Die ANC-padkaart na ondergang

(Hierdie stuk is aanvanklik geplaas as meningstuk op Maroela Media, en het op 23 Januarie 2023 verskyn. Bron:https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/die-anc-padkaart-na-ondergang/ )

Dit is teen hierdie tyd vir die meeste mense duidelik dat die ANC nie die land kan regeer nie. Na bykans drie dekades aan bewind raak die uitdagings net te veel.

Wat minder duidelik is, is wat die hoofrede vir hierdie onvermoë is. Die grondoorsaak van die regeringsgedrewe landsverval is dat hulle ideologies nie in staat is om die land suksesvol te regeer nie. Dis nie dat hulle nie wíl nie, hulle kán nie, omdat hulle ʼn onregeerbare ideologie navolg.

Daar is belangrike lesse te leer uit ʼn studie van die padkaart na ondergang wat vele linkse regerings histories gevolg het.

Tien mylpale op die padkaart na ondergang

1. Ideologiese godsdiens

Die reis na mislukking begin met ʼn linkse ideologie wat die beste bedoelings het om ʼn beter lewe vir almal te skep. Ware sosialiste is so oortuig van hulle saak dat dit in die praktyk eerder ʼn politieke godsdiens as ʼn politieke filosofie is. Dit is waarom die talle mislukkings van die ideologie nie tot ʼn grondige herbesinning lei nie, en dieselfde foute weer en weer gemaak word.

Hulle klou vas aan Marx se siening dat sosialisme die finale fase van historiese ontwikkeling is, wat onafwendbaar volg nadat die primitiewe, slawe-, feodale en kapitalistiese eras misluk het. Daarom sien hulle sosialisme as die mees ontwikkelde en gevorderde ideologie, wat vir altyd ʼn einde wil bring aan menslike swaarkry wat deur die voorafgaande onmenslike stelsels veroorsaak is.

Alle ongelykheid word as verontregting gesien, met opstand en gelykmaking as die oplossing. Marx se voorskrif oor die kortpad na sosialisme word vandag nog net so luid soos die Evangelie verkondig: veg eers vir demokrasie en gebruik dan die politieke mag om die ekonomiese mag deur die instelling van sosialisme te verkry.

Vir sosialiste is Marx die Messias; Lenin is Paulus, Das Kapital is die Bybel, die uiteindelike sosialistiese werkersparadys is die hemel, demokrasie is die eerste stap na sosialistiese saligheid, kapitaliste is die duiwel, die ongelykheid wat privaatbesit meebring is die sonde, die party is die kerk, partyamptenare is die priesterorde, andersdenkendes die ketters, die konsentrasiekamp is die hel, en die klassestryd verteenwoordig die stryd tussen goed en kwaad.

Die belangrikste kenmerk van sosialisme is dat dit ʼn aggressiewe ideologie is, waar teenstand tot ʼn “heilige” oorlog kan lei en waar die utopiese einddoel die uiterste metodes regverdig.

Die belangrikste rede vir die mislukking van hierdie ideologie, is dat dit in wese ʼn opposisie- en struggle-ideologie is en nie ʼn “regeerideologie” wat moderne, uitgewerkte regeerinstrumente ontwikkel het nie. Die vereistes vir ʼn suksesvolle oorname van ʼn land, bots ongelukkig lynreg met die vereistes wat nodig is vir die suksesvolle regeer van die land.

2. Hemel op aarde

Sosialiste wil nie net die werklikheid verbeter nie, hulle wil dit grondliggend eers omskep en dan herskep. Daarom kan die ou orde nie net hervorm word nie, dit moet omvergewerp en van nuuts af herbou word. Hierin lê die grondoorsaak van die mislukking van linkse omwentelings: té veel, té vinnig, té radikaal en in die verkeerde rigting.

3. Groot staat

ʼn Belangrike oorsprong van die historiese geskil tussen links en regs is die grondliggende verskil in die siening oor die rol van die mark teenoor die staat. Waar ondersteuners van die vrye mark die wil van alle vrye mense om hul lewens te verbeter as die sterkste enjin van ontwikkeling sien, glo aanhangers van staatsbeheer dat ʼn groot en sterk staat daarvoor verantwoordelik is.

Daarom skep die politiek verwagtings waaraan die staat en die ekonomie nie kan voldoen nie. Opstande oor swak dienslewering, gevolg deur dieselfde onwerkbare “omkeerstrategieë”, is kenmerkend van hierdie siklus na die bodem.

4. Groot planne

Vryheidsliewende state se doelwitte is hoofsaaklik beperk tot die beskerming van hulle burgers se regte, soos lewe, eiendom en persoonlike vryheid. Die kern van hierdie stelsels gaan dus daaroor dat die staat so min as moontlik moet doen.

Linkse state staan direk daarteenoor, omdat hulle weer soveel moontlik vir hulle burgers wil doen. Hierdie state beklemtoon sosiaal-ekonomiese menseregte, wat ook in die Suid-Afrikaanse Grondwet opgeneem is. Ons glo dat die staat mense se regte moet beskerm, hulle glo dat die staat mense se regte vir hulle moet gee.

Die probleem is dat daar ʼn regstreekse teenstelling tussen hierdie twee groepe regte is. Die eerste geslag regte beperk die staat se mag en beklemtoon die vryheid van die burger, terwyl die tweede geslag regte die staat se mag vergroot deur ʼn plig op die staat lê om meer vir die burgers te doen.

Die spanning tussen hierdie twee geslagte regte en hulle ondersteuners in lande met groot ongelykhede, word so groot dat dit nie lank saam kan bestaan nie. Eiendomsreg en die oppergesag van die reg kan byvoorbeeld nie saam met ʼn welsynstelsel en die herverdeling van welvaart voortbestaan nie.

Die groot vraag bly of demokrasie en kapitalisme in ʼn land soos Suid-Afrika blywend kan saambestaan? Demokrasie gee vir die meerderheid die mag, terwyl sosialisme welvaart vir ʼn minderheid skep.

5. Magsbalans bepaal spoed

Die globale en Suid-Afrikaanse magsbalans tydens die Kodesa-onderhandelinge van die 1990’s was nie ten gunste van die ANC nie. Daarom moes hulle noodgedwonge toegewings maak om die mag te kry, maar noudat die globale en Suid-Afrikaanse magsverhoudinge verander het, gebruik hulle die mag om hulle oorspronklike doelwitte te verwesenlik.

6. Nasiebou

Die linkse staat eis jaloers alle lojaliteite op en glo dat demokratiese ruimtes vir die vryheid van persone, volke en kultuurgroepe, die media en die regbank die nasionale eenheid ondermyn. Daarom is die klem daarop om almal by die “staatnasie” in te lyf. Daar word aktief gewerk om verdelingslyne soos tale en kulture uit te vee en nasionale eenheid te beklemtoon, in die naam van gelaaide woorde soos insluiting en inklusiwiteit.

Uiteindelik moet minderhede veg vir die basiese regte en vryhede wat meerderhede as vanselfsprekend aanvaar, en word hulle gereeld in die naam van demokrasie verontreg en selfs verdruk.

7. Groot mislukkings

Die groot planne van linkse regerings lei feitlik sonder uitsondering tot groot mislukkings. Die gaping tussen wat die regering wil doen en wat die staat kan doen word al hoe groter, omdat die staat se uitvoerende vermoë terselfdertyd deur die regering ondermyn en afgebreek word deur beleidsrigtings soos verteenwoordigendheid.

Die oorlading van die staat, en die oorskatting van die mag en vermoë van die staat om feitlik enige probleem op te los, is kenmerkend van totalitêre ideologieë. Die burgery wil naderhand eerder stem vir ʼn lewe as om vir een te werk.

8. Meer mag, minder vryheid

Die staat moet meer en meer mag en hulpbronne sentraliseer om sy groot agenda te kan uitvoer. Dit vereis dat die staat al hoe meer in die vryhede van sy burgers, die ekonomie, die reg en die media moet inmeng. Daardeur word die demokrasie en politieke mag juis die werktuig om die burgers se vryheid te ondermyn, en lei die proses algaande tot groter verontregting en later oorheersing.

9. Verdrukking deur demokrasie

Voordat die Westerse liberale demokrasie die algemene wêreldstandaard geword het waaraan almal moes voldoen, kon outokratiese en totalitêre regerings hulle burgers makliker hardhandig onderdruk.

Deesdae moet selfs verdrukkende regerings soos dié van Zimbabwe voorgee om demokraties te wees met verkiesings, parlemente en al. So word “demografiese” meerderheidsregering meermale meerderheidsoorheersing. Demokrasie word dus ʼn werktuig van verdrukking in plaas van ʼn stelsel wat vryheid vir almal moes bring.       

10. Van verdrukking tot verval

Die innerlike teenstellings van die stelsel word uiteindelik so groot dat dit net nie meer werk nie. Die staat begin stuk vir stuk, dorp vir dorp of diens vir diens verval; mense kom al sterker in opstand daarteen in die naam van swak dienslewering; die veiligheidsmagte moet al meer magte kry om al sterker in te gryp om gewelddadige opstande te keer; verontregting begin algemeen plaasvind; die burgery se vryhede word al meer beperk; armoede, werkloosheid en ellende neem krisisafmetings aan; en gaandeweg neem die staat al meer en groter beheer oor totdat dit in volskaalse verdrukking en algemene armoede eindig. Die linkse planne om hemel op aarde te skep, eindig in hel op aarde.

Die belangriker vraag is wat daaraan gedoen kan word, en hoe Westerlinge en Afrikaners wat nie saam oor die afgrond wil val nie uit hierdie krisis kan kom.

Afrikaners kan krisis as ‘Sputnik-oomblik’ gebruik

(Hierdie stuk is aanvanklik geplaas as meningstuk op Maroela Media, en is op 10 Januarie 2023 geplaas. Bron:https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/afrikaners-kan-krisis-as-sputnik-oomblik-gebruik/ )

Op 4 Oktober 1957 het die Sowjetunie die wêreld verstom deur die eerste moondheid te wees om ʼn satelliet in die ruimte te lanseer. Die Sputnik 1 het die Amerikaners diep geskok en totaal verras, en vrese laat posvat dat dit die Sowjets in staat kan stel om die VSA met kernmissiele te bereik.

