. Die toenemende gewildheid van hierdie “vrydorpe” – wat ál meer en ál groter raak – is te danke aan beter veiligheids-, water-, elektrisiteit-, omgewings-, ontspannings-, onderwys- en leefstyldienste as wat die regering aan burgers kan lewer. Hier maak inwoners en ontwikkelaars in die praktyk hulle eie “wette” en val hulle nie in dieselfde mate onder dieselfde reëls as die res van die land nie. Die vinnige opkoms van hierdie dorpe staan in die teken van ’n staat wat al vinniger verswak en nie meer basiese dienste tot bevrediging bied van diegene wat dit kan bekostig nie. Dit is ook ’n vergestalting van mense wat self oor hulle lewens wil besluit, en nie meer swak regeer wil word nie. Namate die gesentraliseerde politieke stelsel misluk, stel die bevolking self federale oftewel gedesentraliseerde oplossings in werking. Die probleem is dat hierdie dorpe net vir die meer welvarende groep bekostigbaar is, en dat mense hier kliënte eerder as burgers is.

Kultuurdorpe

Hierdie vrydorpe bied ’n oplossing vir die persoonlike behoeftes soos veiligheid en lewensstyl, maar dis nie ʼn oplossing vir mense se kulturele- en gemeenskapsbehoeftes nie. Omdat hulle steeds deel van stede is, is die vlak van outonomie wat hulle kan uitoefen ook uiters beperk. Hulle is ook steeds blootgestel aan die verswakkende bestuur van die stede. Die vraag is egter of hierdie groeiende verskynsel ook ’n oplossing bied vir gemeenskappe wat voel dat hul taal, kultuur, leefwyse en veiligheid in gedrang is? Die vraag geld vir mense wat dit saam as gemeenskap en nie net as gegoede enkelinge wil beskerm nie.

As soveel mense op grond van beter veiligheid en leefstyl saam wil groepeer, geld dieselfde beginsel sekerlik ook vir diegene wat graag op grond van hul taal en kultuur saam wil groepeer. Daar kan selfs ’n saak daarvoor uitgemaak word dat die Grondwet sterker voorsiening maak vir kultuurgemeenskappe wat hulle belange wil beskerm, as vir enkelinge wat dit in ’n  private dorp wil doen.

Orania as groeiende vrystad

Maar hoe sal so ’n kulturele vrystad in die praktyk kan werk? Die antwoord hierop is reeds enkele jare gelede ontwikkel deur prof. Dan Kriek, voormalige hoof van politieke wetenskap aan Unisa. Hy het Orania in die Noord-Kaap as voorbeeld gebruik en ’n moontlike grondwetlike “padkaart” voorgestel waarvolgens só ’n dorp tot ’n betekenisvolle vlak van selfstandigheid kan ontwikkel in terme van Artikel 235, 156 (Munisipaliteite), 104 (1) (Provinsies), 126 (Toedeling van funksies), 99 (Munisipale funksies), 125 (Provinsiale uitvoerende magte) en 41 (Samewerkende Regering) van die Grondwet. Hy het aangetoon dat dit vir Orania binne die Grondwet moontlik is om tot ’n soort vrystad te ontwikkel wat, indien dit polities beding word, selfs provinsiale status of selfs meer kan geniet. Die kern van sy voorstel was dat ’n dorp soos Orania algaande meer magte en funksies van die provinsiale en selfs nasionale owerheidsvlakke kan laat afwentel namate die dorp groot genoeg groei tot hulle in staat is om dit uit te voer. Daar kan later natuurlik nog naasliggende “Orania”-kultuurdorpe ontwikkel word.

Hoewel Orania weliswaar gekniehalter word deur die politieke bagasie van ’n “rassistiese volkstaat”, is dit grondwetlik moontlik as genoeg Afrikaners só ’n projek sou ondersteun. Die dorp voldoen nie nou aan die vereistes van ’n vrystad nie, maar as hy sy politieke beeld kan verbeter en sy ontwikkeling versnel kan hy deel van Romer se vrystad-idee word. Die dorp beskik reeds oor veel beter bestuur en veiligheid as die meeste ander klein dorpies in die land.

Modeldorp

Die nuwe strewe om Orania van ’n dorp tot ’n stad uit te bou in plaas van ’n volkstaat, is meer werkbaar en in lyn met die nuutste ontwikkelings soos deur Romer bepleit. Orania het bepaalde nadele soos sy afgeleë ligging, klein getalle en politieke beeld. Dié nadele moet opgeweeg word teen die voordele van ’n nuwe begin, die veilige afstand van onstuimige stedelike bevolkings, en die kans om op ’n betreklik leë gebied in die praktyk hoë vlakke van outonomie te geniet. Geen “toestemming” van die owerheid is hiervoor nodig nie, omdat daar nie digte staatstrukture bestaan nie. Hoe vinniger die dorp groei, hoe meer provinsiale en selfs nasionale funksies kan vanaf die sentrale owerheid afgewentel word in terme van die Grondwet en bestaande wetgewing soos deur Kriek voorsien. Die dorp se bestaande goeie betrekkinge met die Xhosa-gemeenskap van Mnyameni en die provinsiale regering, verbeter hul kanse om gesamentlik met die owerheid vir meer magte of spesiale status soos spesiale ekonomiese sones te onderhandel. Dit kan die dorp in staat stel om mettertyd meer magte uit te oefen, totdat dit in ’n vrystad met ʼn omliggende string vrydorpe met eie politieke, ekonomiese, kulturele, opvoedkundige en arbeidstelsels kan ontwikkel. Deur hierdie lesse en stelsels met ander dorpe en gemeenskappe te deel, kan Orania juis ’n model word van ’n vrystad wat met ander vennote saamwerk.

Op dié wyse kan ’n suksesvolle Orania binne ’n dekade moontlik as model dien om armoede die hok te slaan, gemeenskappe te bemagtig en hul taal, kultuur en omgewing te bewaar. Orania kan moontlik selfs in ’n mededingende alternatief tot emigrasie ontwikkel vir mense wat so aan die toekoms twyfel dat hulle wil emigreer. Interne migrasie is beter vir die land as buitelandse emigrasie. Die bepalende suksesfaktor gaan die mate van ondersteuning wees wat die dorp gaan kry van Afrikaners wat groter selfstandigheid ondersteun. Orania se sukses hang dus van die voorstanders van selfbeskikking af, en nie van die regering nie. Reusevordering kan binne enkele jare gemaak word as voorstanders van selfbeskikking die kans aangryp om die dorp tot ’n vrystad uit te bou, in plaas daarvan om net te kla oor hoe swak hulle deur die ANC regeer word. Diegene wat dit steeds as ʼn onhaalbare lugkasteel sien, moet dit opweeg teen wat ander as die onvolhoubare Suid-Afrikaanse sandkasteel sien.

Só ’n projek kan steeds vryheid van keuse bied – diegene wat daarmee verskil, hoef dit nie te ondersteun nie. Dit kan wel ’n politiek-kulturele uitlaatklep bied vir ’n groot groep Afrikaners se groeiende vervreemding van die huidige bestel. Dit kan ook ’n kulturele kragstasie word wat dienste aan Afrikaanse gemeenskappe bied wat oor tien jaar hoogs waarskynlik nie meer in die meeste dorpe en sommige stede gaan bestaan nie. Natuurlik het hierdie voorstel vir ’n kultuurdorp as deel van die Suid-Afrikaanse verskeidenheid baie leemtes, en sal dit ’n klein onderdeel van ’n groter oorlewingsplan uitmaak. Maar enige voorstel moet teen die ander toekomsmoontlikhede opgeweeg word. Selfs indien daar net ʼn  5% risiko is dat die bestaande bedeling nie gaan slaag nie, is dit dan des te meer net verantwoordelike risikobestuur om in 5% van jou planne ook vir ʼn prakties uitvoerbare plan vir kulturele vrystede voorsiening te maak. Daar is nie meer volmaakte oplossings oor nie, en die bal is in die hande van voorstaanders van selfstandigheid om te wys dat so ’n praktiese voorstel wel kan werk.

 

Misdaad kán met goue driehoek verslaan word

(Hierdie toespraak is op 9 Mei 2017  gelewer tydens die AfriForum-veiligheidsberaad)

Op 7 Oktober 1969 het die rustige stad van Montreal in Kanada in ʼn nag van misdaad, geweld en terreur ontplof. Hierdie gebeure word bykans 50 jaar later steeds deur polisiemagte bestudeer om lesse uit die verband tussen misdaad en wetstoepassing te leer. Die destydse staking van die polisie en die brandweer in Montreal is ná dekades steeds die beste voorbeeld van hoe ʼn wêreld sonder ʼn sterk polisiemag sal lyk. Die dreigende staking oor griewe wat oor ʼn lang tyd opgebou het, is nie ernstig deur die stadsvaders geneem nie. Geen voorsorg is getref toe die staking begin het nie. Daar kon tog eintlik niks in die slaperige Montreal van 1969 skeefloop nie.

Maar toe nou nie. Die gewoonlik rustige en wetsgehoorsame stad het bykans in vlamme opgegaan! Toe 16 uur van misdaad en wanorde uiteindelik deur die haastige inroep van die weermag en provinsiale polisie en ʼn parlementêre noodsitting van Quebec beëindig is, het die rook letterlik oor die stukkende stad gehang. Tien banke is beroof, meer as 100 winkels is geplunder, 12 brande het gewoed, miljoene dollar se skade is aangerig en sowat 40 vragte glas was nodig om winkelvensters te herstel.

Die belangrikste les hieruit is treffend opgesom deur lord William Rees-Mogg, voormalige redakteur van die Londense Sunday Times. Hy het gesê dat die “logika van geweld is dat geweld net in toom gehou kan word deur die vrees vir groter geweld”. Daardeur het hy bedoel dat misdadigers net afgeskrik word as hulle weet dat die polisie groter geweld teen hulle sal gebruik as wat hulself teen hul slagoffers gebruik. Geweldsmisdaad kan dus net deur geloofwaardige afskrikking voorkom word. Daardeur bedoel ek nie dat daar nie ook ander oorsake soos sosio-maatskaplike of demografiese redes vir misdaad bestaan wat ander oplossings verg nie. My punt is bloot dat niemand veilig sal wees as die wil en vermoë om burgers veilig te hou, nie bestaan nie.

Burgerlike betrokkenheid

Wat beteken dit vir Suid-Afrika? Die jarelange wanbestuur van die polisiediens deur die regering het veroorsaak dat die polisie nie meer ʼn groot genoeg afskrikking vir misdadigers inhou nie. Dit is die grootste rede vir die gewelds- en misdaadplaag wat ons samelewing so teister. Wetsgehoorsame burgers bly toegesluit in tronke van heinings, tralies en mure terwyl misdadigers vry buite rondloop en roof, steel en plunder.

Maar ons kan nie net die polisie verwyt nie. Ná 1994 het daar ʼn soort vrywillige en “eensydige ontwapening” plaasgevind. Mense het in massas hul wapens gaan inhandig, en nie meer hul kinders geleer om wapens te hanteer nie. Dis asof hulle gedink het dat wettige selfverdediging in die nuwe bedeling uit die mode geraak het of nie meer nodig sou wees nie. Daarom het die verswakking van die polisie en die eensydige ontwapening van die burgery tot ʼn soort onverklaarde “misdaadoorlog” deur geweldsmisdadigers gelei. Hierdie kriminele het soos roofdiere op die grootliks ongewapende en meestal weerlose burgery toegesak. Elke dorp en stad en straat en plaas het ʼn soort “Montreal 1969” geword.

Die Nederlandse denker Bob Goudzwaard het dekades gelede al gesê dat die Afrikaner se geskiedenis ʼn stryd om oorlewing was, en nie ʼn stryd vir oorheersing nie. Burgerlike betrokkenheid in veiligheid is niks nuuts nie omdat Afrikaners nog altyd hulself beskerm het. Ons het ook nie net na ons eie veiligheid omgesien nie, maar nog altyd, van die Voortrekkertyd af, vennootskappe met ander groepe in die land aangegaan. Lees maar oor die Voortrekkers se alliansies, pres. Paul Kruger se diplomatieke betrekkinge en die ou weermag se vennote. Hoeveel van julle het nie byvoorbeeld saam met Unita in Angola geveg nie! Die voortgaande verswakking van die staat se vermoë om sy burgers veilig te hou maak dit noodsaaklik dat die gemeenskap nou weer saamstaan om hulself te beskerm.

Wêreldwye verskynsel

ʼn Gemeenskap wat saamstaan om sy eie veiligheid te verseker is ook nie net ʼn Suid-Afrikaanse verskynsel nie. Die Israelse militêre strateeg Martin van Creveld sien geweldsmisdaad as ʼn wêreldwye probleem en stel dit soos volg: “Namate misdaad toeneem en die vermoë van state en regstelsels om hul burgers te beskerm afneem, bestaan die gevaar dat misdaad in ʼn lae intensiteit “oorlog” ontwikkel, volgens rasse-, godsdienstige, sosiale en politieke grense. “Staatsveiligheidsdienste sal waarskynlik gaandeweg vervang word deur groeiende private veiligheidsdienste en selfs stedelike gemeenskappe wat beter in staat en toegerus sal wees om die bevolking te beveilig.”

Misdaad en terreur

Van Creveld waarsku ook dat die bestaande grense tussen misdaad en terreur (oorlog) sal vervaag en selfs kan verdwyn, iets wat reeds in lande soos Libanon, Peru, Sri Lanka, en Colombia gebeur het. Volgens hom kan geweld net afgeskrik word deur oorweldigende mag. Let wel dat ek die klem lê op afskrikking deur mag, en nie deur die gebruik van mag nie, want as jy die mag het, hoéf jy dit nie te gebruik nie. Niemand is lus om ʼn groot gewapende gemeenskap aan te val nie.

Die bekende skrywer Robert Kaplan waarsku in sy boek The Coming Anarchy oor die wêreldwye toename in geweldsmisdaad. Hy sê dat namate staatsmag kwyn, en daarmee saam die staat se vermoë om kwesbare groepe te beskerm afneem, bevolkings en kultuurgroepe regoor die wêreld al meer op hulself aangewese gaan wees. Persoonlike veiligheid gaan vir mense baie belangriker as politieke vraagstukke word. Burgerlike betrokkenheid by gemeenskapsveiligheid kom algemeen voor in die VSA, Indië, Brittanje en Nieu-Seeland. In talle arm lande sonder sterk polisiemagte handhaaf tradisionele owerhede doeltreffend wet en orde.

Dit ís nou maar so, in die woorde van die Britse veiligheidskenner John Keegan, dat die “gety van konflik” van die armes na die rykes vloei. Gemeenskappe het die reg én die plig om hulself op enige wettige manier te beskerm, volgens ons Grondwet, wetgewing en die internasionale reg.

Goue driehoek

Die goue driehoek van ʼn veilige samelewing, is oral ter wêreld ʼn sterk polisiemag, doeltreffende private sekuriteit en ʼn goed georganiseerde burgery. Ons sal veilig kan slaap as ons beter georganiseerd is as die misdaadbendes. Indien een van hierdie drie bene nie goed werk nie, vergroot dit die las op die ander twee. Gelukkig is Suid-Afrikaners histories nog altyd betrokke in die beskerming van ons eie gemeenskappe. Dis nie ʼn nuwe ding nie. Dink maar aan die geskiedenis van die burgermagte, polisiereserviste, kommando’s, burgerlike beskerming en buurtwagte. Wettige, werkende, opgeleide en toegeruste buurtwagte wat in vennootskap met die polisie en private sekuriteit werk, is die beste afskrikking teen die misdaadvlaag wat die land teister. Weerbaarheid is die enigste antwoord op weerloosheid. Die groot voordeel is dat nuwe tegnologie en kommunikasietoerusting besig is om die wêreld van misdaadvoorkoming onherkenbaar te verander. Die militêre geskiedenis is nie verhaal van oorwinnings deur meerderhede nie, maar deur beter tegnologie. Tegnologie gee vir wetsgehoorsame burgers ʼn mededingende voordeel bó misdadigers. Die ontwikkelings wat ek die afgelope maande by AfriForum en ons vennote gesien het, gee my moed dat misdaad verslaan kan en gaan word.

Die goue driehoek se grootste waarde lê in misdaadvoorkoming. Hier is drie goue reëls van die Chinese militêre wysgeer Sun Tzu van toepassing: “Die voorkoming van geweld en bedwinging van die vyand is beter as om ʼn geveg te wen.” Daarom moet buurtwagte in staat wees om deur sigbare magsvertoon en weerbaarheid inderwaarheid “minimum geweld” toe te pas, sodat dit nooit nodig sou wees om “maksimum geweld” – naamlik wettige wapengeweld ter selfverdediging – te gebruik nie. Maar onthou ook Sun Tzu se tweede goue reël: “Die geskiedenis leer ons om nie staat te maak dat die vyand nie gaan aanval nie, maar dat ons reg is om te wen wanneer hy kom.”

Winston Churchill het tereg gesê jy kan nie kies dat daar nie konflik gaan wees nie, jy kan net kies om te wen wanneer dit kom. Dit sluit aan by Sun Tzu se derde reël: “Wen voordat jy veg”, waarmee hy bedoel dat jy die omstandighede moet skep wat die vyand se nederlaag sal verseker.

Vyf sirkels

Vir my behels die skep van hierdie omstandighede wat afskrik of ʼn oorwinning verseker die vestiging van “vyf veiligheidsirkels” om jou. Die eerste is om jou woongebied en straat (plaasdistrik), die tweede is om jou erf, die derde om jou huis, die vierde om jou slaapgedeelde, en die vyfde jou persoonlike bewapening.

Tienpunt-veiligheidsplan

Voordat ek by my siening van ʼn tienpunt-veiligheidsplan uitkom, wil ek dit duidelik stel dat ons geen politieke doelwit met ons buurtwagstrategie nastreef nie. As radikale politici ons dreig moet ons hulle glo en daarvoor beplan, maar met die klem op veiligheid eerste en laaste. Dit gaan eerste en laaste om ʼn veilige toekoms te verseker vir ons lede, ons gemeenskap en vir die breër bevolking. Dit is so dat ons in ʼn land leef waar geweld soos ʼn veldbrand kan versprei, soos die xenofobiese aanvalle of wat in Coligny gebeur het. Die gevaar van ʼn “oorspoel”-effek van diensleweringsproteste moet ook nie buite rekening gehou word nie.

  1. Besef dat misdadigers ʼn onverklaarde “misdaadoorlog” voer, en beplan daarvoor.
  2. Goue driehoek van SAPS, sekuriteit en buurtwagte kan die stryd teen misdaad wen.
  3. Bewapen jouself (wettig) en leer om wapens veilig en doeltreffend te gebruik.
  4. Veiligheid deur netwerk van weerbaarheid: Help om jou buurtwag goed te organiseer.
  5. Sluit vennootskappe: SAPS, GPF’s, sekuriteit, swart gemeenskappe, media ensovoorts.
  6. Verhoudinge: Wedersydse erkenning en respek is die regte en veilige ding.
  7. Hou aan veg vir die hervorming van SAPS.
  8. Bevorder ekonomiese beleid wat werk skep en aan ander oorsake aandag gee.
  9. Verband tussen demografie en misdaad: Konsentrasie bevorder veiligheid.
  10. Skep eilande van veiligheid, die see gaan altyd rof wees.

