(Hierdie video is op 7 Desember 2021 op AfriForum se YouTube-kanaal geplaas)
(Bron: YouTube/AfriForum)
(Hierdie video is op 7 Desember 2021 op AfriForum se YouTube-kanaal geplaas)
(Bron: YouTube/AfriForum)
(Hierdie video is op 6 Augustus 2019 op AfriForum se YouTube-kanaal geplaas)
(Bron: YouTube/AfriForum)
(Hierdie paneelgesprek is op 14 Oktober 2019 uitgesaai)
(Bron: KykNet Argief)
(Hierdie video is op 14 Julie 2009 op Solidariteit se YouTube-kanaal geplaas)
(Hierdie video is op 12 Mei 2015 op AfriForum se YouTube-kanaal geplaas)
Suid-Afrika het ’n rekordwerkloosheidskoers. Dit is baie slegte nuus, want werk staan sentraal in ons lewens. Ons hele lewe is daarom georganiseer. Daarom het Solidariteit die Werkherstelprogram geloods. Gesaghebbende peilings deur Gallup het bepaal dat mense se grootste begeerte ’n goeie werk is. ’n Goeie werk stel jou in staat om jou roeping uit te voer en vir jou gesin te sorg. Dit gee sin aan die lewe, en jy lewer daardeur ’n bydrae tot die samelewing.
Werk is só belangrik dat die denker Max Weber gesê het die meeste mense werk nie om te leef nie, maar leef om te werk. Daarom wil mense werk selfs as die regering hulle deur Covid-19-inperkingsregulasies probeer keer. Maar dis nie al nie. Die welstand van ’n land word deur die welstand van sy werkmag bepaal. Daarom is ’n hoogs opgeleide, produktiewe en goed betaalde werkmag noodsaaklik vir Suid-Afrika om te werk. Dit is ook ’n voorwaarde vir die verbetering van die bevolking se lewenstandaard – wat immers die doel van ’n ekonomie is. Maar ’n topgehaltewerkmag is ook ’n vereiste vir die oplossing van ons land se knellende vraagstukke van armoede en werkloosheid.
Werknemers sleutelbelangrik
’n Land se werkmag voorsien sy inwoners van lewensbenodigdhede en maak produkte wat na ander lande uitgevoer word om geld in te bring. Werknemers word vir hulle bydraes vergoed en gebruik die vergoeding om lewensmiddele aan te koop wat deur ander werknemers gemaak en versprei word.
Die winste wat maatskappye maak, word aan die aandeelhouers betaal, waarvan werknemers se pensioenfondse die grootste is. Daardie spaargeld word belê vir werknemers se oudag, maar om te groei, werk die geld intussen in die ekonomie en skep so meer werk. Hierdie spaargeld van werknemers is die “brandstof” van ekonomiese groei wat belê word in maatskappye wat goed daarmee werk en so ’n goeie opbrengs kan lewer.
Werknemers betaal ook belasting, wat die staat dan aanwend om dienste soos onderwys, gesondheid, veiligheid, water en elektrisiteit te lewer. Werknemers is gevolglik ’n sleutelbelangrike skakel in die ekonomiese ketting.
Opleiding lê grondslag
Sonder ’n topwerkmag wat as ’n wenspan by ons internasionale mededingers kan kers vashou, sal ons van die wêreldkaart verdwyn. Dit is belangrik om te weet wat die bestaansvoorwaardes vir goeie werk en ’n topwerkmag is. Die rede is dat Suid-Afrika se werkloosheidsyfer reeds voor die Covid-19-krisis rekordvlakke bereik het.
Werk kan gesien word as ’n pyplyn wat al op laerskool begin. Goeie onderwys lê die grondslag vir naskoolse opleiding. Topgehalte-universiteite en -kolleges is onontbeerlik vir ’n topwerkmag. Navorsing bewys dat die vlakke van inkomste wat mense kry, bepaal word deur hulle vlakke van opleiding. Amerika is ’n supermoondheid omdat dit ’n superopleidingsmoondheid is, met 14 uit die 20 beste universiteite in die wêreld. Dit is waarom Solidariteit ons Netwerk van Werk begin het, met Sol-Tech, Akademia, die Helpende Hand Studiefonds en die Skoleondersteuningsentrum.
Ons moet sélf begin doen
Dit is belangrik om te beklemtoon dat die welstand van ’n land bepaal word deur die welstand van sy werkmag. Dit gaan sleg met die land, want dit gaan sleg met die werkmag. Die kern van die probleem is dat ons land se werkmag te klein is: Net 24% van Suid-Afrikaners werk, volgens Claude Baissac, ekonomiese strateeg van Eunomix. Hierdie 14 miljoen werkers moet vir die land se 60 miljoen mense sorg. Dis onmoontlik vir net 24% werkers om volhoubaar vir 76% te sorg. Suid-Afrika se werkloosheidskoers was al voor die grendelstaat op rekordvlakke en staan volgens StatsSA nou op meer as 40% van dié wat kan werk.
Ons weet dat die regering wat die probleem veroorsaak het, dit nie alleen sal kan oplos nie. Daarom kan ons nie vir hulle wag nie. Ons moet self begin doen; ons moet self begin werk.
Ons werkskeppingstrategie
Dit is belangrik om te besef dat ’n normale land ’n voorvereiste vir normale werk is. Daar is nie normale en goeie werk in abnormale lande soos Zimbabwe, waar daar nou ’n werkloosheidskoers van sowat 80% en ’n inflasiekoers van meer as 300% is nie. Die les van Zimbabwe is dat werkersregte afhanklik is van burgerregte. Daarom sal Solidariteit moet help om groter normaliteit te vestig, omdat mense se werk daarvan afhang.
’n Werkstrategie kan vergelyk word met ’n boer se plaas. Daar is insette, soos om te ploeg en te plant, en daar is uitsette, soos ’n goeie oes. Indien die regte insette bestaan, sal dit lei tot die regte uitsette en dan kan ’n boer sy uitkoms bereik, naamlik goeie winste maak. ’n Werkstrategie het ook sekere insette nodig, soos ’n opgeleide werkmag, goeie regeringsbeleid, ’n markekonomie en redelike staatsbestuur.
Die meegaande tabel beskryf Solidariteit se werkskeppingstrategie. Die insette word in die eerste kolom aangedui. Dit is alles voorwaardes vir suksesvolle uitsette, soos ekonomiese groei, wat dan weer lei tot indiensneming wat werkloosheid afbring. Hierdie uitsette lei gesamentlik tot die bereiking van die belangrikste uitkoms van enige ekonomie, naamlik die verhoging van almal in die land se lewenstandaard.
Daarom werk Solidariteit vir normaliteit op alle gebiede – want dis ’n voorvereiste vir goeie werk.
(Bron: Solidariteit Tydskrif, November 2020)