ʼn Maand later op 3 November 1957, maak die Sowjetunie sy voorsprong nog groter toe hy die hond Laika met Sputnik 2 die ruimte in stuur. Die onderliggende politieke boodskap wat daarmee om die wêreld weerklink het, was dat kommunisme ʼn meer gevorderde stelsel as demokrasie was. Die Amerikaanse verleentheid was nóg groter toe hulle “Vanguard-vuurpyl”, waarmee hulle wou wys dat hulle nie agter is nie, in Desember 1957 nét na lansering ontplof het. Die kommunistiese sukses en Amerikaanse mislukking was ʼn groot slag vir die VSA se selfvertroue, en die wêreld het asem opgehou om te sien wat gebeur.

Die Amerikaners het vinnig en omvattend op hierdie “Sputnik-oomblik” reageer. Onder leiding van president Eisenhower het hulle NASA in Julie 1958 gestig, die Apollo-program geloods en so met mag en mening tot die ruimtewedloop toegetree. President John F Kennedy het in Mei 1961 verklaar dat Amerika die ruimtereis wil wen, en dat daar voor die einde van die sestigs ʼn man op die man sou land.

Vasberade

Vasberade om die ruimte- en tegnologie-wedloop te wen, het die Amerikaners hulle hele skoolkurrikulum hersien en wiskunde en wetenskap beklemtoon. Miljoene dollar is in tegnologiese opleiding en toerusting vir skole en universiteite ingepomp, en daar is op groot skaal in navorsing en ontwikkeling belê.

Die eerste sukses was die maanlanding van Neil Armstrong en sy span op 20 Julie 1969. Maar hierdie historiese prestasie was net die puntjie van die ysberg. Die grootskaalse nasionale poging het tot die ontwikkeling van ʼn magdom nuwe ontdekkings en uitvindings gelei. Groot nuwe sakesektore het ontstaan, lugvaart, elektronika, telekommunikasie en nuwe tegnologie het met groot spronge vooruit gegaan, en selfs die internet se ontstaan is daaraan te danke.

Die aanvanklike kommunistiese voorsprong was eers ʼn reusekrisis vir die Amerikaners, maar uiteindelik was hulle “Sputnik-oomblik” ʼn groot bonus vir die VSA, en het dit hulle dekades vorentoe gevat. Die krisis het die oplossing geword, en die uiteindelike gevolg was dat die Weste die Koue Oorlog gewen en dat kommunisme verloor het.

Israel se ‘Sputnik-oomblik’

Israel se antwoord op hul eie oorlewingskrisis van die 1960’s, is nog ʼn voorbeeld hoe ʼn land se “Sputnik-oomblik” in ʼn blywende voorsprong en suksesverhaal omskep is. Net drie dae voor die bepalende 1967-oorlog teen Egipte en Sirië, het hulle grootste wapenverskaffer, Frankryk, alle lewering aan Israel afgesny. Dit was nie al nie. Die Franse het ook 200 tenks wat Israel reeds bestel het aan Libië gegee, en 50 Mirage-vegvliegtuie waarvoor hulle reeds betaal het aan Sirië gestuur.

Hierdie krisis het Israel in ʼn oorlewingstryd beland, en hulle het na die oorlog dadelik begin om ʼn eie wapenbedryf op te rig – eintlik ʼn onmoontlike projek vir ʼn klein en arm woestynland so groot soos die Krugerwildtuin. Dit het ʼn groot rol gespeel in die opkoms van die Israelse ekonomie en wêreldklas tegnologie-sektor, en dié land het vandag van die hoogste per kop inkomste ter wêreld.

Afrikaneropkoms

Afrikaners se eie geskiedenis getuig ook van hoe ʼn oorlewingstryd tot die ontwikkeling van ʼn moderne land gelei het. Na die Anglo-Boereoorlog is ons voorouers se welvaart uitgewis, derduisende is dood, en die Britte se Verskroeide Aarde het die land verwoes. Dit het die Afrikaners van daardie tyd nie platgeslaan nie, maar juis aangespoor om land en volk in ʼn rekordtyd op te bou.

Nieteenstaande krisisse soos grootskeepse armoede, ʼn burgeroorlog in 1914, die Eerste Wêreldoorlog, die Groot Griep van 1918, en die Depressie van die Dertigers, het hulle binne een geslag soos ʼn feniks uit die asse verrys. Skole, universiteite, maatskappye, koerante, welsynsorganisasies, kultuurverenigings, landbou-unies, dorpe, stede, spoorweë, en destydse reuse soos Eskom is gestig. Daarby is Afrikaans gemoderniseer, en het die land staatkundig en ekonomies groot stappe geneem wat die armblanke vraagstuk opgelos het. Suid-Afrika het die eerste land in Afrika geword om te industrialiseer – ten spyte daarvan dat ons ver vanaf die groot ontwikkelde lande geleë is. Daarby is wêreldklas prestasies op elke gebied behaal, vanaf kernkrag en globale sakeryke tot die eerste hartoorplanting en die ontwikkeling van ʼn moderne kultuur.

“Sputnik-oomblik”

Die vraag is hoe Afrikaners op die huidige dubbele krisis van staatsverval en tweedeklas burgerskap moet reageer? Ons weet nou al dat die ANC nie die land kan bestuur nie, en openlik teen witmense in die algemeen, en Afrikaners in besonder, regeer. Daar is geen teken dat die staatsverval deur die regering omgekeer gaan word nie, en die aanduidings is eerder dat dit vinniger gaan versnel. Die feite wys hard en duidelik dat die ANC se rassebestel en sosialistiese ideologie nie versoenbaar is met ʼn grondwetlike demokrasie, ʼn werkende land en ʼn moderne ekonomie nie.

Dit is begryplik dat die verval, korrupsie, onbevoegdheid en regerende rassisme baie mense moedeloos maak, en dat talle nie meer ʼn toekoms in die land sien nie. Wie nog staatmaak op die ANC, het inderdaad nie hoop nie. Tog bly emigrasie hoogstens ʼn antwoord vir ʼn klein minderheid, en is dit nie ʼn oplossing vir ʼn volk nie. Buitendien sal dit ʼn tragedie vir die land en mensdom wees as ons alles wat oor eeue hier opgebou is los, wegtrek en as kultuur uitsterf. Kom ons gebruik eerder die krisis as Afrikaners se “Sputnik-oomblik”, en begeester mekaar met die opbou van ʼn nuwe toekoms, in plaas dat ons mekaar moedeloos praat oor alles wat verval.

Ons sal self

Die regering is die oorsaak van die probleem, nie die oplossing nie. Hulle regeer soos ʼn besettingsmag wat alles wat hulle oorgevat het verwoes. Ons sal self moet inspring. Ons gaan die toekoms hê wat ons self bou. Die enigste ding wat moeiliker gaan wees as om so ʼn reuseprojek aan te pak, gaan wees om dit nie te doen nie. Ons uitdaging is dat ons oplossings groter as die probleem moet wees, en dat ons dit vinniger sal moet uitvoer as wat die land verval. Maar ons wás al hier, en ons is nog steeds hier! Ons moet dit doen, ons mag dit doen, ons kan dit doen, en ons gaan dit doen.

Die Solidariteit Beweging het lankal hierdie dubbele krisis voorsien, en die afgelope jare aan ʼn omvattende kulturele infrastruktuur begin bou in die plek van alles wat verval of oorgevat is. Ons wag nie vir die volgende verkiesing nie, ons werk vir die volgende geslag. Daarom gaan ons eersdaags nuwe planne bekendmaak om verdere momentum aan ons kulturele bouprojek te gee. Die hede gaan nie weggaan nie, die verlede gaan nie terugkom nie, en die toekoms gaan nie vanself regkom nie. Ons voorouers het hulle tyd se krisis opgelos, ons kan ons tyd s’n oplos. Ons kinders verdien immers beter!

Die einde van ʼn era is ook die geboorte van ʼn nuwe tydperk

(Hierdie stuk is aanvanklik geplaas as meningstuk op Maroela Media, en het op 12 Desember 2022 verskyn. Bron: https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/die-einde-van-n-era-is-ook-die-geboorte-van-n-nuwe-tydperk/ )

Lank gelede is daar met ʼn koning se dood uitgeroep: “Die Koning is dood, lank leef die nuwe Koning!”. Die bedoeling daarmee was om aan te dui dat die koningshuis standhoudend was, al wissel die konings.

Tog het die dood van ʼn koning gereeld tot die einde van ʼn bepaalde era en die opkoms van ʼn nuwe era gelei. So was die onlangse dood van die Britse koningin sprekend van die Verenigde Koninkryk se oorgang vanaf ʼn wêreldmoondheid, toe sy die troon bestyg het, na ʼn gewone middelslagland met haar afsterwe.

In die moderne tyd dui die verandering van staatshoofde nie op gelyklopende veranderings in ʼn land se politieke stelsel nie, omdat die demokratiese bedeling juis bevestig word met die verkiesing van ʼn nuwe premier. Hier is die soomlose wisselings in premiers wat Brittanje die afgelope tyd gehad het, ook ʼn goeie voorbeeld van ʼn bedeling wat voortgaan al verander die regeerder.

Suid-Afrika is egter nie ʼn normale demokrasie, met ʼn seepgladde bedeling, wat gladweg kan voortgaan al wissel die leierskap nie. Mnr. Mbeki se vervanging deur mnr. Jacob Zuma in 2007 het byvoorbeeld ʼn era van ongekende agteruitgang, grootskaalse korrupsie en wydverspreide staatsverval ingelui.

Hoewel die aanwysing van mnr. Ramaphosa as sy opvolger in sekere kringe met groot verwagting gepaard gegaan het, wys die rekord dat hy nie die leierskap gehad het om die toestand te verbeter nie.

Sy powere rekord is nie net daaraan te wyte dat hy ʼn swak leier was nie. Dit is eerder ʼn bevestiging dat die land se probleme veel dieper as sy leier lê. Hoewel die ANC hulself onomwonde as ʼn onbevoegde en korrupte regering bewys het, het Suid-Afrika nie net ʼn regeringsprobleem nie, maar ʼn bedelingsprobleem.