Goeie organisasie, deeglike opleiding, nuwe tegnologie, aktiewe gemeenskapsteun en samewerking met die polisie en private sekuriteit gee aan buurtwagte ʼn klinkklare voorsprong bo kriminele bendes. AfriForum en die Solidariteit Beweging gaan ons mense nie alleen laat nie. Ons gaan op die voorpunt van die stryd teen die misdaadplaag veg tot ons saam die stryd gewen het. Gemeenskapskrag is sterker as misdaadmag. Kom ons vat mekaar se hande, vorm ʼn landswye veiligheidsnetwerk van staal en maak ons strate en ons gesinne veilig. Ons kan saam die stryd teen misdaad wen!

 

Krisisberaad: Raamwerk vir ’n toekomsplan van hoop

(Hierdie toespraak is gelewer deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, tydens die Beweging se Krisisberaad wat op 5 Mei 2015 in Pretoria gehou is.)

 Waarom ʼn krisisberaad?

Die Solidariteit Beweging het die Krisisberaad saamgeroep om te besin oor die groeiende krisis in die land en om oplossings daarvoor te ontwikkel. Ons doel is nie om net te praat oor die probleme nie, maar om iets daaraan te doen, want ons is hier om te bly. Daarom is hierdie beraad eerder ’n doenskrum as ’n dinkskrum. Vandag is die begin van ’n groter proses om omvattende oplossings te ontwikkel en in werking te stel. Natuurlik besef ons goed dat die land en ons gemeenskap se probleme nie oornag opgelos kan word nie. Ons gaan nietemin nie sit en wag vir langtermynplanne nie, maar ons gaan vandag reeds ’n pakket met korttermyn-aksieplanne ter tafel bring om solank die bal aan die rol te sit. Wees egter verseker dat u vorentoe nog ruim geleentheid sal kry om verdere insette te lewer.

Ons beweging het die afgelope paar jaar van krag tot krag gegaan en gegroei, en dit is nou ’n hedendaagse Helpmekaar-beweging van selfhelp-doenorganisasies wat ’n omvattende reeks dienste aan ons gemeenskap lewer. Dit is met groot dankbaarheid dat ek vandag kan aankondig dat ons ledeorganisasies (die vakbond Solidariteit, AfriForum, die Solidariteit Helpende Hand en ons kultuurvennoot die FAK) die afgelope maand gesamentlik ’n ledetal van 300 000 bereik het! As ons lede se gesinne by hierdie syfer ingesluit word, beteken dit waarskynlik dat ons nou nagenoeg ’n miljoen mense verteenwoordig. Daarmee probeer ons nie voorgee dat ons nou namens alle Afrikaners kan praat en besluit nie, maar ons aksieplanne is ten bate van Afrikaners se reg om blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika te kan voortbestaan, ook tot voordeel van die land en sy mense.

Die dubbele krisis van staatsverval en tweedeklasburgerskap: die gevaar van staatsverval

Wat bedoel ons daarmee dat Suid-Afrika in ’n krisis verkeer? Daar is toenemende tekens dat die agteruitgang in die land besig is om al vinniger te versnel. Die groot gevaar is dat dit lateraan ingevolge die “wet op versnelde agteruitgang” tot staatsverval kan lei. Dit gebeur wanneer iets wat op ’n glybaan na onder is, al hoe vinniger begin afgly totdat dit naderhand in ’n onkeerbare spiraal na die bodem toe spoed. Die “sneller” hiervoor is gewoonlik ’n onverwagse gebeurtenis wat soos ’n vallende domino ’n ketting van gebeure ontketen. Dink maar net hoe die aanvalle op vreemdelinge soos ’n vinnige veldbrand versprei het.

Wanneer ’n Derdewêreldland inplof, is dit soos iemand op ’n fiets wat op ’n plaaspad val. Dit is seer en stowwerig, maar jy kan dadelik weer opklim en verder aanry. As ’n moderne land egter verval, is dit soos ’n vliegtuig wat neerstort. Dit gebeur nie baie nie; dit neem lank voordat dit gebeur omdat ’n vliegtuig ver kan sweef, maar as die vliegtuig val, is dit ’n ramp waarvan nie gou weer opgestaan kan word nie.

Suid-Afrika het gelukkig nog nie “geval” nie, en daar is nog baie positiewe dinge in die land ook, wat ’n mens hoop gee dat die land nie sommer totaal sal verval nie. Maar die rooi ligte flikker, want groot dele van die staat het al verswak of geval en dit kan die res begin omstamp soos die domino waarna ek verwys het. Dink maar aan die 80% van die openbare skole wat al verval het; die talle dorpe wat nie meer behoorlike munisipale dienste kan lewer nie; soveel staatshospitale wat faal om ’n gesondheidsdiens te lewer en waar mense doodgaan weens ’n gebrek aan mediese diens; ’n polisiediens wat nie meer die land se mense kan veilig hou nie; en die talle staatsdepartemente wat in werklikheid eerder werkskeppingsprojekte is wat nie werk nie. Die feit dat sommige mense nog nie hierdie verval raaksien nie omdat hulle op Eerstewêreld-eilande leef wat nie van die staat afhanklik is nie, verander niks aan die feit van ’n falende staat nie. Buitendien het beurtkrag die verval tot in ons huise gebring; is die vandalisering van ons monumente wyd beleef as ’n simboliese aanval op ons gemeenskap; en het die geweld teen vreemdelinge mense laat wonder waartoe mense, wat normaalweg vreedsaam is, binne ’n oogwink in staat is. Gelukkig bestaan ’n land nie net uit die staatsektor nie, maar het die land ook lewendige en sterk privaat en burgerlike sektore.

Ek wil die sewe ergste staatskrisisse kortliks opsom voordat ons na oplossings begin kyk:

  1.  Die ideologiese krisis: Die krisis hou daarmee verband dat die regering ná 21 jaar nog nie ’n werkbare regerende ideologie kon ontwikkel nie, maar steeds vasklou aan uitgediende opposisie- /struggle-resepte uit die Koue Oorlog-era. Dit word al duideliker dat die regerende party tydens die destydse grondwetlike onderhandelinge toegewings gemaak het om die mag te kry, en nou die mag gebruik om hul oorspronklike doelwitte deur te stoomroller. Dít is ’n giftige mengsel van rassenasionalisme onder die dekmantel van “transformasie” en outoritêre politieke en onbekostigbare ekonomiese sosialisme. Die ANC het dit herhaaldelik duidelik gestel dat die doel van hul transformasiebeleid is om beheer van alle “magsentrums” oor te neem, met “African”-heerskappy (hegemonie) as doelwit.
  2.  Die politieke krisis: Ons stelsel, wat deur een party oorheers word, lei tot al minder vryheid vir die ekonomie; die opposisie; die media; die regbank; grondwetlike instellings soos die openbare beskermer; staatsinstellings; die burgerlike samelewing; en die beperking van die vryheid van taal- en kultuurgroepe. As dit nie gekeer word nie is die uiteinde hiervan ’n vryheidslose, ondemokratiese “demokrasie.”
  3. Die regeringskrisis: Dit word al duideliker dat die regering nie ’n moderne land kan regeer nie. Dit is die hoofoorsaak van die versnellende verswakking van die staat en dít deur self-toegediende wonde soos byvoorbeeld die regering se rassebeleid. Daarom ontstaan daar ’n groeiende gaping tussen wat die regering wil doen en wat die staat kan doen.
  4. Die grondwetlike krisis: Die grondwetlike gesag raak al meer ondergeskik aan politieke mag. Vanweë “Zumafikasie” word Suid-Afrika al meer deur persoonlike en politieke netwerke, in plaas van deur grondwetlike instellings, regeer.
  5. Die ekonomiese krisis: Die politiek het verwagtings geskep waaraan die ekonomie nie kan voldoen nie en wat die onvolhoubare toestand dat 3 miljoen belastingbetalers ’n bevolking van 55 miljoen mense moet versorg, tot gevolg het.
  6. Die bedelingskrisis: Die krisis het tot gevolg dat die ingeboude struktuurfoute onder meer daartoe lei dat meerderheidsregering oorgaan in meerderheidsoorheersing.
  7. Die kulturele krisis: Die krisis vergestalt hom daarin dat die demokratiese ruimtes van grondwetlik erkende kultuurgemeenskappe algaande kwyn vanweë die krimpende politieke ruimtes, en dié kultuurgemeenskappe se instellings oorgeneem en elke aspek van hul lewens deur die meerderheid beheer/oorheers word en dít deur die beleid van “verteenwoordigendheid.”

Hiermee tesaam kan nog talle ander krisisse genoem word, soos die maatskaplike krisis weens gesinsverbrokkeling; die misdaadkrisis; die groeiende krisis van die land se infrastruktuur soos elektrisiteits- en waterverskaffing; die omgewingskrisis; die waardekrisis; die krisis in die arbeidsmark wat blyk uit hemelhoë werkloosheid en armoede; die tekens van agteruitgang in ons regstelsel met gevalle van straflose korrupsie van politieke leiers; en die demografiese krisis wat homself uitspeel.

Gelukkig is daar ook nog sterk dryfkragte wat staatsverval teenwerk, soos die meervoudige magsentrums in die land; die sterk moderne sektor met sy groeiende middelklas; die veelvlakkige verskeidenheid in die land wat algehele magsentralisasie bemoeilik; die groot groep goed opgeleide mense; die gedeelde Christelike waardes; die onafhanklike howe en die regstelsel; die luide opposisiepolitiek; tegnologie wat mense bemagtig; die kulturele kapitaal in talle gemeenskappe; en die wakende oog van die buiteland.

Die dubbele krisis van staatsverval en tweedeklasburgerskap: Die gevaar van tweedeklasburgerskap

Daar word dikwels gesê dat dit ekonomies nog goed gaan met wit mense in die algemeen en met Afrikaners in die besonder, en dit word as bewys voorgehou van ons voortgesette bevoorregting in die nuwe bedeling. Gewoonlik word die welvaart van ’n handvol Afrikaanse wêreldklas sakelui dan gebruik as bewys van hoe goed dit met Afrikaners gaan, asof dit die algemene standaard is. Dit herinner aan die ou NP-regering se poging om die vorige bestel te regverdig deur daarop te wys dat die lewenstandaard van swart mense in Suid-Afrika veel hoër was as in die res van Afrika. Die betreklik goeie ekonomiese prestasie van Afrikaners in weerwil daarvan dat die ANC téén hulle regeer, kan tog nou nie as ’n regverdiging van ’n toenemend onregverdige stelsel aangevoer word nie!

Verskeie grondwetlike ruimtes bestaan vir taal- en kultuurgemeenskappe se regte soos taal; moedertaalonderwys; enkelmediumskole en -universiteite; kulturele instellings; en selfs die erkenning van dié gemeenskappe se reg om na geografiese en ander vorme van “selfbeskikking” te streef. Almal se reg op vryheid, menswaardigheid en gelykheid word ook in die Handves van Menseregte gewaarborg. Daar is selfs grondwetlike instellings soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat); die Menseregtekommissie; en die Kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kultuur-, geloof-, en taalgroepe om oor dié regte te waak. Boonop kan gemeenskappe hulle nog op die howe ook beroep as hulle steeds ontevrede is. Dit is nou wigte en teenwigte so ver as wat die oog kan sien. Dit het alles in 1994 baie goed geklink. Intussen het daar egter ’n groeiende kloof ontstaan tussen die grondwetlike teorie en die politieke praktyk. My enigste verklaring daarvoor is dat die krisisse in die land alles tekens is dat die 1994-ooreenkoms besig is om uit te rafel. Navorsers verbonde aan die Cornell Universiteit voer aan dat die gemiddelde lewensduur van grondwette in die wêreld net 17 jaar lank is, moontlik omdat die “politieke leeftyd” van die opstellers daarvan hoogstens twee dekades is. Kyk maar na ons parlement waar nog net twaalf van die 1994-parlementslede nog in die parlement dien en net agt van hulle is ANC-lede. Maar kom ons kyk hoe die bedeling reeds in die praktyk verander het:

  •  Veeltaligheid het ná ’n oorgangstyd oral eentaligheid geword;
  • Gelykheid en “regstelling” het “verteenwoordigendheid” geword;
  • Afrikaanse skole word deurlopend deur staatsweë vir “transformasie” geteiken;
  • Die grondwetlike voorsiening vir Afrikaanse universiteite word polities toegestop;
  • Die betrokke grondwetlike instellings wat hieroor moes waak, is tandeloos, disfunksioneel of is deur die regering gekoöpteer;
  • Rassetransformasie volgens bevolkingsyfers het die meeste instellings onder ANC- en swart politieke beheer laat beland;
  • Die goedkeuring van hierdie grondwetlike regte berus ook by die meerderheid, wat dit betekenisloos maak omdat die ANC dit skynbaar as voortgesette bevoorregting beskou; en
  • Die meerderheid se individuele regte weeg nou, kortom, swaarder as die minderheid s’n.

Al die nie-bindende gerusstellings en versekerings in plaas van strukturele voorsiening vir ons regte, het dit duidelik gemaak dat ons bestel se individuele sentralisme te simplisties is om die kompleksiteite van ’n heterogene samelewing te reguleer. Minderheidsoorheersing is bloot deur meerderheidsoorheersing vervang, soos die bekende politieke wetenskaplike, Donald Horrowitz, gewaarsku het. Dit is hoekom demokrasie in ’n multi-etniese land nie as vryheid beleef word nie, maar as oorheersing deur die meerderheid – soos wat die staatskundige Timothy Sisk gesê het.

  1. Raamwerk vir ’n toekomsplan van hoop: ’n Strategie vir volksveelheid

Dit is nou genoeg oor die krisis. Kom ons kyk na oplossings en die Solidariteit Beweging se raamwerk vir ’n toekomsplan van hoop. Ek het vroeër gesê dat ons ’n merkwaardige prestasie behaal het deur die 300 000-ledetal te bereik.

Die vraag is wat ons moet doen met hierdie oorweldigende steun wat daagliks aan die toeneem is? ’n Belangrike rede vir ons historiese groei was die suksesvolle verdediging van ons lede se gevestigde regte en belange. Tweedens probeer ons om, so goed as wat ons kan, die impak van die verswakkende staat en landsomstandighede op ons lede te versag. Derdens word dienste aan lede gelewer wat die staat of maatskappye nie kan of wil lewer nie. Vierdens steun mense ons projekte om hulle te beskerm teen ’n bedeling wat hulle struktureel benadeel. Vyfdens ondersteun lede ons aksies om die bestaande orde se verval te vertraag en aktief teen te werk.

Dit is alles baie nodig, maar dit bring tog sekere vrae na vore. Dit is nie volhoubaar om net in die pad van verdere agteruitgang te staan nie; ons moet ook bou aan ’n pad van vooruitgang! Ons uitdaging is ongelukkig nie net ’n swak regering nie, maar ’n verswakkende bedeling.

Dit help ook nie om net as brandweermanne vure in bestaande geboue te blus nie; ons moet soos bouers ook nuwe geboue oprig. Om reddingsboeie vir drenkelinge te gooi is noodsaaklik, maar daar moet ook nuwe skepe gebou word. Om te waarsku dat die land kan misluk is tydig, maar ’n vars alternatiewe visie wat die verbeelding aangryp, skep werklik hoop en energie en ’n toekoms vir ons kinders. Taktiese oorwinnings en suksesse verseker ons nog nie van ’n volhoubare en menswaardige vry, veilige en voorspoedige voortbestaan nie.

Die Afrikaner het volgens N.P. van Wyk Louw sy toekoms nog altyd met daadkragtige waagstukke geskep, waarvan nie een se uitkoms aanvanklik seker was nie. Louw het drie historiese waagstukke genoem:

  • Die Groot Trek (en die stigting van die Boererepublieke);
  • Die aandurf van die Britse Ryk as die destydse supermoondheid in 1899;
  • Die aanvaarding van Afrikaans as amptelike taal in 1925.

Hierna is ’n vierde en onsuksesvolle waagstuk aangepak, naamlik die poging om ons rasseprobleem deur afsonderlike ontwikkeling op te los.

Die vraag is of die tyd nie nou aangebreek het vir ’n volgende en vyfde waagstuk nie.

Die voorwaarde vir die sukses van enige plan is dat soveel moontlik Afrikaners (dalk 80%) dit uiteindelik steun, wat beteken dat ons gemeenskap se belangrikste uiteenlopende sienings deel van hierdie plan moet wees. Planne vir “volkseenheid” werk nie omdat dit veronderstel dat almal by een plan moet inval. Dit is wensdenkery dat almal met alles saamstem; dit gebeur nêrens ter wêreld nie, behalwe miskien in Noord-Korea waar dít wat nie verpligtend is nie, verbode is. Daarom is hierdie raamwerkvoorstel gegrond op “volksveelheid” met die uitgangspunt dat mense nie oor alles saamstem of hoef saam te stem nie – dit is doodnormaal. Die plan maak daarom voorsiening vir die drie belangrikste historiese denkstrome in ons geskiedenis. Laat ek verduidelik.

Daar was nog altyd drie groepe Afrikaners wat volgens hul steun ingedeel is in:

  • Die groep, die individualiste, wat individuele regte voorstaan soos vergestalt in ’n “Engelse” demokrasie;
  • Diegene wat ten gunste is van groepsregte of minderheidsregte soos wat dit in plurale demokrasieë aangetref word (Artikels 6, 30, 31, 185); en
  • Ondersteuners van gebiedsregte, selfbeskikking of federalisme soos wat die geval in Europa is (die bogenoemde Artikels, asook Artikel 235).

Hierdie indeling val natuurlik saam met die politieke modelle wat elke groep verkies. Vir die eerste groep is ’n gewone een mens, een stem-demokrasie voldoende; die tweede groep voel dat groepsregte ook nodig is; terwyl die derde groep na geografiese oplossings, soos verskillende vorme van selfbeskikking, streef. Die eerste groep wil bloot goeie en regverdige regeerders hê; die tweede groep wil self besluite kan neem oor belangrike sake soos onderwys; en die derde groep beskou vorme van federale of gebiedsoutonomie as die enigste blywende staatkundige opsie.

Daar heers natuurlik hewige verskille tussen Afrikaners oor die haalbaarheid van elkeen van hierdie drie sienings, en daar bestaan inderdaad groot praktiese struikelblokke vir elkeen. ’n Strategiese plan, wat nie net vir ’n faksie onder die Afrikaners nie maar vir ons hele gemeenskap voorsiening maak, moet dus al drie hierdie groepe se menings in berekening neem – hoe moeilik dit nou ook al mag wees. Die voorwaarde is natuurlik dat die betrokke voorstelle nie lugkastele is of op ’n hunkering na die verlede gebaseer is nie. Sulke voorstelle sal meer weerstand as steun ontlok. Daarom moet alle voorstelle aan die maatstawwe van grondwetlikheid; demokrasie; moderne staatspraktyk; en die werklikhede van ons land voldoen.