Die land is geografies en demografies heeltemal te uiteenlopend om as ʼn eenheidstaat regeer te word. Die ANC se strategie voor 1994 was om die land onregeerbaar te maak. Die afgelope dertig jaar het gewys dat die land as eenheidstaat inderdaad onregeerbaar is. Dit is nie verbasend as in ag geneem word dat Suid-Afrika groter as agt Europese lande is nie, en bevolkingsgewys selfs nog meer uiteenlopend as hulle is.

Daarom dui die magdom data oor die verdiepende krisisse in die land nie net op die komende einde van die regering nie, maar ook op die naderende einde van die post-1994-bedeling wat as die nuwe Suid-Afrika bekend gestaan het.

Afrikaners kan nie op die kantlyn staan en die ondergaan van die huidige bedeling en die ontstaan van ʼn nuwe een aan bewese onbevoegde politici van die ANC en EFF oorlaat nie. Ons sal met skeppende energie, vindingryke planne en sterk gemeenskapsorganisasies daadwerklik ʼn toekoms moet bou waar Afrikaners blywend vry, veilig en voorspoedig kan voortbestaan.

Die ou Suid-Afrika gaan nie terugkom nie, die nuwe Suid-Afrika kan nie werk nie, en ons sal aan ʼn ander Suid-Afrika moet bou. Ons kinders verdien beter as wat nou in die land aangaan.

Die 1994-bedeling is verby, die toekoms wag…

(Hierdie stuk is aanvanklik geplaas as meningstuk op Maroela Media, en het op 8 Februarie 2023 verskyn. Bron: https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/die-1994-bedeling-is-verby-die-toekoms-wag/ )

Baie mense is met reg moedeloos oor die staatsverval wat al groter afmetings aanneem. Daarom is daar soms ʼn heimwee na tye in die verlede toe dinge “nog gewerk” het. Dit sal egter nie help om na die “ou” óf die “nuwe” Suid-Afrika te verlang nie, die verlede is verby.

Ons sal moet werk aan ʼn “ander” Suid-Afrika waarin daar vir ons ook ʼn toekoms is. As ons kyk na die aannames van 1994 waarop die huidige bedeling gebou is, is dit duidelik dat daardie tyd verby is en nie gaan terugkom nie. Die huidige krisis is té diep om net weer “reggestem” of reggepraat te word. Ons is in ʼn nuwe tydvak en moet met die werklikhede in plaas van ons wense werk.

Die twaalf uitgediende aannames van 1994 was soos volg:

  1. Die ANC sal Suid-Afrika kan regeer

Die ANC kan nie ʼn moderne land regeer nie. Soos RW Johnson gesê het: “Suid-Afrika kan kies om óf ʼn ANC-regering te hê óf ʼn moderne, nywerheidsekonomie, maar nie albei nie.”

Die gehalte van staatsbestuur word weerspieël in die beroerde ekonomiese syfers, rekord werkloosheid en die staatsverval.

  1. Die 1994-ooreenkoms sal gerespekteer word

Die ANC het die wese van die 1994-ooreenkoms verbreek, naamlik die verruiling van meerderheidsregering vir minderheidsbeskerming. Hulle maak wette om onreg te “wettig”.

Daarby het die Grondwetlike gelykheid in die praktyk tot ʼn drakoniese rassebedeling gelei waar swart oorheersing met ʼn radikale 80:9:9:2-transformasie-rasseformule afgedwing word. Saam met ander rassewette, soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), het dit ʼn groot rol gespeel in die probleme by Eskom wat die hele land in ʼn krisis gedompel het.

  1. Kulturele vryheid en minderheidsregte is veilig

Die versekerings dat gemeenskappe se grondliggende regte beskerm sou word, is verbreek. Die beste voorbeeld is die onderwys- en taalbepalings in die Grondwet wat deur die wetgewende, uitvoerende en regterlike gesag onder die dekmantel van radikale “transformasie” verbreek is. Daarby het die grondwetlike instellings wat daaroor moes wag hou, soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) en die artikel 185-kommissie, hulself intussen net as nog ANC-instellings bewys.

  1. Die ANC is nie meer sosialiste nie

Die ANC het by die grondwetlike onderhandelinge toegewings gemaak om die mag te kry, en het stelselmatig daardie mag gebruik om hul oorspronklike doelstellings te verwerklik. Die ANC volg die ou marxistiese resep dat “demokrasie die kortste pad na sosialisme” is.

Daarvolgens word die politieke mag gebruik om die ekonomiese mag te bekom deur sosialistiese beleidsrigtings soos onteiening sonder vergoeding, gratis hoër onderwys, die beplanning van ʼn onbekostigbare en onwerkbare Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), ʼn omvattende welsynstelsel en skerp herverdelende belasting.

  1. Kiesers stem volgens beleid in plaas van identiteit

Die val van kommunisme is beskou as die aanbreek van ʼn era waar mense nie volgens identiteit sou stem nie, maar volgens beleid. Die verwagting en belofte was dat daar regeringsveranderinge sou kom as die regerende party swak sou regeer, omdat dit as logies gesien is dat kiesers dan die opposisie sou instem.

Dit het nie gebeur nie, en die ANC is sedert 1994 al twaalf keer ingestem, waarvan ses keer in nasionale en ses keer in munisipale verkiesings was. Suid-Afrika is net nóg ʼn demografiese demokrasie waar verkiesings in die praktyk grootliks ʼn rassesensus is, ongeag die ANC se powere regeringsrekord.

  1. Die vryemarkstelsel en privaat sektor as ekonomiese enjin

Die aanname dat kommunisme geval en die ANC sosialisme afgesweer het, en die markekonomie nou veilig is, is in die praktyk in gevaar. Die ANC is wel nie meer outydse kommuniste nie, maar sien die staat se rol steeds eerder as Broodwinner in plaas van Huishoudster.

Hoewel die privaat sektor nie genasionaliseer is nie, word die meeste sektore so sterk gereguleer dat dit nie meer nodig is nie. Staatsinmenging in die ekonomie en die regering se vasklou aan mislukte staatsondernemings soos Eskom en die SAL, het saam met grootskaalse korrupsie en wanbestuur die ekonomie tot op die rand van die afgrond gedryf.

  1. Suid-Afrika is ʼn reënboognasie sonder rassewette

Die ANC het sy (rasse-) Afrika-nasionalisme gekamoefleer as “nierassig” en ʼn reënboognasie totdat die magsewewig in die land genoeg verander het vir die herinstelling van ʼn omvattende rassebedeling. Waar gevalle van wit rassisme met staatsmag verpletter word, geld dubbele standaarde met betrekking tot gevalle van swart rassisme. Boonop misbruik die ANC sy staatsmag om sy eie rasse onreg te “wettig” en af te dwing.

  1. Wonderwerkskikking

Die wonderwerkskikking is ná dertig jaar maar net nog ʼn gewone meerderheidsregering wat dreig om in meerderheidsoorheersing te ontaard.

  1. Wigte en teenwigte

Daar het min tereggekom van die beloofde “wigte en teenwigte”. Die ANC het die grondwetlike instellings wat oor die demokrasie moes waak feitlik almal gekoöpteer deur kaders daar te ontplooi wat hul beleid uitvoer.

Hoewel die howe al sterk teen korrupsie in regeringskringe opgetree het, deel die Konstitusionele Hof uitdruklik die regering se siening oor radikale transformasie.

  1. Kundige wit mense is onmisbaar

Die wit gesagsorde het wyd aanvaar dat hul kundigheid in die staatsdiens, openbare ondernemings en groot maatskappye hulle onmisbaar maak – dit was hulle inderdaad. Desondanks is derduisende van hulle uitgetransformeer en het selfs hoogs opgeleide wit mense ʼn bitter klein kans op ʼn senior pos.

Die verval van die meeste kleiner dorpe buite die Wes-Kaap is tekenend van die feit dat die ANC eerder die munisipale dienste ten gronde sal laat gaan as om gekwalifiseerde wit mense aan te stel.

  1. Suid-Afrika sal nie dieselfde foute as ander Afrikalande maak nie

Kommer dat die ANC dieselfde foute as ander Afrikalande ná onafhanklikheid sal maak, is begroet met beskuldigende uitsprake dat sulke kommer suiwer rassisme is.

Dit word al duideliker dat die ANC niks van sy sosialistiese wortels vergeet het nie, en niks van die gevolge daarvan onthou nie.

  1. Apartheid is die oorsaak van al die probleme

Die ANC se meesterverhaal oor die verlede het die meesterverhaal van die land geword wat as grondslag vir beleidsbepaling vir die toekoms dien. Die kern hiervan is dat al die grootste probleme van die land deur apartheid veroorsaak is, en dat ʼn omvattende omgekeerde regstelling moet plaasvind om die gevolge daarvan reg te stel.

Hierdie meesterverhaal hou nie rekening met die lang lys redes vir die ontwikkelingsuitdagings in Afrika wat vir Suid-Afrika ook geld nie.

Dit help nie om krampagtig vas te klou aan die mooi bedoelings van 1994 nie. ʼn Bedeling word nie aan sy bedoelings gemeet nie, maar aan sy uitkomste.

Die Nuwe Suid-Afrika is verby, en die Ou Suid-Afrika gaan nie terugkom nie. Ons enigste keuse is om te help bou aan ʼn “ander’ Suidelike Afrika. Ons verlang nie na die verlede onder die NP nie, maar ons sien nie uit na die toekoms onder die ANC nie. Ons gaan die toekoms hê wat ons self skep.

Hardwerkende belastingbetalers subsidieer diefstal en wanbestuur

Dit is algemene kennis dat die hardwerkende belastingbetaler moet instaan vir die diefstal en wanbestuur van sowat R1,5 triljoen rand van die Zuma era. Maar dis nie al nie. Die Ramaphosa regering gaan volstoom voort om onbeskryflike groot uitgawes vir die belastingbetalers te beplan, soos die onbekostigbare en onwerkbare Nasionale Gesondheidsversekeringstelsel. Die ergste is dat ANC-woordvoerders begin uitsprake maak soos dat werkers se Pensioenfondse geld vir die sukkelende staatsondernemings moet “leen”, sodat die regering nie by die Internasionale Monetêre fonds (IMF) hoef te gaan aanklop nie. Die IMF stel glo te streng eise!