Daarom is die voorgestelde vyfde waagstuk gevolglik eerder op volksveelheid as op volkseenheid gebou. Ons is té min en té versprei dat een groep sy eie oplossing op die ander kan afdwing of dit kan deurstoomroller. Die voorwaarde vir die sukses van ’n strategie vir volksveelheid is natuurlik demokratiese verdraagsaamheid. Dit beteken dat dít waaroor ons verskil ons nie hoef te verdeel nie. Beskou mekaar se aksies as waardetoevoeging eerder as volksverraad of ’n verwerping van die huidige bedeling!

Demokratiese verskille is nie noodwendig dieselfde as verdeeldheid of eie aan die Afrikaner nie; dit is ’n menslike eienskap. Ons navorsing wys dat 80% of meer Afrikaners saamstem oor sake soos Christenskap; Westerse waardes; taal en kultuur; die vrye mark; gemeenskap, gesin en geskiedenis; die oppergesag van die reg; selfstandigheid, federalisme; tradisies; en gesonde rassebetrekkinge. Dit is vir my die tien pilare waarop ons hierdie volksveelheid moet bou. Dit is breedweg ons idees in die stryd om idees.

Tyd vir die vyfde waagstuk: Afrikanerselfstandigheid en gemeenskapsfederalisme

Staatsafhanklikheid of onafhanklikheid is nie nou prakties haalbaar nie. Daarom behels ons voorstel ’n derde moontlikheid, oftewel ’n middeweg en dit is Afrikaner-selfstandigheid – wat ook nie ’n kortpad is nie. Daar is ’n noodsaak vir groter ooreenstemming oor die spesifieke staatkundige stelsel wat ons voorstaan. Daarom wil ek hierdie model beskryf as “gemeenskapsfederalisme.

Omdat die Solidariteit Beweging glo dat die staat se sentralisme demokratiese vryheid bedreig, is ons plan in wese federalisties. Dit beteken dat ons glo aan maksimale selfstandigheid vir gemeenskappe. Federalisme word wêreldwyd gesien as die beste teenvoeter vir regerings se drang om die samelewing met sentralistiese mag te oorheers. Ons strategie is om die bestaande grondwetlike ruimtes vir selfstandigheid te gebruik, en om deur sterk selfhelporganisasies groeiende selfstandigheid op elke noodsaaklike gebied te bevorder. Ons weet oplossings val nie uit die lug uit nie, maar moet van die grond af opgebou word. Dit beteken nie dat ons onsself téén die regering opstel nie, maar dat ons die sentralistiese verstaatliking van die samelewing teenwerk deur die ruimtes vir die selfstandigheid van gemeenskappe te beskerm.

Hierdie voorstel moet egter nog die toets van behoorlike navorsing, ondersoek, bespreking en raadpleging deurstaan, en is ’n oop voorstel wat verder ontwikkel kan word. Ons beoog om by ’n opvolgberaad op 10 Oktober vanjaar daaroor aan u te kom terugrapporteer.

Die enigste voorwaarde is dat die gekose model die verbeelding moet kan aangryp en dat dit die energie wat nodig is om dit in werking te kan stel by ons instellings moet kan opwek.

Kortom gaan dit oor ’n plan vir selfstandigheid. Dit behels ’n strategie van groeiende selfstandigheid deur gemeenskapsorganisasies soos ons moderne Helpmekaar-beweging wat die selfstandigheid vanaf grondvlak opbou. Die vlak van selfstandigheid van ’n spesifieke lewensterrein word bepaal deur die wil en vermoë, en prestasies van die instellings wat op daardie terrein werksaam is.

Die model werk soos ’n piramide: Help sover jy wil, maar moenie ander beveg wat hoër of verder wil nie, en moet ook nie diegene beveg wat nie verder as jy wil gaan nie. Natuurlik behels dit ook die neem van moeilike besluite wat nie langer uitgestel kan word nie.

Die piramide se eerste vlak is individuele regte; die tweede groepsregte; en die derde gebiedsregte. Kortliks kan die voorgestelde strategie soos volg uiteengesit word:

Gebruik die individuele regte waaroor ons beskik:

  • Stemreg en verkiesings;
  • Grondwetlike regte en vryhede;
  • Howe en die regsorde;
  • Die media en spraakvryheid;
  • Grondwetlike instellings soos die openbare beskermer;
  • Die markekonomie en eiendomsreg;
  • Die Handves van Menseregte;

Gebruik die beskikbare groepsregte:

  • Moenie teen ’n oop deur skop nie, al is dit op ’n skrefie oop;
  • Gebruik die bestaande grondwetlike voorsiening;
  • Onderwys: beheerliggame en universiteitsrade;
  • Gemeenskapsorganisasies, Sol-Tech, Akademia, Helpende Hand, AfriForum;
  • Wetgewing soos die Talewet en munisipale wette;
  • Inspraak in plaaslike regering;
  • Veiligheid byvoorbeeld gemeenskapspolisiëringsforums, buurtwagte en sekuriteitsmaatskappye;
  • Privatisering, howe, media;
  • Vennootskappe met ander gemeenskappe;
  • Skakeling met die owerhede; en
  • Kulturele “selfregering” deur landswye gemeenskapsrade ingevolge artikel 185 van die Grondwet kan ondersoek word.

Groeiende selfstandigheid op gebiedsbasis

Hoewel die Grondwet wel in artikel 235 voorsiening maak vir “selfbeskikking”, het dit tot dusver nie ernstige aandag gekry nie. Dit is ’n omstrede begrip weens bepaalde politieke konnotasies daaraan verbonde, en dit sal baie omsigtig hanteer moet word. Dit ís egter in die Grondwet, en die lewensvatbaarheid daarvan regverdig ’n behoorlike ondersoek omdat ons graag alle moontlike grondwetlike ruimtes op meriete wil oorweeg. Daar sal dus nie sprake wees van modelle wat na apartheid hunker nie.

Ons kan weer ’n toekoms opbou waarin ons blywend vry, veilig en voorspoedig kan wees. Ons voorouers het dit reggekry in baie moeiliker omstandighede, en daar is mos niks fout met ons nie. Ons het net die kulturele selfvertroue daarvoor nodig en die “kan doen”-kultuur waarmee ons voorouers die voorste landsekonomie in Afrika se geskiedenis opgebou het. Ons vier met reg ons voorouers se prestasies. Maar laat ons aan die werk spring om weer vir ons nageslag ’n rede te gee om die toekoms wat ons vir hulle geskep het te vier!

Ten slotte

Van Wyk Louw het vier bestaanskrisisse vir ’n volk genoem:

  • Fisieke uitwissing;
  • Oorstroming deur getalle;
  • Vrywillige ontbinding; en
  • Wanneer blote voortbestaan belangriker word as voortbestaan in geregtigheid.

Die vorige bedeling het tot ’n einde gekom omdat Afrikaners self besluit het dat die groot eis van die tyd “geregtigheid” is. Daar is nou geregtigheid teenoor die meerderheid. Daarom is die eis van ons tyd nou om te sorg dat daar vir ons gemeenskap ook geregtigheid is, en die klem moet nou op “voortbestaan” lê.

Dames en here, ons is hier om te bly. Ons sal egter die voorwaardes moet skep om hier te kan bly. Ons omstandighede is uiters ingewikkeld, en ek wil nou al waarsku teen eenvoudige mooiklinkende “oplossings”. Die tyd vir vinnige en maklike antwoorde is lankal verby, en ons wil beslis nie voorgee dat ons al die oplossings het nie. Daarom is dit vandag net die begin van ’n langer proses om alle moontlike oplossings te ondersoek, en sien ek saam met u uit na die res van die dag se besprekings. Baie dankie dat u soveel omgee dat u vandag hier saam met ons is.

 

Solidariteit: Reg vir die volgende 100 jaar

(Flip Buys het hierdie toespraak in Junie 2012 gelewer)

Ons is nou in die jaar 2102 en Solidariteit vier sy twee honderdste verjaardag. Dit was ‘n lang pad tot hier en een wat baie durf en waagmoed gekos het.

Die verhaal begin by die probleme wat Suid-Afrika ervaar het aan die begin van die eeu, veral vanaf 2008. Sommer met die afskop van daardie jaar was die land geteister deur ‘n kragkrisis, vaardigheidstekort, geweldsmisdaad, verval van infrastruktuur, politieke onstuimigheid en ekonomiese probleme. Dit het later so erg geword dat al duideliker tekens van staatsverval oor die hele spektrum  van die landsbestuur sigbaar geword het. Baie mense het begin twyfel in die toekoms van die land, en die getalle kundige mense wat uit die land uit begin stroom het, het in later jare ‘n vloedgolf geword. ‘n Oplossing was nêrens in sig nie, en mense het op groot skaal begin moed verloor.

Solidariteit was een van die min ligpunte in die Afrikaanse gemeenskap, maar die vakbond se plan was kleiner as die probleem en is te stadig uitgevoer. Maar toe het daar ‘n paar dinge gebeur. Die vakbond se hoofraad het ‘n Tienpunt plan goedgekeur, en ook die Solidariteit Waardeketting as die organisasie se strategie aanvaar. Daar was nou ‘n goeie werkbare plan op die tafel, maar daar was nog nie genoeg hulpbronne om die plan vinnig en doeltreffend uit te voer nie. Dit het steeds gelyk of die land se probleme met die tyd oor die vakbond en sy lede gaan spoel. Die groot deurbraak het gekom toe die vakbond besluit het om ‘n spesiale Solidariteit Groeifonds te stig, deur van elke lid ‘n maandelikse R10 bydrae te vra. Hierdie maandelikse som geld is in ‘n afsonderlike fonds gestort, wat aangewend is om vinniger te vorder met die plan om die dienste aan ons lede op ‘n nuwe vlak te plaas en ‘n veiliger toekoms vir hulle te skep. Die Groeifonds was die moderne weergawe van die geskiedkundige Reddingsdaadfonds en Helpmekaar beweging van die dertigerjare van die twintigste eeu.

Die eerste groot projek van die Groeifonds was om die vakbond se Opleidingskollege uit te bou tot ‘n volwaardige Tegniese Kollege. ‘n Nuwe gebou is dieselfde jaar reeds gekoop en binne ‘n jaar was daar al 500 studente wat volstoom in hulle eie taal besig met opleiding was. Reëlings is ook met Opleidingsentrums in ander dele van die land getref om jongmense op te lei wat ver van Pretoria af gewoon het. Later het baie van die vakbond se bestaande lede hulle kwalifikasies daar verder verbeter, en die sentrum is 5 jaar later aangewys as een van die top drie in die land. Terselfdertyd het die Groeifonds in ‘n Afstand onderrig kollege belê, wat die hele spektrum van nie-tegniese beroepsopleiding aan vakbondlede en hulle gemeenskappe gebied het. Maar dit was nie al nie. Die Solidariteit Helpende Hand se beursskema is ook verdriedubbel, en die vakbond nou al oor ‘n duisend jongmense per jaar gehelp om hulself vir die werkslewe te bekwaam aan Universiteite en die vakbond se Opleidingskolleges. Daarby was die vakbond ‘n vennoot van studiefondse soos die Rapport Onderwysfonds, wat gesorg het dat daar genoeg onderwysers vir die toekoms was. In 2012 is daar formele bande met Europese kolleges vir beroepsopleiding gesluit, wat verseker het dat die vakbond se kolleges aan wêreldstandaarde voldoen het. Teen hierdie tyd het die vakbond al 3 000 jongmense en ‘n duisend lede per jaar gehelp om hulself beter te bekwaam, en die droom dat almal wat wil studeer die geleentheid moet kry was binne bereik. Die vakbond se mededingende voordeel was nou dat sy lede en hulle kinders altyd op die voorpunt van opleiding was. In ‘n land waar goeie vaardighede baie skaars was, het dit gou deurgevloei na beter werksgeleenthede, salarisse en bevorderingsmoontlikhede. Dit was ook in hierdie tyd dat affirmative action prakties tot stilstand gekom het as gevolg van die vaardigheidstekort en verval van infrastruktuur.

 Die Groeifonds was ook ‘n inspuiting vir die versnelde groei van die vakbond se personeel agentskappe wat onder die vaandel van Express Personnel Professionals bedryf is. Binne 5 jaar het Solidariteit oor ‘n landswye netwerk van werksverskaffings maatskappye beskik wat werk aan lede en hulle families verskaf het. Hierdie Express agentskappe het baie goed ingeskakel by die opleidingskolleges, en talle maatskappye het ooreenkomste met Solidariteit gesluit om vir hulle opgeleide en ervare personeel te verskaf. Baie Suid-Afrikaners wat na die land teruggekeer het met die hulp van AfriForum se “Kom huistoe” veldtog, is deur Express van werk voorsien. Express het teen 2015 al een van die vyf grotes op die gebied van werksverskaffing geword, en is selfs deur die President in sy Staatsrede bedank vir hul rol in die oplossing van die vaardigheidskrisis na die groot kragonderbrekings van 2011. Vakbondlede se salarisse het ook vinnig gestyg, want werkgewers het geweet dat die vakbond vir hulle vinnig ander werk sal kry as  hulle nie genoeg betaal word nie.

Die vakbond het self in hierdie tyd van krag tot krag gegaan, en is wyd erken as die leier op sy gebied. Vanaf die 2008 onderhandeling seisoen het vakbondlede beter verhogings as lede van ander unies gekry. Die nuwe kollektiewe bedinging stelsel en strategie wat in 2009 ontwikkel is, het die vakbond verder op die voorpunt geplaas. Die baanbrekerswerk van die navorsingsafdeling en die Solidariteit Akademie het ‘n groot bydrae tot hierdie sukses gelewer. Die vakbond se kantoornetwerk is opgeknap, en die kantore is omskep in volwaardige Dienskantore. Die vakbond se regsdiens was reeds gereken as die beste op hul gebied, en belangrike dienste soos beroepsveiligheid is nou ook aan lede verskaf. Dit was nie lank voordat die vakbond al vinniger begin groei het nie. Groot werk is hier gedoen deur die Werwings- en Kommunikasie departement saam met al die Organiseerders van die vakbond. Daar is ook ‘n nuwe Bemarkingsafdeling gestig, wat met groot sukses met hulle splinternuwe metodes gehad het. Teen 2015 het die vakbond die 250 000 kerf oorskry, en was ‘n krag in bedrywe wat voorheen as onorganiseerbaar beskou is. Hierdie groei het egter nie die diensgehalte beïnvloed nie, omdat die vakbond se diensstelsels en administratiewe steundienste saam met die ledetal gegroei het. Die Dienssentrum het ook gesorg vir maklik toeganklike dienste aan alle lede. Solidariteit het homself nooit isoleer nie, en met behulp van ‘n alliansie strategie ‘n nasionale invloed uitgeoefen sonder om sy karakter te verloor. Goeie bande is ook met buitelandse vakbonde gebou, en die vakbond het veral op hulle hulp gesteun wanneer swak regerings aan bewind was.

Die Solidariteit Helpende Hand het in moeilike tye hoop geskep vir die Solidariteit familie. Teen einde 2008 was die organisasie landswyd gevestig met takke in elke groot dorp en stad. Die Helpende Hand het mettertyd maatskaplike werkers in al die vakbond kantore aangestel, om na lede in nood om te sien, armes te versorg en gemeenskappe by te staan. Hulle het ook gehelp om jaarliks staatspensioene te reël vir meer as 5 000 gestremdes en bejaardes. Die organisasie se beursfonds het gehelp om jongmense dieselfde en beter geleenthede te gee as wat hul ouers gehad het, en duisende is oor die jare voorberei vir hulle werkslewe. In 2009 is meer as 20 buitelandse takke gestig, en fondswerwing onder Suid-Afrikaners in die buiteland het miljoene rande na hulpbehoewendes in Suid-Afrika laat stroom. Teen 2011 het die organisasie goedkoop behuising aan armes begin voorsien, noodvoedingsprojekte by 78 laerskole bedryf, sowat 5 000 kinders per jaar van skryfbehoeftes voorsien, duisende jongmense gehelp met beroepsvoorligting, en het landswyd Omgeeprojekte soos ambulansdienste in arm gebiede te bedryf. Sowat 3 000 kinders is per jaar na ‘n bekende kinderstrand geneem waar hulle meer van die Evangelie kon leer en ook beroepsvoorligting ontvang het.

Die vakbond het vroeg in die eeu reeds besef dat beskerming op die werksterrein nie genoeg was nie, omdat die grootste bedreiging soms daarbuite gelê het. Daarom is AfriForum gestig, om in die besonder na die beskerming van lede se grondwetlike- en burgerregte om te sien. Die organisasie het gou naam gemaak met oorwinnings in die Grondwetlike- en ander howe oor kernsake soos misdaad en die plig van die staat om sy burgers veilig te hou. Mettertyd het die organisasie uitgebrei na ‘n sambreel organisasie vir Afrikaner belange buite die party politiek, en het ook ‘n leidende rol gespeel om ‘n Afrikaner raad tot stand te bring. Na uitgerekte onderhandelinge met die regering saam met ander goedgesinde organisasies, is ‘n “Opvolgskikking “ uiteindelik met die regering in 2012 beding. Dit het die kroon gespan op ooreenkomste wat reeds oor knelpunte soos regstellende aksie met die regering beding is, en het gehelp om onbillike rassediskriminasie in die werksplek stop te sit. Dit was eintlik ‘n nuwe “sosiale kontrak” oor sake soos onderwys, veiligheid, taalregte en groter selfstandigheid. Die onderhandelinge met die regering het baie soos vakbond onderhandelinge gewerk. Vakbonde onderhandel en sluit ooreenkomste met werkgewers om die regte en belange van hulle lede te beskerm. Hierdie beproefde model is soos elders in die wêreld uitgebrei en aangepas en daar is saam met ander Afrikaanse instellings met die regering onderhandel oor sake wat ons gemeenskap geraak het. Solidariteit het nooit by die party-politiek betrokke geraak nie, maar die vakbond se beleid was om binne die soms harde werklikheid sy lede en sy gemeenskap se belange te beskerm deur met die regering  van die dag te beding.

Solidariteit het geweet dat ‘n gemeenskap homself nie kan of moet isoleer nie, en het reeds in April 2008 ‘n buitelandse kantoor in Brussel, die setel van die Europese unie geopen. Die doel van die kantoor was om die vakbond se buitelandse skakeling te koördineer, met goedgesinde vakbonde te skakel, fondse te werf, en om samewerkings ooreenkomste met Opleidingskolleges te sluit. Die kantoor het seker gemaak dat buitelandse regerings onpartydige inligting oor Suid-Afrika ontvang, wat gehelp het dat hulle by tye groot druk op die Suid-Afrikaanse regering geplaas het om grondwetlike bepalings oor veiligheid, eiendomsreg en gelykheid na te kom. Vanaf 2009 is meer skakelbeamptes in die buiteland aangewys. Dit was hoofsaaklik goedgesinde oud-Suid-Afrikaners wat dit vir die liefde van die saak gedoen het. Daar was groot buitelandse druk op die regering om misdaad stop te sit, veral nadat daar in 2009 gelyktydig 78 buitelandse betogings oor geweld in Suid-Afrika in talle hoofstede in die wêreld gehou is. Teen 2014 het die vakbond se buitelandse netwerk vir die eerste keer oor die R20 miljoen rand ingesamel. ‘n Jaar later het die nuwe Vlaamse regering ‘n groot Tegniese kollege in die Oosrand finansier, en Europese maatskaplike organisasies het fondse vir talle Solidariteit projekte bewillig. Namate die veiligheid in die land verbeter het en misdaad afgeneem het, het al meer Suid-Afrikaners na die land teruggekeer. Dit is insiggewend dat veral baie kinders wat in die buiteland gebore is hulself weer permanent gevestig het na besoeke wat deur Solidariteit se buitelandse kantore gereël is.