Boonop gaan daar nie ‘n dag verby wat hardwerkende belastingbetalers nie in die media lees van ontsaglike bedrae wat weg of wanbestuur is nie. Dit wys dat korrupsie nie net epidemiese afmetings in dele van die staatsdiens aangeneem het nie, maar skynbaar ook ‘n aansteeklike siekte word. In ‘n normale demokratiese land sou die regering al lankal tot ‘n val gekom het, maar in Suid-Afrika is die ANC onlangs weer tot regering verkies!

Molefe en Hlaudi

 Die ergste is dat die land se leiers blykbaar nie dink dis so erg nie. Hulle praat baie daaroor, maar ons hoor nooit dat iemand aangekla word nie. Opposisiepartye veroordeel, koerante kritiseer, en spesiale eenhede ondersoek, maar daar bo gebeur niks. As Solidariteit nie vir mense soos Brian Molefe aangevat het oor sy plundering van Eskom se pensioenfonds of vir Hlaudi Motseneng oor sy wanbestuur by die SABC nie, het hulle met “moord” weggekom.

Dit lyk of almal daar so besig met hulle oorlewing in die party is, dat byna niemand by die land se oorlewing uitkom nie! Mense raak al afgestomp en so gewoond raak aan regeringskorrupsie, dat hulle dit in die praktyk maar begin aanvaar.

Die Gauteng Tolpad was die eerste keer dat gewone belastingbetalers die streep getrek en gesê het “genoeg is genoeg”. Niemand gee om as daar billike belastings gehef word nie. Maar dan moet die geld eerlik bestuur en doeltreffend aangewend word. Dieselfde mense wat nie die land kan bestuur nie, dink blykbaar dat belastingbetalers onderdanige koeie is met ‘n onbeperkte voorraad melk wat nooit sal opraak nie. Die openbare woede wat die Tolpad kwessie ontlok, was eintlik ‘n opstand teen swak staatsbestuur. Mense raak net keelvol om links en regs belasting te betaal, niks daarvoor te kry nie, te sien hoe hulle swaar verdiende belasting geld geplunder word, net om dan wéér ‘n keer vir al die privaat dienste te moet betaal.

Wêreldrekords

 Belastingbetalers betaal meer aan die regering as wat hulle aan hulself betaal. Doen gerus maar self die somme. Tel al die soorte direkte en indirekte belasting op, plus daardie dienste wat jy self weer moet aankoop omdat jy nie die staat s’n kan gebruik nie, en kyk wat jy daarna oor het. Ons netto belasting is die hoogste in die wêreld. Die dienste wat ons daarvoor kry is die swakste in die wêreld. Die omvang van wanbesteding en diefstal van ons geld is nou al ook ‘n wêreldrekord. Die regering se lamsakkige pogings om korrupsie uit te roei is sekerlik die flouste in die wêreld. Daarom is dit wonderlik dat belastingbetalers nou begin aandring op ‘n goeie opbrengs vir hulle geld. Hierdie gemors moet hand en tand beveg word.

Vanweë die aard van die belastingstelsel dra die gewone werkende die grootste deel van hierdie netto belastinglas en kan hulle met reg voel dat hulle grootliks die regering én die armes moet dra. Daarom gaan die redenasie dat Suid-Afrika die ongelykste land in die wêreld is nie op nie. Die syfers vergelyk nie appels met appels nie. Dit onderskei nie tussen die ongelyke vaardigheidsvlakke in verskillende lande nie, en neem nie die netto belastinglas in ag nie. Die armes se totale inkomste word byvoorbeeld vergelyk met die inkomste van die ryker groep voor belasting en voor hulle uitgawes aan die bykomende “dubbele belasting”.

Gesin eerste

Dit is ‘n wêreldwye verskynsel dat die gemiddelde werk mense moontlik nie ryk maak nie, maar dat die werkende middelklas terselfdertyd ook nie arm sal wees nie. Dít voorveronderstel egter ‘n belastingstelsel waar die werkendes eers vir  die basiese behoeftes van sy eie gesin kan sorg voordat hy belasting aan die staat vir die behoeftes van ander moet betaal. Verder behoort die belastingbetaler self ook waarde vir sy geld te kry in die vorm van gratis onderwys en ander dienste, en behoort hy of sy ook ‘n doeltreffende inspraak in die besteding van sy of haar belastinggeld te hê.

Daarom is dit tyd dat die regering die werkende belasting betaler nie net soos onderdane wat belasting moet betaal behandel nie, maar soos volwaardige burgers wie se belange net soos die van ander groepe beskerm moet word.

Hierdie probleem kom nie net in Suid-Afrika voor nie, maar is selfs in die VSA teenwoordig. Daarom is dit insiggewend om te sien wat twee gesiene swart ekonome van Amerika hieroor te sê het.

Die eerste is ‘n paar aangrypende stellings wat die Afro-Amerikaanse denker, Prof Thomas Sowell hieroor gemaak het, wat ten spyte van die verskille tussen die VSA en Suid-Afrika, belangrike lesse vir ons land inhou:

Dr Thomas Sowell

  • “There are few talents more richly rewarded with both wealth and power, in countries around the world, than the ability to convince poor people that their problems are caused by other people who are economically more successful.”
  • “When someone tries to lay a guilt trip on you for being successful, remember that your guilt is some politician’s license to take what you worked for and give it to someone else who is more likely to vote for the politician who plays Santa Claus with your money.”
  • “No government of the left has done as much for the poor as capitalism has. Even when it comes to the redistribution of income, the left talks the talk but the free market walks the walk.”
  • “What do the poor most need? They need to stop being poor. And how can that be done, on a mass scale, except by an economy that creates vastly more wealth? Yet the political left has long had a remarkable lack of interest in how wealth is created. As far as they are concerned, wealth exists somehowand the only interesting question is how to redistribute it.”
  • “The left’s philosophy of failure is one in which ills as poverty, irresponsible sex, and crime derive primarily from ‘society,’ rather than from individual choices and behavior. To believe in personal responsibility would be to destroy the whole special role of the left, whose vision casts them in the role of rescuers of people treated unfairly by ‘society’.”
  • “There’s no explanation needed for poverty. The species began in poverty. So what you really need to know is what are the things that enable some countries, and some groups within countries, to be prosperous.” 

Die tweede denker is Colemen Huges, wat al wyd oor die welvaartsgaping tussen rasse geskryf het. Hy maak onder meer die volgende twee stellings:

Coleman Huges

  • “The wealth of modern nations was not plundered; it was, and continues to be created.”
  • “I do not know of a single instance in which an underachieving group rose to economic prominence by asking the government for cash transfers, preferential policies in education and employment, or apologies for past injustices.”

Daarom voer Solidariteit ‘n veldtog teen die diefstal en wanbestuur van hardwerkende lede se belastinggeld, om te verseker dat werkers nie hierdie skandalige plundering en vermorsing hoef te subsidieer nie.

(Bron: Solidariteit Tydskrif September 2019)

Agt goue reëls om ʼn sukses van jou werksloopbaan te maak.       

 Dit is vir elke mens moontlik om ʼn sukses van sy of haar loopbaan te maak. Die wel en weë van Solidariteit se meer as honderd en tagtig duisend lede, het vir Flip Buys die kans gebied om ʼn deeglike studie te maak van die vereistes vir loopbaansukses. Hy het vir jare lank noukeurig gekyk wat die redes is hoekom party mense bo uitkom en ander nie. Hy som sy gevolgtrekkings op in “Agt goue reëls om ʼn sukses van jou loopbaan te maak.” 

  1. Vervul jou roeping

Baie mense se loopbane vat net nooit vlam nie omdat hulle nie besig is om hulle roepings uit te leef nie; hulle werk maar net. As Christen weet ek dat elke mens ʼn lewensroeping het, en dat dit noodsaaklik is om so gou moontlik uit te vind wat dit is.

ʼn Mens sonder roepingsbesef werk al sugtende net om te leef, en leef nie om-met lewensvreugde-te- werk nie. Daarom is dit vir jongmense belangrik om nie jou studierigting of werk te kies vir die geld nie. Die “regte” beroep vir die verkeerde mens lei tot mislukking. Jy sal die meeste geld verdien waarin jy die beste is en waartoe jy geroepe voel. Geld is die beloning vir goeie dienslewering. Moenie mik op die geld nie, mik om ʼn verskil te maak. As jy dit regkry, sal jy goed daarvoor – ook in geldelike terme – beloon word. Vervul jou roeping, nie iemand anders s’n nie!

  1. Verdere studie is die beste opbrengs op ʼn belegging

Mense vra soms wat die beste belegging is, soos eiendom of aandele. Die regte antwoord is dat die beste opbrengs op belegging baie beslis in ʼn mens se eie opleiding is. ʼn Persoon wat geld en tyd belê in sy eie opleiding, word oor en oor in geldelike en lewensgehalte terme daarvoor vergoed in sy of haar werkslewe. Opleiding kos geld en baie opoffering, maar mense sonder opleiding het baie maal nie geld vir kos nie, en moet baie harder werk en meer opofferings maak sonder die vooruitsig op ʼn beter lewe. Hulle moet lewenslank werk vir hulle geld, en kry nooit genoeg dat hulle geld vir hulle kan werk nie.

Daar is ʼn noue verband tussen jou studie en jou roeping. Daarom moet jy sorg dat jy jouself toerus vir jou totale roeping, en nie net vir jou beroep nie. Prakties beteken dit dat jy nie net die minimum moet doen om jouself te kwalifiseer nie. Nie een van ons wil opereer word deur ʼn dokter wat net 50% gekry het nie. Begin deur jouself toe te rus met die beste opleiding beskikbaar, presteer so goed jy kan daarin, maar werk ook aan ʼn positiewe lewenshouding, opbouende waardestelsel, en mens- en lewensvaardighede. ʼn Afgeronde mens met ʼn goeie opleiding kan selfs in teenspoed volhard, en is gewaarborg van uiteindelike sukses.

Moet ook nie altyd net na die “makliker” rigtings kyk nie; onthou – hoe moeiliker die studie, hoe hoër die uiteindelike opbrengs. Leer dus vir jouself ʼn toekoms oop, dit kom nie vanself nie. Dawerende sukses word altyd voorafgegaan deur stille voorbereiding. Onthou ook dat daar nie goeie of slegte rigtings is nie. Sommige miskien goed vir ander mense, maar sleg vir jou, of anders om. Die beste tuinier met ʼn passie vir tuine, sal lekkerder werk, ʼn landswye tuinbesigheid opbou, en baie meer geld maak as ʼn mediese spesialis wat elke oomblik van sy werk haat en flou word as hy bloed sien! Onthou, jy is nooit te oud om te leer nie. 

  1. Werk aan jou sterk punte

Daar is ‘n baie eenvoudige reël vir sukses: vind uit waarin jy goed is, en word die beste daarin. Dit beteken dat jy aan jou sterk punte moet werk, in plaas daarvan om die hele tyd jou swak punte te probeer verbeter. Dit help nie ʼn briljante rugbyspeler probeer heeltyd sy swak krieket verbeter nie. Hy sal net sy plek in die Springbokspan verloor, en ook nie die nasionale Krieketspan haal nie. Niemand is briljant in alle rigtings nie.

Sommige mense kom gou agter wat hulle sterk punte is, verbeter dit dan deur harde werk, oefening en studie, en kom so vinnig bo uit. Ander vat jare om hulle sterk en swak punte te ontdek, en fokus nie op dit waarin hulle die beste is nie. Hulle loopbane is dan soos ʼn vliegtuig wat heen en weer op die aanloopbaan ry maar nooit opstyg nie.

Dit beteken nie dat jy moet toelaat dat jou swak punte jou laat struikel nie. Omring jou byvoorbeeld met mense wat jou swak punte aanvul met hulle sterk punte. Dink maar aan hoe Aäron namens Moses moes praat. 

  1. Volg jou passie

Die gemiddelde mens werk sowat 40 jaar, en moet dan daarna leef op die vrugte van daardie loopbaan. Dis ʼn baie lang tyd om iets te doen waaroor jy nie absoluut gaande is nie. As jy nie weet wat jou passie in die lewe is nie, is daar twee dinge wat jy kan doen om uit te vind. Gaan vir goeie beroepsleidingtoetse, of kyk waarna jy van hou om in jou vrye tyd te doen. Die mees suksesvolle mense is die wat betaal word om te doen waaroor hulle buitendien mal is! Passie is daardie petrol in die tenk wat jou tot bo gaan dryf. 

  1. Leer jouself ken

Ons sien soms makliker ander mense se foute of mooi eienskappe raak as ons eie. Volwassenheid hang nou saam met selfkennis. Iemand wat hom- of haarself ken, weet wat hulle aanleg, belangstellings en sterk punte is en wat nie. Hulle aanvaar hulself, is lief (maar nie verlief!) vir hulself, en is gemaklik in hul eie velle.

Baie mense misluk in hulle loopbane ten spyte van ʼn hoë intelligensie, goeie kwalifikasies, harde werk en groot dryfkrag. Hulle word in diens geneem weens hulle vaardighede, maar word weer ontslaan weens hulle emosionele onvolwassenheid of karakterfoute. Daarom sê ervare personeelbestuurders dat ʼn “goeie” vakature beter is as ʼn slegte aanstelling!

Dit is soms verbasend dat mense wat in hul middeljare nog rond soek en sukkel na die regte poste, is omdat hulle nie hulself ken nie. Wanneer ʼn goeie mediese spesialis wat nie kan bestuur nie as hoof van ʼn hospitaal aangestel word, kry die hospitaal ʼn swak bestuurder en verloor die mediese professie ʼn goeie spesialis. Dis ʼn verloor-verloor situasie.

  1. Lewenslange leer

In vandag se snel veranderende wêreld, verouder kennis en ondervinding blitsvinnig. Daarom verstaan mense wat jare lank suksesvol was nie hoekom hulle skielik begin sukkel in hulle werk nie. Stagnasie is die dood in die loopbaanpot.

Prakties beteken dit dat ʼn kwalifikasie wel ʼn goeie en noodsaaklike wegspring is, maar dit is nie ʼn gewaarborgde wenpaal nie. Die wêreld staan nie stil nie, daarom kan jy ook nie. Suksesvolle maatskappye en mense besef dit ook, en daarom is lewenslange leer vandag die “in” ding. Moenie sug en dink dit beteken jy moet lewenslank nagte om leer vir nog grade nie. Op universiteit of kollege leer jy om te leer. Formele studies is en bly altyd goed, maar deur kursusse, konferensies, boeke of net ʼn leeringesteldheid kan jy baie ver kom. Inteendeel, die “universiteit van die lewe” is onontbeerlik vir sukses. En onthou, hou jou oë en ore oop; algemene kennis is toe nie so algemeen nie!

  1. Verander van werk en beroep

In die ou tyd het mens vir ʼn werk studeer toe jy jonk was, en dan lewenslank dieselfde werk by dieselfde plek gedoen tot met jou aftrede. Later het dit verander, en het mense in hulle loopbane gemiddeld ses keer van werk verander. Maar die wêreld verander al vinniger, en talle mense verander vandag nie net ses keer van werk nie maar ook nog drie keer van beroep! Dit beteken jy kan nie meer bekostig om vir ʼn werk te leer nie, jy moet leer om te leer. Maar dis nie nodig om bang te wees vir die toekoms nie, hou net jou opsies en jou (lerende) oë en ore oop.

  1. Werk aan jou werk

Net die beste maatskappye oorleef in vandag se mededingende wêreld. Daarom kan geen maatskappy oorgerus raak nie, en ook nie enige werknemer nie. Daarom – werk aan jou werk, moenie maar net elke dag werk toe kom en jouself afsloof nie. Die enigste verskil tussen ʼn groef en ʼn graf is die diepte. Probeer om nie net harder te werk nie, werk slimmer! Maar die belangrikste van alles: geniet jou werk, en bly leer!

(Bron: Solidariteit Tydskrif Julie 2019)

 

Dis tyd om nuut te dink en te doen

Albert Einstein het gesê dat dit die toppunt van dwaasheid is om dieselfde ding herhaaldelik te doen, en dan ‘n ander uitkoms te verwag. Hierdie wysheid is nou baie toepaslik in Suid-Afrika. Miljoene kiesers het so pas vir die sesde verkiesing sedert 1994 vir dieselfde regering gestem onder wie se bewind werkloosheid volgens Statssa so pas weer rekordhoogtes bereik het. Daar’s nou ‘n skrikwekkende 20 miljoen mense van werkende ouderdom in die land wat werkloos is of nie besig met studies is nie! Dis ongelukkig nie al nie. Volgens die gesaghebbende ekonomiese kanaal Bloomberg, het Suid-Afrika die afgelope 12 jaar meer agteruitgegaan as enige ander land wat nie in ‘n oorlog was nie. Die jongste verslag van Eunomix Business & Economics wat Bloomberg aanhaal, is dat Suid-Afrika volgens ‘n wye reeks aanwysers vanaf 31ste in 2006 na die 88ste posisie uit 178 lande teruggesak het. Bloomberg verwag ook dat die agteruitgang sal voortduur vanweë die gevolge van die Zuma-era en die versuim om noodsaaklike beleidsveranderings te maak.

Ten spyte daarvan het die meeste kiesers weer vir die ANC gestem. Dis waarskynlik omdat hulle glo dat president Ramaphosa die enigste persoon is wat die rampskade van die Zuma era kan herstel en hulle lewens kan verbeter. Die probleem is dat die ANC nou wel ‘n nuwe leier gekry het, maar dat dit nog dieselfde ANC met dieselfde beleid is. Daarom sê die politieke wetenskaplike, Dr James Myburgh, dat dit nie moontlik is om uit die huidige krisis te kom met dieselfde ideologie en beleid wat die land tot op die rand van die afgrond gesleep het nie.

Plan A, B en C

Daarom is dit nou tyd vir nuut dink en nuut doen. Die uitdaging is dat die ANC landsbeleid bepaal, en dat die verkiesing weereens bewys het dat die meerderheid vir “hulle” party se identiteit eerder as sy beleid stem. Natuurlik hoop almal dat mnr Ramaphosa wel beter sal regeer, grootskaalse korrupsie gaan beveg, en weer sakevertroue sal laat verbeter. Dit kan as “Plan A” beskryf word. Daar is gelukkig tekens dat die president wel begin optree teen korrupsie, soos gesien kan word in die werk van verskeie Kommissies van Ondersoek, waaronder die Zondo kommissie na staatskaping. Die groot leemte in Plan A is egter dat daar nie genoeg tekens is dat ingrypende beleidsveranderings aangebring gaan word wat noodsaaklik is om die land weer reg te ruk nie. Eskom bly die beste voorbeeld. Ten spyte van hierdie grootskaalse krisis wat die land bedreig, word vanselfsprekende beleidsveranderings soos privatisering, onafhanklike kragopwekking of die aanpassing van drakoniese rassebeleidsrigtings nie aanbebring nie. Dit voorspel niks goeds vir die sukses van Plan A nie, en dit lyk of “meer van dieselfde” die beste is wat hiervan verwag kan word.

Plan C is oorsee

Indien dinge nie gou merkbaar verbeter nie, gaan die stroom kundiges wat landuit vloei al groter groei totdat dit ‘n stortvloed kan word. Dit lei natuurlik tot ‘n bose sirkel, want hoe meer kundiges landuit trek, hoe moeiliker gaan dit wees om ‘n moderne land aan die gang te hou. Dis hoekom die skrywer RW Johnson gesê het dat Suid-Afrika ‘n ANC-regering of ‘n moderne ekonomie kan hê, maar nie albei saam nie. Sy stelling spruit uit die groeiende demodernisering van talle vervalde dorpe, staatshospitale, skole, polisiestasies, openbare ondernemings soos Eskom en staatsdepartemente.

Die wêreldbekende Amerikaanse Politieke Wetenskaplike, Professor Fukuyama, het reeds in 1993 die volgende belangrike standpunt hieroor gestel: ”The main obstacle to black social modernization in the future may well be the belief in socialism on the part of the ANC and its communist allies.