Solidariteit se Besigheidsafdeling en Groeifonds was die finansiële dryfkrag agter die meeste van hierdie projekte. ‘n Wye reeks dienste is aan lede gelewer, vanaf mediese-, pensioen-, versekerings- en opleidingsdienste. Die vakbond se mediese fonds het in 2014 sy eerste hospitaal geopen, terwyl die Solidariteit pensioenfonds duisende afgetredenes se spaargeld veilig bestuur het. ‘n Eie Versekeringsmaatskappy het uit die vakbond se begrafnisskema gegroei, wat later ook die korttermyn versekering van ons lede hanteer het. In 2015 het die Solidariteit Beleggingsmaatskappy sy eerste aftree oord vir lede geopen. Die maatskappy het ook mettertyd beleggings in ‘n privaatskoolnetwerk en in  radiostasies gedoen.

Die vakbond het vroeg in die nuwe eeu al besef dat hulle nie kan bestaan as ‘n eiland van voorspoed in ‘n see van armoede en ellende nie. Daarom is daar uitgereik na swart vakbonde en ander organisasies wat onder die swart armes gewerk het, en is hulp verleen waar dit moontlik was. Die Helpende hand se suksesvolle maatskaplike agentskappe is in arm gebiede gekloon en mense is opgelei om projekte soos kleuterskole, voedingsprojekte, en bejaardesorg te bedryf, terwyl Sol-Tech daar ook Opleidingskolleges gestig het om beroepsopleiding aan werkloses te gee.

Hierdie merkwaardige suksesverhaal van Solidariteit het die doemprofete verkeerd bewys en gewys dat ‘n gemeenskap wat verantwoordelikheid neem vir sy eie toekoms ‘n sukses daarvan kan maak. Hulle positiewe voorbeeld het moed en hoop geskep en is mettertyd nagevolg, selfs deur sosialistiese organisasies wat vroeër vir die staat sou gewag het om iets vir hulle te doen

Vandag kan ons met die perspektief wat tyd bring sien wat die redes vir hulle sukses was, sê die professor. Solidariteit was altyd ‘n doenorganisasie,  mense was en is hulle kernbesigheid, en hulle het hulle roeping om hulle mense te beskerm vervul.

Midde in die baie probleme wat in die land was, was die afgelope honderd jaar vir Solidariteit ‘n eeu van sukses terwyl baie ander platgeval het.

In ‘n tyd waar baie mense gesê het dat daar nie meer ‘n toekoms was nie, het hulle in 2008 begin om ‘n toekoms te skep.

In ‘n tyd waarin so baie belowende jongmense oorsee gegaan het omdat hulle nie meer hier geleenthede gesien het nie, het Solidariteit begin om vir hulle geleenthede te skep.

In ‘n tyd waarin mense moedeloos gevoel het oor die politiek, het Solidariteit hoop buite die politiek begin skep.

In ‘n tyd waarin selfs baie werkende mense nie genoeg gehad het om hul gesinne te versorg nie, het die vakbond se onderhandelaars met goeie navorsing, voorbereiding en beplanning vir derduisende werknemers beter diensvoorwaardes onderhandel.

Terwyl opnames getoon het dat werksonsekerheid een van die grootste probleme in die land was, het hulle die vakbond se landswye netwerk van werksbeskerming verder uitgebou en ook vir duisende mense van werk voorsien.

Terwyl die nood van mense wat hul werk verloor het a.g.v. beroepsbeserings en –siektes net groter geraak het, het die Solidariteit spanne miljoene rande se regmatige vergoeding vir hierdie lede beding. Maar meer belangrik, het hulle voorkom dat mense seerkry of siek word deur veiligheid in die werksplek te verbeter.

Terwyl die meeste mekaar net moedeloos gepraat het oor die vaardigheidstekort, het hulle in 2006 met Sol-Tech en hulle ander kolleges en beursfondse aan die probleem begin werk.

In ‘n tyd waarin almal gekla het oor werksgeleenthede, het  hulle deur hulle personeel agentskappe ‘n werkverskaffingsnetwerk gevestig.

Terwyl ander vrugteloos vir die regering gewag het om hulle probleme op te los omdat hulle nie die geld gehad het om iets daaraan te doen nie, het hulle met die Groeifonds en hulle sakebeen geld bymekaar begin maak en hulle selfhelp planne self befonds.

Terwyl die meeste mense nie weet of nie omgee vir die opkomende armoede in die wit gemeenskap nie, het die Helpende Hand met die ondersteuning van duisende lede ‘n verskil in baie lewens gemaak.

Terwyl mense net gekla het oor dienslewering wat al swakker geword het, het Solidariteit hulle dienste en diensgehalte op alle terreine verbeter.

In ‘n tyd waarin baie mense net berade gehou het oor die agteruitgang van Afrikaans, het Solidariteit oor die jare in Afrikaans nuut gedink én gedoen, terwyl hulle Engelssprekende lede se taal ook respekteer en bevorder het.

Terwyl baie ander organisasies net gekerm en gekla en by die dag agteruitgaan het, het Solidariteit van krag tot krag gegaan.

Terwyl baie mense baie bekommerd begin raak het oor onbillike rassediskriminasie, is Solidariteit se gebalanseerde  standpunt uiteindelik reg bewys en deur die land aanvaar.

In ‘n tyd waarin daar nog baie wantroue tussen wit en swart bestaan en rassisme gedy het, het Solidariteit goeie verhoudings met almal nagestreef.

Terwyl baie dinge in Suid-Afrika al slegter gegaan het, het talle buitelanders na die vakbond se suksesverhaal kom kyk en is dit uiteindelik ook in Suid-Afrika nagevolg.

Terwyl minderheidsgroepe uit die openbare lewe onttrek het, het Solidariteit se  Burgerregte inisiatief mense weer tot deelname aktiveer.

Terwyl sommige net gedink het aan emigrasie landuit, was AfriForum al weer besig om met ‘n Kom Huistoe-Veldtog mense terug te bring.

Terwyl baie mense net gekla het maar min daaraan wou doen, was daar feitlik elke dag iets in die media oor wat Solidariteit gedoén het.

Terwyl baie hoofde van organisasies gekla het oor hulle mense, het Solidariteit ‘n eendragtige wenspan gehad op wie altyd staatgemaak kon word

Solidariteit het sukses behaal omdat hulle ‘n plan gemaak het wat groter as die probleem was, en omdat  hulle dit betyds en doeltreffend uitgevoer het.

 

Daar is hoop vir die toekoms

(Hierdie toespraak was Flip Buys se Geloftedagrede in 2010)

Geloftedag as oudste en belangrikste herdenkingsdag van ons volk, gee ons die kans om te besin oor ons as Afrikaners se verlede, maar ook oor ons toekoms. In die gejaagde tyd waarin ons vandag leef, is mense so besig met die hede, dat daar nie meer tyd is om te beplan vir die toekoms of na te dink oor die verlede nie. Inteendeel, mense dink die verlede is onbelangrik want dis klaar verby, en die toekoms sal tog vanself gebeur, mens hoef jou nie daaroor moeg te maak nie.

 

Die probleem is dat die verlede, hede en toekoms so nou aan mekaar geknoop is dat die een feitlik nie moontlik is sonder die ander nie. As ek sien wat deesdae van ons volk se geskiedenis gemaak word, is ek soms meer bekommerd oor ons verlede as oor ons toekoms! Dit is interessant dat die Afrikaner sedert sy ontstaan met elke eeuwending in ʼn krisis verkeer het, maar tot sover altyd beter aan die ander kant uitgekom het. Hierdie positiewe uitkomste was nooit maklik of vanselfsprekend nie, en  was die gevolg van goeie leierskap, groot opofferings en harde werk, maar veral as gevolg van ‘n stel tydlose waardes wat soos ‘n goue draad deur ons volksgeskiedenis loop.

 

Kom ons kyk kortliks na die vier eeue wat verby is. Die bewind van WA van der Stel het die Afrikaner Vryburgers tydens die eeuwending van 1700 in ʼn krisis laat beland. Die Britte se oorname van die Kaap in 1806 het tot groot omwentelings gelei. Die Tweede Vryheidsoorlog van 1899 tot 1902 was weer ʼn bestaanskrisis vir die Afrikaner. Die koms van meerderheidsregering in 1994 was ʼn politieke, ekonomiese en kulturele grondverskuiwing wat opnuut vrae oor die voortbestaan van die Afrikaner laat ontstaan het. Dit is in sulke krisistye dat ʼn volk weer na sy geskiedenis moet kyk om te put en te leer uit die lesse wat daarin opgesluit lê. Natuurlik verskil die oorsake, aard en omvang van elke krisis, maar dit is tog moontlik om sekere leerpunte uit te lig wat onderliggend aan die keerpunt van elke krisis was.

 

Maar hoekom is die geskiedenis nou eintlik belangrik vir die toekoms? Die antwoord op hierdie vraag is baie treffend deur Winston Churchill verwoord, toe hy gesê het dat hoe verder mens in die toekoms wil sien, hoe verder moet jy in die verlede kyk. Daarom wil ek vandag graag President Paul Kruger, ‘n kind van die Groot Trek, se laaste boodskap aan ons volk as tema van my toespraak gebruik. Voortspruitend hieruit, wil ek uit die verlede riglyne vir ons volk se toekoms opdiep. Laastens wil ek ‘n boodskap van hoop vir die toekoms met u behandel.

 

Kom laat ons dan begin met die onsterflike woorde van President Kruger: “Neem uit die verlede alles wat goed en mooi is, vorm daarna jou ideaal en streef dan om dit in die toekoms te verwesenlik.”

 

President Kruger kon dit nie beter gestel het nie. Die vraag is egter wat daardie mooi dinge in die verlede is wat so goed en mooi was waarmee ons die toekoms moet bou? My voorstel sal wees dat ons daardie tydlose kernwaardes wat die Afrikaner suksesvol gemaak het moet uitlig en herontdek, sodat dit dan die riglyne uit die verlede vir die toekoms kan wees om vir ons die pad vorentoe aan te dui.

 

Ons volk word vandag beskuldig van alles denkbaar. Maar niemand noem die feit dat ons aan die leiding gestaan het van die opbou van die suksesvolste beskawing wat nog ooit op hierdie vasteland ontwikkel is nie. Sukses is maar seldsaam in Afrika, en navorsers en skrywers is dit eens dat die kontinent vandag in ‘n swakker toestand is as tydens onafhanklikheid, en dat dit die enigste vasteland is wat steeds verder agteruitgaan. Daarom mag ons nooit ons voorouers se uitsonderlike sukses as vanselfsprekend aanvaar nie, en behoort ons die bestanddele van hulle suksesresep noukeurig te bestudeer om te sien wat ons daaruit kan leer, en ook hoe ons die foute wat gemaak is kan vermy! (Helfte van ons voorouers was vrouens!)

 

(Het historici geraadpleeg oor die kernwaardes). Ek wil vyf van hierdie tydlose waardes wat die kernbestanddele van ons voorouers se sukses was, vandag aan u voorhou. Dit is eerstens ons Christelike roepingsbesef, tweedens ons historiese Republikeinse strewe, derdens die Afrikaner se kulturele kapitaal, vierdens ’n doen- en daadkultuur, en laastens ons Gemeenskapsingesteldheid.

 

  1. Roepingsbesef

 

Die bekende historikus, Professor Hermann Giliomee, het onlangs vir my gesê dat die Afrikaner se Christelike roepingsbesef dié uitstaande kenmerk in sy bestaansgeskiedenis is wat hom van alle ander groepe onderskei het. Die Afrikaner het na homself, die land, sy hede, verlede en toekoms gekyk deur ‘n geloofs- en roepingsbril. Dit beteken dat ons volk nie ons teenwoordigheid in SA aan die toeval toegeskryf het nie, maar aan God se beskikking. Ons voorouers het hul werk gesien as uitvoering van hul Christelike roeping, wat eise aan hul gestel het ook wat naasteliefde en bystand aan andere betref. Dit beteken nie dat ons voorouers hulself eksklusief as “God se volk” gesien het soos soms verkeerdelik beweer word nie. Maar hulle hét geglo dat God se Almag deur die roeping van gewone mense werk, en dat elke mens ‘n plig en ‘n verantwoordelikheid het om na te kom. Die grondslag van hulle werksetiek het hulle gevind in Kolossense 3:23, waar Paulus sê: “En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here.” Hulle het nie net aan regte geglo, regte wat ander vir hulle moes gee nie. In ons postmoderne tyd van vertwyfeling, stel ‘n kinderlike geloof groot eise aan ons as die Voortrekkers se nageslag, veral in ‘n tyd van verwêreldliking en ‘n sekulêre staatsbestel waarin Christelike waardes ondergeskik gestel word aan politieke en ander sienings.

 

Die rol van die Afrikaanse onderwyser het sentraal in hierdie roepingsgedrewenheid gestaan. Geslagte onderwysers het aan kinders geleer dat hulle elkeen op watter gebied ook al, ‘n taak het wat na die beste van hul vermoë uitgevoer moes word, “asof hulle dit vir die Here doen.” Dit het die grondslag gelê van die Afrikaner se dienskultuur, waar diensberoepe soos onderwyser, verpleegster, polisieman en staatsamptenaar die voorkeurberoepe was. Diens aan die medemens en die land het hier sentraal gestaan, en nie eerstens geldmaak vir hulself nie. Dit beteken natuurlik nie dat dit verkeerd is as jongmense vandag ook streef na beroepe waarin hulle kan geldmaak nie. Dit beteken bloot dat mense steeds moet bly soek na hulle taak en roeping  hier op aarde, en nie net na hulself en hulle eie belange moet kyk nie. Dus, vervul eerstens jou roeping, en doen dit so goed as jy kan, en die beloning sal vanself kom. Moenie eerste kyk na wat die grootste moontlike beloning sal wees nie.

 

  1. Republikeinse tradisie

 

Die tweede tydlose kernwaarde is die Afrikaner se republikeinse tradisie, die strewe na vryheid en selfstandigheid. As mens kyk na die Afrikaner se geskiedenis, historiese manifeste, liedere, geskrifte en gedigte- dan is vryheid die goue draad deur ons geskiedenis, die kompas wat rigting in onsekere tye aangedui het. In die woorde van die Romein Sallust, het ons voorouers nie net regverdige heersers gesoek nie, hulle wou vry wees! Die Afrikaner het vir bykans  die eerste 200 jaar van sy bestaan teen ‘n wit Christelike volk geveg om vry (en veilig) te wees. Vryheid en veiligheid was nog altyd die twee hooftemas in ons volk se bestaan. Soos Totius dit so waar in sy gedig Die Besembos stel: “Van my eerste verskyning gedreig met verdwyning , het ek vreeslik gestry om te leef, want vernielende magte met meerdere kragte, het my in my worsteling omsweef.”

 

Vryheid ter wille van veiligheid was die dryfveer agter die Groot Trek en die stigting van ons republieke, agter die twee Vryheidsoorloë waar ‘n Gideonsbende die wêreldmag van hulle tyd aangevat het. Ons historiese helde wat vereer was het vir vryheid gewerk en geveg. Ons gedigte en liedere het vryheid besing, en nie oorheersing oor ander nie. Daarom moet ons nie net berus by alles wat vandag gebeur nie. Ons toekoms is gans en al te belangrik om net aan die ANC oor te laat! Ons mág nie ons rug draai op ons verlede, ons toekoms, ons ideale en ons taal en kultuur – kortom – op ons volk nie. Dit beteken nie ons moet die verlede probeer herstel nie, maar dit beteken ons moet op ons geskiedkundige strewe na selfstandigheid voortbou. As jy nie vir jouself besluit nie, besluit ander oor jou, en hulle besluit wat goed is vir hulle, en nie vir jou nie! As ons dit dan vandag nie met staatsinstellings kan doen nie, laat ons dit deur gemeenskapsgedrewe selfstandige instellings doen! Ons het vandag in ‘n era van staatsverswakking en –verval “selfdoen” instellings meer nodig as ooit. Daarom moet ons selfdoen instellings op elke terrein stig, sodat ons vir onsself kan sorg waar die staat dit nie doen nie. Neem onderwys as voorbeeld: waar die ANC-in-struggle gesê het, “Liberation before education” of Vryheid voor onderwys, en daarmee ‘n geslag kinders se toekoms vernietig het, moet óns veel eerder sê: ”vryheid deur onderwys!” In hierdie self(regerings-)gemaakte vaardigheidskrisis in ons land gaan kundige mense nog altyd werk kry, ongeag hulle ras. Maar almal praat vandag net oor die krisis in swart onderwys, asof wit onderwys en opleiding volmaak is. Besef u dat net omtrent 16% van wit kinders Universiteit toe gaan? En dat daar feitlik geen Afrikaanse beroepsopleiding meer beskikbaar is vir die 84% wat ander opleiding moet kry nie! (Statistieke). Ek glo dat dit ons almal se verantwoordelikheid is om te help dat elkeen van ons kinders wat wil studeer die kans kry om dit wel te doen. Anders gaan die vorige armblanke probleem ‘n vulletjie wees teen wat met die volgende geslag gaan gebeur! Navorsing het al genoeg bewys dat die stryd téén armoede, eerstens ‘n stryd vír  goeie moedertaal onderwys en opleiding is. Dít is ware en blywende bemagtiging, nie welsyn en staatstoelaes nie! Daarom moet ons landswyd op ‘n groot skaal begin om beursfondse te stig om ons jongmense te help- omdat hulle baie maal agv hulle ras deur die staat en groot maatskappye uitgesluit word van finansiële hulp én opleidingsgeleenthede.

 

Dames en here, ek noem hier net enkele voorbeelde van selfhelp instellings op een gebied, naamlik die onderwysgebied. Maar kom ons dink aan die toekoms. Is hier iemand wat eendag (bv oor 20 jaar) in ‘n staatsaftree-oord of staatshospitaal sal wil wees, of sy kinders of kleinkinders sommer in enige openbare skool sal wil sien? Of as misdaad nou al so erg is, hoe dink ons gaan dit oor vyftien jaar wees? Daarom moet ons nie wag nie, die toekoms gaan afhang van wat ons vandag en more gaan doen. As ons blywend en suksesvol wil voortbestaan in Afrika, sal ons die bestaansvoorwaardes daarvoor self moet skep. Dit is moeilik, maar moontlik. Ons het dit in die verlede al reggekry, en ons kan dit weer doen.