Socialism has always presented itself as a higher and more progressive form of social organization than capitalism.  But in the contemporary world, socialism has been revealed to be an obstacle to social and economic modernization – the hallmark of a certain kind of backwardness that needs to be overcome, just like illiteracy and superstition.  The countries of Eastern Europe are now moving rapidly backward into the future, undoing the legacy of forty years of dictatorship and socialist planning.  Let us hope that South Africa, as it makes the necessary transition to democracy, does not move forward into the past.”

Gegewe die geweldige risiko’s van Plan A en die ewe groot bedreiging van Plan C, is dit gebiedend noodsaaklik dat die Solidariteit Beweging se Plan B in snelrat uitgevoer moet word. Dit sal verseker dat ons top mense en ons kinders nie landuit stroom nie, omdat daar vir hulle ‘n vry, veilige en voorspoedige toekoms hier sal wees. Dit sal ook Plan A se kanse op sukses verbeter, deurdat dit die ekonomie en die regsorde sal help werk. Ons moet dus help om te sorg dat Plan A nie die land inmekaar laat stort nie, deur die polisie te help met misdaadbekamping deur buurtwagte, deur korrupsie te ontbloot en deur paaie en munisipale dienste in stand te probeer hou.

Plan B

Die risiko om net op die staat se Plan A staat te maak is net te groot. In Zimbabwe het die mislukking van die staat tot ‘n werkloosheidskoers van sowat 90% gelei, en is duisende mense se pensioene uitgewis deur die hiperinflasie van miljoene persent. Genadig is Suid-Afrika nog ver van daardie nagmerrie, maar ons sit self reeds met ‘n krimpende werksmag waar poste net volgens ras herverdeel word sonder dat daar naastenby genoeg nuwe poste geskep word.

Die werklikheid is dat die staat verswak, en nie meer goeie betroubare dienste aan die bevolking kan lewer soos veiligheid, gesondheid, elektrisiteit en behoorlike munisipale dienste nie. Die verswakkende staat het oor die afgelope 7 jaar sowat 1 miloen poste vernietig, terwyl miljoene ander nooit geskep kon word nie. Daarom het die privaatsektor oor die afgelope 25 jaar al meer privaatdienste begin lewer, soos privaatmedies, privaatsekuriteit en selfs privaatdorpe met betroubare dienste. Hierdie privatisering het waarskynlik reeds voorkom dat die staat heeltemal verval het. Die voortdurende aanvalle op Afrikaanse skole wys reeds dat die toekoms van Afrikaanse skole privaat is, hoewel die openbare skole so lank as moontlik aan die gang gehou moet word. Privatisering van dienste waarvoor werknemers reeds belasting betaal is egter vir die meeste mense onbekostigbaar, en dis hoekom ons plan op bekosigbare gemeenskapsdienste gegrond is. Hierdie dienste kan in samewerking met die privaatsektor geskied, terwyl daar ook waar moontlik met die staat saamgewerk kan word.

Gemeenskapsdienste

Die Solidariteit beweging se Plan B behels in kort om ons afhanklikheid van die staat stelselmatig te verminder en deur sterk selfhelporganisasies groeiende selfstandigheid te bewerkstellig. In die praktyk het ons reeds ver daarmee gevorder, en bied ons beweging met ‘n kern van voltydse personeel en met die hulp van duisende vrywilligers, ‘n wye spektrum dienste aan. Dit sluit onder meer veiligheid, munisipale diensverbetering, tegniese opleiding, ‘n universiteit, Afrikaanse media, maatskaplike versorging, studiehulp aan duisende studente, regsbystand, buitelandse steunwerwing en steundienste aan skole in. Solidariteit se beplande Netwerk van werk is die volgende opwindende fase van Plan B.

Die uitdaging bly om staatsdienste sonder staatsinkomste of ‘n staatstruktuur te lewer, midde in ‘n verswakkende staat en onder ‘n negatiewe regering. Daarom sal ons nuut moet dink en nuut moet doen, want vir die oplossing om te slaag sal dit groter as die probleem moet wees. Hoewel ons planne regmatig en geregverdig is, kan ons nie wag op vooraf toestemming nie, maar sal ons eerder na die tyd erkenning moet vra vir dit wat in die praktyk opgebou is. Ons toekoms is te belangrik om aan die ANC oor te laat!

(Bron: Solidariteit Tydskrif Mei 2019)

Eskom en Suid-Afrika se afbreek en heropbou

Dit voel of my hart wil breek oor Eskom. Daar is ’n paar redes hiervoor. Op ’n persoonlike vlak was Eskom my eerste werk ná my studies. My loopbaan het op die Matimba-kragstasie by Ellisras begin. My aardse besittings het alles in my beskeie studentekarretjie se bagasiebak ingepas toe ek daar aankom. Eskom het my lewe verander. Ek het nou ’n regte werk en ’n inkomste gehad, en die beste van alles – ’n Eskom-huis! Dit was destyds ’n topmaatskappy en ek het baie by my kollegas geleer.

 

Afskeid

Namate die land en Eskom die groot historiese stroomversnellings van die vroeë negentigs ingegaan het, het ek en my vrou met ’n swaar hart van Eskom afskeid geneem. Ek was maar taamlik skepties oor al die mooi beloftes en bedoelings van die politici. My indruk was dat die ANC ’n wolf in skaapsklere was, en eers hul ware kleure sou wys nadat hulle stewig in die regerende saal is. Daarom het ek my gewig by die vakbond ingegooi, met nie veel meer was as ’n droom om dit uit te bou tot ’n nuwe helpmekaarbeweging nie.

Die tweede rede hoekom die Eskom-krisis my só swaar tref, is omdat dit die land en sy mense so hard tref. Honderdduisende goeie mense het hulle werk, inkomste en hoop verloor as gevolg van die ekonomiese krisis wat deur Eskom veroorsaak is. Die Zimbabwe-spook het begin loop, duisende mense uit die land laat stroom en gesinne en families verskeur.

Maar daar is ’n derde rede hoekom die Eskom-krisis my so hard tref. Dit is die besef dat Eskom net die sigbaarste teken van die verval in die res van die land is. Dit is net die punt van die ysberg wat bo die water uitsteek. Onder die waterlyn lê die res van dieselfde ANC-toegediende krisisse; minder sigbaar, maar net so ernstig. Dit is die talle vervalle dorpe, staatshospitale, skole, polisiekantore, staatsdepartemente en die verterende korrupsie wat aan die bloeiende liggaam van die land vreet.

 

Opbou

Die oordosis slegte nuus maak baie mense só moedeloos dat hulle hoop verloor en eerder landuit wil gaan. Gelukkig is alles nie slegte nuus nie. Vir elke stukkie staat wat verval, is daar iets wat opgebou word:

  • Vir elke hospitaal wat verval het, is daar ’n wêreldklas- privaat hospitaal opgebou
  • Vir elke polisiekantoor wat verval, is daar ’n werkende sekuriteitsmaatskappy
  • Vir elke staatsmaatskappy soos die Poskantoor wat verval het, het daar ’n privaat maatskappy ontstaan wat daardie diens lewer en mense werk gee
  • Vir elke staatsbiblioteek wat verval, het nuwe tegnologie dit vir mense moontlik gemaak om toegang tot digitale inligting te kry
  • Vir elke dorp wat verval, ontstaan daar ’n werkende “privaat dorp” in al die stede
  • Vir elke skool wat verval, word ’n presterende privaat skool opgerig.

Boonop maak duisende sakeondernemings en gewone mense hulself meer staatsbestand deur hulle eie kragopwekkers of sonkragstelsels aan te skaf.

 

Toekoms

Die Solidariteit Beweging is deel van hierdie opbouproses. Dis hoekom ons ’n opboubeweging is, wat bou aan ons gemeenskap se werk, veiligheid, onderwys, opleiding, media en dorpe. Die groot uitdaging waaraan ons ook werk, is om hierdie dienste bekostigbaar te hou, en om met ’n valkoog te kyk dat die regering nie ons swaarverdiende belastinggeld verder uitmors nie.

 

Net soos Eskom die simbool van verval is, is Sol-Tech en ons talle ander projekte vir my die simbole van die opbouproses waarmee ons besig is.

Daarom moet ons nie toelaat dat die Eskoms van die wêreld ons moedeloos maak nie. Kom ons bou ons toekoms. ’n Toekoms is nie iets waarheen jy gaan nie, maar iets waaraan jy bou. Dis nie soos ’n pad waarop jy net kan ry nie, maar waaraan jy bou.

Kom laat ons dan uitstyg bo die negatiwiteit en pessimisme van die dag, en met ’n positiewe gesindheid help met die heropbou.

Soos die beroemde ekonomiese historikus van Harvard prof. David Landes gesê het: “In this world, the optimists have it, not because they are always right, but because they are positive. Even when wrong, they are positive, and that is the way of achievement, correction, improvement, and success. Educated, eyes-open optimism pays; pessimism can only offer the empty consolation of being right.”

Dis tog ons plig en ons voorreg om vir ons kinders ’n beter toekoms te los as wat ons gekry het.

(Bron:  Solidariteit Tydskrif Maart 2019)

Die argitekplan waaraan ons bou

Jare gelede het iemand in Europa vir drie bouers gevra waarmee hulle besig is.

“Ek messel hierdie muur,” het die eerste bouer moeg gesê.

“Ek bou aan ’n katedraal,” het die tweede bouer opgewek geantwoord.

“Ons bou aan die Westerse Christendom,” het die derde bouer begeesterd vertel.

Drie bouers, drie antwoorde, maar ’n reuse-verskil in die omvang van hulle lewensuitkyk. Hoe groter ons dink, hoe groter kan ons doen.

’n Gebou kan nie opgerig word sonder ’n argitekplan nie, en geen bouer sal energiek wil saambou as hy nie die groter plan sien waaraan hy bou nie. Dis daarom nodig dat ons kyk na die groot prentjie van die “geboue” waarmee ons by die Solidariteit Beweging besig is. Dit is veral baie belangrik omdat al meer mense bekommerd raak dat “Gebou SA” plek-plek inmekaarstort, en dalk heeltemal op ons en ons kinders se toekoms kan inplof. Daarom moet ons die verval help keer, terwyl ons vinnig aan nuwe oplossings bou.

 

Weeg meer as tel

Dink net wat ons in ’n rekordtyd kan vermag as al 500 000 lede van ons Beweging geesdriftig begin saambou aan die argitekplan van die Solidariteit-gebou waarmee ons besig is. Met soveel lede is ons reeds een van die grootste organisasies in die land, naas die ANC en Cosatu. As elke lid se gesin bygetel word, is ons seker al meer as 2 miljoen mense. Onthou ook dat ons lede meer “weeg” as wat hulle “tel”, vanweë hulle hoë vlakke van kundigheid en sleutelvaardighede. Ons hoef dus nie moedeloos te voel oor soveel dinge wat platval nie. Dit sal ’n totale onderskatting beteken van wat bykans 2 miljoen mense gesamentlik kan vermag. Die geskiedenis het al soveel keer bewys dat gemeenskapskrag sterker is as staatsmag. ’n Bouprojek moet ’n teikendatum hê, wat opgedeel kan word in dele van die gebou wat gouer klaar sal wees, en ander wat langer kan neem. Kom ons neem die jaar 2030 as ’n voorbeeld van ’n teikendatum, en werk dan daarvandaan terug om te kyk waaraan en hoe vinnig ons vandag moet bou!

 

Stad vir 2030

Daar is baie probleme in die land, en een “gebou” is nie genoeg nie. Die oplossing moet immers groter wees as die probleem. ’n Hele “stad” vol geboue is dus nodig. Die doel van die Solidariteit Beweging se “stad” is om die infrastruktuur te skep wat nodig is vir ons as gemeenskap om volhoubaar vry, veilig en voorspoedig in Suider-Afrika te kan voortbestaan. Sodoende sal ons ’n blywende bydrae kan maak tot die vryheid, veiligheid en voorspoed van almal in die land. Die argitekplan vir hierdie infrastruktuur behels dus bouplanne vir werk-, onderwys-, opleidings-, veiligheids-, maatskaplike, ekonomiese en kulturele infrastruktuur. Sulke omvattende bouplanne is nodig om een van twee redes: omdat die bestaande infrastruktuur van die staat in verskillende stadiums van verval is, of omdat ons, weens ons ras, in praktyk nie in daardie geboue toegelaat word nie.

Die doel van ons eie geboue is gevolglik nie om onsself te probeer isoleer nie, maar inteendeel – om  dit moontlik te maak om saam in Suid-Afrika te bly. Elke gesin bou mos sy eie huis sodat hy veilig saam met sy bure in die gemeenskap kan bly, anders het jy gou sonde met die bure! As ons nie vinnig hiermee vorder nie, gaan die nuwe geslag die land verlaat vir groener en gelyker weivelde waar dinge nie platval nie en die staat se “geboue” werk en oop vir almal is.

 

Werkende dorpe, stede

Kom ons kyk hoe hierdie argitekplan sal lyk as hy klaar gebou is. Die eerste punt op die plan is werkende dorpe en stede. Die Solidariteit Beweging het AfriForum die verantwoordelikheid gegee om as ’n eerste fase op sowat 30 dorpe en stede se dienste te fokus. Die doel is om dorpsforums te stig wat eintlik “skadustadsrade” gaan wees, en wat dienste gaan lewer wat die staat nie kan of wil lewer nie. Hierdie forums gaan onder meer veiligheid, onderwys, munisipale dienste, werkverskaffing, ekonomie en maatskaplike hulp koördineer. Hierdie projek skop eersdaags af met loodsprojekte in sewe dorpe.

 

Pad van werk

Solidariteit ontwikkel ’n “pad van werk” wat vanaf skool tot aftrede sal strek, en duisende mense met ’n goeie werk sal help. Hierdie werkpad sal reg deur die hele Solidariteit-“stad” loop, met bane vir beroepsgildes, minderheidsvakbonde en verdere beroepsleer om ons lede ’n voorsprong te gee.

 

Veiligheid

AfriForum se veiligheidsmaatskappy word uitgebrei om misdaad onder beheer te bring in die dorpe waar hulle sterk strukture het, in samewerking met die polisie en privaat sekuriteit.

 

Onderwys

Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) is saam met ander onderwysorganisasies met opwindende planne vir ’n bekostigbare Afrikaanse privaatskoolstelsel besig. Die eerste fase word eersdaags bekendgestel, en is ’n “skole-Akademia” oftewel “Wolkskool” waar kinders aanlyn kan skoolgaan of ekstra klasse kan loop.

 

Opleiding

Sol-Tech word tans uitgebou tot ’n omvattende beroepskollege wat die meer as 70% jongmense wat nie universiteit toe gaan nie, moet oplei in ’n verskeidenheid beroepe. Dis gebaseer op die Duitse stelsel van beroepsopleiding. Sol-Tech het hierdie jaar begin om oorbruggingskursusse vir jongmense wat nie ’n tegniese matriek het nie aan te bied op Naboomspruit, Worcester, Klerksdorp, Wolmaransstad en Bethlehem.

 

Akademia

Akademia word uitgebou tot ’n wêreldklas universiteit in Afrikaans, waar ons kinders gehalte hoër opleiding en opvoeding in ’n veilige omgewing kan kry. Studente sal by die groot hoofkampus in Pretoria, of een van die landwye streeksentrums kan studeer. Akademia sal ook bande met van die voorste universiteite in die wêreld sluit om internasionale standaarde te verseker.

 

Studiefonds

Almal wat wil, moet kan. Die Helpende Hand se Studiefondssentrum moet groot genoeg wees om almal wat wil, rentevry te kan laat studeer.

 

Beroepstoetse

’n Beroepstoetsstelsel word ontwikkel om al ons lede en hulle gesinne se beroepsaanleg en -belangstelling te toets, om hulle te help om in die regte studierigting te studeer.

 

Maatskaplik

Solidariteit Helpende Hand skep die maatskaplike infrastruktuur om vanaf skool tot ná aftrede bystand aan verdienstelike hulpbehoewendes te bied. Dit behels landwye dienste om armoede te voorkom, te verlig en te verbreek.

 

Kapitaalkrag

Ons Beweging se grootste uitdaging is om “staatsdienste” sonder staatsinkomste en ’n staatsdiens te lewer. Genoeg kapitaal is onontbeerlik. Daarom word ons finansiëledienstemaatskappy uitgebou tot ’n nuwe “Sanlam”, wat ons lede se gesamentlike koopkrag in hulle eie belang kanaliseer. Benewens die Virseker-projek word daar ’n eiendomsbeleggingsmaatskappy gestig, met die doel om geboue vir Akademia en later vir skole op te rig. Die doel hiervan sal wees om vir ondersteuners ’n bestendige opbrengs én ‘n kulturele dividend in die vorm van goeie onderwys en opleiding te kan bied.

 

Afrikaanse media

Maroela Media is nou die grootste selfstandige Afrikaanse publikasie, met ’n maandelikse leserstal van 1,5 miljoen. Daarby het ons vennootskappe met ’n landwye netwerk onafhanklike gemeenskapsradiostasies wat ons gemeenskap wêreldwyd saambind. Hierdie kulturele infrastruktuur wat hierbo genoem word, sal Afrikaans weer sy regmatige plek as volle funksionele taal gee.

 

Kultuur en geskiedenis

Die FAK is deur ons Beweging getaak om Afrikaners se geskiedenis “terug te vat” en te normaliseer, omdat dit deur vyandige politici gekriminaliseer is. Mense moet ook weer trots gemaak word op ons kultuur en identiteit.

 

Kulturele ambassades

Buitelandse kulturele “ambassades” moet gestig word om ons gemeenskap se stem wêreldwyd te hoor. Die doel is om praktiese steun vir hierdie bouplan van die Solidariteit-“stad” te kry. Daar is geen rede waarom ons nie ook kan aanspraak maak op ’n deel van die miljarde rande wat die VSA en Europa na Afrikalande kanaliseer nie.

 

Sakekamers

Ons moet hande vat met onafhanklike vennote soos Sakeliga, wat sakelui landwyd in sakekamers organiseer om hulle suksesvol, staatsbestand en gemeenskapsgerig te help maak.

 

Geregtigheid

Ons sal bly veg vir geregtigheid en gelykheid. Die regering se rasseideologie, dubbele standaarde, onteiening sonder vergoeding en ander sosialistiese beleidsrigtings bedreig almal in die land. Ons moet met buitelandse druk, hofsake, protes en druk van graderingsagentskappe sorg vir geregtigheid en balans. Geen regering kan vir lank wegkom met die ignorering van die basiese ekonomiese en politieke werklikhede nie.

 

Nasionale raad

Die gemeenskapsforums wat in dorpe en stede gestig word, kan later saamgevoeg word in ’n Nasionale Gemeenskapsraad. Hierdie raad kan as ’n sentrale “adres” van Afrikaners dien, wat noodsaaklike dienste lewer en met die regering ooreenkomste oor knelpunte kan sluit.

 

Kantonne

Dit is selfs moontlik dat van die suksesvolste gemeenskapsforums op streeksdorpe en stede tot kulturele “kantonne” kan ontwikkel met ’n groot mate van selfstandigheid. Die land se grondwet beskik oor ruimtes hiervoor, mits dit prakties sterk genoeg uitgebou is sodat dit deur die owerheid erken moet word.

 

Samewerking

Ons strategie is gegrond op “saamtrek en saamwerk”. Ons wil Afrikaners saamtrek, maar wil ook met die owerheid en ander gemeenskappe saamwerk. Dit kom neer op binding na binne, en brugbou na buite. Ons wil dus nie net ’n Solidariteit-“stad” met baie geboue in bou nie, maar ook paaie en brûe na die res van die land. Die grondwet maak voorsiening vir die aanvaarding van bykomende handveste. Ons sal streef na ’n soort “kulturele akkoord,” wat voorsiening maak vir goeie verhoudinge gegrond op wedersydse erkenning en respek, gelyke behandeling van almal, en ruimtes vir kultuurgemeenskappe om hul identiteit te bevorder. Hoewel die regering op die kort termyn nie van sommige van ons planne mag hou nie, pla dit nie. Ons vra nie hulle toestemming vir die nastrewing van ons demokratiese regte nie, en sal na die tyd erkenning kry vir wat ons in die praktyk gebou het.