 

  1. Kulturele kapitaal

 

Regdeur die geskiedenis van die mensdom, word daar al studies gemaak van hoekom sekere lande en groepe suksesvol is en ander nie. Daar is al gekyk na die invloed van politieke stelsels, ekonomiese filosofieë, minerale en grondstowwe- en die omgewing. Maar die invloedryke Jerry Z Muller, som die nuutste navorsing oor hierdie ontwykende vraagstuk in die gesaghebbende vaktydskrif Foreign Affairs netjies op met sy teorie oor Kulturele kapitaal.  Hiervolgens is die deurslaggewende faktor in sukses die kulturele waardes van mense en groepe, wat selfs swaarder as intelligensie opleiding, en die voordele van olierykdomme weeg. Dít behels die mens en groep se ingesteldheid teenoor vooruitgang, deelname aan die ekonomie, besigheid en risiko, innovasie en self-verantwoordelikheid- in kort, hulle kulturele kapitaal. Die vader van die Kapitalisme en die Vrye Markekonomie, Adam Smith, stel dit as volg in sy monumentale werk, The Wealth of Nations: “Die kragtigste faktor in ontwikkeling is die wil in elke mens om sy eie omstandighede te verbeter. Die gesamentlike wil van derduisende mense vorm ‘n onkeerbare golf van vooruitgang.” Hierdie wil is ongelukkig nie in  alle mense of kulture nie, en daarom ontwikkel sommige nie. Dit gaan nie oor politiek of ekonomie nie, dit gaan oor kultuur! Daarom sê die skrywer Lawrence Harrison van Harvard Universiteit van arm lande: “Underdevelopment is a state of mind.” Waar suksesvolle groepe wat agter geraak het vra “wat het ons verkeerd gedoen en wat moet ons nou reg doen,” vra onsuksesvolle groepe “wie het dit aan ons gedoen en wat moet ons nou aan hulle doen.”

 

Wat my seker die meeste moed vir die toekoms gee, is juis hierdie kulturele kapitaal van die Afrikaner. Ek wil dit as ons “Voortrekkergees” beskryf, of ons ondernemingsgees in vandag se taal. ‘n Mens kan dit ook ‘n pioniersgees noem, die bereidheid om voor te loop as ander twyfel, die bereidheid om op te staan as ander nog sit, die bereidheid om te volhard as ander lankal tou opgooi, die gewilligheid om ‘n opdraande pad te loop sodat jou gemeenskap of selfs die volgende geslag ‘n opbrengs groter as net geld kan kry. Hierdie gees was nog altyd op alle terreine van ons volkslewe teenwoordig, van die kulturele- tot by die militêre-, politieke-, ekonomiese-, arbeids-, tegnologiese- en landbouterreine. Hierdie tydlose waarde het die Afrikaner gedryf om die suksesvolste beskawing in die geskiedenis van die vasteland te ontwikkel- ver van die naaste ontwikkelde land af. Ons volk het wêreldleiers op elke gebied opgelewer, van die mediese-, besigheids-, militêre- tot op die kulturele- en maatskaplike velde. Afrikaners het die atoom gesplit, harte oorgeplant, wêreldmagte op die slagveld gepak, globale sakeryke gebou, ‘n moderne taal en letterkunde ontwikkel, en met die wêreldgrotes op elke gebied saamgepraat. Dit was een van die min volke wat homself binne die bestek van een geslag gemoderniseer het. Hierdie gees-, hierdie waardestelsel is in ons murg en bloed, in ons gene, dis deel van ons, dit stel ons in staat om op énige plek ‘n sukses van enige iets te maak. Daarom moet ons daarop voortbou, maar ons mag dit nie net vir eiebelang en geldmaak vir onsself aanwend nie, of ons eie mense hier agter los en ons eiebelang elders gaan nastreef nie. Daarmee bedoel ek beslis nie dis verkeerd om geld te wil maak nie, ons sakelui moét baié geld maak, ek bedoel bloot ons sakelui moet welvarend wees as Afrikaners ook, en nie net as sakelui wat toevallig Afrikaans praat nie.

 

  1. Daadkrag (Doen- en daadkultuur)

 

Die vierde waarde is daadkrag. Ja, dink, studie, praat en teoretiseer is nodig- nee – dis noodsaáklik. Maar daarna moet daar gedoén word. En het die Afrikaner in sy kort geskiedenis al gedoen! Geen uitdaging was te groot om aan te pak nie, geen ideaal te onmoontlik om te verwesenlik nie! Soos die Japanners sê: “ ‘n Visie sonder aksie is dagdroom, en aksie sonder visie is ‘n nagmerrie!” Ons was nie dromers nie, ons was doeners!  Daarom moet ons groot dink en droom, maar daarna moet ons groot doen! Ons mag nooit so gewoond raak aan die wonderwerk wat hier op die Suidpunt van Afrika geskep is dat ons dit nie meer raaksien nie!

 

Dit is so dat daar die afgelope jare ‘n verlammende gebrek aan politieke en kulturele selfvertroue onder baie Afrikaners is. Maar dis ‘n uitsondering op die historiese werklikheid wat weer afgeskud kan word. Daarom is feesdae soos hierdie waar ons as ‘n volk weer na ons verlede kyk noodsaaklik, sodat ons kan leer uit die dade van die helde en heldinne van die verlede.

 

Maar ons moet nie net na die verléde kyk as ons helde wil raaksien en dan selftevrede terugsit en ontspan en dink ons voorouers was wonderlik maar gelukkig hoef ons nou self niks te doen nie! Ja, dis goed om  trots op die verlede te wees, maar elke geslag is verantwoordelik vir sy eie tyd. Onthou dat ‘n volk net een geslag diep is, en dat net een geslag wat nie sy verantwoordelikheid nakom nie ‘n volk se einde kan beteken. Die tyd van heldedade is nie verby nie, ons het nou eers helde en heldinne nodig! Mense glo ook soms verkeerdelik dat daar net militêre helde is, of dat helde net in die verlede bestaan het. ‘n Held is nie net ‘n outydse mens met ‘n geweer op ‘n perd nie. Helde is enige mens wat ‘n verskil maak. Dis nie supermense nie, dis gewone mense,  wat in ongewone omstandighede iets buitengewoons doen- wat diegene rondom hom of haar nie doen nie- of nie eers van weet nie.

 

Daarom is dit so wonderlik om deesdae weer soveel helde en heldedade rondom ons te sien of van te hoor, al is dit nie so vol glorie soos die spreekwoordelike Generaal op sy perd nie. Hier praat ek van die verpleegster wat tussen die slapende kollegas op nagdiens nog steeds haar pasiënte versorg, al bring dit nie vir haar iets in die sak nie en al sien niemand haar nie. Of van die Polisieman wat ten spyte van min geld en –kanse op bevordering steeds sy werk goed en reg doen. Of van die Laerskool wat selfs onder groot druk van die owerhede steeds hulle skool Afrikaans hou sodat die gemeenskap se kinders in hulle moedertaal kan onderwys kry. Of van die sakeman wat ten spyte van beperkende wetgewing steeds Afrikaanse jongmense in diens neem en vir hulle ‘n kans in die lewe gee. Of van die skrywer wat sy beste werk steeds in Afrikaans doen al sou hy meer geld en erkenning kry as hy dit in Engels sou doen.

 

Gewone mense wat baie bereik het, het ‘n alternatiewe droom van die toekoms gehad wat ander om hulle nie raakgesien het nie. Hulle het ‘n “ander” toekoms gekies, en dan in die harde werklikheid van die hede saam met talle ander begin werk om dit te verwerklik. En dis beslis nie net ou en ervare mense wat ‘n verskil gemaak het nie! Jongmense het meermale die verloop van die geskiedenis verander.

 

Kyk na die geskiedenis van Afrikaans. Die leiers van die eerste taalbeweging was almal in hulle twintigerjare, behalwe SJ du Toit wat in sy vroeë dertigs was. Marconi het op 21 die draadlose oordrag van radiogolwe ontdek. Alfred Nobel het op 33 dinamiet uitgevind. Anton Rupert was 25 toe Voorbrand Tabakmaatskappy gestig is. Simon Bolivar het Suid-Amerika op die ouderdom van 27 begin bevry. Luther was 33 toe hy sy stellings teen die kerkdeur vasgespyker het, terwyl Calvyn 27 was met die skryf van sy Institusie van die Christelike godsdiens. Die Protestantse hervorming het die mag van die Katolieke kerk gebreek, wat die wetenskap, ekonomie en tegnologie vrygemaak het om te ontwikkel en gelei het tot die opkoms van die Weste as dié wêreldmag. Kemal Ataturk het Turkye op 36 jaar begin moderniseer, toevallig op dieselfde ouderdom waarop Peter die Grote dit in Rusland aangepak het.

 

Jan van Riebeeck was 33 toe hy in die Kaap aangekom het, en Napoleon het op ‘n jeugdige 28 opperbevelvoerder in Frankryk geword. Daar is natuurlik net soveel voorbeelde van ouer en selfs oumense wat die geskiedenis beïnvloed het, te veel om op te noem.

 

Kenmerkend van feitlik almal wat geskiedenis gemaak het, is dat hulle hulself nie as slagoffers van hulle omstandighede gesien het nie, maar in beheer van hulle eie toekoms. Hulle het geglo dat jy nie net ‘n passiewe toeskouer is van wat met jou gebeur nie, dat jy nie net daarop kan reageer nie, maar dat jy aktief kan meedoen aan die skep daarvan, al lyk dit op die oog af nie moontlik nie. Dis so anders as baie Afrikaners wat vandag nie vir hulleself ‘n toekoms sien nie, en dan sommer onttrek uit alles en gaan  lê. Of so baie ander wat maar gedweë aanvaar dat Afrikaans net by die huis en tydens kunstefeeste gepraat word. Of ander wat lustig meehelp aan die aftakeling van Afrikaans en Afrikaanse instellings, omdat dit bloot die maklikste ding lyk om te doen of omdat hulle voel dat die nuwe magselite dit dalk van hulle verwag. Of ander wat meen dat ‘n demokrasie en ‘n grondwetlike regstaat beteken dat die ANC nou met almal kan doen wat hy wil en dat ons nou vir ewig moet laag lê en min sê. Of soos sommige swartmense wat meen dat hulle arm was deur omstandighede buite hulle beheer, en nou ryk “bemagtig” moet word sonder dat hulle daarvoor hoef te werk. Daar is niks so ontmagtigend as ‘n slagofferkultuur nie: daar is net een tipe volhoubare bemagtiging, en dit is selfbemagtiging.

 

Geskiedenis word dus nie gemaak deur mense wat soos dooie visse stroomaf dryf nie. Dit word ook net by uitsondering deur genieë soos Einstein gemaak. Dit is ook raar dat geskiedenis deur reuse soos Bismarck gemaak word wat met groot besluite die wêreld verander. Geskiedenis word gewoonlik deur derduisende gewone mense gemaak wat tallose klein besluite neem wat op die duur tot ongewone gevolge lei en wat dan terugskouend geskiedenis genoem word. Daarom is dit is nou die tyd vir jong leiers om ou ideale te omskep in nuwe drome,  om idees te hersien volgens nuwe werklikhede, dit dan om te sit in vars idiome en dit met lewenskragtige instellings na te jaag tot dit ‘n werklikheid word. Dis hoe geskiedenis gemaak word, dit gebeur nie net vanself nie.

 

  1. Gemeenskap

 

Die laaste waarde is gemeenskapsbewustheid. Afrikaners het histories nie net as ‘n groepering van Afrikaanssprekende enkelinge bestaan nie, maar het vir mekaar omgegee. Die Afrikaner was een van die min volke wat nie ‘n klassestelsel gehad het nie. Kyk maar hoe die “elite” in die twintigerjare van die vorige eeu vir die armblankes omgegee en hulle opgehef het. Daarom mag ons nooit soos die Amerikaanse kapitalisme wat na SA toe oorgewaai het net aan onsself dink en ons medemens vergeet nie. ‘n Welvarende volk is nie dieselfde as ‘n suksesvolle volk nie, dít omvat veel meer. Die gevoel wat Bok van Blerk se liedjie Delarey onder ons mense losgemaak het is vir my ‘n wonderlike bewys dat daardie gevoel vir mekaar en vir ons volk nog springlewendig is! Ons het mekaar nodig.

 

Dit is die vyf tydlose waardes wat vir my soos ‘n goue draad deur die geskiedenis van ons volk loop, en wat ek in die woorde van die ou President as riglyne vir die toekoms aan u wil voorhou. Dit is vir my die goeie en die mooi wat ons uit die verlede moet neem en waarmee ons die toekoms moet bou.

 

Daar is hoop vir die toekoms: ‘n positiewe toekomsbeeld

 

Geen mens en geen gemeenskap kan sonder hoop vir die toekoms leef nie. Jou toekomsverwagting bepaal jou optrede in die hede. Sonder ‘n positiewe toekomsbeeld verval ‘n mens in depressie, doen ‘n kultuurgroep niks vir sy voortbestaan nie, gaan ‘n taal ten gronde, of ontbind ‘n volk. Baie Afrikaners leef vandag sonder hoop. Mense emigreer omdat hulle nie ‘n toekoms hier sien nie, en ander bestaan bloot as enkelinge wat Afrikaans by die huis praat. Toe die Afrikaner die land regeer het, was daar ons eie regeringsleiers wat die droom kon verwoord, met die amptelike status om die Afrikaner daarmee te besiel, en met die instellings en staatsbronne om dit te help verwesenlik. Dinge is vandag anders, maar dit moet ons nie wanhopig maak nie, dit moet ons juis motiveer- omdat ons volk se grootste prestasies juis was toe ons nie die mag oor onsself gehad het nie.

 

‘n Mens hoor nog te veel van mense wat sê: “Ag, wat help dit tog ons probeer iets doen, die ANC-regering gaan in elk geval doen wat hulle wil.” Hierdie soort apatiese verloorder houding wat sedert 1994 by sommige van ons mense heers, was inderwaarheid ‘n selfvervullende profesie. Hoe meer ons mense onttrek het, hoe meer het die ANC vrye teuels gehad om te doen wat hulle wil. Maar dinge is besig om te verander, al meer mense is besig om hulle stem te laat hoor en om hulle deel te doen. Die sukses wat ons die afgelope jaar by Solidariteit, AfriForum, die Helpende hand en by ons Tegniese kollege Sol-Tech gehad het, is vir my ‘n  bewys dat daar hoop vir die toekoms is as elkeen sy deel doen. Dis tog elke geslag se plig om vir ons kinders ‘n beter en veiliger toekoms te los as wat ons van ons ouers gekry het. Ons kan tog nie net maar laat gaan nie, daar is sekere dinge wat die moeite werd is om voor te veg- veral díe dinge wat meerderhede as vanselfsprekend aanvaar.

 

Slot

 

Ek sluit af. ‘n Volk met ‘n verlede, is ‘n volk met ‘n toekoms. Daar is soveel wat ons kan put uit ons verlede wat ons kan gebruik om ons toekoms te herbou en ‘n Afrikaner herlewing te bewerkstellig. Ons moet bid in die wete dat alles van God afhang, maar daarna moet ons werk asof alles van onsself afhang. Ons moet ons jongmense weer besiel met ons volk se ou ideale wat weer nuut vertolk word. Die geskiedenis het gewys dat groot beskawings nie deur hulle vyande verwoes word nie, hulle pleeg stadige selfmoord, hulle sterf vanself deur ‘n gebrek aan dinkkrag en daadkrag. Kom ons skep ‘n toekoms waarin daar vir ons kinders ook ‘n plek is, deur planne te maak wat groter as die probleme is, en dit dan daadkragtig uit te voer. Ons het dit al voorheen gedoen en ons kan dit weer doen. Mag ek afsluit met die laaste strofe uit Totius se gedig, Die Besembos.

 

Die besembos – Totius

 

Hoe meer zij het verdrukten, hoe meer het wies.  Exod. 1:12

 

Ek is gebore waar sonneglore

die lug daarbowe ontgloei;

waar die westewind, my vyandig gesind,

ontwaak om my top te verskroei;

waar die aarde se kors my brandende dors

met weinige druppeltjies les,

en die ryke seën van oorvloedige reën

my selde besproei in my dorre gewes;

waar die land lê en smag in ‘n sonnebrand

wat my arme wortels wil knou,

en snags die ryp my blaartjies kom knyp,

dat ek byna sterwe van kou.

 

Van my eerste verskyning gedreig met verdwyning

het ek vreeslik gestry om te leef,

want vernielende magte met meerdere kragte

het my in my worsteling omsweef.

By droë jaar is my jeugdige blaar

deur die osse se tong my ontruk,

en die mense se hand het my stamme verbrand,

met geweld van my wortels geruk.

En slaan soms die vlamme van die gras in my stamme-

tot bo in my blaartjies fyn –

dan staan ek te bewe tot my jeugdige lewe

in die ashoop geheel verdwyn.

Hoonlaggend trek dan die vlammende span

en my plekkie op aarde staan leeg;

net my assies lê daar, maar die winde vergaar

om ook dié uit die wêreld te veeg.

 

Maar al slaan om my stam die woedende vlam

wat knett’rende vonke saai;

al kom al die winde, die kwalik gesinde,

om my as uit die wêreld te waai;

al kom ook die dier om sy eetlus te vier;

al word ek gekap en gekloof;

al word ek gestowe deur die son daarbowe

wat my laaste sappe wil roof –

nogtans sier ek my hoogte in die vreeslikste droogte

met my altyd groenende top;

en word my wortels verduur én droogte én vuur,

ja ek staan uit my as weer op.

Laat dan mense en diere, droogte en viere,

met al wat hul kwaad wil versin,

maar kom om te kap, te brand en te trap –

ek leef en sal lewe; my dood kry is min!

 

Kom help bou aan ‘n toekoms.

(Hierdie toespraak is tydens die Toekomsberaad gelwer, wat op 10 Oktober 2015 plaasgevind het)

Ek kom om vir ʼn volk te laat wat klein langs ander volke staan, dat hul naam nie sal verklink en tot die stiltes gans vergaan.

Dames en Here, hierdie strofe uit NP van Wyk Louw se “Dieper Reg” het my onlangs weer getref toe ek deur ʼn eensame bejaarde dame gevra is “dat ons tog moet help dat al haar kleinkinders nie landuit trek nie, want sy wil  ʼn ouma van kinders in Suid-Afrika wees, nie ʼn ‘granny’ vir kinders in Australië nie”. Daar is waarskynlik grootouers in hierdie gehoor wat weet wat verlange na jou kleinkinders is.

Hierdie roerende versoek van ʼn gewone ouma het my laat besef hoekom ons eintlik vandag hier is: Dis ons geslag se taak om die omstandighede te skep waarin Afrikaners blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika kan leef, en nie net as enkelinge probeer oorleef nie.  ʼn Sterk georganiseerde Afrikanergemeenskap met die ruimtes om tuis te voel in Afrika, sal juis die vertroue in die toekoms skep deur hier te bly en ʼn volhoubare bydrae tot die land en al sy mense te lewer.

Daarmee bedoel ek nie dat ons moet laer trek of onsself teen ons landgenote moet opstel nie, maar dat ons juis die omstandighede moet skep dat ons nie landuit hoef te trek of “land-in” te onttrek nie. Ons bly nie op ʼn eiland nie; daarom moet ons as kultuurgemeenskap na binne bind, maar terselfdertyd na “buite” brûe bou na die groter Afrikaanse taalgemeenskap en na al die ander mense met wie ons hierdie mooi land deel. Want as ons net op die verskille klem lê, gaan die klowe en verdelings net groter word en speel ons in die hande van radikale populiste wat die land in vlamme wil sien.

Ons is Afrikane en Suid-Afrikaners, maar ons mag Afrikaners ook wees, want daar kan van geen gemeenskap op aarde verwag word om hul bestaan op te hef en so hul geskiedenis en grondwetlike bestaansreg en -regte prys te gee nie. Dis tog kulturele selfmoord! Dit is hoekom ons Grondwet in Artikel 30 en 31 uitdruklik voorsiening maak vir die bestaan van kultuurgemeenskappe en hul reg om hulself uit te leef. Want die geskiedenis het wêreldwyd getoon dat indien nasionale eenheid verskraal word tot inlywing by die meerderheid, die prys te hoog word om te betaal.

Daarom mag ons maar aan ons eie kant wees, want dit beteken nie om teen ander te wees nie. Apartheid is verby, en Afrikaners is in wêreld-oë nie meer die slegte ouens nie en ons moet ook nie in daardie era vassteek nie. Ons kan ook nie toelaat dat ons met ʼn skuldkompleks as politieke gyselaars van die verlede aangehou word nie. As Afrikaners nie vir hulself omgee nie, gaan niemand anders dit doen nie. Afrikanerskap is ’n vrywillige keuse, kies vir of teen dit, maar moenie ons kwalik neem as ons daarvoor kies nie. Groei verby daardie vooroordeel, aanvaar mekaar se keuses, en gaan aan met die lewe.

Ons Beweging het op 5 Mei vanjaar ʼn Krisisberaad gehou om te besin oor die dubbele krisis van staatsverval en tweedeklasburgerskap. By daardie beraad het ons gesê dat die staat gelukkig nog nie verval het nie en dat daar nog baie positiewe faktore is wat ʼn mens hoop gee dat die land nie sommer heeltemal sal verval nie. Maar die rooi ligte flikker omdat belangrike dele van die staat reeds so ingrypend verswak of reeds verval het, dat dit die res van die staat kan omtrek as dit nie betyds gekeer word nie.

Daarmee saam het ons gewaarsku oor die groeiende gevaar van tweedeklasburgerskap vir groepe soos Afrikaners, waar meerderheidsregering oorgaan na meerderheidsoorheersing omdat die ANC elke aspek van ons lewens wil beheer. Dis amptelike ANC beleid wat uitdruklik bepaal dat transformasie volgens “verteenwoordigende” rasseteikens “African hegemony” oftewel African oorheersing ten doel het.

Probleme word egter nie opgelos deur net daaroor te praat nie; dit word opgelos deur iets daaraan te doen. Van Wyk Louw het tereg gesê dat ʼn volk se voortbestaan nie op abstrakte regte of dinamiese leiers berus nie, maar op dade waarmee die mense daagliks hul bestaansreg bevestig.

Daarom het ons teenoor u onderneem om te werk aan praktiese oplossings wat ons dan by die Toekomsberaad sal kom bekend stel. Die planne wat ons vandag hier voorlê, is die resultaat van suksesvolle loodsprojekte wat ons oor die afgelope vyf jaar getoets het, verryk het met die insette wat ons van die publiek gekry het en verfyn het met die hulp van 20 kundige projekspanne.

Maar om werklik ʼn sistemiese verskil te maak, moet dit ingrypend versnel, vergroot, en daadkragtig uitgevoer word. Ons gee nie voor dat dit die aller en enigste antwoorde is, of dat ons nou alle probleme alleen kan oplos nie. Ons geskiedenis het egter bewys dat wanneer gewone mense saamwerk, hulle selfs in ongewone omstandighede buitengewone resultate kan behaal.

Met ons Beweging se 330 000 lede verteenwoordig ons, saam met hul gesinne, seker meer as ʼn miljoen mense en ons gee geensins voor dat ons namens alle Afrikaners kan praat of besluit nie. Ons aksieplanne is egter ten bate van Afrikaners se reg om blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika te kan lewe, en wil ook tot voordeel van die land en al sy mense strek.

Helpmekaar-beweging

Ons beskou hierdie plan as die derde groot “Helpmekaar”-beweging in die Afrikaner se geskiedenis, waar mense self verantwoordelikheid vir die toekoms aanvaar het. Die eerste beweging het ʼn eeu gelede, ná die Oorlog, ontstaan toe ons voorouers ʼn bepalende rol gespeel het om die land ná die “verskroeide aarde”-beleid van die Britte weer op te bou.

Die tweede beweging het begin met die destydse “Reddingsdaad”-kongresse in die dertigerjare. Natuurlik weet ons dat die tye verander het en dat die omstandighede heeltemal van daardie era verskil. Maar die groot les van daardie geskiedenis bly steeds staan, naamlik dat wonderwerke kan plaasvind as ʼn gemeenskap hulself in sterk selfdoen-organisasies organiseer en saam aan ʼn gemeenskaplike toekoms bou. Dit help nie om met ‘n wenslys by die regering te gaan vra nie, kom ons stel eerder ons eie werkslys op en begin dit uitvoer.

Daar is 3 groepe probleme in die land wat alle inwoners raak, dié wat alle Afrikaanssprekendes raak en dié wat Afrikaners raak.

Ons besef dat swak regering almal in die land raak As die bos brand, sal dit nie help om te sê dat jy nie ʼn boom is nie. As die bos brand, brand ons saam; as die staat val, dan val dit op ons almal. Daarom help ons waar ons kan om nasionale probleme saam met ander gemeenskappe op te los, ongeag of dit ʼn dorp se watervoorsiening, elektrisiteit- of veiligheidsprobleme is.

Ons sal saam met ander groeperings werk om te help keer dat die land verval of dat ons in ʼn vryheidslose “demokrasie” ontaard. Natuurlik het ons nie altyd dieselfde beleid as ander groepe nie, maar as ons dieselfde belange het, is daar minstens ruimte vir handevat oor bepaalde sake. So kan ons op ʼn belangebasis saamwerk waar ons mekaar nie op ʼn beleidsbasis kan vind nie. Brugbou na buite is in ons land net so noodsaaklik soos binding na binne. Maar daar kan tog nie van ons verwag word om die regering se werk te doen nie; hy word verkies, betaal en met ons belastinggeld befonds om dienste te lewer en ons moet en gaan hulle daarvoor aanspreeklik hou. Dit is hoog tyd dat hulle hul werk begin doen!

Afrikaans is een taal met baie kulture wat aan almal behoort wat vir Afrikaans lief is. Daar is ernstige probleme wat alle Afrikaanssprekendes raak en wat ons Beweging as lid van die Afrikaanse Taalraad (ATR) met die owerhede opneem en hanteer.

Benewens die probleme wat almal in die land en alle Afrikaanssprekendes raak, is daar uitdagings wat meer bepaald die Afrikaner as kultuurgemeenskap raak. Dit behels sake soos rassewetgewing, die kriminalisering van ons geskiedenis, die vandalisering van Afrikaner- monumente, die aanvalle op universiteite, skole en ander instellings wat ons voorouers opgebou het en die misbruik van politieke mag om die grondwetlike ruimtes vir ons kulturele vryheid te verstop. Die ANC sê altyd dat politieke vryheid sonder ekonomiese vryheid net vryheid vir die rykes is. Maar ons ervaring is dat politieke vryheid sonder kulturele vryheid net vryheid vir die meerderheid is!

Ons Helpmekaar 2020-plan is nie daarop gerig om te probeer terugkeer na die verlede nie, maar om ʼn beter toekoms te bou. Dit is ook nie ʼn poging om onsself te isoleer, parallelle regeringstrukture op te rig, om rassepolarisasie te veroorsaak of om laer te trek of ʼn apartheidsvolkstaat te probeer stig nie. Ons werk mét en ín die werklikhede van die land, maar ons berus ons nie daarby nie, want ons verwag meer van onsself.

Ons hele strategie is daarop gerig om deur sterk selfhelporganisasies groter en groeiende selfstandigheid op noodsaaklike terreine te bewerkstellig. Dit is eerder aanvullend tot die swak of onwillige staatstrukture en die doelwit daarmee is om aan ons die vermoë te gee om besluite te kan neem en dit self uit te voer. Deur hierdie selfdoen-strukture wil ons ons afhanklikheid van swak staatsbesluitneming verminder met sterk en selfstandige gemeenskapstrukture.

Die ervaring in ander lande wys dat ʼn minderheidsgroep in ʼn oop gemeenskap sterk instellings nodig het om suksesvol te kan oorleef. Waar die ANC staatsmag, staatsinstellings en staatsfondse het om sy belange te bevorder, het die Afrikaner sterk selfdoen-instellings nodig om sy grondliggende belange te beskerm.

Daarom is die doel van ons plan om dit vir mense moontlik te maak om hier te bly; om nie landuit te trek of “landin” te onttrek nie. Noem dit maar ʼn mededingende alternatief vir emigrasie en vir die glybaan waarop die land tans na onder beweeg.

Dit val egter tog vreemd op die oor as die ANC-regering ons uit die staatsdiens, werkplek of universiteite uitskuif, maar dan terselfdertyd sê Afrikaners moet hulself nie eenkant hou nie. Of as hul rassebeleid wit mense se geleenthede in die werkplek en sakewêreld aan bande lê, maar ons dan van rassisme beskuldig as ons ander planne maak.

En van wanneer af is die beskerming van grondwetlike regte nou “regs”? Daarom wil ek vandag Langenhoven se vraag aan mnr. Zuma herhaal: Hoekom is jul rassisme altyd net politiek, maar ons politiek altyd rassisme? Hou eerder op om ons kinders op grond van hul ras by universiteite en kolleges uit te skuif onder die dekmantel dat Afrikaans toegang beperk of dat alles verteenwoordigend van die rassesamestelling van die land moet wees.

Minister Nzimande wil nie minder Afrikaans op die kampusse hoor nie; hy wil minder Afrikaners op die kampusse sien! Hy raas eintlik oor ras! En as ons dan begin om met die tienrandnote van gewone mense die bomenslike taak aan te pak om weer ʼn wêreldklas- Afrikaanse universiteit te begin bou, dan het hy boonop die vreemde vermetelheid om oningeligte uitsprake te maak dat daar nie meer plek vir Afrikaanse universiteite is nie!

Van krisis in 2015 na oplossings in 2020

Daar is mense wat dit vreemd vind dat ons sê ʼn gemeenskap moet verantwoordelikheid vir sy toekoms aanvaar asof dit nie doodnormaal is nie. Geen regering ter wêreld kan alles vir almal doen nie, wat nog te sê ʼn regering wat teen ʼn deel van sy burgers regeer?

Dit is mos heeltemal onverantwoordelik om jou toekoms net aan ʼn regering oor te laat – vra maar vir die Grieke, die Zimbabwiërs, of enige ander land. ʼn Suksesvolle land bestaan tog uit ʼn doeltreffende staatsektor, ʼn groeiende privaat sektor en ʼn aktiewe gemeenskapsektor.

Maar die ineenstorting van die staatsektor kan die ander sektore ook vernietig, soos in Zimbabwe gebeur het toe die regering se vernietiging van sy burgers se politieke en burgerlike vryhede tot ʼn werkloosheidsyfer van 80% gelei het. Waar die doel van ʼn ekonomie is om die lewenstandaard van die bevolking te verhoog, is die doel van ʼn gemeenskapsektor om die lewensgehalte te verhoog.

Daarom is ons droom om vanaf ʼn krisis in 2015, met behulp van Helpmekaarplanne, teen 2020 praktiese oplossings in werking te hê wat ons goed op die pad van ons visie sal plaas na ʼn toekoms waar ons gemeenskap blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika kan lewe, en nie net oorlewe nie, want dit klink te na aan oorlede!

Natuurlik besef ons dat alles nie teen 2020 maanskyn en rose gaan wees nie, maar ons glo dat praktiese planne met meetbare doelwitte wat deur sterk organisasies uitgevoer word, ons veel verder gaan vat as om net jou oë toe te knyp; elke vyf jaar te stem en verder te hoop op die beste. Daarmee wil ons die moedelose gevoel onder mense die nek inslaan dat om polities mag-loos te wees, ons terselfdertyd magteloos maak. Dit is nie waar nie! Kom ons fokus eerder op uitvoerbare planne wat ʼn tasbare verskil in mense se lewens gaan maak – dis hoe ʼn toekoms geskep word.

“Volkseenheid deur volksveelheid”

Die voorwaarde vir die sukses van enige plan is dat soveel Afrikaners as moontlik dit moet steun en aktief moet meehelp om dit uit te voer. Ons wil vir ʼn hele gemeenskap ʼn toekoms skep; nie net vir een faksie nie. Maar om hierdie kritieke massa se steun te kry, sal die belangrikste en soms uiteenlopende sienings deel van hierdie plan moet wees.

Planne vir “volkseenheid” werk nie omdat dit veronderstel dat almal by een plan moet inval. Dit is wensdenkery dat almal met alles moet of sal saamstem – dit gebeur nêrens ter wêreld nie. Daarom, teenstellend soos dit mag klink, is die belangrikste vereiste vir eenheid dat daar ruimte moet wees vir “veelheid”. Ons uitgangspunt is dat mense nie met alles hoef saam te stem om steeds met mekaar te kan saamwerk oor die sake waaroor hulle wel saamstem nie.

Dít waaroor ons verskil, hoef ons nie te verdeel nie. Kom ons los die debatte oor wie wat in 1992 gestem het, maar werk eerder saam in 2015. Daarom sal ons die demokratiese verdraagsaamheid aan die dag moet lê om met planne waarmee jy saamstem, saam te werk en om dit waarvan jy verskil, nie teen te staan nie. Kom ons kyk wat dit in die praktyk beteken wanneer ons by praktiese planne kom.

Grondwetlike selfstandigheidsplan

Staatsafhanklikheid of -onafhanklikheid is nie nou prakties haalbaar nie – dit het ons ondersoeke duidelik uitgewys. Daarom behels ons voorstel ’n derde weg, oftewel ’n middelpad, en dit is Afrikaner-selfstandigheid – wat ook nie ’n kortpad is nie, maar na ons mening die enigste pad vorentoe. Die haalbaarheid van hierdie weliswaar moeilike plan moet opgeweeg word teen die haalbaarheid en volhoubaarheid van die huidige bedeling. Daar is ongelukkig nie meer volmaakte en maklike planne oor nie, en ons plan behels eerder ’n werklys as ’n wenslys.

Die omstandighede in die land laat ons met drie keuses.

  • Aanvaar en berus jou by hoe ons regeer word en hoop daar gebeur ʼn politieke wonderwerk.
  • Verlaat die land na groener en gelyker weivelde.
  • Organiseer in sterk selfdoenorganisasies en skep vir jou ʼn volhoubare toekoms.

Baie mense vra vir my hoe ons toekoms lyk, en my antwoord is dat ons toekoms gaan lyk soos die een wat ons saam skep.

Baie mense het reeds in reaksie op swak regering hulself begin “regeer”, al sien of noem hulle dit nie ʼn selfstandigheidstrategie nie. Hulle verkies om te bly in ʼn provinsie, stad of dorp waar hulle deur daardie meerderheidsparty hulself regeer. Hulle kyk na privaat televisiekanale. Hulle het privaat mediese fondse. Hulle bly in privaat dorpe. Hulle het privaat sekuriteitsdienste. Hulle werk in die privaat sektor. Hul kinders is in privaat skole en hulle het kragopwekkers sodat hulle selfs oor hul eie elektrisiteit kan beskik.

Maar hierdie persoonsgebaseerde selfstandigheidstrategie is baie duur en is ook weens praktiese redes nie orals en vir almal moontlik nie. Daarom is ons beplanning op gemeenskapselfstandigheid in plaas van persoonlike selfstandigheid gebaseer.

Ons strategie is om die bestaande grondwetlike ruimtes vir selfstandigheid te gebruik en om deur sterk selfhelporganisasies groeiende selfstandigheid op elke noodsaaklike gebied te bevorder. Dit is ons Helpmekaarbeweging se plan in een sin. Ons weet oplossings val nie uit die lug uit nie, maar moet van die grond af opgebou word. Dit beteken nie dat ons onsself téén die regering opstel nie, maar dat ons die sentralistiese verstaatliking van die samelewing teenwerk deur die ruimtes vir die selfstandigheid van gemeenskappe te beskerm.

Kortom gaan dit oor ’n plan vir selfstandigheid om swak staatsbesluitneming te verruil of te versag met groeiende selfbesluitneming. Die vlak van selfstandigheid van ’n spesifieke lewensterrein word bepaal deur die wil en vermoë en prestasies van die instellings wat op daardie terrein werksaam is, asook deur eksterne faktore soos demografiese, ekonomiese en politieke werklikhede.

Die Grondwet maak eerstens voorsiening vir individuele regte (Handves van Menseregte), tweedens vir gesamentlike of gemeenskapsregte (artikels 6, 29, 30, 31, 185), en derdens selfs vir gebiedsregte in artikel 235. Net soos ander gemeenskappe in Skotland, Quebec, België, Spanje en in talle Afrikalande, is daar onder Afrikaners steun vir elkeen van hierdie drie groepe regte of kombinasies daarvan. Dit is normaal, demokraties en grondwetlik, en voorstaanders mag op ʼn wettige en demokratiese manier enige van hierdie opsies bevorder.

Daar heers natuurlik hewige verskille oor die haalbaarheid van elkeen van hierdie drie sienings, en daar bestaan inderdaad groot praktiese struikelblokke vir elkeen. So het die voorstanders van individuele regte agtergekom dat dit dikwels nie genoeg is om hul belange te beskerm nie omdat die individuele regte van die meerderheid in die praktyk swaarder weeg as die individuele regte van kleiner groepe.

Daarteenoor het voorstanders van gesamentlike regte soos Afrikaanse skole of Afrikaans as universiteitstaal agtergekom dat politieke mag homself ook nie altyd aan grondwetlike gesag steur nie.

Maar net so het voorstanders van gebiedsregte soos selfbeskikking ontdek dat die gebrek aan ’n uitvoerbare plan en demografiese, politieke en ekonomiese werklikhede dikwels swaarder weeg as historiese ideale en internasionale regte.

Maar die praktiese probleme met hierdie drie kategorieë regte gee niemand die reg om een van hierdie groepe se grondwetlike reg om daarna te streef, te misken nie. Dit sou ondemokraties en selfs ongrondwetlik wees.

Ek het onlangs Frans de Klerk se boek, Orania, van dorp tot stad, gelees en my gevolgtrekking was dat al is daar talle praktiese probleme wat so ʼn dorp nog sal moet oorkom, dit ʼn baie meer uitvoerbare en regverdigbare plan as die volkstaatplanne van ouds is.

Orania mag daarna streef om ʼn stad te word, en kan met hierdie grondwetlike reg as “vloer”, namate hulle groei met die regering onderhandel om die “plafon” van selfstandigheid te verhoog in verhouding met die grootte van die beplande stad. Ondersteuners van gebiedsregte sal baie verder met die praktiese uitbou van ʼn “kultuurstad of -stede” kom as om te bly wens dat die regering vir hulle ʼn staat soos ‘n “Skotland” gaan gee – wat nie in Suid-Afrika vir Afrikaners bestaan nie. Weer eens, ‘n werklys wat van jouself afhang eerder as ‘n wenslys wat van die regering afhang.