Ons sal dit wat ons van ons voorouers geërf het, bewaar en verbeter, en dit dan veilig aan die volgende geslag ge

(Bron: Solidariteit Tydskrif Januarie 2019)

Die Afrikaner se 2030-droom

Dit is 10 Oktober 2030. Die groot dag het uiteindelik aangebreek. Die Suid-Afrikaanse regering teken vandag ’n omvattende kultuurakkoord waardeur Afrikaners se selfbestuur amptelik erken word. Die akkoord is in wese die erkenning van die uitgebreide kulturele selfbestuur wat Afrikaners reeds in die praktyk met sterk selfdoenorganisasies verwerklik het.

Dit het alles begin met die Toekomsberaad van 10 Oktober 2019, toe daar besluit is dat groeiende selfbestuur die enigste antwoord vir die mislukking van staatsbestuur is. Afrikaners het destyds besluit om nie langer te wag dat dinge vanself regkom nie, maar om ’n kulturele selfdoenplan te waag. Hulle het geweet dit sal nie help om vooraf toestemming te probeer vra nie, maar dat hulle op wettige wyse praktiese werklikhede sou moes skep en ná die tyd erkenning daarvoor sou kry.

Hoewel die Grondwet ruimte vir selfbestuur gehad het, wou die regering dit nie van “bo” af gee nie en het Afrikaners dit van “onder” af boontoe gebou. Die verwesenliking van selfbestuur was dus nie ’n eenmalige gebeurtenis nie, maar het deur ’n proses van groeiende selfbestuur geskied.

Die ankerdorpstrategie en konsentrasieplan het gaandeweg Afrikaners se verbeelding aangegryp. Die deurslag het gekom toe die besef wyd posgevat het dat die uitdaging nie ons klein getalle is nie, maar ons yl verspreiding. Die verval van die meeste dorpe en plattelandse gebiede het tot ’n nuwe “Groot Trek” gelei na waar Afrikaners in sowat 30 streekdorpe en -stede saamgetrek het. Die groter getalle op minder plekke het dit makliker gemaak om dienste soos skole, opleidingsentrums, veiligheidstelsels, munisipale dienste, maatskaplike sorg en werkverskaffing daar te konsentreer.

 

Staatkundige argitekplan

Die model vir die staatkundige “argitekplan” wat as die bloudruk van die selfbestuursprojek gebruik is, het uit ’n driehoek met vyf vlakke bestaan.

 

  • Persoonlik: Die basis van die driehoek was die beskerming en die bevordering van die persoonlike regte en vryhede van Afrikaners, ongeag waar hulle gebly het.
  • Instellings: Die tweede vlak was die uitbou van die veiligheids-, munisipale, maatskaplike, werk-, onderwys-, opleidings- en ander instellings en organisasies waarmee selfbestuur gebou is.
  • Dorpe: Dienste soos veiligheid, water, maatskaplike hulp en ander noodsaaklike dienste is vanaf stede en groter ankergebiede aan Afrikaners in klein dorpe gebied.
  • Ankergebiede: Die groter getalle Afrikaners in hierdie 30 stede en dorpe het dit moontlik gemaak om ’n omvattende verskeidenheid dienste te verskaf.
    • Kantons: Die vlak van selfbestuur het om verskillende redes die hoogste in drie gebiede onwikkel, naamlik Pretoria, die Suid-Kaap en die Orania-gebied. Pretoria se groot getalle Afrikaners het gehelp om dienste daar te ontwikkel wat in Switserse kantons aangetref word. In die Suid-Kaap het genoegsame getalle en sterk gemeenskapsenergie dit moontlik gemaak, en in Orania en die omgewing rondom die Vanderkloofdam het die bevolkingsamestelling dit vir Afrikaners moontlik gemaak om met 15 000 mense ’n bepalende meerderheid in die gebied te vestig.

 

Magsbalans

Hoewel die ANC-regering aanvanklik alles in hulle vermoë gedoen het om Afrikaners se regmatige strewe na kulturele vryheid en selfbestuur te dwarsboom, het die vermoë van die staat só vinnig afgeneem dat hulle dit nie meer kon keer nie. Daarby het die land se krisis so verdiep dat die ANC dit nie kon waag om Afrikaners as wetsgehoorsame en belastingbetalende gemeenskap so te vervreem dat spontane belastingboikotte die staatskas se kraantjie nog kleiner kon draai nie. Groeiende buitelandse druk uit veral Europa en die VSA, en die buitelandse beleggingsgemeenskap se waarskuwings dat die regering opgeleide minderhede nie verder moes vervreem nie, het die regering se beweegruimte verder beperk. Saam met die groeiende protesaksies van Afrikaners wat nie langer bereid was om net onderdanige melkkoeie te wees sonder bepalende inspraak oor sake wat hulle raak nie, het die gesamentlike gewig van al hierdie faktore die magsbalans teen die ANC begin swaai.

 

Ontwikkelingshulp

Die buiteland se aanvanklike ontnugtering met die ANC het gaandeweg verskuif na praktiese steun vir Afrikaners. Hoewel dit begin het by Europese state se beleidstandpunte teen onwettige ANC-wetgewing soos dié oor onteiening sonder vergoeding, het die regering se miskenning van Afrikaners se menseregte tot finansiële steun vir Afrikaanse onderwys en opleiding gelei. Daar was ná ’n paar jaar ook ’n deurbraak op munisipale vlak, toe ’n hele paar buitelandse dorpe en stede “tweelingstad”-ooreenkomste begin sluit het om van die aangewese ankerdorpe met ontwikkelingsprojekte te help. Die feit dat hierdie hulp deur die Afrikaner-dorpforums gekanaliseer is, het meegewerk dat die ontwikkelingshulp doeltreffend gebruik is en ’n groot verskil gemaak het. Dit het die Solidariteit Beweging ook gehelp om brugbouprojekte na ander gemeenskappe te finansier deur byvoorbeeld noodsaaklike dienste te verskaf.

Mense het besef dat daar ’n regstreekse verband is tussen vryheid, veiligheid en voorspoed. Sonder vryheid is ’n kultuurgemeenskap se veiligheid en voorspoed afhanklik van ’n vyandige regering. Veiligheid en voorspoed kan net deur vryheid gewaarborg word. Sonder vryheid kan mense moeilik hulself beveilig en is hulle voorspoed in gedrang omdat die regering hulle pensioengeld kan gebruik of hulle eiendom sonder vergoeding kan onteien.

 

Medepligtiges pleks van slagoffers

Kiesers wat aanmekaar vir ’n swak regering stem wat almal in die land laat ly, is nie slagoffers nie, maar medepligtiges. Die Solidariteit Beweging kon nie sonder staatsinkomste oral verantwoordelikheid vir alles en almal aanvaar nie.

Die suksesresep was dat daar nie tyd was om te wag tot almal soos ’n hegte eenheid saamstem nie, want vordering lei vinnig tot ’n samebindende eenheid. Afrikaners het opgehou om mekaar moedeloos te maak oor wat in die verlede gewerk het of in die hede afgebreek is, en het mekaar eerder begeester oor wat in die toekoms gebou kan word. Afrikaners het saam gebind, saam gebou, saam beskerm, met die owerhede beding en brûe na ander gemeenskappe gebou. Dit beteken nie dat daar volkome eenstemmigheid was nie. Die klem is net op “volksveelheid” eerder as “volkseenheid” geplaas, wat beteken het daar was ruimte vir verskille, maar dat dit waaroor verskil is, nie tot verlammende verdeeldheid gelei het nie. As mense nie met iets saamgestem het nie, het hulle dit minstens nie teengestaan nie.

 

Kuberkanton

Dít was die resep waarmee Akademia tot ’n wêreldklas universiteit in Afrikaans uitgebou is, met internasionale bande met verskeie universiteite in die VSA, Wes- en Oos-Europa en privaat universiteite in Afrika. Daarmee saam is Sol-Tech tot ’n omvattende beroepsopleidingskollege uitgebou, het Solidariteit ’n hele netwerk van werk ontwikkel, het Afrikaans weer tot ’n volle funksionele taal herleef, is daar saam met vennote ’n landwye netwerk onafhanklike Afrikaanse privaat skole ontwikkel, het AfriForum se buurtwagte en sekuriteitsmaatskappy misdaad onder beheer gebring, het Afrikaanse gemeenskapsmedia miljoene lesers en luisteraars in ’n gemeenskap saamgebind, het die ankerdorpe ligpunte midde-in die verval van baie ander geword, het finansiële steun vir Afrikaner-selfbestuur deur die kuberkanton ingevloei vanaf ondersteuners wêreldwyd, het Afrikaanse sakelui deur goed georganiseerde sakekringe werk aan jongmense gegee, het ’n digitale geldeenheid Afrikaanse koopkrag mobiliseer, het ’n genoteerde eiendomsmaatskappy landwyd leefruimtes vir Afrikaans en beleggingsgeleenthede geskep, het die drie Afrikanerkantons praktiese selfbestuur begin geniet, het Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike sambreel duisende verdienstelike behoeftiges landwyd bygestaan, en is sterk bande met die Afrikanerdiaspora gebou tot wedersydse voordeel.

Die somtotaal van al hierdie ontwikkelings was dat die omstandighede geskep is waarin Afrikaners ook blywend vry, veilig en voorspoedig in Suider-Afrika kon en kan voortbestaan, tot voordeel van hierdie landstreek en al sy mense. Dit was die hoofrede hoekom die regering uiteindelik nie anders kon nie as om die werklikheid van selfbestuur wat opgebou is, formeel te erken.

Hierdie geskiedkundige gebeure het weer die waarheid bewys van Daniel Burnham se stelling:

“Moenie klein plannetjies maak nie; dit het geen magiese krag om mense te begeester nie en sal nie werk nie. Maak groot planne; mik hoog, onthou dat ’n edele, logiese plan wat een maal uitgespel is, nooit sal doodgaan nie, maar lank nadat ons weg is steeds lewend sal wees, en homself toenemend hardnekkig sal laat geld.”

(Bron: Solidariteit Tydskrif Nobember 2019)

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.