Daarom moet ons bly veg vir al ons grondwetlike regte en ruimtes, anders kan ons maar die Grondwet in ʼn argief gaan toesluit. Dis nie ondenkbaar dat dele van al drie hierdie kategorieë deel van die oplossing is nie. As jy die Grondwet ondersteun, kan jy dit mos nie soos ‘n spyskaart gebruik en net kies waarvan jy hou nie. Gun mekaar die ruimtes wat daar is, al hou jy nie van die bepaalde “gereg” nie.

Samewerking met opposisiegroepe

Daar kan ʼn saak uitgemaak word dat Afrikaners hulself nie per definisie in een blok teen die ANC moet opstel nie en eerder moet probeer om politieke skikkings oor knelpunte met die regering te sluit. Maar samewerking met opposisiegroepe is ook belangrik omdat daar gemeenskaplike belange is, selfs waar daar nie altyd gemeenskaplike sienings is nie.

Ons mening is wel dat ʼn beter regering nie in die kort termyn haalbaar is nie en dat ʼn beter bedeling nodig is om probleme te oorkom en nie net ʼn beter regering nie. Ons sal ʼn ander bewind verwelkom, maar is nie oortuig dat dit al die probleme in die land sal kan oplos nie – ons land se uitdagings lê veel dieper as die politiek.

Maar daar is belangrike gemeenskaplike belange wat as grondslag vir samewerking met opposisiegroepe kan dien. Georganiseerde kultuurgroepe wat hul regte en belange bevorder, kan ’n onmisbare deel van ‘n strategie wees om te keer dat te veel mag in te min hande beland en so ’n “tirannie van die meerderheid” verhoed.

Tweedens is vryheid ondeelbaar, en raak die aantasting van een soort vryheid al die ander. Dit maak nie saak of dit persoonlike vryheid, mediavryheid, die vryheid van die regbank, ekonomiese vryheid, die vryheid van die burgerlike samelewing of die vryheid van kultuurgemeenskappe is nie. Al hierdie vryhede is saam die enigste teenvoeter vir die totalitêre transformasie van die ANC wat die hele samelewing wil oorheers.

Ons Beweging stel egter nie daarin belang om self die partypolitiek te betree nie omdat ons “meer weeg as wat ons tel” en weens die getalleverhoudings nie ʼn saakmakende verskil in die parlement sal kan maak nie. Ons glo dat ons baie meer buite die partypolitiek kan bereik. Daarby stem ons lede vir verskillende partye en sal ons net onnodige verdeeldheid in ons beweging invoer sonder dat dit voordele vir ons lede inhou.

Helpmekaar 2020-raamwerkplan vir gemeenskapselfstandigheid

Die vraag is waarna mik ons met hierdie 2020 helpmekaarplan? Wat wil ons uiteindelik bereik, en waarvoor vra ons u steun? Hoe lyk die mylpale op die pad na vryheid, veiligheid en voorspoed, en waar is die padkaart om daar uit te kom?

Laat my asseblief toe om kortliks meer te vertel van die praktiese uitkomste wat ons wil bereik. Daarna sal die hoofde van die Beweging se lede-organisasies meer besonderhede deurgee.

Nasionale gemeenskapsnetwerk

Die Solidariteit Beweging besef dat ons nie alles alleen kan regkry nie. Daarom wil ons graag vennootskappe sluit met ander organisasies wat Afrikaners verteenwoordig met die doel om ʼn nasionale gemeenskapsnetwerk tot stand te bring. Hierdie netwerk moet die uitvoering van planne koördineer en groter eendragtigheid teweegbring, met strukture van plaaslike tot op nasionale vlak. Daarom sal ons graag suksesvolle organisasies met wesenlike steun of belange betrek wat breedweg ons standpunte, Christen-demokratiese waardes en sienings oor kulturele selfstandigheid deel. Die besonderhede hiervan sal ons graag saam met belangstellende vennote uitwerk.

‘n Gemeenskap leef deur sy instellings. Daarom wil ons graag gemeenskapsnetwerke in elke stad en dorpsgebied vorm, wat met behoud van elkeen se identiteit gesamentlik omsien na prioriteite soos veiligheid, noodsaaklike dienste, die omgewing, werksgeleenthede, die bevordering van Afrikaans, maatskaplike sorg en gesonde gesinne, skakeling met die betrokke owerhede, monumente, ondersteuning aan Afrikaanse skole en kinders, geskiedenis, media, opleiding, goeie regering, besigheidsbevordering, kapitaalmobilisering en die bevordering van goeie rassebetrekkinge.

Terselfdertyd wil ons hierdie strukture tot op nasionale vlak vestig, waar ons benewens hierdie prioriteite ons bestaande nasionale projekte soos buitelandse skakeling met mense wat geëmigreer het wil uitbrei en ook bande met hoofstroom buitelandse groepe wil verstewig.

Teen 2020 wil ons graag hierdie strukture uitbou tot ‘n landwye Afrikanernetwerk wat die vermoë het om besluite te neem en dit uit te voer, een wat na ons gemeenskap se grondliggende belange kan omsien, wat ooreenkomste met die owerhede oor knelpunte sluit, ’n Afrikaanse Taalsentrum wat Afrikaans se toekoms beveilig, wat help om ons dorpe en stede te laat werk, wat alle grondwetlike regte en ruimtes voluit benut, wat gelyke geleenthede in die werksplek verseker, wat in samewerking met alle rolspelers misdaad hokslaan, wat korrupsie beveg, wat ’n groeiende Afrikaanse privaat universiteit tot stand gebring het, wat deur die Helpende hand se Skole ondersteuningsentrum ons skole suksesvol help hou.

’n Netwerk  met genoeg Studiefondse om alle jongmense wat wil te help om te studeer en met Loopbaansentrums wat ons jeug help om hul volle vermoë te verwesenlik, wat ons geskiedenis normaliseer, wat ons erfenisse bewaar, wat die regsorde help beskerm en wat selfstandigheid op elke moontlike gebied bevorder. Sien dus in u gedagte ‘n opwaartse grafiek wat van onder af in 2015 opwaarts tot by 2020 trek.

Dames en here, ‘n wyse man het gesê dat elke geslag verantwoordelik is vir sy eie tyd. Dis nou ons beurt om daardie verantwoordelikheid op ons skouers te neem. Wat ‘n wonderlike voorreg om vir ons kinders ‘n veilige toekoms te skep!

Finansiering van die Helpmekaarplan

Dit is so dat ons grootste uitdaging is om “staatsdienste” te lewer sonder om belastinginkomste te ontvang en sonder dat mense twee keer vir een diens betaal. Die Beweging bestaan meestal uit organisasies sonder winsoogmerk, en beskik nie oor onuitputlike finansiële bronne nie. Daarom is ons strategie om “grootgeld met kleingeld” te maak deur gereelde “Helpmekaar”-bydraes van duisende gewone mense.

Op hierdie manier kon ons dit tot dusver regkry om R50 miljoen rand in Sol-Tech te belê, waarvan byna alles uit gereelde tienrandbydraes van vakbondlede bestaan het. Dieselfde geld vir Akademia, hoewel ons bevoorreg is om met groter skenkings van enkele weldoeners baie vinniger te groei as wat andersins moontlik sou wees.

Ons gaan eersdaags ‘n spesiale Afrikaanse Universiteitsfonds stig om hierdie belangrike projek te versnel omdat niemand weet hoe lank ons kinders nog onbeperkte plek by die bestaande universiteite gaan kry nie. Ons moet eenvoudig Akademia binne ’n dekade tot ‘n omvattende Afrikaanse universiteit uitbou!

Die R3,5 miljard wat die Solidariteit Beweging in die volgende vyf jaar gaan mobiliseer, bestaan in die eerste plek uit die fondse wat gegenereer word deur die instellings met lede en ondersteuners, teen ’n gemiddelde bedrag van R100 per maand. Daarom wil ons uit ons harte dankie sê vir die lede van AfriForum, die Solidariteit vakbond, Solidariteit Helpende Hand en die FAK wat dit vir ons moontlik gemaak het om tot hier te vorder en vir hul volgehoue ondersteuning om hierdie Helpmekaar 2020 plan voluit in werking te stel.

Daarbenewens verkry die Beweging ook inkomste uit die mobilisering van Afrikaanse koopkrag en natuurlik uit die betaling vir dienste gelewer. Besighede van die Solidariteit Beleggingsmaatskappy soos ons Eiendomme- en ons Finansiële Dienste Maatskappy bring ook hul kant en dra miljoene tot die totaal by.

Afsluiting

Ons vra nie vir die regering spesiale gunste en gawes nie, selfs welwillende verwaarlosing sal vir ons die ruimte gee om te doen wat ons moet. Maar ek wil vir almal wat so hard aan hierdie droom werk en mooi ideale in werkbare vyfjaarplanne omskep het van harte bedank. Dis ’n wonderlike voorreg om met sulke spanne saam te werk en te sien hoe ’n droom besig is om waar te word.

Maar ek wil in besonder vir u almal bedank vir u teenwoordigheid vandag by hierdie beraad en ek wil u uit die diepte van my hart vra om saam met ons aan ’n vrye, veilige en voorspoedige toekoms te bou. Ons mag dit doen, ons kan dit doen, en ons gaan dit doen.

Ek wil graag afsluit met die laaste strofe van Totius se gedig ’’Die Besembos’’ met die pragtige Afrikaans van sy tyd, ter ere van die geslag wat ná ’n verwoestende oorlog die land weer opgebou het en van wie ons soveel kan leer:

Maar al slaan om my stam die woedende vlam

wat knett’rende vonke saai;

al kom al die winde, die kwalik gesinde,

om my as uit die wêreld te waai;

al kom ook die dier om sy eetlus te vier;

al word ek gekap en gekloof;

al word ek gestowe deur die son daarbowe

wat my laaste sappe wil roof –

nogtans sier ek my hoogte in die vreeslikste droogte

met my altyd groenende top;

en word my wortels verduur én droogte én vuur,

ja ek staan uit my as weer op.

Laat dan mense en diere, droogte en vure,

met al wat hul kwaad wil versin,

maar kom om te kap, te brand en te trap –

ek leef en sal lewe; my dood kry is min!

  • Die Toekomsberaad kan regstreeks op www.toekomsberaad.co.za gevolg word. Die volledige verslae van die Toekomsberaad se Helpmekaar 2020-plan sal ook op dié webwerf gelees kan word.

 

Ons geslag se taak is om ons bestaanskrisis aan te pak

(Hierdie toespraak is op 6 Junie 2019 gelewer, tydens Solidariteit se Nasionale Kongres)

Hierdie kongres vind plaas in uiters moeilike tye in ons land en in ons lede se lewens. Talle mense twyfel of daar nog ʼn toekoms in hierdie “wye en droewe” land is, soos die digter Van Wyk Louw Suid-Afrika beskryf het. Die redes is bekend:

  • Werkloosheid het rekordhoogtes bereik, volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA);
  • Die land beleef die langste ekonomiese afswaai (ses jaar) sedert die Tweede Wêreldoorlog, en ons ekonomie het pas weer met 3,2% gekrimp;
  • Ons lede se poste word deur rassekwotas herverdeel en ons weet nie waar ons kinders ʼn goeie werk gaan kry nie;
  • Suid-Afrika vaar die slegste van alle lande wat nié in ʼn oorlog gewikkel is nie, aldus Bloomberg.

Dit is geen wonder dat baie Godvresende, hardwerkende en wetsgehoorsame burgers wonder of daar nog ʼn toekoms in die land is nie. Dit is verstaanbaar dat mense so voel. As Eerste Wêreldmense swak regeer word, soos tweedeklasburgers behandel word en Derde Wêrelds geregeer word, dan trék hulle – na ʼn Eerste Wêreldplek.

Al hierdie dinge laat baie Afrikaners wonder of die “einde van die geskiedenis” nie vir ons as volk aangebreek het, en of ons nie, soos soveel ander beskawings, onder die golwe van die tyd gaan verdwyn nie.

Die land het weer ʼn kans gekry toe mnr. Zuma deur pres. Ramaphosa vervang is. Dit is moontlik die laaste kans. Ons wens hom sterkte toe, want ʼn swaar vrag rus op sy skouers. Ons steun nie die ANC nie, maar ons is lief vir die land en wil help om dit ʼn beter plek te maak vir almal wat hier woon. Ons hoop die regering vat uiteindelik die hand van samewerking wat ons nou al so lank na hulle toe uitsteek.

Plan B

Tog kan ons nie net op die regering staatmaak vir ons en ons kinders se toekoms nie. Dit sou heeltemal onverantwoordelik wees in die lig van hul swak prestasie. Die huidige bedeling – kom ons noem dit Plan A – is te diep in die moeilikheid om ons maklik weer daaruit te kry. Gemeet aan die ANC se “prestasielys” van meer as twee dekades, en omdat hulle steeds aan dieselfde beleid vasklou, kan ons nie aanvaar dat hulle nou skielik die land veilig gaan maak, dat die ekonomie goed gaan groei, dat hulle die drakoniese rassewette gaan afskaf, dat hulle eerlik en bekwaam gaan regeer, en dat die staatsverval omgekeer gaan word nie.

Einstein het tereg gesê as jy dieselfde dinge doen, moet jy dieselfde uitkomste verwag.

Daarom moet ons – terwyl ons hoop dat Plan A sal slaag en sal help waar ons kan en waar ons toegelaat word om dit te doen – kliphard aan ons eie Plan B werk. Want indien Plan A misluk en Plan B te stadig vorder, gaan ons kinders Plan C volg – oorsee. Dan val Plan A én Plan B plat. Dan slyt ons ons oudag eensaam in swak bestuurde ouetehuise, terwyl ons kinders sukkel om hul voete in vreemde lande te vind. ʼn Mens wil nie eens daaraan dink nie!

Waar Plan A ANC-besluitneming is, gaan ons Plan B oor selfbesluitneming. Waar Plan A oor sukkelende staatsinstellings gaan, gaan Plan B oor selfhelpgemeenskapsorganisasies. Waar Plan A oor volledige meerderheidsbestuur gaan, gaan Plan B oor groeiende selfbestuur. Onder Plan A is ons staatsafhanklik. Met Plan B raak ons staatsbestand en selfstandig. Waar Plan A oor verstaatliking en sentralisme gaan, gaan Plan B oor privatisering en federalisme. Waar Plan A van die ANC afhang, hang Plan B van onsself af. Waar die bes moontlike uitkoms van Plan A regverdige heersers is, gaan Plan B oor groeiende vryheid. As u vir my sê Plan B is in praktyk onbeskryflik moeilik, dan sê ek Plan A het homself tot sover onmoontlik bewys. Plan A het my beste wense, maar my realistiese hoop is op Plan B, want Plan C beteken die einde van ons geskiedenis.

Ek wil dit duidelik stel dat ons Plan B nié teen Plan A gerig is nie. Ons wil hê die land moet slaag, maar dit is nie binne ons mag as die regering dit rampspoedig regeer en die meerderheid hulle aanhou verkies nie. Ons kies nie teen die regering nie; ons kies vir ons gemeenskap. Ons mag mos aan ons eie kant wees. Terwyl ons hoop dat Plan A ook slaag, is my vertroue egter meer in Plan B. Sol-Tech wys dat gemeenskapskrag meer suksesvol is as staatsmag. Privaat hospitale is gesonder as staatshospitale. Dienste in privaat dorpe werk beter as munisipale dienste.

Ons Westerse kultuur is die grootste rede hoekom Plan B werk. Dit is ʼn bou-en-bewaar-kultuur, wat nie by Van Riebeeck begin het nie, maar wat in die newels van die tyd in antieke Athene, Jerusalem en Rome gebore is en ontwikkel het.

Kultuur: van geslag tot geslag

Kultuur is nie net braaivleis en rugby en lekker musiek nie. Dit is sekerlik deel van ons kultuur, maar dit is ʼn vervlakking van ons kultuur om dit te verskraal tot sport en ontspanning. Kultuur is ʼn lewenswyse; dit is wie en wat ons is en waaraan ons as vanselfsprekend glo. Dit is ons stelsels of hardeware (soos die regsorde, die markekonomie, wetenskap, tegnologie en demokrasie) en dit is ons waardes of sagteware (soos persoonlike verantwoordelikheid, werketiek, tydsbegrip, dissipline en gesinstrukture).

Kultuur is die skat van ons Christelike geloof vanuit Jerusalem, ons denkwyse vanuit antieke Athene en ons samelewingsorde vanuit Rome. Daarvandaan is ons kultuur gevorm deur die groot Westerse omwentelings soos die Protestantse Hervorming, die Renaissance, die Verligting en die Nywerheidsrewolusie.

Maar wat is die kern van die sukses van hierdie kultuur wat die Weste nou al vir eeue suksesvol gemaak het? As ons dít weet, het ons ook die sleutel tot die sukses vir ons opstaan uit die huidige krisis.

My siening is dat die wese van die Westerse sukses daaruit spruit dat Westerlinge histories dít wat ons van ons voorgeslagte gekry het, bewaar en verbeter het, en dit weer na die volgende geslag toe oorgedra het. Elke geslag het net verder en hoër gebou as die vorige een. Almal begin nie weer voor of gaan agteruit nie. Dit is hierdie “verbond tussen geslagte” waarmee Westerse samelewings deurlopend oor die eeue opgebou is wat die Weste laat uitstyg het en waarmee ons weer ʼn toekoms kan opbou.

Kom ons kyk waar dit vandaan kom:

Meer as 2 500 jaar gelede moes jong mans in antieke Griekeland wat diensplig moes doen om burgerskap van die Atheense stadstaat te kry, ʼn merkwaardige eed aflê. Hierdie eed, en dit wat dit onderlê, het myns insiens die grondslag van ons Westerse kultuur geword.

Die kern daarvan was dat jong mans van 18 jaar moes beloof om die erfenis wat hulle van hul voorgeslagte gekry het, te bewaar en in ʼn beter toestand as wat hulle dit ontvang het, aan die volgende geslag na te laat. Daarby moes hulle ook onderneem om hul mense dapper te verdedig, die stad se wette te gehoorsaam, verantwoordelikheid vir hul gemeenskap te neem en om die God van hul vaders te dien.

Hierdie eed het oor die eeue in baie vorme weerklink. In die vroeë 1800’s het die Britse denker Edmund Burke gesê dat die samelewing ʼn kontrak is tussen dié wat reeds dood is, dié wat vandag lewe en dié wat nog gebore moet word. Daarmee het Burke bedoel dat ʼn kultuur en ʼn samelewing nie net bedryf mag word vir die gerief van die huidige geslag nie, maar ʼn diep verbond is tussen die voorouers, die lewendes én die nageslag wat nog moet kom. Jy moet dít wat jy ontvang het, verbeter, maar jy mag dit nie weggee nie, want dit is nie joune nie. Jy mag dít wat jy gekry het by jou voorgeslag gebruik, maar jy leen dit van jou kinders. Dít wat goed is van wat jy gekry het, moet aan die volgende geslag aangegee word.

Albert Einstein hierdie oordrag van geslag tot geslag treffend gestel: “Bear in mind that the wonderful things you learn in your schools are the work of many generations. All this is put in your hands as your inheritance in order that you may receive it, honour it, add to it, and one day faithfully hand it on to your children.”

Dit sluit aan by pres. Paul Kruger se laaste boodskap waarin hy sê neem uit die verlede wat skoon en mooi is en bou die toekoms daarmee. Dit sluit ook aan by die woorde van Langenhoven se laaste vers van Die Stem waar hy pleit “… Dat die erwe van ons vaders vir ons kinders erwe bly”. Dit is veel meer as braaivleis en rugby. Dit is goeie skole. Dit is ʼn gesonde ekonomie. Dit is ʼn goeie werk. Dit is wêreldklaskolleges en -universiteite. Dit is ʼn moderne samelewing met al die dienste en geriewe wat daarmee gepaard gaan soos werkende hospitale, paaie, huise en infrastruktuur.

Wat is egter die geheim van die val of oorlewing van beskawings? Die Britse historikus, Arnold Toynbee, het in sy dekade lange Studie van die Geskiedenis (wat 12 boeke beslaan) bevind dat almal deur uitdagings bedreig was, maar dat skeppende minderhede wat suksesvol op die bedreigings gereageer het, die geheim van oorlewing is.

Hierdie minderhede het ʼn besielende doel gestel, ʼn plan gemaak om dit te bereik en volhardend gewerk totdat dit verwesenlik is – kortom: doel, plan, aksie. Wanneer leiers egter nie met voldoende skeppende energie en verbeeldingryke planne vorendag gekom het en dit uitgevoer is nie, het beskawings ondergegaan. In Toynbee se woorde: “Great civilizations never die, they commit suicide.”

Ons geslag se taak

Die geskiedenis gee aan elke geslag ʼn taak. Sommiges kry makliker take as ander. Party kry baie, ander moet baie gee. Omdat daar egter ʼn verbond tussen die geslagte is; omdat ʼn beskawing ʼn ketting van geslagte is wat soos met ʼn afloswedloop dít wat jy kry, moet bewaar en vir die volgende geslag aangee; omdat die een geslag van die vorige en die volgende een afhanklik is, beteken dit dat as net een geslag nie sy taak opneem nie, daardie ketting vir altyd verbreek is. Dan gaan daardie beskawing onder, dit verskraal tot ʼn voetnota in ʼn geskiedenisboek. Dit is soos om ʼn boom af te kap en dan te dink jy sal steeds die vrugte en koelte kan bly geniet.

Die geslagte voor ons het met groot uitdagings te kampe gehad. Die een geslag moes die Groot Trek aanpak, die volgende een die Anglo-Boereoorlog. Daarna het die modernisering van Afrikaans gevolg waardeur die land opgebou is. Die volgende geslag moes die Koue Oorlog en die Grensoorlog trotseer en het die volkereverhoudingsprobleem probeer oplos deur sogenaamde “afsonderlike vryhede.” Die volgende geslag het die waagstuk van meerderheidsregering aangepak.

Maar wat is ons taak? Die geskiedenis stel geen geslag vry om maar net op die rug van vorige geslagte se antwoorde op die eise van hul tyd te ry nie.

Terug na Toynbee se wysheid van uitdaging en antwoord as die sleutel tot voortbestaan – ek wil dit waag om te sê dat dit ons geslag se taak is om die bestaansuitdaging van ons as Westerse volk met ʼn volhoubare oplossing aan te pak.

Ons bestaanskrisis is nie ons klein getalle nie, maar ons yl verspreiding wat veroorsaak dat ons orals in die minderheid is en landwyd dieselfde probleme het.

Ons is meer as die onderskeie bevolkings van Namibië, Lesotho, Macedonië, Slowenië, Letland, Botswana, Gambië, Gaboen, Estland, Swaziland, Mauritius, Ciprus en Luxemburg, asook ’n menigte ander volke. Maar ons woon nie gekonsentreerd soos al hierdie volke nie, en ons is gevolglik ʼn kwesbare minderheid tussen ʼn groeiende meerderheid. Ons het nie ons eie “Skotland” of “KwaZulu” nie.

Daarom word ons landwyd in die werkplek deur rasseformules, kwotas en diskriminasie geteiken; daarom is ons orals onveilig; daarom verval ons dorpe; daarom word ons landwyd deur onsimpatieke meerderhede regeer; daarom word ons Westerse leefwyse orals bedreig; en daarom sien so baie mense nie meer ʼn toekoms hier nie.

As die uitdaging yl verspreiding is, is die oplossing groter konsentrasie– en dit is presies wat lankal besig is om vanself te gebeur. ʼn Groot Trek is weer aan die gang. Mense trek al dekades lank uit vervallende klein dorpies na streeksdorpe en na die stede toe; hulle trek van vervreemde middestede na voorstede; uit gevaarlike gebiede na veiligheidsdorpe; uit plekke waar hulle ʼn klein minderheid is na plekke toe waar daar groter getalle van hul kultuurgenote is waar hulle tuis voel soos in die Wes-Kaap. Ons is besig om al meer op al minder plekke te konsentreer, en die groter getalle maak oplossings makliker. Dié wat kan, “trek” vanaf staatshospitale na privaat hospitale, vanaf die polisiediens na privaat sekuriteitsdienste, vanaf werk in die staatsdiens en openbare ondernemings na werk by kleiner privaat maatskappye. Meer as 500 000 het ook al in organisasies soos Solidariteit, AfriForum en ons Beweging gekonsentreer. Dit maak dit al makliker om al vinniger aan al groter oplossings te werk.

Die grootste waagstuk is om in ʼn krisis te wag (op beter dae) in plaas daarvan om ʼn plan te waag.

Kantonstrategie

In die praktyk ontstaan daar orals konsentrasies wat ons kulturele kantons (Switserland) kan noem, waar mense meer vry, veiliger en tuis voel. Waar ons vroeër al verder van mekaar af getrek het, trek mense nou al nader aan mekaar, en werk vanuit hierdie ruimtes dan saam met almal anders. Ons moet hierdie hedendaagse Groot Trek met dienste ondersteun, want dit het in praktyk ons Plan B geword wat vanself ontstaan het toe Plan A vasval.

Dit is nie ʼn projek om onsself te isoleer nie, maar juis in reaksie op ons isolering en uitsluiting deur die owerheid. Dit bou juis die kulturele leefruimtes vir ons om saam in Afrika te kan bestaan. Eilande is nodig om te keer dat die see jou nie oorweldig nie. Hierdie strewe na selfbesluitneming in kulturele leefruimtes is in reaksie op die mislukking van ANC-besluitneming oor ons. Dit sal nie help om hulle te beveg deur die staatsruimtes te probeer terugvat nie. Ons moet eerder gemeenskapsruimtes bou deur konsentrasie, as om deur konfrontasie dít wat oorgeneem, is te probeer terugvat.

In die praktyk vorder ons al ver met ons plan om, soos die Israelse Histadrut, ʼn toekoms vir ons mense te bou. Maar ons sal vinniger groter moet konsentreer, want die yl verspreiding bly steeds ons bestaansuitdaging wat nog ons ondergang kan beteken.

Daarom het ons met twee groot projekte begin om ons mense se kapitaal te konsentreer om só vinniger die kulturele leefruimtes te bou wat ons nodig het om ons kultuurgemeenskap voort te sit. Daarmee gaan ons Sol-Tech se nuwe kampus bou. Daarmee gaan ons vir Sol-Tech ʼn groot koshuis bou as studieverblyf vir ons lede se kinders wat ver bly. Daarmee gaan ons ʼn groot kampus vir Akademia bou. Daarmee gaan ons nog saam met vennote bekostigbare skole van gehalte vir ons gemeenskap bou, en daarmee gaan ons nog groter leefruimtes bou.

Ons sal binnekort meer praktiese planne hiervoor bekendmaak, want ons wil graag hê ons lede moet nie net bydraers wees nie, maar bouers wat saam aan die toekoms bou. Ek gee u die versekering dat van die topbreinkrag in die land saam met ons aan al hierdie planne werk. Die kern hiervan is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal waar mense ʼn finansiële opbrengs op hul geld kan kry, saam met ʼn kulturele dividend soos ʼn kollege, universiteit en skole vir hul kinders.

Uiteindelik wil ons mense in klein dorpies kan help met noodsaaklike dienste. Ons wil in die 30 ankerdorpe en -stede waarnatoe mense (volgens ons navorsing) trek, volhoubare dienste skep soos veiligheid, werk, onderwys en maatskaplike sorg. Ek glo egter dat ons ook groter kantons sal moet vestig, waarskynlik in Pretoria in die noorde, moontlik een in die Suid-Kaap, en een in die weste van die land met Orania as groeipunt.

Al hierdie projekte doen ons nie teen die owerheid nie, maar omdat dit nie sal help om vooraf goedkeuring te vra nie, vra ons eerder ná die tyd om erkenning vir dít wat in praktyk gebou is. Selfs waar ons dit nie kry nie, bied die praktiese werklikhede wat ons skep vir ons die leefruimtes waarin ons vry, veilig, en voorspoedig kan voortbestaan.

Ons strategie is om al die ruimtes wat die Grondwet en internasionale reg ons bied, te benut.

Daniel Burnham het gesê: “Make no little plans; they have no magic to stir men’s blood and will not be realized. Make big plans; aim high in hope and work, remembering that a noble, logical plan will never die, but long after we are gone be a living thing, asserting itself with ever-growing insistency.”

Ons verlang nie na die verlede onder die NP nie, maar ons sien ook nie uit na die toekoms onder die ANC nie. Ons wil net ʼn normale lewe lei. Ons staan nie vir uitgediende ideologieë nie. Ons werk vir ʼn normale toekoms in ʼn normale werkende land waar ons en ons gesinne veilig kan leef en bly, en waar almal ʼn normale werk kan hê waar ons gelyk behandel word.

ʼn Normale werk is net moontlik in ʼn normale samelewing. Daarom is ons Beweging se strewe na ʼn normale samelewing net so noodsaaklik as ons vakbond se strewe na ʼn goeie werk vir ons lede.

As u sou vra hoe lank dit alles gaan neem, dan is my antwoord dat dit afhang van die steun en samewerking van ons eie mense. Die staat gaan dit nie van bo af vir ons gee nie; ons bou dit self van onder af. Die spoed en die hoogte van die kulturele plafonne gaan afhang van onsself; nie van die owerheid nie. Ons hoop ook om ondersteuning van die buiteland af te begin kry omdat dit opbouende projekte is wat net tot voordeel van almal sal strek.

Die harde waarheid is dat ons ná 25 jaar weet dat die Akte van Menseregte nie ons grondliggende belange gaan beskerm nie. Maar ons weet ook dat hoe hoër die vlakke van selfstandigheid is wat ons bou, hoe minder kwesbaar sal ons in ʼn vervallende staat wees.

Vryheid is uiteindelik die enigste waarborg vir veiligheid, vir ons lede se werk, vir gelykheid, vir reg en geregtigheid, vir volhoubare voorspoed, vir werkende dienste, vir goeie skole, en vir ʼn toekoms vir ons kinders.

Ons mense het deur hul vindingrykheid, skeppende vermoë en ondernemingsgees wêreldklas-prestasies op alle gebiede bereik: medies, sport, wetenskap, besigheid, kultuur en die kunste. Ons sal daardie selfde vermoë moet aanwend om op staatkundige gebied weer al hierdie elemente in ʼn samehangende plan in te weef, anders is dit nie standhoudend nie.

ʼn Volk skep sy eie toekoms, het Vader Kestell gesê. Soos die beroemde bestuurskundige Jim Collins dit gestel het: “Whether you prevail or fail, endure or die, depends more on what you do yourself than on what the world does to you.”

Ten slotte: Kom ons pak die taak wat die geskiedenis aan ons geslag opgelê het aan met geloof, waagmoed, ywer en volharding.

Saam met pres. Kennedy vra ek vandag: “If not us, who? If not now, when?”

 

Toespraak: Helpende Hand Kerkekongres.

(Hierdie toespraak is  gelewer op 6 November 2019 tydens Helpende Hand se Kerkekongres)

Inleiding:

  • Preek vir die verkeerde mense!
  • Kritiese vrae bedoel om te help dink, nie om die wat in Koninkryk werk te kritiseer
  • Afrikanerfokus bedoel nie Volkskerk nie
  • Marx: idees van regerende klas in kerke… Staatskerk
  • Antwoord: Kerk is God se Kerk, gelowiges maar ook Afrikaner gelowiges
  • Namibië: Kerk het volk gelos, toe los die volk die Kerk
  • Verwaarloos die Afrikaner: Groot Trek na toekoms sonder die Kerkleiers
  • Armoede oplossings: Reformasie, Restourasie en Rewolusie

 Vyf vrae aan die kerklike leierskap

  1. Verbond en kontrak
  2. Aandadig aan verlamming?
  3. Vervreemding van nageslag
  4. Armoede en geestelike armoede
  5. Heilige kultuur en kulture vandalisme
  6. Verbond en Kontrak
Tans lê die klem slegs op die individu/enkeling. Daardie uitgangspunt kom vanuit die sosiale kontrak idee, wat by baie kerke die verbondsidee op die agtergrond geskuif het.

 

Dit voel soms vir my asof dele van die kerklike leierskap homself van die lidmate vervreem wat werklik ook gemeenskap soek – wat weet dat gebondenheid ʼn geskape werklikheid is?

of

Waarom skimp die kerklike leierskap dat om in jou gemeenskap betrokke te wees, dit eintlik teen die wil van die Here is, asof dit selfsugtig sou wees? (Uitreikaksies)

of

Waarom sien sommige kerke (wat net die individu beklemtoon) ‘n teenstelling tussen gemeente en gemeenskap?

 

Daar is ʼn ooglopende verskil tussen die Rooms Katolieke en Protestante siening oor armoede. In lande waar die Katolisisme die oorhand gehad het, is bedelary nooit eintlik streng verbied nie. Die rede was dat die RK ʼn bedelaar gesien het as ʼn getroue vergestalting van Christus self, in sy aardse armoede. Die protestante lande het egter almal deur die band bedelary amptelik verbied en vervang met werkshuise. Die rede voor was dat werk as ʼn wesenlike deel van ʼn God verende lewe gesien is.

As mens hierdie beeld mag toepas op die Afrikaner kan gevra word: Moet die Afrikaner bly bedel of mag die Afrikaner self werk?  Die protestante kerke in die algemeen wil nie iets positief sê oor die Afrikaner as kultuur groep nie. Waar die Afrikaner tans selfstandigheid en self werksaamheid al hoe meer begin beoefen, hoe meer gaan die stemme van kerk leiers op, wat kwaai oor die bril loer en sê: moenie selfsugtig wees in jou self werksaamheid nie.

Het die kerklike leierskap nie die verbond omgeruil vir die kontrak nie. Dit beteken dat die klassieke liberale siening dat net individue bestaan en as keuse ʼn groep vorm. Die verbondenheid wat geslagte met mekaar het, word nie eintlik in berekening gebring nie. Die kerke aanvaar die Suid-Afrikaanse sosiale kontrak as die verstek posisie. Van daaruit lewer hulle kritiek op kulturele selfstandigheid. Dit is seker enige iemand se goeie reg om die sosiale kontrak te ondersteun – maar om dit op te dien as evangelie is ʼn ander saak. Transformasie is nie reformasie nie. Nasiebou is nie volksmoord nie. Verskraal tot inlywing by die meerderheid.

  1. Die kerklike leierskap het in ʼn groot mate verwyder geraak van die gewone mense.
Is die kerke soms aandadig aan die geestelike en gemeenskaplike verlamming wat tans heers?

Of

Waarom praat die kerke nie oor aktuele sake van die dag nie?

Of

Wat is die praktiese uitwerking van die geloof in die opstanding van Jesus vandag? Is dit nie ʼn hoopvolle toekoms nie in praktyk nie?

 

In Ruanda met die volksmoorde daar was sommige van die RK priesters as kerk aandadig in hierdie uitwissing. Laat dit ʼn voorbeeld vir ons wees, dat die kerk nooit moord mag goedpraat nie, ook nie kulturele moord mag duld  nie. Wanneer die kerk niks sê oor taal diskriminasie nie, berei hulle nie die grond voor vir kultuur uitwissings nie? Dit gaan tog nie net oor taal as klank nie, maar ook die spreker van die taal se bestaan. As die Afrikaanse kerke tans so in ʼn transformasie ywer hulle Afrikaanse eredienste omruil vir Engelse dienste, is daarin nie die kiem van kulturele vandalisme in geleë nie? Waarom verwar die kerklike leierskap transformasie met reformasie. Transformasie dryf die voortgaande rewolusie. Reformasie dryf die voorgaande heiliging van kultuur. Die een verwoes kulture tot ʼn monokultuur (Vgl. Marcuse se One dimensional man; asook The Emerging Monoculture: Assimilation and the “model Minority“deur W E. Watson, & S. Cuban (2003).

  1. Deurdat die kerk se stem stil is oor die aardse verwagting, en bykans net oor die hemelse paradys preek, bewerk die kerklike leierskap ʼn baie gevaarlike vervreemding. Waarom is die kerklike leierskap agter die tyd? Hulle veg drake soos nasionalisme wat nie bestaan nie, en verhinder die beskerming van kultuur op sg. geloofsgronde. Hulle tree werklikheidsvreemd op, en vervreem daardeur die gewone lidmate. Deur eensydig klem te lê op die individu werk die kerke mee aan die vervreemding van die geslagte met mekaar. Die verbinding aan God se beloftes gaan tog ook oor die realisering daarvan in die nageslag se lewe?

 

Waarom maak die kerklike leierskap of God se belofte net ʼn individuele kant het.

Of

Waarom skep die kerklike leierskap ʼn geestelike generasie gaping deur die nageslag te vervreem van die konkrete beloftes van God?

As die Here Jesus sê: Salig is die armes van gees, dan bedoel Hy die mense wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Die kerklike leierskap kom oor asof hulle sê: salig is die geestelike armoede.

4. Waarom spreek die kerke nie die verband tussen geestelike, kulturele en fisiese armoede direk aan nie?

Jared Diamond: Culture or Welfare

Programs to reverse Indian cultural disintegration would be far better than welfare programs, for Indian minorities and for majority taxpayers alike. Similarly, those foreign countries now wracked by civil wars along linguistic lines would have found it cheaper to emulate countries based on partnerships between proud intact groups than to seek to crush minority languages and cultures.

 

5.    Waarom laat die kerklike leierskap die (ont)heiliging van die volkere se lewe aan die duiwel oor?

 

Waarom preek die kerke nie ook vir die volke nie, soos wat hulle plig is, aangesien God ook erfbesit oor die volke het. Die reformasie stel juis dat elke deel van die werklikheid die koningskap van God moet verkondig.

Wanneer ʼn volk ontstaan wil God ook uit daardie volksgemeenskap lof en eer ontvang. Die Bybel is tog duidelik dat gebondenheid aan God die boom en die bos insluit. Die individue en die groep saam moet hulle eer as dankbare geskenke aan God bring. Waarom het die kerklike leierskap eintlik oorgegee aan die liberale denkraamwerk wat eensydig klem op die enkeling lê. Waarom preek die kerke nie ook vir die volke soos wat ook hulle plig is nie? Die ander kant is om vryheid tot ʼn geheiligde kultuur te verkondig.

“En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin.” Open 21:24

 

 

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.